Читать книгу Die biblioteek aan die einde van die wêreld - Etienne van Heerden - Страница 16
9
ОглавлениеMemento Park, Boedapest
Elizabeth, ek vind in hierdie stad onderdrukte woede en ’n verslaentheid diep onder die nuwe energieë.
En hier in die mistigheid van Europa verlang ek na die tye toe my oupa nog geleef het en ek nog kind was en my pa ons teruggeneem het, gereeld, na die dorpie waar hy as klein seuntjie destyds die dorpsbiblioteek, in sy eie woorde, flenters gelees het.
Bedevaarte was dié road trips Karoo toe vir die Brands van Welgemoed, Bellville. Terug “land toe”, soos my pa die Xhosa-term oorgeneem het.
En ek verlang na die gesellige rit, in daardie jare voordat die N1 geword het wat hy deesdae is, meedoënloos met sy truckers aan’t jaag tussen petrostops na hul families ver suid, in Wellington of Kraaifontein.
Hulle jaag en hou die skouers van die pad angstig dop vir die petrolbomme wat deesdae na die truckers gegooi word. Skielik landwyd, asof georganiseer, op al die hoofroetes: hierdie oorlog teen truckers.
Ek verlang na die verrinneweerde groepie begrafnisgangers tussen bloekombome, uitgelewer om die oop graf, in swart opgetof in die blakende hitte. Ek mis die menslikheid van melktert, en die nostalgie van padtoebroodjies en mossies in die peperbome.
Die bedeesdheid van ’n Karoodorpie om vieruur op ’n Sondagmiddag.
Die sooi wat swart kantel voor die ploeg. Die bees wat sag poep aan stoomdrolle.
En ons gesin wat reissuf en selfbewus, stedelinge, voor die dorpsbibliotekie uit my pa se blink Benz klim en versigtig, eerbiedig, ja, elke jaar dieselfde ritueel, die bibliotekie binnegaan.
En Pa wat ons lei, verwonderd, na ’n klein tafeltjie in die hoek. “Hier,” sê hy dan elke jaar. “Hier het ek elke middag gesit.”
Dan het Ma geantwoord: “In hierdie biblioteek aan die einde van die wêreld.”
#
Die man wat die taxi bestuur na Memento Park, Boedapest, is bleek. Ian sit agter. Hy is vandag in swart geklee. Hy het sy swart brilraam op. Dag swart teen die agtergrond van die mis wat oral sweef, sal goed lyk.
Die taxibestuurder se linkerhand op die stuurwiel bewe liggies. Die man is verby sy middeljare, in grys geklee. Nie kortaf en ongemanierd nie. Eerder hiperkorrek, gewillig en terneergedruk.
’n Produk, dink Ian, van onderdrukte jeugjare agter die Ystergordyn. Watter snert moes hy nie aanhoor in sy vormingsjare nie.
Toe verander die verkeersreëls opeens. En nou, lank ná die val van die Berlynse muur, het hy ’n houding van permanente teleurstelling. Niks gaan hom weer opbeur nie.
Só lyk ’n man wanneer die geskiedenis jou versaak, dit skielik blyk dat als ’n leuen was en die geskiedenis jou uitskouer.
Jy sien sulke ouens nou ook in Suid-Afrika, dink hy, op die skraps banke van die NG Kerk sit hulle Sondae, of braai Saterdae in vibracrete-hokke in die suburbs waar die rook deur uitgerolde lemmetjiesdraad trek.
Hoe verder hulle van die Donou wegry, hoe neerdrukkender word dit. Die landskap is slordig, dis winter en windverwaai. Deur die misbanke wat in laagtes lê, steek ou petrolkonkas uit. ’n Verroeste tenk lê op sy sy. ’n Hoop bakstene. Jy onderskei moeilik tussen verwaarloosde doringdraad en rankplante se verdroogde stingels. Te veel sinkplate, lukraak geparkeerde voertuie op oop stroke grond en mense wat verlate rondstaan.
Hulle ry ’n ent deur ’n woonbuurt en die huise is vaal, sonder ’n mens in sig. Van hier af lyk Boedapest soos ’n skoongesuigde geheue. Ian, altyd sensitief vir sulke sake, voel ’n soort Alzheimers aan, ’n geskokte stilte.
’n Vergeetlikheid. ’n Vergeetagtigheid.
Wat sien ’n toeris, wat weet toeriste?
’n Standbeeldtoeris soos hy, Ian?
Jy kan standbeelde nie rehabiliteer nie, weet hy.
So ’n standbeeld is ’n finaliteit; ’n oomblik in die tyd gestol, ’n ideaal verklip. Later van tyd: sonde-in-klip.
Deesdae staan Paul Kruger, wat Afrikaners so gesellig en eie “oom Paul” noem, binne ’n wiel doringdraad op Kerkplein in Pretoria nadat ’n petrolbom hom getref het. Onlangs het ’n boek verskyn oor die digter Eugène Marais en daarin word Kruger se korrupsie beskryf. ’n Verrassing vir baie Afrikaners wat so kla oor die Zuma-regering se korrupsie.
Hul eie oom Paul, almal se simboliese oupa, was ’n ou skelm! Moet oom Paul buite sig verskuif word, nes Cecil John Rhodes? En wat van Jan Smuts?
Shaka, die Zoeloe-despoot? Die Durban-lughawe dra sy naam!
Waarheen met hierdie mense?
Met hierdie máns!
#
Die teleurgestelde man met die besadigde gelaat laai Ian af op ’n stuk gruis en sneeu waaroor motorspore modderige hale trek. Die ingang na die park is ’n rooi baksteenmuurfasade wat voor jou opdoem wanneer jy daar aankom. Duidelik ’n low budget-projek.
By die hek is die muur hoog. Dit vorm ’n halfhartige triomfboog, met Lenin wat in al sy glorie daar staan, groter as lewensgroot. Gedoem om vir die res van sy bestaan aankomende taxi’s te begroet.
Met armoedige grandiositeit verwelkom hierdie fasade Ian. Rondom Memento Park lê ’n heuwellandskap van kragpale, puinhope, vergete vragmotors en kraaie. Mistigheid.
Die atmosfeer is dié van ’n begraafplaas. Die knars van gruis onder jou skoensole, die wind wat jou woorde uit jou mond gryp.
Dié park, dink Ian, huiwer op die rand van parodie. Die oop, windverwaaide plein is verwese. Hy is die enigste besoeker, en moeisaam sak sy voete in die sneeugruis weg. Die mure eggo die geknars van klippers.
#
Die standbeelde, in groteske stilte vasgevang, staan vir mekaar en kyk in twee groot kringe van ’n 100-meter-deursnit elk. Twee groot sirkels, wye arenas met standbeelde wat na mekaar staar.
Weggeruk uit hul oorspronklike transaksie met landskap, waar hulle eens op hul eie, verheerlik, op groot pleine oor mense se koppe uitgestaar het, of op heuwels oor vlaktes uitgetroon het, en hier byeengebring om teenoor mekaar te spog en te bral.
Opeens kom Donald Trump en sy spog-twiets by Ian op. Hy het pas by die hotel op televisie gesien dat Trump as aangewese president op pad is om Obama te gaan ontmoet.
Die standbeelde se gebare lyk op mimiekspel, lyk na akteurs wat lyftaal teenoor mekaar oefen, geluidloos.
Hulle staan vir mekaar en kyk, maar die woorde is uit hul monde gesteel.
Twee jong vroue in staal laat ’n swerm duiwe los. Nog ’n brawe vrou, alleen op ’n voetstuk, hou iets vas wat ’n simboliese koringhalm kan wees, of ’n varingblaar. Sy’t dik boerekuite, reg vir die arbeid. Agter haar, buite die park maar sigbaar in die mis, verskyn ’n kragpaal met slordige drade.
Die gruis knars onder Ian se voete. Vanuit die bevrore grond kruip koue teen sy bene op.
Die mans is eweneens fris en gebruik hul ledemate om die hemele te omarm, die weg aan te wys, die leier te salueer, die aarde af te tree. Spiere bult en vingers wys. Bene rek. Soviet Heroic Memorial, lees Ian op een voetstuk, 1965.
Daar is ’n krygstafereel, ook groter as lewensgroot, van twintig soldate wat met bajonette en fier profiele almal in een rigting beur, asof deur ’n groot wind aangedryf, of deur ’n bestiering.
Bokant hulle troon ’n leier in siviele drag uit. Hy wys die rigting aan. Uitgestrekte arm: voorwaarts! Die hele lotjie beur vorentoe en volg die lyn van sy arm en wysvinger. Die standbeeld het ’n vloeiende paraatheid. Patriotisme en tropgewilligheid straal uit die gegote yster. Hierdie revolusie duld geen teenspraak nie.
En daar ver agter: ’n kragdraad met twee kraaie op die paal, ’n morsige heining, die dakke van laekostebehuising.
Monument to the Martyrs of the Counter-revolution 1960, Republic of Councils Monument 1969. Saluerende vroue. Liberating Soviet Soldier 1958. Twee ysterhande beskermend om ’n ysterbal wat tussen die palms dryf; dit lyk op ’n haar na ’n lewensversekeraar in Suid-Afrika se logo. Hier was klaarblyklik ’n hele skare ywerige kunstenaars deur die jare aan die werk.
Die regvaardigheid en geesdrif, die politieke wartaal; die aanslag van dit als maak Ian eers duiselig maar dan, stadig, word dit komies. Totdat jy die lyding onthou, en die strafkampe, en die sterftes.
#
Dear Visitor!
These reliefs used to decorate the wall of Stalin’s Grandstand. The art pieces were badly vandalized in the days of the revolution in 1956. The frieze around the pedestal told stories: The ‘Soviet Man’ says good-bye to his family, draws his weapons, rifle then Bren gun, throws hand grenade, marches and fights until he heroically liberates a three-generation Hungarian family.
#
Kiddy Amin, dink Ian. Vir ’n oomblik flits ’n rooi baret voor sy geestesoog. Hy vlug uit die park, verby die poskaartrakkie met spottende poskaarte van Brezhnev wat kaalbolyf met hangborste in ’n oumansbed lê met ’n telefoon se gehoorstuk teen die oor, Dmitri Vrubel se Berlynse graffitiskildery Bruderkuss van Brezhnev wat Erich Honecker tongsoen, verby die outydse transistorradio wat by die uitgangshek uitgestal word waar dit ou propagandaprogramme uitsaai.
Verby die ou Trabi wat komieklik soos ’n Noddy Land-karretjie daar op pap wiele staan by die bordjie wat jou uitnooi om agter die stuur te gaan sit en te voel hoe dit was om so ’n karretjie te bestuur. Om ’n foto te laat neem van jouself aan die bestuur deur daardie heerlike era.
#
Die taxi, in die hoop op ’n terugrit, staan nog daar op die gruis in die skaduwee van Lenin. Die man staan met sy boude teen die enjinkap en rook, sy gesig so grys soos sy jas.
Hy knik na Ian en Ian klim in. Hulle ry stadig terug en Ian probeer hom loswerk uit die greep van ’n park waarvan hy as toeris die doel nie kan peil nie. Sou daar nog iemand wees wat dit in erns en met ontsag besoek?
Is dit ’n nostalgie, slim agter parodie versteek? ’n Ernstige sirkus?
Vorm dit die toneel, dalk, van spottende YouTube-video’s, waar jong mense met skaatsplanke deur die lug verby die neuse van ideoloë vlieg?
Hy vermoed van laasgenoemde en sien voor sy geestesoog hoe Shaka agter koningin Victoria inval, en Cecil John en oom Paul mekaar tot in aller ewigheid oor ’n lap begrafnisjaartgruis staan en aanstaar.
Iewers in Brackenfell of Benoni.
#
Wat sy haar ouers spaar in hul WeChat-gesprekke, is die man in die steeg.
Twee oggende al, terwyl Shanghai reeds druis van die lewe. Oorkant die straat, daar waar die steeg helder oordag nog nagdonker is, staan hy asof hy ’n akteur in ’n filmtoneel is, dofweg maar duidelik. Staan hy, arms langs sy sye en sy donkerbril twee swart kolle op sy gesig. Hy staan daar soos ’n boef.
Alles om my te intimideer, dink Thuli. ’n Psigopaat, ’n emosionele afperser. ’n Klein mannetjie in ’n groot masjien.
Hardkoppigheid groei in haar. Sy ken dit. ’n Beslistheid wat diep uit haar murg kom. Dit kom uit haar ondermaag en styg in haar bors op; ’n oortuiging en ’n stil woede.
Staal, noem sy dit. Thuli van staal.