Читать книгу Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein! - Etienne Leroux - Страница 12

6

Оглавление

Dis nou goed donker en die lede van die projek haas hulle na die motors en Kombi’s. Die kameramanne het alreeds hulle toerusting in­gepak. Le Grange het sy koplampe aangeskakel, sowel as die oranje lig op die kap, en hy laat die sirene liggies loei om die komende ver­trek aan te dui. Met ál die ligte van die voertuie in volle gloed, gee dit aan die optog ’n sekere vrolikheid wat herinner aan ’n karnaval of ’n sirkusoptog. Lord Sudden en lord Seldom is rustig op hulle sitplekke en hulle beskou Amicus Achtung wat onder een van die soek­ligte met Mr. Shipmaster, logistikus, konfereer. Mr. Shipmaster lig sy hand vir Le Grange en skreeu sodat almal kan hoor: “Voor­waarts na Matjiesfontein, die laaste rusplek van Andy Wauchope, en die tuiste van Logan, M.L.C., die Laird van die Skotse Middellande!” Lord Sudden en lord Seldom glimlag as Amicus Achtung in die Cadillac klim. Alles verloop vlot en hulle voel dat die projek nou tempo begin kry – ’n sekere vóórteken van sukses. Le Grange se sirene bereik ’n toonhoogte wat bydra tot die graad van hulle entoesiasme. Die ligte flikker, die masjiene van die motors word aangejaag, en dan verflou die sirene. Le Grange verskyn weer in die lig van die Cadillac en salueer flink in die rigting van die lig want hy het nog steeds nie presiese duidelikheid oor wie die werklike leier van hierdie staatsprojek is nie. ’n Rukkie later verskyn Mr. Ship­master langs hom, en hulle bespreek iets met ’n besondere intensi­teit. Dit duur te lank en dit noop Amicus Achtung, Hans Winter­bach en lords Seldom en Sudden om hulle ook by die konferensie in die lig te voeg. Asook dr. F. Laird en Gert Garries.

“Die hotel is vierhonderd-en-vyftig myl hiervandaan,” herhaal Le Grange.

“Onmoontlik,” sê Mr. Shipmaster. “Volgens mý berekening is dit slegs een myl.”

“Met alle respekte,” sê Le Grange, “is die Matjiesfontein Hotel, be­stuur deur gebroeders Rawdon, presies vierhonderd vyf-en-twintig myl hiervandaan.” Hy staan deftig, penregop, en beskeie – ’n ware toonbeeld van die Administrasie.

“Die Crown and Royal, Matjiesfontein, is volgens gegewens in ons onmiddellike omgewing,” sê Mr. Shipmaster. Hy het sy armsorgbrilletjie afgehaal, en meteens sonder die vergrootglas van die lense die diepe sorg van oumansoë ontbloot. Hy kyk na ’n stapel papiere wat hy weer versigtig bestudeer nadat hy sy bril opgesit het. “Dit is die hotel regoor die plek waar generaal Andrew Wauchope op die 12de Desember 1899 begrawe is.”

Lord Sudden voel dat hy beheer van die situasie moet neem.

“Ons soek,” sê lord Sudden, “na die hotel naby die graf van gene­raal Wauchope, nie waar nie?”

“Korrek,” sê Hans Winterbach.

“Ons verneem dat plekke bespreek is vir ál die lede van die projek in daardie hotel en dat ons vanaand besonderhede van die projek sal uitwerk.”

“Presies,” sê Hans Winterbach.

“Ek kan nie begryp wat die probleem eintlik is nie,” sê lord Sud­den. Hy glimlag vir die omstanders en lig sy hand toe iemand soos dr. F. Laird ook iets wou sê. “Dit is doodeenvoudig.” Hy rig hom tot Le Grange. “Neem ons na die Crown and Royal Hotel!”

Le Grange herken die leier. Hy salueer flink, klim in sy motor, skakel die sirene aan, laat die kaplig mals rondomtalie draai, en lei die stoet tot by die Crown Hotel, digby Modderrivierstasie, waar die eienaar onverwags minstens vyftig gaste moet huisves.

Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein!

Подняться наверх