Читать книгу Ena Murray Keur 8 - Ena Murray - Страница 7
4
ОглавлениеJan se blik dwaal van die een na die ander. Daar is ’n diep frons op sy voorkop toe hy byna kortaf beveel: “Kom ons gaan drink tee. Dis amper elfuur.”
Hulle stap in stilte huis toe. Irma voel vererg vir haarself dat sy soos ’n skuldige kind loop en bloos. Sy het tog niks verkeerds gedoen nie! Sy is aan niemand iets verskuldig nie. Jan Odendaal het haar aangekyk asof hy oor iets ontevrede was. Emerit se oë het haar openlik vertel wat sý dink. En Anton s’n was uitdrukkingloos – sy besef dis juis dít wat haar die meeste hinder. As hy haar teleurgesteld, kwaad of agterdogtig aangekyk het, sou sy geweet het wat hy dink. Maar nou het sy nie die vaagste benul wat in sy gedagtes omgegaan het toe hy haar en Carlyle saam gewaar het nie. Die blos op haar wange verdiep. Het hulle miskien Carlyle se laaste woorde gehoor? Heel moontlik dink Anton nou dat sy ’n opperste flerrie is wat koketteer met elke man wat sy teëkom.
Sy blik vinnig in sy rigting, maar uit sy onpeilbare gelaat kan sy niks wys word nie. Sy sug van verligting toe hulle die woonvertrek bereik, en ’n skinkbord met tee ingedra word.
Terwyl Irma die koppie tee na haar lippe bring, kyk sy op, vas in Anton se grys oë wat staalhard oor die rand van sy koppie na haar staar – en Irma besef met ’n skok dat sy bang is vir hierdie man. Ja, sy is bang vir hom, en tog trek hy haar terselfdertyd onwillekeurig aan. Sy voel meteens soos ’n mot wat magteloos is om teen die bekoring van die kersvlam te stry. Sy probeer die probleem vir haarself nugter beredeneer. Is dit die fisieke wat haar in hierdie man aantrek? Maar Carlyle is in der waarheid ’n baie mooier man as Anton. En tog straal daar uit Anton de Woud ’n baie sterker bekoring as uit Carlyle. Daar is net iets in hom, iets wat sy nie op die naam kan noem nie, wat haar onweerstaanbaar aantrek.
Sy skrik by hierdie gedagte toe sy besef dat sy aan dieselfde woorde dink as dié wat Carlyle gebruik het. Onweerstaanbaar aantreklik … Sy worstel met die probleem of sy liewer Carlyle se raad moet aanvaar. Al is dit dan nie om die redes wat hy aangevoer het nie maar ter wille van haarself, onbekende gevoelens wat skielik so onverhoeds in haar ontwaak het. Maar sy weet ook dat Anton dit nie daarby sal laat nie. Al doen sy ook haar bes om nooit alleen met hom te wees nie, is dit bykans ’n saak van onmoontlikheid dat hulle op hierdie afgesonderde eiland nie weer die een of ander tyd alleen sal wees nie. En dan?
Irma was nog altyd ’n baie selfstandige mens, miskien omdat sy swaar grootgeword het. Daarom was sy innerlik ’n bietjie verder ontwikkel as haar vriendinne van dieselfde ouderdom. Sy het wel ook soos hulle haar mansvriende gehad, en het selfs gedurende hoërskool en haar eerste jaar op kollege ook ’n paar keer haar hart verloor, wat heeltemal normaal is. Maar sy het nooit dolverlief geraak soos haar maats nie. Haar verstand het altyd bly werk. Daarom kan sy nou die situasie kalm in oënskou neem.
Anton de Woud sowel as Carlyle Faure het verklaar dat hulle ’n besonder beskermende gevoel teenoor haar koester. Hoekom? Dis seker maar omdat sy die jongste van hulle is, kom sy dan tot die slotsom.
Haar blik dwaal na Emerit de Jager, wat ’n tydskrif in haar kamer gaan haal het en nou rustig sit en lees. Emerit se houding het haar ’n paar minute gelede heeltemal dronkgeslaan. Sy kan net tot een gevolgtrekking kom en dit is dat Emerit weer van haar kant af Carlyle aantreklik vind. Hemel, nee! Al hierdie romantiese drade kon tog nie net in ’n paar uur geweef en deurmekaar begin raak het nie! Dis tog onmoontlik! Dit klink na ’n swak uitgewerkte roman. En tog … Irma besef dat dit geensins onmoontlik is nie. Sy het al gehoor daarvan dat ’n mens iemand ’n oomblik gelede nog nie geken het nie en dan … skielik kyk julle in mekaar se oë. En jy weet dat daar iets met jou gebeur; dat hierdie vreemdeling wat voor jou staan iets diep binne-in jou aangeraak het, iets wat tot dusver nog sluimerend was. Onwillekeurig draai haar oë in die rigting van ’n sekere iemand wat blykbaar in sy koerant verdiep is. Ja, sy weet dat so iets kan gebeur …
Jan Odendaal hou sy koppie na haar toe uit en sê skertsend: “Skink asseblief nog ’n bietjie in, Irma, sodat jy weer ’n slag na die hede kan terugkeer. Jy sit so droomverlore voor jou en uitstaar. Dit lyk amper asof jy verlief kan wees.”
Sy skrik uit haar gedagtes op, en weer kleur ’n verraderlike blos haar hals en wange.
Dan verstil haar bewegings met die teepot toe sy Anton se stem agter haar hoor: “Miskien is jy reg, Jan. Miskien is ons kleine Irma verlief.”
Sy voel die grys oë op haar rug brand, en sy weet hy wil hê sy moet omdraai sodat hy in haar oë kan sien of hy reg is. Maar sy staal haar teen die magnetisme van sy blik, en hoor dan Carlyle uit die teenoorgestelde rigting antwoord: “Ja, miskien is sy verlief. Is jy, Irma?”
Daar is ’n uitdagende klank in sy stem en sy vererg haar meteens bloedig vir die skaars bedekte kragmeting tussen die twee mans.
Sy oorhandig eers Jan se koppie en kyk dan koel van die een na die ander.
“As ek verlief is, is dit nogtans my eie saak en gaan dit nie een van julle aan nie.”
Emerit se laggie is luidrugtig.
“Maar hoor so ’n katwyfie! Daar het julle nou gekry waarna julle gesoek het. Maar ek, wat ook ’n vrou is, kan julle twee die versekering gee dat ons ou meisietjie wel verlief is, anders sou sy nie so gou op haar perdjie gewees het nie.”
“Dis maar goed dat jy ’n model geword het en nie ’n sielkundige nie, Emerit. Jy sou van honger doodgegaan het,” antwoord Irma woedend, en stap dan haastig by die gang in na haar kamer.
Sy gaan lê met ’n diep sug op haar bed en probeer uitpluis wat presies aangaan. Maar sy het die nag op die vliegtuig nie juis veel geslaap nie, en gou sluimer sy in om ’n ruk later deur ’n klop aan die deur gewek te word.
“Irma! Irma! Dis etenstyd!”
Dis Carlyle se stem, en sy maak die deur oop.
“Ek sal nou daar wees, dankie, Carlyle. Ek wil net eers my gesig afspoel.”
“Goed, ek wag vir jou.”
Irma voel ietwat verbaas toe Anton nie eens sy kop oplig toe sy en Carlyle die vertrek binnekom nie. Sy merk dat Emerit hulle ’n oomblik stip aankyk en voel instinktief aan dat sy baie seker minstens een vyand op Drakeneiland gemaak het. Maar sy voel magteloos om enigiets daaraan te verander, en besluit om die ouer meisie se jaloerse en vyandige houding te ignoreer.
Dis net die middeljarige Jan Odendaal wat blykbaar nog nie op die een of ander wyse aangetas is nie, en hy doen dan ook sy bes om gedurende die ete ’n opgeruimde gesprek aan die gang te hou. Toe hulle egter die koffiestadium bereik, droog sy gesels ook op.
Daar heers ’n stilswye in die vertrek wat naderhand byna onuithoudbaar begin word. Dit word eensklaps deur die geluid van die luidspreker verbreek. Almal lig hul kop in afwagting. Dan verstyf hulle toe die stem van hul gasheer opklink.
“Smaaklike ete, dames en here.” ’n Laggie klink op en die geluid daarvan laat Irma weer soos die vorige keer hoendervel kry. “Julle lyk so … pateties …” Die lag is nou helder en duidelik. Hul gasheer vind blykbaar iets geweldig amusant, want die gelag raak nou harder. “So pateties …” Dis nou ’n skaterlag en daar is ook ’n duidelike toon van histerie daarin. Of is dit waansin? wonder Irma bewend terwyl hulle mekaar magteloos aanstaar en luister hoe die gelag deur die vertrek weerklink.
Jan se gesig is bekommerd, en Emerit lyk openlik bevrees. Carlyle se oë is byna toe, en sy hele houding wek die indruk dat hy op iets konsentreer. Dan dwaal haar blik na Anton wat, toe die stem die stilte verbreek het, sy koppie neergesit het. Maar nou, terwyl hul gasheer se gelag in hul ore weerklink, is hy besig om kalm sy koffie klaar te drink.
Meteens hou die gelag op.
“Wat ’n verwronge humorsin!” verbreek Jan eindelik die stilte, en Emerit giggel van skone senuagtigheid.
Anton stoot sy stoel agteruit en staan op. Hy beweeg in die rigting van die voordeur asof hy na buite wil gaan, toe Carlyle hard en duidelik sê: “Dis geen humor nie, my vriend. Dis waansin.”
Anton kom dadelik tot stilstand. Met sy hand op die deurknop kyk hy oor sy skouer terug, maar sê tog niks nie.
Ontsteld sien Irma die twee mans se oë inmekaar boor.
“Daardie man wat daar gelag het, is mal, kranksinnig, waansinnig – wát jy dit ook al wil noem,” sê Carlyle weer hard.
“Dan begin dit darem nou eindelik tot jou deurdring dat ek gelyk gehad het?” sê-vra Anton kil.
Carlyle se oë weifel egter nie voor sy deurdringende blik nie. “Ja, daar is ook ander dinge wat so stadigaan vir my duidelik begin word.”
“Soos byvoorbeeld?”
“Soos byvoorbeeld dat die stem wat oor die luidspreker kom vir my ’n bekende klank het.”
Irma trek haar asem hoorbaar in en staar Carlyle geskok aan. Sou hy werklik die ware identiteit van hul gasheer aan die klank van sy stem geëien het? Dan sien sy tot haar ontsteltenis dat Carlyle se oë nog steeds stip op Anton gerig is, openlik uitdagend. Uit die hoek van haar oog sien sy ook hoe Emerit en Jan se koppe in die rigting van die roerlose figuur by die deur draai. Maar hoewel Anton de Woud se liggaam duidelik gespanne is, kyk hy Carlyle kalm in die oë en daar speel selfs ’n fyn glimlaggie om sy lippe. Sy kan die presiese uitdrukking in sy oë nie agter die bril peil nie. Maar dan ontspan hy skielik, en sy glimlag raak breër.
“Jy praat onsin.”
Met dié draai hy die deurknop en verdwyn na buite.
Die ander drie kyk net swyend na Carlyle, wie se blik nog steeds stip gerig is op die deur waar Anton de Woud uitgestap het. Dan verbreek Jan die stilte.
“Carlyle, as ’n man wat so ’n paar jaar ouer as jy is, wil ek jou net ’n bietjie raad gee. ’n Mens kan dink wat jy wil, maar jy kan nie sonder onomstootlike bewyse sê wat jy wil nie. Dis gevaarlik om sommer jou vermoedens te lug sonder om twee keer daaroor na te dink.”
“Ek is jammer. Julle dink natuurlik dat ek ’n gek van my gemaak het. Maar ek het my redes. Soms loon dit om ’n klip in die bos te gooi. Jy gooi soms iets raak.”
“Hm.” Jan kyk hom ondersoekend aan. “En het jy hierdie keer iets getref?”
Carlyle trek sy skouers op en glimlag. “Hoe dink jy?”
“Ek weet nie.”
“Ek weet ook nie.”
“Carlyle, sal julle twee asseblief ophou dubbelsinnig praat en my vertel wat aangaan?” sê Emerit ontsteld.
“Moenie jou ontstel nie, Emerit. Dis sommer … niks nie,” probeer hy haar op onoortuigende wyse gerusstel.
Emerit maak haar mond oop. Voordat sy egter weer kan praat, spring Jan haar voor.
“Ek dink ons het almal ’n uurtjie of twee rus nodig. Ons het geeneen verlede nag veel slaap gehad nie. Kom ons gaan kamers toe.”
Eers teen vieruur die middag kom hulle weer uit hul kamers te voorskyn. Nadat hulle, tot hul eie verbasing, omtrent twee uur lank heerlik geslaap het, het elkeen ’n verfrissende bad geniet. Terwyl Irma in die rigting van die woonvertrek stap, voel sy heelwat kalmer. Sy voel ook effens skaam dat hulle hulle almal tot dusver so kinderagtig gedra het.
Tog raak sy dadelik weer gespanne toe sy die woonvertrek binnegaan en gewaar dat net Anton daar is. Sy huiwer en wonder of sy nie liewer maar moet terugdraai nie, maar hy het haar reeds gewaar.
“Ek … ek kom soek koffie,” verduidelik sy stamelend – en met die beste wil ter wêreld kan sy hom nie in die oë kyk nie.
“Daar oorkant op die tafel. Hulle het dit nou net ingebring.”
Sy stem is koel, amper kil, en sy weet, sonder om op te kyk, dat sy oë onpersoonlik op haar gerig is.
Sy draai haastig na die tafel, en terwyl sy met bewende vingers die koppies regsit, vra sy skynbaar kalm: “Het jy al iets gedrink?”
“Nee, nog nie.”
“Moet ek vir jou ook skink?”
“As jy wil.”
Haar ooglede fladder onrustig terwyl sy langer as wat nodig is die koffie in die twee koppies skink. Selfs toe dit klaar is, huiwer sy nog om na hom om te draai. Dan raak sy meteens bewus van sy teenwoordigheid hier kort agter haar, hoewel sy hom nie hoor nader kom het nie. Sy arm skuur teen hare toe sy hand agter haar rug verbykom om die koppie te neem. Sy aanraking stuur ’n vlugtige rilling deur haar, maar hoekom weet sy self nie op hierdie oomblik nie.
Sy nabyheid ontstig haar meer as wat sy aan haarself wil erken en Irma wil net sywaarts padgee toe sy ander hand liggies op haar heup geplaas word. Sy voel soos ’n voëltjie wat in ’n wip gevang is toe sy sy stem so na aan haar oor hoor sodat sy sy warm asem teen haar vel voel aanslaan.
“Glo jy wat Carlyle Faure netnou van my geïnsinueer het? Is dit hoekom jy vir my bang is?”
Sy draai haar kop weg en haar vingers begin senuagtig met die teelepel in die piering speel.
“Ek … ek is nie bang vir jou nie, Anton.”
Sy voel sy vreemde diepgrys oë op haar brand.
“Jy het nie my vraag beantwoord nie, Irma. Kyk my in die oë en dan herhaal jy wat jy so pas gesê het.” Toe hy haar huiwering gewaar, vervolg hy meedoënloos, uitdagend: “Of is jy bang dat ek die waarheid in jou oë sal lees?”
Sy hand sluit om hare en die geklingel van die teelepel verstil. “Of is dit net ’n geval dat jy daardie blonde stuk twak meer vertrou as vir my?”
Sy kyk vinnig na hom.
“Carlyle is nie so ’n stuk twak as wat jy dink nie, Anton.”
“Dan is dit so.”
“Nee, jy het die kat aan die stert beet. Dis nie wat jy dink nie …” Hy draai van haar af weg en sê dan in ’n helder stem: “Kom maar binne, Emerit. Waar is Jan?”
Irma verstyf. Hoe lank staan Emerit al in die deur en luister? Die ouer meisie kom nader en ignoreer Irma heeltemal terwyl sy na die koffiekan reik.
“Ek dink Jan is nog in die bad. Maar Carlyle sal nou hier wees. Ek kom nou net van hom af. Hy trek nog aan.”
Haar stem is gelykmatig, maar vlugtig gly haar blik oor Irma – en sy weet instinktief Emerit wou hê dat sy daardie stukkie inligting moes kry.
Anton het blykbaar ook iets agtergekom, want toe Irma omdraai om te gaan sit, sien sy dat sy oë berekenend op Emerit gerig is.
“Wat? Moes jy dan vir hom sy das knoop?”
Emerit lig haar kop en kyk hom reguit aan.
“Nee. Hy dra ’n oopnekhemp. Dis net dat ons omtrent die hele middag gesit en gesels het, terwyl julle ander geslaap het. Ek en Carlyle ken mekaar goed.”
“Werklik? Van wanneer af?”
Daar is iets spottends in sy vraag, en Emerit frons.
“’n Paar jaar al. Ons was eenkeer saam in dieselfde toneelgeselskap voordat ek model geword het.”
“Jy speel seker!”
’n Blos van woede trek oor haar gesig. “Wat is so snaaks daaraan?”
“Dit klink maar net vir my snaaks dat julle ons nie vertel het dat julle ou vriende is nie.”
Emerit glimlag en gaan ook sit.
“Niemand het gevra nie. Ek en Carlyle is nie eintlik as goeie vriende uitmekaar nie. Toe ons nou weer op die vliegtuig ontmoet, was ek nie seker hoe hy nog oor die saak voel nie. Daarom het ek stilgebly.”
“En nou?”
“Die ou kwessietjie is vergete en begrawe.”
Anton skud sy kop peinsend en vra dan glimlaggend: “Verskoon my as ek te persoonlik raak, Emerit, maar jy weet hoe skrywers is. Ons stel mos altyd in alles belang. Was die kwessietjie, soos jy dit noem, miskien ’n … e … rusietjie tussen twee verliefdes?”
Sy glimlag geheimsinnig.
“Wel, jy kan dit so noem as jy wil. Maar hier is Carlyle nou,” en sy draai na die deur wat oopgaan. “Vra hom self as jy my nie wil glo dat ons mekaar goed ken nie.”
Daar verskyn ’n frons tussen die ligte wenkbroue en sy blik flits vlugtig na Irma wie se aandag op hierdie oomblik in beslag geneem word deur die koppie wat sy versigtig in die piering terugsit. Dan stap hy na die ketel en antwoord effens bot oor sy skouer: “Ja, dis heeltemal waar. Ek en Emerit is ou vriende.”
“Nou ja, julle is nie die enigste twee wat ou kennisse is nie. Ek ken … e … Anton de Woud ook goed,” sê Jan wat ook intussen binnegekom het.
Anton lig sy kop vinnig op en kyk die ander met nougetrekte oë aan.
“Werklik?”
Dis of daar ’n waaksame toon in sy stem ingesluip het.
Jan skink eers sy koppie koffie klaar en draai dan om. Sy oë is stip op die man voor hom gerig.
“Ja, werklik. Jy ken my nie, maar ek ken jóú – redelik goed.” Dan glimlag hy breed. “Ek verslind jou boeke!”
“Dan ís hy ’n skrywer!”
Daar is byna openlike teleurstelling in Carlyle se stem en ’n lui glimlag verskyn om Anton se mond, maar sy oë bly op die onderwyser gerig.
“O ja, hy is ’n skrywer – onder meer,” antwoord Jan en lig sy koppie omhoog. “Aangesien ons gasheer so vriendelik was om my bottel brandewyn vir homself in te palm, sal ek maar met koffie ’n heildronk op jou instel, Anton. Ek sien uit na jou volgende boek, ou vriend. Dit behoort … baie interessant te wees!”
Anton staan op en buig galant terwyl hy laggend, maar met erns in sy stem sê: “Baie dankie, meneer. Dit sal … e … interessant wees.” Hy sit sy koppie neer. “Ek het my skuilnaam nog altyd so streng geheim gehou. Hoe het jy so skielik vasgestel wat dit is?”
“Ek het vanmiddag ’n bietjie gelê en dink. En toe, netnou in die bad …”
“O ja, ek begryp. Dus was dit maar ’n sprong in die duister.”
“Ja,” erken Jan laggend. “Ek het besluit om Carlyle se voorbeeld te volg. Ek was gelukkiger as hy. My sprong was in die kol!”
“Hm.”
Anton kyk na Carlyle, wat protesterend sê: “Ek is nie so seker dat my sprong nie iets opgelewer het nie.”
“Hm.”
Dis weer Anton wat dié niksseggende geluid uiter en sy gesig is weer eens onpeilbaar. Dan draai hy na Jan.
“Kom ons gaan stap ’n entjie, dan vertel ek jou van my nuwe boek. Hierdie keer sal dit ’n speurroman wees, of hoe dink jy?”
“Ja, ou vriend, dit sal moet.”
“Hm.” Hulle beweeg deur se kant toe. “Miskien kan jy my raad gee. Ek weet nie watter titel om die ding te gee nie.”
“Ja, wel. Dis ’n bietjie moeilik. Hoe klink: Liefde op die eiland?” stel Jan ernstig voor.
Anton gaan staan en skud sy kop skepties.
“Nee, dit klink nie reg nie. Die woord liefde is te algemeen en te vaag. Nee, ons moet die titel fokus op die hooffiguur in die verhaal.”
“En wie is dit?”
“Dis die man agter die skerms – die man wat nooit werklik in lewende lywe in die verhaal na vore kom nie.”
“Jy bedoel tog nie …”
“Juis. Ons gasheer. Ek dink ek sal dit noem: Die onsigbare gasheer van Drakeneiland.”
Dit is ’n oomblik stil. Dan ruk Irma soos sy skrik en gryp die armleunings van die stoel styf vas toe ’n harde gelag deur die vertrek weerklink. Ná ’n paar oomblikke hou die gelag skielik op.
Anton de Woud buig weer en met sy oë na die plafon gerig, sê hy beleef: “Baie dankie vir die toejuiging, meneer. Ek sal jou ’n getekende eksemplaar stuur sodra die boek verskyn.”
Hul gasheer se stem klink nog steeds vol lag toe hy antwoord: “Baie dankie, meneer De Woud. Ek sien daarna uit om dit te lees. Miskien … sal jy graag ook ’n eksemplaar wil hê van die boek waarmee ék besig is?”
“Ek twyfel, meneer. Ek sal daar niks van verstaan nie. Ek het geen wetenskaplike kennis nie.”
Stilte. Dan kom die stem sag, gedemp: “Ek begryp.”
’n Klikgeluid volg, en Anton maak die deur oop. Daar is geen spanning in sy houding te bespeur toe hy na buite loop nie, maar Jan Odendaal is eienaardig bleek terwyl hy die skrywer volg.
Emerit is self ook bleek toe sy na Carlyle draai.
“Carlyle, verstaan jy wat hier aangaan? Wat beteken dit alles?”
Carlyle kners op sy tande.
“Ek wens ek het die antwoorde op daardie vrae geken, Emerit. Maar vir my lyk dit na ’n gekspul van begin tot end. Wat dink jy daarvan, Irma?”
Irma staan op.
“Ek dink ons bevind ons in ’n situasie waarvan ons geen begrip van die omvang het nie.” Sy sit haar leë koppie op die tafel neer. “Verskoon my, asseblief.”
“Waarheen gaan jy?” vra Carlyle vinnig.
“Ek gaan vars lug soek. Aangesien julle sulke ou vriende is, het julle seker baie om vir mekaar te sê. Ek verdwyn maar liewer vroegtydig van die toneel voordat ek dalk later gevra word.” Sy glimlag liefies op in Carlyle se ontevrede gesig en knik vriendelik vir Emerit wat haar ietwat oorbluf aanstaar.
Die deur is nog nie behoorlik agter haar toe nie, of hy kyk verontwaardig na Emerit.
“Wat het jy oor ons twee kwytgeraak?”
“Net die waarheid.”
“Jy weet voor jou siel dis alles twak …”
“Dit hang af hoe jy dit beskou, my vriend. Ek ken vir Carlyle Faure. Daar was ’n verhouding tussen ons twee. Of sal jy kan bewys dat dit nie so was nie, Carlyle Faure?”
Sy lag hom openlik uit. Weer kners hy van skone magteloosheid op sy tande en bal sy vuiste.
“Jy weet so goed soos ek dat ek niks van jou en …”
“Suutjies!” Sy leun vinnig nader en praat digby sy oor. “Dink voordat jy praat, ou vriend, of het jy van ons alomteenwoordige gasheer vergeet?”
Carlyle gryp haar aan die arm en begin met haar deur toe stap. “Kom ons gee pad uit hierdie … vervloekte huis!” sê hy woedend, en Emerit volg gedwee met ’n oorwinnende lig in haar oë.
En ’n entjie verder waar die heining hulle keer, staan twee mans teenoor mekaar. Die ouer man vra merkbaar ontsteld: “Hemel, Anton, is dit die waarheid?”
“Ongelukkig, ja. Terwyl julle vanmiddag geslaap het, het ek ’n bietjie gaan verken. Ons gasheer was blykbaar onder die indruk dat ons almal veilig in ons kamers aan die slaap is ná die vermoeiende nag wat verby is. Niemand het my probeer keer nie en sover ek weet, het niemand my ook gewaar nie. Soos jy hiervandaan kan sien, is die venster aan hierdie kant in die toring taamlik hoog van die grond af. Miskien daarom dat ons gasheer dit veilig genoeg geag het om dit oop te laat staan. Maar ek het gelukkig daarin geslaag om net ’n oomblik oor die vensterbank te loer. Ek moes byna dadelik retireer toe ek voetstappe hoor. My moeite sou my nie veel gebaat het as ek toe betrap moes word nie …”
“En toe sien jy dit?”
Jan vee met ’n groot sakdoek die sweet van sy voorkop af. Anton knik.
“Ja. Toe sien ek dit …” Hy kyk die ander man reguit aan, en sy oë is donkergrys van erns agter die bril. “Ek ken gevaar, Jan, maar …”
“Maar wat, Anton?”
Dit klink amper asof Jan bang is om die antwoord te hoor maar homself tog nie kan keer om die vraag te stel nie.
“Wat ek daarbinne gesien het en wat ek daaruit kon aflei, het my yskoud laat word …”