Читать книгу Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein! - Etienne Leroux - Страница 13

7

Оглавление

Die sweet pêrel op Mr. Shipmaster se voorkop; hy beleef nou in lewende lywe die nagmerrie van alle logistici: dat deur ’n arkane heksery hy self ’n slagoffer word van die geskiedenis van die om­gewing. Dikwels het hy al om kampvure spookstories op die gebied van logistiek gehoor – fantasmagoriese busse vol toeriste wat spookagtig verskyn en hersenskimmig afsprake eis by fantoomhotelle. Aantreklike en bekwame logistici het dikwels ’n relaas voorgedra hoe hulle, téén hulle sin, die rol moes speel van groot figure uit die verlede en hoe hulle op die gebied van logistiek deur ’n onsigbare dwang verplig is om onafwendbaar hulle voorgangers se foute tot in der ewigheid te herhaal. Dis die vloek van die geskiedenis dat die verlede nie kan sterf en hom losmaak van die hede nie. Hoe kan die mens ooit vry wees as daar geskiedenis is?

Mr. Shipmaster hoor die demoniese, primitiewe, onchristelike, Keltiese geluid van doedelsakke in die verte. Dit vloek teen sy intersektariese inslag waar daar geen plek is vir spoke en misterie nie. Genl. Wauchope is dood, begrawe en herbegrawe. Rus sy siel!

Omring deur sy vyftig voel hy soos lord Methuen en hy besluit om sy beslissing aan die geskiedenis oor te laat.

“Ek eis huisvesting vir die lede van my projek,” sê hy vir die bestuurder van die Crown Hotel. “Ek het dokumentêre bewys dat daar plek vir vyftig bespreek is by die Crown and Royal Hotel, Matjiesfontein,” sê hy vir die bestuurder. Met ’n ferm lig van sy hand lê hy swye op as die bestuurder van die hotel iets wil sê. “Ek het ook dokumentêre bewys dat u onderneem het om ons môre die graf van generaal Wauchope te wys.”

Hy stop Le Grange se tussenkoms. Hy dwing dr. F. Laird tot swye.

Die projekgangers word in die hotel gehuisves: in kamers, rondawels en so meer. Dis hulle eerste ondervinding van ’n plattelandse hotel en hulle vind die allure van hierdie deel van die wêreld on­weerstaanbaar.

Mr. Shipmaster word spesiaal deur lord Sudden gelukgewens.

“A wonderful arrangement,” sê hy. “One can breathe the air of history.”

Hy slaan trots ’n muskiet dood.

Hv kyk na ’n termometer teen die muur.

“Hundred and eight in the shade,” sê hy. Hy sweet heerlik.

“This sensuous heat,” sê hy.

Hy aanvaar dit dat Mr. Shipmaster Engelssprekend is. Dis die ge­not van hierdie land dat almal Engels kan praat. In die stilte van sy kamer, terwyl hy was, besef Mr. Shipmaster die enormiteit van sy mistasting.

Die hotel se naam is nie die Crown and Royal nie. Dis bloot die Crown.

Hy sal later die bestuurder om verskoning vra.

Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein!

Подняться наверх