Читать книгу Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman - Страница 10
7
ОглавлениеDie laaste verkeerslig, die een net duskant Astrahof, is rooi. Terwyl Heinz wag dat dit na groen oorslaan, dink hy na oor Mynie. Hy het haar lief en hy is nie bereid om die stryd so maklik gewonne te gee nie. Gegrendelde deure en bloeddorstige ou tantes met besems kon hom nie laat tou opgooi nie. So ook nie Mynie se verskonings elke keer dat sy haastig is en nie tyd het om te gesels nie. Heinz weet sy is besig om skilderye vir haar eerste uitstalling gereed te kry en dat sy baie buitemuurse bedrywighede by die skool het. Maar hoekom is sy kwansuis elke keer haastig op pad iewers heen juis as hy kom kuier of skakel? Hy vertrou nie die vrede nie. Hy het besluit om vanaand die bul by die horings te pak. Vanaand gaan hy na Mynie se woonstel toe. Vanaand wil hy uitvind wat met sy nooi aan die gang is en wat tussen hulle twee verkeerd geloop het. Mynie het die afgelope drie weke verander. Hy wil weet wat die rede daarvoor is.
Die kwessie van Karen wat deur ’n vriendin van Mynie vir sy nooi aangesien is, is lankal opgelos en Mynie het verskoning gevra omdat sy hom nie geglo het dat dit sy suster was wat van oorsee af teruggekom het nie. Mynie wou weet hoekom hy haar nie saamgenooi het lughawe toe nie. Heinz het verduidelik dat hy Karen se kabelgram ontvang het slegs enkele ure voor haar vlug neergestryk het. Ook dat hy geweet het dat Mynie daardie Vrydagaand ’n ouer-onderwyser-vergadering by die skool het. Mynie het sy verduideliking aanvaar, dus kan dit nie die rede wees waarom sy die afgelope tyd so afsydig en ontwykend was nie.
Is dit steeds die drie koppies koffie saam met Annette? Goeiste, hoeveel keer het hy nie al verklaar hulle is suiwer platoniese vriende, en dat hy werklik net vir Annette die ope notariële testament verduidelik het aangesien sy ’n eksamenvraag daaroor verwag het nie? Hy het ergerlik bygevoeg: “Liewe land, Mynie! Annette is in elk geval ’n verloofde meisie. Sy trou binne drie maande met …”
“Ek is haastig en ek stel nie genoeg in Annette Basson belang om laat te wees vir my afspraak nie. Verskoon my, Heinz, maar ek kan nie langer gesels nie,” het Mynie hom in die rede geval. Redelik vriendelik. Nie weer woedend kwaad en met dreigemente om histeries te begin skree as hy nie op die daad haar woonstel verlaat nie.
En dis wat Heinz bekommerd het: die feit dat daar deesdae nie meer vuurwerke is nie. En die feit dat Mynie sonder belangstelling is oor enigiets wat hom en hulle verhouding betref. Dis hoekom hy vanaand die bul by die horings gaan pak om by sy nooi uit te vind wat skort. As sy nie tuis is nie, sal hy wag. En as sy verskoning maak dat sy uitgaan, sal hy wag tot sy terugkom. Vandag is die dag wat hy wil uitvind waarom Mynie die laaste tyd so ontwykend en afsydig is.
Daar is nie parkeerplek reg voor Astrahof nie. Heinz ry verby en hou aan die onderpunt van die straat stil. Terwyl hy sy motor sluit, is sy rug na die ingang van die woonstelblok gekeer. Hy sien nie die ooglopend verliefde paartjie wat hand aan hand uit die hyser stap en in ’n roomkleurige Mercedes klim nie. Hy herken nie die donkerkopmeisie met die hartvormige gesiggie wat langs die bestuurder inklim nie en hy kan ook nie hoor wat in die motor gepraat word nie.
“Ek is bly jy is so ’n gehoorsame meisie,” sê Conrad liefkosend. “Ek het gesê jy moet altyd blou dra, en ek het jou nog nooit in ’n ander kleur rok gesien nie.”
“My repertoire is nou omtrent gedaan,” skerts Mynie. “Volgende keer wat ons uitgaan, sal dit in ’n blou rok wees wat jy reeds ken.”
“Trek dan asseblief weer daardie rokkie aan wat jy met ons eerste ontmoeting aangehad het. Jy het soos ’n prentjie gelyk. Dis hoe ek jou eendag wil skilder. In daardie syrokkie, onder ’n jakarandaboom en met ’n vlammende sonsondergang agter jou.”
Dit klink nie vir Mynie na ’n goeie komposisie nie, maar sy sê niks nie. Sy het gaandeweg agtergekom Conrad weet nie veel van kuns af nie. Dit het ’n vermoede by haar laat posvat dat hy gesê het skilder is sy stokperdjie net om haar te beïndruk. Eerder as om haar vies te maak, het dit veroorsaak dat Mynie daardeur nog liewer vir Conrad Duvenhage geword het. Wat is ’n noodleuentjie as dit gedien het om die eerste tree van hulle verhouding op ’n stewige grondslag te plaas? As hy daardie eerste aand nie taktvol genoeg was om ’n belangstelling in haar kunswerke te veins om haar op haar gemak te stel nie, sou sy dalk die hele aand gebloos en gestamel en gestotter het en dan het die aand op ’n fiasko uitgeloop.
“Wat van die kunsuitstalling wat hy kamma gehou het? Dan was dit mos ’n blatante leuen wat hy vir jou vertel het,” torring ’n lastige stemmetjie in Mynie se binneste. Sy smoor dit dood.
“Was jy al ooit in Parys?” vra Conrad skielik.
“Parys, Vrystaat, of Parys, Frankryk?”
“Frankryk. Was jy al oorsee, Mynie?”
“Nee. ’n Paar keer het ek wanderlust gehad, maar ek kon nie ’n oorsese vakansie bekostig nie. Dit sou ’n groot gat gemaak het in die som geld wat ek opsy gesit het om eendag my droom mee te koop. Hoekom vra jy, Conrad?”
Maar hy wil nie sê nie. Al sy aandag is skielik by die druk vroegaandverkeer op die pad terwyl ’n geheimsinnige glimlaggie om sy mond speel. “Parys is die stad vir verliefdes,” is al wat hy sê.
“Was jy al oorsee, Conrad?”
“Dikwels. Soms vir besigheid, meestal vir plesier. Geen vakansie was egter so opwindend soos die volgende een wat ek beplan nie.”
“Waarheen is dit?”
“Parys toe.”
Mynie wil verder uitvra – saam met wie en wanneer – maar die tergende glinstering in Conrad se blou oë weerhou haar daarvan. Sy is bly dis donker in die motor sodat hy nie kan sien hoe verleë sy skielik is nie.
Conrad draai by die volgende straat regs. Skielik spring ’n vaal gestreepte kat reg voor die motor in. Pleks dat Conrad uitswaai, trap hy met ’n instinktiewe refleksbeweging die petrolpedaal dieper weg. Die enjin reageer egter effens lui en die kat spring sy dood met enkele sentimeters vry. Daar is net een verwilderde vaal streep toe dit onder ’n geparkeerde motor inspring om agter een van die wiele te skuil.
“Verbrands,” brom Conrad.
Mynie het geskrik toe die motor opeens vorentoe brul. Nou sit sy geskok langs Conrad, hande voor haar mond en haar oë groot en donker.
Hy verminder spoed en dan is dit asof hy weer van Mynie se teenwoordigheid in die motor bewus word. Hy is dadelik verskonend en boetvaardig.
“Ek is jammer as ek jou laat skrik het, my skat. Moet asseblief nie so bang lyk nie.”
“Dit was lelik van jou om opsetlik te probeer om daardie kat dood te ry,” sê Mynie in ’n klein stemmetjie wat skielik baie na aan trane klink.
Conrad neem sy hand van die stuurwiel om hare ’n drukkie te gee.
“Ek weet. Dit was onvergeeflik van my. Maar soos ek gesê het, ek is bygelowig. Ek hou nie van katte nie.”
“Dit was ’n vaal kat daardie, nie ’n swarte nie.”
“Ek kon nie sy kleur uitmaak nie. Daar is ’n spreekwoord wat lui: In die donker lyk alle katte eenders. En het jy nie geweet katte het in elk geval nege lewens nie?”
“Hierdie een het miskien al agt daarvan opgebruik.”
Conrad waag ’n tersluikse blik na Mynie.
“Jy moet meer dikwels kwaad word, my skat,” terg hy. “Jy is onweerstaanbaar as jou groen oë sulke vonke skiet en daar twee rooi kolle op jou wange uitslaan.”
Ondanks haar ontsteltenis glimlag sy effens. Maar sy wonder: sonder foute? – soos sy hardkoppig teenoor Elma volgehou het.
“Ek het nie regtig bedoel om daardie arme kat plat te ry nie, Mynie-lief,” sê Conrad sag. “Dit was sommer net ’n grap. Ek het nie bedoel om jou te laat skrik nie. Sê jy is nie meer kwaad vir my nie. Asseblief …”
Sy kyk na hom. Die straatligte blink op sy blonde hare en sy blou oë met die digte, swart wimpers pleit baie mooi by haar. Hoe kan sy lank vir hierdie man kwaad bly?
“Ek het jou lief, Mynie.”
“En … en ek vir jou. Ek is nie meer vir jou kwaad nie en ek is jammer dat ek met jou geraas het.”
Die verhoogstuk by die Stadskouburg boei Mynie nie. Die feit dat Conrad haar hand in albei syne vashou en kort-kort ’n soentjie op haar vingers druk, trek haar aandag af en laat ’n heerlike warm gevoel van tevredenheid in haar posvat. Dis nie almal wat van katte hou nie, troos sy haarself. Die meeste mans het ’n hekel aan dié diere. Hulle is bang dit doen afbreuk aan hulle manlikheid as hulle erken dat hulle lief is vir katte. Heinz verkies ook honde.
Sy het hom eendag gespot: “Jy was seker in jou vorige lewe ’n rot gewees, daarom dat jy vir katte bang is.”
Heinz was nie geamuseerd nie. “Dis onbybels om aan reïnkarnasie te glo,” het hy styf geantwoord.
Destyds het Mynie gelag omdat Heinz so verontwaardig gelyk het. Nou laat die gedagte aan hom die heerlike warm gevoel in haar binneste verdwyn – om dit seer en leeg te laat. Sy kan nie verstaan waarom sy oor Heinz du Preez skuldig voel nie. Sy is seker hy sit nie op hierdie oomblik in sy woonstel oor haar en treur nie. Hy het seker lankal in ’n ander meisie se arms troos gesoek en vergeet daar bestaan iemand met die naam Mynie Cronjé.
Sy skuif rusteloos in haar sitplek. Die stemmetjie binne-in haar wil weer iets sê, dog sy gee dit nie kans nie. Sy probeer haar aandag by die verhoog bepaal, maar dis ’n ingewikkelde drama van dubbelspel en konflik wat sy nie begryp nie. Haar gedagtes dwaal weer af en Mynie vergeet ’n paar oomblikke van die man wat langs haar sit.
Hoekom maak dit seer om aan Heinz te dink? En nóg seerder om te wonder by watter nooi hy troos gaan soek? Dit maak mos nie saak as Heinz du Preez op ’n ander meisie verlief raak nie. Of maak dit wel saak? Wil sy haar brood aan albei kante gebotter hê – Heinz en Conrad albei aan ’n lyntjie hou terwyl sy besluit met watter een sy eendag wil trou?
Nee, dis met Conrad Duvenhage, besluit Mynie. Sy ken hom skaars drie weke en dis nog te gou om doodseker te wees, maar die gevoel wat sy vir hom het, is anders as die gevoel wat sy twee jaar lank vir Heinz gekoester het. Conrad laat haar hart bons en die bloed vinniger deur haar are bruis. Hy laat haar soos ’n jong tiener teenoor haar eerste kys voel, uitasem en lighoofdig en opgewonde en lus vir die lewe. As dit nie liefde is nie, wat is dit dan?
Ja, dit is liefde, dink Mynie. Maar dan weer: hoekom gun sy Heinz dit nie om geluk by ’n ander meisie te vind nie? Dit het haar bitter seergemaak dat hy drie keer saam met een van sy tiksters gaan koffie drink het sonder om haar openlik daarvan te vertel. Sy was jaloers op daardie Annette Basson. En nou voel sy weer so – met ’n prentjie in haar gedagtes van Heinz wat ’n ander meisie in sy arms hou terwyl hy liefkosend oor haar hare streel en troetelwoordjies in haar oor fluister. Hoe kan so ’n prentjie ’n mens kwets en jou jaloers maak as jy geen gevoel meer vir die betrokke man het nie?
Mynie kom nie agter dat die gordyn op die verhoog gesak het nie. Sy onthou sy het vir Elma gesê sy kan Heinz du Preez maar as ’n geskenk kry. Sy het selfs ’n grappie gemaak en gesê sy sal die skinkbord bygee, dalk as trougeskenk. Maar het sy daardie woorde bedoel? Wat sal haar reaksie wees as sy Elma en Heinz saam sien, dalk hand aan hand en baie verlief …?
“Antwoorde gekry?” vra Conrad liggies.
“Ekskuus?”
“Ek vra of jy antwoorde gekry het op die vrae wat jou die afgelope uur en ’n half geteister het. Jou aandag was nie by die opvoering op die verhoog nie. Jy het jou eie drama gehad wat in jou hart afgespeel het. Het jy die saak wat jou gepla het, uitgemaak?”
“Ja,” jok Mynie.
“Saam met watter kêrel het jou gedagtes doer ver oor die vlaktes gesweef? ”
“Dis my geheim.” Mynie se stem is ook lig, maar sy kan Conrad nie in die oë kyk nie.
Tot haar verligting dring hy nie verder aan nie. Hy staan op, plaas sy hand onder haar elmboog en help haar by die trappe af.
“Sal ons ’n plek soek om koffie te gaan drink, liefste?”
“Ek het ’n bedrywige dag by die skool gehad en is nogal moeg. Sal ek vir ons koffie gaan maak by my woonstel?”
So ’n voorstel pas Conrad uitstekend. Hy glimlag tevrede, knik en plaas sy arm om haar skouers om haar teen die samedromming van mense by die uitgang te beskerm.
“Was ek reg? Was jy te besig om aan ander dinge te dink om op te let wat op die verhoog afspeel?”
Mynie is baie verleë. Conrad het duur vir die kaartjies betaal. Sy wil hom nie laat dink dat sy nie die opvoering geniet het nie.
“Ek … ek het partykeer opgelet.”
“Nou klink jy soos een van jou eie leerlinge,” terg Conrad. “Met wie het Clothilde op die einde getrou?”
Mynie dink naarstiglik om die held se naam te onthou, maar sy het nie die vaagste benul nie.
“Met daardie ou, die een wat sy van die begin af liefgehad het,” antwoord sy vaag.
Conrad lag lekker, maar hy lewer nie kommentaar nie. Hulle stap in stilte tot by sy motor, waar hy hoflik vir Mynie die deur oopmaak en haar eers ’n soentjie gee voor hy na sy eie kant toe omstap.
By die woonstel wil hy nie koffie hê nie. Hy trek gemaak vies ’n suur gesig.
“Dis baie prosaïes van jou om van koffie te praat as ek jou in my arms wil neem en jou soen soos ’n oulike nooientjie verdien om gesoen te word. Behoorlik, en met volle oorgawe …”
“Conrad, wag …” Mynie druk haar hande teen sy bors terwyl sy verleë agteruit rem.
“Dink jy nie Conrad het lank genoeg gewag nie?” vra hy sag. “Een en twintig dae is ’n lang tyd om uit te hou, veral as die kêrel ’n baie verliefde man en die nooientjie so onweerstaanbaar soos jy is. Is jy bang vir my, Mynie?”
“N-nee …”
“Hoekom keer jy dan altyd en rem weg as ek jou wil soen?”
“Som … sommer.”
“Dis nie ’n antwoord nie.” Hy plaas sy wysvinger onder haar ken en lig die hartvormige gesiggie op sodat hy in die groen oë kan kyk. “Hou jy nie van my nie, Mynie?”
Sy voel hoe haar weerstand baie vinnig verbrokkel. Sy wou nie dat Conrad haar daardie eerste aand al soen nie – toe hulle op kussings voor die radio gesit het en na Beethoven geluister het – want sy was bang hy kry die indruk dat sy nie ’n meisie van goeie inbors is nie. Op hulle tweede aand saam het sy nog steeds gekeer en hom weggestoot omdat sy skaam was. Eers op hulle derde afspraak het sy Conrad toegelaat om haar hand vas te hou, maar nou voel sy dat hy nie meer ’n vreemdeling is nie. Hulle ken mekaar weliswaar nog slegs ’n kort tydjie, maar kan ’n mens tyd meet as jy verlief is? Dis duidelik dat Conrad met moeite sy emosies beteuel. Hoekom moet sy hom langer laat swaarkry?
“Hou jy nie van my nie, Mynie?” herhaal Conrad, sy stem onseker en sy blou oë ongelukkig.
Sy skud haar kop. “Nee, ek hou nie van jou nie,” antwoord sy ernstig, maar met haar oë versluier sodat hy nie die lag daarin moet sien nie.
Mynie het nie die hewige reaksie verwag wat sy kry nie.
“Mynie, my liefste, sê vir my wat ek verkeerd gedoen het. Asseblief, as ek iewers verbrou het, vertel my sodat ek dit kan regmaak. Ek het jou liewer as enige ander mens op hierdie aarde. Liewer as myself, liewer as …”
Sy is dadelik jammer omdat sy hom geterg en so ontstel het. “Conrad,” val sy hom sag in die rede, “dis waar dat ek nie van jou hou nie, maar dis omdat ek jou liefhet. Ek hou nie van jou nie. Ek het jou liéf. Ek het dit al vir jou gesê, maar jy glo my blykbaar nie. Jou liewe, lawwe mansmens … Weet jy nie dat ek halsoorkop, tot oor my ore, op jou verlief is nie? Ek kan snags nie slaap nie en bedags by die skool moet ek myself kort-kort knyp om seker te maak dat ek nie droom nie. Die ander personeellede terg my al. Hulle wil weet of ek …”
Mynie wou nog baie ander dinge gesê het, almal min of meer in dieselfde trant, om te vergoed vir die gewonde uitdrukking in sy oë netnou toe sy gesê het sy hou nie van hom nie. Maar dis Conrad se beurt om haar te onderbreek. Hy is meer oorspronklik as sy, of dalk meer verlief. Hy maak haar met sy mond stil, nie met woorde nie.
Mynie het daardie eerste aand reeds gewonder hoe dit sal wees as Conrad Duvenhage haar soen. Sy het haar verbeelding vrye teuels gegee, maar selfs in haar wildste drome het sy nie gedink dit sou só wees nie.
Conrad se lippe is eers onseker, sag en vraend. Dan, toe Mynie se arms om sy nek gly, word sy mond meer dringend. Hy druk haar styf teen hom vas, asof hy haar nooit weer wil laat gaan nie. Hy soen eers die blink hare, dan die sagte wange en die ooglede wat oor die groen oë gesak het. Dan, uiteindelik, vind sy dwingende mond haar bewende lippe.
Toe Conrad haar einde ten laaste laat gaan, kan Mynie nie onthou hoe laat dit is, watter dag dit is en wie sy is nie. Dit voel of daar tien jaar verbygegaan het en sy ’n nuwe mens geword het tydens daardie lang, uitgerekte soen.
Ook Conrad is nie homself nie. Sy asem jaag in sy keel en hy hou Mynie ’n armlengte van hom af weg.
“Sjoe …” is al wat hy sê.
“Ja, ek voel ook so,” stem Mynie bewerig met hom saam.
“Hoe? Bewerig en uitasem, lam kniekoppe en ’n hart wat soos ’n stoomlokomotief klink?”
“Presies so.”
Conrad trek Mynie weer nader, hierdie keer sag en teer, asof hy bang is vir homself en bang is om hierdie brose meisietjie seer te maak.
“Het ek al vir jou gesê dat ek jou liefhet?” fluister hy teen haar hare.
“Ja, maar sê dit asseblief weer. Dis heerlike woorde om na te luister.”
“Ek het jou liefgekry, Mynie, die eerste keer toe ek jou gesien het. Daardie heel eerste aand toe ’n paar groot groen oë vir my deur die boluik geloer het.”
“Is nie!” sê Mynie verontwaardig. “Jy het nie gesien toe ek op ’n stoel geklim het om deur die luik vir jou te loer nie.”
“Hoe anders sou ek dan geweet het jy het dit gedoen? Ek het selfs die eetkamerstoel hoor val toe jy dit nie gou genoeg onder die tafel ingeskuif kon kry nie.”
“Is nie! Jy het dan nie opgekyk nie. Hoe kon jy my sien?”
“O, ek het opgekyk lank voor daar ’n nuuskierige klein gesiggie bokant my kop verskyn het en die paar groot groen oë my raakgesien het,” antwoord Conrad vroom. “En toe het ek weer haastig weggekyk en taktvol gemaak asof ek niks agtergekom het nie. Ek wou jou nie nog meer verleë laat voel het, my skat, as wat jy in der waarheid was toe jy ’n minuut later die voordeur oopgemaak het nie.”
“Jy jok, Conrad.”
“Was jy darem tevrede met die eerste aanblik van jou penvriend?” terg Conrad. “Gelukkig het ek daardie oggend my skoenpunte blink gepoets, my baadjie se skouers afgestof en die kroontjie bo-op my kop gekam. Wat sou jy gemaak het, Mynie-skat, as jy ’n ou met stowwerige skoenpunte, skilfers op sy skouers, ’n deurmekaar kroontjie bo-op sy kop en ’n onnet paadjie tussen sy hare onder jou boluik sien staan het? Geweier het om die voordeur oop te maak? Van die stoel afgeklouter, ’n skottel water gaan haal en dit oor jou penmaat omgekeer het?”
“Ag, loop … Jy geniet dit blykbaar om my skaam te maak.”
“Kan ek daaruit aflei dat Wewenaar ’n gunstige eerste indruk op jou gemaak het, Mynie? Hoeveel punte het jy my gegee ná jy my eers sorgvuldig bestudeer het? Tien uit tien?”
“Nul uit tien.”
Conrad se regterwenkbrou lig vraend. Hy lyk nog steeds baie geamuseer. “Nul uit tien, maar tog kon jy nie gou genoeg by die voordeur kom om dit oop te maak nie? So haastig dat jy selfs die eetkamerstoel laat val het.”
Mynie ag dit gerade om liewer die aftog te blaas.
“Ek gaan vir ons koffie maak.”
“Hierdie ronde het ek gewen!” roep Conrad agterna toe Mynie die hasepad kombuis toe kies.
“Jy is uiters verwaand, Conrad Duvenhage!” roep sy bokant die gedruis van water wat in die ketel ingetap word. “Miskien vier, hoogstens vier en ’n half uit tien. Beslis nie volpunte nie.”
Mynie haal beskuit uit en ’n sjokoladekoek wat sy spesiaal vir hierdie doel gebak het. Toe sy dit egter saam met die koffie op die skinkbord pak, stap Conrad die kombuis binne. Hy neem die skinkbord uit haar hande, sit dit op die wasbak neer en sê bekommerd: “As die nooientjie jou verwaand noem, beteken dit dat sy op die punt staan om vir jou kwaad te word. Ons kan koffie drink terwyl jy vir my kwaad is, maar ek dink ek moet gou vir jou iets vra terwyl jy nog goed is.”
“Wat wil jy vir my vra, Conrad?”
“Ek wil vir jou vra of ek jou volgende keer ’n belangrike vraag mag vra. Ek weet dit klink deurmekaar, maar ek weet nie hoe om my woorde beter te kies nie. Ek is ’n verliefde kêrel wat nie logies kan dink nie. Sê net dat jy ja sal sê op die baie belangrike vraag wat ek volgende keer vir jou wil vra.”
“Hoe kan ek belowe om ja te sê as ek nie weet wat die vraag gaan wees nie?”
“Jy het seker ’n vae idee wat ek wil vra, Mynie. Hoekom anders dink jy is my tong nou skielik weer in tien knope geknoop en my handpalms natgesweet?”
Mynie tel een van sy hande op en druk dit teen haar wang.
“Jy oordryf. Jou hande is kurkdroog.”
Toe Conrad se hand teen haar wang afgly, oor haar nek streel en hy haar weer wil nader trek, bloos Mynie en gee haastig ’n tree agteruit.
“E … O-ons koffie word koud,” stamel sy verleë.
Conrad lag saggies, dan tel hy die skinkbord op en volg haar daarmee sitkamer toe.
Toe hy die suikerpot vir haar hou, sê hy met ’n tergende glimlag: “Na ek my koffie klaar gedrink het, moet ek seker soos ’n soet seuntjie huis toe gaan en gaan slaap …”
Mynie kyk op haar horlosie. “Ja, dit is al laat, Conrad.”
“Ek sal mooi luister wat die juffrou beveel. Ek wil nie die gunstige indruk bederf wat ek op haar gemaak het nie. Onthou net die vraag wat ek volgende keer vir jou wil vra, Mynie …”