Читать книгу Ena Murray Keur 8 - Ena Murray - Страница 4
1
ОглавлениеDie prokureur glimlag vriendelik. “Sit gerus, juffrou Bruwer.”
Irma sak op die aangebode stoel neer, en haar vingers tas senuagtig oor haar handsak. Die man is baie vriendelik en gaaf – miskien ’n bietjie te gaaf – maar tog kan sy haar senuagtigheid nie afskud nie. Dis die eerste keer in haar lewe dat sy in ’n prokureurskantoor kom. Sy martel haar verstand nou al van die oggend vroeg af: hoekom sou sy so uit die bloute ’n oproep van ’n prokureursfirma kry met die versoek dat sy prokureur Berks so gou moontlik moet kom spreek? Maar tot dusver kon sy nog aan geen moontlike of onmoontlike rede dink nie.
Terwyl sy nou onseker na die ouerige man in die netjiese grys pak agter die embuia-lessenaar hier voor haar staar, wonder sy meteens benoud of sy nie dalk êrens onwetend iets verkeerds gedoen het nie. Dalk is dit die rede hoekom sy nou hier sit. Maar wat kan dit wees? In die jaar en ’n half wat sy nou al in die stad op kollege is, het sy nog altyd probeer om haar paadjie skoon te hou. Hoewel haar ouers maar sukkelende, arm boere in Namakwaland is, is sy streng grootgemaak. Haar opvoeding hoef geensins agteruit te staan vir dié van die meer gegoedes nie.
In der waarheid was daar gedurende die agttien maande hier in Pretoria maar min tyd en geld vir plesier en soortgelyke dinge wat haar so maklik op die verkeerde pad kon bring. Sy het nou wel ’n beurs met haar topsimbole aan die einde van haar skoolloopbaan ontvang. Dit dek haar losies- en klasgeld vir twee jaar op kollege. Maar dis steeds nie voldoende nie. Haar pa moet nog heelwat van sy kant af bydra om ’n kollege-opleiding vir haar moontlik te maak – iets wat hy beswaarlik kan bybring. Daarom is daar gewoonlik geen geld oor vir allerlei weelde en tierlantyntjies nadat die noodsaaklike betaal is nie.
Die prokureur maak keel skoon. Irma laat haar dwalende gedagtes terugkeer na die oomblik en bloos effens toe sy besef dat die man haar die hele tyd ondersoekend gesit en beskou het. Sy roer ongemaklik en hy verbreek die stilte: “Jy wonder seker hoekom ek jou hierheen laat kom het, nie waar nie, juffrou?” Hy glimlag toe sy bevestigend knik. “Jy lyk bekommerd, maar daar is geen rede tot ontsteltenis nie. Inteendeel. Jy sal binne ’n maand ’n ryk nooientjie wees. Hoe sal jy daarvan hou om soveel geld te besit dat jy jou nie meer oor geldsake hoef te bekommer nie?”
Hy noem ’n reusebedrag met soveel nulle aan die einde dat die jong meisie se oë net groot kan rek. Dit lyk asof haar mond wil-wil oopval. Haar gedagtes is ’n warboel. Effens kortasem vra sy: “Is jy ernstig, meneer Berks? Waar sal daardie geld vandaan kom?”
Die prokureur se gesig raak ernstig.
“Dis heeltemal waar wat ek jou vertel, mits jy bereid is om van jou kant af ’n geringe opofferinkie te maak. Ek noem dit ’n opoffering, maar eintlik is dit die verkeerde woord. Dit hang in elk geval alles net van jouself af. Maar wag, laat ek eers verduidelik.”
Irma lag senuagtig, en die ongeloof lê duidelik in haar oë. “Asseblief, meneer Berks. Dit klink so … fantasties!”
Hy knik en begin dan verduidelik: “Ken jy miskien daardie wêrelddeel om Keimoes en Kakamas?”
“Nee.”
“Wel, soos jy seker self weet, kronkel die groot Oranjerivier deur daardie deel. Dis ’n groot rivier, en oral in die rivier is daar eilande, veral waar dit deur die distrik Keimoes en Kakamas vloei. Daar is byvoorbeeld Kanoneiland, wat so groot is dat daar ’n selfstandige gemeenskappie is, ook ’n kerk en gemeente. Nou, dis maar net ’n voorbeeld. Daar is baie ander eilande waarop die mense plasies het en hul bestaan daarop maak. Dit is natuurlik baie mooi groen daarlangs, en die aarde is vrugbaar.”
Irma luister met belangstelling en raak meer op haar gemak. Sy glimlag nou, en haar blou oë blink terglustig.
“Meneer Berks, jy wil my tog nie vertel dat iemand daar ’n plaas of selfs ’n eilandjie aan my nagelaat het nie?”
Hy lag.
“Nee, ongelukkig nie. Maar dis amper so goed. Luister mooi, juffrou, om daardie bedrag te ‘erf’, sal ons dit maar noem, is ál vereiste wat gestel word dat jy ’n maand lank op een van daardie eilande moet gaan kuier. Nadat die maand lange vakansie verstryk het en jy hierheen terugkeer, sal ek jou tjek vir jou gee. Daarmee kan jy maak wat jy wil.”
Irma kyk die man voor haar ernstig aan. Skeer hy dalk die gek met haar? Nee, tog nie! Hy is heeltemal ernstig, en sy skud haar kop verward. Van so iets het sy nog nooit gehoor nie.
“Meneer Berks, verstaan ek jou heeltemal reg? As ek ’n maand lank op ’n sekere eiland in die Oranjerivier gaan kuier, sal ek daardie ongelooflike bedrag betaal word?”
Die prokureur knik. “Heeltemal reg.”
“Maar … maar wie is die mens wat sy geld so rondstrooi?” vra Irma verbaas, amper verbysterd. Want van kleins af het sy ’n groot ontsag vir geld, juis omdat sy dit nooit in oorvloed geken het nie.
“Ek neem jou nie kwalik dat jy dink so ’n mens moet van lotjie getik wees nie. Maar, nou ja, ons ou wêreld is saamgestel uit allerhande soorte mense. Onder ons kry ’n mens die eksentrieke karakters, en ons het nou met een van hulle te doen.
“My kliënt besit die hele Drakeneiland, soos die eiland genoem word. Dit lê taamlik eenkant, nie juis naby die ander eilande nie. Hy moet skatryk wees, te oordeel na sy rojale aanbod. Ek is al jare lank sy prokureur maar het hom nog nooit persoonlik ontmoet nie. Hy doen al sy sake per korrespondensie. Sover ek kon aflei, is hy nie getroud nie. Heel moontlik voel hy dat hy aan iemand sy besittings en geld wil bemaak – en daarom nooi hy nou ’n paar mense vir ’n maand lange vakansie na sy eiland, sodat hy hulle darem eers ’n bietjie kan deurkyk voordat hy hulle sy erfgename maak.”
“’n Paar mense?”
“Ja. Jy is nie die enigste een wat so ’n fantastiese aanbod gekry het nie. Daar is nog vier ander. Julle sal dus vyf wees wat teen ’n wonderlike vergoeding op Drakeneiland gaan vakansie hou. Wel, juffrou Bruwer, wat dink jy daarvan?”
Sy kyk hom fronsend aan.
“Jou verduideliking klink heeltemal aanneemlik, meneer Berks. Maar waar kom hy aan my naam? Hoekom het hy juis vir mý as een van sy gaste gekies?”
Hy trek sy skouers op.
“Dit kan ek jou nie sê nie. Feit bly dat jy wel gekies is en, juffrou, as jy my voorbarigheid om jou ongevraag raad te gee sal verskoon, sal ek jou aanraai om hierdie wonderlike aanbod met albei hande aan te gryp. Jy sal nooit weer so ’n kans kry nie.”
Sy laat sak haar kop en kyk onseker op haar hande af. Alles het so skielik op haar afgekom dat sy nie dadelik tot ’n besluit kan kom nie.
“Wanneer moet ons daar gaan kuier?”
“Die begin van aanstaande maand, dus oor twee dae.”
“Maar die kollege sluit eers oor tien dae.”
“Ek is seker dat daardie paar dae nie veel verskil aan jou studie sal maak nie, juffrou. Dink net watter beloning daar op jou wag.”
“Wel, ek weet nie,” antwoord sy onseker. “Ek wil eers die saak met my ouers bespreek. Ek sal hulle vanaand bel en môre my antwoord …”
“Dit mag jy ongelukkig nie doen nie,” val meneer Berks haar vinnig in die rede. “Dis een van die vereistes wat ek vergeet het om te noem. Jy mag niemand vertel waarheen jy gaan nie.”
Sy kyk hom verbaas aan, en daar kruip skielik ’n skaduwee van agterdog in haar oë. “Hoekom nie?”
Maar die prokureur glimlag gerusstellend. “Dit klink geheimsinnig en agterdogwekkend, maar my kliënt het ’n baie goeie rede daarvoor. As hierdie vreemde aanbod van hom eers rugbaar word, sal hy eerlank oorval word deur mense wat almal op Drakeneiland wil gaan vakansie hou. Jy weet tog hoe die mens is. Daarom het hy uitdruklik geëis dat die vyf uitverkorenes aan niemand, niémand iets hiervan mag vertel nie. Hy het dit uitdruklik in sy brief aan my gestel. En as daar van julle vyf is wat hierdie versoek nie gehoorsaam nie, verbeur hy of sy dadelik sy of haar kans om na die eiland te gaan.”
“Maar my ouers is heeltemal betroubaar, meneer Berks. Hulle sal niemand hiervan vertel as ek hulle dit vra nie.”
“Ek weet, juffrou Bruwer, en ek glo jou. Maar so sê die ander vier ook. Die een het ’n betroubare vriend of vriendin, die ander weer ’n tante of oom – en dis nie lank nie, of die storie lek tog maar uit. Verstaan jy?”
“Ja, ek begryp, maar ek hou nie daarvan nie,” sê sy reguit. “Dit voel vir my asof ek my ouers op die een of ander manier sal bedrieg. Watter rede gaan ek aanvoer omdat ek nie die vakansie huis toe kom nie?”
“O, ons sal wel daardie probleem kan oplos. Dit sal noodsaaklik wees om hulle ’n bietjie te bedrieg, as jy dit so wil stel. Maar dink net watter verrassing wag teen die end op hulle – of is jou pa so welaf dat so ’n reusebedrag nie veel verskil aan hom sal maak nie?”
“Nee, my ouers is arm en daardie spul geld sal ’n groot uitkoms wees,” erken sy eerlik.
Die prokureur kyk haar ernstig aan.
“Nou ja, juffrou, dan dink ek werklik dat jy hierdie aanbod moet aanvaar. Ek is nie arm nie, juffrou, maar ’n bedrag met soveel nulle is baie geld, veral as ’n mens in ag neem dat jy dit as vergoeding gaan kry om vakansie te gaan hou! En ek sê reguit dat ek, as ek een van die uitverkore vyf was, nie ’n sekonde oor my besluit sou twyfel nie.”
“Maar moet ek u dan dadelik ’n antwoord gee?”
“Nee, maar nie later as môreoggend tienuur nie. Indien jy weier om te gaan moet daar nog genoeg tyd oor wees om iemand anders in jou plek te soek.”
Irma staan op.
“Nou goed, meneer Berks. Ek sal jou voor môreoggend tienuur my besluit laat kry. Baie dankie.”
Voordat hy die deur vir haar oopmaak, herhaal hy weer: “Dis dan reg so, juffrou Bruwer, maar asseblief nie ’n woord hiervan aan enigiemand nie. Het ek jou plegtige belofte?”
Sy glimlag. “Goed. Ek belowe.”
Irma se gedagtes is in ’n opgewonde warboel toe sy eindelik die koshuis bereik en haar kamerdeur agter haar toedruk. Sy skop haar skoene uit en sak op die bed neer. Sy sit ’n oomblik stil en lag dan hardop.
“Wel, slaan my dood!”
Sy gaan in haar gedagtes elke woord na wat die prokureur haar vertel het. En toe sy aan die einde kom, kan sy nog nie glo dat dit werklik waar is nie. Vir ’n kind wat arm grootgeword het, is die bedrag wat hy genoem het baie geld – ’n fortuin. En dit lê binne haar bereik …
Maar tog is dit al asof daar iets is wat haar hinder, hoewel sy nie haar vinger daarop kan lê nie. Die prokureur se verduidelikings het oortuigend geklink solank sy daarna geluister het. Selfs nou, terwyl sy weer al die indrukke en woorde in haar gedagtes rondsif, kan sy geen fout daarmee vind nie. Dis ongelooflik wonderlik – maar tog heeltemal moontlik. Dis tog al deur en deur bewys dat die werklikheid soms baie meer ongeloofbaar is as fiksie. En dat ’n mens wel baie eksentrieke mense kry, is nie altemit nie. Maar dat sy, Irma Bruwer, ooit eendag met so ’n eksentrieke, ’n mens kan amper sê ongebalanseerde persoonlikheid te doen sou kry, en dat sy boonop nog so ’n fabelagtige bedrag op die koop toe kan kry, sou sy in haar stoutste verbeeldingsvlugte nooit kon droom nie. Maar dit het gebeur!
Al wat haar geweldig hinder, behalwe die onverklaarbare gevoel van onrus dat iemand êrens ’n strik vir haar gestel het, is dat sy haar ouers sal moet bedrieg. Dis natuurlik as sy wel die aanbod aanvaar en besluit om met hierdie vakansie weg te gaan. Maar as sy daaraan dink wat dit vir haar ouers sal beteken wanneer sy teen die end van aanstaande maand so ’n tjek voor hulle kan neersit, wonder Irma of dit werklik ’n groot oortreding sal wees as sy hulle net so ’n klein, klein ratjie voor die oë draai …
In haar verbeelding sien sy die hele toneel voor haar. Sy sal, wanneer die maand verstreke is en sy die tjek ontvang het, ten eerste ’n blink, nuwe motor vir haar pa koop – sy hartsbegeerte, hoewel hy dit nooit laat blyk nie. Dan sal sy in die nuwe, blink motor op die plaaswerfie aankom en voor die platdakhuisie stilhou. Sy glimlag ingenome en sug van ekstase. Sy sien al klein Driesie en Magriet se ronde ogies soos hulle bewonderend na die motor staar.
In haar verbeelding hoor sy haar pa se diep basstem in die rigting van die kombuis roep: “Vrou, hier is mense!” Dan sal haar ma haastig die voorskoot afhaal, effens senuagtig oor haar hare stryk en aan die groot bolla agterop haar kop tas. En dan sal die voordeur oopgaan en dan … Sy giggel soos ’n skoolmeisie. En dan sal sy uitklim. Nee, eers sal sy vir Driesie se onthalwe ’n paar keer hard op die toeter druk en dan sal sy uitklim en sê: “Pappie, kyk wat het ek vir Pappie gebring – ’n splinternuwe motor! En Mamma, hier in my handsak is nog ’n spul geld vir ons!” Hulle sal flou van skrik wees en dink hul dogter het dalk op ’n verkeerde pad beland. Maar nadat sy alles verduidelik het, sal hulle net so bly soos sy wees oor die wonderlike geluk wat hulle getref het. Mamma sal natuurlik hardop sit en huil, want sy huil altyd wanneer sy bly is. En Pappie sal miskien ook trane in sy oë kry, trane van dankbaarheid …
Irma snuif en vee vinnig oor haar oë. O, wat sal sy nie wil gee dat hierdie verbeeldingsvlug werklikheid word nie! Sy dink terug aan haar kinderjare en haar hart pyn. Droogtes en nogmaals droogtes. Die trekpad. Swak lammetjies wat wankelend op hul bene hardloop vir melk en dan keelaf gesny word. Saans om die tafel met die vetkers in die middel. Twee gebarste, vereelte hande saamgevou en ’n gebroke man wat met ’n dik stem smeek: “Vader, gee uitkoms – gee reën!” En dan die uitkoms, die reën. ’n Tydjie wat volg waarin ’n mens darem weer melk oor jou pap kry en suiker in die koffie. Net ’n rukkie. En dan begin dit maar weer van voor af aan – die siklus van droogte en ’n kort rukkie van verposing, van gebrek ly en net genoeg kry. Met verbasing besef sy dat haar ouers nie werklik oud is soos sy altyd aan hulle dink nie, maar op vyf en veertig lyk haar pa soos ’n ou man wat reeds lewensmoeg is, haar ma soos ’n vrou wat ’n eeu se swaarkry agter die rug het. En Irma weet dat sy hierdie kans nie durf laat verbygaan nie. Sy kom tot ’n besluit: sy sal gaan. Toe sy eindelik sekerheid het oor wat haar te doen staan, begin die opgewondenheid van haar besit neem. Wat wag op haar in die nabye toekoms? Is alles werklik so eenvoudig as wat dit klink? Sy kan maar nie die gevoel van haar afskud dat daar êrens iets is wat nie pluis is nie. Maar wat dit ook al mag wees, ter wille van haar ouers sal sy daardie risiko moet waag.
In ’n ander deel van Pretoria, in een van die welvarendste woonbuurte van die stad, kyk twee mans mekaar vas aan en die een vra fronsend: “Skeer jy nou die gek met my?”
“Moenie laf wees nie. Ek het nog nooit aan my verbeelding gely nie. Maar ek kan jou nie kwalik neem as jy dit nie wil glo nie. Om die waarheid te sê, ek wonder nog self of ek dit nie maar gedroom het nie. Dis so … fantasties! Dis net mal mense wat sulke dinge doen!”
“Dus is hierdie ding wat jy my vertel het, die heilige waarheid, op jou woord?”
“Op my woord,” antwoord die ander beslis. “Ek moes ’n plegtige belofte aflê dat ek geen lewende siel hiervan sal vertel nie.”
“Hoekom het jy dit dan vir my vertel?”
Die man kyk die ander onseker aan.
“Omdat ek so ’n vreemde gevoel het dat alles nie pluis is nie,” sê hy dan.
Die ander man se skerp, donker oë kyk stip.
“Wat laat jou dit sê?”
“Ek weet nie,” en hy trek sy skouers op. “Daar is net iets aan die hele besigheid wat my onrustig maak. Ten eerste: waarom is ék juis een van die vyf uitverkorenes? Waar kom daardie oubaas aan my naam? Ek ken nie eens daardie deel van die wêreld nie – was nog nooit daar nie. En alles is so geheimsinnig. Niemand mag hiervan weet nie, selfs nie ons huismense nie. Met ander woorde, ons vyf moet so te sê ’n maand lank van die aardbol af verdwyn – net om op ’n sekere eiland te gaan vakansie hou. Indien daar gedurende hierdie tyd iets met ons gebeur, sal geen haan ooit daarna kraai nie. Geen siel weet waar ons ons bevind nie. En daarna word ons elkeen ’n bedrag wat swaar dra aan al die nulle in die hand gestop en totsiens gewuif. Jy weet, dit maak dit ’n totale bedrag van hoeveel miljoen! Nee, daar is iets wat nie reg klink nie.”
Sy stem is beslis. Die ander staan op en begin stadig heen en weer loop, sy blik peinsend op die vloer voor hom.
“Waarom dink jy dat daar gedurende jul verblyf op die eiland miskien iets met julle kan gebeur?”
“Ek weet nie!” antwoord die jong man seker die honderdste keer gedurende hierdie gesprek. “En hou nou op om vir mý vrae te vra. Ek het jou laat kom om die ding te probeer uitpluis en nou moet ek jou alles vertel. Jy kom heeldag met vreemde dinge in aanraking. Ek het gedink jy sal my dadelik kan sê of dit net my verbeelding is wat my op loop jaag, of …”
“Nee, dit is nie. Ek stem met jou saam. Daar is iets … e … vreemds aan die affêre.” Die man gaan staan en kyk die ander reguit aan. “Daar is nog net twee dae oor voordat julle moet vertrek. Dus is daar nie eintlik tyd om eers die saak ’n bietjie te ondersoek nie. Maar ek dink ek het ’n plan …”
“Wat is dit? Maar, ou neef, ek sê jou vooraf ek het geen geld om jou vir jou diens te betaal nie. Ek is platsak …”
“Soos gewoonlik,” is die droë tussenwerpsel. “Nee, jy hoef my nie te vergoed nie. Ek gaan vir my eie bevrediging. Die ding interesseer my baie.”
“Gaan?”
“Ja. Ek gaan in jou plek – as jy nie omgee nie.”
“Nie omgee nie! Liewe hemel, man, dink jy ek sal jou met daardie fortuin laat wegkom net omdat ek ’n vreemde gevoel oor die hele affêre het? Jy moet seker laf wees, my liewe neef! Ek het geld nog nooit so broodnodig gehad soos nou nie.”
“Moenie so opgewonde raak nie. Ek gaan in jou plek, onder jou naam en ek sal jou tjek vir jou bring. Ek stel nie in die geld belang nie. Jy behoort dit tog te weet.”
“Ja, maar, almaskie …”
“Die saak is beklink. Ek belowe plegtig dat ek nie ’n enkele veer van jou goue gans sal pluk nie. Maar as ek jy is, sal ek nie my hart daarop sit nie.”
“Wat bedoel jy?” vra die ander vinnig.
“Ek het natuurlik dalk die kat aan die stert beet, of dan die goue gans aan die stertveer … maar ek het ’n vermoede dat die geld net as lokaas gebruik word. As die bedrag die helfte kleiner was, sou dit nie agterdog gewek het nie. Maar ek voel ook soos jy. Daardie klomp nulle is te goed om waar te wees!”
Die volgende dag ontvang prokureur Berks vyf oproepe waartydens hy in kennis gestel word dat al vyf “uitverkorenes” bereid is om die volgende aand na Drakeneiland te vertrek. Hy glimlag ingenome met homself toe hy ná die laaste oproep die telefoon neersit. Wat die uitverkorenes nie weet nie, is dat hy dieselfde bedrag sal ontvang as hy die vyf mense oorreed om op Drakeneiland te gaan vakansie hou en indien hy die vereiste nakom dat alles in die grootste geheimhouding geskied. Wel, die helfte van die stryd is gewonne. Al vyf is bereid om te gaan. Nou moet daar nog net voorsorg getref word dat niemand, familie of vriende, van die vyf se afwesigheid bewus raak nie. Een vir een word hulle weer na die prokureurskantoor ontbied. So ook Irma Bruwer.
“Ek het gedink jy moet ’n brief aan jou ouers skryf en hulle vertel dat jy vir die vakansie werk gekry het om sodoende ’n bietjie ekstra geld te verdien. Daarom sal jy nie huis toe kom nie. Dan skryf jy ’n paar briewe waarin jy hulle so ’n ietsie van die werk vertel wat jy doen – of veronderstel is om te doen – en ek sal hulle met gereelde tussenposes pos sodat jou ouers geen onraad kan vermoed nie. Wat dink jy van die plan?”
Volgens die uitdrukking op haar gesig voel Irma glad nie gelukkig nie. Maar sy besef dat sy nie meer kan omdraai nie. As sy nou kop uittrek, sal dit te laat wees vir meneer Berks om iemand anders in haar plek te vind. Dus knik sy nou maar gedwee en probeer met die ou spreekwoord, die doel heilig die middele, die onseker gevoel in haar binneste smoor.
Nadat sy drie briewe aan haar ouers geskrywe het, lees die prokureur hulle noukeurig en is blykbaar tevrede met die inhoud, want hy stoot ’n pak koeverte na haar en sê: “Adresseer drie koeverte, asseblief. Ek sal sorg dat hulle gepos word.”
“Meneer Berks, en wat as daar iets by my ouerhuis gebeur? Sê siekte of dood of iets dergeliks?” vra sy bekommerd.
Hy stel haar dadelik gerus.
“Ek sal jou pos ontvang en as jy nie omgee nie, sal ek dit deurgaan. Indien daar iets kom wat jou aandag vereis, sal ek jou dadelik laat weet. Is jy nou tevrede?”
Sy knik weer en staan dan op. “As dit al is, meneer …”
“Dankie vir die mooi samewerking, juffrou Bruwer. Net nog een ding. Dis in verband met jou vervoer tot daar. ’n Private vliegtuig is gehuur om jou en die ander na jul bestemming te bring. Ongelukkig sal die rit in die nag afgelê moet word, want die vliegtuig is gedurende die dag vol bespreek. Jy sal dus môrenag om halfeen deur ’n taxi by jou losiesplek opgelaai word en jy sal om en by eenuur van Johannesburg af vertrek. Jy sal omstreeks halfses die oggend op Kakamas aankom, waar jy ontmoet sal word deur iemand in ’n motor wat jou tot by die eiland sal bring. Ek is baie jammer dat dit alles op so ’n ongeleë tyd in die vroeë oggend moet geskied. Maar soos ek reeds gesê het, is die vliegtuig nie op ’n ander tyd beskikbaar nie.”
“Dis alles reg, meneer Berks. Dit maak nie saak nie. Ek sal sorg dat ek gereed is.”
“Goed. Ek sal in elk geval op die lughawe wees om jou weg te sien. En intussen vertrou ek dat jy niemand iets hiervan vertel het nie. Jy het nog nie jou woord verbreek nie, of hoe?”
Daar is ’n breë glimlag op sy gesig en sy stem klink lighartig. As Irma ’n bietjie ouer was en miskien oplettender, sou sy gesien het dat hy met ’n mate van spanning op haar versekering wag.
“Nee, meneer. Ek het niemand vertel nie en ek sál ook nie,” belowe sy weer en groet dan.
Die prokureur draai terug na sy lessenaar en skakel ’n nommer. Indien sy sekretaresse op daardie oomblik sy kantoor binnegekom het, sou sy van skone verbasing op haar rug geval het, want sy sou iets vreemds gehoor het – dat haar baas benewens Engels en Afrikaans ’n derde taal magtig is, volkome magtig volgens die vloeiende, vreemde klanke wat in kortaf sinne oor sy lippe rol. Sy sou die taal ook nie kon eien nie, want dis ’n taal wat selde in Suid-Afrika gepraat word. Sy sou nie ’n enkele woord daarvan verstaan het nie.
Toe prokureur Berks eindelik die gehoorbuis neersit, speel ’n tevrede glimlag om sy mond. En aan die ander kant word nog ’n gehoorstuk neergesit en die man draai om. Hy staan ’n oomblik by die venster wat ’n wye uitsig verleen oor die eiland, die kronkelende spoor van die Oranjerivier, die bosryke, digbegroeide oewers en die kokerbome teen die lae rante aan die oorkant. Daar is geen glimlag om die dun, wit lippe nie. Maar in die oë is daar ’n lig van tevredenheid, oorwinning – ’n vreemde, byna fanatieke glinstering.
Die volgende nag om halfeen hou ’n taxi voor die koshuis stil en Irma vertrek na die lughawe sonder dat iemand wakker word. Sy het reeds die vorige middag verduidelik dat sy die nag sal vertrek en moes teen wil en dank ’n paar leuens vertel om nie agterdog te wek nie. Maar blykbaar het niemand onraad gemerk nie. Toe sy by die lughawe kom, is prokureur Berks, asook drie van die ander “vakansiegangers”, reeds daar. Hulle stel hulle aan mekaar voor.
Irma is verlig om te sien dat daar nog ’n meisie – Emerit de Jager – in die geselskap is. Sy skat haar om en by dertig. Sy is lank, slank en mooi, baie swaar gegrimeer en ’n bietjie luidrugtig.
Dan word sy voorgestel aan Jan Odendaal – effens geset, ’n goedige, vriendelike glimlag op sy gesig, effens bles, so tussen veertig en vyf en veertig. Irma voel dadelik tuis in sy geselskap.
Die derde vakansieganger wat haar hand neem, is Carlyle Faure, en Irma hoor dadelik ’n waarskuwende stemmetjie binne-in haar praat. Hy is jonk, seker niks ouer as vyf, ses en twintig nie, blou oë, ligte krulhare en baie seker van homself. Binne enkele sekondes weet Irma dat hy met die volgende samestelling van die Springbokspan sekerlik in aanmerking geneem sal word; dat hy ’n vinnig opkomende jong ster van die Afrikaanse toneel en ’n bekende persoonlikheid in die wêreld van renmotors is. Hy is lank, by die twee meter, fris gebou, en sy ligte blou pak pas hom perfek. Irma laat haar oë vinnig voor syne sak en raak bewus daarvan dat hy nog steeds haar hand vashou. Sy trek dit haastig terug en draai dan na die prokureur wat langs haar staan.
“Maar het u dan nie gesê ons is vyf nie?”
Daar is ’n ontevrede frons op meneer Berks se gesig toe hy antwoord: “Ja. Julle ís vyf. Ek weet nie waar bly die man nie. Dis amper tyd dat julle moet vertrek.” Hy kyk weer vinnig na sy polshorlosie en sê dan saaklik: “Ek dink julle moet maar solank inklim. Ons sal nog so ’n paar minute wag, maar nie langer nie.”
Hulle gehoorsaam, en die motore van die vliegtuig dreun reeds toe ’n motor in volle vaart aangery kom.
“Jy is laat, meneer De Woud,” uiter meneer Berks sy ontevredenheid hardop. Die vyfde passasier steur hom egter nie veel aan die vermaning nie en mompel net ’n verskoning terwyl hy haastig agter om die motor loop om die taximan met die bagasie te help.
“Jy moet maar dadelik inklim. Die ander vier is al binne.”
“Dankie. Totsiens, meneer Berks.”
“Totsiens.”
Die deur klap agter die laatkommer toe, en die vyf passasiers ontvang dadelik die bevel om hul gordels vas te maak. Dan verdiep die dreuning en die vliegtuig begin vorentoe beweeg op die halfmaansirkel na die aanloopbaan. Enkele sekondes later snel die donker aarde onder hulle verby, en skiet hulle die swart naghemel in. Eindelik kan hulle die gordels losmaak. Almal se oë keer nou nuuskierig na die laatkommer wat ewe op sy gemak sy pet afhaal.
Jan Odendaal draai om in sy sitplek en loer oor die rugleuning na die vreemdeling. Hy kyk hom vriendelik aan en steek dan sy hand uit. “Ek is Jan Odendaal.”
Die vreemdeling neem sy hand. “Anton de Woud. Aangenaam.”
“Laat ek jou voorstel. Emerit de Jager en Irma Bruwer, Carlyle Faure. Dames en heer, dit is Anton de Woud.”
Hulle erken die bekendstelling met ’n knik van hul koppe en Irma let op dat Anton de Woud se blik skerp, deurdringend oor elkeen afsonderlik dwaal. Terwyl sy oë bestuderend op die ander rus, neem sy die kans waar om hom op haar beurt noukeurig te beskou.
Hy het ’n besonder hoë voorkop, wat onsin of feit, baiekeer die eienskap is van mense met ’n besonderse intelligensie. Sy hare is swart en dis of dit effens wil golf. Naas Carlyle Faure sal hy geensins as aantreklik beskryf word nie, maar tog is daar iets in sy gelaatstrekke wat ’n mens onwillekeurig boei. Hy dra bril, maar die wakker, staalgrys oë agter die donker rame wek geensins die indruk dat hulle swak sien nie. Inteendeel. Daar is iets deurdringends aan die manier waarop hy na sy medepassasiers kyk, asof hy gewoond daaraan is om sy medemens op te som en te probeer peil.
Naas Jan Odendaal se effense gesetheid vertoon hy ietwat aan die skraal kant. Of miskien is dit omdat hy so ’n lang man is – goed twee meter. Maar sy breë skouers verraai verskuilde krag en vir Irma kom hy voor soos ’n styfgespanne staalveer wat elke oomblik kan losskiet. Sy is self verbaas oor hierdie vergelyking, want die man sit ontspanne agteroor geleun in sy stoel, en sy gesig is uitdrukkingloos terwyl sy bewegings rustig en kalm is. Sy skeur haar blik weg van hom en kyk deur die ruit na die donker naghemel maar, vreemd genoeg, bly sy intens bewus van die man wat skuins agter haar aan die ander kant van die paadjie sit.
Die ander begin eers voel-voel met mekaar gesels maar later vlot dit, en Irma luister belangstellend toe terwyl Jan Odendaal die een na die ander skaamteloos uitvra.
Emerit de Jager is ’n model en Jan Odendaal ’n onderwyser wat tot in sy siel toe sat is “van kinders wat nie weet in watter jaar Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het nie”. Carlyle Faure is ’n toneelspeler, renmotorjaer, gewigopteller en – om siel en liggaam aan mekaar te hou – kantoorklerk.
“En jy, meneer De Woud? Wat doen jy vir ’n bestaan?”
“Ek skryf stories.”
Jan Odendaal kyk hom verbaas aan.
“Jy is ’n skrywer? De Woud … De Woud … Ek het nog nie so ’n naam in die skrywerswêreld teëgekom nie.”
“Jy sal ook nie. Ek skryf onder ’n skuilnaam.”
Dis Carlyle Faure wat die vraag op almal se lippe stel en Anton de Woud kyk hom openlik verveeld aan.
“Meneer Faure, dis veronderstel om ’n geheim te wees.”
Hy keer hom vinnig na die jong meisie skuins voor hom en vra reguit: “En jy, juffrou Bruwer, wat doen jy?”
“Ek is op kollege, meneer.”
Jan Odendaal glimlag.
“Ja, sy is maar so pas uit die bottelstadium. Aangesien ek die oudste van ons vyf is, sal ek maar ’n vaderlike oog oor haar moet hou.”
Anton de Woud toon geen verdere belangstelling nie, maar sak nou dieper in sy stoel weg en gooi sy pet oor sy gesig. “Verskoon my, maar ek gaan so ’n bietjie dut.”
“’n Goeie plan. Ek dink ek gaan jou voorbeeld volg,” laat Emerit de Jager hoor, en een na die ander skuif hulle hulle gemaklik in hul stoele reg. Eerlank haal almal diep en rustig asem, terwyl hulle na hul bestemming snel.
Teen halfses die oggend stryk die vliegtuig op ’n groot, oop plaat ’n paar kilometer buite Kakamas neer. Dis nog effens skemer maar die landing geskied sonder probleme. ’n Stasiewa en klein vragmotor wag op hulle, en sodra al die bagasie van die vliegtuig afgelaai en agter op die vragmotortjie gepak is, vertrek die vliegtuig weer en staan die groepie van vyf hom stilswyend en agternakyk.
“Nou ja, totsiens, beskawing. Kom, die motor wag. Laat ons ons tot die laaste skof wend,” merk Jan op. Irma sien dat die vragmotortjie reeds vertrek het. ’n Swart man hou vir hulle die deure van die stasiewa oop en hulle bondel in. Toe Jan ’n gesprek wil aanknoop om meer besonderhede oor hul bestemming uit hom te kry, skud dié net sy kop en swyg.
“Hy is stom,” stel Anton ’n verergde Jan in kennis en dié laat vaar toe maar sy pogings.
Die motor slinger etlike kilometers op ’n slegte grondpad en beland dan eindelik op ’n snelweg. Kakamas word agtergelaat, en omtrent vyftien kilometer anderkant Kakamas, op die Keimoespad, swenk die bestuurder van die pad af en slinger tussen digte bosse en kokerbome deur totdat die rivieroewer skielik voor hulle opdoem. ’n Vlot wag op hulle om hulle oor te neem na die eiland, wat van die oewer af sigbaar is. Ná sowat ’n kwartier staan hulle eindelik weer op vaste grond. Hulle het by hul bestemming aangekom.
Vandat hulle die vliegtuig verlaat het, het niemand juis iets te sê gehad nie. En ook nou, terwyl hulle hul oë oor die digbegroeide eiland – of liewer, die klein deeltjie wat hulle daarvan kan sien – laat dwaal, is daar stilte.
Dis Emerit wat eerste die stilte verbreek en ’n senuagtige laggie laat hoor: “Wel, hier is ons. Dit … dit lyk maar taamlik verlate.”
Jan Odendaal laat sy blik om hom dwaal. “Ja. Ja-nee, ons sal mekaar nie doodtrap nie, dis seker.”
Die swart man voeg hom by hulle en wink met sy hand dat hulle hom moet volg. Stilswyend gehoorsaam hulle en binne ’n paar sekondes verdwyn hulle tussen die digte bosse al dieper die eiland in. Jan stap voor, net agter die swart man. Dan volg Emerit, Carlyle, Irma en Anton de Woud in dié volgorde.
En terwyl hulle stap, voel dit vir Irma asof hulle soos ’n klomp skape na die slagplek gelei word. Sy weet dat dit ’n verspotte gedagte is, maar nietemin loer sy telkens onrustig oor haar skouer na agter, en te oordeel na Anton de Woud se gesig, vind hy blykbaar ook niks prettigs in hierdie uitstappie nie.
Later voel dit vir Irma asof sy kan omdraai en terughardloop – want sy weet meteens dat daar iets onheilspellends in die stilte om hulle hang, dat daar iets op hulle wag, dat in hierdie miniatuur-oerwoudjie iets ontsettends gaan gebeur. En sy weet, ja, sy wéét dat sy nooit hierheen moes gekom het nie.