Читать книгу Die biblioteek aan die einde van die wêreld - Etienne van Heerden - Страница 15
8
ОглавлениеFutsek
Hy’t ’n PVC-raam so hy’s lig die man wat hom gejump het in sy groot wit lorrie en hiernatoe gebring en hom uitgeluister het en later vioolmusiek gestream het via bluetooth deur die bose soundlink speakers vertel
#
hom presies hoe en die gesig-ene demonstreer hy’s opvoubaar kyk hier’s die skarniere en lig lig jy sal nie eens weet jy dra die ding nie jy kan hol daarmee platval jy kan sigsag of kruip jy kan so vinnig gatskoonmaak
#
terwyl hulle nog uitfigure is jy al
#
weg kyk die oopvou o ja in ’n gholfsak dalk jy kan sê jy’s ’n caddy oopvou en span is so vier minute as jy aan die begin is maar jy kan dit afoefen piek sê jy kan viool speel so jy ken van oefen
#
een minuut tien sekondes is my beste tyd dalk kan jy beter dan is hy oop hier kyk só voel bietjie só hy tel dit op dis swaarder as wat die gesig voorgee as jy die stringer span jy hom so
#
sit die safe af haal die stringer af hier is ook ’n ekstra snaar
#
dis deel van die kit en dis die visier kyk in brass beter nagsig klein teleskopie ons skroef hom so aan kry die reuk eers ligweg van stof en veraf die blaftjank agter sink en honde opgesluit in warm hokke teen die bult raak mal soos hulle mekaar ruik teen sink hamer met hul borse hamer
#
die sink stormloop hul kwyl kyk tot manshoogte teen die sinkplate uit soos dit spat kyk dié stuk skuim uit daai mongrel se bek hy’s meer rottweiler as rhodesian ridgeback kyk sy stert maar die boude is rottweiler
#
luister jy waar’s jy luister jy kyk ek wys jou nou kyk nou man ons gaan nou-nou practise tot 50 tree maar staan eerder nader vir sekerte
#
kry die kwaad in jou opgestook kry dit hoogwarm leer jouself hoe om die kwaad te kook dan nader vir die sekerte
#
met die doodskoot.
#
“Jerome, as jy middestad se kant toe bly, kan ek jou ’n lift gee,” sê Ian Brand my die Vrydag. Hy kom staan hier by my. Ons is besig om ons goed te pak; doktor Eliot se seminaar is klaar. Eliot se laaste woorde: “Jeepers, guys, this crossbow assassin that’s on the loose, one can’t help feeling an itch between your shoulder blades, no?”
Dit was ’n intense seminaar. Thuli het behoorlik uitgepak oor hoe belangrik ontkolonisering is vir die academic project.
“Waarmee is ons besig hier op die universiteit? Wat is die doel van ’n universiteit?”
Ian Brand het vir die tafelblad voor hom gekyk.
“Wel,” het Eliot dadelik geantwoord. “Ons akademici voel ook die universiteit het te veel bes gegee aan managerialism en kommodifisering.”
Maar dit het hom niks in die sak gebring nie, want Thuli is op volspoed. Hierdie seminaargroep het sy behoorlik gecapture. “Those are academics’ proxy debates which in fact you are hiding behind, Doctor Eliot,” het sy vinnig geantwoord.
Die wind was uit doktor Eliot se seile.
“Slam dunk,” het Ian Brand saggies gesê, maar dit het gelyk of net ek dit hoor.
Thuli het aangehou Molotov cocktails gooi. “You academics set yourselves up as victims of the university run as a business. You say the old university ideal is dying. You say you have no time to read. But these arguments allow you to stay in hiding.
“You complain that you have no time to read, and this you say while there are people out there,” en sy beduie met die arm af Cape Flats toe, “who can’t eat.
“You say the library is threatened, but you evade the real issues.
“What the university in fact needs, is deep change. Not spoilt academics moaning about luxuries.
“Al hierdie fakulteitsvergaderings wat julle personeel alewig aan die hou is,” stoom Thuli voort, en haar Britse aksent slaan nou kwaai deur haar Engels, nes dit altyd maak as sy erg agitated raak, “al hierdie vergaderings oor gelykheidsteikens en toelatingsbeleid en praatjies oor kwantiteit of kwaliteit … dis als ’n getjommel wat die wáre kwessies vermy.”
Doktor Eliot het gekug, en weer probeer: “Wel, as UCT ’n wêreldklasuniversiteit wil wees …”
Thuli: “Dis ’n ingevoerde maatstaf. Wie besluit wat is wêreldklas? Die markte? Grootkapitaal? Dis waar julle suiker eet.
“Maar dit traak julle nie hoe jul studente woel met die sorge van ons demokrasie en die geskiedenis nie, heelpad terug tot by koloniale tye.
“Julle is nie bekommerd oor die daaglikse leefervaring van jul studente nie.
“Hoeveel studente sit honger in jou klasse? Weet jy? Het jy al gevra?
“Vra bietjie hier vir Jerome Maarman of hy vanoggend brekfis gehad het.”
Ek krimp terug, soos altyd wanneer Ian Brand of Thuli Khumalo oor my praat in die seminare. Ek kry altyd die gevoel hulle gebruik my vir hul argumente. Hulle stoot my rond op die skaakbord.
Gebrúik my.
“Don’t personalise this,” het doktor Eliot gekeer.
“Ons moet, ons móét. Ons móét die vrae vra. In fact, it’s time to start calling out errant academics.
“As jy die fout is, of die beweging teenstaan, moet jy blootgestel word.”
#
Ian Brand hover hoopvol hier by my. “… kan ek jou ’n lift gee,” het hy nou net gesê. Almal het al geloop. Die aircon skop in noudat die deur na die warm gang oop is.
“Nee, dankie.”
Sy skaduwee val oor my. Gaan net weg, wil ek hom sê. Moenie my jou tjommie probeer maak nie. Just go away.
Ek wil nie te lank saam met jou gesien word nie. Ek hou nie van jou klewerigheid nie. Jy soek praatjies. Altyd in Afrikaans. Highly embarrassing hier. Upper Campus. Net nie cool nie, man. Loop met Die Burger onder jou arm, só dat almal kan sien jy’s Afrikaans.
Is dit aspris? Of uit domgeid?
Seker ál Afrikaanse koerant op hierdie kampus vandag.
En jy wil seker nou vir my ’n takeaway gaan koop vir brekfis. Vir jou wit skuld.
“Nee, dankie,” sê ek weer.
Ek kyk Ian Brand se hardegat stappie agterna. Hy klap-klap met die koerant teen sy been soos hy loop.
#
Lank, lank stel ek al hierdie humiliation uit.
Baie kere het ek al daar in Main Road op daardie hoek gaan rondstaan, my asem opgehou, die deure van die bank dopgehou, en dan maar weer shelter toe gestap waar ek ingekruip het en Fanon en Biko gaan lê en lees het.
Voetsek. Futsek.
Ek staan nou weer lank onder die boom oorkant die straat en hou die bank se deure dop. Ek tel hoeveel wit mense gaan daar in en kom uit. Hoeveel swart en bruin.
Not a privilege, but a right.
Ek hoor Thuli se stem in my ore. Ek stap oor die straat en gaan die bank in.
Stoot die glasdeure oop. Voel die security guard se oë oor my gly, van my kop tot by my tone. Hy skryf almal wat hier kom, se name op ’n clipboard.
“Jerome Maarman.”
Daar is die bordjie.
Student Loans.
Die bank klou soos Fort Knox hier vas op Main Road se taxiroete, hier op die rand van die Obs, en as jy hier binne is, voel jy die burglar bars om jou toevou. Jy’s like in ’n hok.
Die tellers agter glas kyk my agterdogtig op en af. Hulle kan dit seker nie help nie. Die rowers kom hier, hulle bars in met guns, swaai die ysters diékant toe en daai kant toe en steel daai cash-laaie in ’n jiffy leeg.
Net ’n drie minute en hulle is weg, in hulle splinternuwe gesteelde Mercedesse of vinnige BMW’s wat sommer so skuins teen die sypaadjie op geparkeer is.
Hulle jaag die traffic in, vet van die geld, druk verby karre, roekeloos. ’n Kwartier later sukkel ’n pap polisiebakkie agterna wat in derde rat moan soos hy spoed probeer kry en dan is daai gangsters al lank uit Main Road uit regs af op die N2 outgoing en hulle’t uitgeskiet Strand se kant toe en dan af met die skouer Langa in en hulle’s gone.
Hulle sit al en Guptas drink, daai lang liter-biere, terwyl die polisie nog diékant sukkel met hulle ou bakkies.
So jy kan die bankwerkers seker nie blameer dat hulle my só sit en kyk nie. Elke ou wat hier inkom, is potentially life-threatening. Ek verstaan daai. Daai robbers dra ook lounge shirts, nes ek nou. Netjiese pakke. Entrepreneurs. Sakemanne.
Onse nuwe executives.
Hok binne hok binne hok, binne-in die hart van die hok is die bankkluis.
Ek sit voor haar. Student Loans. Tussen ons staan haar desktop. Sy bestuur haar desktop asof hy die konsole van ’n army-trok is. Loer vir my oor die skerm toe ek inkom. Hands on controls.
White capital.
Sy’s nie lus vir hierdie dag nie, sê haar gesig.
En nie lus vir hierdie soveelste bedelaar nie, lees ek in haar skouers soos sy defensive daar sit.
Naels swart geverf. Wit tannie, oorgery tot hier van Parow se suburb-kant af, dink ek.
Sy kyk my aan. Fire haar first shot. “Hoekom het jy nie aanlyn aansoek gedoen nie? Meneer.”
Daardie laaste woordjie is ’n toegewing. Dit klink meer soos ’n belediging as ’n beleefdheid.
“My data is gedaan.”
“Kan jy nie internettoegang kry op die kampus nie?” Sy wag nie eens tot ek antwoord nie. “Ís jy ooit ’n student?”
“Die kampus is toe. Fees Must Fall het alle ingange geblok.”
“En jy’s nie een van hulle nie?”
Ek skud my kop. “Ek is van die Noord-Kaap.”
Sy flikker op. “So jy’s nie ’n betoger nie?”
“Ek doen Translation Studies,” sê ek.
“En wat is daai in Afrikaans?” Sy beweeg sodat sy my verby haar skerm beter kan sien. “Sal jy werk kry eendag? Gebruik daai sirkus van ’n Zuma-parlement nog vertalers?”
Ek haal my skouers op. “Net ’n tienduisend. Net om my jaar deur te sien. Ons moet dalk eers in Januarie sit vir eksamens. Klasse is hierdie week suspended weens die proteste. Ek moet langer in die Kaap bly, tot dan.”
“Jou finansiële rekord lyk nie baie goed nie.” Terwyl sy by haar skerm inbuk: “Ek sê jou, meneer Maarman. Daai Fees Must Fall-kinders het nog nie één eerlike dag se werk ingesit nie. Hulle ma’s en pa’s is vet katte in die regering en vreet die trog leeg terwyl die kinders op die Kasteel se mure pronk en ek en jy hier sit.
“Plaas dat die studente hul woede neem na die regering, ja, na hul eie ouers in daardie regering wat die land nou so die afgrond in bestuur.”
Haar vingers hamer oor die toetsbord voor haar. Terwyl sy praat, skiet haar oë oor die skerm.
“Wag maar tot hulle hul verniet grade gekry het en hulle in die werkplek moet uithaal en wys. Hulle sal gou op hul plek gesit word. Daar’s nie plek vir ’n geskreeuery en brandstekery in die régte wêreld nie.
“Protest gaan hulle dán niks help nie.
“Wie dink jy gaan ooit ’n job gee vir een van daardie studenteleiers wat elke aand op die TV-nuus is? ’n Werkgewer gaan mos weet jy pluk ’n lat vir jouself.
“En as hulle so aanhou, ek sê jou, gaan hul grade in elk geval niks werd wees nie. Teen daai tyd is al die goeie lektore al weg en die universiteite boskolleges.
“Wag maar, wag maar tot hulle die regte wêreld sien.
“Buitendien, ek het ’n vermoede. Julle betogers soek net ’n easy route na die werksplek. Julle kom hier by my in met smartphones en boetiekklere. Dis al wat julle wil hê. Dit gaan als oor geld.
“As julle eers jul cushy jobs gekry het, gaan julle geen woord meer sê oor economic justice en armoede en decolonialisation en cultural appropriation en Africanness en wat julle ook al nog oor praat nie.
“Wag en kyk jy maar.”
#
Die regte wêreld, Antie, wil ek aan haar sê, is Fagan’s Farm se straatjies. Kom ruik jy hoe stink dit daar as die kakhuise vol raak. Kom kyk hoe lyk dit. Jou oog sal goed sien wat julle whities mos graag sien. Vir jou sal dit die laagste vorm van lewe wees. Jy sal crime sien, jy sal oorbevolking sien. Krioel, is die woord wat jy sal gebruik. Ek hoop nie ek is reg nie, maar dalk sal die woord ape by jou opkom.
Die kans is goed, Antie.
Ek weet hoe jy kyk. Jy sien vuil en arm en stink en ape.
Ek weet. Antie, ek weet.
Tannie, gee my net my geld dat ek kan aangaan.
’n Groot benoudheid gryp my vas. Die vrou voor my met haar swart naels, die swart moesie op haar keel wat spring terwyl sy praat, die makeup wat nie ’n stúkkie natural skin die lig laat sien nie.
Die gespuite hare, die kuif soos ’n brander wat breek. Pikswart pupille. Wit vel, nog nooit son gesien nie. Bleek, bleek. Die Sterns-ringe, blink en geknop van die bling. Klein sweetdruppeltjies op die ligte snorretjie wat swart lyk as sy haar kop draai en die lig van die skerm reg val.
“Ek wil net deurkom, Mevrou, my diploma vat en klaarkry. Ek soek net ten thousand, daai’s al.”
Sy kyk op. “Dáái’s al? Sê jy? Dáái? Jy praat Capey?” Die agterdog is terug. “Ek dag jy’s ’n Kleurling van die Noord-Kaap? Daar praat julle mos nie Capey nie?”
Sy lyk triomfantlik. Victorious. Sy is trots op haar vermoë om leningsaansoekers uit te vang. Een misstappie en jou hele liegstorie val plat, sê haar blink oë. Hier vang sy nou weer ’n klein bliksem uit.
“Hoe weet ek ek kan jou glo?”
My kop raas. Kleurling! “Mevrou kan tog iemand bel. U kan bel …”
“Wie?”
My kop hardloop. Iemand wat by haar gewig sal dra. Doktor Eliot? Nee, nee, hy’s so private school-Engels, sy sal hom nooit vertrou nie. Hy’s so deur die mis en deurmekaar; dalk ken hy nie eens my naam nie. Ek is stil in sy klas. Dalk sê hy iets oor my stilte. “Oh, yes, the quiet one, no, I’m afraid I don’t really … I’m terribly …”
Stille waters, diepe grond. So iets. Netnou sê hy so iets.
Brand! Ian Brand!
“Brand. Meneer Brand. Hy’s …” Ek krap in my geheue, waar nou weer? Waar is sy kantoor?
Waarheen stap hy, so koerant onder die arm, wanneer klas klaar is?
“Oh, yes. Brand. Hy’s ’n prokureur, hy’s ’n belangrike prokureur, hy …”
“En is meneer Brand op die universiteitspersoneel?”
“Nee, nee, hy werk in die Foreshore.” Ek voel ek wil uithardloop. Die vorige nag het die wind so hard deurgekom daar by die shelter dat ons teen twee-uur die oggend ekstra tou moes vat om die sinkplate se ente teen die dun boomstampies vas te woel.
Terwyl ons besig was, het die wind die een seil geskep en hy’t in die wind begin wapper, sy punte het soos geweerskote geklap, en toe vat die wind hom en hy dryf soos ’n groot swart vlermuis oor die highway, teen ’n kar se windscreen aan en klou eers vas, maar gelukkig ruk hy weer los en skiet die lug in.
Toe slaan die seil ’n taxi en die taxi skiet hier na regs, stad se kant toe, met die swart blinddoek oor sy voorkant. Ek het geluister, maar daar was geen crash nie; ek het verwag hy gaan die embankment strike want hy ry blind.
“Luister, Mevrou.” Ek leun vorentoe. “Hier het ek dan nou my studenterekord vir jou gegee. Daar lê dit.”
Sy kyk na my. “Weet jy hoeveel duisende glyjakkalse kom hier in? Een en almal is kamma ’n student. Jy weet, daardie universiteit in die Baai. UPE.” Sy dink bietjie. “Daai Nelson Mandela Universiteit. Ja, dis mos die plek se naam nou.
“Hulle vind gister uit, dit was in Die Burger, hulle vind wragtag uit die student council president is nie eens ’n studént nie. Kan jy glo?”
Nou, skielik, trek sy my in, by haar taken aback-geit.
“Kan jy glo, en hy weier om toe te gee. Hy sê hy’s verkies tot president en dis dit!
“Hy’s nie eens geregistreer vir ’n kursus nie!
“Hoe werk dit op kampusse as enige agitator studenteraadsvoorsitter kan word sonder dat jy eers íngeskryf is vir ’n kursus?”
Sy skep asem. “En daai Wits student leader, wat gesê het hy is ’n Sisulu. Familie van Mandela se kameraad Walter Sisulu. Toe hulle hom uitvang dat hy in Lesotho gebore is, toe sê hy Sisulu is net sy performance-naam.
“Dit staan als in die koerante. Gaan lees maar!”
#
“Meneer Maarman. Hulle suiker hier deur, glo my maar, in hul honderde elke dag, van die straat af. Partykeer kan jy sien, die man is ’n Kongolees, jy weet, hulle is mos so blou, so blóúswart. Jy weet voor jou siel hy lieg vir jou. Jy hoor sy Franse aksent.
“Hulle kom hier verby en die een studeer kamma ingenieurswese en die ander een kamma vir onderwyser.
“Almal hier tot by my, by Student Loans.
“Asof ek liewe Jesus is wat brood en visse uit klippe kan toor.
“Net ’n paar vragies en ek wys hulle die deur.
“Nee, jy kan my niks, net mooi níks vertel nie.”
“Ek soek net tienduisend. Maar Mevrou. Dit kan ook vyf wees. Ek moet by u beg om my te trust.”
Die frase Jy kan my ma bel kom by my op. Sy’s ’n domestic in Kimberley. Ek het haar employer se nommer hier.
Die sinne jaag nou deur my kop. Jy kan bel en hoor ek was die beste student in matriek van my skool. Jy kan lees wat my rekord is, ek het Saterdagoggende in die tuin gewerk.
Van my ma se employer. Mevrou Van der Merwe.
Ek het ’n brief van daai vrou wat ek kan wys. Eerlik en skoon. Op sy plek, altyd.
Ek het ’n skoon rekord.
Maar ek kan my ma al hoor. Sy is nie goed met phone calls nie. Sy hoor nie meer so goed nie. Sy moet eers die stofsuier afskakel, ek sien dit voor my oë afspeel terwyl ek hier sit.
Haar employer roep haar na die foon, ongeduldig maar vriendelik, kom, Martha, kom, kom, iemand uit die Kaap soek jou. Vat sommer gou die oproep. En terwyl mevrou Van der Merwe weer by haar werkstafel inskuif, moet my ma daar by haar staan en hallo? hallo? in die foon in. Wie? hoor ek haar al sê, te hard.
Wie?
En die onvermydelike: Is my seuna okay? Is hy okay?
#
Nee. Nee, dit kan nie.
“Jy skuld reeds vyftig. Wie’t borg geteken?” Haar oë flits oor die rekords. Die skermlig gee haar vel ’n groen skynsel.
“My oom.”
“Jou oom?” Sonder om na my te kyk. “Het hy ’n vaste werk?”
“Hy’s ’n driver en deesdae workshop floor manager by Ferreira Freight, in Bellville.”
“Kan ons hom bel?”
“Hy mag nie oproepe vat terwyl hy op skof is nie. Daar’s ook nie fone op die workshop floor nie.”
“Dra hy nie ’n selfoon nie?”
“My antie vat bedags die selfoon saam met haar, want daar’s baie skollies op die pad wat sy mee werk toe stap. Hulle’t haar juis laas week gerob.”
Sy skud haar kop. Hopeloos, sien ek haar mond die woord vorm. Maar dalk is ek verkeerd. Dalk lees sy net iets op die skerm.
“En waar bly jou oom? O, o, hier is sy adres. Shack 336A/93 Fagan’s Farm? Is dit ’n squatter shack?”
Sy kyk op. “Is julle plakkers?”
“Dis starter housing daar tussen Broadway en die N2 in die Strand.”
Sy snork. “Stárter housing, As dit is hoe die start lyk, wonder ek hoe die einde sal wees.”
Ek stap vyf minute later totally abused en dizzy uit in die son wat my met die oophand klap.
En loop na die taxi rank en klim in die taxi uit Strand toe, toe my oë nat word en als voor my swem.
Die taxibestuurder het ’n rubberslang wat aan sy rear-view mirror hang. ’n Geelslang. Hy lyk real en hy lyk giftig. Die slang gooi sy lyf heen en weer soos ons ry.
Toe sy my vra, heel aan die einde, nadat sy oor starter housing daai snork gegee het, toe sy vra of ek enige, énige income het, toe sy vra waar kry ek ’n inkomste, het ek op haar geskrou.
“Ek masturbate elke week in ’n proefbuis!” het ek op haar gegil, opgestaan, en practically uitgehol uit die bank uit.
Antie, Antie. Soos ek nou voel, gooi ek petrol uit oor jou Corolla of jou Corsa of wat jy ook al ry, ek spat hom vol petrol en ek brandsteek hom en fok jou en jou mense ook, julle whiteness en julle uitbuitery en julle gefokte rainbow-nation approach.
#
En in Shanghai pronk die bruide op die Bund, hulle syrokke blink in die mis en nagreën en die boulevard se lampe. Tussen die glinsterende sambrele skop elke rooi bruid haar rok uit, net lank genoeg vir die flits van die kameras, totdat die versorgers met sambrele nader hardloop en sambrele oor haar uithou waar sy hier pragtig en glansend haar mooiste oomblik beleef voordat sy na ’n klein woonstel vertrek en die sleur van die lewe begin.
In Shanghai, in die nag, steur niks die goudvisse in die tempeltuin nie. Net die spoke van dooie soldate glip oor die voetbruggies of sit fluisterend op die klipbankies. Saggies kom die gezoem van die basaarrestaurante oor die lug gesweef. Te veel vliegtuie sny deur die naglug.
In die Shanghai Museum op die Plein van die Mense begin kalligrafie, die antieke simbole, magies gloei.
Geheimsinnige lig gaan van hulle uit. Die uitgestalde etniese drag, die rokke en baadjies in allerlei kleure, seremoniële drag van die ou stamme en die verafgeleës, die ou soldaatuniforms en priestergewade, dit alles kry weer lywe en begin in die doflig beweeg.
In die oudkoloniale Hotel Astor se balsaal begin Britse offisiere en hul metgeselle wals. Buite proes perde voor rytuie. Die lig glinster op die orkes se instrumente en kerse in kandelare flikker wanneer die Weense wals spoed optel en die pare tol.
In die Franse Konsessie stroom motorfietse en karre deur die reën, onder die druppende bome deur, met die glinsterende boetiekvensters en verlate, natgereënde restaurantterrasse wat ’n mooi agtergrond teken vir die eensame jong vrou wat haar in die straat af haas.
Op die internet trend ’n videogreep uit ’n plattelandse gehuggie iewers in noordelike China. Twee mans hou ’n hond vas, op sy rug. Hy stoei. ’n Derde man kom met ’n blaasvlam nader. Hy wil nie sweis nie, nee. Die kyker gril, want by die oop, tjankende bek in blaas die man die vlam, terwyl die hond spook en wriemel maar die drie mans verbete volhou en die hond se mond begin braai en sy longe hou mettertyd op pomp en hy ril nog ’n slag en raak dan pap en die fees kan begin.
#
Is dit ’n fopvideo?
In die Museum van Plakkate begin die hordes in rooi uit die plakkate stap. Die marsjerende balletdansers skop hul voete uit en gee ’n sprong en uit die plakkaat waaier hulle, uit die klein museumpie ingedruk in ’n klein woonstel, en hulle borrel soos skoenlappers by die tuit van die woonstelingang uit en hulle dartel deur die lug. Eenderse, gehoorsame, revolusionêre vlinders wat glinster in die lug.
In die toringgeboue sit intense jong mense – almal mans – voor hul rekenaarskerms en jaag die uiteindelike oomblik na – wanneer mag van die biologiese mens gaan skuif na die masjien, en die groot en nuwe intelligensie kil na die mens gaan kyk en sê: Jy as jy is nie meer nodig nie. Ek weet alles en sien alles. Ek voorbeskik en ek is jou onsterflike meester.
Sy is nêrens heen op pad nie.
Agter haar, onsigbaar, is daar ook niks.
Dis net sy. Beweeg. Beweeg. Sy móét.
Vorentoe.
#
My ma. My arme, arme ma.
Dis maande ná haar gesprek met Beth in die koffiewinkel in Kuilsrivier. Dit voel soos ’n ander lewe, ’n ander wêreld. Daardie seminare!
Thuli sit in Shanghai se Franse Konsessie in die boekwinkel met die swart deur met haar selfoon in haar skoot. Dit is oorverhit, asof die gesprek dit ontstel het. Dis so warm dat dit haar hand byna brand.
Sy’t pas ’n WeChat-boodskap, kwaad, aan haar pa afgevuur:
Fees Must Fall gaan nie net oor fooie nie, Pa. Dit moet die harde werk van die generasie van die Freedom Charter en die generasie van Soweto 1976 verder vat. Pa-hulle doen dit nie. Ons gaan dit doen. Dis al. En dis my laaste boodskap oor politiek. Ek wil nie ooit, ooit weer met Pa oor die politiek praat nie, asseblief. Julle’t opgemors. Julle. As ek nog een keer Pa se antwoord moet hoor wanneer iemand Pa vra hoe dit gaan, word ek mal. “Ek eet, my maat. Ek eet lekker.”
En dan nóg ene. Kwaaier:
Hierdie lyf van my, opgeneuk deur júlle rubberkoeëls. Hierdie lyf, Pa, uitgesluit uit als. Het Pa al daar ingestap, alleen, tussen daardie geboue van UCT in? Gaan daardie biblioteek in, ’n fort van Westerse denke. Die boeke gestapel om jou, soos mure. Ja, doen dit bietjie elke dag. Gaan loop daar. Stap in daardie gange af met daardie wit lektore wat jy kan sien sit, elkeen agter sy fort van ’n lessenaar, en hy kyk as jy verbyloop. Jy weet wat hy dink: Difficult black student. Ja. Dan voel jy dit aan jou lyf, Pa. En dan skiet jou eie regering jou nog in die rug ook.
Nee, Pa, dis klaar. Dis al. Eet maar lekker, jy en Sello.
Jou dogter, Thuli.
#
In haar gedagtes, ontstig deur die gesprek, is sy skielik terug in die Yu-tuin, met sy jasmynstruike, bamboes en gestapelde spoelklip. Dis ’n labirint met toeriste wat langs die klippaadjies wandel, toustaan by nou bruggies wat oor waterpoele span of stilweg ’n klompie trappies klim om in ’n onverwagte hoek, koel onder ’n bakhand klip en skuins onder ’n boom se takke in, ’n oomblik te rus.
Stadig beweeg ’n lang, maer man met ’n strooihoed deur die tuin. Terwyl Thuli op die paadjies verdwaal en sukkel om tussen vurke te kies en te besluit of sy al voorheen op hierdie spesifieke roete was, en nie meer noord of suid kan uitmaak nie, kom sy hom dikwels teë waar hy met ’n vangnet met ’n lang steel staan.
Nooit kyk hy na die drentelende toeriste wat soms by ’n trappie talm om ’n slapende waterskilpad op ’n klipbank in die son te bekyk of te wag op hul beurt om met kronkelende kliptrappies op te loop nie. Nooit maak hy oogkontak met haar waar hy botstil staan en kyk na die groot, geduldige goudvisse wat tydsaam en vetgevoer in die skadu’s wag en net dan en wan uitbondel in ’n vertoning van goud in die sonplasse nie.
Hierdie tuin is in die sestiende eeu gebou en party kliphoeke is glad gevat. Jy soek verniet feng shui hier, het Thuli gou ontdek. Dis asof almal hulle freneties haas om eers die doolhof uit te pluis, hoe paadjie op paadjie inkrul, hoedat jy telkens om verwronge stamme en rotswande teruggebring word na waar jy al was, en asof Thuli telkens die stil man teëkom waar hy versigtig buk en stadig ’n papiertjie uit die water lig, of eenkeer, toe sy weer digby die ingang beland, ’n drywende Coke-blikkie waaraan ’n trossie goudvisse reeds hang, uitskep.
Sy begin by die Saal van die Drie Koringhalms, waar vrugte van die oes uitgekerf is op die houtdeure en ’n muwwe reuk hang.
Deur die Kamer van Tienduisend Blomme, en die Saal van die Aankomende Lente, waar die rebelgroep die Kleinswaarde hul hoofkwartier in 1853 gehad het.
Geskiedenis, ruik Thuli, in die bedrieglike tuin. Die tuin is tydens die Opiumoorloë verflenter deur Britse offisiere wat barakke daar gehad het, en tydens die Taiping-rebellie het die Franse hier uit weerwraak verwoesting kom saai nadat hul Konsessie aangeval is.
Kolonialisme, snuif Thuli.
En net een keer, toe sy opkyk van waar sy oor ’n donker poel buk waarin sy haar verbeel daar beweging was, in ’n onverwagse oomblik, toe sy alleen was digby ’n voetbruggie, in daardie oomblik dat sy opkyk, kyk sy vas in sy swart oë wat haar indringend aankyk terwyl hy leun op sy lang vangnet waarin daar op die poelbodem reeds ’n vis vasgevang is.
#
Toe hul oë ontmoet, gaan hy vinnig voort met sy werk. Hy skep die vis met ’n glinstering van swaaiende waterdruppels uit en gooi hom, asof hy daarvoor vies is, met ’n ruk van die vangnet deur die lug sodat die vis in ’n goue boog waarin hy wriemel soos ’n spier wat uit ’n liggaam gesny is, ’n ent verder in die water val.
’n Volslae onnodige handeling.
’n Woede, hier in slegs haar teenwoordigheid.
#
Met net die geritsel van bamboesblare, en die vis wat verskrik soos blits in donker water verdwyn.