Читать книгу Ena Murray Keur 8 - Ena Murray - Страница 5
2
ОглавлениеMeteens maak die bosse voor hulle oop. Hulle kom gelyktydig tot stilstand en staar woordeloos na die ou huis voor hulle. Dis ’n groot huis, outyds, en aan die een kant is daar ’n deel wat hoër as die res geleë is en soos ’n toring vertoon. Reg voor hulle loop ’n hoë doringdraadheining wat blykbaar die hele gebou omsirkel. Dis meer as twee meter hoog. Twee swaar ysterhekke verleen toegang tot die terrein rondom die huis.
“Hemel! Dit lyk na ’n konsentrasiekamp!” merk Jan Odendaal op en hulle kyk vinnig, onseker na mekaar.
Dis net Anton de Woud wat geen teken van onrus openbaar nie en blykbaar sonder veel belangstelling na die hoë draadomheining kyk. Daar is selfs ’n fyn glimlaggie om sy lippe – maar Irma, wat die naaste aan hom staan, merk op dat sy oë, agter half geslote ooglede, wakker glinster. Sy skenk nie verder aandag aan hom nie. Daarvoor is haar eie gedagtes te ontstellend. En toe sy na Emerit kyk, ontmoet hul blik en lees sy in die ouer meisie se oë dieselfde onrus as wat so skielik in haar hart posgevat het. Dan dwaal haar blik na Carlyle Faure wat ook ongemaklik staan en rondtrap. Jan Odendaal staan doodstil. Hierdie keer is daar geen teken van sy goedige glimlag te bespeur nie. Sy oë is ernstig, peinsend, terwyl hy na die ou huis staar. Dan kyk Irma weer vinnig na die man langs haar. Sy oë is stip op ’n venster in die “toring” gerig. En toe sy vinnig haar kop in daardie rigting draai, kan sy sweer dat sy ’n gordyn voor een van die vensters sien beweeg het, asof iemand dit haastig toegetrek het nadat hy of sy vir hulle gestaan en loer het.
Irma knip vinnig haar oë en kyk dan weer stip na die venster. Nou hang die gordyne egter roerloos. Was dit nie miskien maar haar verbeelding nie? Terwyl sy nog staan en twyfel, hoor sy Emerit uitroep. Sy kyk in die rigting waarheen almal staar – en haar oë rek verbaas.
Die hekke is stadig besig om oop te swaai, sonder dat die swart man enigsins daaraan geraak het. Dis asof ’n spookhand hulle ooptrek, dink Irma en vererg haar vir haarself. Hekke wat outomaties beheer word, is tog deesdae baie algemeen. Spookhand, voorwaar! Tog staar al vyf woordeloos daarna asof hulle so iets die eerste keer sien. Dis of die stilte meteens verstikkend om hulle hang. Die swart man staan geduldig en wag dat hulle moet deurstap, maar dis of almal onwillig is om verder te gaan. Dis Anton de Woud wat eerste beweeg, en toe volg die res. Asof op ’n bevel draai hulle om toe hulle deur is en sien hoe die hekke weer stadig toeswaai totdat hulle dig teen mekaar sluit.
Toe Jan omdraai, sê hy ernstig terwyl hy met sy kop na agter knik: “Ek hou nie veel hiervan nie. Sal dit nou beteken dat ons ’n volle maand hier afgesonder gaan wees?”
“Dit wil so voorkom,” merk Anton droog op en draai dan in die rigting van die huis. “Kom ons stap aan.”
“Ek weet nie of ek nog soveel in daardie spul geld belangstel nie,” laat Emerit hoor, en Carlyle beaam: “Ja. Dit lyk my alles is nie so danig pluis as wat dit eers voorgekom het nie.”
Anton draai sy kop na Irma en kyk op haar fynbesnede gesiggie af. “Wat dink jy hiervan?”
Haar ooglede fladder verward. “Ek … weet nie. Ek … voel bang,” erken sy openlik, terwyl haar oë op die somber ou huis voor hulle rus.
“Toemaar. Ons is darem drie fris mans wat julle twee kan beskerm as dit nodig is,” antwoord Jan gerusstellend en probeer glimlag. “Julle weet, miskien is daar ’n heeltemal logiese verklaring vir al hierdie op die oog af geheimsinnige dinge. Dalk jaag ons onnodig spoke op. Komaan, laat ons aanstap dat ons sien wat daar by die huis aangaan.”
Hy voeg ook sommer dadelik die daad by die woord en die ander volg hom gedwee. Maar toe hulle die voordeur bereik en niemand op sy klop die deur oopmaak nie, kyk hy onseker oor sy skouer terug na die ander wat nog steeds woordeloos agter hom staan.
“Wel, dis nou weer ’n ander soort verwelkoming hierdie. Wat nou?”
Anton tree nader, en sy mond is grimmig terwyl hy om hom na die swart man soek – maar dié het spoorloos verdwyn.
“Ons is nie ongenooide gaste nie. Laat ons binnegaan,” sê hy dan, draai die deur oop en stap sonder huiwering binne. Die ander staan nog ’n oomblik besluiteloos en volg dan versigtig.
Hulle tree ’n groot vertrek binne, en Irma laat haar blik om haar dwaal. In die een muur is ’n kaggel ingebou. Hoewel die meubels in die vertrek nie van die modernste is nie, is alles onberispelik netjies. Daar staan ’n paar leunstoele met leerbekleedsel rond en eenkant is ’n groot tafel met ses stoele daarom gerangskik. Hoewel dit glad nie koud is nie, ril Irma onwillekeurig. Daar kleef ’n somberheid en swaarmoedigheid aan alles, en dit voel vir haar asof selfs die lewelose meubels hulle met dooie, vyandige oë aanstaar, asof hulle indringers is.
Die stilte duur voort. Geen enkele geluidjie bereik hul ore vanuit die res van die huis nie, en Irma wens dat daar liewer enigiets moet gebeur net om die swanger stilte te verbreek. Maar niemand praat nie. Niemand het ook tot dusver gaan sit nie. Elkeen staar om hom of haar rond, asof hy of sy nie presies weet wat om te doen nie.
En dan wip hulle soos hulle skrik.
“Goeiemôre, dames en here. Welkom op Drakeneiland.”
Die stem vul die hele vertrek. Dit klink vir Irma asof dit uit al vier hoeke van die vertrek gelyktydig kom. Sy kyk soekend om haar rond. Tot haar verbasing sien sy dat daar niemand by een van die deure ingekom het nie. Dis nog net hulle vyf wat in die middel van die vertrek saambondel. Dan vul die stem weer die lugruim om hulle.
“Neem asseblief plaas sodat ek julle jul opdragte kan gee.” Vreesbevange soek Irma se oë na die luidspreker maar nêrens kan sy so iets gewaar nie. Sy sak met bewende knieë in die naaste stoel neer. Die ander gehoorsaam ook werktuiglik en toe almal sit, vervolg die stem: “Indien julle die bevele gehoorsaam, behoort julle die tydjie op Drakeneiland te geniet. Maar indien julle nie van plan is om te gehoorsaam nie, sal ek julle aanraai om weer oor die saak te dink. Dit kan, vir julle sowel as vir my, baie onaangenaamheid bespaar.”
Die stem huiwer ’n oomblik en gaan dan voort: “Ten eerste mag julle geen poging aanwend om te ontsnap nie. Julle het vrye beweging op die omringende terrein tot by die draad, asook deur die hele huis, afgesien van die toring. Julle sal na my beste vermoë versorg word, maar tevrede moet wees om van die buitewêreld afgesny te wees. Julle kan julle vermaak soos julle verkies, natuurlik binne perke. Indien van julle miskien sterk drank saamgebring het, versoek ek julle om dit dadelik, sodra julle bagasie ingebring is, aan een van die swart mans te oorhandig. Die gebruik van sterk drank word ten strengste verbied. Julle moet ook alle sigarette – of as iemand dalk pyp rook, al die tabak in jou besit – op die tafel neersit. Julle sal ’n redelike voorraad vir elke dag ontvang, maar dit mag nie in oormaat gebruik word nie. Is daar van julle wat die een of ander mediese preparaat in watter vorm ook al, hetsy vloeistof, poeier, salf of pille, gebruik? Sit dit dan ook op die tafel neer.”
Die stem verstil ’n oomblik en Irma kyk verward om haar rond. Sou dit as ’n grap bedoel wees, of is die man werklik ernstig? Maar daar was niks in die onbekende stem wat enigsins verraai het dat hy gekskeer nie. Inteendeel. Daar was ’n ondertoon van dodelike erns in elke woord.
Dan kom die stem weer: “Soos julle seker reeds opgemerk het, is die swart man wat julle hierheen vervoer het, stom. So is ook die twee ander huiswerkers, dus sal dit julle geensins baat om iets by hulle te probeer uitvis nie. Terloops, hulle kan ook nie lees of skryf nie.”
’n Sagte, geamuseerde laggie klink op.
“Nou ja, dames en here, ek wil julle weer eens baie welkom heet op Drakeneiland. Julle sal nie kan dink hóé bly ek is om julle hier te sien nie.” Weer die sagte laggie. Die klank daarvan stuur onverklaarbaar ’n koue rilling deur Irma.
“Ek het my nog nie aan julle voorgestel nie. Julle wonder seker wie ek is. My naam is egter van geen belang nie. Ek sal my dus net voorstel as jul gasheer.” Hierdie keer is die gelag harder, spottend. “Ja, ek is jul onsigbare gasheer van Drakeneiland!” Hulle kan duidelik die klikgeluid hoor toe die man die luidspreker afskakel.
Dis Carlyle wat dit waag om eerste te praat.
“Die man is mal. Wat gaan met hom aan? Wat is die bedoeling van al hierdie … e … hierdie kaf van niks drank en sigarette en al die ander dinge? As hy miskien dink …”
“Ja? En wat gaan jy daaromtrent doen?”
Daar is ’n sarkastiese glimlag op Anton se lippe en Carlyle vervolg heftig: “Wel, as hy dink dat hy my hier kan kom staan en hiet en gebied! Ek is hiernatoe genooi vir ’n vakansie, nie om in ’n tronk opgesluit te word nie!”
Anton se gelaat raak ernstig, sy oë afgetrokke.
“Wat kan jy doen, my liewe man? Die hekke word outomaties beheer …”
“Daar is nog altyd die draad,” hou die blonde Romeo vol, maar Jan val hom ietwat vererg in die rede: “Nee, Carlyle, dis hopeloos. Jy kan maar vergeet van die draad – of het jy nie gesien dat dit doringdraad is en boonop oor die twee meter hoog nie? En al sou jy ook daar kon oorkom, twyfel ek of jy toegelaat sal word om veel verder as ’n paar treë te vorder.”
“Wie sal my keer? Ek sal, wie dit ook al mag wees, met my vuiste …”
“Daarvan kan jy ook vergeet,” val Anton hom weer in die rede. “Jy moenie dink jy is nou met ’n paar van jou popspeelgewiggies deurmekaar nie, ou vriend. Hier het jy met ’n meesterbrein te doen – ’n baie vernuftige maar gevaarlike brein, sal ek sê. Jy sal hom nie met liggaamlike krag kan oorwin nie, al is jy ook hoe sterk. Nee, ek dink ons kan maar vergeet van …”
“Maar, in hemelsnaam, wie sê vir julle dis nie maar net ’n grap nie? Wie sê die ou man het nie maar net ’n verdraaide humorsin nie? Sy optrede tot dusver was tog baie eksentriek. ’n Mens kan nog vreemder dinge van hom verwag. Julle neem nou sommer aan die man wil ons … e … kwaad aandoen,” begin Emerit heftig protesteer, maar haar stem klink nie oortuigend nie, en die senuagtige bewegings van haar hande weerspreek haar woorde.
Anton kyk haar reguit aan.
“Wel, juffrou, oftewel Emerit, as al hierdie moeite gedoen is, soos die draadomheining, die ysterhekke en die luidspreker, net omdat ons gasheer ’n verdraaide humorsin het en eksentriek is, soos jy hom noem, verkies ek om soos Carlyle die eksentriek in waansinnig te verander – en ek het nog nooit veel liefde vir waansinnige mense gehad nie. Sulke mense is meestal ook gevaarlik. Ek hou geensins van die idee dat ek deur ’n kranksinnige mens vir die grap, as jou veronderstelling reg is, gevange gehou word nie. Hoe kan ek weet wanneer die grap gaan ophou en erns begin?”
Hy swyg. Emerit laat haar oë voor sy deurdringende blik sak. Irma kry eindelik haar tong terug en sy probeer nie om haar vrese te verberg nie.
“Maar wat sal sy bedoelings wees? Hoekom sal hy ons hier gevange hou? Wat wil hy met ons maak?”
“Dis vrae waarop ons seker later antwoorde sal kry. Intussen, dink ek, moet ons ons maar verbeel dis ’n grap, soos Emerit gesê het, ter wille van ons senuwees,” en hy kyk beurtelings na die twee meisies.
Jan Odendaal reageer dadelik op sy voorstel en spring op terwyl hy sy sakke begin uitdop.
“Ek pleit onskuldig, vriendelike gasheer. Nie ’n enkele sigaret aan my hele liggaam nie. Komaan, Carlyle. Dop uit jou sakke,” beveel hy, maar die jong man kyk hom nors aan.
“Dis verspot. Ek sal dit nie doen nie,” sê hy beslis.
“Maar, Carlyle, jy moet,” begin Emerit hom oorreed, maar as antwoord steek hy ongeërg ’n sigaret aan en blaas rookkringetjies voor hom uit. Dan glimlag hy oorwinnend.
“Sien? Niks gebeur nie! Hemel, Irma, dit lyk of jy verwag het dat ek met die eerste teug dood sou neerslaan!”
Irma is te ontsteld om hom te antwoord. Anton staan stadig op en lê dan gehoorsaam sy pak sigarette op die tafelblad neer. Sy draai beskuldigende oë na Carlyle.
“Nee, maar miskien sal dit beter wees as jy tog maar gehoorsaam – al is dit dan ook net om onaangenaamheid te vermy.”
Maar Carlyle wil nie kopgee nie en hulle laat hom maar begaan.
’n Oomblik later kom ’n swart man binne en begin die tafel vir ontbyt dek. Hulle praat nie solank hy in die vertrek is nie. Toe hy egter die spek en eiers inbring, spring Jan op.
“Darem een ding waaroor ons nie bevrees hoef te wees nie. Ons sal nie honger ly nie.”
Almal neem plaas en terwyl hulle eet, heers daar stilte. Irma blik na die een leë stoel aan die bopunt van die tafel en merk op: “Ek wonder hoekom is hier ’n ekstra stoel.”
“Dis vir ons onsigbare gasheer. As jy jou verbeelding ’n bietjie inspan, sal jy hom duidelik daar sien sit,” antwoord Carlyle tergend.
“Moenie, Carlyle! Jy gee my die skone bewerasie!” sê Emerit vinnig en Jan kyk hom verwytend aan.
“Moenie kaf praat nie, man!”
Carlyle glimlag vermakerig. “Dit lyk my jou senuwees is ook nie van die beste nie. Is jy dan ook bang?”
Jan raak rooi maar Anton kom vinnig tussenbeide.
“Miskien sal dit goed wees as jy ook ’n bietjie bang is. Dis raadsaam om jou vyand liewer te oorskat as te onderskat.”
Carlyle lag minagtend.
“Julle skrywers se verbeelding hardloop gewoonlik met julle weg. Hoe kan jy die man wat vir ons elkeen so ’n reusebedrag present gaan gee as ’n vyand bestempel?”
Maar Anton stel blykbaar nie belang om met die jong man te redekawel nie en staan op.
Skielik hoor hulle weer die zoemgeluid van die luidspreker en dan vul hul gasheer se stem die vertrek.
“Ek is bly om te sien dat julle gesond eet. Julle sal nou na jul slaapkamers geneem word. Aangesien meneer Faure onwillig is om sy sigarette te oorhandig, was ek verplig om jul bagasie te visenteer en op alle drank en sigarette beslag te lê. Meneer De Woud, jy mag jou sigarette op die tafel terugneem. Dit behoort genoeg te wees vir drie dae. Meneer Faure, die sigarette by jou is al wat jy vir die res van jou verblyf hier gaan kry. Ek is jammer dat ek tot sulke uiterstes moet gaan, maar dit sal julle miskien almal laat besef dat ek ernstig is en verwag dat my bevele stiptelik uitgevoer word. Meneer Odendaal, die bottel brandewyn in jou tas het ek ook geneem. Jy sal dit terugkry wanneer jy hiervandaan vertrek. Jy sal op jou bedkassie jou pyp en ’n voorraad tabak aantref. Dit behoort genoeg vir ’n week te wees. Wel, dames en here, julle mag nou na jul kamers gaan om uit te pak. Daarna kan julle die res van die dag deurbring soos julle wil. Middagete is om eenuur en aandete om sesuur. Ek moet julle versoek om die huis nie weer ná aandete te verlaat nie, en julle moet stiptelik om tienuur na jul slaapkamers gaan. Goeiemôre.”
Carlyle se gesig lyk soos ’n donderwolk.
“In my lewe het ek nog nie van sulke voorbarigheid gehoor nie. Sou die man …?”
“Ek dink dit sal jou loon om jou woorde te tel, meneer Faure,” val Anton hom ernstig in die rede en Irma merk op dat sy stem gedemp is. Sy blik dwaal van die een na die ander. “Dis duidelik dat ons gasheer elke woord afluister wat ons praat. Ek dink ons moet van nou af baie sag praat, verkieslik in ’n fluistertoon.”
“Miskien sal dit beter wees as ons nie hier binne van ons gasheer praat nie – en as daar iets is wat ons oor hom wil sê, dit liewer buite te doen?” vra Irma en bloos toe Anton haar goedkeurend aankyk.
“Ek dink dis ’n puik gedagte. Hoe voel julle ander daaromtrent?”
“Ek dink dis geklik!” uiter Carlyle sy mening hardop.
Emerit vervolg op sagte toon: “Ons kan dit doen, maar dit lyk so verspot! Ek bedoel …” Sy gooi haar hande in die lug. “Hier het tog eintlik tot dusver nog niks ernstigs gebeur nie. Die oubaas het nou wel eienaardige versoeke maar …” Sy swyg asof sy nie daarin kan slaag om haar gedagtes in woorde uit te druk nie, en Jan knik begrypend. “Ek verstaan hoe jy voel. Miskien maak ons nou ’n berg van ’n molshoop. Tog voel ek ons moet Anton se voorstel aanvaar. Indien dit later blyk dat dit heeltemal onnodig was, kan ons heerlik daaroor lag. Maar intussen, solank ons nie weet wat aangaan nie, kan ons maar net sowel versigtig wees. Ons het niks om te verloor nie.”
“Ja, dis hoe ek ook oor die saak voel,” sê Anton en kyk hulle beurtelings aan. “My houding kom dalk vir julle baie kinderagtig voor, maar ek het nog altyd ’n aanvoeling vir sekere dinge gehad – veral vir gevaar. Ek wil die meisies nie op hol jaag nie, maar ek voel dis my plig om julle te waarsku. Hier is iets nie pluis nie. Ek kan dit aanvoel …”
Carlyle snork minagtend.
“Dis alles jou verbeelding, man. Jy wil net ’n lekker tema vir ’n nuwe storie opkook en nou werk jy op ons senuwees.”
Sy toon is heeltemal beledigend, en Irma kyk hom gesteurd en ook verbaas aan. Sy onverklaarbare vyandigheid teenoor Anton hinder haar. Sy kan dit doodeenvoudig nie begryp nie. Hulle het mekaar pas ’n paar uur gelede die eerste keer ontmoet. Tog is dit duidelik dat die twee glad nie langs een vuur sit nie.
Anton kyk hom ’n oomblik stil aan. Toe hy eindelik ’n sigaret neem en aansteek, sien Irma sy hand bewe liggies. Sy stem, hoewel nog steeds op fluistertoon, is skerp en koud toe hy antwoord: “Niemand dwing jou om my voorgevoel te aanvaar nie, meneer Faure. Ek rig nie my waarskuwing aan julle tot beswil van jou nie. Ek het aan die twee meisies gedink.” Hy kyk na die blonde reus deur ’n sluier van sigaretrook. “Jy het jou reeds een keer teen ons onsigbare gasheer vasgeloop. Dis jou saak as jy dit weer wil doen. Maar ek gaan nie toelaat dat jou onverskillige houding Irma en Emerit in gevaar stel nie.”
“Gevaar? Is jy gek, man? Van watse gevaar praat jy? Dis belaglik!”
“Goed. Ek erken dat dit op die oomblik baie kinderagtig klink. Maar die tyd sal ons wel leer of dit werklik so kinderagtig is.”
Carlyle staan op en sê vererg: “Doen wat julle wil, maar ek gaan nie soos ’n mal mens ’n hele maand lank fluister en op my tone rondsluip nie, en dit terwyl daar geen rede voor is nie.” Hy draai sy rug na Anton as teken dat hy hom nie langer met sulke verspottighede gaan ophou nie en vra: “Waar sou ons kamers wees?”
“Daar is ’n klokkie langs die muur. Miskien is dit om ’n huiswerker te ontbied,” merk Jan op en Carlyle druk die knoppie.
Byna dadelik gaan die deur oop en ’n swart man verskyn. “Waar is ons kamers?” vra Carlyle en die ander vier staan ook op toe hy sy kop knik en omdraai.
Hy lei hulle ’n lang gang af waaruit verskillende deure na weerskante lei. Jan, Emerit en Carlyle is aan die een kant van die gang en Anton en Irma se kamers is regoor hulle.
Toe Irma in haar kamer kom, sien sy dat haar bagasie alles op die bed uitgepak is soos dit deur hul gasheer deursoek is. Sy bloos van verontwaardiging toe sy merk dat selfs haar persoonlike besittings en onderklere ook deurgeloop het. Die jong meisie besef egter dat dit nie sal help om haar daaroor te vererg nie.
Meteens dring die volle besef van hul magteloosheid tot haar deur. Hierdie … gasheer het hulle in die holte van sy hand. En op hierdie oomblik is sy geneig om ten volle met Anton de Woud saam te stem dat al hierdie dinge nie net vir die grap is nie; dat daar iets agter hierdie vreemde, uiters bisarre optrede skuil – iets gevaarliks.
Sy gaan staan voor die venster en laat haar blik oor die omringende landskap dwaal. Haar kamer is aan die bopunt van die gebou, en hiervandaan kan sy die kronkelende, blink streep van die Oranjerivier sien. Die eiland is baie bosagtig, en sy gewaar heelwat kokerbome, asook ’n paar kameeldoringbome.
Hier, ’n paar honderd treë voor haar, blink die hoë doringdraadomheining en die onbeweegbare swaar ysterhekke in die vroeë môreson. Die grond is gelyk en skoongemaak van die voordeur af tot by die hekke. Verder is daar nie veel te sien nie. Die gedagte dat sy hier ’n volle maand lank soos ’n gevangene opgesluit is, aan die genade oorgelaat van ’n man wat blykbaar nie by sy volle verstand is nie, laat haar handpalms meteens klam raak.
Wat haar die meeste hinder, is die vreeslike geheimsinnigheid wat alles omgewe en aan alles kleef. Die huiswerkers wat al drie stom is, en nie kan lees of skryf nie. Is dit blote toeval of steek daar iets agter? Die hare rys agter in haar nek. Die hoë doringdraad wat ongetwyfeld net een doel kan dien – om wat binne is, binne te hou. Die hekke wat, soos sy vermoed, uit die toring beheer word; hekke wat net deur een mens op die eiland oop- en toegemaak kan word – deur die onsigbare gasheer. Die beslaglegging en rantsoenering van sigarette, drank en geneesmiddels of medisyne. Die stem oor die luidspreker en die tydsbepaling wanneer hulle na hul kamers moet gaan.
Eintlik klink dit na ’n kinderagtige en baie swak drama, belaglik as ’n mens die paar feite op jou vingers aftik. Maar toe Irma eindelik terugdraai na haar deurmekaar gebondelde klere op die bed om dit op te hang en weg te pak, is haar hande nog steeds koud, en klop haar hart swaar en onrustig diep binne-in haar.
Sy ruk soos sy skrik toe daar skielik aan haar kamerdeur geklop word. Haar oë is bang toe sy haar eindelik sover kry om dit oop te maak. Dis Anton wat voor haar staan en haar ondersoekend aankyk. Sonder om op haar uitnodiging te wag stap hy binne en druk die deur agter hom toe. Sy oë is speurend toe hy na haar afkyk. “Wat is dit, Irma? Hoekom het jy so bang gelyk toe jy die deur oopmaak? Het daar iets gebeur?”
Sy draai vinnig van hom af weg en staar deur die venster toe sy antwoord: “Ek …” Sy sluk. “Dis seker vreeslik lafhartig van my, Anton, maar … maar ek moet eerlik erken dat hierdie plek my koue rillings gee. Ek kan dit net nie help nie …”
Haar stem sterf weg, asof sy skaam voel oor die onverklaarbare vrees wat haar beetgepak het van die eerste oomblik dat hulle voet aan wal op Drakeneiland gesit het. Sy hoor Anton nader stap en wag op sy reaksie. Sy stem klink kort agter haar op.
“Ja, daar is baie dinge wat my ook hinder, maar daar is iets anders wat my op hierdie oomblik meer hinder as al hierdie ander dinge saam.”
Sy draai om en kyk vraend na hom op. “Iets anders? Wat is dit?”
Hy lê sy hande op haar skouers en skielik boor sy staalgrys oë in hare.
“Die rede hoekom jy na hierdie eiland gekom het,” antwoord hy en haar oë rek verbaas.
“Maar … maar om dieselfde rede as wat jý hierheen gekom het, natuurlik.”
“Wat is die rede? Noem dit.”
Sy roer ongemaklik onder sy hande en begin bloos.
“Om daardie spul geld te kry, veronderstel ek. Jy weet dit tog self.”
Hy antwoord nie dadelik nie. ’n Oomblik lank verdof sy oë net onleesbaar, en flits daar oor sy gesig ’n trek wat amper as teleurstelling beskryf kan word. Sy hande val van haar skouers af en hy sê gedemp: “Jy ook! Jan Odendaal het hierheen gekom sodat hy met die beloofde bedrag geld ’n hoenderplasie kan koop, Carlyle Faure weer om vir hom die vinnigste renmotor in die land aan te skaf, en Emerit de Jager om oorsee te gaan reis en mooi klere te koop. Ek het gehoop …” Hy swyg skielik en sug.
Irma kyk hom stomverbaas aan. Wat maak dit aan hom saak om watter rede die ander hierheen gekom het? Sy kyk verward op haar hande af.
“Maar … maar, Anton, ek verstaan nie …”
Sy oë is peinsend op haar gerig.
“Tref die selfsugtigheid van hul redes jou nie? En nou jy ook! Jy was bereid om so ’n groot waagstuk aan te gaan, jou eie lewe in gevaar te stel net om ’n paar miserabele miljoen in die hande te kry. Of kan jy ontken dat jy van die begin af gevoel het dat daar iets haper?”
“Nee. Ek kan nie. Ek het deurgaans die gevoel gehad dat hier êrens ’n groot skroef los is,” en sy kyk hom vas in die oë, “maar ek het dit gewaag …”
“Ter wille van geld, ja!”
Haar oë begin ook nou blits. “En jy is ’n mooi een om ons ander se beweegredes te kritiseer! Om watter rede het jý die uitnodiging aanvaar – vir die verandering van lug?” vra sy sarkasties. Hy antwoord haar nie dadelik nie, en sy laat weer uitdagend hoor: “Of is Carlyle reg en het jy hierheen gekom om ’n tema vir ’n storietjie te kry? Wat het jy gehoop? Dat ek moes sê ek het vir my gesondheid hierheen gekom?”
“Ek weet self nie wat ek gehoop het nie.” Hy sug en steek sy gebalde vuiste in sy broeksakke. “Ek wou net nie graag hoor dat jy so geldhonger is dat jy selfs jou lewe daarvoor in gevaar sou stel nie.”
Sy lag effens bitter. Hoewel sy uiterlik kalm probeer voorkom, bewe haar hande waar hulle agter haar rug inmekaargestrengel is.
“Gevaar? Werklik, Anton, ek dink jy gaan nou te ver. Ek erken dat hier iets nie pluis is nie, maar ek dink darem nie ons lewens is in gevaar nie!”
“So?” Hy kry weer haar skouers beet. “Jy bedoel seker jy hoop maar so. Hoekom was jou oë dan netnou vol vrees toe jy die deur oopgemaak het?” Hy laat sy hande vinnig langs haar arms afgly, en sy voel sy sterk vingers om hare vou. “En hoekom bewe jou hande so? Irma …”
Hy laat sy kop effens sak om op haar gesiggie af te kyk, en sy oë wat so naby aan hare is, verdonker van erns.
“Irma, jy moet asseblief versigtig wees. En as daar enigiets gebeur, enigiets, hoe gering ook al, skree so hard as wat jy kan. Ook as jy iets opmerk wat enigsins verdag voorkom, laat my dadelik daarvan weet. Belowe jy?”
“Goed, Anton, ek belowe,” en hy kan sien dat sy nie werklik ernstig is nie, “maar ek kan nie help om te voel dat jy verniet so onrustig is nie. Daar het tog nog niks gebeur nie!” herhaal sy Emerit se woorde van ’n paar minute gelede.
Sy kyk in sy oë op en glimlag gerusstellend, terwyl sy wonder of dit nie maar net sy skrywersverbeelding is wat vir hom dinge optower wat nie werklik bestaan nie. Miskien is almal se senuwees maar ’n bietjie op hol en sal hulle môre, ná ’n goeie nagrus, skaam voel dat hul verbeelding vandag so die oorhand oor hulle gekry het.
Maar pleks daarvan dat haar gerusstellende woorde hom kalmeer, voel sy hoe hy verstyf en sy sien dat hy woedend is.
“Goed, Irma, jy dink dis my verbeelding. Ek wou jou dit nie wys nie, omdat ek jou nie graag wil ontstel nie. Maar kom kyk hier.”
Hy neem haar aan die hand en trek haar na die deur. Met een beweging ruk hy dit oop en wys met sy vinger.
“Sien jy wat ek sien? Kyk daar! Glo jy nog dat dit my verbeelding is, of kan jy ’n redelike, alledaagse verklaring daarvoor gee?” Hy wink met sy hand die gang af terwyl hy vervolg: “Daar is nog iets wat ek jou wil wys. Miskien sal dit jou nog meer oortuig dat ek reg is as ek sê dat ons ons sterre sal kan dank indien ons ooit weer lewend van hierdie eiland af wegkom!”