Читать книгу Ena Murray Keur 8 - Ena Murray - Страница 12

9

Оглавление

Koud van angs begewe Irma haar na haar bed. Tot haar verligting gebeur daar egter daardie nag niks nie. Sy is so uitgeput dat sy, ten spyte van haar vrese, soos ’n klip slaap. Toe sy weer haar oë oopmaak, sien sy die son in warm strale teen haar gordyne val. Iets het haar wakker gemaak. Dan hoor sy dit weer … ’n klop aan haar deur, terwyl dit terselfdertyd oopgestoot word. Emerit kom die kamer binne.

“Irma, ek is jammer om jou wakker te maak. Ek was vroeg vanoggend al hier, net nadat ons deure oopgesluit is, maar jy het so lekker geslaap dat ek jou nie wou steur nie.”

“Kom gerus binne, Emerit. Kyk hoe hoog sit die son al. Jy kon my maar die eerste keer al wakker gemaak het, want ek het lekker geslaap. Ek kan byna nie glo dat die nag verby is nie. Ek was gisteraand te bang om te kom slaap, maar gelukkig het daar nie weer iets gebeur nie.”

Sy bly stil en kyk Emerit skerp aan toe sy moeg oor haar oë vee en op die voetenent van die bed gaan sit. “Dit lyk nie of jy ’n goeie nagrus gehad het nie, jong. Jy is bleek. Het daar iets gebeur?” vra sy onrustig en kyk die meisie, wat skielik in trane uitbars, ontsteld aan. “Emerit! Wat is dit? Hoekom huil jy?”

Emerit wend ’n dapper poging aan om haar snikke onder beheer te kry, en fluister hees.

“Carlyle … hy …” Sy sluk swaar. “Carlyle is nog nie terug nie, Irma. Ek … ek het verlede nag niks geslaap nie. Vanoggend vroeg toe die huiswerker ons kamers oopsluit, het ek dadelik na sy slaapkamer gegaan. Hy is nog nie terug nie.”

Irma kyk haar geskok aan en klem haar hande magteloos saam. Sy soek na woorde waarmee sy Emerit kan troos, maar dit wil nie kom nie. Haar oë rus simpatiek op die geboë, rukkende skouers, en al wat sy kan doen, is om troostend oor hulle te streel.

“Ek is so jammer, Emerit. Maar jy mag nie moed opgee nie. Miskien … miskien kom hy vandag terug,” sê sy sag. “Jy moet sterk wees, ter wille van Carlyle. As jy nou ingee, sal jy hom nie kan help as hy jou hulp skielik nodig kry nie.”

Emerit kyk met betraande oë op.

“Maar wat kan ek vir hom doen? ’n Mens is so magteloos!” roep sy uit. “Ek kan net sit en wag, in die hoop dat hy wel sal terugkom.”

“Dan is daar nog altyd iets wat jy vir hom kan doen – vir hom wag. Kom. Kom was jou gesig en trek jou aan. Ek sal my ook gou aantrek, en dan gaan ons ’n entjie stap. In die helder son lyk dinge miskien nie so donker nie.”

Emerit gehoorsaam, en ’n rukkie later stap hulle die woonvertrek binne. Dis amper tyd vir ontbyt, maar Emerit sê dat sy geen eetlus het nie. Nietemin staan Irma daarop dat sy eers iets moet eet.

Dis toe hulle van die tafel af opstaan dat Anton die vertrek binnestap. Emerit bly stilswyend staan, terwyl Irma gespanne wag.

“Goeiemôre.”

Anton se stem klink heeltemal normaal, maar ’n skok trek deur Irma toe sy vlugtig na Emerit kyk. Die meisie se oë is vol gloeiende haat op hom gerig, en sy beantwoord nie sy groet nie. Dan draai sy om en stap haastig na buite, gevolg deur Irma. Anton de Woud bly op dieselfde plek staan, terwyl sy blik hulle volg – maar op sy gesig of in sy oë is daar niks wat verraai wat binne-in hom aangaan nie.

Jan kyk hom vlugtig aan toe hy by hom verbystap en aan tafel gaan sit, maar hy doen geen moeite om vir die ander môre te sê nie. Ná ’n oomblik hoor hy Anton op sy plek plaasneem, maar hy kyk nie op nie.

Dis ’n kwartier later dat Jan hom by die twee meisies voeg waar hulle besig is om in die rigting van die twee agterste ysterhekke óm die huis te stap.

“Jan, Carlyle is nog nie terug nie,” sê Emerit dadelik, en hy knik.

“Ja, ek weet.” Hy kyk na die toring wat aan hul regterkant lê, en hulle volg sy blik.

“Dink jy hy is dáár?” vra Irma, maar hy trek sy skouers op. “Ek twyfel. Ek dink eerder hy word in die ondergrondse laboratorium gehou.”

Vinnig flits Irma se oë na die lae koppie ’n paar honderd meter verder aan hul linkerkant.

“Dit klink so … onmoontlik dat daar werklik ’n laboratorium in daardie rantjies gehuisves word,” sê Irma fluisterend, asof sy bang is om te hard daarvan te praat.

Jan pers sy lippe gespanne saam.

“Wel, dit ís so. Ek het gisteraand nog daaraan getwyfel, maar van vanoggend af is dit ’n sekerheid by my dat Carlyle wel die waarheid gepraat het.”

“Hoekom? Het daar iets gebeur?” vra Emerit vinnig.

“Ja. Ek het gister my kamerdeur se slot ook buite werking gestel en gisteraand …” Irma se hart klop swaar. Sy weet wat gaan volg. “Gisteraand het ek Anton se kamerdeur dopgehou. Ek het hom gevolg totdat hy deur hierdie hekke is en hulle weer toegemaak het. Hy het in die rigting van die koppie gesluip. Ek kon hom nie verder volg nie, want ek kon die hekke nie oopkry nie. Maar nou weet ek dat Carlyle daardie storie nie uit sy duim gesuig het nie. Anton de Woud weet hoe om hierdie hekke oop te maak. En hy het in die rigting van die koppie verdwyn, presies net soos Carlyle gesê het toe hý hom gevolg het. Daarom glo ek nou ook wat Carlyle van die laboratorium vertel het.”

En jy glo ook dat Anton kop in een mus is met ons gasheer, dink Irma, en staar wesenloos op haar hande af. Op hierdie oomblik het sy nie die moed om enigiemand in die oë te kyk nie.

“Jou kamer is aan die voorkant van die huis, Irma. Het jy niks gewaar nie?” vra Emerit reguit, en die angs in haar hart oor Carlyle maak haar blind vir die wreedheid van haar vraag.

Irma byt haar onderlip vas om die trane van hartseer en wanhoop te keer. Dan kyk sy op en erken in ’n hees fluistertoon: “Ja. Ek het hom ook gesien. Hy het onder my venster verbygeloop.”

Met ’n snik op haar lippe draai sy om en stap haastig van hulle af weg, terwyl Jan sissend sag sê: “So ’n vuilgoed! As ek net genoeg bewyse teen hom kan kry, breek ek sy nek!”

Emerit vee ’n traan van haar wang af.

“Die arme kind! Hy het haar heeltemal in sy mag. Ek kry haar so jammer. Sy is in twee geskeur.”

Jan bal sy vuiste en stap dan vinnig tot by die twee hekke. Soos ’n vorige keer beur hy met al sy mag, maar moet maar weer ná ’n rukkie onverrigter sake omdraai.

“As ek net hierdie hekke kan oopkry!” roep hy uit, en hy en Emerit kyk mekaar stil aan terwyl magteloosheid hulle oorweldig.

Hulle merk nie die man op wat ’n paar treë van hulle af tot stilstand kom en hulle staan en bekyk nie. Ook sien hulle nie die tevrede lig in Anton de Woud se oë toe hy weer net so onopgemerk omdraai en om die hoek van die huis verdwyn nie.

Toe Irma van Jan en Emerit af wegdraai, is haar oë verblind deur trane. Sonder dat sy besef waarheen sy gaan, dra haar voete haar terug na haar kamer. Sy val op die bed neer.

Die besef dat sy Anton de Woud liefhet, skroei soos ’n vlam in haar. Maar dis nie ’n vlam van vreugde en ekstase nie; dis ’n vuur van skuld en skaamte. Hoe kan haar verraderlike hart ’n man soos Anton de Woud liefhê? Watter soort meisie is sy dat sy ’n man kan bemin wat met die lewens van mense speel? Hoe is dit moontlik dat sy so sterk aangetrokke voel tot ’n man vir wie sy net veragting en afsku behoort te hê? Maar hoewel sy hierdie vrae met ’n stille woede tot haarself rig, bly haar hart haar ’n antwoord skuldig.

Haar oë staar droog en branderig voor haar uit. Is dit moontlik dat Anton de Woud ’n gesplete persoonlikheid het? Sy weet dat daar wel sulke mense bestaan, maar dis of sy maar net nie wil aanvaar dat Anton een van hulle is nie. En tog weet sy dat hy twee mense is – die een wat sy liefhet en die ander wat sy vrees … Anton de Woud speel ’n rol, maar dis vir haar onmoontlik om vas te stel watter een van die twee die regte, die werklike een is. Is dit die een wat sy liefhet of … is dit die ander?

’n Gespanne stilte het oor die eiland neergedaal. Dis of niemand meer lus het om iets te sê nie. Die angs en bekommernis in hul harte probeer hulle nie meer verberg nie. Dit lê openlik in hul oë, duidelik vir elkeen om te sien. En wanneer hulle per toeval in mekaar se oë kyk, lê die naam Carlyle onuitgesproke tussen hulle. Maar hulle vermy mekaar se oë, bevrees vir wat hulle daarin sal lees. Die dag draal langsaam verby. Wanneer daar ’n voetstap opklink, kom Emerit onwillekeurig orent. Maar wanneer Jan of Anton dan sy verskyning maak, sak sy weer terug in haar stoel, net ’n bietjie bleker as ’n paar sekondes tevore.

Dit raak middagete. Die kos word lusteloos in hul borde rondgekrap.

Daar is ’n koue band wat Irma se keel toetrek terwyl sy sien hoe Anton kalm sit en eet. Sy wonder met ontsetting hoe hy dit regkry. Die feit dat hy so kalm is en optree asof daar niks gebeur het nie, is klaar beskuldiging genoeg teen hom. Sy moet die drang onderdruk om die bord kos voor hom weg te ruk. Sy klem dus haar mes en vurk so styf vas dat haar kneukels wit deur haar vel skyn.

Dan is dit of die spanning te veel word vir Emerit. Sy spring op en gryp Anton aan sy baadjielapelle, haar oë groot en rond en bang. “Waar is Carlyle? Wat het julle met hom gemaak?” vra sy skor, haar stem rou en bang.

Anton kyk haar stil aan. Daar is nie ’n greintjie gevoel op sy gesig nie, en sy oë is uitdrukkingloos. Irma en Jan sit ademloos. Die sekondes tik verby. Dan, eindelik, ontspan Emerit se klouende vingers en sy sak bewend van hom af weg. Met ’n sidderende snik gee haar bene onder haar mee en vou sy in ’n klein bondeltjie op die vloer neer, terwyl haar rou snikke deur die stilte skeur. Dan staan Anton op en ’n siniese glimlag speel om sy lippe toe sy oë vlugtig op Irma rus. Sonder ’n woord verlaat hy die vertrek.

Met diepe bejammering help sy die half histeriese Emerit na haar kamer. Toe Jan oomblikke later daar inloer, vra sy hom of hy nie net ’n kort rukkie by Emerit sal bly nie. Dan stap sy vinnig die gang af, deur die woonvertrek, en by die voordeur uit. Daar is ’n doelgerigtheid in haar stap. Hoewel haar gesiggie bleek en gespanne is, is die bruin oë hard, die mond ferm en die kennetjie vasbeslote na vore uitgesteek. Sy pyl sonder enige huiwering ’n sekere rigting in, en toe sy voor Anton tot stilstand kom, waar hy rustig langs die draad staan en rook, kyk sy hom vas aan, haar stem laag en woedend.

“Dit kan nie langer so aanhou nie, Anton. Emerit sal ’n ineenstorting kry. Watter bevrediging kan julle daaruit put om haar so te martel?”

“Julle? Wie is julle?” Sy stem is koud.

“Jy en ons gasheer, natuurlik. Of wil jy vir my kom vertel dat jy nie weet waar Carlyle is nie, en wat met hom gebeur het nie? Toe hy aan jou geslaan het, het jy hom mos belowe dat dit hom sou berou. Jou vriend, ons gasheer, het hom na die toring ontbied en hy het nog nie teruggekeer nie. Jy weet waar Carlyle is, Anton!” sê sy uitdagend, haar hande in vuisies gebal.

Dieselfde siniese glimlaggie van netnou raak weer aan sy mondhoeke, maar sy oë is staalgrys van hardheid toe hy sarkasties buig. “Jy doen my ’n groot eer aan om my daarvan te beskuldig dat ek die vertroue van ons gasheer het, Irma.”

Sy pers haar lippe saam, terwyl die woede hoër in haar oplaai. “Kan jy dit ontken?” Hy antwoord nie en haar stem verander skielik. Dit raak smekend, sag pleitend. “Anton, as jy dalk besig is om toneel te speel, kan jy dit nie los wanneer ons twee alleen is nie? Hier is niemand naby wat jou sal hoor nie. Vertel my asseblief waar Carlyle is en wat met hom gebeur het! En hoekom is jy soms so heeltemal anders as die man …”

“Ja?”

“As die man wat ek gedink het jy is,” voltooi sy haar sin fluisterend.

’n Skaars merkbare stuwing gaan deur sy liggaam, maar andersins bly sy gesig onpeilbaar. Hy antwoord haar egter nie, en sy vervolg sag, steeds pleitend: “Is hierdie … hierdie vreemdeling wat nou voor my staan die werklike Anton de Woud?”

Hy keer sy rug skielik op haar en sê dan oor sy skouer: “Ek kan jou ongelukkig nie help nie, Irma. Ek kan jou die inligting wat jy verlang, nie gee nie.”

Hy begin wegstap, en terwyl sy roerloos na die breë rug staar, flits die beeld van Emerit voor haar verby. Dan kom daar skielik lewe in haar lam ledemate, en sy hardloop agter die verdwynende gestalte aan. Haar oë gloei toe sy hom bereik en reg voor hom tot stilstand kom. Haar vuisies slaan teen sy breë bors en die trane stroom oor haar wange, terwyl sy wild uitroep: “Jy weet wat van Carlyle geword het! Jy weet, maar jy wil nie sê nie! Julle het hom vir ’n proefkonyn gebruik! Julle het die een of ander afgryslike eksperiment op hom uitgevoer!”

“Bly stil!” Sy vingers sny in haar boarms in, en sy oë klief soos twee dolke deur haar.

Maar Irma is buite haarself.

“Dis waar! Ek kan in jou oë sien dis waar! En jy, jy het dit gedoen! Ek … ek dink ek … haat jou!”

Anton verbleek, en dis of haar woorde hom lamslaan. Sy hande gly van haar arms af en val slap terug langs sy sye. ’n Oomblik staar hulle mekaar in geskokte swye aan, terwyl haar laaste woorde soos ’n swaard tussen hulle hang. Dan breek ’n rou snik oor haar lippe, en sy swaai om en begin in die rigting van die huis terughardloop sonder om een keer om te kyk.

Toe Irma eindelik haarself tot so ’n mate reggeruk het dat sy dit kan waag om na Emerit se kamer te gaan, voel sy opnuut geskok oor die ouer meisie se toestand wanneer sy langs die bed tot stilstand kom en op die bleek gesig afkyk. Emerit huil nie meer nie, maar dis of daar skielik ’n belangeloosheid oor haar neergesak het. Sy lê en staar na die plafon asof sy nie van Jan en Irma se teenwoordigheid bewus is nie. Jan wink woordeloos, en Irma volg hom die kamer uit. “Ek het opgemerk dat sy sterk tot Carlyle aangetrokke voel, maar ek het nie besef dat sy hom werklik so liefhet nie,” merk hy op toe hulle die gang afstap.

Irma knik.

“Ja. Ek dink Emerit het die eerste keer in haar lewe iemand werklik lief. Ek voel vir haar so innig jammer.”

En ek voel vir jou ook jammer, kindjie – baie jammer, dink Jan in sy enigheid, maar ag dit wyslik om dit nie hardop uit te spreek nie. “Laat ons maar hoop dat Carlyle terugkeer – en dat alles reg is,” sê hy dan net stil, en Irma swyg.

Dit het tyd geword vir aandete, tyd ook om bed toe te gaan. In die nag het Irma rusteloos gelê en rondrol, haar ore vir elke moontlike geluidjie gespits, totdat sy later vermoeid ingesluimer het. ’n Nuwe môre begin dan oor die eiland ontwaak, nog ’n dag waarin gehoop en gebid sal word, want … Carlyle het nog nie teruggekeer nie.

Irma is die volgende oggend amper te bang om Emerit se kamer binne te gaan. Toe sy die kamer binnestap, staan Emerit voor haar venster, haar oë gerig op die lae rantjie wat van hier af sigbaar is. Maar voordat Irma iets kan sê, spring Emerit haar in ’n doodse stem voor: “Ek weet hy is nog nie terug nie.”

Irma stap vinnig nader, maar toe sy langs Emerit staan, het sy meteens geen trooswoorde of woorde van bemoediging nie. Dis of die hoop ook skielik in háár hart gesterf het.

“Hy word in daardie koppie gevange gehou,” hoor sy Emerit langs haar sê, en sy vra fluisterend: “Hoe weet jy so seker?”

“Ek weet. Hy … hy het gesê dat die laboratorium daar is, en ek weet dat hulle daar besig is om … om die toetse op hom uit te voer.”

Emerit se stem is toonloos. Die histerie van die vorige dag het verdwyn. Maar dis juis die vreemde kalmte waarmee sy praat wat Irma oortuig dat Emerit reg is. Sy sien hoe haar hande die ystertralies voor haar venster krampagtig omklem, en daar kom meer lewe in haar stem toe sy vervolg: “Hy is so naby – en tog so ver, so onbereikbaar ver … Carlyle …”

Irma sluk haar trane dapper weg en neem die meisie aan die arm. “Jy moet jou begin aantrek. Dis amper tyd vir ontbyt,” sê sy sag, en Emerit kyk haar nou die eerste keer direk aan.

“Ja, ek moet aantrek, want ons moet gaan eet, sodat hulle vet proefkonyne vir hul eksperimente kan hê.”

Irma deins onwillekeurig terug vir die koelbloedige manier waarop sy dit sê.

“Moenie, Emerit,” fluister sy hees.

“Dis tog die waarheid. Wat sal dit help om dit langer weg te praat? Soos Carlyle verdwyn het en nie sal terugkeer nie, so sal ons ander ook die een na die ander van die toneel verdwyn. Ek wonder wie volgende op die lys is,” sê sy, en voeg by: “Ek hoop dis ek.”

“Emerit! Asseblief!”

“Ja, ek hoop dis ek,” herhaal sy asof sy Irma se ontstelde uitroep nie gehoor het nie. “Hoe gouer alles verby is, hoe beter. Daar is geen sin meer in om te hoop nie, want daar is vir ons geen redding nie. Daar is slotte aan ons deure en tralies voor ons vensters. En daar buite …” Sy beweeg weer nader na die venster. “En daar buite is hekke wat nie kan oopgemaak word nie. Ons is in ’n tronk en elkeen van ons kamers is ’n sel – ’n dodesel.”

“Hou op! Hoor jy my – hou op!” bars Irma skor uit. Sy gryp Emerit aan die arm en skud haar heftig. “Jy … jy sal my van my verstand af maak as jy met daardie soort praatjies volhou!”

“Miskien sal dit nog die beste wees. Dan sal jy nie besef wat met jou gebeur wanneer hulle jóú die dag kom haal nie.”

“Gebeur? Wat … wat sal gebeur?” vra Irma bevrees. Emerit draai haar kop terug na Irma.

“Het jy dan van die muis vergeet?”

“Die … die muis?”

“Ja, die muis wat Carlyle doodgemaak het. Dit was so groot soos ’n kat. En jy het gehoor wat Carlyle vertel het van die supermenseras wat die professor en Anton besig is om te teel. Die muis was een van hul proefdiere. Toe het Carlyle hom doodgeslaan en … en hy word nou in die plek daarvan gebruik.”

“Emerit! Jy praat … afgryslike goed!”

“Maar dis nietemin waar. Ek weet dis waar.”

Irma wring haar hande inmekaar. “Maar daar is nog geen klinkklare bewyse dat dit is soos wat jy nou daar sê nie …” probeer sy desperaat, maar Emerit val haar beslis in die rede.

“Wat jy eintlik bedoel, Irma, is dat daar nog geen klinkklare bewys van Anton se aandeel in die saak is nie. Jy probeer hom beskerm.” Irma voel die prik van trane agter haar ooglede. Emerit vervolg heftig: “Jy kan nie, ná alles wat gebeur het, nog daardie storie glo van die ongelooflike bedrag geld en ’n heerlike vakansie wat hy aan ons opgedis het nie. Watter gekke was ons om iets so belagliks te glo! Nee, Irma. Hoe gouer jy die waarheid besef, hoe beter vir jou. Ons is hierheen gelok met die uitsluitlike doel om as proefdiere gebruik te word deur ’n kranksinnige professor en Anton de Woud. Ja, moenie my so aankyk nie. Dit is beslis so en ek sal dit ook in sy gesig sê. Anton de Woud het net soveel deel aan hierdie eksperimente as ons gasheer. En ek is nie so seker of daar nie ook by hom êrens ’n groot skroef los is nie.”

“Wat bedoel jy?”

“Dis net kranksinnige mense wat sulke dinge doen soos waarmee Anton en ons gasheer besig is. Net die gedagte aan waarmee hulle besig is, vervul elke normale mens met afsku en walging. Persoonlik dink ek dat Anton de Woud ook kranksinnig is, maar hy steek dit beter weg as ons gasheer. Daarom is hy vir my gevaarliker as die professor, en vrees ek hom die meeste.”

In koel, kalm, kortaf woorde lug Emerit haar mening. Irma draai vinnig weg, haar gesig bleek, haar oë starend. Dis vir die jong Irma ontsettend om te luister hoe die ouer meisie die man wat sy liefhet van sulke verskriklike dinge beskuldig. Sy is magteloos om hom te verdedig, want diep binne-in haar besef sy: al is dit nie presies soos wat Emerit sê nie, skuil daar tog ’n greintjie waarheid in. Sy voel Emerit se hand op haar skouer, maar het nie die moed om om te draai en haar in die oë te kyk nie.

“Irma, hoe kan jy so blind wees? Besef jy dan nie wie en wat Anton de Woud werklik is nie? Of is jy vasbeslote om in sy onskuld te bly glo selfs al begin hy sy duiwelse eksperimente ook op jou uitvoer?”

“Moenie!” Irma ruk haar los. “Moenie sulke goed praat nie! Anton sal nie …”

“Sal hy nie? Watter waarborg het jy? Of gaan jy jou ook op die woord van ’n mal mens verlaat?”

“O, hou op! Hou op!” roep Irma uit, haar gesig in haar hande gedruk. ’n Oomblik staan hulle so. Dan gly haar hande van haar gesig af en sy kyk Emerit aan. “Ek … ek het Anton lief, Emerit. Ek het gedink dat jy, veral jy, sal kan verstaan. Jy het ook iemand lief. Jy behoort te weet dat ’n vrou teenoor haar eie hart magteloos is. Dink jy dat ek, as ek ’n keuse gehad het, Anton de Woud sou gekies het om lief te kry? En dink jy dat ek teen my beterwete sou bly vasklou het aan my gevoel vir hom as ek beheer daaroor gehad het, veral terwyl ek weet dat hy … heel moontlik is wat jy sê hy is? Maar ek kan myself nie keer nie! Kan jy dit nie verstaan nie?” roep sy uit, en haar oë gloei koorsig in haar wit gesiggie.

Die harde, verbitterde trek om Emerit se mond versag, en haar oë raak simpatiek. Sy sug en sprei haar hande in ’n hulpelose gebaar oop.

“Ek is jammer, Irma. Ek het nie só daaraan gedink nie. Dit was onvergeeflik van my om jou te vertel wat ek van Anton de Woud dink. Ek moes dit liewer vir myself gehou het.”

Sy skud haar kop. “Dis vir my ontsettend om te dink dat jy daardie man liefhet, dat jy jou liefde en alles wat in jou is, in sy genade stel om daarmee te maak wat hy wil. Dit kan net … louter hel vir jou bring.”

Dis ’n oomblik stil terwyl die twee meisies na mekaar kyk asof hulle nie weet wat om verder te sê nie. Dan trek Irma in ’n dapper poging haar skouers agteroor, en hoewel haar stem bewerig is, klink sy ook beslis: “Emerit, ek kan jou nie verkwalik dat jy sulke dinge van Anton dink nie. As ek in jou posisie was, sou ek seker net so gevoel het. Maar voordat daar nie onomstootlike bewyse teen hom gevind word nie, sal ek bly glo dat … dat hy onskuldig is.”

Emerit knik ernstig. “Goed, Irma. Miskien, as ek in jou posisie was, sou ek seker ook maar bly glo het. Ek sal jou nie veroordeel nie. En ter wille van jou hoop ek dat jou geloof in Anton de Woud nie beskaam sal word nie. As ek myself sover kan bring om saam met jou te hoop, sal ek dit doen – en ook vir jou bid. Jy sal dit baie nodig hê.”

Die trane hang aan haar wimpers toe Irma hees terugfluister voordat sy die kamer uitstap: “Dankie, Emerit. Baie dankie.”

Dit word tyd vir aandete, en die gebede van Irma gedurende die middag dat Carlyle moet terugkeer, is nog steeds onbeantwoord. Die ete verloop in stilte, soos dit nou die gewoonte is. ’n Sigbare spanning gaan deur die swyende eters toe die bekende suisgeluid van die luidspreker gehoor word.

“Goeienaand, dames en here. Meneer Carlyle Faure sal hom binne enkele minute by julle aansluit.” ’n Mes val kletterend op die vloer. Irma steek vinnig haar hand uit en lê dit kalmerend op Emerit se arm. “Hy sal optree asof daar niks gebeur het nie, asof hy nie twee dae weg was nie. Hy sal ook in ander opsigte miskien vreemd optree, maar ek wil julle vriendelik versoek om hom nie te laat agterkom dat hy … e … anders is nie. Julle mag hom ook nie vertel dat hy twee dae afwesig was nie, en hy moet in geen omstandighede ontstel word nie. Ek wil dit baie streng onder julle aandag bring dat gehoorsaamheid aan hierdie bevele van die uiterste belang is, en dat ek geen genade sal betoon aan die persoon of persone wat dit verontagsaam nie. Die tafel sal nou afgedek word. Julle moet almal gaan sit en julle met iets soos lees besig hou. Moenie juis aandag gee wanneer hy binnekom nie. Meneer Faure sal van nou af gedurig onder waarneming wees. Onthou dit asseblief en onthou my bevele.”

Die spreker se stem verraai spanning, maar ook dodelike beslistheid. “Ek hoop julle geniet nog tot dusver jul verblyf hier op die eiland. Goeienaand, dames en here.”

Soos roerlose standbeelde sit hulle om die tafel. Emerit lyk soos ’n spook. Irma staar wesenloos voor haar uit. Die bekommerde plooi tussen Jan se oë is dieper en duideliker as tevore. En onder die tafel klem Anton de Woud se hande tot vuiste saam …

Twee van die huiswerkers kom binne en begin haastig die tafel afdek. Swyend staan hulle op en neem elkeen in ’n leunstoel plaas. Gehoorsaam neem hulle van die koerante en tydskrifte. Dis net Emerit wat voor haar sit en uitstaar asof sy nie bewus is van wat om haar aangaan nie. Jan en Irma wissel ’n bekommerde blik, en Jan lê ’n tydskrif op haar skoot neer.

“Emerit, ruk jou reg, asseblief. Maak oop die tydskrif,” beveel hy dringend op fluistertoon.

Sy kyk op na hom, maar dis duidelik dat sy nie besef wat hy sê nie. Jan neem vinnig haar slap hande in syne en vou haar vingers om die oop bladsye.

“In hemelsnaam, ruk jou reg!” herhaal hy, nou baie strenger. “Hou op om net aan jouself te dink en dink ’n bietjie aan Carlyle!”

’n Skok gaan deur Emerit, en Irma kyk Jan verwytend aan. Maar sy oënskynlik wrede en ongevoelige woorde het die gewenste uitwerking. Dis of Emerit skielik tot die werklikheid terugkeer, en gehoorsaam lig sy die boek omhoog.

Die sekondes tik verby. Die stilte rek langer en langer. Elkeen staar na die letters in die oop boeke voor hulle sonder om werklik ’n enkele woord te lees. Die spanning raak onhoudbaar.

En dan hoor hulle meteens die naderende voetstappe. Dit kom met die gang af.

Die boeke se blaaie bewe in die hande wat hulle krampagtig omklem. Elkeen se asemhaling raak gejaag, swaar, onreëlmatig. Die oë staar vaster op die swartgedrukte woorde voor hulle …

En dan gaan die deur oop … Die vloer kraak.

Niemand kyk op nie. Dis stil …

’n Sekonde tik verby … en nog een … en nog een … Eindelik word die stilte verbreek.

“Gaan ons nie weer vanaand brug speel nie, Jan? Of is jou leesstof te interessant?”

Stadig, asof hy bang is om op te kyk, laat Jan die koerant voor sy gesig sak. Daar is ’n oomblik stilte, en dan hoor die ander hom antwoord: “Reg. Wie speel nog saam? Anton … Emerit … hoe voel julle?”

Die twee meisies hoor hoe Anton se koerant kraak en dan sy stem: “Ek is gereed.”

Agter die skuiling van die tydskrif, wat sy hoog voor haar gesig hou, draai Irma haar kop in Emerit se rigting en sy besef met ’n koue angs in haar hart dat Emerit breekpunt bereik het. Haar oë staar soos dié van ’n gehipnotiseerde na die tydskrifblaaie voor haar, en die uitdrukking in haar oë vertel maar te duidelik dat die spanning vir die ouer meisie te veel geword het.

Dan, skielik, gly die boek uit Emerit se hande en val met ’n plof op die vloer neer. Haar ooglede lig stadig, pynlik stadig … Sy sit soos ’n versteende fossiel. Dis net haar oë wat lewe, wat soos twee donker kole vuur in haar bleek gesig gloei … Hulle begin rek … groter en groter. Asof ’n elektriese stroom haar liggaam tref, spring sy op en dan bars ’n snik oor haar lippe.

“Carlyle!”

Ena Murray Keur 8

Подняться наверх