Читать книгу Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein! - Etienne Leroux - Страница 17

11

Оглавление

Op Sondag, 10 Desember 1899 het genl.-maj. Andrew Wauchope aan die hoof van sy Skotse infanterie in slagorde by wyse van demonstrasie in die rigting van Magersfontein beweeg. Maar daar was ’n doodse stilte aan die kant van die Boere. Wauchope op sy ge­liefkoosde merrie, versorg deur sy stalkneg, Jobson, het eers aan die linkerkant, en toe aan die regterkant van sy regiment gery. Sy mili­têre voorgevoel het die dood in die stilte aangevoel. Toe hy deur lord Methuen teruggeroep is omdat daar geen reaksie van Boerekant was nie, was daar volgens oorlewering die bleekheid van die komende dood op sy gesig. Die hewige bombardement daarna met skeeps­kanonne en alle beskikbare artillerie op die koppie Magersfontein, wat geduur het vanaf twee-uur nm. tot skemer, sou alles vernietig. Lord Methuen het al sy groot ammunisie uitgeput op zombies. Dolomiet het die lug in geskiet. Magersfonteinkoppie is fyngemaal en vermorsel. In die middel van die nag sou die groot aanslag begin, gelei deur die liefling van Skotland en die Black Watch.

Maar die liefling van Skotland, Andrew Wauchope, het met ’n Keltiese voorgevoel wat in rasseherinnering aan die heilige eike wortel, en met sy ondervinding van Afrika en eksotiese wêrelddele, ook ’n rapsie van die swart magie in hom gehad. Op slot van sake het hy vir dertig jaar lank die geleentheid gehad om op verskeie slagvelde die onvoorspelbaarheid van Afrika te peil in die soort genie van iemand soos genl. De la Rey, sy teenstander wat hy nooit met ’n oog gewaar het nie en wat nie eens teenwoordig was met die triomf van die Boeremagte by Magersfontein nie: ’n mede-Protestant, ’n onheilspellende Doppelgänger wat sy dood waardig aan die tradisie van uitverkore militêre helde gemaak het.

Op die vlaktes van Magersfontein, op pad na sy dood, het genl.-maj. Andrew Wauchope sy onsigbare metgesel en vyand in De la Rey gehad wat hy telkens in ander gevorm gevind het: in die moe­rasse voor Kimasi, in die dorstige Soedan, op die Nyl na Khartoem, by die wilde Cipriote, by El Teb, Amoaful en Kirbekan. Op 19 Julie 1889 was De la Rey aan sy sy by Port Said, sowel as ’n medereisiger via Luxor per trein na Shillal, en dan per boot na Wady Halfa, en dan na Abu Hamed, na Berber, en dan na Darmali. Die spook van De la Rey was langs hom toe hy by Kirbekan gewond is.

As jy op Sondag, 10 Desember die premonisie van dood het, he­r­ken jy jou dubbelganger. Dis miskien die rede waarom hy daardie Sondagnag sy leier, lord Methuen, gekonfronteer en sy vertwyfelings uitgespreek het.

Maar soos ’n goeie prefek in ’n public school het hy geluister na die hoofseun, Methuen, en Maandag, 11 Desember sy opmars aan die hoof van die room van Skotland in geslote geledere begin. Twee-uur voormiddag op ’n bloumaandag.

Anders as sy dubbelganger, De la Rey, het hy nie sy owerhede uitgedaag nie.

De la Rey het genl. Cronjé uitgedaag en sy inspirasie het geseë­vier. Genl. Wauchope het hom volgens militêre dissipline neergelê by die beslissing van lord Methuen, sy owerhede, en sy helde. En toe het die dubbelgangers se weë geskei. En toe was dit vir De la Rey maklik om Wauchope dood te maak.

Dis in die aard van dubbelgangers om hulle ewebeelde dood te maak as hulle weë skei.

Dis ook kenmerkend van hierdie soort misterie dat die militêre heiliges vér van mekaar begrawe word. Dat Magersfontein ’n leë terrein is. Dat uit die oorlogsmonument – ’n angswekkende en ont­roerende panorama, selfs vreemder as die Vallei van die Eensame Ge­sneuweldes in Spanje – weens ’n besluit van die Monumente­kommissie alle helde verwyder is na tuine in stede en vakansie-oorde. Daarom is die Magersfonteinkoppie (200 meter hoog) en die verlate vlakte soveel aandoenliker.

Daarom is daar werklik geen geluid van doedelsakke nie.

Die vlaktes is leeg. Gert Garries se weeklag neem enorme afmetings aan. Die hasjisjdrome van Marigold Rosemary skreeu deur die ruimte. Die doodgewone orgie van die projekgangers is ’n flou gefluister teen die agtergrond van ’n ware hartstog ongeveer 74 jaar gelede.

Môre-oggend sal die hotel ’n Engelse brekfis verskaf. Bacon and eggs. Bacon crisp.

Die projek het ’n formidabele taak.

Die rokke van die Hooglanders fladder in die wind.

Die pype van die Boere lê op Bybels in die Magersfontein­museum.

Grynsende poppe stel die weermagte voor. ’n Boer en ’n Brit.

Daar is ’n boek in die museum wat kommentaar van besoekers ontvang.

“R.I.P.,” skryf ’n Jood. (Hy en sy dooies het erger lyding as hierdie gesien.)

“Fuck you all!” skryf ’n onbekende tiener.

Hy hou nie van oorlog nie, en hy beskou dit as ’n astrante misbruik van geld om militêre geweld in 1974 te vereer.

Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein!

Подняться наверх