Читать книгу Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein! - Etienne Leroux - Страница 11

5

Оглавление

Die toespraak van Amicus Achtung

(dogmaties van aard, soms geneig tot oorvereenvoudiging, méés­al ingestel op rasionele analise):

“Miskien het die tyd nou aangebreek, lord Sudden, lord Seldom, geëerde hoogwaardigheidsbekleders, en lede van ons groep …” Hy kyk na die groot piramide van veelkleurige rolbesetting met kwalik be­dekte misnoeë. “Miskien het die tyd aangebreek dat ons helderheid moet hê en fenomene moet versamel, klassifiseer en evalueer …”

Hy word onderbreek deur Le Grange wat met ’n dofslag van sy handskoene handeklap, en daarná deur ’n skril gejuig van die starlets. Kalm wag hy totdat die rumoer bedaar en die tablo tot rus kom, en toe gaan hy voort.

“Op 11 Desember 1899 het die slag van Magersfontein plaasgevind toe ongeveer 23 000 manskappe direk en indirek betrokke was in ’n kop-aan-kop-konfrontasie tussen Brittanje en die twee Republieke van Suid-Afrika, bekend as die Boeremagte. Duisende is gewond en het gesneuwel. Dit het uitgeloop op ’n oorwinning vir die Boeremagte, maar dit was ’n swart dag vir die toekoms want in terme van oorlogstegniek was dit ’n vóórspel tot die Eerste Wêreld­oorlog. In hierdie laaste ridderlike oorlog is tegnieke ontwikkel wat Magersfontein nie ’n slagveld gemaak het nie, maar ’n slagting vir die toekoms waarin miljoene twaalf jaar daarna hulle lewens sou verloor; en nog miljoene hulle einde in gaskamers en radioaktiewe bestraling twee-en-twintig jaar daarná sou vind.”

’n Respekvolle stilte aan die kant van die lede van die tablo wat hulle hoofde deemoedig laat sak by wyse van gedenking van die miljoene dooies terwyl die kameras draai.

“Maar hieroor later,” sê Amicus Achtung, “nadat ons besonderhede en implikasies in geslote konferensies ontrafel het.” En hy kyk in die rigting van dr. F. Laird wat, diep gevlei, ook haar hoof laat sak.

“Maar,” sê Amicus Achtung, “ek voel, miskien téén die beleid van my owerhede,” en hy kyk na lords Sudden en Seldom en die hoogwaardigheidsbekleders, “dat ons die slagveld van Magersfontein nie as ’n abstraksie moet benader nie, maar moet konsentreer op die vier sleutelfigure wat met ’n sekere mate van absurditeit hulle noodlotsbestemming vervul het: lord Methuen en generaal Piet Cronjé; generaal-majoor Andy Wauchope, liefling van Skotland, Laird van Niddrie Marischal en Yetholm, en die Leeu van die Noorde, gene­raal De la Rey. Die twee pare vyande het oor en weer in mekaar hulle alter ego’s gevind; hulle onderskeie swakhede en genialiteit het ’n stewige piramide gevorm; die onbetroubaarheid van geskiedskrywing het die twee ou manne die wit narre gemaak en die twee jonger manne die swart narre in hierdie tragikomiese kosmiese konfrontasie waar bloed in die suiderland gevloei het om weer eens te bewys dat ‘Hieronymo’s mad againe’.”

Luide applous van Le Grange.

Amicus Achtung wag totdat die entoesiasme van sy aanhanger bedaar. Waar het hy hom vantevore gesien? Hierdie man in sy be­sondere uniform?

En toe gaan hy voort.

“Ons het hier ’n kwartet,” sê hy, “twee ou manne wat in wysheid die foute van die verlede begaan; twee jonger manne in verset, wat kon improviseer. Die geskiedenis het die twee ou manne doodgemaak; die dood het die een jongman direk getref en die ander een indirek via die dood van sy seun.”

Amicus Achtung kyk na sy onbekende aanhanger in die tablo wat rusteloos word in die donkerte.

“‘There rises the hidden laughter of children in the foliage.’”

Die uitbundigheid van Le Grange se applous en entoesiasme is aan­steeklik. Selfs Gert Garries word uitgelate. Die skoonheidskonin­ginne en die aktrises van die onderskeie instansies, sowel as die ak­teurs, deel in die uitbundigheid.

Dit is tyd om huis toe te gaan, en Amicus Achtung besluit wyslik om sy toespraak op hierdie noot te beëindig.

Dis ’n groot gerusstelling vir hom dat die ensemble die dieper betekenis van die projek begryp.

Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein!

Подняться наверх