Читать книгу Die biblioteek aan die einde van die wêreld - Etienne van Heerden - Страница 9

3

Оглавление

Skin cred

Nou eers tref dit hom behoorlik. Vertraagde skok. Ian Brand sit in sy kantoor in die Glaspaleis, Foreshore, Kaapstad. Hoog in die lug, boaan die toringgebou, wag hy op sy kliënte. Dankbaar dat hulle laat is. Oop sit hy hier in die suidooster, verblind deur die lig wat van Tafelbaai opkaats. Hy’t flussies in die kelder stilgehou, die ontvangstoonbank se mense was besig en het net gewaai, en gelukkig was daar niemand in die hyser nie.

Hy’t hom hier kom neerplof agter sy lessenaar en toe tref die bewerasies hom. Oor wat so pas gebeur het. Sulke dinge moet hom nie oorkom nie.

Nee.

Want.

Hy is nou weer. Weer in. Die helikopter en bloed. Stank. Kantel.

Niks ruik. Ruik soos.

Die dood nie.

Hy skud sy kop. Jy’s hier. Jy’s hier, prewel hy. Kaapstad. Swank pad, Glaspaleis. Kick-ass lawyer.

Hier.

Kom nou.

Hy het van Jannie Smuts se standbeeld in Adderleystraat afgery gekom en was aan die terugdink aan die vorige aand se ete aan huis van sy ouers. Een van die gaste, ’n bejaarde romanskrywer wat deesdae in ’n aftreeoord in Oranjezicht woon, het begin praat.

Terwyl hy verby Jannie Smuts se standbeeld ry, was Ian se gemoed nog vol van haar woorde.

Haar stil en meedoënlose beslistheid oor die verbygaan van dinge, die manier waarop die geskiedenis sigself herhaal, en die dae wat hulle beleef, wat vreemder as fiksie is.

“Dis asof ons, die wit Afrikaners,” het sy gesê, “na die werklikheid geruk word. Geruk word úit ons uniek Afrikaanse verhaal wat met die drif van pioniers opgedroom is en wat ons oor geslagte heen aan onsself vertel het totdat ons almal dit geglo het.

“Ons klou nog vas aan nostalgie deur ou voorblaaie van Landbouweekblad uit te stal. Ou uitgawes van tydskrifte in gedenkuitgawes weer uit te gee. Te lees oor kosters en voetestamp en hanslammers, kerkbasaars en ou treinhaltes.

“Maar als was net ’n droom. ’n Volkome droom,” was haar woorde aan hulle.

“’n Historiese vergissing, die Afrikaner.

“Ons kultuur is soos ’n groot biblioteek wat in ligte laaie staan.

“’n Oogknip in die tyd, die wit stam van Afrika.”

Ja, dis hoe dit deesdae gaan aan die etenstafel van Ian se ouers, wat graag die Kaapse adel onthaal.

#

Terwyl Ian met hierdie gedagtes by Jannie Smuts en toe die blommeverkopers verbygery het, stroom die protesteerders skielik om hom. Die beplande optog na die Parlementsgebou is die vorige dag in die media aangekondig, maar hy dag dit sou eers later plaasvind. Nou het hy midde-in die chaos beland.

Sommige betogers was met klippe bewapen, sweet het hulle afgetap. Langs die betogers, onbeholpe in die draf aan ’t retireer, was die onlustepolisie, hul toerusting skrikvreemd in hierdie omgewing van winkels en blommeverkopers en toeristewoonstelle.

Regs was die Goue Akker, met die groot glasvensters waarop die son weerkaats, met die Wimpy se logo. Glaskristalle lê oor die straat versprei en knars onder sy kar se wiele. Groot snye glas sit nog in rame.

Toe Ian spoed verminder vir die voetoorgang, stroom betogers om hom en klap op sy motor se dak. ’n Paar begin die kar skud om dit om te dop, slaag nie, en hol dan verder.

Toe ’n jong swart man ’n ent weg van Ian sy hand terugtrek om die baksteen deur die Wimpy se groot glasvensters te gooi, deins die teiken anderkant die glas reeds weg.

Hulle’t hom sien kom.

Dis ’n bruin gesin, en die vrou met burka is al half orent. Die man met sy stoppelbaard bak sy arm en skouer óm die seuntjie, wat nog strooitjie in die mond met sy melkskommel sit.

’n Klein prinsie is hy. Ian kon net sowel iewers in die Midde-Ooste gewees het; die seuntjie het donker, intense oë, verbeel Ian hom nou waar hy in sy kantoor sit en bewe. Gene wat terugspoel na wie weet waar, deur die smart van apartheid terug, verby die tye, na slawerny en gevangenskap en ’n land ver van hier.

En op daardie oomblik.

Die oomblik net toe die baksteen begin vlieg, toe boor ’n pyl van agter deur die kaalbolyf baksteengooier, tussen die swart, glimmende skouerblaaie in en voor by die bors uit, asof dit deur botter glip.

In sy motor verloor Ian byna beheer. Sy voet glip van die rem af en hy trap per abuis die petrol. Die Alfa spring vorentoe en toe Ian betyds rem om nie teen die motor voor hom te bots nie, stol die enjin.

Die aansitter stotter.

Skouspelagtig vlieg die baksteengooier se rooi bandana van sy kop af. ’n Man met ’n kamera vang die rooi stralekrans bokant die gooier se kop en ook vasgevang is die vlugtende gesin daardie skriksekond net voor die baksteen die glas tref.

Die verkeer, tot stilstand geruk, begin benoud beweeg. Op die agtergrond, besig om oor die straat na die aanvaller aan te kom: ’n falanks onlustepolisie in macho uniforms. Rubberkoeëlskieters.

En ’n volgende YouTube-greep: bloed uit die man se bors spuit agter die pyl aan asof dit die pyl jaag en rooi waaier die bloed uit oor die venster net voor die baksteen deur die glas bars. Die baksteen tref die stoppelbaardman teen sy slaap sodat hy terugsteier, agteroor val en die kind van die stoel aftrek. Die kind trek die spattende melkskommel saam en in nog ’n foto, uit ’n ander hoek (deur iemand vanaf die Wimpy se toonbank): die spattende groen melkskommel, die gooier, Maxwell Tshabalala, se spattende bloed, glas wat in skitterende kristalle teen die oggendson sprei, en die verbaasde stoppelbaardman se kwyl wat by sy skewe kaak uitskiet.

As jy mooi kyk, sien jy ook op stilfoto’s iets wat soos ’n streep in beeld lyk. Effe blinkerig. Nat, rooi. Jy kry dit net as jy op die foto’s inzoem. Eers lyk dit soos dalk ’n lysie teen die Wimpy se muur, of selfs ’n fout op beeld – dalk ’n wimper voor die lens.

Maar later sou dit uitgewys word: dis die moordpyl, nog in volle vlug.

Klaarblyklik afgeskiet deur ’n hoogs gesofistikeerde kruis- of langboog. Dodelik. ’n Skut wat sy storie ken.

Teen só ’n pyl lyk die klippe en uitgebreekte sypaadjieplaveisel waarmee die studente hul revolusie voer, na primitiewe wapens.

#

Die klein en skaars hoorbare pieng wat aandui dat sy kliënte gearriveer het. Hier by Brand, Nortier & Cele Inc. is als gedemp en diskreet. Hipermoderne, gestroopte en papierlose kantore. Saggies brom die databergingstelsel in die kamer langsaan.

Hy trek sy asem diep in. Staan op, sit eers weer.

Veeg oor sy oë. Nie die eerste mens wat hy sien sterf nie, nee.

Op, Ian! Húp!

#

“Kom binne, menere. Welkom.”

Hulle het almal hulle oë op hul slimfone. Die rede vir die verkeersophoping in die middestad en hoekom hulle laat is, en die sluipmoordaanval met die pyl – dis als in hulle hande.

“Ek het dit self gesien,” sê Ian. “Ek het pas daar verbygery.” Hy haal weer diep asem. “So, waar begin ons? Wil julle eers die uitsig sien?”

“Het ons maar nes die Chinese gesigsherkenningstegnologie geïnstalleer in Kaapstad se CCTV-kamerastelsel, was daardie skutter van die moordpyl se gesig én sy naam nou al oral op die internet,” sê die lang kliënt aan sy kollega.

Hulle staan in die daktuin van Brand, Nortier & Cele Inc. se kantore, wat van ver gesien nogal ’n komieklike glasboks bo-op ’n toringgebou is. Ian se vennoot, Rudolph Nortier, sê altyd: “As jy hier bo in die daktuin uitloop, weet jy net een spesie broei hier – en dis die arend. Legal eagles!”

Ian, anders gerat, sou die daktuin nooit in sulke brawe terme beskryf nie. Nog bewerig ná wat hy in Adderleystraat beleef het, staan hy nou saam met die vyf mans, potensieel nuwe kliënte, op die rand van die tuin en hel oor die afgrond. Dis soos om in ’n heli oor die stad te hang. En soos altyd wanneer hy aan helikopters dink, ruik Ian bloed en limf en daardie reuk wat jy nooit van jou hande kan afwas nie: die reuk van die dood. Hiervandaan die witblink flits van oggendson op die see, daar ver die rookkolom waar die een of ander trein vandag weer op die Kaapse Vlakte brand, en nog verder die blou branders van die Hottentots-Hollandberge wat soos die voorpunt van ’n tsunami na die stad aanrol.

Hier ruik jy ligweg traangas op die lug, maar geboue versper die uitsig na die stadsdeel waardeur die studente pas beweeg het.

Hulle staan daar rond en bespiegel oor wat pas gebeur het, en Ian is maar te bly dat hy kans het om sy gedagtes agtermekaar te kry.

Die man met die goue das skrik (“Hierjy!” onder gelag) toe die daktuin se hidrobesproeiing skielik aangaan. Later gaan hulle na binne, maar Ian het hulle klaar geëien. Die Goue Das is die alpha male – en hy lei aan aandagafleibaarheidsindroom. Toe die kabelkar daar buite begin opkatrol teen Tafelberg het sy oë soontoe geflits, nes ’n verkleurmannetjie s’n wat ’n vlieg gewaar.

Die Goue Das se oog val ook, toe hulle om die ovaal tafel gaan sit, op die mikrospuitjie naaste aan die glasdeur, die druppels wat spat teen die glas. Sy oog volg die beweging van ’n albatros aan die westekant verby. Sy oog blits na die getrommel van sy kollega, die buitengewone hoogleraar, se vingers.

Dis die man wat, toe hulle aansit, kyk na Ian se iPhone langs sy hand op die tafel en sonder ’n sweempie ironie sê: “Hallo, Google.” Ian wil eers met ’n kwinkslag kom oor Google, die groot luistervink, maar toe hy sien dat die ander hul kollega se opmerking as doodnormaal aanvaar, staan hy op, glimlag na die hoogleraar en gaan sit sy foon in die kantoor langsaan neer.

“So ja,” sê hy toe hy weer kom sit.

Die vyf wou voor die tyd nie veel verklap oor hul besoek nie. Net dat hulle ’n uurafspraak verlang om Brand, Nortier & Cele “aan die tand te voel”, soos die Goue Das dit gestel het toe hy die afspraak maak. Nadat hy Ian se blog gelees het. “Ons dag jy’s dalk die man vir ons.” En bygevoeg: “Dis net ’n possibility meeting.”

Tog het Ian ’n goeie gevoel gehad van die terrein waarop hulle beweeg. Vooraf, om die afspraak te knoop, moes Ian ’n opiniestuk oor die konflik tussen privaatheid en sekuriteit vir hulle skrywe en aanstuur. Buitengewone versoek. Nog voordat hulle hom formeel opdrag gee, moes hy dus al werk verrig.

Toe hy sien waaroor hul versoek gaan, het hy besluit om tog die stuk te skrywe. Die onderwerp het hom geïnteresseer.

Hy was juis ’n jaar gelede by die jaarlikse Privacy Conference in Amsterdam.

Dis nie elke dag dat ’n Kaapstadse prokureur so ’n versoek kry nie.

Hy’t dit oppervlakkig gehou, want wat help dit hy wys sy volle arsenaal met die eerste skote? Hy’t begin met ’n trefsekere verwysing na een van die internet se grotes. Jeff Bezos beskryf die konflik tussen privaatheid en sekuriteit as een van die groot konflikte van die moderne tyd.

Die vyf mans voor hom is nie juis die geeks wat jy sou verwag agter ’n projek soos die een wat hulle in gedagte het nie. Hulle besit ’n maatskappy wat in tegnologie wil begin belê, verduidelik die een met die goue das, die onrustige hande en die skaars waarneembare brei.

Die brein is ’n deeltydse hoogleraar (“buitengewone professor”) in ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch en verbonde aan die Lab, ’n kwasi-navorsingsmaatskappy wat hom toelê op datagedrewe tegnologie en dinge soos kunsmatige intelligensie, satelliete en biotegnologie – “’n veld dus so wyd soos die Heer se genade”.

Ian: “Ons weet immers wat wag, menere: Data is die nuwe olie. Die datatycoons is die nuwe mynbase. Dit lees ons orals. En wanneer data, kunsmatige intelligensie en biotegnologie ’n trits vorm, dan het die nuwe nóú gearriveer.”

Met die “nóú” kap hy met sy wysvinger op die tafelblad.

Die buitengewone professor het aan Chinese universiteite klas gegee tydens sy sabbatsverlof en kontak gemaak met ’n klomp geeks in Pudong, Shanghai, wat sagteware ontwikkel “wat jou uit die water sal blaas” (Goue Das).

“Een van China se miljoene startups.”

Ian het sy huiswerk oor die Lab in Stellenbosch gedoen. Saadkapitaal, glo, van die mitiese Stellenbosse mafia – maar dis gerugte. Duidelik, egter, toe Ian nou pas fooie met hulle bespreek het, dat hulle min of meer gemaklik is met die bedrae wat hy uitgooi.

Tussen die reëls: daar is boonop saadkapitaal uit China. Kontakte.

“Verstaan ons mekaar. Verstaan ons mekaar.” Dis die lang, maer man wat aandagtig soos ’n priester lyk. Hy praat oor die internet in spirituele terme, wieg sy skouers saam met sy sinne. Geneig om frases te herhaal. “Domeine van dophou. Domeine van dophou.”

Hy’s die dromer, dink Ian. Kennelik ’n introvert, en hy kom die naaste aan die tipiese geek-prentjie. Hier aangekom sonder ’n slimfoon in sig, ’n sak of skootrekenaar.

Sê min. Sukkel met oogkontak.

Kug gereeld. Bewapen net met ’n droom.

Die Goue Das, Grotius de Grootte, verduidelik. Hy gee die swaai aan dinge: Hulle wil belê in gesigsherkenningstelsels (vir ’n oomblik verloor hy sy draad toe ’n teelepel teen glas klink en sy oë soontoe blits). “Waar was ek nou … weer … o, ja, ons wil belê in stelsels wat … wat … vir … housing estates … jy weet, soos Kleine Zalze buite Stellenbosch …” Hy soek na die woord. “Sekuriteitslandgoedere …” Hy klap sy vingers. “A, dís die woord. Sekuriteitslandgoedere. Lifestyle estates. Die moderne ekwivalent van die ossewalaer.” Hy kyk oor sy skouer asof iets agter hom roer. Gaan dan voort. “Wat aanvanklik in sulke estates geïnstalleer kan word en as daar geen protes daarteen kom of wetgewing nie dan later vir enige privaatwoning se eienaar en dalk klein besighede – vir buurte … later groot kettingwinkels en inkopiesentrums.” Hy kyk buitentoe. “Dalk hele stede.”

“Die hele fokken lánd,” brom een van sy kollegas binnensmonds. “Die donnerse kriminele …”

Grotius kreun, buk af en haal iets uit sy tas. Dis ’n sakdoek. “Maar ons kan nie met massavervaardiging begin voordat daar ten minste redelike regsekerheid is nie.

“Anders as in China is hierdie ding by ons dalk iets wat deur menseregteaktiviste gestop kan word.”

Ian leun dadelik vorentoe. Deur sy gedagtes flits die waarskuwing: Hou dit algemeen. Moenie verklap dat jy net één aktivis in Suid-Afrika nodig het soos die VSA se Brian Hofer nie, dan is hierdie menere se projek in sy maai. Hier kom ’n lekker rekening. Hou dit vaag. “Jy’t reg. Die hoop gaan dalk inderdaad beskaam. Daar mag net hier te lande te veel mense wees wat meen dat jy ’n outomatiese reg het op privaatheid – die reg om nie gefotografeer en opgeneem en geïdentifiseer te word nie.” Hy stoot die skinkbord met koffie na hulle aan. “Soos dit maar met die internet en nuwe tegnologieë gaan, is skerp idees en tegnologiese ontwikkeling die reg ver vooruit. Ek praat nou teen my eie belange in, maar ons regsgeleerdes kom gewoonlik moeg agterna om vure dood te slaan, landmyne uit te wys en roetes te probeer kaart.”

Hy snuif. “Maar dalk belangriker vir ons is menseregte-waghonde. Al slaan die reg ’n rigting in, is dit nie te sê dat drukgroepe uit daardie sektor dit sal aanvaar nie.”

“Ek hou van jou benadering,” sê die kwasiprofessor. “Beter om prakties te wees.”

“Eerstens dus,” gaan Ian voort: “Hoe moet die reg reageer op massiewe stelsels soos dié wat China reeds geïmplementeer het om sy een komma vier miljard burgers dop te hou?

“Belangriker nog, voordat julle groot geld aan diepleer of Chinees ontwikkelde sagteware uitgee: Hoe gáán die Suid-Afrikaanse reg reageer? Die Wet op Persoonlike Inligting lê byvoorbeeld nog en wag op Nommer Een se handtekening. Hoe lank al! Hoekom teken hy nie? You ask me!

“En: Weet die een hand wat die ander doen? Dit word beweer dat terwyl Jeff Bezos ’n heads-up gee oor die konflik tussen privaatheid en sekuriteit, sy eie Amazon nie skroom om gesigsherkenningstegnologie aan owerhede en selfs private besighede verkoop nie.

“Daar’s ’n groot debat rondom Amazon se Projek Rekognition, wat mense in real time kan herken.”

En net om te wys hy’t sy huiswerk oor China gedoen: “Hyper-surveillance – hiper-bewakingstoesig is my woord daarvoor – is klaar stewig in China gevestig. Byvoorbeeld: kameras dek honderd persent van Beijing se oppervlakte, en die res van ons weet gesigsherkenning is die voorland van slimstede oral ter wêreld. Geweldige implikasies vir privaatheid, nie waar nie?

“Ek bedoel, wie van ons is ooit aflyn? Ons slimfone is prosteses van ons lywe. Lê nooit verder as ’n meter van ons harte af nie.

“En selfoonmaatskappye is promisku met die deel van inligting oor ons presiese geografiese ligging, enige tyd van die dag of nag, ek verseker julle. Hulle verskoning is dat hulle moet weet waar jy is om die oproepkwaliteit hoog te hou. In die VSA kom ’n rede by: sou jy 911 bel, kan hulle blitsig vasstel waar jy is.

“Ek twyfel of dit als ooit gestuit sal kan word. Daar is eenvoudig net te veel startups wat ’n vinniger, veiliger en gesonder lewe met hierdie tegnologie beloof.

“En hulle beloof dit aan die gretige Chinese owerheid, wat reeds 170 miljoen CCTV-kameras werksaam het en binne die volgende drie jaar nog 400 miljoen kameras gaan installeer.

“Gaan lees maar wat Shoshana Zuboff sê oor die aard van die transaksie wat surveillance capital onderlê.”

Hy rep niks daarvan dat Brian Hofer se aktivisme reeds in 2014 in Oakland, VSA, die owerheid in die bek begin ruk het nie.

Koffie stoom uit die glasbeker en ’n Boeing kom stadig, byna gevaarlik stadig en lewensgroot digby die Glaspaleis verby soos hy insak na Kaapstad Internasionaal. Die Goue Das volg die gang van die swaar voël. Kyk oor sy skouer. Terug tafel toe. Buite, die meeu. Vang ook sy oog.

“Gesigsherkenning gaan ’n vinniger en makliker omgewing skep, want jy kan byvoorbeeld nou al by ’n Chinese lughawe aanteken deur net jou gesig te wys. Niks toustanery meer nie. Groot planne. Op treinstasies sal jy nie, as jy opbetaal is, ’n kaartjie hoef te koop of selfs op die trein jou kaartjie aan ’n kondukteur te wys nie. Jou gesig sal jou kaartjie wees. Of jou handpalm. Jy veeg hom net oor ’n palmleser en daar gaan jy! Huawei belê groot hierin. Dink aan die implikasies: in Beijing ry meer as tien miljoen mense daagliks trein.

“Die Chinese wil sigbewakingstelsels oor die hele land instel, op gesigsherkenning gebaseer. Hulle troos die bevolking dat dit ’n veiliger omgewing belowe.

“Van groter belang, egter, is dat hierdie biometriese tegnologie ook emosies op gesigte en van lyftaal kan aflees – nou al.

“Wat mense sal laat regop sit, is dat die Chinese reeds die tegnologie gebruik om te noem en te verdoem vir klein munisipale oortredinkies. Byvoorbeeld, wanneer jy teen ’n rooi lig oor die straat loop, sien jy môre jou gesig tussen dié van ander teen die videomuur in die duikweg by die stasie.

“Byvoorbeeld,” herhaal Ian. “Ek laat my gedagtes gaan. En dis hoekom ek sê hierdie opdrag is nie sommer vir hier en daar iets gaan uitklap nie. Mens sal the lay of the land moet vasstel. Byvoorbeeld. Julle sal nou dink ek gaan haal dit te ver. Hoe lyk die bedrywighede van die Amerikaanse Burgerregte-unie rondom gesigsherkenning? Ek vra, want: Het hulle enige Suid-Afrikaanse kontakte? Weet julle van iemand wat iewers hier te lande begin mor het omdat sy privaatheid deur die een of ander algoritme bedreig gaan word?

“Iemand wat dalk vra: Wat is die doel van jul herkenningstegnologie? Sekuriteit? Ja, maar hoe gaan jy keer dat dit vir ánder doeleindes gebruik word? Dit blyk uit my vinnige en voorlopige verkenning daar’s in die EU ’n hele gesprek oor wat die Engelse noem purpose.

“Riaan Cruywagen sprak na my wete geen sprook dat my bure …” – en hy beduie na die Media24-gebou ’n ent weg – “… sy bakkies vir ’n gesigsverouderingsapp gevoer het nie?”

Die Boeing is verby en Bloubergstrand se geboueprofiel vibreer in sy hittestroom.

Miskien, dink Ian terwyl hy kyk hoe Grotius sy (te lang; Trump-styl) goue das oor sy boep platstryk, gooi ek ’n Huffington Post-bydrae uit, oor hoe ons regsgeleerdes sukkel om in die verblindende lig te sién.

Later sou hy terugdink: dit was die eerste fout.

#

Dis twee weke ná die besoek van die beleggers in Ian Brand se kantoor en vele maande voor Thuli Khumalo se vertrek na China. Als lê nog voor. Ian kom in Adderleystraat afgery, rigting hawe. Wat hy twee weke gelede op hierdie selfde roete gesien het, spook nou by hom. Die groot vensters van die Goue Akker aan regterkant is al weer herstel, maar die glassplinters saai oor sy gemoed uit.

Soos ’n videogreep sit die toneel wat hy gesien het – nee, belééf het – in die hardeskyf van sy brein. Dit speel oor en oor: die oomblik voor, tydens en ná die pyl deur Maxwell Tshabalala en die Wimpy-venster getrek het.

Die blinknuwe Alfa Romeo SUV swaai vanuit Adderley by Strandstraat in. Ian is op pad na Hoofweg, Observatory, en diep ingedagte. Op die oog af het hy niks om oor te kla nie. Hy is aantreklik, in sy veertigs. Fikse veertigs, sou hy graag haastig byvoeg. ’n Skerp regsgeleerde aan die snypunt van regskwessies rondom kunsmatige intelligensie, masjiengeleerdheid, privaatheid, kubersekuriteit en biotegnologie (die nuwe voorpos, vertel hy graag).

In die Kaapse regsomgewing is hy eintlik nog ’n youngblood, Mandela-Rhodes-beurshouer, met ’n LLM van Oxford én een van Cambridge, waar hy in die nat en koue sy spore verdien het.

Niks om te kla nie, behalwe die gevoel dat die helikopter oor die landskap kantel, ’n groot draai rakelings oor donkergroen boomtoppe gooi en jy afhel en onder die oop deur hier langs jou skiet die vlekke van groen en bruin verby en jy voel duiselig en op die punt om te spring. Niks om te kla nie, behalwe hierdie seisoen in Suid-Afrika, wat almal wat hier woon se gemoedere omroer. Die land ruik soos batterysuur kort ná ’n motorongeluk en dis die geur wat nou in hom opkom, diep uit sy binnemaag, wanneer hy vanuit Strandstraat verras na die Kasteel op regterhand kyk.

Normaalweg smelt die grys klip van die Kasteel in die stadsprofiel weg. Maar vandag! Die klipmure bied die perfekte pawiljoen vir studenteaktiviste wat uitgestal sit met hul rooi bandanas en Castle Must Fall-baniere. Die skuins oggendson doen sy deel en verrys glorieryk van agter die Hottentots-Hollandberge na die oostekant.

Oornag is die Kasteel die Goeie Hoop, in die sewentiende eeu in Kaapstad gebou toe die Hollanders hul voet op die gesig van Afrika kom neersit het, omskep in ’n oorlogsfregat.

Só – nes ’n skip – lyk die Hollandse koopmanne se klipfort vir hom. Ian sit in sy Alfa en staar. Die verkeer het tot stilstand gekom en motoriste vergaap hulle aan die toneel. Ian is op sy hoede; die helikopterhoede kom oor hom. Hoe dun is die blink membraan van die motorruit tussen my en daardie woede! dink hy. Tussen my motor se rooi blikvel en daardie studente is daar niks!

Ek is ’n sitting duck. ’n Motor op elke buffer, voor én agter.

Helikopterwaaksaamheid skerp sy sintuie op. Om hom adem die stad die geur van laaggety, ongeduldige verkeer, traangas en duur parfuum. En die kamerade haal soos een mens asem. In die vroegmôreson glim hul velle met die sjarme van hul tye. Hulle is uitgesprei op die mure, elke enkeling of groepie dankbaar vir die ewe dankbare kameras. Die politiek van skouspel.

Bykans elke student staar by ’n selfoon in. Dis die seisoen, dink Ian, van twiets wat deur die kuberruim skeur soos ’n sardienskool deur die dieptes van die oseaan. Dan en wan skiet ’n haai deur die donker proteïenwolk en verstrooi die swetterjoel.

Dis asof die land vergly, dink Ian, na ’n era waar niks meer gaan verras nie. Onlangs, oral in die stad, het hangende hane verskyn. Soggens, onverwags in die Heerengracht, terwyl hy op pad is Glaspaleis toe, aan ’n lamppaal: ’n haan wat aan sy nek opgehang is, die kam wat bleek lel oor die snawel. Voor ’n boetiek in Groenpunt se galerybuurt, opeens: ’n hangende haan, tereggestel, sy pote met draad vasgewoel, sy vlerke nog fladderend van laaste stuiptrekkings.

’n Straatkunstenaar. Klaarblyklik die suster van steeggraffitiste. Wie sou sy wees, sy met die kwaad hand?

Kwaad in hierdie tyd van witheid en genderoorloë en grondgrype, van diensleweringsbetogings en transitorooftogte. Van skin cred en image crafting, van rubberkoeëls en haarpolitiek. Van scare quotes en blackface en post-feit.

Dis boonop die seisoen waartydens almal voorspel dat die Kaap se krane gaan opdroog. Dis ’n tyd vir die terugvat van grond sonder vergoeding, staatskaping en die krag van vroue.

Sommiges praat van the summer of spam.

Ander van die Era van Onwaarheid.

Links van Ian, deur sy motorruit, rol die TV-nuusspanne, oorfone oor die ore. Saam in die karnaval, op hul hoede vir perfekte sound bites. Elke student, slimfoon ter hand, is ’n citizen journo.

Oor die lengte en breedte van die land, weet Ian, is mense nou ingeskakel met wisselende grade van vreugde of skok, of soms ’n adolessente versnit van albei. Laasgenoemde, veral, want heimlik het almal in hierdie land dié sin vir drama, vir krisis en stryd. Realiteitshonger. Drama en stryd is ’n soort tuiste ná eeue se gewoontemisdaad en vergrype, eeue se verset en verknegting.

Die People’s War is bloedjonk en toets iedereen, want dis die tyd van sirenepolitiek. Hoe groter die verontwaardiging, hoe harder dryf die twiets. Agter alarmbeveiligde siersteen in die suburbs en in plakkersbuurte draai satellietskottels lug toe.

Die nuus oor die besetting van die Hollanders se Kasteel stroom nou, weet Ian terwyl sy Alfa daar in die verkeer luier, elektronies oor die vlaktes na verlate plaashuise waar boere in kakie met hul oggendkoffie en beskuit sit en deur rolle lemmetjiesdraad na die sonsopkoms kyk. Suid-Afrikaanse expats in die donker, nat stede van Europa kyk gretig toe. Hulle is wawyd wakker vir slegte nuus wat hul migrasie na kalmer oorde sin sal gee.

Almal, diegene op die borswerings van klip, die insittendes van karre om Ian, die boere op die vlaktes en die trekswawels in Europa en Australië, almal is behoedsaam en gedaan.

Na die geliefde land.

Ja, dink hy, dit is die tyd, die tyd van min stiltes.

#

Deesdae kom dit al meer by hom op. Die biblioteke waardeur sy ouers hom as klein seuntjie en ook later as opgeskote seun geneem het. Hul pelgrimstogte het hulle geneem na uithoeke van die planeet. Sy ouers is bibliofiele, en sy pa, ’n oud-akteprokureur en welgestelde eiendomsontwikkelaar, ’n fanatiese bewonderaar van biblioteke.

Ian onthou sy klein voetjies in die sagte pantoffels van St Gallen, Switserland. Op daardie antieke plankvloere loop jy nie blootsvoet of met jou straatskoene nie. Elke besoeker moet verwonderd deur die wonderbaarlike ruimte slof.

’n Groot stilte omgeef jou, en net die sleep van skaapvelpantoffels oor die vloere hoor jy, of die verwonderde intrek van ’n asem dan en wan.

Waarom dink hy nou, hier in Woodstock se oggendverkeer, dááraan?

#

From Dr. Henriette Louise Ferreira from Portugal

Residing in South Africa

Address: 13 Limpopo Ave, Musina, 0900 South Africa.

Email Fund Release Dept: magos@medianis.net

Hello My Dearest Beloved One.

MAY THE PEACE OF THE LORD BE WITH YOU AMEN.

I STRONGLY BELIEVE THIS IS FIRST EMAIL TO YOU REGARDING THIS PROPOSAL FROM ME:

Compliment of the day, I bring you my greetings; It is true that this letter may come to you as a surprise. Nevertheless, I humbly ask you to give me your attention and hear me well. First of all I respectively got your email address from the (Email Database of Companies in South Africa Reserved Cape Town).

My name is Dr. Henriette Louise Ferreira from Portugal (Europe). I was brought up from a motherless baby’s home in my country and was married to my late husband, Prof Engr. Frans Michael Ferreira who worked with our Embassy here in South Africa for a period of 25 years before he died. We were married for 30 years without a child before he died in a fatal car accident. Since his death I decided not to remarry.

I am 67 years old now, and am suffering from a long time cancer of the breast which also affected my brain, from all indication my conditions is really deteriorating and it is quite obvious that, according to my doctors they have advised me that I may not live for the next Few Months. This is because the cancer stage has gotten to a very bad stage.

When my late husband was alive he deposited the sum of US$8.5M (Eight Million Five Hundred Thousand United States Dollars) only and that should be equivalents to: R120,000,000.00 (One Hundred and Twenty Million ZAR South African Rand) only with a Bank here in South Africa.

#

Dis drie maande voor Thuli na Shanghai vertrek. Soos die verkeer in Strandstraat voortkruie, laat Ian die studente op die Kasteelmure agter hom; hoendervleis oor sy rug. Hy is op pad na die Universiteit van Kaapstad, na ’n seminaarklas vir sy nagraadse kursus in vertaalwerk.

En hy kyk in die stadig bewegende verkeer verras na die ses – nee, sewe! – plakkershutte wat op die verkeerseiland aan sy regterkant aanmekaargetimmer word. Bedrywig word sinkplate rondgesleep, om ’n vuurtjie sit ’n klompie mense reeds en daar is selfs klein kindertjies wat rondspeel. Dis duidelik dat hierdie besetting van munisipale grond gekoördineer word met die Kasteelbesetting.

Plakkers, hier! In die middestad! Maar onmiddellik bedink hy, student in die vertaalkunde, hom. Plakkers. Sy klasmaat Thuli Khumalo het die vorige week aan hul seminaargroep verduidelik dat plakkerskampe deesdae vertaal word na starter housing.

“People are living there!” het sy uitgeroep.

Sy wag nou op hom daar voor op die hoek van Victoria- en Milnerstraat in Woodstock, soos gewoonlik die afgelope vier maande.

Hulle is twee ywerige studente. Vir hom, honger na kennis en uitdagings, is die regswerk nie genoeg nie. Hy hoop buitendien nog altyd om iets te skrywe wat die moeite werd is. ’n Boek. Oor slimomgewings en die perke van privaatheid. Soos dinge nou staan, sal die boek seker in Engels moet wees. Hy sal sy Afrikaanse gedagtes moet leer verkoop binne ’n Engelse omgewing. Vandaar die keuse van ’n kursus. Juis aan die Universiteit van Kaapstad, daardie kampus in wroeging, besig om te stoei met Britse nalatenskap en die skielike sigbaar word van Engelsheid, nadat daar oor dekades heen versigtig gekweek is aan onsigbaarheid.

Gelukkig was die Boere – die rockspiders en hairybacks – met hul sondes altyd sigbaar. Nou moet wit Engelstaliges antwoord op die eis dat Rhodes moet val. Soos insekdoder, dink Ian, wat gespuit word oor die ivy wat die geboue toerank, só sak die aantygings oor die universiteit uit.

En skielik, ontdek hul seminaarklas, gaan dit in hul kursus oor meer as vertaling uit een taal in ’n ander. Dit raak ’n vraag na sin. Hoe vertaal jy die dinge wat om jou gebeur tot begrip? Hoe gee jy daaraan sin?

Hoe, byvoorbeeld, vertaal hy wat Ian is vir Thuli?

’n Opsetlikheid, het hy gedink toe sy hom die eerste keer die adres gee. Die Koningin en die Viscount, Victoria en Milner; albei verdien die hoofletters van geskiedenis. Die een die stug, gesette ou koningin wat Ian se voormense in die Tweede Vryheidsoorlog oorwin het omdat sy agter die Transvaal se goud aan was. Die ander die een wat Ian se taal wou sien verdwyn voor die aanmars van syne, Milner s’n. Die taal waaroor die son nooit sak nie.

Hier sit hul name nog op die predikante op die straathoeke.

Vir haar, Thuli, gaan dit in hierdie dae net oor een ding, en dis dekolonisering. Sy dag waarskynlik omdat hy wit is, bestraf sy hom deur hom te ontmoet op die hoek van twee strate wat na grondgrypers vernoem is. Na sy mening ook cultural cleansers.

Maar besef sy hóé hy, ’n Afrikaner, oor hierdie name voel? Die blote ontstaan van Afrikaans as ontkoloniseringsdrif.

Hoe, nes vir haar, hierdie name hom ook sny?

Sy toon geen teken dat sy ’n snars daarvan besef nie.

Hoe diep is die diepsloot tussen ons! dink Ian.

Thuli woon by haar ouers in Rosebank, sover Ian verstaan in ’n luukse sekuriteitslandgoed, maar sy kom elke oggend douvoordag met Uber Woodstock toe waar sy eers haar werk aan die gang kry voordat sy hom op klasdae inwag op hierdie straathoek.

Hy en Thuli is ouer as die deursnee- voorgraadse student op die kampus, maar die kursus wat hulle volg, is juis ingestel op ouer studente op soek na nuwe vaardighede. Weens haar fyn liggaamsbou en waarskynlik goeie gene lyk sy jonger as wat sy is; by tye selfs broos, te jonk vir haar rol in die studentepolitiek.

En ja, sou mens met die insig van terugskoue sekerlik kon sê, te jonk vir wat in China op haar wag.

Nie dat sy nou reeds weet van China nie; nee, dit kom nog.

#

Daar is die gewone vroegoggendgewoel hier in Woodstock. Minibusse boelie hul pad deur die verkeer. Die eienaar van ’n sypaadjiewinkel met ’n wit kadotjie op die kop en ’n voorskoot aan vee sy drumpel skoon. Met rugsakke wat op hul rûe bons, vleg skoolkinders tussen die karre deur. Van oorkant die straat kyk hul gekopdoekte moeders angstig toe totdat hulle veilig in ’n bussie skool toe vertrek.

’n Afleweringsmotorfiets skiet gewaagd deur die verkeersverstopping.

Thuli gee ’n tree vorentoe toe sy Ian sien aankom. Kort; tóg val mens se oog eerste op haar as sy in ’n groep staan. X-faktor. By haar lyk elke stappie of opmerking vooraf beplan. Haar boeksak swaai aan haar een skouer. Ken effe na benede asof sy haar gereed maak vir die stormloop. ’n Lêer voor haar bors onder haar gevoude arms.

Sy klim in en hy swaai terug in die ry stadig bewegende karre.

“Mooi aand gehad?” vra hy versigtig, gedagtig aan die besette Kasteelmure en die douvoordag-bravade.

“Ek was tot dagbreek wakker om Fall-baniere te help maak. Jy’t seker gesien?” Haar Britse aksent slaan deur. ’n Engels wat Ian nie kan plaas nie.

“Ek het. Nogals ’n vertoning.”

Sy swyg. Ian is katvoet vir haar buie.

Hy wil vra oor die verrassende verandering van haarstyl. Sedert hy haar by hul eerste seminaar op die kampus ontmoet het, was haar hare styf gevleg in vlegseltjies, teenaan haar kop. Nou is dit uitgekam in ’n groot, natuurlike bos. Hy is nie seker of dit nog veilig of selfs enigsins korrek sou wees om van ’n afro te praat nie.

Hy het skuinsweg kennis geneem dat daar iets soos haarpolitiek is.

“Om te dink, daai Kasteel is deur die Hollanders gebou om hulle teen die Khoi-stamme te beveilig,” sê Ian. “En kyk hoe lyk hy vanmôre.” Hy hoop hy klink ironies. Sy reageer nie. “Dit het amper 400 jaar gevat voor hy gistermiddag geval het.”

Steeds swyg sy. Sy buk oor haar foon. Is sy op Twitter? Of op Instagram, met treffende foto’s van die Kasteelprotes? Dit lyk of haar gesig by die foon se skermpie wil inval. Wanneer Thuli fokus, weet hy uit klaservaring, kan hoor en sien vergaan.

“Vroeg vanoggend,” gaan hy ná ’n rukkie voort, “het ek koffie gedrink saam met ’n man wat aan ’n Khoi-woordeboek werk. ’n App. Baanbrekerswerk. Dink net daaraan: Om ’n vergete taal op te diep.”

“Okay.”

Hulle het nou tot agter een van die bloulynbusse geskuif, die Jammie-busse van die universiteit wat studente vanuit verskillende stadswyke inry kampus toe.

“So, wat’s jou huistaal, Thuli?”

Sy draai haar kop weg en kyk by haar venster uit. “Dis ’n baie wit vraag.” Ná ’n rukkie: “O, ek is so moeg.” Sy kyk af na die lêer op haar skoot.

“Dit spyt my.”

“Dis okay.”

Ná ’n rukkie praat sy weer. “Moet dit nie weer vir my vra nie.”

“Ek is jammer.”

“Nee, rêrig, moet nooit so ’n vraag vra nie.”

“Ek sal nie. Ek belowe.”

“Okay.”

#

Sy wys na ’n koerantplakkaat teen ’n paal:

CAPE TIMES

CROSSBOW ASSASSIN STRIKES AGAIN!

Haar kop swaai soos hulle by die plakkaat verbyry. Deesdae is die Kaap op hol oor die kruisboogskutter. Nou het die sluipmoordenaar weer toegeslaan en ná aanvanklike bespiegeling is daar skynbaar nou sekerheid dat dit ’n kruisboog is wat die pyl afgevuur het, en nie ’n langboog nie.

Ná ’n rukkie praat sy weer. “Dis orraait.”

Ian sug saggies. Versigtig, sodat sy niks agterkom nie. Sy generasie is die laaste wat in Angola in die Grensoorlog geveg het. Die toneel by die Goue Akker, die geweld, die bloed, het dit als weer teruggebring. Hulle is destyds daar uit, onthou Ian, in helikopters waarvan die lemme flikker teen die vuurrooi van ’n melankoliese sonsondergang, die horison plat en ál swarter, die werklikheid van civvylewe wat nader skuif soos hulle suidwaarts sak en veraf die blink dak van die basis se kantien.

Die laaste aand van sweterige biere, die gegroet, die behoedsaamheid in die oë van diegene wat wegdraai – toe nog onbewus van hierdie vandag van hom en die Thuli’s wat op hulle wag.

Nes hy werk sy ook terwyl sy studeer. By ’n trendy webwerf toegespits op maatskaplike probleme, wat hulle hier in die Kaap issues noem, in Woodstock: Issue.com.

’n Waghondorganisasie tydens die groot kentering: #MeToo en Blackface en identiteitspolitiek en – noem maar op. Thuli-hulle, bedag op oortredings, is die wagters op die poorte, die heroute van ’n nuwe tyd.

As gebaar gee Ian haar op dae dat hulle klas loop ’n geleentheid Bo-kampus toe. Sy aanvaar die gebaar. As gebaar.

Hy het haar vier maande gelede ná hul eerste seminaar rygeleentheid aangebied toe dit blyk dat hulle albei in die stad werk en dieselfde roete kampus toe en terug neem.

’n Ongemaklike aanbod. Die wit man met die rooi Alfa Romeo. Die swart meisie wat van punt A na punt B moet kom.

Toe het hy nog nie geweet van die huis in Rosebank en haar vooraanstaande pa nie. Sy het die aanbod aanvaar in die gees van die eerste seminaarontmoeting, dink hy. Studente, nagraads, die meeste van hulle ouer as die deursnee- nagraadse student, werkende studente wat glimlaggend in ’n kringetjie mekaar staan en takseer.

Twee of drie van die ander was reeds, nes Ian, in hul veertigs.

En sy en Thuli se vriendskap, het hy op ’n keer gedink, is ’n vriendskap van onderhandelde woede.

Sy is die een wat kwaad is.

En hy.

Hy sou later, ná alles, nadat die hele pulpgeskiedenis met al sy spektakels afgeloop was, onthou wat Thuli hul vertaalklas eendag toegesnou het.

Sy’t daar gesit met haar oë intens en die woorde uitgeskiet na hulle: “Hier agter die kampus teen die berg groei wat hulle noem fynbos. Nou, fynbos is ’n vuurafhanklike veldtipe. Julle weet seker vuur doen fynbos goed. Die Kaapse bergbrande bring genesing en nuwe groei.

“Dit móét brand.

“Vuur is ’n vereiste.”

Sy’t dit daar gelaat. En hul dosent, doktor Eliot, het sy bril afgehaal en die wasem van die glase afgevee.

#

Toe hulle by die kampus inry, ’n kort opmerking na hom: “Ek kon nie anders as om jou blog oor gesigsherkenning raak te lees nie.”

“Ja?”

“Dis nie iets wat ons ooit in hierdie land sal toelaat nie.” Ian vra nie na die ons nie; hy het al gewoond geraak daaraan. “Weet jy nie hoe diskriminerend die tegnologie is nie? Dis vir wit gesigte ontwerp. Hoeveel swart mense is nie al in Amerika foutiewelik gearresteer weens vals identifiserings nie.

“Daar is nie plek in ons land vir so iets nie.”

#

opdrag kort en eenvoudig volg hom maak seker jy sal hom in die donker herken leer ken sy manier van stap

#

sy uithangplekke en maak jouself gewoond aan die idee dat hy teiken gaan word maar nog nie jy’s uit op straat as jy te vroeg skiet hoor jy my jy’s uit op straat

#

loop hom net na nie by nie kyk hom uit hier so lyk sy kar dis ’n Alfa en hier werk hy sien jy daar bo so jy kan hom hier voorlê as jy hom wil bekyk maar jy hou terug

#

en dis sy nai ons sal nog besluit oor haar hang af van wat sy weet die teef

#

jy hou jou in

#

Van die Shanghaise lughawe het sy ’n taxi geneem nadat sy die notatjie met die adres aan die bestuurder gewys het.

Die dosent Mandaryns op die universiteitskampus in Kaapstad het haar presiese aanwysings na sy verlangse familielede se appartement in Shanghai gegee. Hy’t haar gewaarsku om genoeg kontant in yuan byderhand te hê en haar verseker die adres is in ’n ordentlike buurt van Shanghai.

“En onthou kredietkaarte se tyd in China is verby. Jy betaal met jou selfoon. Gaan in met kontant, maar kry so gou moontlik WeChat Pay.”

Hy’t na haar gekyk; gehuiwer. Hy wou klaarblyklik iets sê, maar het hom bedink.

En toe sê hy dit tog: “En aanvaar jy sal dopgehou word van die oomblik dat jy voete op Chinese grond sit.”

Maar toe die taxi by Sichuan-weg inswaai en stilhou voor ’n dubbeldeur waarvan die een helfte oopstaan en Thuli by die portaal inkyk, wonder sy of sy aanbod van familieverblyf die beste vir haar was. Oorkant die straat was iets wat na ’n straatkafee gelyk het, met jong mense op hoë stoeltjies langs mekaar ingeprop.

Hulle’t intens ingestaar in hul skootrekenaars (here Wi-Fi!) waarvan die skerms aan die glasvenster raak, binne sentimeters van die druk sypaadjieverkeer. Voor hulle in die straat storm ’n leërmag motorfietse en driewiele en taxi’s aan en jaag sonder aansiens des persoons verby wanneer die verkeerslig groen raak.

By die dubbeldeur sien sy groen ysterhekke, gedeeltelik weggeroes, en op die sypaadjie ’n straatbesem wat lyk na ’n grasbesem wat in die landelikste dele van Suid-Afrika voor ’n modderhut sou staan, naas ’n groen plastiekemmer en ’n klam vaalwit lap wat gefrommel soos ’n frons op die grond lê.

Binne, in die portaal, hang geel plastiekjasse half bo-oor ’n ou motorfiets wat skuins teen die rou baksteenmuur aangeleun is. In die skemerte sien sy ’n rietstoel met verweerde kussing en daaragter iets wat lyk na ’n matras met ’n opgerolde kombers en kussing. As jy daar slaap, sal jou kop rakelings tussen fietswiele moet in. Sy tel ten minste tien fietse. Eenkant staan daar ’n klein houtbankie, skaars ses sentimeter hoog. Tydens haar verblyf in hierdie stad waar armoede en rykdom, die agtergeblewe en die vooruitstrewende, so naas mekaar lewe, sal sy dikwels iemand op so ’n bankie sien sit, laag bo die sypaadjie.

Sy betaal die taxibestuurder. Hy skud sy kop toe sy wag vir kleingeld sodat sy ongeduldig met haar duim teen haar wysvinger skuur: “My kleingeld. My kleingeld.”

Sy beduie na die meter, maar hy kyk vasbeslote voor hom uit. Sy gryp haar tas en klap die deur vies toe. Die taxi snork weg met ’n laaste blaf van blou rook. Oorkant die straat gaap ’n donker steeg en ’n bondel pype lei van die gebou waarlangs die steeg lê af na die sypaadjie. ’n Verroeste brandtrap strek na bo. Die gedeelte tussen die tweede en derde verdieping het afgebreek en lê in ’n hoop gefrommel onder in die steeg. Sy gril. Op daardie steeg sal ek my oog moet hou as ek saans uitgaan.

Sy sleep haar tas die voorportaal in en druk die knoppie op die nogals moderne bord. Appartement 8D. Daar hang swaar kosreuke, ook iets chemies, in die lug. Dit neem ’n rukkie vir haar oë om aan die skemer gewoond te raak en sy skrik toe sy ’n ou man in ’n stoel sien sit, eenkant in die donkerste hoek. Hy dut, skynbaar onbewus van haar en die dreuning in die straat. ’n Blink draad kwyl hang van sy mondhoek tot op sy bors.

Sy hoor voete klapper van bo. ’n Klein vroutjie word gevolg deur ’n nog korter man in kakieklere. Hy’t ’n kortbroek aan en sy bene is dun en knopperig. Die vroutjie het haar hande teen mekaar voor haar en maak klein buiginkies. Ek kyk clichés, bestraf Thuli haarself. Die man takseer Thuli met glinsterende oë.

Dan beduie hy na die matrassie agter die fietse. Teen die muur hang ’n bondel toue. ’n Ry vullisdromme, waarvan sommige oorvol is, strek teen die muur af. Die ou man in die hoek is nou wakker. Hy skud sy kop, kyk om na ’n voos kalender agter hom teen die muur en voel-voel oor die datums totdat die vuil vingernael op vandag se datum halt. Hy knik sy kop en draai na hulle. Hy veeg die kwyl met die agterkant van sy hand weg, lig die hand na Thuli se gasheer en gasvrou en beduie dan na die matrassie.

Daar is gevee om die slaapplek, sien Thuli. ’n Klein tafeltjie met ’n doekie oor. ’n Klein potjie met ’n bossie plastiekblomme. ’n Plastiekkatjie met glimlaggende, waansinnige oë wat orent sit en ’n pootjie lig.

Die vrou, soos sy vooraf ingelig is, die kleinniggie van die Mandaryns-dosent, buk na die bedtafeltjie, skakel iets onder die katjie aan, en daar beweeg die armpie op en af in ’n meganiese groet. Almal giggel, die kwylende ou man wys laggend, die man in die kortbroek gee ’n hoppie. Verleë lag Thuli.

Sy kyk verstom na haar losies. Terwyl sy nog so staan, gryp die gasheer in die kakiebroek haar tas by haar, loop gebukkend dieper die voorportaal in. Die plafon loop skuins en sak al laer totdat jy by Thuli se slaaphoek kom. Haar gasheer skuif die tas reg langs haar bed in. Hy sit dit só neer dat sy die tas kan oopmaak terwyl sy op die matras sit. Glimlaggend wys hy eers na die plastiekblomme en dan na die katjie. Hy vou sy twee hande teen sy gekantelde kop in ’n slaapgebaar.

Sy vrou maak goedkeurende kloekgeluidjies. Die ou man in sy stoel het weer aan die slaap geraak.

Tjie-tjie, sê die katjie se armpie.

#

Terwyl hy sy Alfa se deur in die parkeergarage onderin sy kantoorgebou oopmaak, blits daar ’n boodskap op Ian Brand se selfoon: Bly weg van die Stellenbosse boys. Voetsoldate van die Stellenbosse mafia. Anders is die volgende pyl in jóú rug.

Onwillekeurig, vinnig, kyk hy oor sy skouer. Veeg met sy oë oor die motors en betonpilare wat hom omring.

Ry dan huis toe. Ongerus. Sy een ooglid spring.

Soos altyd voor ’n oorgrensoperasie.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Подняться наверх