Читать книгу Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein! - Etienne Leroux - Страница 9
3
ОглавлениеDie stoet van sewe motors ry in die somerskemering in die rigting van Modderrivier en die optog slinger weerskante van die teerpad en terug: ’n bisarre patroon wat vir Le Grange nogmaals bevestig dat daar geen uiteindelike oplossing is nie; wat hy voor hom sien, is ’n bewys dat die lewe absurd is. Terwyl hy Magersfontein betrag, en die stoet sien kom, dink hy in terme van Glicksburg. Soos alle speed-cops, is Le Grange eintlik ’n filosoof. Hy sien die lewe eers as ’n Griekse, tragiese konsep – die onafwendbaarheid en aanvaarding van die noodlot; en dan, daarteenoor, die moderne mens wat sê: NEE! Hy vee met sy hand oor sy oë die spinnerakke van sy verbeelding weg, en dan word alles vir hom duidelik. Daar is geen hallusinasies meer nie.
Hy sien die stoet kom en hy wéét dat dit ’n begrafnisoptog is want die voorste Cadillac is sekerlik ’n lykwa. Die spel van ironie! Die dooie baba van Gert Garries op die fiets, en dan die afgestorwe geliefde in die deftige swart vaartuig. Hy klim in sy motor, skakel die ligte aan, sit die flikkerlig bokant die kap in werking, en swaai stadig voor die optog in. Le Grange ry voor teen ’n stadige pas soos dit ’n begrafnisstoet betaam. Waar die stoet voorheen teen honderd-en-vyftig kilometer per uur beweeg het, verminder hulle hulle spoed nou tot ’n slakkegang. En dan tref dit Le Grange dat dit nie ’n begrafnisoptog is nie, en hy hou stil. Daar is menigvuldige spieëls wat die ewigdurende veranderende gesig van die mens reflekteer. Die stoet kom tot stilstand.
Dis baie duidelik, dink Le Grange toe hy flink uit sy motor klim en langsaam sy wit handskoene aantrek, dat daar ’n Minister of minstens ’n Adjunk by die optog betrokke is. Daar is nou wel geen vlaggie op die neus van die Cadillac nie, maar dit is vir hom baie duidelik dat dit inderdaad ’n staatsokkasie is. Hy marsjeer met kort passies tot by die agterste ruit van die Cadillac en salueer ’n belangrike gesig. Dis lord Sudden. “Le Grange,” sê hy, wens almal ’n veilige reis toe, salueer weer, en marsjeer flink terug na sy eie motor, spring in, skakel die sirene aan, en teen ’n geweldige spoed beweeg die optog onder sy begeleiding voort.
Le Grange vind dat daar ’n effense versperring op die pad is. Dis ’n Bruinman op ’n fiets met ’n klein wit bondeltjie agter op die draer. Hy swenk sy motor en dwing die fiets van die pad af, en dan keer hy terug na die middelpunt en lei die jaagtog met huilende sirene en flikkerligte in die rigting van Magersfontein en Modderrivier.
Gert Garries skop met sy een voet teen ’n grondwal en kyk die stoet agterna, en dan kyk hy na sy pas gestorwe baba op die bagasierak van sy fiets. Die bondeltjie is nog in orde en stewig vasgegespe. Hy drink ’n stewige dop wyn terwyl hy na die kruise op die koppie van Magersfontein kyk en binne ’n paar minute vind hy ’n oplossing vir sy probleem. Gert Garries wat op veertigjarige ouderdom na ’n wulpse ouman lyk, moeg maar trots op die vele vroue wat geswig het voor sy formidabele voël. Hy haal sy seksorgaan deur ’n skeur in sy broek uit en pis op hierdie geskiedkundige grond terwyl hy wonder of Rebekka Daisy hom nie bedonder het nie. Rebekka wat met haar stert wikkel terwyl sy naai. Nog ’n dop vir liefde en dood en die hele lewe word vir Gert Garries nie meer so ’n ontsaglike probleem nie.
Hy werk op ’n plaas wat binne die Kaapprovinsie sowel as die Vrystaat val en waar die denkbeeldige grens deur ’n kennisgewing van die Paaiedepartement aangedui is. Hy ry al vir twee dae heen en weer omdat hy nie weet waar om ’n sertifikaat van die dokter te kry dat die kind dood is nie. Albei dokters aan weerskante van die denkbeeldige grens weier om ’n lykskouing te hou en die kind wettiglik dood te verklaar want Gert Garries was op staatsonkoste by albei gewees toe die kind nog siek was en gelewe het. Die kind kan nie begrawe word as daar nie ’n lykskouingsverslag en ’n bygaande geregtelike verlof is dat ’n verbrande baba ter aarde bestel mag word nie. Rebekka Daisy het gesê dat Gert Garries se kind deur ’n lampolielamp in haar struis verbrand is en Gert Garries is self nie seker op pad na watter dokter aan weerskante van watter grens die kind gesterf het op sy vele togte na die dokters nie. Albei dokters is ewe in die duister oor die regte prosedure as gevolg van die grense en die topografie. En Gert Garries is self nie seker of dit sy kind is wat aan hom toegeskryf is deur die hoer, Rebekka Daisy, nie.
Gert Garries vat nog ’n dop en die lewe word rooskleurig. Hy kyk na die bondeltjie en hy voel ’n sekere gehegtheid aan hierdie gesiglose monstertjie wat êrens ’n rusplek moet vind. Gert Garries besluit dat hy die begrafnisstoet sal volg en in die nag die kind in die kis van die wit geliefde sal sit en wie sal weet? Hy klim op sy fiets en trap die pedale drankvrolik in die rigting van die begrafnisstoet in die verte. Die wind waai deur die sweterige hare van Gert Garries in sy drank-besete deelname aan die optog na Magersfontein en Modderrivier.
Hy dink ook in die vlug van sy spoed op die afdraand daaraan dat sy baster tussen die opgegrawe grafte van die Black Watch, regs van die ou Modderrivierstasie, stilletjies begrawe kan word – dáár waar die room van Engeland begrawe en opgegrawe is en na die Garden of Remembrance in Kimberley geneem is, en dáár waar genl. Wauchope begrawe en toe herbegrawe was in Matjiesfontein. Daar is trane van drank en wind in sy oë as hy in die vlug van sy verbeelding sy kind sien as deel van hierdie spel van begrawings, opgrawings, herbegrawings, en so meer. Die begrafnis van die bondeltjie op sy bagasierak word ’n heerlike avontuur. Dis in ’n sekere sin ’n oorwinning oor Rebekka Daisy en Le Grange, die speed-cop. Dis Gert Garries se dag op sy Raleigh-fiets!
Storm! Storm! Sturmabteilung-op-die-Raleigh-fiets!
Die stoet beweeg voort teen ’n rasende vaart, begelei deur Le Grange, die speed-cop. En dan vind Le Grange dat hy die stoet verloor het. Hy kyk terug en hy sien dat hulle almal stilgehou het en besig is om na links te kyk: ’n bontspul in die verte wat roerloos en strak deur akasias en kameeldorings tuur. Hy maak ’n breë draai oor die teerpad en jaag terug, maar voordat hy hulle bereik, het hulle alreeds terug in die motors geklim en dit is alleen ’n behendige wederdraai van Le Grange die speed-cop wat sorg dat hy hulle nie tromp-op tref nie. Maar hierdie keer lei hy die stoet versigtig en hy hou die beeld van sy gevolg met ’n wakende oog in die tru-spieëltjie dop. Toe hulle voor ’n yslike kennisgewing MAGERSFONTEIN huiwer, antisipeer hy die kollektiewe behoefte, swaai van die pad af, klim uit, en met ’n wit handskoen wat tot sy elmboog reik, stop hy die hele stoet. Hy marsjeer vorentoe en salueer na links en regs, oorbluf en dronkgeslaan in sy soektog na die gesaghebber in hierdie belangrike chaos. Al wat hy sien, is ’n rare vergadering wat ’n spoorwegbrug beskou, asook die nuwe stasie, Modderrivier, opgetooi met rotstuine waarop die vygies vrolik die ondergaande son beloer. Hy gaan aan die sy van Amicus Achtung staan wat sê: “Dit is die pad na Magersfontein,” en toe salueer hy hom.
Hy salueer ook vyf beeldskone meisies wat in die vorm van ’n piramide (met behulp van stoeltjies) teen die groen kennisgewing van die Paaie-Administrasie, MAGERSFONTEIN, poseer. Hy is nét te laat om te keer toe die menigvuldige kameras flits en Gert Garries met sy fiets en die lyk van sy kind in die agtergrond in die foto’s verewig word.
Daar word ook ’n spesiale foto geneem van lady Jubilence, bekende kunskenner, gasvrou, en kultuurvrou van die Kaap, wat na die vóór-beeld van lady Randolph Churchill een van die motors in die optog gefinansier het.
Le Grange salueer haar, dan stel hy homself weer aan Amicus Achtung voor.
“Ek dink,” sê Amicus Achtung, “dat u Mr. Shipmaster moet spreek. Hy is in beheer van logistiek.”
Le Grange ontmoet Mr. Shipmaster wat oorstelp is deur al die logistiese probleme en ’n makker soek. Hy stel Le Grange aan al die L.U.K.’s en die hoogwaardigheidsbekleders voor, wat op hulle beurt Le Grange in sy netjiese uniform goedkeurend bekyk. Deur hulle spesiale vergunning word Le Grange déél van die verkenningstog: verkeersbeampte en gids en aldus ’n volwaardige lid van die projek.
Hy is nou finaal weg van Anna Adder, hy is déél van die projek, en dit verskaf hom groot plesier.
’n Vrou in ’n matrone-uniform heet hom gulhartig welkom.
“Ek is Florence Nightingale,” sê sy skalks, en Le Grange kyk geïnteresseerd na haar formidabele dye wat haar uniform laat rimpel terwyl sy heen en weer wieg.