Читать книгу Die biblioteek aan die einde van die wêreld - Etienne van Heerden - Страница 11

5

Оглавление

Die boekwinkel agter die swart deur

’n Sms blits op Ian se iPhone:

Met verwysing na jou stuk in Huffington Post vanmôre:

Bly weg van sigbewaking.

Jy is agter die kaplyn.

Bly weg van die Lab.

Of wil jy albei knieë verloor?

#

Van wie?

Eers dag hy dis sy Glaspaleisvennoot Rudolph, immer ongeesdriftig oor wat Rudolph Ian se akademiese en onpraktyksgerigte regsbenadering noem, sy voorliefde vir snykante en ongekaarte terrein, vir konferensies en rockets wat opgeskiet word.

“Jy’s definitief nie ’n ou vir low-hanging fruit nie,” het Rudolph hom eendag toegesnou in een van daardie tipiese sakeclichés wat jy om vergadertafels hoor. “Het jy al ooit ’n regte egte hot streak gehad terwyl jy hier was? Jou kop is te veel in die wolke, Ian.”

Maar nee, Rudolph sal nie weet wat ’n kaplyn is om sy lewe te red nie. Hy’t nie destyds Grensdiens gedoen nie. “Plat voete – ’n G3,” was sy verduideliking. “Te vals vir die Kanaries en toe maar pen gestoot in hoofkwartier en varkpanne blink geëet.”

Ian haas hom na sy skootrekenaar. Sy opiniestuk in Huffington. Die vorige aand gepen en geplaas. ’n Stuk oor gesigsherkenning en bestaande wetgewing.

Onder meer:

My voorlopige navorsing: Wat die VSA betref, is dit skynbaar net die state Texas en Illinois wat private maatskappye verbied om mense aan hul gesigte op te spoor. Wetstoepassers is egter vry van enige federale of staatswette in hierdie opsig.

Suid-Afrika?

Só het sy stuk geeïndig.

#

Kan dit een van Grotius se eie manne wees wat nie van Ian hou nie en Ian wil uitskouer uit die opdrag?

Of die een of ander aktivis?

Hy dink terug aan hul gesprek in die Glaspaleis toe hy sy nuwe kliënte gevra het: “Wat is die moontlikheid dat etiekdrukgroepe teen kunsmatige intelligensie in Suid-Afrika aan die ontstaan is? Enige tekens daarvan onder akademici? Enige debat, by ’n konferensie dalk, of op sosiale media?”

Goue Das: “Vir seker wil ons nie belê in iets wat binne ’n paar jaar die wind van voor kry nie.”

Kwasiprofessor: “Nie ’n deuntjie op die konferensies wat ék bywoon nie.”

Goue Das: “Watter geek in ’n ontwikkelende ekonomie soos ons s’n gaan verraad pleeg teen die Vierde Nywerheidsrevolusie? Bring hom vir my.”

“Geen drukgroepe nie?”

“Wel, ons weet nie.”

“Onwaarskynlik dat daar nie iewers ’n aktivis of drie is wat begaan is nie.”

“Goed, indien daar wel nou reeds sulke aktiviste of bekommerde akademici is, wat is hul finansomstandighede? Kan hulle geneutraliseer word?”

“Koop die bliksems.” Die aandagafleibare Goue Das, wat opeens agtertoe oor sy eie skouer loer. Asof hy nog ’n low-flying Boeing verwag.

“Agter verontwaardiging sit meestal jaloesie,” sê Ian.

Die Goue Das skiet ’n wysvinger na Ian uit: “Jy’s my man!” En onmiddellik: “Ons koop daai aktiviste uit. Geld sal praat. Elke man het sy prys. Jy kan hulle identifiseer en met hulle praat.

“Ons kan selfs ’n bekommerde NGO’tjie vir hulle stig en befonds om hulle besig en onder die indruk te hou dat hulle belangrike werk in hierdie verband doen. Dan kan ons ons gang gaan en hulle nou en dan ’n spreekbeurt gee …” ’n Vlieg kom sit op sy hand en Ian waai dit verskonend weg. “Terwyl … jy …”

“Nee, nee,” keer Ian. “Nee, julle moet verstaan, as regspraktisyn gaan ek nie dáár nie.”

“Wel, jy kan private ondersoekers …”

“Nee. Nee, ek is jammer. Ons is nie daardie soort firma nie. Dis nie ons styl nie.”

Goue Das: “Kyk, ons wil ’n filiaal stig net vir hierdie projek, jy kan op die direksie sit, ons bied jou …”

“Nee, nee, dankie.”

“Ons het moerse backers. Hulle wil gesigloos bly. Anonieme saadkapitaal. Ons kan nie die name vir jou noem nie. Maar dis nie mense sonder wingerde en resiesperde en ’n stoel in Davos nie.”

In sy ore het Ian die geklapper van helikopters gehoor – só het hul stemme vir hom geklink. En hy’t droë veld en bloed geruik.

Daar sit die Goue Das, soos ’n meerkat in sy eie woestyn van rondomskrik.

“Geen norm bestaan nog nie,” sê Ian. “Maar kom ek speel duiwelsadvokaat, dan sien julle wat die ander kant gaan sê. As jy byvoorbeeld iedere dag in jou buurtkafee ingaan, of as jy elke dag dieselfde straat afstap werk toe, verby ’n private woning met so ’n stelsel, wil jy hê dat ’n kamera jou gesig herken en ’n loglys op die eienaar se rekenaar laat toon presies wie jy is en wanneer jy waar was?

“As dit gekoppel word aan jou kredietkaartbesteding by die kasregister (swipe en kiek!) kan die rekord selfs wys wat jy vir hoeveel gekoop het.

“Maar. Maar. Die voordeel, en julle verkoopspunt: As mens die polisie se mugshot-argief kan invoer, sal enige persoon met ’n kriminele rekord soos ’n wolf in ’n skaapkraal opval!”

“Skend dit jou privaat regte?”

“Maar natuurlik!”

Die alpha male kug. Lig sy wenkbroue na sy kollegas. Priester knik. “Wat is die tegniese realiteite,” vra hy, “rondom ’n kunsmatige intelligensiestelsel wat deur die private sektor gebou word, los van die staat se dophousagteware? As besighede saamspan, van die buurtkafee tot die supermarkte, die private woningeienaars en boetieks? Restaurante? In ’n restaurant – die bestuurder gaan mos onmiddellik sien wie sy kliënte op die vloer is vanaand. Is daar ’n belangrike man in die huis vanaand? Ekstra aandag aan tafel 12!”

Ian haal sy skouers op. “Daar is baie vrae wat wag.”

Goue Das: “Ek kan sien jy wys nie jou hand nie, maar goed. Dis hoekom ons jou wil huur. Ons kan 100 000 eenhede laat vervaardig en nét so verkoop. Die sagteware in Pudong wag om gekoop te word. Omtrent elke sekuriteitslandgoed in die Wes-Kaap stel belang in bewakingstoesig. Die meeste van Stellenbosch se woonbuurte sal val. Potch. Northcliff.

“Ons het reeds ons huiswerk gedoen.”

“Maar hoe lank voordat die eerste privaatheidskendinggeding kom?” sê-vra Ian.

“Het,” wonder die buitengewone hoogleraar, “’n krimineel soos daardie boogskieter ’n reg op privaatheid? Hoe kan dit?”

#

Lank staar Ian na sy Huffington Post-stuk – ’n bespiegelende artikel wat geen vinger wys nie, maar in breë trekke handel oor die reg se plig om met tegnologie by te hou.

En net terloops verwys na sigbewaking en privaatheid.

Klaarblyklik is hier op tone getrap, maar wie se tone?

Hy besluit om niks oor die dreigboodskap te sê nie – nie vir Elizabeth of Rudolph (veral nie!) of Grotius of wie ook al nie.

Nie vir sy ouers daar in Welgemoed nie. Veral ook nie vir sy ma nie, wat sedert sy dienspligtyd op die Grens jaloers oor hom waak.

Wat hom betref: nou eers Boedapest.

#

“Ek is op pad Boedapest toe,” sê Ian aan die seminaargroep. “Na ’n datafees vir ontwikkelende lande. Ek sal verslag doen oor als wanneer ek terug is.”

Hy kyk eers na Thuli en dan na die dosent wat hom altyd die gevoel gee dat hy nie weet hoe om hom te takseer nie. Hy sien dit in die manier waarop die dosent hom altyd groet met – op Ian se oor af – ’n lig-ironiese “Hi”.

Asof hy bedoel: “Bye.”

Dis die manier van doen in hierdie Engels-koloniale gange, het Ian gou ontdek nadat hy hier begin klas draf het. “Hi,” met net die regte intonasie van afstandelikheid en erkenning.

Die klas kyk katvoet na hom. Dis asof hulle reeds weet wat kom. “Boedapest is juis gekies,” gaan hy voort, “weens die stad se geskiedenis onder die Nazi’s en die Kommuniste.

“Ons almal weet hoedat daardie stelsels destyds freneties boekgehou het van hul onderlinge en dié se gewaande oortredings. En noudat die kommunisme en die fascisme oral gediskrediteer is …” (hy wou byvoeg: behalwe in Venezuela en Suid-Afrika natuurlik, maar het maar om vredesonthalwe stilgebly) “… is datadiktatorskappe, as ek dit so mag noem, ons nuwe gevaar. Die nuwe kolonialisme.”

Niemand reageer nie. Gelade terme.

“Dis ’n kongres,” gaan Ian voort, “wat wil kyk na die snykante tussen drukgroepe, saadkapitaliste, regerings.” Hy kyk om hom. “Na die etiek van instemming. Na die moontlike illusie dat tegnologie gemeenskappe met ’n geweldige kloof tussen ryk en arm – en Suid-Afrika het die diepste kloof ter wêreld – polities kan help. Ons sal krities kyk na die Afrika-toepaslikheid van sogenaamde data-humanitêre argumente.” Uitdrukkinglose gesigte. Dit waarvan hy praat, lê ver van hierdie middag met sy reuk van die suidooster wat oor die berg stoot en warm klip hier teen Duiwelspiek op, die geur van bordkryt en traangas. “Na spraakvryheid en privaatheid en die regsprobleme en menseregteskendings wat uit tegnologiese ontwikkelings mag spruit.”

“Hoekom sal jou konferensie ons interesseer?”

Thuli.

Hy trek eers ’n diep teug asem in. Swaar en troebel en lou soos die lug in hierdie seminaarkamer is teen dié tyd van die middag. Hy kan nie sê wat hy graag sou wou nie. Dat terwyl faksies in Suid-Afrika uitspeel, daar ’n groter wêreldkrisis is oor die toekomstige rol van tegnologie – ’n krisis wat die huishoudelike politieke moleste na kinderspeletjies laat lyk. Taboe. Stilbly daaroor, eerder. Want dit sal met ontsteltenis aangehoor word: Wil jy sê die swaarkry, die pyn van ons mense, is kinderspeletjies? Hy hoor dit al.

Eerder ’n ander hoek: “Wel, julle het seker gelees van die skrywer wat onlangs haar boek uit die mark moes onttrek omdat sy in die oë van die Menseregtekommissie kwetsende bewerings oor gays gemaak het.

“Ons praat elke keer in hierdie klas oor vryheid van spraak. Oor veilige ruimtes. Oor wat jy op sosiale media mag sê en wat nie.”

Komaan, Thuli, jy is die voorbok!

“Daar was mense wat gevoel het dat nes gays in die oë van ons grondwet die reg het om te wees wie hulle is, die grondwet in gelyke mate ook die regte behoort te beskerm van mense wat openlik verklaar dat hulle vanuit húl geloofsraamwerk negatief voel oor gays se seksuele oriëntasie.

“Is een se regte dan belangriker as die ander? En behoort sulke opinies verduur te word op die internet? Mag jy sulke private oortuigings in die digitale ruimte deel; dit openbaar maak?

“Die konferensie gaan oor sulke sake.”

“Vir my klink dit na ’n hutspot van ’n konferensie,” blits Thuli weer. “Asof hulle nie weet waaroor hulle wíl praat nie. Ek weet nog nie waaroor dit gaan nie.”

“Presies,” skiet Ian na haar uit. “Dis omdat dit ongekaarte terrein is. Ek het gesê dis ’n multidissiplinêre konferensie.

“En hulle is bereid om die eensillabige sekerhede van politieke slagspreuke te systap en te tob oor wat op die wêreld wag.”

Hy kyk na sy klasmaats. Almal het verstyf.

Hulle sien klaarblyklik sy woorde as ’n handskoen, neergewerp.

Voor die voete van Thuli.

’n Uitdaging.

“Eensillabig!!”

Woedende Thuli.

#

“Die konferensie is verkennend, en ek gaan as regsgeleerde. Op ’n paneel oor databeheer in Suid-Afrika.

“As julle belangstel, kan ek volledig rapporteer wanneer ek terug is.

“Soos julle weet, is data die nuwe olie.

“Wie ook al data besit vorentoe, gaan die res van die wêreld koloniseer. En dan vra mens mos hoe gaan dekolonisering in só ’n verband lyk? Hoe gaan die mensdom losbreek van grootdata-eienaars se beheer oor en uitbuiting van hulle? Hoe gaan kunsmatige intelligensie gereguleer word?”

“En wat dink julle,” roep Thuli teenoor die klas uit, “van hierdie airy-fairy konferensie terwyl mense net hier onder die kampus sonder kos onder warm sink krepeer?”

Maar niemand reageer nie. Die dosent kug en hou hom besig met die stapeltjie boeke voor hom. ’n Hek na ’n mynveld is oopgemaak en Ian se klasgenote kyk óf met pokergesigte na hom, óf vroetel met hul notas en penne. Thuli kyk afwagtend na doktor Eliot.

Die dosent verwag van hul klasgroep om nie net woorde uit een taal na ’n ander te vertaal en die teorie onderliggend aan vertaalpraktyk te begryp nie, maar ook om “die ware lewe na teks te vertaal”.

En omdat dinge op die kampus so akuut geword het, het die seminare gou-gou meer begin handel oor hoe jy aktualiteit na teks vertaal, eerder as teks na teks.

Doktor Eliot het nie op hom laat wag nie. “Om te kyk, om te verstaan, om te lewe, is ’n manier van vertaling, van onderhandeling met die wêreld. Dan nie?”

Hy was ’n ernstige jong man, baie Engels, hy verduidelik als in sy privaatskoolaksent.

Ian dink hy het doktor Eliot die skrik op die lyf gejaag toe hulle ’n tydjie gelede die verskuiwing van die standbeeld van Cecil John Rhodes van sy sentrale posisie op Bo-kampus bespreek en Ian opmerk: “Vir my as Afrikaner was dit wonderbaarlik om die ou poephol aan ’n hyskraantou te sien swaai.”

Dit is voor #RhodesMustFall vervel het na #FeesMustFall en toe na #ScienceMustFall en daarna #CastleMustFall en #ShackvilleTRC en terselfdertyd #PatriarchyMustFall. Die koloniale Britte, kapitalisme, die Kasteel, Jan van Riebeeck en selfs Newton en Westerse fisika het nou een en almal ’n slegte naam.

Dit het natuurlik gegaan oor Rhodes se standbeeld wat, nadat ’n studenteaktivis eers ’n emmer vol riool daarop uitgegooi het, met ’n hyskraan van sy voetstuk gelig is en laat sak is op die bak van ’n lorrie. ’n Massa studente het die straat vol gestaan en tot ver oor die rugbyvelde opgedam. Die universiteit se senior bestuur – oorwegend wit en Engelssprekend – was teenwoordig met wisselende emosies wat oor hul gesigte flikker. Een van hulle het selfs ’n onbeholpe toyi-toyi-dansie aangedurf, maar dit halfhartig laat vaar toe ’n student op die trok spring en Cecil John se gesig met ’n plank begin donner.

Weer en weer het die plank die kolonialis se gesig getref.

Die slimfone, omhoog gehou deur ’n see van arms, het gretig gevreet.

Ja, dit was die begin van wat kolonialiste in vervloë tye, in ander streke en in ander eras, “The Troubles” of “restiveness” of “insurgency” genoem het.

Hier, nou, het dit ander name.

Toe hy daardie dag sy vreugde oor Rhodes se val met die klas deel en daarby toevoeg dat wit Afrikaners soos hy nes die swart studente voel dat hulle subtiel op die kampus ge-other word, het Thuli na hom gekyk en gesê: “Witheid het binne sigself sy eie kontradiksies.”

Doktor Eliot het versigtig sy bril op die brug van sy neus teruggestoot. “Maar,” vra hy, “het die kultuur wat gedurende die koloniale era geskep is, nog enige waarde? Die skilderye, die standbeelde. Die boeke? Hoe vertaal ons onsself na ’n nuwe ruimte? Deur die kulturele produkte van ’n vorige era te verbrand? Nie?”

Eliot het kennelik verwys na die dag toe ’n spul skilderye van kampusgeboue se mure afgepluk en op Bo-kampus verbrand is naas die impromptu plakkershut wat studente onderaan die Jameson-saal se trappe opgerig en terstond Shackville gedoop het.

Ian-hulle is die vorige week versoek om ’n stuk te skryf waarin hulle hul eie kulturele perspektief gee op “die situasie”.

Hy het keel skoongemaak. “Mag ek my stukkie van die dag lees? Ek dink dit fokus op daardie presiese vraag.”

“Sekerlik, Ian. Gaan voort.”

Ian het natuurlik vooraf geweet wat sy klasmaats sou aandra klas toe. Vroeër het sommige van hulle stukke gebring wat hy so in sy enigheid die Wailing Wall of Whiteness genoem het. Afgewaterde stukke, bloedloos van die politieke korrektheid. Prosa wat na sy mening net sowel voortgebring kon gewees het in Melbourne, Massachusetts of Wellington, Nieu-Seeland. Tekste te koop in die internasionale shopping mall van opinie. Geen tekstuur van hier en nou nie.

Waar het hulle en hul monolinguistiese southern suburb-ouers gewoon? In Afrika?

Vir hom was dit asof hierdie jong mense ’n tuiste in niemandsland gesoek het.

Hy was vasbeslote, daardie môre, om die dissident te wees.

“Vir wat dit werd is,” het hy weggespring met sy teks van die dag. “Baie mense is bang dat die Afrikaanse kultuur, my kultuur, nie gaan oorleef nie weens die sondes van die verlede.

“Maar ek is van mening dat die kultuur sal oorlewe weens die aanwesigheid van skuld. Skuld, en die loodswaarheid daarvan, voed die kultuur met diepte en pyn.

“Jy voel die resonansie van ’n verkeerde verlede wanneer jy groot stede soos Boedapest en Berlyn binnery. Selfs Rome.

“Die krag en karakter van sulke stede is nie te danke aan die inwoners se goeie dade in die verlede nie. Inteendeel, die gravitas van so ’n stad is te danke aan die misdade van die geskiedenis.

“En die intensiteit waarmee die vergrypers se nageslagte onverskrokke stoei met hul erfenis en hul plek in ’n nuwe omgewing.

“Dis wat jy aanvoel wanneer jy deur só ’n stad stap. ’n Stad van aandadigheid en selfondersoek.

“’n Groot kultuur.

“Is ons eie stad, Kaapstad, al daar? Of is ons nog nie dapper genoeg nie? Is daar dan nog te veel ontkenning en taboes wat ons monde snoer?

“Ek dink ons sal daar kom.

“Om hierdie rede is ek ’n kultuuroptimis. Ons kan die boeke nou verbrand, sekerlik, ons kan skoonmaak, ons kan die skilderye toespyker, maar die skaduwee gaan oorleef.

“Dis die Afrikaner se sondes en hoe ’n jonger generasie dit in die oë gaan kyk sonder om hulself te verloën wat hom in die toekoms interessant gaan maak.

“’n Lelike geskiedenis, maar ’n lewende, teenwoordige skaduwee wat hierdie land nooit sal verlaat nie.”

Toe hy klaar voorgelees het, neem dit hom ’n rukkie om te besef dat sy klasmaters oorbluf na hom staar.

“Witheid sal profyt maak uit selfs sy grootste sondes. Nes prokureurs uit die misdade van ander.” Thuli. Sy kyk na doktor Eliot wat nog niks gesê het om Ian se gedagtes te kenter nie. “Daar is ’n term vir die styl van ouskooldosente,” bits sy met haar oë beskuldigend op doktor Eliot.

“Repressive tolerance.

“Haven’t you read Marcuse?”

“Slam dunk,” brom Ian.

#

Dit, dan, is Ian se vriendskap met Thuli. Sy klap die sweep, en hy beter sjaddap.

Hoe durf hy, sien hy in haar blik, die Afrikaner-ding hier opper? Nou? Van alle plekke, op hierdie kampus?

Uit met die pepersproei!

Hy’t self ’n kannetjie pepersproei aangeskaf en in ’n onbewaakte oomblik hierdie feit teenoor sy ouers laat glip een Sondagmiddagete.

“Ek mag my dit verbeel, maar ’n figuur in verskillende gedaantes agtervolg my … die laaste dae … by tye. Dalk is dit Rudolph Nortier wat my laat dophou. Sedert hy daardie klasaksie van belastingbetalers teen SARS dryf, het hy …” Ian veeg oor sy mond. “Dis so ’n hoogs geheime geding dat hy … Ek dink hy’s uit sy diepte en … Noudat Pravin Gordhan in die pad gesteek is … Faksies het … Boonop dreig Helen Zille sy wil ’n belastingboikot lei omdat die regering so korrup …”

“’n Wát?” Sy pa se kop het opgeruk.

“Ag, nee,” het sy ma geantwoord.

“’n Figuur …”

“In verskillende gedaantes, sê jy?” Sy pa se deurdringende oë. Veteraan van moeilike vergaderings. Dis welbekend dat Ian Brand senior binne oomblikke met vier of vyf indringende vrae tot op die been kan sny.

“Ja,” en Ian veeg oor sy oë. ’n Goeie Kanonkop-rooi betrap hom onkant vandag hier aan sy ouers se etenstafel. Hy’s vatbaar, tans, hy’s op losse skroewe. “Ek het destyds met koverte opleiding … toe hulle ons … Die opleiding was deeglik wat agtervolging betref, ook later in stedelike gebiede, toe ons dag MK …”

Daardie paar maande in Pretoria en Johannesburg, pas terug van die Grens. Handuitgesoek en vinnig weer ontslaan toe hy …

#

Hy’t sy ouers destyds nooit vertel van daardie avontuur van die weermag waarvan hy deel was nie, toe dinge tussen die sogenaamde veiligheidsmagte begin vervloei het en die weermag … Hy’t selfs vlootoplei- …

Laat dit daar. Laat dit waar dit hoort – in die doofpot.

Sy ma se hand kom lê nou op syne waar hy, sonder dat hy dit besef, ritmies met sy mes teen die rand van sy bord tik. Rat-a-tat. Soos masjiengeweervuur.

Rat-a-tat Thuli.

Rat-a-tat Stephen Eliot. Rat-a-tat Rudolph Nortier.

Die kantelhelikopter van sy vennootskap met daardie vlakkeling, Nortier.

“Toe die weermag dag MK gaan groepe in stede ontplooi vir kommando-aanvalle, toe …”

Sy ma het bekommerd na sy pa gekyk.

“Ian,” het sy aan sy pa gesê, “ons seun …”

“Nee, Ma.” Ian junior het hom vererg. “Als is reg, Ma. Moenie skrik nie. Nie weer nie.”

“Gedaantes,” het sy pa afgevuur en dieprooi wyn het in Ian junior se glas gestort.

“As ek in die stad stap. Op pad kampus toe. By die woonstel. Net ’n paar kere.”

“Verskillende gedáántes?”

“Ja, definitief dieselfde mens. Maar elke keer anders aangetrek. En … vermom.”

“En jy dink dis SARS se kapers?”

“Nee, nee. Maar Rudolph is so agterdogtig oor wie en wat deesdae …”

“Gedaantes? Jy dink jou eie vennoot laat jou agtervolg? Het jy al gehoor van die Prokureursorde?”

“Ja, Pa. Dieselfde skeefgetrekte skouer. So een kant opgetrek, die skouer. So ’n vreemde liggaamshouding. Veral as die man wegstap, eien mens só ’n loop dadelik. Daar gaan die ou met die krapstappie. Vandag weer met ’n ander pruik op sy kop.”

“Is jý besig met sensitiewe regswerk?”

Ian dink: Ek kan hulle vertel van daardie due diligence met die oog op ’n oorname. ’n Groot mediamaatskappy koop ’n kleintjie, ’n startup. Die olifant en die muis. En toe die koopprys te hoog is, en te hoog bly, en die muis vasskop, gaan daar skielik op Twitter ’n klag teen die klein maatskappy op. Bron onbekend. Sy waarde val. Die olifant en die muis. Hulle? sal sy pa vra. Nee. Nee wat, Pa.

Maar van die dreig-sms en die Goue Das en die Lab sal hy hulle nie vertel nie. Die ouens van Stellenbosch. Nee, sy pa is ouskool. Gou op die foon. Van watter De Groottes is hierdie kêrel met die goue das? Hy hoor sy pa al.

Hy’t na sy pa gekyk en sy kop geskud. “Nee. Nee wat. Roetinegoed.”

“Dan verbeel jy jou dit,” het sy pa kortaf geantwoord. Sy pa het altyd geëet met ’n spierwit servet tot onder sy kin opgebind. Nou’t hy ’n snapsie kos daarvan afgepik, versigtig, en dit mond toe verwyder.

“Jy werk onder druk.”

“Jy moet afskaal, seun,” het sy ma sag geantwoord. “Anders kry ons weer ’n epi- …”

“Gaan draf elke dag,” snou sy pa hom toe. “Draf die bossies uit jou kop uit. En dis ’n opdrag.”

En as nagedagte:

“Ian. Rudolph Nortier kom uit ’n goeie familie. Die Nortiers van die Swartland doen nie sulke truuks nie.

“Gaan draf. Dit het laas gehelp. Nie waar nie?”

“Ja, Pa.”

Sy pa kan ’n gedweëndheid uit hom kry, al is hy nou ook ’n uitgegroeide man.

Ian Brand senior: “Nou ja, toe. Kom ons dank. Of is daar nog poeding, Ma?”

#

Doktor Eliot kug. Ek is effe laat. Ian Brand sit al reg om te begin met sy seminaarstuk. Nes ’n springhaas op sy agterpote. “Mister Ma Man,” groet doktor Eliot my met daardie aksent wat hy sy esse effe lisp, nes hulle in movies maak.

Kan hy regtig nie Maarman regkry nie? Bietjie oefen daar in sy kantoor?

Ian Brand skuif reg. Hier kom weer ’n brander, voel die klas aan. Doktor Eliot knik na hom. “You may begin.”

“Kyk,” sê Ian Brand. “Ons almal weet Afrikaans is die eerste keer in Arabiese skrif geskryf, in die Bo-Kaap. Weet ons almal dit?” Hy kyk om hom, maar niemand reageer nie. Ek kyk af, na my hande. “Die eerste Afrikaanse skool,” gaan hy voort, “was in die Bo-Kaap. Meer as die helfte van Afrikaans se sprekers is bruin of swart.”

Ek wil sommer nou al sê fokkof Brand.

Ian Brand trot die lysie uit wat die wittes altyd uithaal om hul taal te sanitize. Hy kyk aanhoudend na my, en ek wag, want ek weet wat kom.

“Nou toe kaap die Nasionale Party die taal en suiwer hom tot woordeboek-Afrikaans, tot ’n wit taal, die taal van nasionalisme en apartheidswetgewing.

“En die bruin sprekers, wel, die wit kultuurestablishment se rug word op húlle gedraai.”

En soos in ’n soapie draai Ian Brand sy kop na my.

“Hier sit ek en Jerome Maarman,” sê hy. Hy kyk na my. “En ons is al twee Afrikaans. ’n Taal van vele tonge. Hy praat sy eie Afrikaans. Dis nie eg Kaaps nie. Daar is spore van Kaaps, maar ook Noord-Kaapse Afrikaans. Ek praat my eie variant. Ek praat wat altyd Standaardafrikaans genoem is.

“Maar ons is albei Afrikaans.

“En daar is nuwe energie met die nuwe bewustheid van taalvariante en Kaaps as …”

Ek val hom in die rede. Ek kyk na doktor Eliot.

Ek hoor Thuli se stem in my ore. I find it offensive.

Ek kyk op, ek kyk na Ian Brand. Ek kyk na doktor Eliot.

“I find it offensive,” sê ek.

“To be co-opted this way,” voeg Thuli soos blits by.

Ek kyk af. En knik. “To be co-opted this way,” herhaal ek.

Eliot kyk na Ian Brand. Na Thuli. Na my. Eliot weet sy tyd is verby.

Trump en sy cronies gaan die slagaar van sy soort liberalisme afsny. Geert Wilders in Holland. Daai Franse vrou.

Nuwe man in Brasilië aan die kom. Ook Erdogan. Putin.

Trump!

Al daai white privilege waaraan hulle gebou het, die fyn cathedral van point en counterpoint, die checks and balances van die liberal mind; daai groot citadel wat eintlik ’n fortress van privilege is (Thuli), daai katedraal gaan brand.

Daai kasteel is in sy moer.

Julle sogenaamde verdraagsaamheid was net ’n bloedsuigery.

Ek ruik brand, Ian Brand. Kyk hoe sit jy daar. Doktor Eliot, hoor jy my ook? Ek ruik brand.

Nes die ruik van brand as ’n kers omval in Fagan’s Farm, een nag as die suidooster swart en roekeloos swaai oor blikkiesdorp se hokke. Wanneer iemand dronkgat steier en ’n kers omstamp oor ’n kombers en die vlamme soek-soek eers, peusel aan die lakens en die ou koerante en begin dan loop oor die mure en as dit wind vat, skeur die vuur deur die opgevrotte lean-to wendyhouses en die pale wat die hokke stut en mense vlug, want die vuur spring nou van shack tot shack.

Die vuur hardloop deur Fagan’s Farm, ek ruik daardie volgende môre, Ian Brand en doktor Eliot, ek ruik die asmôre wanneer mense verdwaas tussen hope sinkplaat en smeulende as rondstaan, as die wind die as opdwarrel oor kinders wat vol roet tussen lou sinkplate rondploeter en mense begin krap in die warm as, om te salvage wat te redde is.

Om ’n paal wat nog kan staan, uit te trek, ’n stuk draad op te rol, ’n sinkplaat uit die asbanke te sleep.

Om spykers, wat nog warm is, uit verkoolde houtpale te trek.

Om weer te begin bou, want die nag lê voor. Oordag hamer dit, die plate is nog louwarm dan word hulle al weer ingekap. Die workers se hande is swart van die houtskool. Fagan’s Farm word herbou; hierdie suburb van sukkel. Die plek wat die academics en die town planners starter housing noem.

Die mense op die council se waglys bou weer hul wagkamers.

Die landless trek sinkplaat oor hul koppe.

Hulle wag.

Dit, doktor Eliot, ruik ek, Jerome Maarman. Ek ruik dit hier in jou klas.

Die asse van die volgende môre. Die dazed morning after-asse.

As, doktor, as alles.

Gooi maar jou tale, gooi maar jou frases. Gooi maar jou reason en jou fancy-geid.

As.

Die swart suidooster gaan met jou ook klaarspeel.

“Julle mense,” sê ek aan Ian Brand, en dis asof ek ’n vuurkool uit my mond voel kom. Dis die eerste Afrikaanse woorde wat ek in hierdie seminaar, eintlik in hierdie gebóú, uitspreek.

Net so verstom kyk hy na my. Nie oor wát ek gesê het nie, maar oor die warm kool, hierdie alien language, wat uit my mond val en op die papier op die tafel voor my lê, en ’n rokerige gat daarin begin smeul.

#

hy spaar nie op die geld rondgooi nie nes daai ryk toeriste by die lord milner in matjiesfontein haal hy uit en wys larney plekke en toe die dag

#

hou hom behoorlik in die oog in die week wat kom hier is jou uber-geld of vat solomons taxi hy vra nie vrae nie daar is hy nou waar hy altyd alleen uitswem die yskoue water keer hom nie en hy stroop hom en ek sien die spiere op die rug die werwelknoppe en daar die plek by die bladbeen net daar nes jy ’n kol daarop geverf het my oog gooi daar ’n kol

#

hy loop see toe en stap in en met lang hale swem hy uit tot later net sy kop uitsteek die blink see ry hom die man bestem vir die dood hy weet nie die pyl brand in my nie hy kom nat terug en doek hom af en lê nie in die son nie

#

hy stap deur die sand goeie bene en klim in sy rooi alfa en ry weg ek ruik die seegras en ek dag dit ruik soos bloed wanneer ’n hond oopskeur jy ruik ook tussenin drol soos die maag ooppeul en dan is hy weg die son wat blits op die alfa se agterruit weg stad toe na sy

#

glaspaleis.

#

“Charmant petit bar – librairie,” hoor Thuli een van die Franse in hul groepie aan ’n ander sê toe hulle op ’n dag oor boekwinkels in Shanghai sit en gesels. Daar in die boomryke Franse Konsessie, in Hunan-weg, daar lê die boekwinkel agter die swart deur, ver van die International Bookshop digby haar blyplek wat Thuli so graag besoek. Hierdie boekwinkel met die swart deur is versteek tussen die stege en die Tudor-villas van afgetrede partyleiers en die boetiekwinkeltjies waar jy die meestal onbekostigbare eksperimente van jong Shanghaise ontwerpers kan gaan besnuffel. Nie ver nie van die onmerkwaardige vaal gebou in Xingye-weg waar die Chinese Kommunistiese Party, verneem sy, in 1921 gestig is en ’n entjie se stap van die Fuxing-park met sy dromerige wutong-bome. Katte, hoor sy oor die boekwinkel. Engelse boeke ook. ’n Agtertuin met lekker stoele en kussings. ’n Basiese spyskaart, maar sagte jazz en personeel wat gangbare Engels praat.

Die winkel het geen straatprofiel nie. Daar is geen naam op die swart metaaldeur nie. Geen straatnommer op die kosyn nie. Net die hoë muur en die swart deur.

Jy moet ingewy wees om dit te vind. Sommiges gee jou raad om die plataanbome te tel vanaf die hoek van Suid-Shaanxi-weg en ander beveel aan dat jy vanaf Changle-weg loop. Stap versigtig teen die straatmure af totdat jy per abuis verby die deur stap, dan sal jy dink jy’s dalk daar en omdraai en besluit: Dít moet die swart deur wees.

Thuli daag een oggend om elfuur hier op, kort ná haar aankoms in Shanghai vanuit Kaapstad. Sy is reissuf, met die ligte vertigo wat sy soms kry wanneer sy onder spanning is en haar eetroetine versteur is. Om hier te kom, moes sy vanaf die Wāibāidū-brug wat skuins teen die Bund sit en waar sy vroegoggend die mistige water staan en bewonder het, die metrolyne trotseer.

Eers die gesukkel om die metrostasie by Oos-Nanjing-weg te vind en oplaas te ontdek dis naby haar slaapplek in die voorportaal van die rommelrige woonstelgebou, toe die redenasie met die kaartjiesklerk agter glas wat haar vrae nie verstaan nie en toe die getjommel met die vreemde munte en die outomaat om die regte kaartjie te koop. Sy’t ’n keer moes omdraai nadat sy die verkeerde trein geneem en onder die stad deurgepyl het na ’n onbekende platform. Sy was tussen die strome mense, verward oor wes en oos. Hierdie gladde, moderne metrostelsel kan jou in ’n oogwink aflewer waar jy nie wil wees nie, het sy besef.

Een ander swart persoon het sy gesien, maar hy was ver weg en gou verdwene in die menigte, nog voordat sy haar instink kon volg en op hom afstorm om hom te groet en te vra van waar hy kom. Toe sy hom nie meer kon sien nie, het sy vir ’n paar oomblikke verlore op haar as gedraai, totdat sy ’n amptenaar wat op ’n klein platformpie staan se oë op haar gevoel en sy weggedraai het om opnuut voor ’n stadskaart te gaan staan.

Toe sy uiteindelik verlig uit die Shanghai-biblioteek-metrostasie met die roltrap opry, kon sy die reën ruik voordat sy dit sien.

Die koue wind wat afgestroom het in die gleuf waarbinne sy beweeg, was klam. Teen die mure weerskante van die opwaartse roltrap het groot plakkate die een of ander film uitgeblaker.

Sy’t regs gedraai en die boomstamme begin tel. Vanaf die ysterhek met die twee leeubeelde weerskante van die hekpilare, vanaf die wyfie met die welpie onder die regtervoorpoot, is dit 43 plataanboomstamme tot by die swart deur. “Of so dink ek,” het die dosent Mandaryns vaagweg opgemerk.

Iewers draai sy verkeerd, loop onderdeur ’n boog sieryster in en ’n entjie op ’n kronkelpad tussen grasperke en bome tussen die wyd verspreide villas wat agter struike lê. Hier is onverwagse rustigheid en sy geniet die voëlgeluide. Maar ’n veiligheidswag in wit hemp en swart broek verskyn hande agter die rug, diskreet, en maan haar vriendelik aan dat sy op private grond is. Toe sy omdraai, sien sy tussen bome, effe agter ’n struik, en daar op die gras by die spuitfontein, ook agter die duur swart motor, nog drie, vier sulke mans wat haar stilweg dophou.

Die stemme van die geskiedenis, dink Thuli, fluister van agter die hoë mure en gekrulde ysterhekke wat huise van die straat afskerm.

Weer buite die sierboog met sy krulysterhekke stap sy verder, straataf onder die bome deur. Stege strek na weerskante van die straat en as sy by een van hulle inloer, versigtiger nou om privaatheid te betree, sien sy dat verskeie voordeure daarop uitloop. Motorfietse, trapfietse, wasgoeddrade en vullisblikke, stoele waarop ouer inwoners sit en dut. Sommige lyk vir Thuli of hulle van die plaas af kom, eenvoudige mense in grysvaal klere. Hier en daar sit een op een van daardie lae bankies wat sy sypaadjiebankies noem. En skielik gaan ’n deur oop en ’n jong man verskyn met vreemd geskeerde hare, blink skoene en stywe broek, ’n aktetas klaarblyklik uit ’n duur boetiek, en ’n swierige kopknik na die oupa. iPhone-oorfone.

Daar is geen klokkie by die boekwinkel se swart deur nie, is sy gewaarsku. Teen die deur lê ’n ronde klip op die drumpel, straatkant. Dit pas mooi in die hand. Tel dit op en hamer drie maal teen die deur, op die kol waar die verf reeds afgedop is en die klip klein kepies gelaat het. Sit die klip versigtig terug op sy lêplek. Wag.

“Met dieselfde geduld waarmee die Verbode Stad in Beijing gebou is.” Dit was die raad van Jeanne, die Franse meisie van Avignon, wat hier by ’n NGO werk wat na straathonde in Shanghai omsien. Jeanne se klere was altyd vol hondehare en wanneer sy lag, het dit vir Thuli soos die klein tjankies van ’n poedel geklink. Sy’t ’n stereotiepe baret gedra. “My Franse oorlogshelm teen die onverstaanbaarheid van hierdie oorweldigende stad,” het sy by hul ontmoeting gesê, asof sy dit al baie keer gesê het. “Ek is immers Jeanne van Avignon.”

#

Jeanne was die leiersfiguur, die inisiatiefnemer, van hul Meetup-groep. Nadat Thuli haar vanuit die International Bookshop (Thuli se frase vir hierdie winkel: “safe space”) via die internet gekontak het, het hulle gereël vir ’n aanvanklike, eerste ontmoeting; net hulle twee. Jeanne wou haar deurkyk.

“In China moet mens maar versigtig wees,” het Jeanne gesê. “Dis nie gesellige Amsterdam nie.”

Só kom dit dan dat Thuli een oggend in die museum op die People’s Square voor die kalligrafie-uitstalling staan en die Franse baretjie nader kom en diskreet ’n entjie van haar huiwer, ’n keer of wat na haar kyk, en toe vra: “Ekskuus, is jy van Amerika of Afrika?”

“Ja, ek is Thuli wat jou oor die Meetups gekontak het.”

“O, ek was versigtig, want jy’t nie met ’n profielfoto aangemeld nie. Dan …” Jeanne het gehuiwer.

Thuli het haar gehelp: “Dan is mens maar versigtig.”

“Presies.” Poedellaggie.

Thuli het haarself behoorlik voorgestel en Jeanne het geantwoord: “O, ons is ’n lekker klomp expats hier. Ons koek saam. Mens moet, om by jou positiewe te bly. Hou jy van jazz? Ons is elke Saterdagaand bymekaar in die jazzklub waar ons hoender en tjips eet, en die wyn nie te duur is nie.” Jeanne het geborrel. “Op die oomblik is Big Walker se Night Flight Band daar. Lekker Blues en Roots. Lui dit ’n klokkie? Te Amerikaans vir jou?” Sy’t Thuli op en af gekyk, geesdriftig eerder as krities. Jeanne die expat wat met groot vreugde ’n nuwe lid wil betrek by die Bund-Expatbende, soos die groepie hulself grappendergewys genoem het. Lede van die groep het gekom en gegaan, soms vir net ’n kort rukkie in Shanghai gebly en dan aangeskuif; ’n onrustige en onvoorspelbare vriendekring bestaande uit jong mense met ’n sintuig vir andersheid en avontuur. Jong mense wat selde lank op een plek woon en maar altyd die onvoorspelbare voel roep.

Verbaas het Thuli, daar langs die glas-uitstalkaste, gereageer: “Ek sal graag kom. Ek is nuut in die stad.” En skielik het sy, Thuli, in trane uitgebars.

Tot haar skaamte, sy wat glo in die onverstoorbare front. In die Britse stiff upper lip wat sy van kindsbeen af in Kensington geleer het.

Skielik, hier voor die naïewe, borrelende en wildvreemde Jeanne, het als by haar oë uitgeloop: die jare in Londen, die vreemde terugkeer na Suid-Afrika toe haar pa weer daar toegelaat is, die toutrekkery tussen die kinders van die binnelanders versus die expatkinders van families wat ná bevryding tuis gekom het op Suid-Afrikaanse bodem (“Coconut!” is sy op skool reeds toegesnou), die spanningsvolle dae en nagte van insit-proteste in die rektorskantoor, die marse en die sekuriteitswagte, die skietery en haar herstel in die stil huis en die vreemde dag toe sy styf en seer uit die bed opgestaan het en in die afwesigheid van haar ouers en met ’n vreemde leegheid in haar iets gedoen het wat sy nog nooit, ooit gedoen het nie.

“Ek dink,” en hier by die wildvreemde Jeanne het Thuli die trane skaam afgevee, “ek het posttraumatiese stres. Die toestand in Suid-Afrika, op die kampusse, dis net … te verskriklik.”

#

Iets wat sy nooit, ooit gedoen het nie: sy’t half uit verveeldheid, half uit nuuskierigheid, op haar pa se rekenaar begin peuter.

En afgekom op die verskrikking van haar dae. Die ding wat die onderwerpe waaroor daar in doktor Eliot se klas gestry is, klein en onvanpas laat voel het, onbelangrik voor die groot openbaring. Voor die aardbewing in haar gemoed.

Dit was die begin van die vaderverraad, die onderhandelings met Elizabeth en die stadige vordering totdat die intense jong wit vrou van die uitgewery oorkant haar “Beth” geword het, en die dubbele boodskappe, en daardie alewig lastige man in die seminaarklasse, daardie Ian Brand, die man wat nie wil verstaan dat dit lank nie meer oor hóm en sy soort gaan nie.

Maar my pa! My eie pa! wou sy dikwels in daardie seminaarklasse uitroep as die domheid van almal om haar, hul reaksionêre stiksienigheid, haar oorweldig.

Sien julle nie! Sién julle nie!

#

Toe het sy uiteindelik die besluit geneem om die Mandaryns-dosent in die skool vir tale aan die Universiteit van Kaapstad te gaan sien. Dit was nadat sy ná baie slapelose nagte besluit het dat sy geen ander keuse het as om na Shanghai te gaan nie.

Oor die boekwinkel agter die swart deur was sy raad: “Geduld.” Met ’n swaai van die handpalm het hy sy intense oë op haar gerig. “Wag geduldig. Berei jou daarop voor dat baie tyd sal verloop tussen jou klop en die oopgaan van die swart deur. Hulle sal wel mettertyd oopmaak.”

Sy visitekaartjie het hy aan haar gegee deur eers soort van op aandag te kom, met sy hakskene styf teen mekaar en sy skoenpunte effe uitgesprei nes ’n balletdanser s’n. Hy’t die kaartjie met albei hande voor hom vasgehou, met die duimnaels boontoe, die kaartjie tussen voorvingers en duim. Hy’t sy kop effe geknik en die kaartjie na haar uitgestoot.

“Asseblief.”

Toe sy dit neem, vinnig daarna kyk en dit in haar tas plaas, wag hy. “Jou kaartjie?”

Sy’t haar skouers opgehaal. “Ek het nie een nie, Doktor …” het sy verleë gesê, “maar ek kan whatsapp, dan het u my op u foon.”

Hy was ’n oomblik van stryk en gaan toe – só het sy haar dit verbeel – effe afgehaal agter sy lessenaar sit. Sy’t die gevoel gekry hy’s iemand wat ronddryf in ’n vreemde stad, asof op ’n stadig bewegende rivier.

Hy was ’n nuwe aanstelling en sy’t hom al vervaard deur die biblioteek sien dwaal. Asof hy iemand soek om te groet eerder as snuffel agter boeke aan, maar niemand vind nie. Soms het hy nikssiende na ’n boekrak gestaan en staar.

Sy’t hom gaan opsoek ná ’n slapelose nag. Sonder om haar pa of ma vooraf te sê. Net die seminaarklas en doktor Eliot sal weet dat sy na China gaan. Maar ook húlle sal onder ’n wanindruk gebring moet word. Hulle sal dink sy gaan navorsing vir ’n essay doen. Dat haar ryk pa, hoog op in die ANC, uit sy gatsak betaal.

Ongelukkig moet doktor Eliot as dosent vooraf verlof toestaan. En hy sou, omdat hy glo in deursigtigheid en dit ook (dalk té) gereeld gesê het, die klas moes meedeel waarheen sy gaan. Of van haar verwag om dit self te doen. Hy sal nie ’n uitsondering kan maak nie.

Nes Ian moes verduidelik waarom hy afwesig sou wees om na sy kongres in Boedapest te gaan, sou sy ook moes verduidelik: waarom nou, in die middel van die semester, na Shanghai, van alle plekke?

Doktor Zhou het van agter sy lessenaar aan haar gesê: “Begin daar by die swart deur. Vra vir …

“Ek sal haar WeChat dat jy op pad is.”

Dit was die eerste keer dat sy van WeChat gehoor het (“die Chinese WhatsApp, maar nie geënkripteer nie. Wees versigtig.” Haar pa, toe sy al in China was).

#

Natgesweet en klam gereën en met al hierdie gedagtes wat by haar opkom, kom sy voor die swart deur te staan, met daardie kop- en lyfmoegheid wat net reisigers ken wat oor weke heen in ’n vreemde stad reis. Sy voel effe koorsig, maar dink dis dalk van ontwatering en spanning hier in die vreemde. Sooibrand ook sedert daardie ontbyt wat sy nie sou bestel het as sy geweet het wat dit behels nie.

Toe sy die klip sien lê, is dit soos die vertroude sleutel na ’n eie woonplek. So bly is sy om dit te sien.

’n Bevestiging.

Sy staan ’n ruk daarna en kyk.

Skielik kom ’n brander verkeer in die straat af. Tuk-tuks en fietse jaag skynbaar resies en skiet verby. Taxi’s boender voort agter die troppie motorfietse aan en tussenin gly duur swart motors met berookte vensters. ’n Robot moet rooi geslaan het, en die straat dawer skielik.

Dit het vir haar gelyk of niemand oor hul skouer kyk, of selfs regs en links nie.

Die groot energie van China is vorentoe gerig.

Sy hamer drie keer aan die deur. Niks gebeur nie. Dalk hou ’n onsigbare kameratjie haar dop. In hierdie stad verras die saambestaan van die antieke en selfs agterlike met die modernste tegnologie haar. Buitendien is sy haar pa se kind. Sedert sy Struggle-dae as banneling in Londen sal hy altyd wanneer hy by ’n hotelkamer in die vreemde inboek die plafon versigtig nagaan vir versteekte kameras.

Hy is trots op sy waaksaamheid. “Ek is ’n soldaat,” sal hy graag sê terwyl die ys in sy whiskyglas rinkel.

Sy wag voor die swart deur, onseker wat om te doen. Dalk is sy te vroeg. Dalk is die winkel Maandae gesluit. Dalk het die owerheid daarop toegeslaan.

Uiteindelik swaai die deur met ’n piepgeluid oop. ’n Petite meisie met pikswart, gladde hare, kort gesny, maak oop. Sy dra ’n sjiek kuitbroek, ’n gryserige truitjie van fynwol, en ’n duur, eksentrieke brilraam.

Sy knik vriendelik na Thuli, maar handhaaf ’n professionele en effe skeptiese afstand. “Kom binne,” sê sy, asof sy Thuli ’n guns doen.

Die meisie het geskrik toe sy haar sien, kon Thuli opmerk. Daar is min swart mense in hierdie stad. Sy’t die oë op haar gevoel in die metrostasie. Op die trein. Teen die water op die Bund. Wanneer sy by ’n kosstalletjie huiwer en uiteindelik haar hand uitsteek na die veiligste keuse: ’n hoendersosatie.

En tóg het sy meer tuis gevoel in Shanghai as op daardie kampus in Suid-Afrika.

Regs in die gangetjie staan ’n bondel fietse, drie rietmandjies, ’n vullisdrom en moppe by ’n emmer. ’n Tuinvurk hang teen die muur, droë modder nog aan sy tande. ’n Kruiwa, waarop ’n kat na haar sit en staar.

“Ons deurwag,” sê die meisie en beduie glimlaggend na die kat.

Thuli ruik hier in die skemerte die vae reuk van riool of ’n ou drein wat deur klip bloei.

Links van haar, terwyl sy agter die meisie aanstap, is ’n rak met potplante, stowwerige blompotte en allerlei. Daar is iets huisliks en onopgesmuks aan die portaal en gang en sy is verras toe sy die knus kamer binnestap met sy boeke skynbaar arbitrêr gerangskik tussen potplante en skilderye.

Nog katte, opgekrul op kussings. ’n Leë bamboeshok vir ’n voëltjie wat al uitgevlieg het. Vinielplate op ’n rak, die platespeler staan eenkant, langs ’n geel ketel.

By die klein toonbank waar sy versigtig in Engels moet herhaal en uiteindelik in potlood op ’n stukkie vaal papier haar bestelling neerskryf, bestel sy vrugtetee om haar bloedsuiker ’n hupstoot te gee. Toe stap sy die kamer langsaan binne. Hier staan diep leunstoele met kussings. Daar is sagte jazz en nog twee katte lê rustig op lesers se skote. Deur die vuil vensterruite sien sy stoele en tafels uitgesprei in die motreëntjie. Druppels glinster op die plante wat die hoë binnehofmure toerank.

Teen die muur is die boekwinkel se naam in swart ysterletters aangebring, effe versteek agter die klimop: 1984.

Ná haar eerste koppie tee stap Thuli na die toonbank. Sy bestel nog tee. Dan skuif sy ’n notatjie oor die toonbank na die meisie wat vir haar die swart deur oopgemaak het.

Kan u my dalk help? Ek soek na Ms …

Die naam wat doktor Zhou haar gegee het toe hy vra sy moet in die boekwinkel met die swart deur gaan wag.

Die jong vrou kyk verskrik na Thuli, draai onmiddellik om en begin met die warm water en teegoed vroetel. Die notatjie lê nog daar op die toonbank. Thuli steek haar hand uit om dit terug te neem, maar die meisie draai skielik om. Blitsvinnig gryp sy die nota, doop dit in die warm tee wat sy reeds vir Thuli ingeskink het, en sit dit in haar mond. Met haar oë stip in Thuli s’n kou sy en sluk.

Thuli vlug na haar sitplek. Haar tweede koppie tee rinkel in die piering. Die kat, bedag op angs, slaan op vlug buitentoe, die misreën in.

Sy stuur ’n boodskap aan doktor Zhou.

Ek sit hier in die aangewese plek en niks gebeur nie. Niemand wil praat nie.

Maar hy antwoord nie.

#

En dis dan hier, in hierdie bedrieglike knusheid, dat sy in die komende dae sal sit met ’n boek oopgesprei op haar skoot en ’n kat wat teen haar aannestel en half uitgesprei oor haar bobene lê. Sonder dat sy lees en reeds vertroud is met die volgorde van die nommers wat saggies oor die klankstelsel loop en die naald wat oor die vinielplate saag, sal sy wag om gekontak te word en voel hoedat die ontsteltenis en bitterheid van die onlangse kampusdae en die onbegrip van die wit studente en veral daardie prokureurboer met sy stiksienige obsessie met die Afrikaner uit haar wegsak soos teeblare wat stadig in ’n teepot na onder daal en op die bodem tot ruste kom.

Hier, by die sagte geritsel van lesers se hande deur bladsye en die beleefdste klank van porseleinkoppie teen piering, hier in hierdie gedempte stilte, sal haar soektog begin.

Dis eers op die derde dag dat sy verskrik opkyk toe sy dink: dis nie net ’n soektog nie. Dis ook vaderverraad.

Oorlog teen my eie bloed.

#

Hy was besig om te dink watter uitdagings die Internet van Dinge aan regsgeleerdheid gaan bied.

’n Slimmotor, byvoorbeeld. Motorvervaardigers sal moet besluit hoe ver die keuses wat aan die motor oorgelaat word, mag gaan.

Gestel ’n slimmotor ry straataf en van links kom vyf kinders oor die straat gehardloop. Regs van die straat is ’n hoë muur. Daar is nie genoeg tyd om te stop nie. Die motor moet besluit: reguit aanhou en die kinders doodry of regs te pletter teen die klipmuur. As die keuse op reguit ry val, sterwe die kinders maar oorleef die passasier, want die kinders is sagte teikens. As die keuse val op regs swaai die muur in, sal die passasier waarskynlik sterf.

Watter morele keuses moet by so ’n slimmotor se intelligensie ingebou word? Om sigself en sy eie passasier tot elke prys te beskerm en altyd die opsie te kies wat die passasier gaan beveilig?

En wie gaan daardie keuses inprogrammeer in die kunsmatige intelligensiestelsel wat die motor algoritmies beheer?

En wat daarvan as die motor se KI ingeskakel is by ’n massiewe stelsel van motors van dieselfde fabrikaat wêreldwyd en die data wat die bewegende motors daagliks inslurp en die motorfabrikaat se KI-stelsel begin later besluite te neem wat afwyk van die vervaardigers se standpunte en programmering of selfs die houding van die individuele passasier?

Is so iets moontlik? Nie tans nie! Maar dalk vorentoe?

En dit is veral wat Ian interesseer: watter regsremedies het die passasier, en teen wie, as die motor se KI hom teen die muur laat vasjaag en die passasier erg beseer word?

Dit is aan hierdie dinge dat hy dink terwyl hy by Fabiani in die Waterfront uitstap. Hy’t pas ’n wit hemp van gestikte dubbelkatoen gekoop en wil gou ’n flat white teen die see gaan drink toe hy bewus daarvan word dat hy dopgehou word. Die man kyk vinnig af, maar Ian het klaar gesien: daardie skewe skouer wat die man het. Hy’t hom juis laas week ook gesien. Toe Ian vroegaand uitry by Brand, Nortier & Cele, toe klim die man haastig by ’n motor in en ’n ruk lank kon Ian daardie motor in sy eie truspieël sien, totdat hy in Langstraat opgeswaai het na sy woonstel teen die berg.

#

Ian is tuis nog aan’t pak vir Boedapest toe sy selfoon lui.

Elizabeth. Elektries, altyd. Volts deur die ondermaag. Ian kan dit nie verhelp nie.

Sy klink ontsteld. “Ian, het jy gehoor, daai universiteit van jou se balletskool gaan toemaak?”

“Nee?”

Sy stoom voort. “Is die mense gerook of wat? Ballet is skynbaar veels te Westers en koloniaal.

“Hulle moet uit. Wég. Dis klaar en verby. Iemand het dié skerp idee gehad.”

Hy het geweet dat die nuus Elizabeth sleg sou tref. Normaalweg kry sy ’n dromerige uitdrukking in haar oë wanneer sy praat oor “die youngbloods en die komende revolusie”. Maar dalk raak dit nou ook vir haar te dik vir ’n daalder. Op skool was sy ’n balletdanser en sy’t taamlik goed op die Royal Ballet-leer gevorder totdat haar een knie begin pla het.

Sy het hom ’n keer vertel dat haar onstigtelikheid net tot rus kom wanneer sy in Kunstekaap in die groot saal sit, die gordyne sak en Swanemeer se eerste trippelfigure verskyn.

“Alle angs dreineer uit my uit, Ian. Ek is dan weer ’n dogtertjie, en als is okay.”

“Elizabeth, mens moet …”

“Nee, dis darem te erg. Weet jy …”

“Hoe weet jy dis nie fake news nie?”

“Dis oral op sosiale media.”

“Maar Elizabeth …”

“Natúúrlik is dit waar.”

“Elizabeth … Luister, ek pak vir Boedapest. Ek is laat. Ek raap en skraap.”

“Ian, hoe laat is jy op die lughawe? Hmm?”

“Nee, Elizabeth, ek is klaar laat. Die antwoord is nee.”

“Okay.” Hy hoor haar asem uit haar lippe plof in die sel in. Elizabeth is klaarblyklik weer in een van haar buie vir toiletseks. Om die seksresessie opnuut op sy bas te gee.

“Okay. Lekker vlieg, Ian.

“Weg uit hierdie stukkende fokken land uit.”

Elizabeth, met haar stukkende begeertes. Elizabeth wat sy lyf so honger kan verrinneweer.

#

Reuke dryf oor die stad. Ian vryf oor sy neus.

Sommige dae, die brandreuk, asof jy nou net ’n vuurhoutjie geskraap het en hy nie vlam geslaan het nie maar daardie kenmerkende swawelreuk losgelaat het. Dis traangas, iewers gebruik in die een of ander opstootjie van ontevredenheid. Oor die MyCity-busdienste, oor Metrorail en die power treindienste, oor puttoilette of oor tikhuise. Oor grondbesettings en die afbreek en verwydering van nuwe sinkplaathuise.

Diensleweringsbetogings, so roetine deesdae soos oggendkoffie. Jy ry maar net met ’n ander roete werk toe, en kyk nes al die ander in die verkeersknoop van vér na die kolomme rook.

Dalk is dit weer ’n treinwa wat in die Kaapse stasie brandgesteek is, sonder vooruitsig dat die skuldige aangekeer sal word. Nou kan die minibusmaatskappye weer afskep, want die treine staan stil en die polisie, kop in een mus met die groot minibuskartels, kyk anderpad.

Dis ’n pot water wat stadig kook en jy weet dit gaan oorkook maar jy dink dit weg. Jy trap jou Alfa se petrolpedaal om die Atlantiese kuslyn en verlustig jou in die verskietende kwiksilwer see. Jy bestel Uber Eats en sluit jou woonsteldeur en binge watch ’n reeks.

Jy weet dat die transaksie tussen wit en swart in jou land nie betyds gesluit gaan word voordat die pot oorkook en die stomende water van frustrasie uitstort en meer as net jou hande brand nie.

Dan is daar die tweede reuk, wat al meer bekend raak en die inwoners van Kaapstad en omstreke bekruip – riool. Soos jy in ou huise in Rome kry, onthou Ian, waar die subtiele reuk van riool en nat klip van diep uit die antieke tyd opstyg in trapsuile en kelders, só styg die reuk van riool uit die Kaapse vlak se sand.

Ongemerk, eers, net ’n snuifie. Maar mettertyd meer.

Soos die watertafels sak en damme opdroog en mense toilette minder trek en minder water gebruik, verstop die pype onder die stad. Of hulle verdroog en reuke stoot na bo.

Dis die tyd van kokkerotte wat al groter lyk, dink hy. Snags, op soek na kos of vog, skarrel hulle uit droë dreinpype op en vlug oor huise se sitkamervloere wanneer jy die ligte aanskakel.

Maar daar is altyd die wind, Kaapstad se swart suidooster. Wanneer hy oor die berg begin stoot, is geen reuk meer moontlik nie.

Totdat hy bedaar en gaan lê, en stadig maar seker, van iewers en van nêrens, dalk van oral, skuif die geure van hierdie jaar van afwagting oor die stad en woonbuurte uit.

#

Dis só ’n kokkerot wat een van die gaste by sy ouers se aandete doodgetrap het toe dit onverwags van agter ’n sofa uitskarrel.

Vir sy ouers ’n groot verleentheid, maar hulle is gou verseker: Ons het dit almal; dis die droogte.

Toe sê iemand saggies: “Ja, in Rwanda het hulle mos aanvanklik net gepraat van kokkerotte, en toe volg die slagting. Die etniese suiwering.”

Oor die skaapboud het die gaste na mekaar gesit en kyk. “Nou ja toe, kokkerotte,” het Ian se pa gegrap en sy glasie gelig: “Lekker eet!”

En toe die poeding kom, sê iemand wat met sy selfoon besig was omdat sy beroep dit noodsaak dat hy heeltyd dinge moes nagaan (só het hy sy verslawing verskoon): “Netwerk24 is steeds besig met daardie UCT-professor wat selfmoord gepleeg het.” Hy’t vinnig na Ian gekyk en toe verder met sy vingerpunt gestiplees terwyl die gaste wag. “Skynbaar in sy kantoor.”

“Ai.” Ian se ma het haar kop geskud.

“En die feit dat hy sy kantoor gekies het vir sy selfmoord …”

“Selfdood,” help die skrywer hom stilweg reg.

Maar hy stoom voort: “… word nou gesien as ’n simboliese gebaar … waarmee hy ’n boodskap wou gee aan die universiteit … skynbaar het studente verlede jaar ’n petrolbom …”

“Is hy ’n Engelsman?” het Ian se pa gevra.

“Nee, nee. Hy’s swart. ’n Sotho. Van Boshoff in die Vrystaat.” Die gas het verder gelees. “Skynbaar ’n briljante man. Nes jy, Ian,” en nou swaai elke gesig na Ian, “’n Rhodes Scholar.”

“Nou ja, toe,” het Ian se ma betekenisvol gesê en die familiesilwer op die wit linnetafeldoek voor haar reggeskuif.

#

“Ek wonder wie’t hom so seergemaak,” vra Ian se ma. Vanaand dra sy haar oorlede ma se pêrels. Ter ere van die beroemde skrywer aan tafel, op haar tweede besoek by hulle en vanaand effe meer ontspanne as die eerste keer. Die skrywer knik en lê oor na Ian se ma, asof sy net met haar praat:

“Kinders van sy eie mense. Die Valliste, hoor ek.”

“Wel, mens weet nie,” antwoord Ian se pa, “die koerant het gister geskryf dis net kwaadwillige gerugte dat studentewoede die oorsaak van sy selfmoord was. Maar dit kan wees dat hy hulle op die een of ander manier beledig het en hulle hom swaar laat lewe het.”

Hy neem ’n slukkie wyn en sy oë trek genoeglik nou. “Luister, Ian,” gaan hy voort in ’n poging om Ian by die geselskap te betrek, “is dit nie so dat ons ouer geslag uit ’n ander kultuur kom nie? Dignitas. As jy getref word deur iets, wanneer jy swaarkry, as jy beledig word, dra jy dit stilweg. Soos hierdie oorlede professor dit skynbaar gedra het.”

Ian se ma knik. “Stiff upper lip.”

“’n Vernedering om jou pyn uit te basuin,” voeg die selfoonman by wie se naam Ian nie mooi gehoor het nie.

“En deesdae?” gaan Ian Brand senior voort, met sy oë op sy seun. “Deesdae speel jy by die geringste stekie die rol van slagoffer.”

“En jy hol sosiale media toe daarmee!” roep die man met die slimfoon uit.

“Ek wonder,” sê die skrywer stilweg terwyl sy na Ian kyk (niks ontgaan haar nie, dink Ian), “of hierdie selfdood-professor inderdaad aan die ou skool van dra-jou-eina-met-waardigheid behoort het.

“Lyk my nie hulle kry ’n spoor van klagtes nie.

“Dalk het hy dit stilweg opgekrop – tot dit te laat was.”

“Mikroaggressie is die nuwe term,” sê die man met die selfoon. Die skermliggie skyn op sy gesig. “Luister, hier is ’n Amerikaanse universiteit wat sy studente nooi om die volgende sake te polisieer – ja, dis die term wat gebruik word, polisieer, I kid you not, om die volgende oortredings aan die groot klok te hang.” Hy giggel. “Maak julle reg vir ’n lang lys.” Hy lag en begin lees: “Klasgerigtheid, seksisme, homofobie, cisseksisme of …”

“Wat beteken dit?” giggel Ian se ma. “Siesaseksisme? Of ses van wat?” Die staanklok in die sitkamer slaan elf. Niemand probeer antwoord nie.

Dalk het die gasvrou enetjie te veel gehad.

#

“Nog soetpampoen, net ’n ou skeppie?”

“… luister, hier kom nóg Grieks. Ableism. Wat de joos is dit?”

“Seker as jy ’n man is wat able is, wat dinge gedoen kry,” sê Ian se pa.

“Able was I ere I saw Elba,” giggel Ian se ma.

Ian senior kyk na Ian junior. “Ou seun, kan julle nie ook taaldiskriminasie op daardie lysie parkeer nie?”

Ian sluk. “Die Engelse praat van linguicide.”

“Nou toe, jy swot mos vertaling. Wat sou mens dit noem, taaluitwissing? Taalangs?”

Ian is nie seker of sy pa met hom spot nie. Sy pa dink sy kursus in vertaalkunde is ’n behoorlike gek idee. Boonop sit Ian nou en dink: Daardie uitdagende stukke van my in Eliot se klas … wie sê ek is nie al op ’n kampuslys van mikroaggressors nie?

Die skrywer kom tot sy redding. “Wel, ek dink inderdaad die Afrikaner is daarvan nie vry te spreek nie. Kyk hoe AfriForum die trom van slagofferskap slaan. Oor die Afrikaner as slagoffer in die nuwe bedeling. Kyk na die drukgroepe oor plaasmoorde. Daar is terwyl ons hier sit ’n plaasboereafvaardiging op pad om in Australië te gaan kla oor die druk op boere hier in Suid-Afrika.”

’n Nuwe energie neem van die tafel besit. Plaasmoorde. Sny tot in die boerehart. Ian se pa haal nog ’n bottel uit. Die skrywer het ’n klip in die bos gegooi. Nog laaste skeppies kos vind hul weg na borde; dis nou eerder gesellig eet, proe-proe, vir die lekkerte en nie vir die honger nie.

“Jy bedoel …” vra Ian se ma aan die belangrike gas aan tafel wat pas wonderbaarlik op gevorderde ouderdom haar derde Hertzogprys gekry het, “so jy bedoel plaasmoorde is nie ’n probleem nie.”

Ian se ma is versigtig. Sy en Ian Brand senior maak ’n punt daarvan om “Afrikaans se ikone” (haar woorde) na hul tafel te nooi, altyd saam met ’n paar nabye en diskrete vriende. Die skrywer, wat nie juis sosiaal is nie, is ’n juweel in hul sosiale kroon (en op tweede besoek! Jy kan haar dalkies al ’n huisvriendin noem!). Sy moet met respek behandel word.

Sy antwoord stilweg: “Wel, wanneer gaan ’n afvaardiging Australië toe oor die geweld teen vroue in ons plakkerskampe?” Ook sy dra pêrels, ook iewers uit die familie, het sy vroeër teenoor haar gasvrou gesê toe iemand Ian se ma se juwele bewonder het. “My moeder se mense,” het die skrywer gesê, “kom van Swellendam. Skuins agter Ta’ Miem gebly.”

Ian se pa red die situasie. “Lyk my,” sê hy, “die geheim is deesdae net om uiters versigtig te wees.

“Veral as jy in die bevoorregte klas val.”

“As jy byvoorbeeld Engelssprekend is, is jy blind vir klagtes oor taalatrofie,” gooi Ian uiteindelik iets in. “Ek sien dit by die universiteit. Hulle begryp dit gewoon nie, want die lug wat hulle inasem, is Engels. Dit het ek regter Albie Sachs hoor sê. Die lug wat ek inasem, is Engels, het hy gesê.”

Die tafelgenote kyk verras na hom. Die skrywer praat sag: “Niemand word deur die nuwe kultuuroorloë onaangeraak gelaat nie. Oppas, byvoorbeeld, vir kulturele appropriasie. Ons skrywers weet dit maar alte goed.” Sy praat met haar oë op Ian. Dalk het sy, dink Ian, al vir my en Elizabeth saam iewers op ’n boekbekendstellingsfunksie of by die Woordfees gesien.

“Oppas vir ’n grappie sonder ’n trigger warning vooraf,” voeg hy by, asof sy hom asemhaalplek gegee het. “Gee ’n snellerwaarskuwing selfs as jy in geselskap wil praat oor honde-etery in China.”

“Sowaar die vet?” roep Ian se pa uit, ter aanmoediging van Ian.

“Ja,” sê Ian, “dalk ontstel jou verwysing na dierelyding iemand en word jy iewers aangekla van mikroaggressie. Net één slagoffer hoef op sosiale media te skreeu en dan storm die hordes.”

“Is dít die term?” vra Ian se ma droogweg en vroetel met haar pêrels hier by haar keel.

“Hoe lyk makroaggressie dan?” vra Ian se pa sarkasties.

Weer eens kom die skrywer stilweg in met ’n opmerking wat almal laat nadink: “Seker wanneer die mikroaggressies ’n vloedgolf word. ’n Alomteenwoordigheid.

“’n Makrotsunami van miljoene klein oortredinkies.”

“Maar dan kry ons oorlog!” roep Ian se ma uit. Sy probeer die atmosfeer lig hou.

“Dis klaar oorlog,” sê die skrywer. Haar oë gryp Ian s’n vas. Sy sien, dink hy, sy sien iets. Sy sien iets kom.

#

Dís die gedagte waarmee hy later huis toe ry, ineens koud en jammer dat hy net ’n dun linnebaadjie na Welgemoed gebring het.

Wanneer die mis saans hier in die lies van die Tygerberg bondel, kan dit onverwags koud word. Veral hier so hoog op.

Sy pa se laaste woorde aan hom by sy motor, toe die ander gaste al weg is en sy ma reeds besig was om die skottelgoedwasser te pak: “Begin weer skaak speel, Ian. Dit sal jou baie help. Dit het jou laas in jou moeilike tyd gehelp stabiliseer.”

Ja, sy pa sê graag: “Twee dinge wat ek my seun gegee het, is skaak en biblioteke.”

#

Die geblaf van veghonde en hul agterbene wat die stof bonttrap en die geskreeu in alle tale hier in die kamp waar almal uit die noorde kom vasdryf opgedam in die groot sleur suid vanuit die

#

stukkende lande noord die verkrag en panga die kieriehou en die weermagsjeeps en die fakkels die kreun van kinders gevlug

#

tot hier teen die groen wingerd in die hexvallei die saamdrom van stofvoete en hy ruik dit want jy’s mos nou toegenaai

#

jy’s mos opgezip het hulle vir hom geskreeu toe hy teruggegaan het na die klein huisie op die vlakte om te gaan opsoek wat met hom gebeur het terwyl die duiwe

#

draai in die lug bo die hotel duiwe daar op die plaat die bibberhuisies die jillende kinders by die voorhekkie sy verbaasde ma maar

#

maar jy’s mos jy’s dan jy is

#

jy’s mos

#

jy issie en toe die dirigent wat die orkes verloor en die simbale hol in hul eie rigting die klarinette bars los die hoogtrom dawer verkeerd en elke viool skreeusing sy eie

#

jy’s dan …

#

en toe die voertsek en jy hoort nie en die verskriklike jy’s nou toegezip jy’s ’n ladyboy

#

fokkof terug kaap toe en die blinkswart blaaie van die voorbok, die glansman die donderstem en die uitklimmer die

#

huff-huff

#

dit was sy moeilikste pyl

#

in daardie rug in.

#

Thuli en Jeanne met die poedellaggie sit op ’n terras in die Franse Konsessie. Onder bome. Skemeraand. Dis windstil en klanke in die straatgleuf (hulle sit op ’n effe verhewe terras met sambrele) kom in ’n gedempte en gesellige deining na hulle. Op inkopietogte stap gegoedes verby, hand aan hand. Teen hul bene swaai die inkopiesakke van die prestige handelsname wat straataf teen winkelvensters pryk. Motorfietse met haastige bestuurders en armes op fietse ding mee teen duur swart sedanmotors en ou, deurleefde taxi’s.

Vrolik gesels Jeanne op Frans met aan haar en Thuli onbekende mense aan die tafel langsaan en draai uiteindelik terug na Thuli wat net-net geïrriteerd begin raak het omdat haar tafelgenoot te lank en by tye te hartlik lag, die vreemde mense te ver invra, en oplaas na Thuli wys en iets oor Afrika sê.

“Hulle sê jy lyk so pragtig met jou helder kopdoek hier uitgestal op die terras. Hulle sê dis sonderling en pragtig om ’n swart vrou hier te sien. Die een man,” en Jeanne spot ligweg, “sê jy’s te kort om ’n model te wees, maar in Afrika is die modelle dalk korter as in Parys.”

Poedellaggie.

Thuli kyk verontwaardig op, reg in ’n jong Fransman se oë. Donkerbruin, intelligente oë, warm oë wat hare skaamteloos vasgryp, en ’n ligte laggie speel oor sy mondhoeke. ’n Speelse uitnodiging wat nie doekies omdraai nie. Stoppelbaard, versigtig gemanikuurde naels. Duur brilraam.

Sy snuif afkeurend en kyk weg. Dan na Jeanne, en sê, meer uit verleentheid oor die situasie waar die jong man nou iets aan sy vriende sê en hulle lag: “Ek sit nou al hoe lank hier in Shanghai en my kontak daag nie op nie.”

“Jou kontak?” Intens, opeens ernstig, leun Jeanne vorentoe. Sy haal haar baret af. Nou lyk jy minder na ’n cliché, dink Thuli, maar vat dadelik selfbewus oor haar eie kopdoek. Sag is die materiaal onder haar vingers.

Naas die refleksie van haar dowwe gesig, die restaurante se liggies, die bruin houtwerk van die terras en die blink swart motors wat verbygly: skielik, in die Cartier-venster: haar blink volkleur-kopdoek.

“Wie?” vra Jeanne.

“Ek het ’n naam,” begin Thuli. Sy huiwer. Kan sy die borrelende allemansvriend Jeanne vertrou? Maar sy druk deur. Sy is alleen in Shanghai, sy het ’n spul geld as voorskot van die uitgewery gekry, sy het hoog opgegee oor haar exposé-projek.

“Ek het ’n naam gekry by iemand op ons universiteitskampus. By die dosent Mandaryns. Ek moes die naam by 1984, die boekwinkel, aan ’n personeellid gee.”

Sy vat aan haar kopdoek en kyk weer na haar weerkaatsing. In die groeiende skemer en onder die ligte wat toenemend om hulle aangaan, blink die blerts kleur in die Cartier-venster nóg meer. Sy merk op dat mense opkyk na haar soos hulle verbystap. Sommiges kyk selfs nadat hulle ’n entjie verby is, om.

’n Oorgewig man uit kennelik ’n Mediterreense land, goue ketting oor sy borshare, kyk haar geil in die oog.

“Maar in die boekwinkel éét hulle notas.” Half ongelowig oor haar eie woorde vertel sy die storie aan Jeanne. Jeanne sit haar hand op Thuli s’n. “Dis Shanghai,” sê sy sag. “Iedereen is angstig. Jy sal dit nie sê nie, maar almal loop katvoet rond. Omdat hulle belet word. Bespied word. Almal is versigtig.”

Jeanne beduie na die strome mense wat verbystap. Nou, ná werksure en met musiek wat luider uit kroeë en restaurante begin opduik, drentel daar ál hoe meer feestelike besoekers en haas al hoe meer inwoners hulle ná werk driftig huis toe. “Die buitelanders verstaan nie ’n snars van die benouende aard van hierdie samelewing nie,” vertel Jeanne. “Hulle dink net aan die eksotiese China. Sien als wat mooi is. Maar die burgers hier … Angs bou op oor wat kom.”

“Wat kom?”

Jeanne leun na Thuli oor en fluister: “Strenger reëls. Groter beheer. Oor vyf jaar sal jy jou nie hier kan roer nie soos jy elektronies bespied word. Konformeer, konformeer.”

Skielik is dit asof Jeanne ’n besluit geneem het. Sy skud haar hare, sit haar baret weer op, en skater haar poedellaggie.

“Sal ons iets te ete bestel!” roep sy vrolik uit.

“Maar wat moet ek doen?” vra Thuli.

Jeanne kyk na haar. “Ons sal sien,” sê sy. En steek haar hand uit na die spyskaart. “Ek skiet jou vir ’n gin and tonic!”

“Ek drink nie alkohol nie,” snuif Thuli afkeurend.

En later, voordat hul weë skei, fluister Jeanne: “Wag. Wág.” Geheimsinnig knik sy asof sy haar eie woorde nie genoeg kan beaam nie. “Wag in die wete dat op wie jy ook al wag, daardie persoon jou reeds heeltyd in die oog het.”

#

Agt weke voordat Thuli na China vertrek. Dis ’n louwarm aand toe Ian uitry Kaapstad Internasionaal toe, op pad na Schiphol, waarvandaan hy ’n aansluitingsvlug na Boedapest sal neem.

Hy dink in die ry terug aan die seminaar die oggend.

Nadat hy sy stuk oor die skaduwees van die verlede en die oorlewing van die Afrikaanse kultuur gelees en Thuli se opmerking sy lot verseël het, het ’n jong vrou ’n vertelling oor haar huiswerker se stryd voorgelees. Sy’t ’n fyn swaannek en terwyl sy lees, het haar gesig al bleker geraak terwyl ’n rooi blos uit haar kraag teen haar keel op sprei.

Haar stem het gebewe toe sy lees hoedat sy, “as ’n dogter uit ’n huishouding van witheid”, stadigaan bewus geraak het van die lewensomstandighede in wat Thuli die seminaargroep geleer het ’n starter community is.

In só ’n plakkerskamp is daar geen spoeltoilette nie en die bring van emmersvol riool na die kampus en die uitsmyt daarvan oor ’n standbeeld of die portaalvloere voor lesingsale is ’n manier om die daaglikse lewensomstandighede van bewoners van so ’n starter community aan wit bevoorregtes tuis te bring.

Na Ian se oordeel ’n slim strategie. Poo politics. Die skytgooiery is dus nie ’n onfatsoenlike vorm van terreur nie, maar eerder politieke strategie.

Met so ’n lofwaardige tema voor hulle was niemand lus om te torring aan die kennelik swak geskrewe teks, te koggel oor die register daarvan of vrae te vra oor die gebruik van tyd en ruimte of oor karakterisering nie. Wat nog te sê oor die toon van die teks of die slaankrag daarvan.

“Lieflike stuk,” lieg een van Ian se wit klasmaats ná ’n kort stilte.

Almal wag op Thuli om te reageer, maar woordeloos houvas sy haar mag.

Ian kyk na Jerome Maarman. Waar sal my hulp vandaan kom? dink Ian. Maar Jerome sit strak voor hom en kyk. Dun brilletjie, pokergesig.

Eintlik kyk hy in hierdie seminaarklasse net op nadat hy een van sy eie stukke klaar gelees het. Dis al wanneer jy die groen oë sien. Asof hy sê: Siedaar! Ek het dit gedoen.

Hy lees ’n reeks tekste voor, versprei oor opeenvolgende seminare, ’n klein vervolgverhaal, noem hy dit, van sy lewe.

Hy is Afrikaanssprekend, dit hoor jy aan sy Engelse aksent. Hy kom uit ’n bruin Afrikaanssprekende familie iewers in Namakwaland of die Karoo, en hy’t hier op die Kaapse Vlakte in ’n plakkersbuurt met die naam Fagan’s Farm beland waar hy, in sy eie woorde, “in ’n hok in my oom se agterjaart” bly. Dis al Afrikaans wat Ian hom in daardie vroeë stadium gehoor praat het, toe Ian hom eendag nadat die seminaarkamer reeds leeggeloop en hulle alleen was, vra na waar hy vandaan kom. Sy stukke is als in vrot Engels. Sy interaksies streng Engels.

Nee, besef Ian, sy hulp kom nie nou van Jerome Maarman nie.

Ian beweeg sy skouers. “So my teks staan nou alleen, geblinddoek voor die vuurpeloton?”

Dis die teken dat die klas verdaag moet word.

“I think it’s a good time to wrap it, no?” Doktor Eliot. aan’t vure blus.

Maar die finale woord is Thuli s’n. Twee uur ná die seminaar stuur sy ’n bitsige e-pos aan die klasgroep, waarby doktor Eliot ingesluit is:

I found the way in which a white writer in class today appropriated the black voice and black pain of a domestic worker deeply offensive. Whiteness cannot own our stories.

These seminars are not a safe space for me any more. Not at all.

#

En die diep liberale siel, doktor Eliot, antwoord blitsvinnig:

Noted, Thuli. Many thanks. To be discussed, as a matter of urgency, in our next seminar.

#

Toe Ian die lughawegebou binnestap, wag Elizabeth by die bubblewrap-stasie. Sy weet hy’s van die geloof dat geen tas onaangetas tussen inweegtoonbank en vliegtuigruim beweeg nie. Diefstal is die nasionale sport. So, sy weet dis die eerste plek wat hy sal aandoen.

“Soos jy kan sien, het ek ’n blitsvinnige Uber.”

Ian weet al dat Elizabeth altyd dieselfde Uber-man gebruik en sy verwys dikwels skalks na die seningrige Zimbabwiër wat nie op hom laat wag as sy haastig is nie.

Hy kyk verbaas toe sy na hom draai, asof op ’n balletverhoog. Dis ’n ou laai van haar – heel subtiel begin Elizabeth haar lyf inspan wanneer sy in die bui is – haar lyf as voertuig vir opgekropte begeertes. Haar bewegings word meer gestileerd, die nek buig elegant tussen oorgawe en trots.

So, sy’t tóg maar in ’n kar gespring en hiernatoe gekom, al het hy aangetoon hy’s in geen bui vir kaperjolle nie. Maar dis verlede tyd, nou spring die bloed in sy are.

Elizabeth is vandag dramaties geklee. Haar dik swart hare is styf teen haar skedel teruggeswiep. Geplak, eintlik, en sy dra, gereed vir die geveg, geen oorbelle nie. Die rok vly teen haar kurwes aan, styf om die heupe, maar met ’n hoë spleet om beweeglikheid te vergemaklik. Die hoëhakskoene is van die duurste en jongste uit die Waterfront se winkels.

’n Groot knop van ’n ring sit aan haar vinger en die swart halfedelsteen komplementeer haar hare.

Ek sal daardie ring moet dophou, is Ian se laaste gedagte voordat hy vermurwe en hulle dit regkry om skynbaar ongesiens by die manstoilette in te glip.

Elizabeth waarsku hom egter dat kringtelevisie hulle wel sou opgetel het en dat ’n sekuriteitsbeampte aanstons aan die hokkie se deur sal kom klop. So, sy’s haastig.

Sy gaan hom te lyf met al haar woede oor die sluiting van die balletskool, haar frustrasies omdat sy geen tyd kan kry om wat die slush pile genoem word, deur te werk nie. Dis die stapel ongenooide manuskripte wat hoopvolle nuwe skrywers na die uitgewery instuur.

Dit staan al byna borshoogte, hierdie toring A4’s, in die hoek van haar kantoor: “Die toring van hoop,” het Ian al gehoor. “’n Stellasie stemme. Bábel.”

Sy val hom aan wanneer hy uiteindelik met sy gesig teen haar keel en bytend op sy tande in haar kom – asof sy haar angs oorwin en die gesig van hierdie tye in die grond boor.

Onder hom, weerskante van sy heupe, trap daardie duur Italiaanse hoëhakskoene vas en hy sien hoe haar enkelsenings en kuite werk. Met haar heupe gee sy lang hale terwyl sy oor hom staan waar hy op die toiletdeksel sit met sy broek op sy skoene.

Hy byt haar nek toe hy spuit en agterna staan sy koeltjies, onbekommerd, digby die krip en vee met ’n snesie die bloed van haar nek af.

Sy veeg die rooi lipstiffie van haar wang, frommel die snesie op, gooi dit vies in die mandjie onder die wasbakke, en sê: “Goeie reis, Ian.”

#

Weg is sy, sonder ’n oogknip, met die swier van haar kleding, die onverstoorde hare, die hoë voorkop met ’n aartjie wat teen die regterslaap klop; in een asem weg, asof sy nooit daar was nie.

Elizabeth tango graag, onthou hy toe sy daardie exit maak.

En toe ’n beteuterde man, duidelik van stryk gebring nadat sy met die diep geur van ’n malse parfuum en saad by die deur uitgeswiep het, binnekom, glimlag Ian meewarig na hom.

Dit lyk of die man iets wil sê, maar homself bedink. Ian staan voor die spieël en trek sy klere reg.

Die man gaan die toilet binne, en van agter die toe deur sê hy hardop: “Lucky bliksem.”

#

Ek vat eerder die Jammie klas toe volgende keer. Dis veiliger. Dankie.

Toe hy by die inweegtoonbank vir ’n sitplek teenaan die paadjie vra en sy tas op die skaal tel, onthou hy hoedat, op een van hul eerste oggende saam in die motor op pad kampus toe, hy Thuli sy perspektief op die naam Jammie en Jameson gegee het.

Die UK se Jameson-saal is beroemd en die naam daarvan diep gegraveer in die publiek se bewussyn. In die ou dae is dit daar, op daardie trappe, dat onstuimige protesvergaderings teen apartheid plaasgevind het. Die naam Jammie het sinoniem geraak met weerstand teen die mag van ’n onderdrukkende staat. So stewig is die Jammie-handelsmerk, dat die universiteit se busdiens boonop dié naam gekry het. The Jammie.

Soos in amptelike kommunikasie van die universiteit se skakelafdeling: The Jammie service will not run today, due to the barricading of University Avenue by protesters.

Vir ons Afrikaners, het Ian aan Thuli verduidelik, is Jameson ’n naam gedoop in skande.

Dis hy, vertel Ian, daardie Jameson, wat vooraan was toe Engeland op die hoogtepunt van sy empaaier-hamartia die twee Boererepublieke aan die einde van die negentiende eeu binnegeval en geboelie het.

Die Engelse was agter die goud en diamante aan wat toe maar pas in die Transvaal ontdek is. Met daardie Jameson-inval in 1895 was Jameson heel vooraan, hy was ’n groot tjommie van Cecil John Rhodes, ja-nee, als vir Queen en Country.

Ian was verras oor sy eie bitterheid, daar by Thuli.

“Veilig in die blou empaaier-hulsel van daardie Jameson-bussies ry studente soggens klas toe. En geen haan kraai daarna nie. Die klomp Engelse dink nie twee keer daaroor nie.

“Nooit het hulle gewonder hoe ek as Afrikaner oor daardie Rhodes-standbeeld sou voel nie. Die man het my mense verneder.

“Nee, die Engelse se sondes is heeltemal onsigbaar.”

“Moenie bekommerd wees nie,” het Thuli hom stilweg geantwoord. “Ons het die Jameson-saal al klaar herdoop tot die Marikana-saal.”

“En gaan die bussies nou Marikanas word?”

Voor sy geestesoog het Ian stakende mynwerkers onder polisiekoeëls sien val. Vier jaar gelede. Een van die regering se groot skandes. 34 mynwerkers het daardie dag op Marikana gesterf.

En Marikana, het hy juis die oggend op TV-nuus gesien, word deur baie gesien as die rede waarom Cyril Ramaphosa nooit president sal word nie. Daar is allerlei vrae oor sy rol in die tyd kort voordat daardie werkers destyds afgemaai is.

Nou, hier op die lughawe, is Thuli se whatsapp ’n lem tussen sy ribbes.

#

Die tou beweeg stadig vorentoe. Nie weens tegniese probleme nie, maar te wyte aan die grondpersoneel by die toonbanke se vrolike gekorswel met mekaar. Dit lyk of die werk net terloops gedoen word, die atmosfeer is gesellig en niemand merk skynbaar op dat die tou al langer en langer word nie.

“Kan ons begin beweeg, asseblief,” hoor Ian homself sê. Te ongeduldig en te hard na sy eie smaak. ’n Groep Franse reisigers draai by die toonbank langsaan om en staar hom aan.

By sekuriteit gaan dit vinniger. Maar die sekuriteitspersoneel is skynbaar nie onthuts oor die onlangse bomdreigemente nie, en weer eens vorm die kwinkslae en grappery die agtergrondmusiek vir die taak voorhande.

Ian kry die gevoel dat die atmosfeer meer feestelik as verantwoordelik is.

Toe hy paspoortbeheer bereik, laat die dame agter die glasvenster hom op die rooi streep wag. Hy wag. Hy is moeg. Druk op kantoor ná die oggend se moeilike seminaar toe hy homself weer eens verras het met dinge wat hy nie geweet het in hom broei nie. Thuli se whatsapp het hom ontstel. Haar frase Dis veiliger is soos die draai van die mes.

Die flikflooiery tussen die vrou in die paspoort-balie en ’n manlike sekuriteitsbeampte skuins agter haar duur onverpoos voort. Verveeld hang hy oor haar.

“KFC,” hoor Ian. “Gaan jy saam met my kom?” word skalks in Engels gevra. Die res verstaan hy nie. Xhosa. Of dalk Zoeloe.

Hy hou asem op.

En soos hy uiteindelik met ’n argelose stempel op sy paspoort deur paspoortbeheer gewuif word sonder dat sy gesig met die paspoortfoto vergelyk is, en terwyl handbagasie swaar aan sy linkerarm trek, klim hy met sy regterhand op sy slimfoon en twiet die twiet wat soos ’n haai deur die waters skiet.

Die twiet wat sy lewe sou verander.

#

Customs lady. Cape Town International Departures. In Africa there’s no hurry – except for independence.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Подняться наверх