Читать книгу Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein! - Etienne Leroux - Страница 10
4
ОглавлениеDit word nou sterk sononder – die naaste aan die Engelse twilight wat lord Sudden ken. Op die westelike horison speel die Afrikaanse son sy vulkaniese spel met stof en wolke en transformeer die gesigseinder tot ’n magtige skouspel van helrooi. Dit sal binnekort skielik donker word, maar dit kan nie van lord Sudden verwag word om bewus te wees van die kitsveranderings wat eie aan Afrika is nie. Lord Sudden is omring deur almal wat aan die projek deelneem, en hulle vorm ’n interessante tafereel want hulle is, op bevel van lord Sudden, met die toestemming van lord Seldom, geklee volgens die styl van die einde van die vorige eeu. Almal behoort hulle in die projek in te leef (lord Sudden). Elke lid van die projek was verplig om die boek van Rayne Kruger, Goodbye, Dolly Gray, te lees, en op grond daarvan is streng om die helfte die mans en vrouens Victoriaans Boers en Engels geklee. Een helfte van die mans in Skotse rokke van die puik regimente, met kakievoorskote; hangsnorre wat toevallig ooreenstem met die hedendaagse mode; die ander helfte van die mans geklee in pluiskeil en swaelstert, asook uniforms van die staatsartillerie, half-Duits, en in jagtersgewaad, elkeen met ’n pyp en ’n lang baard – wat ook ’n ontstellende ooreenkoms toon met Castro se Kubaanse rebelvoorkomste.
Die vrouens lyk min of meer eenders, behalwe dat die vrouens aan Boerekant kappies dra in plaas van bonnets. Die vrouens, bestaande uit die skoonheidskoninginne van die verskeie provinsies, aangevul deur aktrises van Sukovs, Truk, Naruk, Kruik (wat in aantreklikheid vergoed vir gebrek aan beeldskoonheid), suggereer seks met ’n flits van ’n enkel en emosie met uitpeulende boesems.
Terwyl televisiekameras rol en rolprentkameras versigtig ingestel word, leun Gert Garries met ’n hoek van vyf-en-veertig grade teen sy fiets. Die Cadillac het hom dronkgeslaan. In ’n gesprek met Le Grange het hy verneem dat dit ’n optog van Ministers en Adjunkte is en hy is van voorneme om minstens ’n Minister te spreek voordat hy aan die alternatief dink. Hy sien hoedat die swart chauffeur uit die Cadillac ’n koelsak te voorskyn haal en glasies met whisky en ys vul en aan die drie belangrike mense aanbied. Hy hoor die name: lord Seldom, lord Sudden en Amicus Achtung. Hy bewaar hierdie inligting vir verdere beplanning, en dan stoot hy sy fiets nader aan die swart chauffeur wat hom met kwalik bedekte meerderwaardigheid die saluut van Swart Afrika gee. “What’s in your bag, man?” vra die swart chauffeur. “It is the corpse of my child, man,” sê Gert Garries. “Cool, man, cool, man!” sê die swart chauffeur, en hy deel die orige whisky uit die koelsak saam met Gert Garries.
Lord Sudden, teen die agtergrond van die groen Provinsiale kennisgewing waarop die naam MAGERSFONTEIN aangedui is, is besig om die projekgangers toe te spreek. Dr. Wittenblank is aan sy sy. Hulle kyk bysiende in die rigting van Ritchie, met hulle rûe na Magersfontein.
“Regardez, Magersfontein!” sê lord Sudden.
“Jesus Christ!” fluister Marigold Rosemary hoorbaar.
“Regardez, Magersfontein!” herhaal lord Sudden, en dan draai hy om en kyk na die kennisgewing, en toe in die rigting van die nuwe stasie, Modderrivier.
“Vide, Modderrivierstasie,” sê hy.
“Dis die verkeerde stasie,” fluister dr. F. Laird vir die jongman langs haar. “Die regte stasie is ’n myl verder by die Royal Hotel.”
“Oxford G. von Waltzleben,” sê die jongman trots. “Teksskrywer.”
Hulle bekyk mekaar terwyl lord Sudden sy toespraak hou en terwyl die Griek, Pompidous, die Cadillac inspekteer en tot die groot ontsteltenis van die swart chauffeur agter die stuur inklim en aan die vele instrumente op die paneelbord begin vroetel.
“’n Tragikomiese situasie,” sê lord Sudden. “Wat sal ons benadering wees?” Hy keer hom in die rigting van Kimberley, die diamantstad. “Sal dit die geloian wees, die spottende kritiese lag van die satiriese rede?” Hy wend hom in die rigting van Kuruman. “Of sal dit die spoudaion wees, die didaktiese en morele funksie van die komedie?”
Lord Sudden swaai om met dramatiese handgebaar en hef sy arms op, onwillekeurig in die rigting van die verre Magersfontein, met die kruise, wat hy nie kan sien nie.
“Sal dit ’n samestelling wees? ’n Samevoeging van die tragiese waarheid, met ’n glimlag vir die ironiese grap – ’n samevatting van die teenoorgesteldes …?”
Hy wend hom tot die spoorlyn wat suid beweeg.
“Of sal dit ’n alternatief van erns en luim wees, die teenoorgesteldes wat slegs beurtelings saamgebring kan word?”
Hy kyk na Mejuffrouens Skoonheid wat nog steeds ’n elegante piramide teen die kennisgewingbord MAGERSFONTEIN vorm.
“Ek laat die beslissing aan u oor,” sê lord Sudden, en hy stel lord Seldom onder luide toejuiging aan die woord. Lord Seldom kom misleidend skaam op die voorgrond. In voorkomste toon hy ’n ooreenkoms met Valéry Giscard d’Estaing, Alec Douglas-Home, en, eienaardig genoeg, met genl. Wauchope.
“Hy lyk na generaal Wauchope,” sê dr. F. Laird opgewonde vir Oxford G. von Waltzleben.
“Aries,” sê Oxford. “Met ’n klappie weg van Keltiese wangbene. ’n Interessante skedel.”
Lord Seldom kyk na Magersfontein in die verte. Die skipvormige reeks koppies troon oor die vlaktes en teen die ondergaande son word hulle meteens blou en sal enige oomblik skielik verdwyn. Dis tipies van Suid-Afrika. Lord Seldom kyk na die koppies en hy giggel selfbewus. Dis duidelik dat hy na woorde soek en hy beweeg sy hande in hierdie soektog. En dan word hy meteens kalm en ferm.
“Miskien is ek meer ingestel op die ironie,” sê hy. “Miskien dink ek soos Muelcke dat die ironie die satire, die absurde en die komieklike kan saamvat, en ook die tragiese kan oorkruis. Miskien verskil ek hier van lord Sudden. Miskien dink ek dat die benadering eerder intellektueel as musikaal moet wees. Miskien dink ek dat Magersfontein tot die epiese kunsvorm, die prosa, behoort, waar die ironie allesomvattend triomfeer oor die poëtiese lughartigheid van satire, komedie en harlekynspel. Miskien dink ek dat die tragikomiese spel van Magersfontein tot die groot terrein van die prosa behoort. Magersfontein is ’n roman in suiwer ironie. Magersfontein is ’n roman selfs in die hande van ’n statistikus soos Breytenbach en ’n romantikus soos Kruger. Magersfontein is ’n spel in ironie waar die absurde, en die satiriese, en die groteske, en die komedie, en die vulgêre, saamgevat is in die prosa van hierdie prosaïese landskap.”
Lord Seldom aarsel en giggel weer.
Hy kyk na die tablo van die skoonheidskoninginne wat hom spontaan toejuig toe hy die denkbeeldige rostrum verlaat.
“’n Diep denker,” sê Le Grange vir iemand naaste aan hom. Dis Gert Garries.
“Gewis,” sê Gert Garries, terwyl hy sy fiets met die bondeltjie in die rigting van lord Seldom stoot. “I have a problem,” sê Gert Garries vir lord Seldom wat hom met ’n vinger op sy lippe tot stilte maan toe Amicus Achtung op die punt is om met sy toespraak te begin.
Op bevel van die regisseur, Hans Winterbach, word die aktrises van die verskeie Provinsies by die skoonheidskoninginne gevoeg omdat hy impulsief die ondergrondse wrywing aangevoel het. Daarbenewens het hy ook, na aanleiding van die vorige toesprake, tot verdere insigte gekom. Dit sal die kamera wees wat op visuele wyse die woord oortref. In die beeld sal die geloian en die spoudaion saamgevat word. Die oog sien waar die woord nie kan kom nie. Die kamera is die Derde Oog.
Teen die naambord van Magersfontein wapper en wuif die starlets rondom die strak seksbeelde van die skoonheidskoninginne; die gegrimeerde gesigte van die ouer speelsters word persblou toe die son ondergaan. Die spoel van ’n rolprentkamera begin draai toe Amicus Achtung sy toespraak begin.
Akteurs in die uniform van die Black Watch en in die veldgewaad van die Boeremagte sluit hulle by die tablo aan. Asook Le Grange die speed-cop in s´y uniform en die swart chauffeur in syne. Asook Gert Garries met sy Raleigh-fiets in die hoek van die alsiende oog van die kamera.
“Pragtig!” sê Hans Winterbach.
En toe begin Amicus Achtung met sy toespraak.