Читать книгу Die biblioteek aan die einde van die wêreld - Etienne van Heerden - Страница 14

7

Оглавление

In die Tuin van Yu

“Is jy seker jy manipuleer jou pa nie net weer nie?” vra haar ma. Haar ma se ou storie. Sy, Thuli, wat manipuleer en kompromieë aangaan en altyd, maar áltyd, haar sin kry.

Waar sy in die boekwinkel met die swart deur sit, dryf die geur van koffie om Thuli. Buite sif mistigheid neer. En tog, by die tuintafels daar buite, sien sy deur die toegewasemde venster bly mense sit, druk in gesprek. Dis modieuse jong mense, tuis hier in die gesofistikeerde sfeer van die Franse Konsessie en weg van benouder ruimtes waar hulle ’n wag voor die lippe moet hou. Hulle gaan nie sommer dat die misreën hulle hier verdryf nie. Dié wat met skootrekenaars gesit het, pak dit weg. Een of twee skuif ’n boek onder ’n plastieksak vol inkopies in. Skynbaar is die tafels hierdie tyd van die oggend gesog, en niemand wil uitwyk binnetoe nie.

Die selfoon suis in Thuli se oor.

Haar ma – ver vanuit Kaapstad – se stem: “Met hierdie val-in-die-water-storie? Jou pa is al so opgewerk daaroor, hy sien die Russe daaragter, of die Chinese, of selfs die Britte. Jy weet hoe hy is. Als skop weer in. Dis asof bevryding nooit plaasgevind het nie. Asof ons nie in Rosebank woon nie. Asof die huis nog na hoendertikka stink.”

In Thuli stu verontwaardigde woede op: Hoe durf Ma sê ek manipuleer julle met leuens! Hier is ek, Thuli, besig om myself in lewensgevaar te stel om juis die wáárheid te soek, en julle kom met stories van manipulering?

Was julle miskien saam met my en my maats in Yuyuan? Nie? Nou waarvan praat Ma dan?

Weet Ma dan nie wat daar in Ma se eie huis, onder Ma se neus, aan die gang is nie?

Maar sy sê dit nie; sy sluk dit af. En juis weens die afsluk kom die ou woede in haar op; haar ouers se gewoonte om haar ou sondes, gedrag waarvan sy reeds vergeet het, op sekere kritiese tye op te rakel. Dinge wat sy al lankal laat vaar het word, wanneer dit hulle pas, opgediep.

Manipuleer!

Sy voel duiselig en vee oor haar oë. Kyk om haar, vinnig, om seker te maak sy steur nie die ander lesers nie. Maar almal lyk verdiep, óf in boeke, óf fluisterend aan ’n geliefde. Net een van die katte kyk haar met geel oë aan. Nie die tyd en plek om met jou ma wat in Afrika sit, te stry nie. Sy hou haar asem in en tel tot vyf.

Jy’s te veel soos jou pa. Spring vinnig weg. Altyd reg. Beterweterige Thuli. Haar ma se ewige beskuldigings. Hardkóppig!

Dan kom haar pa dikwels tot haar verdediging: Maar dis daardie harde kop van Thuli wat haar dinge gedóén laat kry. Dié dat sy nou is waar sy is.

Wanneer hy so uit lojaliteit vir haar in die bresse tree, vergeet hy vir ’n oomblik dat sy een van die voorbokke van Fees Must Fall is wat sy kollegas in die ANC so ’n opdraand gee.

Juis haar hardkoppigheid. Om nie voor witheid te swig nie. Om aan te dring op wat reg is. En op niks minder nie.

Geen kompromie vir haar, Thuli, nie.

Sy kyk die kat met woede terug, maar dis asof die kat se uitdrukking nie verander nie.

In haar ma se vrae sit die ou benoudhede, die vrees dat al die intrige weer van voor af gaan begin: “Wat is aan die gang, Thuli? Is ons dan nou terug in Londen, by daardie verskriklike dae?”

“Ma, ek het net in die tuin van die tempel gestap.” Sy fluister. “Toe gly ek, en toe val ek tussen die waterskilpaaie. Ek het Pa dit net so vertel. Niks verder ge-ma-ni-pu-leer nie.” Sy pruil die woord in stadige lettergrepe uit. ’n Ou gesinsrusie. Thuli, die tiener. Kry haar sin, kom wat wil.

Pa se kind. Die man wat altyd sy sin kry. “Jou pa is soos ’n Ses’fikile, spitsuur op die N2,” sê haar ma altyd. “Hy druk deur. Hy vleg en hy briek en hy gee vet en hy mik verby. Altyd vorentoe. Hy kom eerste daar. Altyd. Kom wat wil.”

Dan sal haar pa met sy vinnige humor kom en die situasie ontlont en vertel van die minibus wat hy die vorige dag ongeskik in die verkeer sien indruk het. Groot, op die agterruit, was geverf: Askies.

“Ja, Thuli, maar toe vertel jy jou maats jy dink jy’s ingestamp. Dis tog nie sommer gewoonweg dat mense sulke goed dink nie, kind? Daarmee sê jy tog iets vir ons?”

Haar ma het diep asemgehaal. Thuli kon oor die afstand heen haar die asem hoor intrek. “Wat is tussen jou en jou pa aan die gang?”

“Ma …”

“Waar is ons nou al weer?”

“Maar Ma …”

“Ek weier om weer daar te gaan. Dis klaar. Dis agter ons. Thuli, moenie sy pad loop nie. Kies ’n private lewe. Los hierdie Fees Must Fall en Rhodes Must Fall en wat-ook-al-nog-moet-val-goeters. Lós net die politiek. Kyk hoe lyk hy. Kyk hoe drink hy.”

Haar arme ma. Wat dink dis Fees Must Fall-sake. As sy maar weet.

“Ma, ek kan nie.”

“Thuli …”

Toe gryp haar pa die foon. Thuli het, agter haar ma se asemteug, sy voetstappe gehoor, net toe haar ma sê: “Kyk hoe drink hy.” Thuli kon aan daardie voeteval hoor dat haar pa al weer ’n paar sopies agter die blad het. Voordat haar ma nog verder iets kon sê, het hy die selfoon by haar geneem. Oor die suisende afstand kan Thuli die whisky ruik. “Thuls, my darling.”

Daardie selfde stemtoon van inskiklikheid en intieme sameswering wat sy die aand gehoor het kort ná die debat in doktor Eliot se klas oor die geskiedenis se gewig, toe Ian Brand sy mond uitgespoel het oor die historiese gewig – bedoel hy met gewig waarde? – van die wandade van sy wit stam. Toe sy die aand ontsteld in haar donker kamer lê, te ontstig om die lig aan te sit, toe haar pa afgetrokke tuis kom, en die voordeurklokkie net daarna lui, en sy ou kameraad Sello inkom en hulle in die studeerkamer sigare gaan rook sonder om te besef sy lê ontstig in haar skemer kamer op die divan en hoor grepe van wat hulle sê anderkant die oop studeerkamerdeur.

Hulle dag hulle en Sello se twee lyfwagte wat onder in die sitkamer sport op die TV gesit en kyk het, was alleen in die huis. Sello en haar pa het in die studeerkamer nogtans met fluisterstemme gepraat, bedag op die moontlike terugkeer huis toe van Thuli se ma, wat jaloers gewaak het oor die nuwe lewe in Suid-Afrika ná al die jare in ballingskap; die lewe van die gesin, van familie, van opvoeding en saambou. Nooit weer terug Londen toe nie. Nooit weer die geheime lewe nie. Nooit weer die vrees vir die klop aan die voordeur en die Boere of selfs hul eie ANC se moordbendes nie.

Só waak die moederhen.

#

Waar Thuli nou in die boekwinkel met die swart deur sit, lê die kat skuins oor haar bobene gedrapeer. Buite reën dit weer liggies, nes die eerste keer toe sy die boekwinkel met sy swart deur besoek het. Dis asof dit vir haar bestel is, die reuk van koffie en ou boeke en bome. Ek wil in China kom woon, dink Thuli. Weg van als. Musiek, saggies. Katte en gedempte stemme. Jong mense, leergierig met boeke. Stilletjies mekaar aan’t bekyk. Oop op haar skoot lê Paul French se Midnight in Peking, die storie van die moord op die Britse konsul se tienerdogter in 1937.

Sy lees egter nie. Die herinnering aan die dringende fluisterstemme van haar pa en sy vriend, wat al sedert die Londen-dae saam met hulle kom. “Shanghai,” kon Thuli hoor.

Shanghai. Die begin.

#

Die eerste keer dat sy Sello Tshwete gesien het, was hy daar in hul woonstel in Kensington as homself. Hy’t met daardie skuins skouertjie daar gestaan. Toe sy hom ’n uur later weer sien, was hy iemand anders. Die skouers was gelyk. Vir Thuli is dit een van die sterkste herinneringe uit haar kinderjare. Hierdie dubbelverskyning, die dubbelpersoonlikheid van Sello, sal sy altyd onthou, van toe af tot nou. Hy sal altyd vir haar twee mense wees. En sy sal haar altyd afvra: Watter Sello is nou hier op besoek by ons? Watter Sello kom by die voordeur in en maak mooi praatjies met haar ma en watter een gaan sit daar en knoei met haar pa in sy studeerkamer?

Sello, eers skoongeskeer en homself. ’n Uur later, Sello met ’n baard, ’n brilletjie met ’n skilpaddopraam, ’n baret en pyp. Tweed. Thabo Mbeki-styl, sou mense later spot.

Ja, haar pa het mos gesê dat as dit by vermomming kom, is jou ingesteldheid belangriker as ’n pruik. En hoe hy gesukkel het om Sello sy skewe skouer te laat regtrek voordat hy hom vermom in die Londense strate uitstuur.

En ook haar pa, namate die whisky getrek en die ys al harder in sy glas gerinkel het, ook hy het stadig in sy tweede self verander. Hy ís nou daardie tweede self, het sy gedink, daar waar sy in haar skemer kamer lê, toe sy die sin hoor: “The Chinese are in.” En nog ’n iets: “Big ear.” Later sou sy in die e-posse op sy rekenaar sien dat dit inderdaad Big ear is. Maar nie as twee woorde gespel nie. Eerder: BigEar.

#

En toe het die res gevolg. Die sinne wat haar lewe verander het, en haar gebring het tot hier in die Franse Konsessie met sy nat bome en hierdie geheime boekwinkel, tot hier, met die kat op haar skoot, in hierdie bedrieglike boekerigheid, in hierdie huiswinkel met sy geur van brood en koffie.

“Man, maar ons gaan eet!” het haar pa in die studeerkamer uitgeroep.

Ja, van daardie dag af het haar pa skielik ’n nuwe sêding gehad, ’n nuwe gewoonte. Wanneer iemand met wie hy vertroud is hom bel en hy skerts oor die selfoon nadat die persoon hom klaarblyklik gevra het hoe dit met hom gaan: “Nee, ons eet, my maat. Ons eet.”

Haar ma, haar immer bekommerde, versorgende ma, het dikwels in die maande voordat Thuli weg is, laat val: “Ek haat daardie frase.” Dan het Thuli se pa net geheimsinnig geglimlag. “Ek wil daardie frase uit my huis uit hê,” sou haar ma voortgegaan.

“Wat’s daar vir aandete vandag?” het haar pa dan spottend die onderwerp verander.

Nou sit sy hier.

BigEar, dink sy.

Ek is die ene ore.

My ma. My arme, arme ma.

En sy dink ook: Wag kom nie natuurlik vir my, Thuli Khumalo, nie. Ek wil daardie Chinese meisietjie agter die toonbank wat my nota geëet het, gaan wurg tot ek die naam uit haar kry!

#

As soon as I receive your urgent positive reply towards this message, I will give you the contact of the Bank in South Africa where this money and other properties documents is deposited for safe-keeping.

I will also issue a letter of authorization, deed of lodge, and deed of agreement to the bank as well to my lawyer’s that will prove you the present beneficiary of this money. I also want you to always put me in prayer all day night.

Any delay in your reply may give me room to look for another good person for this same purpose. Please assure me that you will act accordingly as I stated herein.

I HAVE DEEPLY DECIDED TO HANDOVER THIS FUNDS TO YOU DIRECTLY ON YOUR CARE TO HELP ME DISTRIBUTE THIS ENTIRE FUNDS, MY FARM TRACTOR EQUIPMENT’S, CARS, MY HOUSES AND LANDED PROPERTIES INCLUDING THE TWO FRANCHISERS: MACDONALD, KFC FAST FOOD RESTAURANTS TO THE VARIOUS CHARITY ORGANIZATIONS,WIDOWS AND THE LESS PRIVILEGES AND ALSO KEEP SOME FOR YOURSELF AND YOUR ENTIRE FAMILIES.

The change of ownership will be Convey and Endorsed in your name before the entire funds and other properties can be release to your designated bank account of your choice within 48hrs (2 days).

This can only be done if you at your earliest convenience and in reply to this email, furnish me with your bank account details, whereafter a first and initial deposit will be immediately transferred to you. Once the money has moved successfully, you will be contacted again.

Accompany your bank details with the password “BigEar” to facilitate understanding. The procedures and how to receive these entire funds and these properties from my bank will be directed to you as soon as you get in touch with me shortly.

Hoping to receive your urgent response re Governmend interest soonest.

Thanks and Remain Blessed.

KINDLY DO EMAIL ME AT: test@magsmedia.org

FOR INQUIRIES PLEASE EMAIL THE COORDINATOR AT:

boardlink@dr.com

FOR MY LAWYER EMAIL TO: karolin@superonline.com

PLEASE FILL IN THE CLAIM FORM BELOW TO ENABLE THE BANK SPEED UP THIS TRANSACTION NOW:

(1) FULL NAME:---------------

(2) DATE OF BIRTH:---------------

(3) MARITAL STATUS:---------------

(4) OCCUPATION:---------------

(5) HOME ADDRESS:---------------

(8) COUNTRY:---------------

(9) NATIONALITY:---------------

(10) CELL (MOBIL) NO:---------------

(11) TEL:NO:---------------

(12) FAX:NO:---------------

(13) PASSPORT / ID COPY:---------------

(14) YOU CAN AS WELL BY ATTACHED YOUR BANK ACCOUNT DETAILS FOR THE WIRE TRANSFER DIRECTLY INTO YOUR DESIGNATED BANK ACCOUNT WITHIN 48HRS.

(15) BANK NAME:--------------- AND ADDRESS:---------------

(16) BANK ACCOUNT NUMBER: --------------- AND ACCOUNT NAME:-------------

PLEASE VIEW THE ATTACHED FILES I ALSO ATTACHED MY LATE HUSBAND AND MINE SOUTH AFRICAN NATIONAL IDENTITY AND DEATH CERTIFICATE COPIES OF MY HUSBAND. INCLUDING THE PICTURES OF PROPERTIES THAT YOU’RE ENTITLE TO INHERIT FROM ME SOONEST, ALONG WITH THE PAYMENT TRANSFER SLIP COPY FROM THE MONEYGRAM.

Alternatively, this is to informed you officially as an urgent that the bank in question handling this smoothly transactions has managed to transferred you some part of the money $50,000.00 USD through MONEYGRAM below are the transfer details you may quickly pickup this part payment now via MoneyGram Outlets Agent near you, tomorrow morning another payment US$50,000.00 will be transfer to you as well for easier pickup at any MoneyGram outlets Agent nearby.

1. REFERENCE (MTCN) NO#: 40208769

2. SENDER’S NAME: SUTOPO DRIYAWASTYO

3. AMOUNT TO PICKUP: US$50,000.00

You can as well track this transaction by click this link:

https://secure.moneygram.com/transactions

ONCE THE TRACKING WEBSITE PAGE APPEARS PUT THE REFERENCE:40208769 THEN PUT THE LAST NAME: EZEIGWE

Yours Sincerely,

Dr. Henriette Louise Ferreira

(The Widow).

------------------------------------------------------------------------

For more info you may contact my coordinator (Pastor Mrs. Margaret Maria Putu (PhD) for immediate assist.

___________________________________

NOCC, http://nocc.sourceforge.net

#

Ian se lang reisgenoot lyk dikgeslaap, want ook hy het in die nanag uiteindelik tot rus gekom en ingesluimer. Maar nou, met die vooruitsig dat hy die prooi langs hom gaan verloor, buig hy sy snawel opnuut oor Ian.

“Laat ek gou my storie klaar vertel.” Hy gee ’n verskonende laggie. “Ek moes ’n markgaping skep. Die maklikste sou wees om mense te por om ’n nuwe skaamte te ontwikkel.

“Maar hoe kan jy skaam wees vir jou fossae as jy nie eens weet jy hét hulle nie?” Hy elmboog Ian speels. “Wel, ek sal mense bewus moet maak van hul fossae. En hoe? Sosiale media!

“Jy sit beroemdes se fossae op die web! Jy wys hoe lyk móói! Popsterre, modelle. Spórtmanne!” Hy beduie driftig. “En dan, wanneer die tyd reg is, gooi jy jou slagreël uit: Is jy skaam vir jou popliteale fossas? Op Facebook, op Twitter. Jy gooi hom uit.

“Fase twee. ’n Tweede sosialemedia-veldtog kom nou: begin ’n Facebook-groep, Beautiful Fossas, en jy twiet twee keer ’n dag.

“Die derde fase is die vererotisering van die agterknie. Die popliteale fossa moet as erotiese liggaamsdeel gevestig word. Uniek soos ’n vingerafdruk, uniek soos die vel van ’n zebra, die argitektuur van ’n sneeuvlokkie.

“Biometriese data!

“Toevallig, net toe ek dit als uitgedink het, het smartphones die vingerafdruk as toegangskode begin gebruik. Mense het die uniekheid van hul eie velpatrone begin besef. Hoe cool is dit nie!”

Ian se reisgenoot stoom voort terwyl mense begin uitstap. “Dan, die belangrikste: fase vier. Verdiep die navorsing. Beroemdes. Fynkam sportwebwerwe en sosiale media. Hoe het Jackie O se fossas gelyk? Sophia Loren. Madonna en Picasso. Jy kan Roger Federer se fossas hê. Of jy kan bespoke gaan. Spesiaal vir jou ontwerp. Net jy!”

’n Vriend, vertel hy nadat hy sy ledemate ontvou en naas Ian die vliegtuig verlaat het en terwyl hulle uitbeweeg en mettertyd langs mekaar op ’n loopband in die lughawegebou beland, het hom gehelp om ’n rekenaarprogram te ontwikkel. Die program vra na beroep, ouderdom, persoonlikheidseienskappe, vra uit na groot traumas en drome, en jy voer ook die name in van mense wat die pasiënt bewonder. Die program sluit Brad Pitt, Usain Bolt, Madonna en Louis Armstrong se agterknieë in, als omsigtig van argieffoto’s uitgelig. Dan stel die program ’n ontwerp voor.

“Kunsmatige intelligensie! Jy sal jou verbaas oor daardie rekenaar se insig in persoonlikheidstipes!”

Die chirurg vryf oor sy neus, driftig. Hy’t gaan aanklop by die modeontwerper met ’n ateljee laer af in die gebou waar hy sy praktyk het. “Sou jy ’n klerereeks oorweeg wat die hele liggaam bedek maar groot oë uitgesnyde materiaal het, net hier op die agterknie? En sou ons dit op die loopplank kon kry, met langbeenmodelle wat skalks net die fossas wys en niks anders van die been nie? Met media daar?”

#

Saam vaar Ian en die neus op die vervoerband deur die gebou.

Die chirurg staan agter Ian en sy snawel hang oor Ian se kop. Hy giggel. “Ek het mense vertel van my projek. Oh, my God, you’re the craziest plastic surgeon I know!” Hy dawer van die lag. “Kan jy glo?”

En ’n dag later, vertel hy, kom ’n e-pos van ’n kollega: “Vandat jy my aan die dink gesit het, kan ek my oë nie afhou van vroumense se agterknieë nie.”

Nou kom die chirurg skielik langs Ian staan. Knyp. ’n Ingewing het hom getref: “Maar voordat my besigheid regtig suksesvol raak, wil ek die regsimplikasies verstaan. Die Mediese Raad is erg streng, hoor! Kyk wat het met die arme Tim Noakes en sy banting gebeur. Ek is nie lus vir lang, uitgerekte hofsake en bestraffende kollegas nie.

“Hier is my kaartjie. Ek sal jou firma aanlyn opspoor. Jy’s net die praktisyn waarna ek soek.

“Wanneer ons ontmoet, vertel jy my als van die regswese.

“En wat jou so kwel. Want ek kan sien iets weeg swaar op jou gemoed.

“Geniet die interessante konferensie! Onthou: jou fossas lieg nooit!”

#

Elizabeth, in ’n swak oomblik, met ’n reeks whatsapps aan Ian:

Ek was besig om Mike del Ferro se jongste video clip Opera Meets Jazz te kyk, toe pop Bob Hope Talks About His Money op en onmiddellik kry ek die onuitspreeklikste urge om dit te kyk.

Baai-baai, Mike del Ferro en jou keurige kuratele van klank, en hallo, Dick Cavett en Bob Hope met jul gung-ho mansplaying banter uit die argiewe.

Waar is ons? Wat gaan aan?

Wat het geword van die stilte tussen riet?

Twee asems wat mekaar soos ganse laag deur die riete jaag?

#

En vyf minute later:

Ian, ignoreer vorige sarsie whatsapps. Ek het ’n glas wyn te veel. Toe verval ek in.

#

“Daar is geen manier dat daar nie protes sal wees teen hierdie teks nie,” sê Thuli aan Elizabeth waar hulle in ’n klein, versteekte kafeetjie in Kuilsrivier sit.

Elizabeth het verduidelik dat hulle ver van die middestad moet ontmoet. Weg van die opgehitsde studentegemeenskap en die mediamense en skinderbekke.

Thuli het instemmend gereageer. Ook sy wil graag ver van die kampus ontmoet; sy’t in haar skooldae genoeg gehoor sy’s met haar Londen-agtergrond ’n coconut: swart van buite, maar wit van binne.

In hierdie kafeetjie kom sit meestal winkelwerkers uit die omgewing. Die kleredrag is dié van die onderste segment van die middelklas.

Thuli kyk om haar. Dit is so, op hierdie vlak begin integrasie stadig plaasvind. Waar kontak tussen rasse vroeër net in die werkplek plaasgevind het, is dit veral nou mense wat saam werk wat gedeelde belange ontwikkel, dalk gou saam iets gaan eet oor middagete voordat die middagskof begin. Hul kinders is in dieselfde skool. Hulle koop by dieselfde winkels. Sien mekaar in dieselfde dokter se spreekkamer.

En hier sit sy met ’n wit uitgewer en gesels asof hulle ou kamerade is. Werk en geldnood bring inderdaad kompromie. Meewarig dink sy aan haar ma wat haar op ’n keer daarvan beskuldig het dat sy transaksioneel is. Seker waar? dink Thuli.

Nou ja dan, Ma, hierdie kafeetjie is ’n transaksie.

Jy sê mos ek en pa Cat is manipuleerders …

Sy kyk om haar na die ander mense. Versigtig word gedeelde belange ontdek, stadig die uitreik oor historiese klowe, maar selde vind jy daardie beslissende oomblik: “Kom oor vir ’n braai.”

Sy weet: dis vriendskappe wat slegs in die veilige, beperkte omgewing van werk en skool afspeel.

“Maar die verhaal is tog simpatiek, ten slotte, teenoor die swart protagonis,” kenter Elizabeth.

“Surface commitment to feminism,” blaf Thuli uit. “Mens moet dieper kyk. My taak is om jou sensitiwiteitsleser te wees, en vir my as swart vrou kan dit nie. Dit mág nie. Net eenvoudig nie. Kyk hoe word vroue uitgebeeld. Begin maar daar!”

Thuli kyk na Elizabeth. Die ou magteloosheid kom oor haar.

Sy voel asof sy oor ’n verre kloof na Elizabeth kyk.

Hoe kán Elizabeth met ’n man soos Ian bevriend wees? Bloot omdat hy aantreklik en ryk is?

En hoe weet sy Elizabeth wil nie maar net vir haar uitgewery geld maak uit hierdie manuskrip wat haar goedgelowige Boerelesers in hul kulturele ghetto gaan opslurp as ’n hoopvolle teks vir die nuwe Suid-Afrika en die Nuwe Afrikaner nie?

Hoe weet sy Elizabeth sién? Is werklik woke?

Elizabeth sug. “Wow, ek wil dit so graag uitgee. Jy’t gesê jy neem Chinees as vak daar by die universiteit. Of is dit Mandaryns? Daar is tog so baie tale in China. Maar ieder geval, ek dag dis ’n soort scar literature, om die Chinese term te gebruik. “Het jy dié term in die klas gehoor?”

“Nee.”

“Wel, hulle scar literature het die tirannie van die Kulturele Revolusie aangevat, hier in die beginjare tagtig. Maar dit het altyd ’n sogenaamde bright tail bevat. Jy kritiseer Mao se program, jy lê die verskriklike trauma daarvan bloot, maar – en hier’s die groot maar – jy bevestig jou geloof in die nuwe post-Mao-orde, én jou geloof in die Chinese mense.

“Hierdie storie sluit af met só ’n vertroue in Suid-Afrika se mense …

“Jammer, ek gee nou ’n lesing. Maar dalk moet ons in Suid-Afrika van littekenliteratuur praat. Dit kan terug na die Grensverhale strek. Immers is scar literature in China geskryf in dieselfde tydvak as Grensliteratuur hier in Suid-Afrika. En …”

#

“Ek het nog nooit van Grensliteratuur gehoor nie,” blits Thuli. “Wie se littekens praat ons van?

“Wie se grens?”

“Angola …” antwoord Elizabeth.

“Met?”

“Namibië.”

Thuli sit vorentoe. “Maar Suid-Afrika se noordgrens is dúskant Namibië, Elizabeth. So, die begrip grens in Grensliteratuur berus ook in hierdie letterkunde op die opvatting dat die Namibies-Angolese grens eintlik Suid-Afrika se grens was? Word Suid-Afrika se okkupasie van Namibië met ander woorde deur die begrip gelegitimeer?”

“Wel, ek het nog nie so daaraan gedink nie …”

“Wit littekens! Dís waarvan ons hier praat!”

“Maar dit is so ’n sterk verhaal.”

“Maar dis nie sý verhaal nie.”

“Sy?”

“Daai wit skrywer van jou. Hierdie …” Thuli vergeet vir ’n oomblik dat die manuskrip naamloos aan haar voorgelê is. Sy blaai voorkant toe. “Sy naam is nie daar nie,” sê sy geïrriteerd. “Maar ek weet dis ’n man. ’n Wit man. Ek ruik dit.”

Elizabeth byt op haar onderlip. “Raai wat,” sê sy. “Kom ons bestel melkskommels!”

Thuli lag. “Ek is in!”

Elizabeth sit strak voor haar en kyk terwyl hulle wag op die bestelling. Voordat sy vir die afspraak gekom het, het sy die manuskrip met ’n senior kollega bespreek. Die kollega het haar waarskuwend aangekyk. “Weet jy, Elizabeth, soos jy daar sit, weet jy wat die verskil is tussen rassisme en crimen injuria en haatspraak en strafregtelike laster en intimidasie? Indien nie, wat gaan jy doen as jy die boek uitgee en hierdie terme begin op Twitter hardloop? Jy’s net eenvoudig nie gereed daarvoor nie.”

Nou kyk Elizabeth na Thuli Khumalo. “Ek sal eerlik wees,” sê sy. “Ek praat nou oor Afrikaanssprekendes. Wit én bruin. Dis nie maklik nie. Uit die omgewing van waar ek kom, is ons altyd maar katvoet vir enigiets wat lyk na die onderdrukking van mening. Veral die wit Afrikaanssprekendes het met kerk en staat en skool grootgeword – en hul ouers en hul ouers se ouers kom uit ’n nóg erger atmosfeer van onderdrukking. Dis soos baie Afrikaanssprekendes grootgeword het – wit mense en ’n konserwatiewe deel van die bruin gemeenskap. Jy weet mos: his master’s voice.

“Gevolglik is ons altyd waaksaam. Enigiets wat lyk na smoor, na wegdruk, na onder die mat invee – daarteen het ons ’n sterk instink. Dis nou my generasie. Ons wil nooit terugkeer na waar ons ouers was nie.”

“En waar was hulle, en waar was julle?”

Elizabeth kyk na haar hande. “Hulle het jong wit mans Grensoorlog toe gesien gaan. En daardie jong mans het Grensliteratuur geskep. Oor hul oorlogsverhale. Grens soos in die ou Afrikaanse woord vir huil. Ondermynings van die edele-oorlog-idee. Grensliteratuur word nog by heelwat Afrikaansdepartemente …”

“En het enige professor in een van daardie departemente ooit daaraan gedink om wit Grensliteratuur te vergelyk met die skryfwerk van die ander kant? Van die jong Kubaanse soldate? Die inwoners van Angola. Swart Namibiërs?”

Elizabeth kyk byna pleitend na Thuli. Die melkskommels daag op.

“Sjoe, hulle is groot!” lag Thuli.

“Groot verby!”

Hulle suig gesellig aan die strooitjies. Vir ’n oomblik verlore in suiker.

“Ah, oblivion!” lag Elizabeth.

“Kan ek jou Beth noem?”

Verras kyk Elizabeth op: “Ja? Seker? Maar hoekom?”

Thuli trek haar skouers op. “Elizabeth klink so streng. Ek hou van Beth. Dit pas beter by jou.”

“Beth dan.”

Toe hul strooitjies begin snork, skuif hulle die glase eenkant.

Maar Elizabeth bly senuagtig speel met haar strooitjie. Sy rol dit soos ’n slangetjie op en strek dit weer uit, terwyl Thuli haar hande dophou.

“Ek sou sê, moenie uitgee nie,” begin Thuli. “Dit stel die studenteproteste in ’n slegte lig. Ek is nie gemaklik daarmee nie. Dit sal ook die indruk skep dat jul uitgewery nie woke is nie. Dat julle nie verstaan wat kulturele appropriasie is nie.”

Elizabeth sug. “Vir my is die sterk punt van die boek dat elke karakter sy of haar kans kry om hul sê te sê. Dink jy nie dis ideologies mooi gebalanseerd nie? Dalk is dit eintlik ’n baie liberale uitbeelding van ons land se probleme, dan nie?”

Thuli byt op haar lip, en Elizabeth voeg haastig by: “Ek bedoel, ek vra jou nou die vrae wat my baas my gaan vra.”

“Elizabeth, ek’s jammer om te sê, die liberalisme waarop julle so trots is en wat julle so deugdelik laat voel, is net ’n invoerproduk van die kolonialisme. ’n Verdowingsmiddel. Wat die pyn van onderdrukking verdoof.”

Elizabeth vee oor haar oë. “Ek het vermoed jy sal dit sê, Thuli.” Dan voeg sy by. “Weet jy wat bemarking aan my sal sê?”

“Nee?”

“Hulle sal my herinner dat EFF-kiesers en die Valliste nie ons lesers is nie. Dis nie ons mark nie. Vir ons tradisionele lesersmark kan die boek interessant wees. Selfs ’n topverkoper.

“En jy weet, Thuli, as ek dit nie uitgee nie, wat die intellectuals vir my gaan sê: As julle uitgewery hierdie pad inslaan, begin julle iets wat net so erg is as staatsensuur, naamlik selfsensuur.

“Hulle gaan my vra: Het jy die reg as jy iemand sien wat ’n boek sit en lees met inhoud wat jou nie aanstaan nie …” Elizabeth huiwer.

“Het jy die reg om daardie boek uit haar hande te gryp?

“Selfsensuur. Wanneer skrywers katvoet is, heeltyd, oor wie hulle mag skrywe, watter storie hulle kan vertel.

“Hulle gaan vir my sê: Wil ons ’n land word waar mense mekaar se tonge uitsny en mekaar se oë toedruk? Wil julle verbeelding beperk en als polisieer wat volg ná daardie magic woorde Eendag was daar? Moet skrywers nou ’n pasboek dra wat hul bewegingsvryheid gaan beperk? Net as jy swart is mag jy op swart terrein inbeweeg?

“Is die wêreld se stories nie juis die vrug van daardie wonderlike, onbeperkte spasie ná Eendag was daar nie?

“Kan ons nou net van skrywers outobiografieë verwag, want hulle dúrf nie skryf oor dié en daai wat nie is wat húlle is nie …?

“’n Kollega van my het onlangs daar op Stellenbosch by die universiteit gaan praat oor Elsa Joubert se boek Die swerfjare van Poppie Nongena, hoedat daardie boek ’n generasie Afrikaners se koppe gehelp swaai het, toe hulle die storie lees van die swart vrou Poppie wat in ’n township bly en toe vir die eerste keer besef hoe die lewe aan die verkeerde kant van apartheid is. Die skrywer het met ’n bandopnemer gesit en dis die storie wat haar huishulp haar vertel het. ’n Dokumentêre roman. Ken jy dit?”

Thuli skud haar kop.

“Dis ’n uitstekende boek, Thuli. Maar by die universiteit sê die jong wit studente vir my kollega dis ’n totaal verkeerde boek. Die boek kán nie. Dit mag nie gebeur het nie. Hulle kan die boek nie verduur nie.

“Daai boek is destyds wyd geprys. Maar nou hoor ons die skrywer het, haar goeie bedoelings om apartheid se werklikhede vir haar gehoor uit te beeld ten spyt, die swart vrou se storie gesteel.

“En tog het die boek wonderlike begrip gegee! Dit het Afrikaners in magsposisies se koppe geswaai.” Elizabeth draai haar kop skuins en kyk na Thuli. “Ek bedoel …” Elizabeth skuif nou op haar stoel. Haar wange is rooi. “Thuli, in hierdie era waar elke mens ’n citizen journo is en elkeen op Twitter kan spring of op Facebook sê presies wat hy of sy dink, nou wil julle stórie polisieer?

“Kyk hoe dwing julle my om as uitgewer my skrywers se werk eers te meet aan politieke korrektheid. Met alle respek aan jou, dink jy dis vir my lekker om ’n skrywer hieraan te onderwerp?

“Gaan julle ook skilders ’n pasboek laat dra, en beeldhouers?

“Dis tog kulturele segregasie wanneer jy sê net swart skrywers mag swart ervaring uitbeeld, nie waar nie? ’n Soort onteiening van die gees? Nie waar nie?

“Bedoel jy, Thuli, ’n wit filmmaker moet stories skiet waarin net wit mense optree? Waar gaan hulle nou sulke fantasieë kry in hierdie land van ons?” Sy beduie om hulle. “Kyk hier om ons? Watter soort spierwit fantasieland gaan hulle dan moet uitbeeld?

“Het alle kulture nie deur vermenging ontstaan en gegroei deur die eeue nie? Wil julle kulturele konsentrasiekampe oprig? Hoe gaan ons dan ooit ’n gedeelde menslikheid verbéél?”

#

“Jy klink nes daardie Ian-vriend van jou.”

Elizabeth bloos bloedrooi. “Nee, Thuli, ek is nie Ian nie … Ek …”

“En ek is nie jou wit boeretannie-leser nie. Ek is jonk en swart en ek weet wat ek hier sien.” Thuli tik met haar wysvinger op die manuskrip. “Ek sien nóg ’n geval waar my storie, mý storie, gesteel word.”

“Maar Thuli …”

“Ek behou die reg voor om my ervaring as swart vrou, my lived reality, sélf uit te beeld. Jou besware kom vanuit ’n posisie van bevoorregting.

“En bevoorregting maak blind.”

Elizabeth vee oor haar oë. “Steeds. Segregasie, Thuli.”

Thuli skud haar kop. “Hierdie manuskrip kan vir julle groot probleme bring.”

Elizabeth bedink haar. Sy sug. “Ek weet. En ek weet wat buitelandse uitgewers in Frankfurt gaan sê: Ons raak nie hieraan nie. Ek hoor dit nou al.”

Thuli knik. “Presies.” Sy dink na. “Maar my redes, myne as jou sensitiwiteitsleser, my redes verskil van húlle redes. Hul redes is bemarking en verkope. Besigheid. Loopbane. Hul handelsmerkreputasie as uitgewers.”

Elizabeth skud haar kop. Sy’t haar hande weerskante van haar gesig. “Soms dink ek die hele wêreld is aan die mal raak. Ek …”

“Nee, wag, Beth. Ek gaan jou sê hoekom ons hier ’n geval het van no platform …” Hulle kyk mekaar ’n oomblik in die oë. Dis toe, dink Thuli dikwels agterna, dat sy en hierdie jong vrou saam ’n besluit geneem het: Hulle sal bly praat, ondanks wat gesê word.

“My redes is glashelder,” gaan sy nou sagter voort. “Dis baie eenvoudig. Hierdie storie is net nie waar nie.

“Van die oomblik dat hierdie …” – sy tik op die bladsy – “… wit man begin tik het aan die storie, was dit vals. Toe hy boaan die eerste folio skrywe: Hoofstuk een.

“Toe is dit al ’n leuen.”

Thuli skud haar kop heen en weer. “No platform. No platform.”

#

“Sjoe, Thuli.”

Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Подняться наверх