Читать книгу Ena Murray Keur 8 - Ena Murray - Страница 10
7
ОглавлениеVersteen staar Carlyle terug na Anton. Wat gaan hy doen? Hy is selfs magteloos om uit die gebukkende houding orent te kom en hy staal hom onbewustelik vir wat voorlê.
Dan kry hy die grootste skok van sy lewe toe Anton se oë terugdraai na die onbekende persoon voor hom. In werklikheid het Anton se blik net ’n vlugtige sekonde op hom gerus, maar vir Carlyle het dit soos eeue gevoel. Hy voel swak van verligting terwyl die besef tot hom deurdring dat Anton hom nie gaan verraai nie. Op hierdie oomblik is sy verligting so groot dat hy homself nie dadelik die rede daarvoor afvra nie. Hy weet net dat hy, vir die oomblik altans, veilig is. Hy voel hoe sy bene onder hom bewe toe hy regop kom, en sy hand beweeg rukkend oor sy voorkop waar die sweet in fyn pêreldruppeltjies hang.
Maar die spanning verlaat hom nie. Die gevaar van hierdie oomblik is verby, maar hy vertrou Anton nogtans nie. Daar moet iets agter skuil. Hy konsentreer op die geluide wat uit die vertrek kom, maar die stemme is gedemp, sodat hy nie kan uitmaak wat Anton en hul gasheer gesels nie. Hy wens dat hy die moed bymekaar kan skraap om weer by die deur in te loer, maar hy durf Anton de Woud se verrassende goedgesindheid nie ’n tweede keer beproef nie. Die gevaar bestaan ook dat hy dit dalk ongelukkig kan tref om in hul gasheer se gesig vas te kyk, en hy twyfel of dié heer geneë sal voel om sy teenwoordigheid te ignoreer.
Hoewel hy net ’n paar minute staan en wag voordat hy die twee mans se voetstappe in die teenoorgestelde rigting hoor wegsterf, voel dit vir hom soos ure. Hy wag nog ’n oomblik en dan loer hy die tweede keer na binne. Toe hy seker is dat daar niemand binne is nie, kyk hy die vertrek vinnig deur.
Hy weet self nie wat hy eintlik verwag het nie, maar dis sekerlik nie die toneel wat hom nou begroet nie. Dis ’n redelike groot vertrek – of liewer grot, want net soos die tonnel is die mure en die gekoepelde dak van soliede klip. Die vloer is egter nie so ru soos dié van die tonnel nie. ’n Gladde sementblad is oor die ongelyk oppervlak gegooi. ’n Sterk elektriese lig hang in die middel van die plafon, en die dowwe suisgeluid dui op lugreëling. Die lug is egter warm en ietwat klam, hoewel twee groot waaiers in die vertrek aangeskakel is. Hierdie dinge merk Carlyle net terloops op. Wat sy aandag gevange hou en ’n diepe frons van algehele verbasing op sy voorkop dwing, is die meubilering van die vertrek. Groot, swaar toonbanke staan oral rond, gepak met dosyne botteltjies, glasflesse, klemme, retortstanders en glasbuise van alle groottes en vorms. Dit dring in ’n flitsende sekonde tot hom deur dat hy nou na ’n baie goed toegeruste laboratorium kyk, en ’n groot vrees pak hom beet. Wat die idee van hierdie verborge laboratorium in die hart van die rantjie presies is, weet hy nie, maar hy voel aan dat dit in noue verband staan met die vyf mense wat op so ’n geheimsinnige wyse na hierdie eiland genooi is om teen ’n buitensporige vergoeding ’n maand lank vakansie te kom hou. In sy verbeelding sien hy hoe die eerste paar stukkies van die legkaart inmekaarskuiwe, en hoewel hy nog nie die vaagste idee kan vorm wat die werklike patroon is nie, voel hy instinktief beangs. Die blink glinstering van die proefbuise vul hom met ’n magtelose vrees, en die aantekeningboek wat eenkant oop lê, is vir hom ’n duistere bedreiging.
In die teenoorgestelde muur is daar nog ’n deur wat vermoedelik dieper die rantjie in lei, en dis daardeur dat Anton en hul gasheer verdwyn het. Die deur is toe, en Carlyle ag dit redelik veilig om die vertrek intensiewer te ondersoek. Hoewel hy ’n hele rukkie tussen die proefbuise en retortstanders vertoef en selfs sy blik oor syfers en letters in die aantekeningboek laat dwaal, raak hy niks wyser nie. Dit bly vir hom ’n duistere geheim.
Skielik hoor hy ’n geluid by die toe deur. ’n Oomblik staan hy bewegingloos. Dan duik hy vinnig agter een van die toonbanke in en wag ademloos, terwyl hy bid dat hy nie ontdek moet word nie. Dis Anton en hul gasheer wat terugkeer, en hy hoor die vreemde stem sê: “Wel, dis baie kortliks wat ek in die oog het. Tot dusver was al die toetse nog baie bevredigend. Die tyd alleen sal egter leer of ek met volle oortuiging kan sê dat dit honderd persent geslaag het. En die dag wanneer dit gebeur …”
Soos ’n vorige keer hoor Carlyle weer die histeriese noot in sy lag, en dis of die spanning binne-in hom breekpunt bereik. Hy kan skaars die begeerte onderdruk om bo-oor die toonbank te loer, maar die gasheer se stem klink skaars twee tree van hom af, en hy durf dit nie waag nie.
Dan hoor hy Anton se kalm stem: “Wat gaan u dan doen, professor? Die wêreld bekend stel aan u wonderlike …”
“O nee! Nee! Nie aan die wêreld nie. Net aan my eie volk. Dis waarvoor ek die afgelope ses jaar gewerk het – dag en nag. Om my volk die magtigste, die heersers van die aardbol te maak. Dit was nog altyd my ideaal – en eindelik, eindelik ná soveel jare, ná soveel ure van uitputtende arbeid, is daardie ideaal nou in sig. En as my volk eers behandel is, sal hy die res van die wêreld onder sy voete vertrap. Hy sal bo-oor hulle loop, hulle oorwin soos wat ’n mens bo-op ’n mier trap en nie eens daarvan bewus is nie.”
’n Waansinnige lag stort oor die spreker se lippe. “My mense sal die reuse wees – en die res van die wêreld dwergies. Ons sal met hulle speel asof hulle dooie poppe is. Die aarde en alles wat in en op hom is, sal aan ons behoort. Ons sal die bevele uitdeel, en die res van die mensdom sal moet gehoorsaam. Niemand sal ons durf keer of aanraak sonder om verpletter te word nie. Ons sal onoorwinlik wees – ons mag onbeperk.”
“U is dus besig om in hierdie laboratorium ’n supermenseras te teel?” Anton se stem klink ook opgewonde, en Carlyle frons diep.
“Ja, my jonge vriend. Ek is. Jy het reeds met jou eie oë aanskou hoe geslaag my proewe tot dusver was. Dis nog net die finale toets wat voorlê …”
“En as dit ook suksesvol is, sal u die grootste man wees wat die eeue nog opgelewer het, professor. Ek staan verslae voor u briljante brein. U is ’n genie soos daar nog nooit was nie, en ek wens u alle sukses toe. Ek kan skaars wag om die uitslag van u finale toets te verneem. U moet my belowe dat u my dadelik sal laat weet sodra u sekerheid het.”
In die kort stilte wat volg, hou Carlyle sy asem op. Wat hy in hierdie paar sekondes gehoor het, is hy nog besig om te verwerk. Hy besef nog nie die omvang daarvan nie. Maar aan die professor se woorde en stemklank kon Carlyle agterkom dat hul gasheer fanatiek oor sy ideaal is. En Anton se stem het ook buitengewoon opgewonde geklink, asof hy deur die entoesiasme van die professor aangesteek is.
Dan hoor Carlyle sy gasheer weer digby hom praat, maar nou is sy stem sonder gevoel, kalm en dodelik gevaarlik.
“Ek verstaan nie jou houding oor dié saak nie, De Woud. Jy begryp seker wat hierdie ideaal van my ook vir jou inhou.”
“Maar natuurlik! Maar ek dink nie eens daaraan nie. Ek dink aan die resultate, hoe wonderlik – ongelooflik wonderlik – dit sal wees as u ’n soort supermenseras kan opbou. Dit sal vir my ’n enorme eer wees om tot die vervulling van daardie ideaal te kan bydra. Ek …” Sy stem breek af asof hy net nie woorde kan vind nie. “Ek dink dis wonderlik.”
“Is jy werklik ernstig?” Daar is ’n agterdogtige klank in die professor se stem, maar Anton klink baie ernstig toe hy antwoord: “Ja, ek is. Ek wens ek het genoeg wetenskaplike kennis gehad sodat ek u kon help.”
Daar heers ’n oomblik stilte en Carlyle sien voor sy geestesoog hoe die twee mans mekaar staan en takseer. Dan kom die professor se stem afgemete: “Kyk, De Woud, ek het hulp nodig. Maar jy kan begryp dat dit vir my onmoontlik is om hulp van buite te kry. As jy dan werklik so belangstel in hierdie … e … saak …”
“Dit sal vir my ’n groot eer wees, professor!”
“Ons praat later weer. Ek sal nou eers moet gaan. Dis tyd vir inspuitings. Ek sal die deur vir jou oopmaak. Goeienag. En dankie vir jou besoek en belangstelling. Maar onthou, De Woud, jy het nie nou met Carlyle Faure te doen nie. Ek is geen gek nie. As jou woorde van netnou vals was, en jy geveins het oor alles wat jy hier gesien het, gaan dit jou berou, my jonge vriend.”
Carlyle kan die glimlag in Anton se stem hoor.
“Ek kan heeltemal begryp dat u my nog nie vertrou nie, professor. Maar as u my die kans wil gee, sal ek u toon dat ek heeltemal opreg is in my bewondering.”
“Nou goed, De Woud. Ons sal sien. Jy sal nou moet gaan.”
“Goeienag, professor. En baie, baie dankie.”
Carlyle hoor voetstappe in die teenoorgestelde rigting gaan en hy waag dit nou om bo-oor die toonbank te loer. Tot sy grootste teleurstelling is daar niks van die professor te sien nie. Hy moet by die deur, wat dieper die rantjie in lei, verdwyn het. Anton de Woud staan egter vyf tree voor hom, sy oë stip op hom gerig. Hy praat nie, maar met sy regterhand wat langs sy sy hang, wys hy vinnig, skaars merkbaar, in die rigting van die tonnel. Carlyle kom stadig orent, maar Anton rek sy oë ’n oomblik dringend terwyl hy met sy hand afwaarts beduie. Carlyle snap dadelik wat hy bedoel, en sak op hande en knieë neer. Hy trek sy asem diep in en dan seil hy agter die toonbank uit.
Terwyl hy so vinnig en geruisloos moontlik op hande en knieë oor die sementvloer beweeg, staan Anton met sy rug na hom gekeer, skynbaar diep geïnteresseer in die flesse en botteltjies op een van die toonbanke. Dit voel vir Carlyle soos eeue voordat hy die veilige donkerte van die tonnel bereik. Nog steeds hande-viervoet kruip hy verder, terwyl hy agter hom Anton se voetstappe hoor nader kom. Dan is die hele tonnel meteens in stikke duisternis gehul toe Anton die deur wat na die laboratorium lei agter hom toetrek. Carlyle wag gespanne. Hy besef maar te goed dat hierdie man sy lewe in sy hand hou, en dat hy op hierdie oomblik vir sy veiligheid van Anton de Woud afhanklik is. Dan voel hy ’n hand op sy skouer, en ’n stem digby sy oor sê: “Bly so laag moontlik. As ek uit is, wag totdat die rots byna heeltemal toegeskuiwe het, seil dan vinnig op jou maag uit en soek skuiling. Volg my op ’n afstand.”
Hy voel hoe Anton by hom verbyskuur, en Carlyle druk hom so plat moontlik teen die ruwe vloeroppervlak vas. Agter hulle het die rooi liggie weer begin flits as teken dat die “deur” aan die oopskuif is. Soos ’n man wat jare lank in die dodesel was, kyk Carlyle smagtend na die naghemel wat voor hom by die bek van die tonnel verskyn. Anton se silhoeët is duidelik sigbaar toe hy kalm deurloop na buite en dadelik verdwyn. Carlyle hoor hoe sy voetstappe verder gaan en dan tot stilstand kom.
“Ek weet nie of u my kan hoor nie, professor, maar ek wil net weer sê: baie dankie vir u vertroue.”
Carlyle lê en wag. Hy weet instinktief dat Anton doelbewus die professor se aandag op homself vestig om hom kans te gee om ongesiens uit die tonnel te sluip. Terwyl hy uiters versigtig op sy maag na die opening toe seil, hoor hy die professor antwoord: “Ek kan jou hoor en sien, De Woud. Hier is geen plekkie op die eiland waar jy kan wegkruip waar jy nie in my gesigsveld sal wees nie.”
“Dit klink amper na ’n waarskuwing, professor,” sê Anton glimlaggend.
“Dit was as een bedoel.”
Carlyle sien hoe die rotsblok weer stadig begin beweeg. Toe dit halfpad toe is, byt hy op sy tande en skiet deur die opening na buite. Uit die hoek van sy oog sien hy Anton ’n paar treë verder staan, en hy hoor hom sê: “U het van my niks te vrese nie, professor. Ek sal u dit nog bewys.”
Carlyle skiet vorentoe en val snakkend na asem in die naaste bosse terwyl die professor antwoord: “Ons sal sien, De Woud. Ons sal sien. Goeienag.”
“Goeienag, professor.”
Carlyle maak sy oë toe en stuur ’n skietgebedjie omhoog. Dis met moeite dat hy sy hortende asemhaling onder beheer hou. Die verligting dat die professor hom nie gewaar het nie, is so groot dat hy eintlik swak en bewerig voel. Maar die pad terug huis toe lê nog voor …
Hy hoor Anton hul gasheer goeienag toewens en sien hom dan in die donker verdwyn. Hy wag ’n oomblik en seil dan in die donkerte vorentoe.
Anton stap stadig, op sy gemak, en Carlyle volg behoedsaam op sy hakke. Hy bewaar ’n redelike afstand tussen hulle tot by die hekke. Carlyle verskuil hom in die donker skaduwees en hou Anton fyn dop, terwyl hy reguit na die hekke, wat nog steeds oopstaan, aanstap. Carlyle besef dat die moeilikste nou voorlê. Die bosse en kokerbome het hom tot dusver voldoende skuiling gebied. Om egter ongesiens van die hekke af oor die kaal stuk grond tot by die huis te kom … Maar voordat Anton in die maanlig uitstap, kom hy tot stilstand en kyk na agter. Carlyle kom vinnig nader en toe hy Anton bereik, sê laasgenoemde: “Ek sal jou oor hierdie oop stuk moet dra sodat dit lyk asof jy bewusteloos is, ingeval ons dopgehou word, wat ek vrees die geval is. Hou jou baie slap en as enigiemand op ons afkom, moet jy toneelspeel soos nog nooit tevore nie.”
“Maar …”
Voordat Carlyle nog heeltemal besef wat aangaan, het Anton reeds gebuk en word Carlyle met gemak oor ’n breë skouer gegooi, kop onderstebo na agter. Carlyle spartel effens en hy hoor Anton se fluisterstem: “Ek weet dis ’n baie onwaardige posisie, maar jy het dit aan jouself te danke. Ek kan jou neersit, maar dan sal jy self jou pad terug moet vind. Dit sal uiters moeilik gaan. Hou maar asem op dat alles goed afloop, anders sal ons albei lelik in die pekel wees.”
Anton begin ook sommer aanstap, en Carlyle is verplig om sy verontwaardiging terug te sluk. Hy lê slap oor Anton se skouer en kan nie anders as om ’n tikkie bewondering in hom te voel opstoot vir die man wat skynbaar so gemaklik met sy swaar vrag aanstap nie. Hy voel Anton tot stilstand kom, en gewaar dat hulle deur die hekke is. Anton maak eers seker dat die hekke deeglik gesluit het voordat hy weer beweeg.
“Hoe de duiwel kry jy dit reg?” vra hy verwonderd.
“Bly stil, jou gek!” is die kortaf antwoord. “Wil jy die hele huis van ons aankoms verwittig?”
Carlyle is genoodsaak om stil te bly, maar neem hom voor dat hy wel die een of ander tyd verskeie vrae aan sy redder gaan stel; vrae waarop hy ’n antwoord sal eis – al is dit met geweld. Hy voel meer as redelik verlig toe hulle, of liewer Anton, die huis binnestap sonder dat hulle iemand teëgekom het. Eers toe hulle die veiligheid van Carlyle se slaapkamer bereik, sit Anton hom neer. Sy asemhaling is gejaag, en hy vryf sy skouer waar Carlyle se gewig gerus het.
“Jy is nie juis lig nie,” sê hy droog en wil omdraai, maar Carlyle tree vinnig tussen hom en die deur in.
“Ek is jou dank verskuldig,” sê hy op ’n wyse wat duidelik toon dat hy nie juis plesier uit die dankbetuiging put nie.
“Vergeet daarvan,” is die kortaf antwoord, en Anton begin weer na die toe deur beweeg. Carlyle hou egter sy hand op.
“Net ’n oomblik. Ek veronderstel dat ek my lewe vannag aan jou te danke het. Ek weet nie hoekom jy juis moeite gedoen het om my weer veilig in my kamer te kry nie, maar nietemin sê ek dankie.”
“Asseblief. Dis nou genoeg. Jy kan jou dankbaarheid toon deur stil te bly oor alles wat vanaand gebeur het. Vergeet van wat jy gehoor en gesien het. Dit sal vir jou eie veiligheid die beste wees.” Anton se oë vernou, terwyl hy stip na die man voor hom kyk. “Daar is nie juis veel liefde tussen ons twee nie, maar ek sal ook nie daarvan hou dat jy onnodig … seerkry nie. Daarom waarsku ek jou nou ernstig. As jy jou lewe liefhet, hou jou neus uit hierdie sake. Jy is besig om jou in te meng met goed waarvan jy nie die vaagste benul het nie. Jy is nie opgewasse nie. Jou snuffelry stel ook ons ander se lewens in gevaar. Staak dit, in hemelsnaam!”
Maar Carlyle is nie beïndruk deur die erns waarmee Anton praat nie. Sy stem is ewe beslis toe hy antwoord: “As jy dink ek gaan te midde van al hierdie vreemde dinge stilsit, begaan jy ’n groot fout, De Woud. Ek is definitief nie van plan om alles wat ek vannag gehoor en gesien het, te ignoreer nie. Aangesien ons nou reguit met mekaar praat, wil ek jou ook waarsku. Jy en jou professor kan voortgaan met wat dit ook al is waarmee julle besig is, maar sodra dit vir my gevaarlik lyk, sal ek optree. Ek kan jou ook verseker dat ek nie van plan is om stil te sit en wag dat daardie oomblik moet aanbreek nie. Ek gaan my uiterste bes doen om agter te kom wat op hierdie eiland aangaan, al moet ek ook jou en die professor se nekke breek.”
Daar speel ’n grimmige glimlag om Anton se mond.
“Die moontlikheid dat jóú nek gebreek gaan word, is veel groter. Maar as jy nie na my wil luister nie, dan moet jy maar die gevolge dra. Ek kan jou net waarsku. Ek wil gaan slaap. Dis al amper oggend.”
“Nie so haastig nie. Daar is ’n hele paar puntjies waaroor ek eers helderheid wil kry, soos …”
“Ek is nie van plan om vrae te beantwoord nie, Faure. Jy kan maar jou asem spaar.”
Die twee mans meet mekaar. Dan staan Carlyle opsy, met ’n vasberade lig in sy oë.
“Goed, De Woud. Maar daar is ander maniere om jou te dwing om my vrae te beantwoord. Ons praat môre verder. Goeienag.”
Dieselfde vasberade trek is nog om sy mond toe Carlyle die volgende oggend sy plek aan ontbyttafel inneem. ’n Oomblik ontmoet sy oë dié van Anton, maar dan kyk hy na Emerit en Jan. Emerit is effens bleek, en hy merk op dat Jan ook nie te vrolik is nie. Irma hou haar oë neergeslaan en vroetel net haar kos deurmekaar sonder om iets te eet.
“Jy is bleek, Emerit. Wat makeer?” vra hy reguit.
“Ek het ’n dowwe hoofpyn. Weet nie hoekom nie.”
“En jy, Jan? Hoe het jy geslaap?”
“Baie lekker. Nie een keer wakker geword nie. Maar ek voel ook dof in die kop.”
Irma en Carlyle se oë ontmoet oor die tafel. Die tee wat hulle gisteraand gekry het, wás dus gedokter …
“Julle … het nie miskien … verlede nag iets gehoor nie?” vra Carlyle versigtig en Jan skud sy kop.
“Nee. Geen geluid nie. Het jý iets gehoor?”
“Nee. Nee, niks. Ek vra sommer maar.”
Carlyle eet verder, maar daar is ’n diep frons tussen sy wenkbroue, en dis duidelik dat hy nie bewus is van wat hy eet nie. Anton het tot dusver nog geen woord gepraat nie, en Irma voel koud en ongelukkig omdat hy skaars vir haar môre gesê het. Sy voel vererg dat die man se onverskillige houding so ’n uitwerking op haar het. Maar sy weet ook dat sy hom nie durf vertrou nie, nou nog minder ná gisternag se gebeure.
Toe almal klaar geëet het, kyk Carlyle hulle beurtelings aan en sê: “Kom ons gaan stap ’n bietjie buite rond. Dis ’n lieflike oggend.”
“Ek wil liewer ’n hoofpynpoeier drink en weer in die bed klim. My kop voel regtig nie lekker nie,” sê Emerit, maar Carlyle kyk haar gebiedend aan.
“Waar sal jy die hoofpynpoeier vandaan kry? Nee, kom stap maar liewer saam met ons. Die vars lug sal jou goed doen.”
“Dis waar. Ons gasheer het al my poeiers afgeneem. Nou ja, goed dan maar. Wie stap nog saam?”
“Almal stap saam.” Carlyle lê nadruk op die almal en dit klink na ’n bevel. Irma kyk hom ietwat verbaas aan en merk op dat hy reguit na Anton kyk. ’n Oomblik kyk die twee mans mekaar vas in die oë. Dan staan Anton op, sy lippe strak.
Swyend volg die ander, en toe hulle die eerste bosse bereik, gaan Carlyle staan.
“Dis ver genoeg. Ons kan die konferensie hier hou.”
“Waarvan praat jy?” vra Jan en kyk hom verbaas aan.
“Jy sal nou weet. Ons vriend, Anton de Woud, sal jou alles daarvan kan vertel.”
“Anton! Wat …?” Jan swyg en draai vraend na Anton, wat op sy gemak teen ’n kokerboom aanleun, hande in die sakke, terwyl hy hulle kalm in die oë kyk.
“Het daar gisteraand iets gebeur?” vra Jan onrustig.
“Ja. Dis skaars ondenkbaar dat julle dit nie gehoor het nie,” vertel Irma kortliks van haar grusame ervaring.
“Hoe is dit dan moontlik dat ons dit nie gehoor het nie?” wil Emerit weet.
“Julle het ’n verdowingsmiddel ingehad. Dit moet ’n baie sterk slaapmiddel gewees het om julle so vas te laat slaap. Die tee wat julle gisteraand gedrink het voordat ons kamers toe is, was gedokter,” antwoord Carlyle, en daar gaan ’n lig vir Jan op.
“Dis nooit anders nie. Daarom dat ek en Emerit vanoggend albei hoofpyn het. Maar julle … Ek weet Anton het sy tee uitgestort. Maar het jy en Irma dan nie ook daarvan gedrink nie?”
“Nee. Ek het my koppie tee by die venster uitgegooi en Irma s’n terug in die teepot. Maar ek moes seker maak of die tee wel gedokter was of nie, en daarom het ek julle twee nie gewaarsku nie.”
“Dankie,” antwoord Jan effens sarkasties. “En wat was dit wat voor Irma se venster gebeur het?”
“Dit sal meneer De Woud ons kan vertel. Hy was heel toevallig buite toe dit plaasvind,” sê Carlyle, en die insinuasie is duidelik in sy stem.
“Ek weet net so min as julle. Die maan het later eers opgekom. Dit was te donker. Ek kon nie sien nie,” antwoord Anton kalm en Emerit kyk hom agterdogtig aan.
“Hoe het jy uit jou kamer gekom? Of het jou deur nie ook ’n slot aan nie?”
“O ja, dit het. Maar wéér toevallig is sy slot buite werking.”
“Dis nie so toevallig nie. Ek het dit self buite werking gestel – net soos jy gedoen het toe jy jou bril gaan soek het.”
“Het julle nie die vaagste benul wat dit was nie? Kon dit nie ’n roofdier gewees het nie?”
“Nee. Dit was beslis geen roofdier nie. Ek sal jou aanraai om na die ystertralies voor Irma se venster te gaan kyk.”
“Hoekom?”
“Dis byna heeltemal oopgebuig.”
Jan kyk hom skerp aan.
“Dáárdie sterk tralies?”
“Dáárdie sterk tralies, vriend. Gaan kyk en oortuig jouself. Maar dis nog nie al nie. Die interessantste volg. De Woud sal julle inlig.”
Anton kyk na Carlyle en frons.
“Ek weet nie waarvan jy praat nie.”
“Nie?” Carlyle gee ’n kortaf laggie. “Jou geheue is baie kort. Sal ek jou dit help verfris? Ontken jy dat jy gisteraand uit die kamer was?”
“Nee. Dis waar. Ek was buite. Maar dit weet julle tog al.”
“Ja, maar vertel nou vir ons waar jy was toe jy jou kamer die tweede keer verlaat het.”
Anton kyk na Irma.
“Ek het na Irma se kamer gegaan en haar gerusgestel. Sy kan getuig dat dit so is, nie waar nie, Irma?”
“Ja, dis waar,” fluister Irma en kyk onrustig na Carlyle. Wat voer hy in die mou?
“Goed. Die tweede keer het jy na Irma se kamer gegaan. Maar die derde keer …”
“Ek was nie weer uit my kamer nie.”
“Jy was.”
Die twee mans staan teenoor mekaar en Anton trek sy hande stadig uit sy sakke.
“Ek was nie! En ek begin nou moeg raak vir hierdie kruisondervraery …”
“Dit traak my nie wat en hoe jy raak nie, maar ek sê jou jy het jou kamer verlede nag drie keer verlaat, en ek het jou die derde keer gevolg …”
“Jy praat onsin.”
Anton se stem is net so beslis, en die ander drie kyk hulle beurtelings onseker aan.
Carlyle vervolg sissend: “Dan ontken jy natuurlik ook dat jy weet hoe om die hekke oop te maak.”
“Beslis.”
“Kyk, De Woud, jy gaan nie wegkom met hierdie speletjie nie. Jy het gisteraand jou kamer verlaat, die agterste twee hekke oopgemaak, na die rantjie gestap waar jy deur ons gasheer vriendelik verwelkom is en sy ondergrondse laboratorium binnegenooi is. Jy het hom as professor aangespreek en julle is kop in een mus. Kan jy dit ontken?” Daar is ’n oomblik stilte. Elke oog is op Anton de Woud gerig. Die atmosfeer is gelaai. Irma klem haar hande saam. Anton móét hierdie beskuldigings van Carlyle ontken. Sy weet dat dit vir haar van die grootste belang is dat hy hierdie storie van Carlyle moet ontken. Hierdie dinge wat Carlyle vertel, kan nie, mág nie waar wees nie. Nie Anton nie.
Anton kyk hom kalm aan en trek dan sy skouers op.
“Ek is aan jou geen verduideliking verskuldig nie, Faure. Aan die res kan ek net dit sê: ek erken of ontken net mooi niks nie. Glo wat en vir wie julle wil …”
“Jy is nou baie onredelik, Anton,” probeer Jan redeneer. “Die beskuldigings wat Carlyle teen jou kwytgeraak het, is van ernstige aard. Ons kan dit nie sommer ignoreer nie. Ons is almal gemoeid met hierdie besigheid en dis vir my nie lekker om te weet dat hier heel moontlik ’n verraaier onder ons is nie. Laat ons hierdie saak soos grootmense uitpraat. Carlyle, kan jy op jou woord van eer sweer dat wat jy so pas vertel het, die waarheid is?”
“Ja, ek kan,” antwoord Carlyle dadelik en baie beslis.
“En jy, Anton?”
“Ek sê nog steeds hy praat twak!”
Jan frons en kyk die jonger man stip aan.
“Een van julle twee praat nie die waarheid nie. Ek moet eerlik erken ek weet nie watter een om te glo nie.”
“Maar, my hemel, Jan, gebruik tog jou verstand! Dink jy werklik dat ek die hele storie sou versin het?” bars Carlyle los, en toe hy die besluiteloosheid op die ander drie gesigte sien, kners hy op sy tande en gryp Anton voor die bors, terwyl hy sissend sê: “Goed, De Woud. Dis jou woord teen myne. Ek is baie lus en druk jou strot in totdat jy die waarheid erken. Maar ons praat later weer.”
“Hou jou hande van my af, Faure. Ek waarsku jou!”
Anton se stem is baie sag, maar juis daarom soveel gevaarliker. Carlyle laat sy hande sak, maar bly nog op dieselfde plek staan. “Ek sal jou nie nou bykom nie, De Woud. Maar een ding sê ek vir jou: as jy en jou professor dink ek gaan ’n gewillige proefkonyn vir julle wees, begaan julle ’n groot fout!”
“Carlyle! Wat bedoel jy met ‘proefkonyn’?” vra Emerit ontsteld, en Carlyle antwoord sonder om sy oë van die man voor hom weg te neem.
“De Woud en ’n sekere professorvriend van hom is besig om die een of ander reeks eksperimente te doen om ’n sogenaamde supermenseras te teel. En dit traak my nie of hy dit erken of ontken nie, maar ek sê vir julle dat óns vier na hierdie eiland gelok is met die uitsluitlike doel om as proefkonyne te dien.”
“Wat?” Jan is met een tree langs Carlyle, en dis hierdie keer sý hand wat uitskiet en Anton voor die bors vasvat.
“Anton, ek eis ’n verduideliking van jou – onmiddellik! Is dit die waarheid wat Carlyle praat?”
Met ’n ferm swaai van sy arm kap Anton die ander man se hand voor sy bors weg. Sy oë flits waarskuwend: “Vind dit vir jouself uit, vriend. Maar vir die laaste keer waarsku ek julle manne: die een wat sy hand weer teen my lig, sal dit berou!”
“Jou …”
Carlyle is buite homself en sy vuis skiet vorentoe. Dit tref Anton vol op sy lip, maar tot almal se verbasing slaan Anton nie terug nie. Hy haal net sy sakdoek uit en druk dit teen sy mond.
“Toe! Hoekom slaan jy nie terug nie? Jy het mos gewaarsku …”
“Ja, ek het. Maar ongelukkig het jy geen ag op my woorde geslaan nie. Dis jammer. Ek het geen skuld aan wat gaan gebeur nie.”
“Wat bedoel jy, Anton?” Jan is sigbaar onrustig, en Irma staar bleek na Anton, wat sy sakdoek telkens teen sy mond druk.
“Dit maak nie nou saak wat ek bedoel nie. Julle sal wel sien – binnekort.”
Hy draai om en stap weg. Toe Irma na Carlyle kyk, sien sy dat hy wasbleek is. Vrees, openlike vrees kruip onkeerbaar in sy oë …