Читать книгу Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein! - Etienne Leroux - Страница 8

2

Оглавление

Le Grange, die speed-cop, skuil agter sy geliefkoosde wegkruipplek, ’n advertensiebord van sewe meter by sewe meter wat skaduwee en koelte teen die son bied en hom terselfdertyd in staat stel om die pad te bespied. Hy is in die nuwe uniform van die Kaaplandse verkeersdiens geklee en hy is onbewus daarvan dat dit ’n replika is van die lyfgewaad van die Nazi S.A. voor sy geboorte. Die wit valhelm met die koninginprotea as embleem was sy eie bydrae wat deur die uniformkommissie met ’n prystoekenning aanvaar is. Die nage­maak­te leerhandskoene wat tot by die elmboë reik, is egter sy be­sondere trots. Dit pas by die donker polaroid-sonbril wat hy dra. Toe hy voor die groot spieël in die sitkamer van sy huis geparadeer het sonder om te pronk, het Anna Adder, sy vrou en moeder van ’n drieling, gesê: “Ek ken jou nie!” En dit was die grootste kompliment wat sy hom kon gegee het. Hy het al dikwels gewens dat hy vir goed van hierdie leepoog-teler kan wegkom. Maar die juweel in sy skatkis is die twee wit handskoene wat tot by sy skouers strek – sorgvuldig opgevou in die paneelkassie van sy motor. Dit stel hom in staat om verkeerswagdiens tydens spitsure te doen. Dit gebeur selde op die platteland en slegs ten tyde van internasionale rugbywedstryde wan­neer blinkoog-boere soos besetenes na Kimberley se arena jaag en verkeersophopings en gevaarpunte op die mees onverwagte plekke puntdiens regverdig.

Dit was tot dusver ’n vaal dag vir Le Grange. Daar was weinig verkeer op die pad en hy het in die bloedige hitte slegs ’n paar geleenthede gehad om in volle mondering op die teerpad te verskyn. Die eerste geleentheid was toe ’n monsteragtige bewegende voorwerp in ’n lugspieëling teen die horison van die teerpad opgedoem het. Hy het die voorwerp onmiddellik tot stilstand gebring: ’n allenige figuur in die uniform van Suid-Afrika wat in die middel van die baan ’n troglodiet trotseer; dertig meter meganika wat met ’n geloei van hidrouliese remme voor ’n man in ’n swart uniform stop. Le Grange het hom volgens sy beeld van die uniform gedra toe hy ’n Leyland-masjien as kajuitmotor moes inspekteer wat ’n twintigmeter-treiler trek waarop ’n vragmotor van tweehonderd ton rus. Omdat die hele meganiese opset splinternuut is, is sy taak aansienlik bemoeilik. Daarbenewens het hy opgemerk dat die voertuig aan die magtige De Beers Consolidated Mines Ltd behoort. Dit was ’n delikate situasie, maar hy het hom goed van sy taak gekwyt. Hy het met ferme tred vlugtig ’n inspeksie gedoen en toe gesalueer. “Alles in orde.”

Het hy ’n stem gehoor: “Fuck you, you bastard!” toe die vaar­tuig vertrek?

Of was dit ’n akoestiese hallusinasie wat die hitte en die weste­wind meebring?

Die res van die dag het hy Anna Adder se toebroodjies geëet en die verbyspoedende motors geïgnoreer. In ’n stadium het hy dit selfs oorweeg om ’n kaffer-taxi te stop omdat hulle sekerlik een of ander provinsiale regulasie oortree, maar Le Grange het hulle met rus ge­laat. In die verte kon hy die kruise op die koppies van Magers­fontein sien, maar dit het vir hom geen betekenis nie. Monumente en grafstene is die hele land vol. Daar moet iets, iets wees … iets wat sy uniform waardig is. Sonder dat hy dit besef beleef Le Grange, die speed-cop, die foltering, kwelling, en angs van die verbroke held in ’n eksistensialistiese wêreld. Die enorme futiliteit van menswees be­meester hom. Le Grange, die speed-cop, dink nou soos Samuel Beckett terwyl hy die landskap gadeslaan.

Toe sien hy ’n Bruinman op ’n fiets wat heen en weer oor die pad slinger en hy stop hom met ’n goedige gelatenheid.

Sweterig kyk hulle na mekaar, al twee ewe moedeloos in die waai van die weste­wind.

Fietslisensie nie in orde nie. Le Grange reik die dagvaarding teen sy sin uit.

Die afkoopboete is vyf rand en gelyk aan een sakkie mieliemeel, maar wat kan Le Grange daaraan doen? Hy is as ’n amptenaar van die owerheid opgelei met gedelegeerde magte, maar die geringste teken van oorleg en vrye besluit staan gelyk aan korrupsie. Die enigste toegif wat hy kan bedink is vriendelikheid.

“Wat is daar op die draagbaar van jou fiets?”

“Dis die lyk van my kind, Baas.”

Le Grange verduidelik aan hom dat hy alreeds die vorm in tri­plikaat ingevul het en dat dit ’n oortreding is om ’n vorm te vernie­tig. Maar mag hy die lyk van die kind sien?

Le Grange sien vir die eerste keer in sy lewe die lyk van ’n kind. ’n Baba van ses maande.

“Waarnatoe is jy op pad?” vra hy.

“Na die dokter, Baas.”

Le Grange laat Gert Garries toe om sy tog voort te sit. Dis in die rigting van Modderrivier.

Dis ’n aaklige dag vir Le Grange, die speed-cop. Hoe kan mens ’n dokument in triplikaat verwyder sonder om jouself aan vervolging bloot te stel?

Elke dokument is in triplikaat genommer.

En toe kyk hy op en sien ’n optog wat besonder verdag voorkom.

Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein!

Подняться наверх