Читать книгу Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman - Страница 11

8

Оглавление

Heinz du Preez het nie gesien toe die verliefde paartjie vroeër die aand hand aan hand by Astrahof uitgestap gekom het nie, maar hy sien toe ’n roomkleurige Mercedes kort voor elfuur die aand voor die woonstelgebou stilhou, en hierdie keer herken hy die meisie in die blou rok.

Eers kan Heinz sy oë nie glo toe hy merk Mynie is saam met ’n vreemde man nie. Toe besef hy weer dat hy ’n dwaas was. Stiksienig en onnosel. Skielik besef hy waarom Mynie die afgelope tyd so ontwykend en afsydig was. Dis omdat sy ’n ander kêrel het en nie meer in hom belangstel nie. ’n Oomblik lank flikker die flou vlammetjie van hoop dat dit een van die onderwysers is wat saam met Mynie skoolhou, dat sy ’n skoolfunksie bygewoon en dat ’n kollega haar uit hoflikheid opgelaai het. Toe hy egter sien hoe sorgsaam die man haar uit die motor help en dan haar hand in syne neem, doof die vlammetjie uit om Heinz se toekoms pikdonker te laat.

“Mynie het ’n ander kêrel.” Hy sê daardie vyf woorde oor en oor om dié feit te kan inneem en besluit wat hy daaromtrent kan doen.

Op die oomblik niks, besluit Heinz terwyl hy sy vuiste magteloos bal, behalwe om daardie vent net daar op die sypaadjie storm te loop, Mynie se hand uit syne te ruk en hom ’n opstopper te gee. Maar sal dit sy saak by Mynie Cronjé bevorder? Hy weet dit sal nie. Dit sal meer skade as goed doen.

Heinz sit vol wrewel en kyk hoe die lig in Mynie se sitkamer aangeskakel word. Sou sy die vent binnegenooi het? Na vyf lang minute besluit hy dat sy dit wel gedoen het. Die vent het nog nie weer by die ingang uitgestap gekom en in sy rammelkas geklim nie. Of hoe lank duur dit om tien tree ver na ’n hyser te loop, drie verdiepings na onder te ry en op die sypaadjie te voorskyn te kom? Heinz besluit hy sal die vent nog tien minute toelaat, dan gaan boender hy hom met geweld daar uit en eis om te weet wat hy in sy nooi se sitkamer soek.

Sý nooi? wonder Heinz. Is Mynie nog sý nooi, of is daar ’n verhouding tussen haar en daardie witkopvent? ’n Oomblik lank kan Heinz hom indink hoe Mynie gevoel het toe sy van Annette uitgevind het. Hy stoot die gedagte ergerlik eenkant toe. Daar is geensins ’n vergelyking tussen die twee gevalle nie. Annette is ’n verloofde meisie en niks meer as net ’n kollega van hom nie, terwyl daardie vent ’n … hy weet nie wat van Mynie is nie. ’n Goeie vriend? ’n Terloopse kennis? Iemand wat haar na afloop van ’n funksie goedgunstiglik huis toe gebring het? Nee, besluit hy weer. Dan sou die man nie haar hand vasgehou en sy arm om haar middel gesit het toe hulle in die gebou verdwyn het nie. En ook nie so lank getalm het om vir Mynie tot siens te sê nie …

Omstreeks dieselfde tyd wat Mynie op haar horlosie kyk en vir Conrad sê dis al laat, kyk Heinz ook weer op sy horlosie. Die vent se laaste minuut is bykans verstreke.

Om sewe minute oor elf klim Heinz uit sy motor en klap die deur baie hard agter hom toe. Hy het nog nie besluit wat hy gaan doen nie. Maar die hele tyd in sy motor bly sit of huis toe ry sonder dat hy weet hoe laat die man by Mynie weg is? Dit kan hy ook nie doen nie.

Heinz druk die knoppie vir die hyser, nog steeds sonder ’n plan van aksie. Net met moord- en wraakgedagtes in sy hart. Terwyl hy wag, druk hy die knoppie ongeduldig ’n derde en ’n vierde keer. Hy merk dat die verligte nommers bokant die deur by nommer drie aangaan, dan by nommer twee, nommer een en uiteindelik by die grondverdieping stilstaan. Heinz moes so iets verwag het, maar hy word nogtans op die verkeerde voet betrap. Toe hy die deur van die hyser oopruk, kyk hy vas in ’n paar kil ysblou oë bokant ’n mond wat nie lyk of dit in staat is om sjarmant te glimlag en pas tevore liefdeswoordjies in ’n dame se oor gefluister het nie. Hy herken die man dadelik as Mynie se onbekende vriend en onwillekeurig bal hy sy vuiste.

Conrad herken nie die jong man wat in die hyser se deur bly staan en lyk of hy nie van plan is om pad te gee nie. Wat hy egter wél herken, is die moordlustige uitdrukking op sy gesig, en dadelik is Conrad op sy hoede. Hier kan ’n onsmaaklike situasie ontstaan. Sal hy alles ontken as die jong man hom dalk van iets beskuldig? Of voorgee dat die man hom met iemand anders verwar? Of hom voorspring en probeer om met ’n gebluf die jong man se moontlike agterdog te laat verdwyn?

Laasgenoemde, besluit Conrad. Hy stryk sy hare plat, glimlag innemend en merk gesellig op: “Lekker aand, is dit nie?”

Die jong man antwoord nie en dit lyk ook nie of hy in die weer belangstel nie.

Conrad kyk op na die liggies bokant die deur van die hyser, asof hy hom wil vergewis dat dit wel die grondverdieping is.

“Ekskuus,” sê hy beleef en nog steeds baie vriendelik terwyl hy na die deur beduie. “Dis die grondverdieping hierdie, is dit nie? Ek sal graag wil uitstap as u nie omgee nie.”

Heinz weet hy kan die vent nie aan die keel gryp en daardie selfvoldane glimlag van sy gesig afvee nie. Die man kan ’n saak van aanranding teen hom aanhangig maak en dit sal nie juis sy saak by Mynie bevorder nie. Sy vuiste verslap onwillig en hy staan stilswyend opsy.

Te oordeel na die bonsing van haar hart, weet Mynie dadelik wie dit is toe daar ’n kort kloppie aan haar voordeur is. Dis Conrad! Dis hy wat teruggekom het omdat daar iets is wat hy vergeet het om vir haar te sê. Of miskien omdat hy besluit het om daardie allerbelangrike vraag nie langer uit te stel nie.

Mynie word teleurgestel. Dis nie Conrad Duvenhage wat op haar drumpel staan nie. Dis Heinz du Preez. Haar hart vergeet van sy baldadige bokspronge en gaan in ’n beskeie bondeltjie lê.

“Naand.” Heinz se groet is kortaf. Hy wag nie op ’n uitnodiging nie, maar stap sonder meer haar woonstel binne.

Mynie stap nie agterna sitkamer toe nie. Sy bly in die voordeur staan.

“Heinz, dis laat en ek het nog skoolwerk om te doen.”

“Hierdie is nie ’n sosiale besoek nie. Ook nie ’n kuier nie.”

Mynie wou gevra het wat dit dan is, maar toe sy Heinz se spierwit gesig sien, en die manier waarop hy met gevoude arms in die middel van die kamer bly staan, swyg sy liewer.

“Wat is sy naam?” vra Heinz kil.

“Wie?” skerm Mynie.

“Daardie vent wat sy grys hare met ’n kleurstof probeer verbloem en soos die binnekant van ’n vol bioskoopsaal ruik.”

Mynie is dadelik op die verdediging.

“Conrad kleur nie sy hare nie en hy gebruik nie …”

“O, is dit sy naam? Conrad … Dit pas by hom,” sê Heinz veragtend.

“Daar is niks verkeerd met die naam nie. Dis mooi en dis manlik.”

“Ekskuus. My fout. Dan pas die naam nie by hom nie.”

“Heinz, ek kan skaars met jou oor die weg kom as jy sagmoedig, lieftallig en vriendelik is. In hierdie luim vind ek jou onuithoudbaar.”

“Wat is jou verhouding met daardie laventelhaan?”

“Ek glo nie dis jou saak nie,” sê Mynie uitdagend.

“Verkeerd. Dit is my saak as ’n ander man by my nooi aanlê.”

“Ek is nie jou nooi nie.”

“’n Paar minute gelede het ek dieselfde idee gekry toe ek jou met daardie man se arm om jou lyf gesien het.”

“Jou afleiding was in die kol. Hoekom het jy nie daarmee volstaan nie?”

Heinz laat vaar skielik sy aggressiewe houding. Sy vuiste verslap langs sy sye en toe hy weer praat, klink sy stem moeg en verslae.

“Hoekom het jy my nie gesê daar is iemand anders nie, Mynie?”

“Ek het by jou geleer om my ontrouheid geheim te hou.”

Die oomblik toe die beskuldigende woorde uit is, is Mynie spyt. Die pyn in Heinz se oë laat haar soos ’n skurk voel. Ook sý laat vaar haar uitdagende houding. “Ek is jammer, Heinz. Ek moes jou seker lankal van Conrad vertel het. Al verskoning wat ek het, is dat ek te lafhartig was. Ek wou dit so lank moontlik uitstel. Ek het gehoop dat ons verhouding geleidelik self sou doodloop en dat dit dan vir jou minder pynlik sou wees om van Conrad uit te vind. Nou besef ek dat ’n mens ’n onaangename taak nie moet uitstel nie. Ek is jammer dat jy dit op hierdie manier moes uitvind, maar ek het Conrad lief.”

“Daardie …”

“Dit help nie om hom allerhande name te noem nie,” val Mynie hom in die rede. “Al wat jy daardeur sal bereik, is om my kwaad te maak, en ek wil nie graag dat ons hierdie laaste keer rusie maak nie.”

“Hierdie laas …” Heinz sluk en begin dan weer. “Hierdie … laaste keer?”

“Jy verstaan tog seker dat ons verhouding iets van die verlede is.” Die woorde klink wreed en ongevoelig. Mynie probeer dit versag. “Ek hoop egter dat ons nog altyd goeie vriende sal bly.”

“Ek vra nie vriendskap van jou nie, Mynie.”

“Ek is jammer, Heinz, maar dis al wat ek jou kan bied.”

“Mynie, wat het tussen ons verkeerd geloop? Ons het al saam toekomsplanne begin droom, gepraat van verloof raak …”

Daar is ’n desperate klank in Heinz se stem. Mynie voel jammer vir hom. Sy onthou hoe gebroke sy ’n paar weke gelede was, daarom dat sy in ’n luim van desperaatheid aan Wewenaar geskryf het.

“Ek dink nog steeds jy is ’n baie oulike ou, Heinz, en ek weet daar sal talle ander meisies wees wat met my saamstem. ’n Aantreklike jong prokureur, talentvol, ’n sterk persoonlikheid … Jy sal gou weer iemand anders ontmoet vir wie jy liewer sal wees as vir my. Jy sal nie eensaam wees nie, Heinz. As die asters hoor jy het nie ’n vaste nooi nie, sal hulle toustaan om hulle flikkers vir die sjarmante Heinz du Preez te gooi.”

“Ek wil nie jou jammerte hê nie, Mynie. Jy kan met my rusie maak, my wegjaag, uit jou woonstel sluit, die telefoon neergooi, alles doen, maar jy moenie my bejammer nie.”

“Wat van Annette Basson?” hou Mynie vol.

“Wat van haar?”

“Dalk, noudat jy vry is …”

“Annette is ’n verloofde meisie en ek stel in elk geval nie in ’n verhouding met haar belang nie.”

“Is sy regtig verloof, of het jy destyds net so gesê om my te oortuig daar is niks tussen jou en haar nie?”

“In die twee jaar wat ek jou ken, Mynie, het ek nog nooit vir jou ’n leuen vertel nie.”

Mynie besef dat Heinz die waarheid praat. Heinz is allerhande dinge – kortgebakerd, ongeduldig, onmoontlik – maar hy is nie oneerlik nie. Hy vertel nie leuens nie.

“Jy verdien iemand beter as ek,” sê Mynie opreg. “Ek is opvlieënd, rusiemakerig, impulsief en oorhaastig. Alles waarvoor jy my uitgeskel het en nog veel meer.”

“Ek is jammer ek het in die verlede so dikwels met jou rusie gemaak, Mynie. Ek het nie al daardie name bedoel wat ek jou genoem het nie.”

“Nee, dis ek wat altyd met jou rusie gemaak het. Jy was altyd geduldig en verdraagsaam. Ek was soms verbaas dat jy my nie oor jou skoot getrek en my ’n verdiende pak slae gegee het nie.”

“Ek erken my geduld het soms opgeraak en ek was vir jou bitter kwaad. Maar jy het nog altyd … Mynie gebly – die meisie wat ek bo alles liefgehad het. Ek sien nie kans om jou te verloor nie. As vriendskap al is wat jy my kan bied, sal ek dit aanvaar en die krummels waardeer.”

Mynie voel nog steeds soos ’n gemene skurk, maar sy is bly Heinz aanvaar dit dat hulle verhouding verbreek is. Dit het makliker gegaan as wat sy verwag het en sy is verlig.

“Ek sal dit ook waardeer as ons twee nog vriende kan bly.”

“Reg, dan bly ons nog steeds goeie vriende. Sal ons Saterdagaand gaan fliek, Mynie – as vriende?”

Ondanks haar goeie voornemens om nie weer vir Heinz kwaad te word nie, is Mynie ergerlik oor sy voorstel.

“Dis nie net verloofdes en verliefdes wat saam gaan fliek nie,” sê Heinz. “Platoniese vriende doen dit ook dikwels.”

“Jy weet ons kan nie.”

“Hoekom nie? Sal die laventelhaan beswaar maak?”

Dis weer die ou moedswillige Heinz wat Mynie leer ken het.

“Moenie hom die laventelhaan noem nie!” sê sy kwaad.

“Jy kan bly wees ek noem hom nie iets ergers nie,” sê Heinz duister. “Watse werk doen hierdie dierbare, lieftallige man?”

“Prokureur,” antwoord Mynie kortaf.

Heinz is dadelik die ene belangstelling. “By watter firma?”

“Ek dink hy het gesê Smit, Botha en Duvenhage.”

“Ek ken nie so ’n prokureursfirma nie.”

“Heinz, jy ken tog sekerlik nie al die prokureursfirmas in Johannesburg nie.”

“Miskien nie, maar dié wat ek nie ken nie, het ek darem al van gehoor. Smit, Botha en Duvenhage …? Nee.”

“Straks het ek verkeerd gehoor.”

“Ek sal in elk geval vasstel of daar so ’n firma is en of hulle ’n goeie reputasie het.”

“Dis nie nodig om soveel moeite te doen nie.”

“Ek doen dit graag. Vir jou en … dalk ook nog vir myself. Waar het jy en die … e … Conrad mekaar ontmoet?”

Dit wil Mynie egter nie sê nie. “Iemand het hom aan my voorgestel,” antwoord sy vaag.

“Elma?” vra Heinz dadelik. Asof daardie Elma Visagie nie al genoeg skade aangerig het nie … Hy het ’n vermoede dit was Elma wat Mynie van die blondine op die lughawe vertel het.

“Nee, dit was nie Elma nie.”

“Wie dan?”

“Ag, Heinz, hou op met torring! Wat maak dit saak? Ons het mekaar ontmoet en met die eerste oogopslag verlief geraak. Wat maak dit saak wie ons aan mekaar voorgestel het?”

“Ek sou graag wil weet, want ek wil na daardie persoon toe gaan en ’n lang, skerp mes tussen sy of haar ribbes indruk. Waar woon hierdie vent?”

“Ek weet nie.”

“Jy weet nie?” Heinz is baie verbaas.

“Ten minste … ek ken nie sy adres nie,” korrigeer Mynie haarself. “Ek weet net dis iewers in Johannesburg.” Sy voeg uitdagend by: “Maar hy het ’n fantastiese huis. ’n Dubbelverdiepinghuis met ’n grasdak, ’n swembad en ’n tennisbaan.”

“Ek sou ook vir jou ’n mooi huis gekoop het,” sê Heinz weemoedig.

“Dis gaaf. Dink net hoeveel geld jy nou spaar aangesien jy nie meer met my gaan trou nie.”

“Hoekom besit hy reeds ’n huis? Of is dit ’n nuwe een wat hy gekoop het met die oog op … e … sy voorgenome huwelik?”

“Hy is ’n wewenaar,” erken Mynie teësinnig.

“Kinders?”

“Ek glo nie.” Toe Heinz frons, sê Mynie gou: “Nee. Nee, hy het nie kinders of afhanklikes nie.” Of het hy? wonder sy op haar sigselwers. Hoekom is Conrad altyd so ontwykend as sy hom uitvra? Sy kan begryp dat sy oorlede vrou nog ’n teer saak is, maar dis al nege jaar gelede en daar moes darem seker al ’n roof oor die wond gegroei het. Of was dit sewe jaar gelede? Conrad lyk nie baie seker nie. Soms is dit nege jaar, dan weer sewe …

“Hou oud is hierdie wewenaar?”

Mynie voel nie gelukkig nie. Daar is ’n rot wat aan haar binneste knaag en haar antwoord is skerper as wat sy bedoel het.

“Jy het geen reg om my oor my persoonlike sake uit te vra nie. Ek het nou genoeg van jou vrae beantwoord. Ek het gesê dis laat. Ek is moeg en ek het nog toetse om na te sien. Sal jy asseblief nou huis toe gaan, Heinz?”

Heinz se glimlaggie is onderstebo. “Ek kan my herinner dat ek daardie selfde woorde al voorheen gehoor het. Ek sal op een voorwaarde huis toe gaan …”

“Jy is nie in ’n posisie om voorwaardes te stel nie.”

“Ek beroep my op ons vriendskap. Pasgebore, heg en suiwer platonies. Ek sal nou dadelik loop, mits ek volgende Saterdagaand weer vir jou mag kom kuier om hierdie saak uit te praat.”

Mynie dink: Hoe het Elma gesê? Niemand kan Heinz daarvan beskuldig dat hy nie ’n vasberade kêrel is en nie hard genoeg probeer om sy nooi weer goed te kry nie.

“Conrad kom Saterdagaand vir my kuier,” sê Mynie kortaf.

Heinz lyk nadenkend. “Ja, ek sien in dat dit moontlik ’n struikelblok sal wees. Ek glo nie ek en daardie middeljarige wewenaar sal juis veel gemeen hê om oor te gesels nie.”

Mynie moes onthou het dat Heinz du Preez ’n briljante prokureur is wat veral tydens kruisverhoor uitblink. Sy moes geweet het as hy sekere inligting wil hê, sal hy dit kry. Sy moes nie vierkantig in die strik getrap het wat hy vir haar gestel het nie.

“Conrad is nie middeljarig nie! Hy is veertig. ’n Baie jong veertig.”

“Hy lyk dan nader aan vyftig. ’n Baie ou vyftig. Maar nou ja, in hierdie hedendaagse moderne samelewing van ons is daar natuurlik allerhande hulpmiddels soos kleurstof vir die hare en ’n gesigpak wat gewaarborg is om die plooie soos mis voor die son te laat verdwyn, om ’n verrimpelde vel skielik weer soos dié van ’n pasgebore babatjie s’n te laat lyk.”

Heinz het nie ’n goeie prokureur geword sonder dat hy in die hof ook ’n talent vir antisipasie aangeleer het nie. Hy het antisipeer en verwag dat Mynie hom met die eerste die beste ding sal gooi, en hy vang die kussing behendig toe dit na sy kop geslinger word.

“Mooi kussing hierdie,” merk hy ongeërg op. “Jy moet dit nie so rondgooi nie, Mynie. Dit sal verniel.”

“Heinz, jy is aaklig! Ek wil nie … wil nie eens meer vriende met jou wees nie.”

“Wat wil jy dan met my wees?”

“Niks.”

Heinz glimlag skeefweg. “Ek kry die indruk dat ek nie baie welkom is nie. Toe maar, jy hoef nie elke keer so veelbetekend en insinuerend op jou horlosie te kyk nie. Ek sal nou-nou huis toe gaan en jou in vrede laat.”

Drie weke gelede sou daardie skewe, weemoedige glimlaggie aan Mynie se hartsnare gepluk het. Nou hou sy haar doelbewus ongevoelig.

“Middernag is nie juis ’n geskikte tyd vir kuier nie, Heinz.”

“Wanneer is? Volgende Saterdagaand om sewe-uur?”

Mynie is nie saam met Heinz geamuseerd oor die opening wat sy vir hom gelaat en waarvan hy so behendig gebruik gemaak het nie. Sy het hoofpyn en sy is moeg. Heinz se moedswilligheid begin haar irriteer.

“As Annette Basson dan kamstig verloof is en …”

“Sy is regtig. Aan Ferdi. Jy onthou hom mos? Ferdi van Wyk, een van ons vennote wat ook met LLB besig is.”

“Hou op om my in die rede te val. Jy is nie nou in die hof met ’n saak besig nie. Wat ek wou gesê het, is: As Annette Basson dan kwansuis verloof is, hoekom soek jy nie vir jou ’n ander meisie by wie jy tydig en ontydig kan gaan kuier nie?”

“Saterdagaand om sewe-uur is nie ontydig nie.”

“Heinz … !”

Heinz ken hierdie donkerkopnooientjie en hy lees die gevaartekens reg. Hy weet wanneer dit beter is om liewer tydelik die aftog te blaas.

“Goed,” sê hy haastig. “Ek loop nou dadelik en ek belowe plegtig om nie volgende Saterdagaand om sewe-uur vir jou te kom kuier nie. Is ons nou weer vriende?”

Ondanks haar ergernis kan Mynie nie anders as om te glimlag nie.

Heinz skep skielik moed. Hy kom een tree nader. “Mynie …” sê hy onseker in ’n stem vol verlange en vertwyfeling.

“Tot siens, Heinz,” sê Mynie beslis.

Ettie Bierman Keur 12

Подняться наверх