Читать книгу Ena Murray Keur 8 - Ena Murray - Страница 9

6

Оглавление

Deur ’n waas van vrees besef Irma dat die gegil nie binnekant die huis is nie, maar van buite af kom. Dit word ook vir haar duidelik dat die ding, dier of mens wat daardie afgryslike geluide maak, nader aan die huis beweeg – want die geluid raak al harder. Vasgevang asof deur onsigbare boeie lê Irma roerloos, totdat dit vir haar klink asof die ding by haar in die kamer is. Een oomblik is die geluid brutaal dierlik, en die volgende oomblik verander dit in ’n jammerlike gekerm van ’n mens wat in die grootste angs en pyn verkeer. En dit kom al nader …

Sy span haar in om te hoor of daar ’n geluid van die ander kamers af kom, maar binne-in die huis is dit grafstil. Sou die ander dit dan nie ook hoor nie? wonder sy beangs. Stadig, uiters versigtig, klim sy uit die bed, beweeg vinnig op haar kaal voete na die muur wat haar en Anton se kamers van mekaar skei, en hamer met haar vuiste daarteen. Maar hy beantwoord nie haar klop nie.

Meteens verstil haar hartklop toe die onaardse geluide reg onder haar venster opklink. Met naakte vrees in haar oë spring sy na die deur en begin wanhopig daaraan ruk, terwyl ’n angsvolle gil oor haar lippe stort. Tevergeefs stamp sy met haar vuiste teen die deur, terwyl sy oor haar skouer na die venster staar. Elke oomblik kan daardie gordyne weggeruk word en sal die ding, wat dit ook al mag wees, deur die venster klim.

Haar gegil moet sy aandag getrek het, want meteens is dit stil, vreesaanjaend stil.

“Help my! O, asseblief, help my!” smeek sy skor teen die deur. En dan sterf die woorde op haar lippe weg toe die geluid van brekende glas deur die kamer weerklink. Hoewel sy niks kan sien nie, hoor sy hoe die ruitskerwe op die vloer versplinter, en sy wring haar liggaam stywer teen die onbeweeglike deur vas. Sy haal nie meer asem nie, en elke vesel in haar lyf is met ontsettende angs gevul, terwyl sy wag dat die gordyne oopgetrek moet word. In die stilte kan sy die duidelike, swaar asemhaling van die ding voor die venster hoor. Dis of dit van inspanning hyg, en sy besef dat hy die sterk ystertralies voor die venster probeer oopbuig.

“Irma!”

Die geroep dring eindelik tot haar deur. Sy maak haar mond oop, magteloos om ’n geluid te uiter.

Meteens bars ’n verwoede geskreeu, tesame met ’n deurmekaar geroep, voor die venster los sodat Irma se ore daarvan tuit. Die deur agter haar gaan oop, maar sy kom dit skaars agter. Die geraas voor haar venster is nog oorverdowend en die man wat ongesiens die kamer binnegekom het, staan ’n oomblik besluiteloos stil. Hy skrik toe ’n witgeklede gedaantetjie skielik op hom afstorm en hom om die nek gryp.

“Carlyle! O, Carlyle, dis verskriklik!”

“Irma! Jy is veilig!”

Hy hou haar styf vas en voel hoe haar liggaam deur snikke geruk word. In die lig van sy flits kan hy die ruitskerwe op die vloer verstrooi sien lê. Hy druk haar sag maar vinnig van hom af weg. Die verwoede gegrom het nou in ’n jammerlike gekerm oorgeslaan – maar skielik is dit weer stil … senutergend stil.

Hy wil na die venster hardloop, maar Irma klem hom histeries vas.

“Nee! Nee! Moenie weggaan nie!”

“Ek sal nie weggaan nie. Ek wil net gaan kyk wat dit was,” paai hy, maar sy klou hom nog stywer vas.

“Nee! Nee! Moenie!”

Toe hy haar eindelik sover kry dat sy hom laat gaan, is kosbare minute verspil. Toe hy die gordyne oopruk, en sy flits deur die ystertralies na buite laat skyn, is hy nie verbaas om niks te sien nie. Net so geheimsinnig en skielik as wat die nagtelike besoeker gekom het, het die vreemdeling weer verdwyn. Carlyle verbleek toe sy aandag deur die gebuigde ystertralies getrek word. Wat dit ook al was, die besoeker moet bomenslike krag besit om sulke dik ysterstawe só te buig. Daar is meteens sweet op sy voorkop. Nog eens laat hy die lig oor die grond reg onder die venster speel, maar daar is geen spoor te sien nie, want die grond is hier baie hard. Sleepmerke lê egter oral, net asof daar hewig gestoei is. Carlyle vloek gedemp. As hy net eerder by die venster kon kom …

Hy trek weer die gordyne dig en steek dan die kers op. In die bewerige liggie kyk hy en Irma woordeloos na mekaar. Die ontsettende angs van ’n paar minute gelede is nog duidelik in haar oë te sien. Hy voel magteloos om haar gerus te stel, want daar is ’n koue vrees in sy eie hart.

“Wat … wat was dit, Carlyle?” vra sy eindelik fluisterend, terwyl sy sy hande vasgryp.

“Ek kon niks sien nie, maar dis nou weg. Jy hoef nie meer bang te wees nie,” antwoord hy gerusstellend. “Miskien is hier in hierdie wêreld nog roofdiere,” sê hy hoewel hy weet dat geen roofdier ystertralies kan buig nie.

Maar Irma laat haar nie so maklik gerusstel nie.

“Dit was geen roofdier nie, Carlyle. Dit was … iets anders.” Haar oë is groot en rond.

“Kom nou, meisie. Jy het groot geskrik. Kom, probeer weer slaap.”

“Nee! Nee, Carlyle, asseblief! Ek … ek gaan nie alleen hier bly nie,” smeek sy en gryp hom om die nek vas terwyl haar hele liggaam van vrees bewe.

Hy hou haar styf, gerusstellend vas en kyk besluiteloos om hom rond.

“Dan … dan moet jy na my kamer kom. Ek sal in jou kamer slaap,” stel hy voor, maar ’n stem in die deur laat hom vinnig omswaai en net betyds keer Irma ’n gil op haar lippe.

“Dit kan nie gedoen word nie.”

Anton staan in die deur. Sy klere is vol stof en grond, en sy hare deurmekaar. Hy kom vinnig nader toe hy die vrees op Irma se gesig sien.

“Moenie meer bang wees nie. Alles is nou reg,” sê hy kalmerend, maar Carlyle hou haar net stywer vas en kyk hom openlik agterdogtig aan.

“Waar kom jy vandaan?”

“Van buite af,” antwoord Anton kalm en gaan sit op die kant van die bed, terwyl hy ’n pakkie sigarette te voorskyn bring.

“Dan sal jy ons seker meer kan vertel van wat hier aangegaan het?” sê-vra Carlyle, sy stemtoon fyn sarkasties.

Anton sug en vee moeg oor sy oë voordat hy antwoord: “Ongelukkig nie. Dit was te donker. Ek moes net op gehoor gaan.” Hy kyk na Irma. “Alles is reg, Irma. Jy kan gerus probeer slaap. Dit sal nie weer gebeur nie.”

“Jy klink baie seker,” sê Carlyle.

Anton kyk stip na hom.

“Ja, ek is seker dat daar nie weer vannag iets sal gebeur nie. En nou moet ek jou versoek om na jou kamer te gaan. Ons mag nie toelaat dat ons gasheer agterkom ons kamers se slotte werk nie. Een van die huiswerkers het vanaand, nadat ons kamers toe is, al die deure nagegaan om te kyk of hulle toegetrek is, maar hy was nalatig genoeg om nie die slotte na te gaan nie. Ons moenie sy aandag daarop vestig nie.”

Hy lig sy kop en luister, verstyf dan. “Hier kom iemand aan. Gou! Ons moet na ons kamers! Irma, klim in die bed en haal diep en swaar asem soos een wat ’n verdowingsmiddel inhet.”

“Maar …”

“Komaan, daar is geen oomblik te verspil nie. Hulle kom kyk of ons nie van die geraas wakker geword het nie. En jy bly in jou kamer.”

Soos spoke glip die twee mans by die deur uit, en Irma blaas vinnig die kers dood. Sy lê roerloos en nou kan sy ook die naderende voetstappe hoor. Dit huiwer by elke deur in die gang en sy doen haar bes om Anton se opdrag uit te voer. Sy haal diep en swaar asem. Toe die voetstappe by haar deur kom, hoor sy hoe hulle tot stilstand kom, en die persoon na haar staan en luister. Blykbaar tevrede dat alles binne reg is, begin hy aanstap, maar draai dan weer skielik terug en sy hoor hoe die slot aan haar deur oopgesluit word.

Dis net met die grootste selfbeheersing dat sy daarin slaag om haar asemhaling nog diep en swaar te hou, so reëlmatig moontlik.

Toe hoor sy hoe die deur geluidloos op sy skarniere oopswaai. Met ’n hart wat verstil van vrees, sien sy deur haar wimpers die lig van ’n flits oor die glasskerwe op die vloer speel. Die sagte voetstappe gaan by haar bed verby en dan hoor sy hoe die gordyne oopgeskuiwe word. ’n Oomblik speel die lig oor die geboë ysterstawe, en dan word die gordyne weer diggetrek. Sy sluit haar oë vinnig toe die lig in die rigting van die bed swaai, en ’n sekonde lank, maar vir haar soos eeue, voel sy dit op haar gesig. Dis net die onbeskryflike vrees wat haar weerhou om haarself te verraai. Dan beweeg die voetstappe in die rigting van die deur en sy hoor hoe dit op slot getrek word.

Oomblikke later word haar deur versigtig oopgemaak en sy hoor Anton fluisterend roep: “Irma, dis ek. Moenie skree nie.”

Sy sit bewend orent. In die lig van die flits kan hy haar wasbleek gesiggie en die oë wat groot van angs is duidelik sien. Hy sit haastig ’n stoel voor die deur sodat dit nie miskien toeslaan nie, en dan is hy met twee tree by haar en neem haar in sy arms. Sy is nie in staat om te praat nie, maar die vinnige, onreëlmatige hartklop so dig teen syne vertel hom genoeg van die angs wat sy deurgemaak het.

Sy lippe roer troostend teen haar slape. Gerusstellend streel sy vingers deur haar kort krulle totdat hy voel hoe die ergste spanning haar verlaat. Hy laat haar gemaklik in sy arms teruglê met haar kop teen sy skouer, en in die flou liggie van die flits wat op die tafeltjie langs die bed lê, is sy gesig net ’n dowwe vlek bokant haar.

Wie is Anton de Woud werklik, vra sy haarself magteloos af. Wat is sy rol in al hierdie vreemde gebeure?

“Irma, glo jy werklik ook soos Carlyle Faure dat ek met al hierdie dinge iets te doen het?” vra hy reguit. En hoewel die vrees ’n knop in haar keel vorm, laat sy oë haar nie toe om iets anders as die waarheid te praat nie.

“Ja, Anton.”

Hy kyk haar stip aan, sy mond meteens streng, ongenaakbaar. “En dit sal seker nie help as ek jou op my woord van eer die versekering gee dat dit nie die geval is nie?” sê-vra hy.

Sy antwoord hakkelend: “Dis baie gevra, Anton. As … as jy my vertel wie jy werklik is en hoekom jy hier is, sal … sal ek miskien jou vreemde optrede verstaan.”

“Maar anders sal jy eerder na Carlyle Faure luister en my verdoem.” Hy swyg ’n oomblik, trek skielik sy arms van haar af weg en staan op. “Nou maar goed, Irma. As jy dan Carlyle Faure se woord bo myne verkies, dan is dit tot daarnatoe. Een ding moet jy my egter belowe, asseblief.”

Sy kyk vraend op, en hy vervolg op afgemete toon: “As die dag aanbreek dat jy besef jy was verkeerd, dat ek nie is wat jy dink ek is nie, moet jy hier plegtig belowe om my vir jou wantroue om verskoning te vra. Is dit te veel gevra?”

“Nee. Ek … belowe.”

“Dankie. Dit kan gouer wees as wat jy dink.”

Sy stem is ongenaakbaar. Hy talm nie langer nie, maar draai kort op sy hakke om en verlaat haar kamer, terwyl sy hom net verslae kan agternastaar.

Sy is byna dadelik spyt dat sy so eerlik aan hom erken het sy vertrou hom nie. Hoewel sy hom vrees, wek sy teenwoordigheid altyd ’n gevoel van veiligheid by haar.

Maar dis nie net háár gedagtes wat om Anton de Woud bly sirkel nie. Carlyle Faure het nie na sy kamer teruggekeer om sy onderbroke nagrus voort te sit nie. Hy het met sy oor teen die muur gestaan en luister na die voetstappe totdat hulle weggesterf het. Toe het hy sy deur op ’n skrefie oopgestoot en gesien hoe Anton de Woud weer by Irma se slaapkamer in verdwyn. Hy het ’n oomblik gewag en toe hy die gedempte stemme hoor, het hy nader gesluip. Met sy lyf styf teen die gangmuur gedruk, het hy die gesprek tussen Irma en Anton afgeluister. Hy het die gode gedank dat Anton, toe hy teruggekom het, blykbaar so ontstig was dat hy nie links of regs gekyk het nie, maar reguit na sy kamer gegaan het – want anders sou hy sekerlik die donker skaduwee teen die muur gewaar het.

Carlyle het versigtig vorentoe begin beweeg en toe vinnig skuiling agter Irma se deurkosyn gesoek, want Anton se kamerdeur het skielik weer oopgegaan …

Carlyle span sy oë in om stip in daardie rigting te staar, terwyl hy sy asem ophou. Hy weet, sonder dat hy hom sien, dat Anton de Woud in sy kamerdeur staan. ’n Lang oomblik wag hy roerloos, terwyl die stilte en duisternis om hulle soos ’n versmorende newel hang. Dan hoor Carlyle hoe die deur skaars hoorbaar toegetrek word en hy waag dit om vinnig om die deurkosyn te loer. ’n Lang, donker skaduwee sluip geruisloos die gang af, in die rigting van die woonvertrek. ’n Oomblik later verdwyn dit, en Carlyle beweeg nou eers weer die eerste keer. Toe hy versigtig die deur oopstoot, gewaar hy dat die voordeur op ’n skrefie oopstaan en ’n flou maanligstreep oor die vloer val.

Hy huiwer. Hy weet dat dit baie gewaag is, en dat Anton de Woud hom heel moontlik aan die ander kant van die deur staan en inwag. Maar hy durf nie langer versuim nie, uit vrees dat hy hom heeltemal uit die oog sal verloor – en vanaand is dit ’n obsessie by hom om homself nou eenmaal ten volle te oortuig dat sy agterdog jeens hierdie man nie net blote antagonisme is nie.

Daarom beweeg hy nou vinnig op sy tone nader na die voordeur. Hy ruk dit vinnig oop, terwyl hy laag buk om ’n moontlike hou teen sy kop te ontduik. Maar daar is niemand nie. Hy kyk vinnig om hom rond en instinktief beweeg hy dan versigtig in die rigting van die toring. Hoewel hy sy lyf so styf moontlik teen die muur druk, weet hy dat hy duidelik sigbaar behoort te wees vir wie ook al in sy rigting kyk.

Hy verwens die flou skynsel van die maan. Toe hy eindelik die hoek bereik, sien hy sowat honderd meter voor hom ’n beweging langs die draad. Hy sug verlig, want hy het net begin dink dat hy die spoor byster geraak het. Maar die stuk aarde tot by die agterste twee ysterhekke, identies aan die twee aan die voorkant, is kaal en onbebos en lê bleekwit in die maanlig.

Carlyle kyk op en sien dat hy kort onderkant een van die vensters in die toring staan, maar die oorhang van die dak werp ’n skaduwee oor die muur. Hy besef dat, al sou Anton de Woud of selfs iemand uit die toring, in sy rigting kyk, hulle hom nie sommer sal opmerk nie.

Met skrefiesoë span hy hom in om die bewegings by die hek te volg. Waarna sou die man soek? wonder hy verbaas. Die gestalte by die hek buk telkens neer op sy hurke, asof hy iets op die grond bestudeer.

Meteens verstyf die spiere in Carlyle se rug toe hy die tweede keer sien hoe die twee swaar ysterhekke, asof deur ’n spookhand, oopgedruk word. Die besef flits deur sy kop dat Anton de Woud weet hoe om die hekke oop te kry, maar dat hy voorgee dat hy net so ’n gevangene hier is as hulle ander. En dit terwyl Carlyle nou met sy eie oë sien hoe hy kalm deurstap en staan en toekyk terwyl die hekke weer op dieselfde geheimsinnige wyse toeskuif.

As Carlyle ooit die geringste twyfel gehad het dat Anton de Woud iets met al hierdie geheimsinnige dinge te doen het, dan is dit nou vir goed die nek ingeslaan.

Van anderkant die hek af begin die kokerbome en bosse in digte ondeurdringbaarheid groei, en toe Carlyle sy oë van die hek af neem en na Anton soek, het hy reeds in die donker skaduwees verdwyn.

Carlyle wag nie langer nie. Weer is hy verplig om die risiko te loop dat iemand hom sal gewaar. Soos ’n weerligstraal skiet hy vanuit die donkerte oor die oop stuk grond. Hy durf nie Anton de Woud se spoor verloor nie, maar die hekke keer hom en sy hande span in magtelose woede om die sterk ysterkrulle terwyl hy na die digte bosse aan die ander kant van die hek staar.

Hy verstyf merkbaar toe ’n sagte, geamuseerde laggie skielik uit die donkerte voor hom opklink. Dan hoor hy duidelik hoe Anton de Woud begin wegstap. Hy maak sy mond oop, maar maak dit dan weer toe sonder ’n geluid. Om dreigemente te uiter sal geensins help nie. Daarvoor is die heer De Woud te seker van sy saak. Om hier voor die hek te staan en raas, sal ook niks help nie. Dit kan bloot veroorsaak dat hul gasheer bewus word van die feit dat een van sy kuiergaste buite aan die ronddwaal is. Benoud wonder hy of Anton hom nie tog sal gaan verraai nie, en hy kners op sy tande terwyl hy van die hek af wegdraai en met onstuimige oë die omgewing bespied. Maar alles is nog rustig.

Carlyle laat sy blik oor die toring hier reg voor hom gly. Miskien lê die geheim daar.

’n Oomblik speel hy met die gedagte om by een van die vensters te probeer inbreek, maar dan sien hy daarvan af.

Hy stamp met sy voet op die grond om ’n bietjie aan sy frustrasie uiting te gee. Hy was ’n gek. Hy moes Anton nie die kans gegee het om deur die hekke te gaan nie. Hy moes hom net daar oorrompel en gedwing het om met alles vorendag te kom. Maar hy besef ook dat dit hom nie sal baat om homself te staan en verwyt oor wat hy moes gedoen het nie. Die hekke sal nie daarvan oopgaan nie.

Hy draai weer om, en die volgende oomblik val sy mond letterlik oop. Dan vee hy vinnig oor sy oë, asof hy bang is dat die maanlignag hom parte speel. Maar toe hy weer stip kyk, sien hy dit duidelik – die twee groot hekke staan wawyd oop, nooi hom byna om deur te loop.

Verward en terselfdertyd onrustig kyk hy om hom rond. Hoe het hierdie hekke oopgekom? Wie het hulle oopgemaak? Dit kon tog nie sommer vanself gebeur het nie!

Hy stap vinnig deur na die ander kant voordat die hekke dalk besluit dat dit nou weer tyd is om toe te gaan. Toe hy deur is, draai hy om en hou die swaar ysterhekke stip dop, wagtend dat hulle weer moet toeswaai. Maar dit gebeur nie. Hy loop versigtig nader en probeer die een toestoot, maar dit is so goed asof hy met ’n onbeweeglike berg te doen het. Carlyle is verplig om terug te staan, verslae en heeltemal verward.

Sy oë flits na die toring. Hy het van die begin af die teorie dat die oop- en toegaan van die hekke vanuit die toring met ’n elektriese stroom of iets soortgelyks beheer word. Maar hy begin nou daaraan twyfel. Hy kan byna sweer dat daar niemand op hierdie oomblik in die toring is nie, anders sou hy al lankal opgemerk gewees het. Dus is die hekke nie hierdie keer uit die toring beheer nie. Maar hoe …? Hy skud sy kop en draai om.

Hy durf nie langer tyd verspil nie. Terwyl hy vinnig in die donkerte voor hom verdwyn, laat die gedagte dat die hekke agter hom oop is hom ietwat geruster voel.

Carlyle voel die opgewondenheid in hom opstoot, en versnel sy pas. Ná sowat vyftig meter merk hy op dat die voetpaadjie links wegswenk en reguit in die rigting van ’n koppie slinger. Die lae rant het hy al vantevore, sonder veel belangstelling, vanuit sy kamer beskou. Een ding waaroor hy baie verlig voel, is die feit dat hy met sekerheid weet hy beweeg in dieselfde rigting as Anton de Woud. Die hoë draadheining alkante verhoed dat Anton in ’n ander rigting kon wegdraai. Hoe nader hy aan die voet van die rant kom, hoe stadiger en versigtiger beweeg hy – hy wil nie graag onverhoeds in ’n val beland of miskien teen iemand vasloop nie.

Hy kom ’n oomblik tot stilstand en volg met sy oë die paadjie, wat nog steeds slingerend en op party plekke heeltemal onsigbaar, na die koppie toe lei. Hy tel sy een voet op en sit dit weer versigtig neer, sodat hy nie miskien ’n los takkie of klip raaktrap nie. Skielik sien hy hoe ’n bos, of wat hy aangesien het vir ’n bos, ’n paar tree voor hom in beweging kom. Hy staan ademloos en is diep dankbaar vir die donker skaduwees wat hom beskermend omring.

Hy slaak byna hoorbaar ’n sug van verligting toe hy bemerk dat die persoon hom nie opgemerk het nie en net so versigtig soos hy vorentoe beweeg. Dis te donker om die gestalte presies uit te ken, maar Carlyle hoop dat dit Anton de Woud is.

Telkens gaan staan die persoon stil en luister gespanne. Dan wag Carlyle ademloos totdat hy weer beweeg. Die minute sleur tergend langsaam verby, en nog steeds sluip hulle skuins teen die rantjie uit. Hulle is reeds halfpad teen die rant uit. Skielik breek die donkerte voor hulle oop. Kaal, onooglike klipbankrotse glinster voor hulle in die maanlig, en dis of die paadjie hier doodloop. Besluiteloos kyk Carlyle om hom rond en wag dat die vreemdeling eerste moet kies watter koers nou ingeslaan moet word.

Dan verstil Carlyle se asemhaling ’n oomblik terwyl die persoon uit die skaduwee na vore loop en tastend teen die rots af beweeg. Dis Anton de Woud – en net soos by die hekke wek sy gebukkende houding die indruk dat hy weer na iets soek.

Die volgende oomblik wip Carlyle soos hy skrik toe die geamuseerde, bekende laggie van hul gasheer die stilte verbreek. Vervaard kyk hy om hom rond, maar gewaar niemand nie.

Dan verstil die gelag en ’n stem sê: “Jy het lank gedraai. Ek wag al lank op jou.”

Carlyle staan versteen. Praat die gasheer met hom of met Anton? Hy voel sy nekhare rys. Een van hulle is dus nog nie opgemerk nie, maar watter een?

“Kom gerus binne.”

Die uitnodiging klink onheilspellend in hierdie stil uur van die nag.

Werktuiglik gee Carlyle ’n tree vorentoe toe ’n rotsblok stadig begin beweeg totdat ’n opening soos ’n swart, leë oog gelaat word. Ver, diep agterin die ingewande van die lae rant flits ’n rooi liggie aan en af, asof dit ’n waarskuwing uitsein.

“Toe dan, man! Roer jou! Ek gaan nie heelnag die deur vir jou oophou nie,” kom die stem van hul gasheer weer, nou ongeduldig.

Carlyle se bene weier om te beweeg. Dan sien hy hoe Anton de Woud skielik vorentoe stap en deur die donker opening na binne verdwyn.

Net ’n oomblik aarsel Carlyle. Dan beweeg hy ook vinnig. Op hierdie oomblik is daar by hom geen gedagte meer aan gevaar nie. Hy weet net dat hy ook by daardie opening moet ingaan. Vinnig maar geruisloos gly hy soos ’n donker skaduwee nader. Tot sy ontsteltenis sien hy dat die rots stadig na sy regte posisie terugskuif. Daar is nog net ’n smal openinkie. Hy trek sy maag in en dwing hom dan deur die nou spleet. Toe hy eindelik binnekant staan en die sweet van sy voorkop afvee, sien hy hoe die laaste stukkie maanlignag verdwyn en die rots solied teen die kant vasdruk. Om hom is verstikkende duisternis.

Dan moet hy sy lyf vinnig so plat moontlik teen die rotsrif agter sy rug aandruk. Daar voor waar die rooi liggie hang, het ’n deur skielik oopgegaan en ’n helder elektriese ligbaan val die lang tonnel binne. Indien daar iemand in die opening verskyn en oor Anton de Woud se skouer kyk, sal hy dadelik raakgesien word. Carlyle hou sy asem op.

Hiervandaan is Anton se gestalte duidelik in die helder lig afgeteken, en Carlyle sien hoe hy eers ’n oomblik huiwer en dan oor die drumpel stap.

“Welkom! Jy het so lank gedraai dat ek begin wonder het of jy ooit hier sou uitkom. Maar kom binne.”

Carlyle sien hoe Anton sy hand uitsteek, asof hy iemand groet. Die tweede persoon is nie hiervandaan sigbaar nie, maar hy weet instinktief dat dit hul gasheer is.

Sy oë vernou. Dus verkeer Anton de Woud en hul gasheer op vriendskaplike voet. Sy vermoedens was dus korrek. Hy wonder met ’n siniese glimlag wat Irma sal sê as hy haar hiervan vertel. Dit laat hom meteens onthou dat hy op die een of ander manier weer uit hierdie onderaardse kerker sal moet kom. Hy tas met sy vingerpunte teen die rotsformasie agter hom, maar soos die hekke bly dit onbeweeglik. Hierdie rotsblok word dus waarskynlik op dieselfde wyse as die hekke beheer … Hierdie feit laat ’n diepe onrus in hom opstoot en hy kyk soekend om hom. Aan weerskante strek die tonnelmure sowat dertig tree tot by die deuropening. Dis soliede klip en aan die bokant met ’n ruwe vloer geboog.

Carlyle besef dat hy net in een rigting kan beweeg, en dis vorentoe – daar waar Anton saam met hul gasheer verdwyn het.

Versigtig, terwyl hy selfs deur sy mond asemhaal om nie die geringste geluid te maak nie, begin hy voetjie vir voetjie in die tonnel afsluip, elke sintuig tot die uiterste toe gespan.

Hy beweeg sy tong oor sy droë lippe toe hy by die deur tot stilstand kom. Bokant sy kop het die rooi liggie ophou flits. Hy loer versigtig na binne.

Dan verander hy in ’n soutpilaar van vrees. Anton de Woud staan enkele treë voor hom. Soos dit lyk, is sy oë gerig op iemand wat nie vir Carlyle van hier af sigbaar is nie. Dan kyk Anton skielik om, juis op daardie oomblik dat Carlyle om die hoek loer.

Nie ’n spier op sy gesig verraai enige gevoel nie. Maar toe Carlyle in sy oë opkyk, weet hy dat Anton de Woud hom gesien en herken het … Carlyle besef: verraai Anton hom, staar hy die dood in die gesig.

Ena Murray Keur 8

Подняться наверх