Читать книгу Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein! - Etienne Leroux - Страница 16

10

Оглавление

Dit raak laatnag, maar die entoesiasme van die projekgangers vir die projek kan nie gedemp word nie. Selfs Mr. Shipmaster moet er­ken dat hy selde in sy loopbaan sulke toegewydes teengekom het. Amicus Achtung word telkens deur die hoogwaardigheidsbekleders gelukgewens, en alhoewel hy die “dirty Fascist pigs” haat, streel dit tog die skim van die ydelheid wat hy lankal afgesweer het. “Jesus Christ” – Marigold Rosemary noem die naam van haar Skepper oor en oor namate sy hoër en hoër vlieg met behulp van die chemie van haar aptekersvriende wat hulle vir eie orgasmes pil vir pil aan die “frigid bitch” betaal het. “Jesus Christ” is die besweringsnaam as sy voel dat sy op L.S.D. hel toe gly.

Hierdie projekgangers is ’n leër en hulle moet hanteer word soos ’n leër. Verkenning is die wagwoord vóór ’n veldslag en die verlede in terme van die hede sal daaraan getoets word as die oordeel oor die eindresultaat uitgespreek word.

Die projek-skoonheidskoninginne van die provinsies, in hoe­kies waar dit donker is en die minnaar onsigbaar, ontbloot hulle meisie-sieletjies; in die helder lig voor die leiers van die projek is hulle die gestileerde godinne wat bereid is om hulle onsterflike skoon­heid aan die heroïese sterwelinge te bied. Hulle doen ’n be­roep op teling; hulle maak die tiere binne hulle wakker met die hoop dat hulle liggame met behulp van genetika en geld na die kopulasie geboorte aan goue helde sal gee. Lord Seldom, lord Sud­den, Amicus Ach­tung, Hans Winterbach, L.U.K.’s en andere beskik oor die keuse van vyf provinsies. Maar nog is dit nie die einde van die seksuele aanslag nie. Oorlog is seks en romanse: vir elke soldaat wat wreed op die slag­veld sterf is daar ’n legende van ’n Café Mozart of ’n kafee in die Noord-Kaap waar ’n goue appel vir die heerlike teef gegee is.

En só kom hulle. Só kom hulle om:

– Die starlets sonder veel pretensie maar met ’n aweregse uitbundigheid wat die skoonheidskoninginne nie kan ewenaar nie.

– Die moeders van die toneel wat met die laatnag grotesker word agter die maskers van hulle ewigdurende jeug.

– Suster Nightingale met wiegende bekken.

Sonder voorafbeplanning word ’n sekstafereel voor die Lords en hoogwaardigheidsbekleders gevorm. Dis magiese vingerskrif teen die muur, fresko’s van die viriele oorlogsgod.

Terwyl die toekomstige parings begin vorm aanneem, en die seksuele tafereel met al sy komplekse patrone geweef word, aangedui deur die vinger van die dondergod, en flitse van wit narre en swart narre hulle spel van lig en skaduwee teen die mure gooi, stel Hans Winterbach die lense van sy kameras en plaas hy sy kameramanne op ’n gereedheidsgrondslag. Die gees van genl.-maj. Wau­chope, C.B., C.M.G., LL.B. vonk in Hans Winterbach. As sy eie karakter moet opgesom word, dan is dit dit: hy is die eindresultaat wat die gedissiplineerde filmbedryf kan bereik. Grootheid sal mis­kien nie sy bestemming wees nie. Maar hy het die potensiaal. Van hom kan ook gesê word: “No man can be great in spite of opportunity …” Op die gebied van die filmkuns het hy nog nie die ge­leentheid gehad om sy ware potensiaal te bewys nie. Dit is sy groot oomblik dié. Hy kan ’n tweede Bergman word. Toegegee: hy is nie ’n groot intellektueel nie. Maar hy het miskien iets edelers in hom, soos Wauchope: “the sense of duty, of self-abnegation, self-sacrifice …” Alles sal plaasvind binne die raamwerk van lords Seldom en Sudden, en die verskeie provinsiale owerhede. Hy durf nie vir hom­self die geslepenheid in sy samestelling erken as sy kameras in die verstoke hoeke van die siele loer nie. Dis ontrou aan die Pres­biteriaanse gees van Wauchope wat sy eie aweregsheid be­sweer het deur ’n Spartaanse eenvoud van lewe en toe hy selfs in die ska­duwee van Craigmillar Castle alle romantiese assosiasies met die mooi Katolieke Koningin van Skotland kon besweer deur sy asem uit te hardloop op die Portobello-sandduine ter wille van John Knox, die Kirk, fiksheid, die Swartland suidoos van Edinburg, en die Pax Britannica. Die vloek van avontuur rus ook in die siel van Hans Winterbach as hy sy N.G.-kameras op die tafereel van die dondergod rig.

Die Lords besluit dat die konferensie tot die volgende môre uitge­stel sal word sodat die projekgangers ’n begrip kan kry van die angs wat gebore word uit die universele leemte. Hulle moet ’n begrip kry van die moderne tragies-revolusionêre held wat voor die fenomenale wit muur te staan kom waaragter die donker absolute lê en wag. Voor­dat hulle dit nie begryp nie, en hulle hierdie geestelike dilemma van vandag nie kan verstaan nie, sal hulle nooit die slagveld van Magers­fontein as ’n visioenêre figuurfries kan kerf wat sal lewe op die filmdoek en die bewende glas van TV nie. Hulle sal die angs van dui­sende Boere en Skotte en helde soos Wauchope, De la Rey, Cronjé, en Methuen moet versoen met ’n tragiese Griekse visie in terme van hulle eie negativisme.

Lord Sudden noem dit aan lord Seldom en lord Seldom is verruk met lord Sudden se insig. Amicus Achtung is in ekstase omdat hy voel dat die Lords sy vier sleutelfigure ook betrek het as voorlopers van die hedendaagse anti-held, die Victoriaanse paradoks wat vandag meteens soveel geldigheid gekry het. Die L.U.K.’s is dit roe­rend eens alhoewel hulle die subtiliteite van hierdie tydverspillende argumente nie begryp nie. Die meisies wag! Terselfdertyd voel hulle ook ’n bietjie gegrief dat hulle self karikature in die opset word. Die digotomie wat hulle ken is die Christelike Nasionalisme en die humanisme, en hulle het hulle hele lewe lank hierdie eenvoudige tweestryd gevoer. Die Lords is besig om hulle te bedonder en te verkleineer …

’n L.U.K. wil derhalwe ook een van die Lords donder. Die warm rosé het hom rumoerig gemaak, maar Amicus Achtung keer hom betyds. Die twispunt is gevaarlik vaag en dit kan maklik aanleiding gee tot ’n soort Baskiese of Ierse of Afrika-moorddadige baldadig­heid. Dis alleen ingewydes wat die misteriese skisofrenie van die vormende fragmentariese mites van ons tyd kan begryp.

“Môre werk ons,” sê lord Sudden ferm, en dan beduie hy met ’n koninginsgebaar dat vrye verlof vir die aand toegestaan is.

Die projekfonds sal alle skade aan die Crown Hotel vergoed. In­dien hierdie verkenningstog in die beroemde hotel by Matjies­fontein plaasgevind het, sou die projek seker duisende rande moes opgedok het om vir seldsame Victoriaanse camp te betaal. By wyse van mistasting het Mr. Shipmaster tog ’n positiewe bydrae gelewer. Die geluksgodin van logistici was aan sy kant, want die troepe van die projek het kleingeld slegs van die Crown Hotel gemaak.

Terwyl die gefuif aan die gang is en geringe ontploffings van baldadigheid die Crown Hotel skud, staan Gert Garries stilletjies op en met ’n brandende vuurhoutjie lig hy in die bediendekamer rond. Gert Garries slaap op die vloer, en sy gasheer op die bed – ’n pikswart man van Johannesburg met skuim om sy kiewe en glaserige oë onsiende na die plafon gerig. Gert Garries druk die ooglede toe en hulle flikker meteens terug. Goddank, dink Gert Garries. Hy het genoeg van lyke gehad. Fluistersag ondersoek hy die bagasie van sy herbergier en vind slegs ’n rand en ’n Philips-elektriese skeermes wat hom goed te pas sal kom op die swartmark. Dan sluip hy verby ’n venster waar ’n starlet in die arms van ’n man grond toe wegsterf, tot by die Cadillac. Hy haal die ge­hawende bondeltjie uit en dan ruk sy maag want daar is geen gesiggie meer te herken nie.

Toe begin ’n woede in Gert Garries oplaai. Dis ’n woede gebore uit ’n wanhoop want hy kan die absurditeit van sy lotsbestemming nie begryp nie.

Dit het fôkol te doen met kaffers of witmense – almal is in elk geval tog in hulle moer. Hy kyk na die maan wat vanaand bloed­rooi is en hy ruik die stink van sy sweet en die stink van sy vergane kind. Hy voel nie te goed nie en hy het ’n premonisie dat dood ook sý voorland is. Hy vind ’n bottel whisky in die bagasie­bak van die Cadillac, en met sy dooie baba onder sy een arm en die bottel whisky onder sy ander arm gaan hy oor die teerstraat tot by die private kerkhof waar lord Wauchope en ander lede van die Black Watch begrawe en verwyder is na beter plekke. Met ’n stuk yster grawe hy ’n vlak graf en plaas sy hoerkind daarin. Toe sluk hy whisky en kyk na die maan. Hy is nie ’n kapater nie. Hy kan kinders wek, al gaan hulle dood. Die euforie van drank slinger hom terug oor die teerpad tot waar hy in die Cadillac blomme­ruikers vir die vername gaste vind, en hy bring hulle terug na die vlak graffie. Hy vorm ’n hopie en versier dit met die mooiste blomme. Onder ’n peperboom kots hy gal en raak dan in die warm naglug aan die slaap. Dit maak nie saak wáár nie, maar hierdie wêreld is Gert Garries se tuiste. Hy is déél van die landskap.

Marigold Rosemary maak die deur van Oxford G. von Waltzleben se slaapkamer saggies oop, maar al wat sy regkry is ’n skreeugeluid van skarniere as die outydse deur op droë hingsels oopswaai en dr. F. Laird openbaar word waar sy, glasie in die hand, in diep ge­sprek gewikkel is oor die lief en leed van genl.-maj. Andrew Wauchope.

“Hy was ongelukbehep,” sê Fyella. “By Tel-el-Kebir het hy in 1881 sy swaard omhoog gehef en oor ’n loopgraaf gespring. Toe gly sy voet op die los sand en hy val. Hierdie keer het hy slegs ’n koeël deur sy helmet en deur die skede van sy swaard gekry!” Sy kyk op.

“Hullo, Rosemary,” sê sy. Sy rig haar weer tot Oxford G. von Waltzleben wat slegs in sy onderbroek op die bed lê, die sweet pêrelend op sy bors. “En toe ontstaan die gerug dat Wauchope dood is. ‘I regret to say that that good fellow, Andy Wauchope, has been killed,’ was die Hertog van Connaught se woorde.”

Marigold Rosemary leun teen die deur, haar borsies aggressief teen die lig in profiel.

“Die Turk wag vir jou,” sê sy.

“Hy is ’n Griek, nie ’n Turk nie,” sê Fyella terwyl sy opstaan en haar glasie in die hoek van die kamer gooi. “Gelukkig het hierdie berig nie die huis van Wauchope bereik nie,” sê Fyella vir Oxford G. von Waltzleben. “Sien jou môre.”

Sy skuur styf by Marigold Rosemary verby, vás teen Pompidous wat haar onmiddellik omhels en toe sy Kretensiese oë op Oxford G. von Waltzleben rig.

“You wanna fight to death?” vra hy terwyl hy spiere bult, self ook kaal-bolyf weens die hitte. Hy stort rooiwyn oor sy eie kop en sidder van plesier as die wyn rooi strepe op sy torso laat. Hy lig Fyella op sy skouer en dra haar na sy slaapkamer.

Marigold Rosemary gaan langs Oxford G. von Waltzleben op die bed sit en bars onmiddellik in trane uit. Na ’n rukkie droog sy haar trane af.

“Het jy geweet dat Pompidous ’n dubbele ry tande het?” vra sy terwyl sy haarself begin ontklee. Sy lyk pateties fyn en klein nadat sy haar ontkleedans uitgevoer het. “Mr. Shipmaster het nie ’n kamer vir my bespreek nie,” sê sy.

’n Rukkie later sê sy, styfgewoel teen Oxford, “Ek is hopeloos verlore. Help my.”

“Hoe kan ek?” vra Oxford G. von Waltzleben.

“Jesus Christ!” sê Marigold Rosemary.

Sy het op ’n ekumeniese sentrum sensitiwiteitsopleiding ontvang waar dagga verskyn en wyn gevloei het by wyse van terapie. Te mid­de van studente, onderwysers, huisvroue, maatskaplike wer­kers, ver­pleegsters, sakemanne, arbeiders, swart, bruin en wit, asook geestelikes, het sy deur middel van traumatiese ondervin­ding via orgieë en orgasmes die self in haar sieletjie probeer vind. Tussen die wrakke wat oorgebly het vir professionele psigiaters het sy nog steeds pro­beer uitstyg deur ’n deelname aan aktivisme in al sy vorme, sowel as aan terrorisme, en revolusie af en toe. Sy het selfs scientology pro­beer en ál daardie dinge waarvoor Juliana Doepels geveg het. In ’n stadium het sy geestelik aan Manson en sy familie behoort en haar hart gegee vir Evel Knievel wat met sy doodswens op sy motorfiets oor die Grand Canyon wou spring. Sy was selfs ’n tweede Marilyn Monroe wat in haar bedjie alleen gewag het dat presidente haar van ondergang sou red. Maar daar is niks. Alles word vernietig tot niks. Daar is geen teken van die hergeboorte nie. Dis ’n inflasiespiraal. Daar is geen helde meer nie – hetsy van regs of van links. Wie is die held in hierdie chaos; wie sal haar bevry op sy vurige ros?

Sy woel stywer teen die man langs haar.

Haar volgende stap is miskien die satankultus. Tensy, tensy …

“Jesus Christ!” sê Marigold Rosemary.

Sy spoeg op die maag van Oxford G. von Waltzleben om hom tot seksuele drif aan te wakker.

Sy ontvang seks en bereik ’n orgasme wat haar nogtans onbe­vredig laat. Maar, styfgewoel in die arms van “haar minnaar”, raak sy tog aan die slaap terwyl sy van ’n kasteel droom waarin Vic­to­riaanse vrouens met waaiers in hulle hande deur ’n blou waas sweef. Sy droom ook van ’n Griekse godin wat wasbleek in water dryf. En dan droom sy van ’n enorme konstruksie wat kantel en val: ’n ontsaglike toring, hemelhoog, wat steier en oor die heelal val.

Sy word met ’n gil wakker.

“Wheeeewwww!”

Die hoogwaardigheidsbekleders bereik ’n stadium dat hulle bed toe moet gaan, maar die enigste belofte wat hulle aan die wagtende skoon­hede toon, is ’n knypie in die donker gang. Selfs in hulle be­skonkenheid dink hulle aan hulle politieke loopbaan en hulle be­spied mekaar noukeurig. Dis slegs Sy Edele Loopgrave, wat in elk geval met die komende verkiesing nie die minste kans op ’n setel het nie, wat ’n ou geliefde feeks van die toneelwêreld na sy kamer toe neem. Maar almal weet dat hy privaat-prostaat-moeilikheid het en hulle vergewe hom die dilly-dally wat sy slaaploosheid vanaand mis­kien draagliker sal maak.

Die akteurs en aktrises van Engeland en Suid-Afrika, sowel as die skoonheidskoninginne, paar lesbies, homoseksueel, en heteroseksueel af – soos hulle dit ál die jare gedoen het as deel van die nagtaak met vele toere.

Mr. Shipmaster is vroeg kamer toe. Hy het sy deur gesluit en hy is doof vir die sagte geklop wat seksuele avontuur beloof. Hy het ’n brief wat hy oor en oor lees, en hy kan nie besluit of dit ’n produk van ’n wrede spotvoël is nie. President Amin bied hom ’n pos aan as logistikus in die leër van Uganda. Die posstempel lyk outentiek; dis aan hom deur die swart chauffeur van lord Sudden en lord Seldom oorhandig. “For your gallant endeavour against apartheid and your ceaseless fight against the Jews of Israel and white colonialism,” lees hy. Hy haal sy armsorgbrilletjie af en kyk na homself in die spieël. Daar is geheimsinnige dieptes in daardie donker oë wat in ’n lastige waterigheid dobber. Hy keer terug na sy bed en lees die brief oor en oor. Maar daar is iets wat hom hinder. Daar is ook ’n tweede brief wat hy op sy kopkussing gevind het. ’n Enkele bladsy. “Please be a logistician for our Satan’s Cult – Rosemary.” Hy plaas sy hand teen sy hoof. Waar het hy die naam Rosemary gehoor?

Maar wat hom die meeste hinder, is die kwessie van die Jode. Van sy beste vriende is Jode. Apartheid is maklik om te veroordeel. Hy het ook goed geselekteerde swart vriende. Hy raak swaar aan die slaap ten spyte van ’n dubbeldosis slaappille wat hy by ’n apteek ge­koop het en niks meer is as versterkte aspirine nie.

Suster J. Fiskaal word op haar aandrang deur Le Grange aan lord Seldom voorgestel in eie naam met bynaam nagtegaal.

Lord Seldom is nie in die bui nie. Hy is ook effens hardhorig.

“Pleased to meet you, Sister Finch,” sê hy.

Toe sy in trane, weens moegheid, uitbars, is dit Le Grange wat haar troos en kombuis toe neem vir koffie.

Dr. Wittenblank lei lord Sudden deur die doolhof van gange in die Crown Hotel, bysiende op soek na lord Seldom se kamer. Lord Sudden is keurig uitgevat in groen pajamas met ’n paisley-ontwerp; ’n ligte kamerjassie oor sy skouers gedrapeer. Die hotel word ’n Kafka-kasteel en die twee blindes beweeg van gang tot gang – skuur teen mure, struikel dikwels oor ’n gevalle projekganger, verras ’n ster in ’n bikini op pad na die badkamer, dryf ’n skoonheids­koningin met ’n gesmoorde kreet in die arms van ’n Skotse Hooglander. Dr. Wit­ten­blank klop aan ’n deur, maak dit oop en word flink deur Le Grange gesalueer. In die donkerte sien hy die skim van ’n verpleegster wat met ’n sluier bedek hom spookagtig met opgehewe arms tegemoet kom. Hy deins in ’n onsigbare waas terug. En toe klop hy aan die volgende deur, maak dit oop, en gewaar lord Seldom in ’n atletiekbroek, dartelend soos ’n nimf, besig om ’n atletiekbal teen die muur te kaats en dit teen sy midderif te vang. Hygend, en met gespanne maagspiere, kyk hy swetend na sy besoekers. “Ally-oop!” skreeu hy en die bal tref dr. Wittenblank reg op die voorkop. Toe dr. Wittenblank bewusteloos neersak, haal lord Sudden en lord Seldom sy bril af en sit hom in een van die enkelbeddens.

Toe speel lord Sudden en lord Seldom muurbal met die atletiekbal teen die muur waaragter Mr. Shipmaster op sy bed nagmerrie­drome droom dat hy deur Idi Amin telkens met ’n kanon gefusilleer word vir elke fout wat hy op die gebied van logistiek begaan. Lord Sudden kry die enorme bal maklik in sy gesigsveld en hy is ’n formidabele opponent vir lord Seldom. Na ’n halfuur stort albei swetend in duie. Hulle gaan langs mekaar op die orige enkelbedjie lê: moeg, maar fiks. Lord Sudden wys vir lord Seldom die tempera­tuurmeter teen die muur: 109 grade Fahrenheit!

Hulle raak soos ware atlete rustig aan die slaap. Die gees van maj. Andy Wauchope sweef oor hulle.

Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein!

Подняться наверх