Читать книгу Die biblioteek aan die einde van die wêreld - Etienne van Heerden - Страница 8
2
ОглавлениеSending na China
Thuli het vooraf niks oor haar planne om na China te gaan aan haar pa en haar ma gerep nie.
Hoekom nie? Want sy is ’n sluipmoordenaar – soort van – wat haar eie familie gaan uitwis. Dít het sy eers werklik besef toe die vliegtuig by Shanghai se lughawe insak. When a writer is born, a family starts dying. Een slag, iewers in ’n voorgraadse lesingsaal, het sy dit gehoor.
As dertigjarige nagraadse student wat nog by haar ouers woon, moes sy altyd die balans vind, in haarself, tussen onafhanklikheid en afhanklikheid. Soms sou haar ma vir haar sê: “Jy’s my ou dogtertjie. Bly so lank moontlik by ons,” en ander kere: “Jy’s nou ’n groot vrou. Kom, kom.”
Daardie “groot vrou” was nooit juis oortuigend nie. Sy was die fynste in die familie. Skraal. Korter as haar ouers. Hoë wangbene, ’n wye, oop voorkop wat altyd lyk asof dit pas skoongewas is en nooit die sorge van die wêreld sal dra nie. Fyn, skerp ken: hardkoppig. Gewoonlik dra sy haar hare styf teen haar kopvel geknoop. Of bedek dit, soos die gewoonte onder sommige vrouelede van die Fees Must Fall-beweging is, met ’n helder, opvallende kopdoek. ’n Viering. ’n Opmerksaamheid. Iets wat die son en die kameraoog vang.
Aan die een kant was haar tersluikse vertrek uit Kaapstad dus ’n onafhanklikheidsverklaring, wat haar onverwags ’n vreugde gegee het. Aan die ander kant dag sy dat sy die waarheid in China gaan ontdek. Wat sy nie voorsien het nie, was die verskrikking van keuse. Van die ou Yogi Berra-gesegde: As jy by ’n vurk in die pad kom, neem dit.
Wat beteken dit? Dat daar nooit werklik ’n keuse is nie?
Dat die vurk jou lot is, en nie een van die twee bene van die vurk nie?
Want hoe kies jy tussen twee vaderlande? Een vaderland, jou pa. Ja, vir haar: die pa as vaderland, so inkorrek, so patriargaal as wat dit is. En tog, in haar geval, wáár.
Jou gewroegte, oorwerkte, deurdrenkte pa.
Pa met kant nog wal.
En die tweede vaderland, die ánder been van die onmoontlike en wrede vurk, was die republiek wat meer as twintig jaar ná wat bevryding genoem is nog wag om gebore te word.
Die republiek, nes haar pa, kapot gewroeg. Oorwerk en deurdrenk. ’n Onmoontlike ding om oor te regeer. Haar pa se woorde.
“Só ’n geskiedenis,” sê hy altyd.
Vat dit net, wil sy dan sê. Vat die republiek. Vát die land!
Gryp.
Grondgryp!
Want: die republiek, een groot wit titelakte.
En, wat haar betref, een groot gangsterstaat. ’n Kleptokrasie, met die diepstaat wat te papbroekig is om in een fel gebaar die grond terug te gryp en dus met allerlei krimi-uitlopers eerder afskep. Die handel in fopware, van Adidas-skoene tot sigarette, polisielede wat met bendes konkel. Kaderontplooiing. Munisipaliteite wat tot kitsbanke vir ANC-families verval, die tendersirkus …
Hoe kan jy ’n Afrikaan wees as jou voete staan en jou voete loop op grond waarvan die titelakte meer as twintig jaar ná sogenaamde bevryding steeds spierwit is? En is dit wat die republiek wil wees: die wêreldleier in staatsboewery?
Ja, China sou haar te staan bring voor die wrede vurk met twee bene: die een been was die belofte van ’n voorspoedige republiek in Afrika. Die ander been van die vurk: haar liewe, liewe intrigedronk pa.
Vir haar, sy enigste dogter (“My enigste kínd!” roep hy dikwels sentimenteel uit), is hy steeds die geur van die seemis daardie oggend lank gelede toe die veerboot stadig van Calais na Dover skuif en sy, ’n klein dogtertjie, op sy skoot sit. Teen die wind in waar hulle heel voor op die boeg op ’n stoel sit terwyl die bries met hulle serpe speel: “Kyk, kyk, Thuli, the white cliffs of Dover.”
Eers later, toe sy ouer word, het sy besef daar’s ’n snykant aan daardie frase. The white cliffs of Dover. En dat daar ’n snykant was, al die jare, aan baie van sy skynbaar terloopse opmerkings.
’n Man met vele bodems.
’n Man wat nou, tesame met als wat hy opgebou het sedert sy dae as bokwagtertjie aan die rand van ’n verflenterde township in die Oos-Kaap, ’n man wat nou bedreig word deur sy eie.
Sy enigste.
Sy geliefde dogter.
’n Man wat ver gekom het en sy pad boontoe moes oopknoei. Maar daardie dag, tydens die oorgang oor die Engelse Kanaal, was sy te klein om dit als te weet. Sy’t net na die spierwit land wat nader skuif gesit en kyk en veilig gevoel in die arms van haar pa. Hy’t die kniekombers wat hy vir haar saamgebring het uit die motor wat in die boot se buik was onder haar ken vasgehou. Knus en beskermd.
Want was hy nie (so het sy altyd gedink) onmoontlik om te verraai nie? Hy was die geur van sy serp: diepsweet en sigaretrook, whisky en redenasies. Hoop en wanhoop.
Maar hoop, het sy kleintyd in Londen al geleer, is intrige. Daar was ’n voorwaarde. As jy die hoop wáár wil maak. As jy die hoop wil realiseer. Moet jy knoei.
En dít wou sy afskud. Sy wou kom daar waar hoop hóóp is. Na China, na Shanghai, het sy gekom, op reis na hoop.
Suiwer hoop. Hoop sonder voorwaardes.
Moet jy eers jou ouers vermoor voordat jy daardie hoop kan kry?
Dít was haar vraag toe die vliegtuig by Shanghai indaal en sy besef: jy is ’n sluipmoordenaar, Thuli.
Teikens is geverf op jou pa se bors, op jou ma se rug.
Watter hoop kan daar wees vir iemand soos jy?
Daardie geurige ANC-serp was sy lieflingserp. Dit was om sy nek geknoop die dag toe Mandela uit die gevangenis stap. Bleek en broos het die bandiet gelyk op wie die hele wêreld wag. Tuis het haar pa dikwels die VHS-band herspeel (sentiment oor die Struggle-dae, het haar ma verduidelik) en haar gewys: “Kyk, Thuli – daardie dag het Mandela ’n onsekere beroemdheid aan hom gehad. Sy vuis was talmend in die lug, sy lang lyf te maer en ingeperk in ’n stigtelike kerkpak.” (Dit was voor die tyd van die hemde.)
Inderdaad: ontuis het Mandela daardie dag die gesigsveld van die TV-kameras ingestap, die kerkpak te konvensioneel vir hom, die ikoon.
Hy’t uitgeput gelyk. ’n Man wat opstaan uit die siekbed van gevangenskap. Kyk mooi: niks van die latere robuuste Mandela nie. Só broos.
Winnie, op haar plek aan sy hand, in die oë van die wêreld opnuut ’n bruid. (Onthou, dit was vóór als voor die Waarheid-en-versoeningskommissie en die hofsake uitgekom het en voordat, later, die vuilspel van die veiligheidspolisie én die sokkerklub op die lappe gekom het).
Winnie, stigtelik en ingehoue langs hom. Geen teken aan die buitewêreld van hoe hul twee geeste – Nelson en Winnie s’n – op daardie oomblik aan ’t stoei was juis met mekáár nie.
Net die ingewydes, van wie haar pa een was, het geweet.
En dan sien hulle op die VHS-opname: Haar pa, jonk nog, bloedjonk en gretig, effe skuins agter die leiers op die stadsaalbalkon op die Parade in Kaapstad, toe Mandela die volk die eerste keer toegespreek het. Met Cyril Ramaphosa, die kroonprins (ja, onthou, dit was vóór) wat die mikrofoon vir Mandela vashou.
Ja, haar pa was vir haar die geur van die kos uit die Indiërwinkel nadat hulle van Dover na die Britse hoofstad is waar haar pa by die ANC se Londen-missie moes aansluit. Hy was die geur wat uit die winkel opgedryf het van straatvlak na haar slaapkamervenster vlak onder die dakpanne van Kensington – masala en naan en hoendertikka, wierook en lemoene en stomende ryspotte. En verontwaardiging.
Want wat sy ook van die Indiër-gesin met hul restaurant onthou, was hul verontwaardiging oor die swaarkry van die gesinnetjie bannelinge uit Afrika wat in die dak van hul restaurant moet woon.
Die drie bakkies lamstikka en rys wat soms opgestuur is wanneer die Britse koerante die een of ander oor die Suid-Afrikaanse regime gepubliseer het.
Dis wat haar pa vir haar was en is – geur.
Die geur van die instemming en meelewing van die Indiër-gesin onder, die geur van kommer en boodskappers en onverwagte reise. Vreemde mense wat skielik in hul kombuisie met die lae plafon staan, hul reënjasse wat drup en hul sambrele wat na skrik en misreën en sigaretrook ruik. Haar pa was die geur van onverwagte stasies en agtervolgings en perronne en skielik op die bus spring en by die volgende halte onverwags haar hand gryp en uitspring en dan die winkel in en skielik, by die lekkergoedtoonbank, die sjokolade as troos. Die duiseligheid van suiker bo-op skrik.
Dit was ’n geur wat haar lewe omgeef, en sy sukkel tot vandag toe steeds om die verleiding van daardie Londense troossuiker af te skud. Fees Must Fall het haar ses kilogram laat optel. Spanning en suikerontspanning.
Al hierdie dinge het die naam Pa gedra. Dit was die wêreld van haar eerste herinneringe. Die vaderland noord van die ewenaar.
En later, onseker, súid.
Om al hierdie redes het Thuli daar in die water van die Huangpu-rivier, met die pyl wat aanvanklik haar rugspiere eers verdoof het maar toe ’n brandpyn deur haar rugmurg en oor haar skouer met haar nek laat opskiet het, aan die lewe gebly. Ja, weens die herinnering aan haar pa se serpgeur het Thuli daar in die water aan die lewe geklou met die Pudong-toring met sy lang nek soos dié van ’n silwer reier wat oor die rivier waak.
Hieroor elke asemteug. Hoop. Moet. Móét.
#
Familieverraad was die geur van die vuurhoutjie se swael en ’n brandende kers.
Want dit was ’n groot besluit: hoe om haar Kaapstadse kamer agter te laat. Sy sou iets vir haar ouers moes los voordat sy geepad na China; ’n boodskap. Maar wat?
Haar ouers was klaar op hete kole oor die studenteproteste op die kampus van die Universiteit van Kaapstad, en baie senuagtig oor haar deelname. Haar ma het begryp, maar ook nie begryp nie. Haar pa het gereeld na haar gekap. Hy het ’n bedreiging vir die ANC gesien in hierdie weerbarstige jong mense wat so lief was vir die rooi van die EFF. Hulle het reeds die parlement bestorm en die minister van hoër onderwys verneder waar hy stamelend deur die geslote ysterhekke van die parlement met die protesteerders gepraat het. In Johannesburg wou studenteleiers die sekretaris-generaal van die ANC dwing om voor hulle te gaan sit. Om hom te verneder. Tot een van die ANC-gesinde studenteleiers hom gered het. Wat sou nog kon gebeur?
En bowenal: sy eie dogter!
Thuli het geweet dat haar ma ná haar vertrek die eerste een sou wees om tuis te kom. Eers die gerommel van die outomatiese veiligheidshek in haar ma se ore, dan die handrem van die motor. Die piep van die alarm wanneer sy langs die palmboom, digby die voordeur, die stelsel deaktiveer en eers stilstaan om te luister of sy geen voeteval, ’n vinnige skuurgeluid van klere tussen plante deur, of ’n asemhaling bespeur nie.
Ou Londen-gewoontes. Tóé die behoedsaamheid vir die gevreesde operateurs van die Suid-Afrikaanse regime, en ook die laksmanne van die internasionale wapenhandelaars. (Dít sou Thuli eers later ontdek.) En nou: die vrees vir die inbreker hier in die misdaadgeteisterde suidelike voorstede.
Só was haar ma. Spits altyd die ore. In die gesin word gesê: Ore is Ma se primêre organe. Haar hart sal al staan, dan luister sy nog. Haar pa se speelse waarskuwing: “Ma gaan ons nog eendag uit die graf afluister!”
Dan sou haar ma die sleutel in die slot draai. Daarna die klank van haar eie voetstappe op die ruim voorportaal se vloer, daar aan die onderpunt van die breë trap. Haar ma het al die jare in ballingskap gedroom van ’n huis met so ’n swierige trap na ’n boonste verdieping; ’n trap wat ruim slaapkamers beloof met groot skuifvensters wat lig laat instroom en op ’n groen tuin uitkyk, beddens met dubbelkatoenlakens, gul, opgestopte kussings en badkamers met Italiaanse krane …
Tafelberg, Duiwelspiek, in elke vensterraam.
Haar ouers het die eiendom nog nie gekoop nie, hulle pot nog kapitaal op. Dit kom. Dit kom.
Haar pa wou koop. Dadelik. Natuurlik het hy genoeg verdien om dadelik ’n groot verband te diens. Maar haar ma. Outyds, konserwatief. Iets van ’n trofee wat sy voor haar gesien het, dis wat die blyplek vir haar ma was. “Ons gaan dit kontant koop.”
Haar pa het geprotesteer. “Dis onnodig! Ons neem ’n verband uit en betaal verbandrente en boonop elke maand ’n stuk van die kapitaallening af!”
Haar ma was beslis: “As die bank die eienaar is, gaan ek nog nie voel die grond is swárt nie. Die banke is wit, julle weet tog.
“Eers as ek kontant betaal, weet ek swart voete loop op swart aarde. Dis myne. Ek is in Afrika.”
En koop jy die grond nou terug van die wittes? wou Thuli haar ma vra.
Is dit nie lank terug van ons afgeneem nie?
Vát dit!
Maar sy’t eerder stilgebly. Want haar ouers moes boonop black tax betaal. ’n Verlangse neef se seun wat wou gaan studeer, help. Gogo in die Oos-Kaapse Karoo, maandeliks. Bloedfamilie en aankloppers om hulp, wat nie weggewys kan word nie.
Daar aan die voet van die trap sou haar ma, instinktief die moederhen, haar liewe, liewe, swaargeleefde ma; daar sou haar ma gaan staan, haar kop skeef draai, en sonder dat sy enige ander inligting het, hoor aan die kwaliteit van die stilte, hoor aan die suising van niks, daarin sou sy hoor, soos net ’n ma kan hoor, met die oor van bloed en naelstring:
Haar dogter, haar Thuli.
Hul enigste.
Is weg.
En daar’s ’n geur van ’n brandende kers in die huis.
#
Terwyl die vliegtuig van Hongkong-lughawe opstyg op pad na Shanghai en oor toringhoë woonstelblokke uitswaai en haar oë die rooi puntjie van die vlerk volg soos dit oor dikgroen bosse, woonstelblokke, petroleumparke en inhamme met water en bos veeg, toe wil-wil Thuli begin huil.
Haar ma, luisterend aan die voet van die trap.
Haar ma, weet sy, sou haar ophaas na Thuli se slaapkamer, die deur oopstoot en dadelik sien – hand voor die mond – wat Thuli so versigtig uitgestal het.
’n Klein altaartjie.
’n Kersvlam wat flikker in die trek van die deur wat vinnig oopgestoot is.
Geraamde foto’s:
Foto een: Thuli en haar ma, laggend voor die ANC se destydse kantoor in Parys. Daar is die hoekbistro waar, oor wyn en met sigare en bravade en verdiep in intrige, haar pa, ’n jong-jóngman, geluister het na die oueres, die Thabo Mbeki’s, die Steve Tshwetes, die Jacob Zumas.
Mbeki, kompleksiteit-in-tweedbaadjie-en-pyp en dromerige uitdrukking in die oë, ’n teddiebeeragtige intelligensie wat later die African Renaissance sou uitdink, ’n konsep wat die land mettertyd vergeet het. Steve Tshwete, sportiewe kaak in kontras met onwaarskynlike dik brilglase en ’n gravitas wat vertroue inboesem, selfs op daardie ouderdom.
En Zuma, hail fellow well met, jou braaivleis-en-bier-vriend. ’n Gekkigheid, ’n roekeloosheid, in sy kom-ons-paartie-smaail.
En nou is hy die president wat sy land laat modder vreet. Die trogleier.
Sy kry haar ouers jammer. Al daardie jare in ballingskap. En nou het dit hiertoe gekom! Hierdie man!
Al wat haar pa, Cat Khumalo, ooit sê wanneer haar ma Jacob Zuma opper, is dat die republiek ’n “work in progress” is.
Dan antwoord haar ma: “Eerder ’n ramp!”
Foto twee: Daar, dáár die bushalte waar sy en haar ma in die winterkoue op die bus na die kleuterskool gewag het. Haar ma, gesteld daarop dat hulle netjieser as die Londenaars moes aantrek. Skoner en mooier en meer versorg. Haar ma se groot vrees: dat hulle aangesien word vir slordige, agterlike Afrikane, verlore in ’n wêreldstad. Bedelaars by ’n bushalte.
“Thuli, gaan terug spieël toe. Is dit hoe jy wil uitgaan op die strate?”
En: “Jy verteenwoordig die nuwe Afrika.”
Foto drie: Hogarth Road, Kensington. Die klein speelparkie. So klein, jy’s benoud. Drieverdiepingwoonstelle alom. Ses bome, sy’t daar in daardie parkie behoorlik leer tel. Boom één, boom twéé, boom drié, dan die swaai. Boom vier, boom vyf, dan die rondomtalie! En by boom ses, die gewaagde, die maagdraaiende, die suising teen die glyplank af tot in die wagtende hande van haar laggende pa.
Foto vier: Haar pa, haar ma, en sy, veel jonger. In die middel, die ikoon in sy glansende Mandela-hemp, die messias.
Haar pa se brom-brom-messias. Laat hulle maar so glansryk lyk op die foto. Agterna, onthou sy glashelder, in die motor ná die fotonemery, haar pa se gebrom oor hoe Mandela se man, Cyril, die ANC gaan uitverkoop aan grootkapitaal; hoedat als neerkom op kompromie en nie op revolusie nie; hoedat die land, die grond, hulle aanhou ontglip, ’n lugspieëling, altyd net voor jou, daar voor, die immer wegglyende – in haar pa se woorde – “mirage van ’n Afrika wat óns s’n is”.
Tussen die portretjies uitgestal, pront sit hy daar met sy kort, vet beentjies en blink voetsole: haar teddiebeer wat haar pa destyds van die Ooste gebring het. Hy’t daardie dag by sy aankoms op Heathrow op sy hurke gegaan en dit aan haar gegee. Vir haar as klein dogtertjie was die sending onmoontlik lank. Sy het op die metro van die lughawe af huis toe reeds verlief geraak op die fronsgesiggie van die beertjie met sy digte hare. Maar, tuis gekom in Hogarth Road, moes sy huilend toekyk hoe hy sy knipmes neem en voor haar oë die maag van die beertjie oopsny en ’n pakkie daaruit haal.
Haar ma het die beertjie agterna met naald en gare aanmekaargestik, ’n geel lint om sy nek gestrik, en hom aan die angstige dogtertjie teruggegee. Pas terug van die hospitaal, soos sy dit aan die kleine Thuli gestel het.
En nou, in dié tyd dat die kampusstandbeeld van Cecil John Rhodes uiteindelik aan ’n hyskraan swaai soos aan ’n welverdiende galg, sit die beertjie daar in Thuli se slaapkamer. Nog fronsend, nog gepynigd, die operasielitteken ’n lomp toegenaaide naat oor sy bors.
Ook, in ’n potjie langs die teddie, ’n rooi angelier.
En ’n notatjie. Ek is jammer, Ma, en ek is jammer, Pa. Ek is op ’n sending na China.
Aspris gebruik sy die frase waarmee haar pa hulle daar in Hogarth Road so dikwels alleen gelaat het in die Struggle-jare, op ’n sending. Sy weet hoe daardie frase die grond onder jou voete laat geepad oor die skielikheid en bestemmingsloosheid daarvan; hoe jy dan begin dwaal in die groot afwagting.
Die onverwagsheid deel van haar pa se geur.
Eers later, reeds op universiteit, kon sy naam begin gee aan hoe sy en haar ouers Londen ervaar het. Jy dwaal deur die onbekende strate. Jy besef: niks wat jou aan hierdie stad bind nie. Ballingskap. Jy dwaal asof jy nooit weer huis toe – Suid-Afrika toe – sal gaan nie en asof jy nie net die kantel van die lig en die reuk van die land verloor het nie, maar ook jou eie naam.
Op ’n sending na China.
#
Ian Brand is tevrede met sy blog se eerste knalsinne: Vorentoe gaan jou gesig jou grootste las word. Jy gaan jouself vervloek oor jou vrygewigheid met jou bakkies – ja, jy – ek ook; álmal van ons!
Ek sien hoedat die media anderdag Afrikaanse TV-sterre en akteurs se gesigte neem, dit vir ’n app voer wat die gesigte verouder om te wys hoe hulle twee dekades vorentoe gaan lyk. Dit op papier en digitaal uitstal.
Besef die mediamense wat hulle doen? Besef hierdie TV-sterre en akteurs wat in hulle naam prysgegee word?
Waar hy in sy woonstel teen die skuinstes van die Kaapse stadskom sit, begin die stad stadig vibreer. Sonstrale skiet van ver agter die Hottentots-Hollandberge oor die metropool uit.
Die oggend-Boeings is blink vuurvlieë wat by Kaapstad Internasionaal insak ná ’n wye, gulhartige draai oor die skiereiland.
’n Knik van die vlerk seekant toe om passasiers ’n beter uitsig te gee oor die voet van Afrika en die stad met sy liggies wat nog flonker soos ’n juweel in die kwiksilwer see.
Ian voel die lieflike stad om hom asemhaal. Hy verbeel hom hy ruik die geur van branders wat spat teen die Atlantiese kus en wit skuim in die inhamme van Bakoven en Clifton.
Ook verbeel hy hom die reuk van dou op dennenaalde van die Nuwelandse bos om die voet van Duiwelspiek, en, as ’n herinnering dat hy in Afrika woon, vuurrook van Gugulethu en Langa se kant af.
Sy maagspiere is styf ge-six-pack van gymwerk. As hy mooi kyk, glinster die gebou waarin sy kantoor sit, daar ver onder, net duskant die hawe se hyskrane, en ’n vyfverdieping-plesierboot digby die plek waar hy destyds – voor 1994 – as weermagsoldaat in die dieptes van die nag saam met Vlootduikers spesiale operasies geoefen het. Dis in die dae toe sy kop poenskop geskeer was en die twyfel sy maag soos ’n vuis laat bal het.
Julle mense is net eenvoudig nie woke genoeg nie! skryf hy nou. Julle stommerike wat ewe vrygewig die gesellige wekroep van Facebook beantwoord om ’n foto van julleself soos julle nou lyk naas een van tien jaar gelede te pos, is onwetend besig om saam die deftigste stel data gratis te bou.
Wat dink julle gaan Facebook met daardie pare foto’s, mooi eweredig tien jaar uitmekaar in elke Facebooker se geval, doen?
Wel, die saak staan so: ongetwyfeld gaan daardie stelle foto’s aan ’n algoritme gevoer word as gratis opleidingsmateriaal.
Die resultaat? Beter insig in die veroudering van die menslike gesig!
Dit gaan gesigsherkenning nóg gevaarliker maak – jy sal nooit aan jou jeugdige self ontkom nie!
Kyk wat skryf Kate O’Neill in Wired!
As jou gesig vorentoe merkbaar ouer lyk as wat die algoritme dag jy gaan teen hierdie tyd lyk, gaan jy dalk sukkel om mediese versekering te kry, of dan moet jy meer betaal vir ’n mediese fonds – want ooglopend verouder jy vinniger as verwag.
Dalk pas jy jou nie op nie! Bly jy nie fiks genoeg nie!
Penaliseer!
Ek, Ian Brand, kondig nou ’n protesveldtog aan.
My versoek is dat ons die inligtingsbank peper met vals foto’s – gaan nóú, waar jy ook al is, en pos ’n foto van jouself uit enige jaar naas ’n foto van hoe jy nou lyk.
Maak dit dan duidelik dat jy die jaar van die ouer foto nie gaan verklap nie en dat jy die netjiese tienjaarformule só ondermyn.
Kom ons verdrink Facebook met vals pare!
Só kelder ons die formule waarop die algoritme staatmaak en word jy ’n privaatheidsaktivis!
Maar wág! Lees eers verder: sorg dat jou digitale foto geen inligting dra oor wanneer dit geneem is nie. Sny die EXIF-data uit. Of maak eerder ’n skermgreep van ’n bestaande foto.
Jy weet mos, elke foto dra sy genetiese string nes elk van ons in ons selle inligting oor ons afkoms en geaardheid dra.
Jy moet eers daardie data verwyder.
Jou gesig, sien, is minder onskuldig as wat jy dink.
Jou glimlag is ’n adder wat jou gaan pik.
Surveillance is immers die internet se besigheidsmodel!
Ian sit ’n rukkie na sy woorde en kyk en besluit dis genoeg vir eers.
Hy sny en plak die paragrafie in waarmee hy elk van sy bloginskrywings afsluit: Onthou, dis soos die geleerde gesê het: kunsmatige intelligensie se impak op die mensdom gaan groter wees as wat die impak van vuur of elektrisiteit op die mensheid was.
Ons regsgeleerdes sal moet bontstaan!
Ian Brand; Brand, Nortier & Cele Inc.
Die Glaspaleis
Penthouse, Farsight-gebou
Foreshore, Kaapstad.
www.theglasspalacelawboys.org
“Forget the fly-by-nights – come to the Legal Eagles!”
Tevrede loods hy die blog die kuberruim in. Hy moet ry, die Alfa wag, ’n interessante dag lê voor.
#
Uiteindelik het Thuli haar pa se oproepe beantwoord. Sy was reeds op O.R. Tambo in Johannesburg. Die vlug vanaf Kaapstad het ’n uur vantevore geland.
Die altaartjie wat sy vir haar ouers gelos het, met die teddie en kers en foto’s, het gebrand in haar gemoed.
Sy kon heelpad tydens die vlug daardie kers ruik.
Nadat sy deur paspoortbeheer is, het sy met afgeskakelde foon deur die boekwinkel en boetieks gedwaal. Toe sy dit aanskakel, was daar reeds ses oproepe van hom. ’n Pyn het deur haar bors gesny. Niks van haar ma nie. In tye van groot krisis gee haar ma oor aan haar man. Byna onmiddellik nadat sy dit aangeskakel het, neul die foon weer.
Sy antwoord duiselig:
Ek is op pad China toe.
Hoekom nie? Hoekom kan ek nie?
Wel, Pa, ek is mondig. Is dit nuus vir Pa?
Nee, ek kon nie, want julle sou my nooit laat gaan het nie.
Nee, ek sal nie. Nee.
Nee, Pa, dit het niks met Fees Must Fall te doene nie. Niks.
Ek het Pa al soveel kere gesê. Nie die EFF nie. Ek ís nie EFF nie.
Dan is Pa se inligting verkeerd.
Weet Pa tot vandag toe nie hoeveel splintergroepe daar in Fees Must Fall is nie?
Nee, ek ís nie.
En as ek wás, so what? Ek is oor 30!
Ek gaan vir my kursus ’n projek in narratiewe niefiksie doen.
Wat is dit? Dis duimsuigery, Pa. Ontspan net. Narratiewe niefiksie is nie belangrik nie.
Ja, ek weet dis ’n pretensieuse term.
Ja, dis ’n term wat g’n sin maak nie, okay, Pa.
Ja, Pa. Vir universiteitswerk. ’n Lang essay. Vir een van my kursusse. Ja, ek weet.
Pa, dis oor skryfwerk. Oor boeke. Oor grond. Oor Chinese skrywers en hul lewe daar en hul verhouding met grond. Grond en prekêriteit.
Ek weet dis al weer ’n spoggerige nuwe woord, Pa.
Ek moet. Ek moet China toe.
Hoekom nie?
Ek het dit geleen.
Ek was by die bank.
Ek weet mens moet skuld afbetaal. Natuurlik weet ek dit.
Natuurlik weet ek China is duur.
Dis my keuse, Pa.
Pa weet hoe ek daaroor voel.
Pa? Verraad? Waar kom Pa daaraan?
Hoekom sal ek …?
Ek …
Haar pa se stem raak hees en vir die eerste keer teenoor haar hoor sy vrees. Hoe word hiërargieë omgekeer? Sy is heeltyd daarmee besig by Fees Must Fall. Hoe om die hegemonie te vernietig.
En nou, haar eie pa. Die oomblik toe sy, die dogter, die oorhand kry.
Verleë voel sy, en woedend. Tegelykertyd.
Sy weet hy besef sy weet iets. Hy besef sy het iets gehoor van sy praatjies met sy vriend Sello. Hy besef sy is op die spoor.
Hy sal verskriklik voel. My dogter. Ek het haar universiteit toe gestuur. Om te doen wat sy nou doen.
Om juis te werk met dinge soos sy nou met my gal werk.
Ek het haar universiteit toe gestuur om slim te word. Die eerste een in ons familie om ’n kwalifikasie te kry.
En toe raak sy te slim.
Slim verby.
Te slim vir my.
Sy het haar mes in vir my.
Sy gaan my slag.
Sy gaan my ondertoe bring (een van haar pa se geliefkoosde uitdrukkings), my eie dogter. My liefling.
My enigste.
Sy moet dit beëindig.
Pa, ek weier om verder te luister. My vlug gaan nou vertrek. Ons moet instap. Daar gaan die mense al.
Pa. Pa!
Dit nadat sy die foon al doodgedruk het. So hard sê sy dit dat twee Nigeriese mans in lang gewade in die verbystap omdraai en vraend na haar kyk.
#
Begin in Beijing, het haar pa gesê. Baie Suid-Afrikaners wat stylvol maar stil in Beijing wil leef, woon in daardie lekker hotelletjie in die (sy kan die naam nie mooi hoor nie) hutong. Hy sal daar kan bel, sê Cat Khumalo aan sy dogter. Hy ken die eienaar, ’n verloopte New Yorker, goed. Die man sal jou help om met ’n goeie VPN verby te kom by die digitale brandmuur wat om China gebou is. Die man weet als van Abdullah Ibrahim en Hugh Masekela. Sy kennis van Suid-Afrika se musiek is ongelooflik. Mens is verstom om in Beijing iemand te kry wat soveel weet van ons musiek. Miriam Makeba in ’n hutong in China!
Wat ’n hutong is, het sy nie geweet nie. Dit was ook nog voor sy Susan Sontag se essay oor China gelees het. Maar die woord hutong het paslik Oosters en eksoties geklink.
Nee, ek het net een bestemming, Pa. Shanghai.
Ek weet dis ’n wrede stad, Pa.
Ek weet.
Ek gee nie om nie.
By private mense. By kontakte.
Pa …
Sy het die foon doodgedruk, teen sy uitasem stem in. Sy’t besef. As hy haar Beijing toe wil stuur, is Shanghai eintlik die regte keuse. Sy’s op die regte spoor. Hy was opgewerk. Hy was benoud. Hy was in ’n hoek. Hy weet. Hy weet wat die eintlike rede vir haar sending na China is. Hy weet, of hy vermoed; hy vermoed stérk. Op daardie troebel, agterdogtige manier waarmee hy dinge vermoed en, in die verwytende woorde van haar ma, soms dinge wat nooit daar was nie waar máák net omdat hy dit so koppig vermóéd.
Maar soos met baie ander dinge, bly hierdie ding nou ongesê tussen hulle. Ongesê, agter ’n muur so ondeurdringbaar soos dit waarteen sy gewaarsku is: die groot digitale brandmuur van China waaragter sy op pad is om te verdwyn.
“Pa …” fluister sy, en val by die tou in. Haar skootrekenaar rem aan haar skouer. Lonely Planet se Shanghai glim in haar hand.
Reis, sendings, onbekende bestemmings. Dit is in my bloed, sê Thuli aan haarself.
Sterk. Staal. Kom nou.