Читать книгу Ena Murray Keur 8 - Ena Murray - Страница 8

5

Оглавление

Irma gewaar Carlyle in haar rigting aangeloop kom. Sy wil net vinnig agter ’n paar bosse wegswenk sodat hy haar nie moet gewaar nie, toe hy opkyk en na haar roep: “Irma, wag daar, asseblief!”

Sy moet noodgedwonge gaan staan. Toe hy hom by haar voeg, vra hy: “Ek soek al ’n hele ruk na jou. Waar was jy?”

“Ek het sommer rondgeloop en die wêreld bekyk,” antwoord sy ietwat kortaf en begin vinnig in die rigting van die huis stap. Hy dwing haar egter met ’n hand op die skouer om te bly staan.

“Ek wil met jou praat, alles verduidelik …”

“Dis regtig nie nodig nie, Carlyle. Dit het tog niks met my te doen nie.”

Die frons verdiep tussen sy oë en sy stem klink effens ongeduldig. “Moet asseblief nie dié houding aanneem nie, Irma. As jy net wil luister, sal jy verstaan …”

“Waar is Emerit?”

“Sy is terug huis toe. Haar skoen se hak het gebreek,” sê hy ongeduldig en neem haar dan vaster aan die skouers. “Luister, Irma …”

“Asseblief, Carlyle. Dis amper tyd vir aandete.”

Daar verskyn ’n vasbeslote trek om sy mondhoeke.

“Jy sal na my verduideliking luister, al moet ek jou ook die hele nag hier staan en vashou,” sê hy beslis, en sy trek haar skouers traak-my-nie-agtig op.

“Nou goed dan. Ek sal seker maar moet luister, maar hou dit asseblief so kort as moontlik. Ek wil nog voor ete my hare gaan kam en hande was.”

“Ek sal jou nie lank ophou nie,” sê hy styf. “Dis heeltemal reg dat Emerit en Carlyle Faure mekaar ken. Maar ek is nie Carlyle Faure nie. Dit het ek jou tog reeds vertel. Sy het natuurlik sommer dadelik deur die hele ding gesien en toe sy my vanmiddag in my kamer kom opsoek het, het sy my reguit gesê sy weet dat ek onder ’n vals naam hier is. Dit plaas my in ’n baie moeilike posisie,” erken hy openlik, “want ek het nie gedink dat een van julle miskien die werklike Carlyle Faure sou ken nie. Ek het natuurlik geweet dat daar so ’n moontlikheid bestaan, maar aangesien Carlyle Faure nog net ondergeskikte rolletjies in toneelopvoerings vertolk het en nie juis so ’n bekende figuur is nie, was daardie moontlikheid baie gering. Ek het dus nie veel aandag daaraan gegee nie.”

“En nou moet jy die rol van gewese minnaar vertolk?” vra Irma effens spottend. “Dit behoort nogal opwindend te wees.”

“Irma, jy verstaan nie in watter benarde posisie ek my werklik bevind nie!” verwyt hy. “Ten eerste wil ek nie hê dat veral Anton de Woud moet agterkom dat ek nie Carlyle Faure is nie. En ten tweede is dit noodsaaklik dat ons gasheer dit nie moet weet nie – om voor die hand liggende redes.”

“Maar hoekom sal Emerit hulle die waarheid gaan vertel? As jy haar vra om stil te bly …”

“Dit het ek reeds gedoen, en sy het toe gesê dat dit net van myself afhang of sy stilbly of praat. Die joos weet wat sy daarmee bedoel het,” sê hy, en Irma kan nie help om effens simpatiek te glimlag nie. As Carlyle se storie die waarheid is, is hy werklik in ’n onbenydenswaardige posisie.

“Weet jy nie? Kan jy nie raai nie? Emerit de Jager is aangetrokke tot jou en hou nie daarvan dat jy aandag aan my gee nie,” sê sy nou reguit, en hy kyk haar verslae aan.

“Ag nee, kom nou, Irma! Dis tog verspot!”

“Hoekom?”

“Maar … maar ons ken mekaar dan skaars …”

“Wat daarvan? Dis moontlik om so te sê met die eerste oogopslag verlief te raak, dan nie?”

“En wie het nou met die eerste oogopslag verlief geraak?”

Anton en Jan staan daar, en laasgenoemde glimlag goedig tergend.

“Ons klein Irma?”

Sy kyk hulle vererg aan. “Moenie verspot wees nie. Ek het maar net gesê dis moontlik, dis al.”

Anton de Woud se droë stem klink op. “Die intrige van Drakeneiland verdiep al meer! Ons kort nog net liefdesdriehoeke, dan is die prentjie volmaak.” Sy oë brand in dié van Irma. “Maar ek dink nie die liefde sal veel kans kry om te gedy nie. Ons word snags toegesluit, en verder is daar netnou dik ysterstawe voor ons vensters aangebring.”

Hul koppe ruk in sy rigting en Jan vra verbysterd: “Werklik?”

Anton se bolip trek smalend. “Ja, werklik. Gaan kyk maar self.”

Die ander drie draai summier om en staar oomblikke later verslae na hul kamervensters. Irma voel weer ’n koue rilling deur haar gaan en draai om met kale vrees in haar oë. “Dit begin al meer na ’n tronk lyk.”

“Dit ís ’n tronk!” Carlyle se oë is nougetrek. “As ek daardie De Woud betrap …”

“De Woud?”

Jan kyk hom verbaas aan en Irma verduidelik: “Carlyle glo vas Anton is eintlik ons gasheer.”

“As hy dit nie is nie, het hy iets met hom te doen,” dring Carlyle aan.

“Carlyle, asseblief, gebruik tog jou verstand.” Irma sug moedeloos. “Ons gasheer praat met ons wanneer almal in die kamer is – nie net wanneer Anton afwesig is nie.”

“Dit gee ek toe. Maar het jy nog nooit van bandopnames en buikspraak gehoor nie?”

Sy kyk hom verbysterd aan. “Jy is verspot!”

“Goed. Ek is verspot. Kom kyk hier.” Hy lei haar na Anton se kamerdeur. “Sien jy? Sy deur het ook ’n slot aan die buitekant soos ons almal s’n. Jy het seker al die slotte opgemerk, nie waar nie?”

Toe sy knik, vervolg hy: “Maar sal dit werklik net heel toevallig wees dat ons vriend De Woud se slot nie werk nie?”

“Wat bedoel jy, Carlyle?”

“Jy kan gerus maar probeer, maar ek waarborg jou dat daardie slot nie sluit nie. Dit werk nie. Met ander woorde, hierdie slot aan sy deur is net bedoel om ons ander nie agterdogtig te maak en snuf in die neus te laat kry nie.”

“Dit kan toevallig wees,” antwoord sy onseker.

“Hm. Hier is en gebeur te veel dinge wat toevallig is. Ek verkies om anders daaroor te dink. Maar kom ons gaan terug sitkamer toe.”

Jan begin dadelik aanstap, maar Carlyle se hand op haar arm hou haar terug.

“Wag vir my, ek wil net gou my bril gaan kry.”

Sy kyk hom onrustig aan.

“Carlyle, wat wil jy gaan doen?” vra sy dan reguit.

“As Anton de Woud se slot toevallig onklaar kan raak, kan myne ook, nie waar nie?”

Sy antwoord nie, maar kyk hom stil aan en begin dan met die gang afstap.

“Waar bly Carlyle so lank?” vra Emerit ongeduldig, en Irma probeer so kalm moontlik antwoord: “Ek dink hy soek na sy bril. Hy kon dit nie kry nie.”

Op daardie oomblik kom hy binne.

“Nee, ek kan dit nie kry nie. Ek moet dit tuis vergeet het.”

“Ons gaan ’n potjie brug speel. Sal jy nou nie kan speel nie?” vra Jan teleurgesteld.

“Nee, ek kan speel. Ek dra dit net wanneer ek lees of skryf. Dis eintlik omdat my oë moeg raak, nie omdat hulle swak is nie. Ons kan maar begin.”

Om halftien bring een van die huiswerkers tee binne, en Emerit bied aan om te skink. Irma neem haar koppie en kyk op, vas in Carlyle se oë. Hy staar haar stip aan, en haar oë rek vraend. Skaars merkbaar skud hy sy kop en sy besef dat hy nie wil hê sy moet haar tee drink nie. Daar is ’n duidelike waarskuwing in sy oë. Sou hy vermoed dat daar iets ingegooi is? Hy staan op en kom voor haar verby. “Dis ’n mooi patroon wat jy brei,” merk hy op en buk oor haar. Gedemp kom sy stem: “Die tee is moontlik gedokter. Ek sal jou koppie netnou by jou kom neem. Moenie drink nie.” Dan hardop: “Is dit vir jouself?”

“Ja.”

“Dis mooi. Ek hou van die kleur.” Hy stap weg en gaan staan voor die venster.

Irma kyk tersluiks na Anton wat sy koppie by Emerit neem en weer rustig gaan sit. Hy neem ’n sluk van die tee en wil dit dan op die tafeltjie langs hom neersit. Maar sy elmboog stamp teen die stoelleuning en die koppie val aan skerwe op die vloer.

“Verskoon tog, asseblief. Dit was lomp van my,” sê hy vererg, en vee met sy sakdoek die tee van sy klere af.

“Hier is nog tee, Anton. Ek sal lui dat hulle nog ’n koppie bring.”

“Dankie, Emerit, laat staan maar. Ek is nie juis lus vir tee nie.”

Irma se oë draai na Carlyle en sy is net betyds om te sien hoe hy met ’n vinnige beweging die inhoud van sy koppie by die venster uitskiet. Hy kyk haar veelbetekenend aan en stap dan nader. “Is jy klaar, Irma?”

“Dankie.”

Hy sorg dat sy lyf tussen die koppie en die ander is toe hy dit by haar neem, en uit die hoek van haar oog sien sy hoe hy met ’n rats beweging haar tee in die teepot teruggooi.

“Ek dink ek gaan maar slaap. Dis al amper tienuur,” sê Jan met ’n skaars bedekte gaap toe hy sy leë koppie neersit.

“Ja, ons behoort maar almal kamer toe te gaan,” sê Emerit en sit ook haar leë koppie neer.

Hulle wens mekaar ’n goeie nagrus toe en elkeen draai by hul onderskeie slaapkamers in. Irma trek die deur agter haar dig, en sy hoor hoe die slot agter haar sluit. In die woonvertrek was daar twee sterk gaslampe wat so goed soos elektriese lig is. Maar op die tafeltjie langs haar bed staan net ’n kers, en sy ril onwillekeurig toe sy die lang, bewende skaduwee van die flikkerende liggie teen die mure en gordyne gewaar. Sy trek haastig uit, en toe sy oomblikke later onder die laken inkruip, weet sy dat sy nie gou aan die slaap sal raak nie. Met haar hande agter haar kop gevou, gee sy haar gedagtes vrye teuels.

Is dit toeval dat die slot aan Anton se deur nie werk nie? Was dit toeval dat hy per ongeluk sy koppie tee uitgestort het? Dit klink ’n bietjie vergesog. Het Carlyle gelyk as hy sê dat Anton de Woud, indien hy dan nie self hul gasheer is nie, iets met hom te doen het, miskien met hom saamwerk?

Irma sien dat dit reeds amper kwart oor tien op haar wekkertjie langs die bed is, en sy blaas die kers dood. Toe sy weer terugleun, kan sy byna nie glo dat dit nog maar haar eerste dag op Drakeneiland is nie. Daar het vandag soveel plaasgevind. Dit klink byna onmoontlik dat alles in die bestek van ’n paar uur kon gebeur het. Sy dink daaraan hoe saai en eentonig en eenders die dae op kollege verbygegaan het. Elke dag was dieselfde. Maar vandat sy met die gasheer van Drakeneiland te doen gekry het, was daar nog nie een vervelige oomblik nie. Elke sekonde was tot dusver gevul met opwinding en spanning en … vrees …

’n Beklemmende gevoel neem van haar besit. Hoewel sy dit heftig ontken en haar bes doen om dit te ignoreer, was daar die afgelope dag voortdurend ’n vae vreesgevoel in haar aanwesig. En dis of dit, met die koms van die nag, net verdiep.

Sy besef ook met ’n skok: waar sy nou lê, is haar hele liggaam gespanne en daar groei ’n afwagting in haar … Waarop? Sy trek die laken en kombers stywer om haar vas. Dis of sy wag op iets, iets om te gebeur. Haar kamer is pikdonker, want sy het vergeet om die gordyne voor die venster oop te trek. Maar sy het nie die moed om op te staan en daarheen te loop nie.

Hoe lank sy so gelê het, weet sy nie. Sy moet van skone vermoeienis ingesluimer het, toe dit gebeur …

Een oomblik was sy nog tussen slaap en wakker. Die volgende oomblik staar haar oë groot en rond die stikke duisternis in. Dan begin die koue angssweet op haar voorkop en handpalms uitslaan, terwyl haar asemhaling in haar keel verstok. Sy lê soos ’n roerlose standbeeld terwyl sy luister … luister na die murgdeurdringende angskrete wat deur die nagstilte klief.

Ena Murray Keur 8

Подняться наверх