Читать книгу Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein! - Etienne Leroux - Страница 14
8
ОглавлениеTerwyl die hotel van projekgangers wriemel en vir die eerste keer in baie jare ál die ligte in elke beskikbare kamer van die Crown Hotel brand sodat dit ’n lig-oase in die donkerte van Modderrivier-dorpie vorm, staan Gert Garries op die stoep van die Kafee en Restaurant regoor die hotel, sy fiets teen die verandapaal, en hy is besig om ’n halwe witbrood en twintig sent se polonie met wyn af te spoel. Hy kyk na die hotel en dan kyk hy na die plek waar die ou stasie was voordat hulle dit jare gelede verskuif het. Hy sien ook die swart Cadillac en die swart chauffeur wat op die voorste sitplek onder die daklig besig is om die Rand Daily Mail te lees. Hy slenter soontoe.
“Hi!” sê die swart chauffeur.
“Hi!” sê Gert Garries.
“Anything I can do for you, man?” vra die swart chauffeur.
“I want to see Mr. Sudden,” sê Gert Garries. Die swart chauffeur vou sy koerant op. Hy bied Gert Garries ’n Lexington Filter-sigaret aan.
“What’s the trouble, my man?”
“It’s the corpse of my child, man,” sê Gert Garries.
“Our dear Lord does not go in for heavy soul, nor does he sniff,” sê die swart chauffeur.
Hy bied Gert Garries whisky aan uit lords Sudden en Seldom se fles. Hulle gesels oor die projek en die swart chauffeur wil iets van Magersfontein weet.
“Dit was ’n witmensoorlog,” sê Gert Garries. “Ek het fôkol daarmee te doen.”
“Good man! Good man!” sê die swart chauffeur. Hulle drink in stilte.
“You gotta home, man?” vra die swart chauffeur. “You can share my quarters, man.”
“I have the corpse of my child, man,” sê Gert Garries.
“Good man! Good man!” sê die swart chauffeur. “Is it a weed or does it have soul?”
Gert Garries kyk na die maan wat bokant die heuwels skyn. Hierdie Johannesburgse kaffer is ook ’n diep denker. Dis die klas van diep denker waarvan Gert Garries hou.
“Onkruid vergaan,” sê Gert Garries, “maar deug bly staan.”
“Sharp, man, sharp, man!” sê die swart chauffeur. “How much for the corpse of your child, man?”
Hy haal vyftig eenrandnote uit en sprei hulle soos ’n waaier op die sitplek langs hom.
“Done, man!” sê Gert Garries, terwyl hy die note versamel. “Cheers, man!” en hy sluk die whisky met één teug weg. Die maan ontplof, maar Gert Garries behou sy ewewig.
’n Rukkie daarna vra hy: “Where are you going to keep the corpse of my child, man?”
“In the boot of the Cad, man,” sê die swart chauffeur.
Hy kyk met bewondering na Gert Garries wat sy fiets van die verandapaal gaan haal, dit tot by die Cadillac stoot, die bondeltjie losgespe, en dit versigtig in die bagasiebak sit.
“Real cool, man! Real cool, man!” sê die swart chauffeur terwyl hy versigtig rondkyk want hy is nie onbewus van die polisiekantoor om die hoek nie.
“Real cool, man!” sê hy. “Do you want to share my quarters?”
Gert Garries verklaar homself nie onwillig nie en hy neem intrek saam met die swart chauffeur in die bediendekwartiere van die hotel nadat hy sy fiets se wiel met ’n slot gegrendel het.
In die nagure sluip ’n donker figuur na die Cadillac. Bewende swart hande maak die bagasiebak oop, skeur die lyksgewaad van vuil linne met obsessionele angs. ’n Bloedstollende gil skeur die nag in.
Die kap van die bagasiebak beweeg op en af terwyl ’n verlate brandende flits ’n meter van die geskiedkundige grond belig.