Читать книгу Ena Murray Keur 8 - Ena Murray - Страница 11
8
ОглавлениеDis met vrees in haar hart dat Irma daardie nag tegemoetgaan. Ná die aantyging toe Carlyle vir Anton openlik daarvan beskuldig het dat hy met hul gasheer saamwerk, het sy Anton net by die middagete gewaar. Gedurende die ete het daar ’n ongemaklike en spanningsvolle stilte geheers. Dit was net Anton wat blykbaar op sy gemak was. Maar nadat hy klaar geëet het, het hy dadelik opgestaan, beleef verskoning gevra en toe weer na sy kamer verdwyn.
Hulle het niks te doen gehad nie, behalwe om lusteloos te blaai in die tydskrifte wat hul gasheer tot hul beskikking gestel het. Bloot die afsondering en ledigheid is genoeg om ’n mens van jou kop af te laat raak, dink Irma nou, terwyl sy voor die aandete haar hare kam. Dis of almal huiwer om te gesels, uit vrees dat hulle dalk iets sal sê wat liewer ongesê moet bly.
Irma staar fronsend op haar hande af. Ná die dubbelsinnige woorde van Anton die oggend, is sy geneig om met Carlyle saam te stem. Daar was ’n openlike dreigement in Anton se waarskuwing. Maar sy houding bly vir haar onverklaarbaar. Sy weet dat alles na hom wys, maar tog kan sy haarself nie oortuig dat Anton de Woud werklik iets gemeens in die mou voer nie – dat hy doelbewus daarop uit is om hulle kwaad aan te doen nie.
Kan Anton de Woud werklik só vals wees, só goed toneelspeel om een oomblik te suggereer dat hy vir haar omgee en by haar pleit om hom te vertrou, en die volgende oomblik allerhande duistere planne in die mou voer? Dis of dit net nie strook met die man se karakter nie. Sy sug en glimlag wrang. Dis net haar dwase hart wat haar hierdie dinge wysmaak, want hoe kan sy hom oordeel op grond van die paar uur wat sy hom ken? Dis maar net dat sy diep in haar hart bid dat Anton nie moet wees wie Carlyle beweer hy is nie, hoewel haar beterwete haar vertel dat dit ’n hopelose verwagting is.
Selfs as Carlyle met sy gevolgtrekkings die bal mis slaan, dan bly daar nog iets geheimsinnigs aan Anton de Woud wat sy nie kan ignoreer nie. Tog voel sy nie geneë om Carlyle se verhaal sommer net af te skryf nie. Sy weet alte goed dat daar ’n sterk antagonisme tussen hierdie twee mans bestaan. Maar sy weet ook dat Carlyle, hoe min hy ook al van Anton hou, nie so ’n storie sommer uit sy duim sal suig nie. As Carlyle se storie dan die waarheid is – soos sy aanvaar – is dit vir haar onverklaarbaar hoekom Anton, as hy nie besig is om iets weg te steek nie, dit so beslis ontken. Dit is die optrede van ’n lafaard – en Anton de Woud is geen lafaard nie. Irma besef dat hier veel meer agter skuil, en sy voel weer hoe vrees binne-in haar roer.
Hoe sy ook al probeer om haar gedagtes in bedwang te hou, kan sy nie help om telkens maar weer te dink aan wat Carlyle vertel het nie. Sy verbleek. As Carlyle se storie waar moet wees, wag daar ’n afgryslike lot op hulle. As hulle werklik as proefkonyne hierheen gelok is … Sy sidder en druk haar hande voor haar oë, die angs soos ’n koue staallem in haar hart. As sy aan al die geheimsinnigheid dink wat met hul koms hierheen gepaardgegaan het, pas dit so mooi in by Carlyle se storie dat sy nie anders kan as om hom te glo nie. Maar as dit dan die geval is, moet hulle tog iets probeer doen om hulle van so ’n lot te red. Maar wat? Sy voel hoe die magteloosheid en wanhoop haar oorweldig. Daar was net een man in wie sy die vertroue sou gestel het om hulle te red – en hy is oënskynlik in die vyand se kamp.
’n Ligte kloppie aan haar deur laat haar uit haar vreesgedagtes opskrik. Voordat sy nog ’n geluid kan uiter, glip Anton by die deur in. Daar is iets dringends in hom toe hy vinnig na haar toe stap. Irma sit asof versteen, en die man kan duidelik die naakte vrees in haar oë sien. Hy praat in ’n fluisterstem terwyl hy na haar oorbuk: “Irma, jy móét na my luister. Dis die laaste keer dat ek by jou kom pleit, jou smeek om my te vertrou. Asseblief!”
“Anton, ek kan nie met hierdie onsekerheid en onrus voortgaan nie. Wie ís jy? Sê my, asseblief!”
“Ek kan nie. My mond is met ’n eed gesnoer. Jy moet my glo, Irma …”
“Mag jy selfs nie eens vir mý vertel nie?”
“Nie eens vir jou nie.” Sy stem daal nog laer. “Daar sal nog oomblikke kom dat jy my sal haat en verafsku. Dis vir dáárdie oomblikke dat ek bang is. Daar wag ’n vuurproef op jou, vriendin.”
“Ek sien kans vir enigiets – enigiets, Anton – as jy my net in jou vertroue sal neem. Ek belowe dat wat jy my vertel, veilig by my sal wees.” Hy antwoord nie, kyk haar net stil aan, en sy vervolg dringend: “Kan jy my dan nie net ’n aanduiding gee nie?”
Hy skud sy kop woordeloos, en sy laat haar blik sak. Sy voel sy warm asem teen haar voorkop en hoor hom sê: “Ek is jammer, Irma. Ek kan nie. Probeer om, wanneer jy my begin haat, nie so diep te haat dat jy nie weer die pad kan terugvind nie.” Hy lig haar ken met sy hand. “En belowe my dat jou haat en afsku vir my jou nie in die arms van ’n ander man sal dryf nie.”
“Ek haat jou nie, Anton. En ek sal jou nooit kan verafsku nie,” fluister sy skor.
“Dis moedige woorde, meisie, maar dit sal gebeur. Dit sal.”
Sy kyk sprakeloos na hom op, en voel hoe ’n vangnet al nouer om haar getrek word – ’n onsigbare onheil wat meedoënloos op hulle afpyl en die wete in haar laat posvat dat hulle magteloos daarteenoor staan … En dan is hy weg en sy kan die feit dat sy diep aangetrokke voel tot Anton de Woud nie langer ontken of ignoreer nie. Maar hy …? Sy optrede teenoor haar verraai dat hy ook veel meer as net bloot ’n beskermingsdrang teenoor haar voel. Maar kan sy daaraan vashou, dit glo? Of is hy met ’n speletjie besig – ’n onheilige speletjie, miskien?
Toe Irma ’n paar minute later die woonvertrek binnestap, is daar egter uiterlik geen teken wat die chaos van haar innerlike verraai nie. Aangesien sy ’n ligte gelaatskleur het, is die bleekheid van haar wange nie so opvallend nie, en aangesien sy nooit juis spraaksaam is nie, merk niemand op dat sy nie saamgesels nie. Sy doen haar bes om nie in Anton se rigting te kyk nie, hoewel sy intens bewus bly van sy teenwoordigheid so digby haar.
Dis ’n halfuur ná aandete, en dis stil in die woonvertrek. Irma probeer hard om haar aandag by haar breiwerk te bepaal. Emerit en Jan sit en lees. Hoewel Carlyle voorgee dat hy in sy koerant verdiep is, merk Irma dat hy telkens bo-oor die rand na Anton staar. Anton het ’n oomblik gelede sy koerant neergegooi, en sit nou lankuit gestrek in sy stoel, sy oë toe. Dit lyk asof hy heerlik sit en dut. Irma kan nie help om ’n verwonderde blik in sy rigting te werp nie. Hy lyk so ontspanne, en sy wonder hoe hy dit regkry, terwyl hulle ander almal so onrustig en gespanne is.
Haar hart ruk toe hy skielik sy oë oopmaak en stip na haar staar. Die volgende oomblik sidder ’n gil deur die swaar stilte. Almal spring vervaard orent.
Emerit staar bleek na iets by die deur, en dis of Irma haarself nie sover kan kry om om te draai nie.
“Wat is dit, Emerit?” vra Jan bekommerd.
“Dis … Dáár by die deur …”
Carlyle beweeg vinnig in die rigting van die voordeur wat half oopstaan. Hierdie keer is dit Irma wat gil. Sonder dat sy bewus is van wat sy doen, dra haar bene haar na Anton wat dadelik sy arm beskermend om haar slaan.
Irma moet twee keer kyk om haar te vergewis dat dit werklik ’n muis is wat snuffel-snuffel teen die muur langs kom. Maar dis nie die feit dat dit ’n muis of rot is wat haar hartklop ’n oomblik tot stilstand skok nie, want anders as die meeste vroue, het sy geen vrees vir muise nie. Wat die gil na haar lippe gebring het, is die feit dat hierdie muis of rot so groot soos ’n uitgegroeide kat is.
Carlyle het intussen ’n kierie, wat in die hoek van die kamer agter die deur staan, gegryp en storm nou op die skugter muis af. Irma voel Anton verstyf, maar voordat hy Carlyle bereik, het dié ’n moorddadige hou op die muis se kop neergebring. Carlyle het met al sy krag geslaan, en toe die hou tref, weet Irma dat dit dodelik is.
Anton ruk die kierie uit sy hand, terwyl hy bleek van woede uitroep: “Is jy van jou kop af, jou gek!”
Sy oë blits na Carlyle, wat momenteel verslae is oor Anton se heftige reaksie.
“Dis jý wat van jou kop af is, Anton de Woud! Natuurlik moes Carlyle dit doodmaak. Dis ’n … ongedierte,” gil Emerit dit uit, en dis of Anton skielik tot homself kom.
Hy gooi die kierie in die een hoek neer en stap na die muis wat in die ander hoek lê. Vinnig betas sy vingers die kop en dan sê hy toonloos: “Jy het die hele kopbeen verbrysel. Dis jammer dat jy hom doodgemaak het.”
“Maar hoekom?” vra Jan en buk af om die muis van nader te beskou. “Hemel, ek het nog nooit so iets gesien nie. Dit lyk soos ’n kat. Wat is dit, Anton?”
“Dit is ’n muis.”
“’n Supermuis, Jan. Dit was oorspronklik ’n gewone ou muisie. Maar nadat ons vriend Anton en sy professor met hom klaar was, lyk hy so.”
Carlyle kry nie sy sin heeltemal klaar nie. Soos blits is Anton orent en sis: “Hou jou mond! Weet jy wat jy besig is om te doen?”
“Nee. Wat?” vra Carlyle smalend, uitdagend.
Dis net Jan en Carlyle wat Anton se antwoord kan hoor, want hy praat baie sag: “Jy is besig om jou eie doodsertifikaat te onderteken – of iets veel ergers!”
Carlyle en Jan verbleek merkbaar. Jan maak sy mond oop, maar voordat hy iets kan sê, bars ’n bulderende stem deur die vertrek: “Jou idioot! Jou …” ’n Reeks onverstaanbare woorde in ’n vreemde taal rol oor hul gasheer se lippe.
Die vyf mense in die vertrek luister lamgeslaan van vrees, terwyl die woede van hul gasheer oor hul koppe losbars. Aan die waansinnige klank in sy stem kan hulle hoor dat hy buite homself van woede is en geen beheer meer oor homself het nie. Skielik swyg die stem, en toe dit weer opklink, is dit sag, gevaarlik sag …
“Tel die muis op, meneer Faure, maar baie versigtig. Bring dit na die toring – alléén.”
Dis ’n uitdruklike bevel, onheilspellend. Selfs Anton is bleek waar hy langs die roerlose Carlyle staan. Weer klap ’n enkele woord deur die vertrek: “Onmiddellik!”
Toe hy afbuk om die muis op te tel, is daar iets desperaats in sy oë. Maar almal in die vertrek besef dat hy niks anders kan doen as om te gehoorsaam nie. Hulle staar hom nog steeds stom aan toe hy stadig in die rigting van die gangdeur beweeg, terwyl hy die dooie muis versigtig in sy hande hou. Dis Emerit wat met ’n gil vorentoe spring en hom aan die skouers beetkry en histeries uitroep: “Moenie gaan nie, Carlyle, moenie! Hy gaan jou … doodmaak …”
Met ’n paar vinnige treë is Anton by haar en skeur hy haar hande van Carlyle af los. Desperaat spartel sy om los te kom, terwyl sy aanhoudend smekend uitroep dat Carlyle nie moet gaan nie. Maar Anton se greep is sterk en hy hou haar styf vas.
“Loop gou!” sis Anton en sy stem klink ru. Toe Irma na hom kyk, is dit asof sy meegevoel in sy oë kan lees, asof hy weet wat op Carlyle wag. Toe Carlyle vinnig die gang in verdwyn, kan net die histeriese gille van Emerit gehoor word. Met een beweging pluk Anton haar om en klap haar hard teen die wang.
Oombliklik hou sy op gil en ’n geskokte stilte volg. Wasbleek en met oë waaruit naakte vrees straal, staar Emerit na hom, haar hand bewend op die plek teen haar wang waar die rooi vingermerke lê.
“Anton! Hoe kon jy so iets doen?” roep Irma ontsteld uit en lê haar arm beskermend om die skouers wat nou ruk van snikke.
“Ek moes. Sy was histeries.”
Maar Irma luister skaars na sy verduideliking. Sy lei die snikkende meisie na haar kamer. Ná ’n paar minute raak sy kalmer, maar die vrees het haar nog nie verlaat nie.
“Moenie so ontsteld wees nie, Emerit. Carlyle sal niks oorkom nie. Hy het net die muis gaan gee. Hy sal nou-nou weer terug wees,” probeer sy teen haar eie beterwete die ouer meisie troos, maar Emerit skud haar kop.
“Nee, Irma. Carlyle sal nie weer terugkom nie.”
“Moenie so praat nie. Hoe kan jy so iets sê?”
“Ek weet dit is so,” antwoord Emerit in ’n stem wat moeg en doods klink, asof die emosionele storm van so pas haar totaal uitgeput het. “Ons sal Carlyle nie weer sien nie. Hy is die eerste van ons wat as proefkonyn gebruik gaan word.”
“Emerit!” Irma kyk haar met afgryse aan. “Glo jy die storie wat Carlyle vertel het omtrent die proefkonyn …?”
“Ja, Carlyle sal nie so iets uit sy duim suig nie. Anton de Woud kan dit soveel keer ontken soos hy wil, maar ek weet Carlyle het die waarheid gepraat.”
Wanhopig gryp Irma na die enigste strooitjie waaraan sy kan dink.
“Maar hoe kan jy seker wees dat Carlyle wel die waarheid gepraat het?”
“Ek weet omdat ek hom liefhet.” Emerit se oë word vol trane. “Dis vreemd …”
“Wat is vreemd?” vra Irma toe Emerit stilbly.
“Dis vreemd dat ek op hierdie eiland eers moes kom leer wat ware liefde is.” Sy begin saggies snik. “My lewe tot hiertoe was nie juis … mooi nie. Ek was wild, roekeloos, hard … Ek het nog nooit veel waarde aan beginsels en sulke dinge geheg nie. Ek het na hartelus gemaak en gebreek. En toe het ek hierheen gekom …”
’n Siddering trek deur haar. “Ek het vir Carlyle ontmoet. O, ek weet hy is jonger as ek, ’n veel beter mens as ek. Maar ek het hom liefgekry.” Sy glimlag meewarig. “Jy dink seker ek is verspot. Hoe lank is ons nou al hier?”
Irma knik begrypend, haar stem teer: “Nee, ek weet dit kan skielik gebeur. Die een oomblik is iemand ’n algehele vreemdeling en die volgende oomblik weet jy net …” Sy skud haar kop verdwaas. Is dít wat met haar gebeur het? Die een oomblik was Anton de Woud ’n vreemdeling en nou …
“Irma, sê my! Ek weet hy is tot jou aangetrokke, maar is jy ook?”
Sy moet haar gedagtegang terugdwing na die hede. “Is ek ook wat?”
“Is jy ook verlief op hom?”
“Op wie?”
“Carlyle!”
“Emerit, asseblief! Jy is onder ’n wanindruk. Ek is nie verlief op Carlyle nie, net so min as wat hy op my verlief is. Hy is maar net beskermend teenoor my omdat ek die jongste van ons vyf is. Glo my!”
“Maar jy het netnou gesê …” Emerit se oë rek. “Dis Anton de Woud! Jy is verlief op Anton de Woud, is dit nie?”
Irma laat haar blik vinnig sak en kyk fronsend op haar hande af. Sy merk nie die kommer in Emerit se oë nie. Daar kom ’n besluitelose trek op Emerit se gesig toe sy die verraderlike rooi blos op Irma se wange sien.
“Irma, moenie dink dat ek my in jou persoonlike sake wil inmeng nie, maar …”
“Maar wat, Emerit?”
Irma kyk haar met smekende oë aan, asof sy hoop dat hierdie meisie wat soveel jare ouer is en meer ondervinding het as sy, helderheid vir haar sal bring.
Emerit kyk haar reguit aan.
“Ek dink nie jy is opgewasse teen Anton de Woud nie. Na regte behoort jy geen kontak met daardie man te hê nie. Hy is gevaarlik, Irma – nie net vir jou nie, maar vir ons almal.”
Met wanhoop in haar hart probeer sy die man wat sy liefhet, verdedig.
“Ons het nog geen bewyse teen hom nie, Emerit. Ons agterdog berus net op veronderstellings en …”
“En op wat Carlyle vertel het – en dit is die waarheid,” val Emerit haar in die rede. Sy kyk Irma met bejammering aan. “Irma, jy gaan seerkry, bitter seerkry as jy toelaat dat Anton de Woud jou liefde wen. Hy is ’n … verraaier. Hy is kop in een mus met ons gasheer. Hy sal net ellende en trane in jou lewe bring. Luister na my. Stoot hom uit jou hart. Julle ken mekaar nog nie lank nie. Luister na my waarskuwing. Dis nog nie te laat nie. Ek erken dat hy ’n baie aantreklike man is. Maar die duiwel kom ook soms in baie aantreklike gedaantes voor.”
Irma druk haar gesig in haar hande, en dis Emerit wat nou weer vertroostend háár hande neem.
“Arme kind. Beteken dit dan reeds soveel vir jou?”
Irma knik magteloos, terwyl sy nog vir oulaas ’n poging aanwend om Anton te beskerm.
“Moenie hom te gou oordeel nie, Emerit. Miskien … miskien is dit nie soos wat ons dink nie …”
Emerit ag dit wys om hierdie keer liewer nie te antwoord nie en lê terug op haar bed. Sy spring dadelik weer orent toe daar aan die deur geklop word.
“Ek het vir jou ’n koppie tee bestel, Emerit,” sê Jan toe sy vraend na die skinkbord in sy hande kyk.
Sy glimlag dankbaar en die twee meisies vermy die speurende blik.
“Ek dink dit sal beter wees as julle twee maar in die bed klim. Die atmosfeer in die woonvertrek is vanaand nie te gesellig nie.”
Irma staan op en gryp sy arm vas, terwyl sy pleitend na hom opkyk.
“Jan, dink jy ook dat Anton iets te doen het met hierdie ding waarvan Carlyle ons vertel het?”
Jan kyk stil af op haar bleek gesiggie hier by sy skouer, en vlugtig verwissel hy en Emerit ’n blik. Dan sug hy en sit sy arm vaderlik beskermend om haar skraal skouertjies.
“Ek weet nie, Irmatjie. Ek weet werklik nie meer wat om te dink nie.”
“Maar glo jy wat Carlyle vertel het?” hou sy vol, en hy antwoord eerlik.
“Die gedeelte van die professor en die laboratorium glo ek sonder voorbehoud. Ek dink nie Carlyle sou dit uit sy duim gesuig het nie.”
“Maar die deel van Anton?”
“Ek moet weer sê ek weet nie. Dis heeltemal waar dat Carlyle nie veel tyd vir Anton het nie, maar … dat hy sommer, sonder enige rede hoegenaamd, sulke soort beskuldigings sal maak, daaraan twyfel ek.”
“Dus moet hy, volgens jou, die waarheid gepraat het?” sê Irma in ’n verlore stemmetjie, asof sy besef dat sy vergeefs die stryd aangeknoop het.
“Waar daar ’n rokie is, brand ook ’n vuurtjie, Irma,” antwoord Jan sag en hy druk haar ’n oomblik troostend teen hom vas. “Maar moenie nou jou koppie oor hierdie dinge breek nie. Ons weet nog te min om sommer te oordeel – ons kan dalk ’n onskuldige onregverdig beskuldig. Maar dit kan ook geen kwaad doen om baie versigtig te wees nie. Eintlik weet ek nie meer wie om te vertrou nie.”
“Jy kan óns vertrou, Jan,” sê Emerit en kyk hom verbaas aan toe hy nie dadelik antwoord nie. “Liewe land, Jan, jy dink tog nie ek of Irma het iets met hierdie …”
Jan val haar sag in die rede: “Nee. Maar dat Carlyle en Anton wel op die een of ander manier êrens in hierdie legkaart inpas, is vir mý baie duidelik. En jy en Irma is weer by Carlyle en Anton ingeskakel, nie waar nie?” Die twee meisies laat hul koppe sak, en dis nie vir hulle nodig om Jan hierop te antwoord nie. Hul stilswye is antwoord genoeg. Dis met ’n bekommerde gesig dat hy omdraai en sonder ’n verdere woord die kamer uitstap, terwyl die twee meisies mekaar net magteloos, woordeloos kan aankyk. Albei besef dat hulle in ’n net vasgevang is, miskien op hierdie oomblik vir hulle ’n net van liefde, maar later kan dit dalk so nou trek dat dit ’n wurggreep word waarvan net die dood hulle kan verlos.
Irma het besluit om ook maar na haar kamer te gaan nadat sy Emerit alleen gelaat het, en dis net Jan en Anton wat, skynbaar in hul koerante verdiep, die tyd sit en afwag. Maar tienuur kruip reeds nader, en nog maak nie een van die twee aanstaltes om bed toe te gaan nie. Dis Jan wat eerste sy koerant opvou en stip, peinsend voor hom op die vloer staar. Dan draai hy ná ’n paar oomblikke sy kop in Anton se rigting.
“Dis tienuur.”
Anton laat ook sy koerant sak en kyk op sy polshorlosie. “Ja. Dis amper tienuur.”
Die twee mans kyk na mekaar, en daar kom ’n vasbeslote trek om Jan se mond.
“Carlyle is nog nie terug nie,” sê hy oorbodig, en toe Anton nie reageer nie, vra hy beslis: “Anton, wat het met hom gebeur? Hoekom is hy nog nie terug nie?”
Anton se oë vernou. Hy het die agterdog in Jan se stem gehoor, en sy gesig word strak.
“Ek sou nie kon sê nie.”
Ook Jan se oë is nou twee splete, en sy kake is saamgeklem. “Jy maak dit nie vir my maklik nie, Anton.”
Die breë skouers word onverskillig opgetrek as enigste antwoord. Jan leun vooroor, en sy stem is sag maar beslis toe hy sê: “Ek kan nog nie presies agterkom hoe die vurk in die hef steek nie, Anton. Maar as ek moet ontdek dat jy aan hierdie dinge aandadig is, gaan dit jou berou. Ek waarsku jou nou openlik. En wie dit ook al mag wees wat agter hierdie dinge sit, jy kan vir hom gaan sê dat ek nie van plan is om my as proefkonyn vir ’n kranksinnige se proefnemings beskikbaar te stel nie – al kos dit ook my lewe.”
Anton leun ook vorentoe, en die twee mans kyk mekaar waterpas in die oë.
“Dit sal nie help om waarskuwings te rig nie, Jan. Jy weet dat jy magteloos is. Jy is besig om te bluf – jouself ook.”
Daar is ’n uitdaging in sy oë, en hoewel Jan uiterlik niks verraai nie, weet hy dat Anton gelyk het. Hy, hulle almal is magteloos. Wat ook al op hulle wag, hulle sal dit nie vryspring nie, behalwe as daar ’n wonderwerk gebeur – en op hierdie oomblik is Jan nie geneig om te veel dáárop peil te trek nie. Maar hy gaan hierdie man dit nie laat agterkom nie. Daarom antwoord hy nou kil: “Dink jy so? Ons sal sien.”
Hy staan op. Sonder om te groet verdwyn hy in die gang af, terwyl Anton agterbly, sy oë peinsend, amper toe.
Hy roer nie toe die stem van sy gasheer gedemp oor die luidspreker kom nie. Toe dit stil is, staan hy op en stap nie na sy kamer nie maar by die voordeur uit.
Irma is net toevallig besig om haar kamer se gordyne toe te trek. Sy het hulle vroegaand oopgetrek, omdat sy benoud gevoel het. Maar gedagtig aan die vorige nag se gebeure, besluit sy om dit liewer weer toe te trek. Sy merk met verligting dat die stukkende ruite en geboë ysterstawe weer herstel is, hoewel dit maar ’n skrale troos is. Die “ding” wat dit oopgebuig het, het duidelik genoeg getoon dat hy, ten spyte van die voorsorgmaatreëls, in staat is om by die venster in te kom. Dis net toe sy die gordyne wil toetrek dat sy die skaduwee teen die muur sien val, en sy deins terug. Effens agter die gordyne verskuil, loer sy na buite en trek haar asem in toe sy die gestalte herken wat ligvoets en geruisloos in die rigting van die agterste hekke by haar venster verbystap.
Toe sy eindelik omdraai en in haar bed klim, storm die koue angs soos ’n monster op haar af. Anton was die vorige nag ook buite toe die “ding” by haar venster was.
En Anton is vannag weer buite …