Читать книгу Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman - Страница 6
3
ОглавлениеOp die lughawe is daar ’n malende mensemassa. Daar is hordes blondines, dosyne van hulle. Almal ewe eksoties en beeldskoon, maar nie een van hulle Annette Basson nie. Al bekende op die lughawe is tant Dollie Visagie, hoogs ontsteld en erg ontstoke.
“My … my geld is weg,” stamel die ou dame toe sy by Elma en haar ouers kom. “Ek het daardie antieke stinkhoutkas in die Kaap vir vyfduisend rand verkoop. En netnou, toe ek die kruier ’n fooitjie wou gee, sien ek my geld is … gesteel. Kyk … !” As bewys hou sy haar beursie uit. Binne-in is geen geld nie, slegs ’n paar stukkies opgevoude koerantpapier.
“Wanneer laas het jy gekyk of die geld nog daar is, Ousus?” wil meneer Visagie weet.
“Tien minute gelede, toe daardie gawe jong man my tas van die vervoerband afgehaal het. Toe was my beursie met die geld nog daarin.”
Almal is ’n paar oomblikke sprakeloos terwyl hulle na die leë beursie en koerantpapier staar. Dan vra Elma se pa skerp: “Watter gawe jong man?”
“Die een wat agter my by die vervoerband gestaan het. Daar was ’n samedromming van passasiers en hy het self baie bagasie gehad – twee tasse en ’n sak – maar hy was so gaaf om my te help. Hy het per ongeluk eers amper my tas vir syne aangesien, maar toe keer ek: ‘Nee, daardie rooie is myne. Daar’s baie geld in en hy moenie wegraak nie!’”
“Gaan voort,” sê meneer Visagie kortaf.
“Nee, dis al, Boet. Dit was ’n baie gawe jong man, maar hy het – net soos jy altyd – geraas omdat ek soveel kontantgeld in my tas gepak het. Hy het daarop aangedring dat ek eers kyk of al die geld nog daar is voor ek die lughawe verlaat.”
“En net om dubbel seker te maak, het ook hý die geld getel?”
“Hoe het jy geweet, Boet?”
“Kyk mooi na daardie beursie, Ousus. Is jy seker dis joune?”
Tant Dollie frons, maar bekyk die beursie noukeuriger. “Nee! Op die oog af is dit net so ’n bruin beursie soos myne, maar nou sien ek dis nuwer en effens kleiner en … en die knip lyk ook anders. Boet … Dink jy daardie jong man het die beursies omgeruil?”
“Jou gawe jong man klink vir my na ’n opperste skelm. Hy het waarskynlik meer as een beursie – almal verskillend en almal vol koerantpapier – by hom gehad, met die hoop ’n geleentheid duik op waar hy twee beursies ongemerk kan omruil. Jy was ’n gek om te sê daar is soveel geld in. En stapelgek om hom toe te laat om die geld te tel. Het jy nie gesien dis ’n ander beursie wat hy vir jou teruggee nie? Of gemerk hy steek joune in sy sak nie?”
“Nee.”
“Ousus,” sê meneer Visagie grimmig, “ek dink jy is jou geld kwyt, maar ons moet die saak nogtans by die polisie gaan aanmeld.”
Die lughawespeurder is in sy kantoor, besig met ’n verslag oor twee vermiste tasse en ’n kajuitsak. Hy is die afgelope maand deur klagtes oorval. Op sy lessenaar lê dertien onopgeloste gevalle van vermiste bagasie, geldroof, vervalste tjeks en ander misdrywe. Dis ’n ongekende vlaag misdade. Hy is tot oor sy ore in die werk, maar hy bly nogtans geduldig terwyl hy na tant Dollie se taamlik onsamehangende verhaal luister. Luitenant Hoekstra maak ’n aantekening in sy notaboek, frons en blaai ’n bladsy terug om sy geheue te verfris. Hy lees wat hy ’n paar minute gelede daar geskryf het en voel dan optimisties. Hier, vir die eerste keer in vier weke, is moontlik ’n bruikbare leidraad …
“Juffrou Visagie, u sê die betrokke jong man het ’n paar minute tevore per abuis amper u tas geneem?”
“Dis reg, luitenant.”
“Het u dalk opgelet na die bagasie wat die man toe wel van die vervoerband verwyder het?”
“Ja, toevallig het ek. ’n Groot bruin tas, ’n kleiner witterige een en ’n sak met Jakaranda-lugdiens se naam daarop.”
Tant Dollie se beskrywing strook met dié van die bagasie wat ’n paar minute gelede as vermis aangegee is. Ook is dit insiggewend dat die betrokke man mejuffrou Visagie se uitermatige groot, helderrooi tas aanvanklik as sy eie aangesien het … Die luitenant neem ’n volledige beskrywing van die jong man en beloof tant Dollie dat die polisie die saak sal ondersoek en weer met haar in verbinding sal tree.
Toe Mynie by haar woonstel kom, vind sy ’n nota teen die voordeur. Dis nie nodig om na die naam onderaan die briefie te kyk om te weet van wie dit kom nie. Mynie ken die handskrif te goed en verwens haarself toe daar ’n onstuimige bonsing in haar binneste is.
“Nee,” betig sy haar uitbundige hart. “Dit help nie om in my keel te bokspring en my bene lam te laat voel nie. Sien, ek gaan nie eens die briefie lees nie. Ek gaan dit fyn en flenters skeur en in die asblik gooi.”
Voor haar hart met haar verstand kan begin stry en dalk die woordewisseling wen, skeur sy Heinz du Preez se nota stukkend en gooi die flentertjies in die snippermandjie. ’n Vlugtige gedagte laat haar skielik omgekrap voel. Gooi maar my brief in die snippermandjie as jy besluit ek is nie die moeite werd om mee te korrespondeer nie, het sy vir Wewenaar geskryf. Het haar brief dalk dieselfde paadjie as hierdie een van Heinz du Preez geloop?
“Ek gee nie om nie!” sê Mynie hardop. “Ek wil niks meer met mansmense te doen hê nie. As hulle nie jou geld steel nie, verkul hulle jou met ander nooiens of ignoreer jou briewe. Alle mansmense is nare goed. Dit sou ’n heerlike ou wêreld gewees het as daar net vroumense op hierdie aarde was.”
Mynie is nie dors nie. Dis egter nog te vroeg om al te gaan slaap. Sy maak ’n pot tee, skakel die televisiestel aan en krul in ’n leunstoel op. Maar die dokumentêre program oor die maak van wyn boei haar nie. Sy probeer volg wat die aanbieder sê en dwing haar blik op die skerm, maar haar oë bly na die snippermandjie dwaal. Na twintig minute gee sy die stryd gewonne. Sy keer die mandjie op die mat om, maak die flentertjies papier bymekaar en pas hulle soos ’n legkaart inmekaar.
Toe sy die boodskap lees, wens Mynie sy het nie voor die versoeking geswig om te sien wat hy vir haar te sê gehad het nie. Heinz was blykbaar vanaand twee keer hier, voor dooimansdeur. Hy vra dat sy hom bel, onmiddellik ná sy by die huis gekom het. Nou het Mynie nóg ’n stryd te stry, nóg ’n versoeking om te weerstaan. Sy gaan Heinz du Preez nie bel nie, besluit sy vas. Of … of gaan sy? Nee, sy gaan beslis nie.
Sê nou hy is siek of daar is dalk iets verkeerd? wonder Mynie. Hoekom vra hy sy moet hom bel sodra sy by die woonstel gekom het?
Was Heinz al ooit siek sedert sy hom ken? stry sy met haarself. Hoekom sal hy juis vanaand iets makeer? En hy kan nie sodanig siek wees as hy gesond genoeg was om twee keer vanaand hier by die woonstel te kom klop nie.
Tog, as hy twee keer gekom het, was dit dalk dringend … Hy sou ook nie om dowe neute hierdie nota gelaat het nie. Heinz is nie ’n sieklike ou nie, maar daar kon iets met hom gebeur het. En toe kom soek hy hulp, en toe is sy nie hier nie … Wie weet, dalk het hy die blondine afgesê. Dalk het hy besluit Mynie Cronjé is die een wat hy werklik liefhet. Hy wil miskien verduidelik hoe dit gekom het dat hy saam met die blondine op die lughawe gesien is. Soos Elma gesê het, moes sy Heinz in alle regverdigheid daardie Saterdagoggend kans gegee het om sy saak te stel. Dit mag wees dat dit alles ’n groot misverstand is.
Terwyl sy die saak uitredeneer, wring sy haar hande inmekaar. Haar verstand probeer logies bly, maar haar bene dwing haar na die telefoon toe.
“Ek gaan hom nie bel nie,” sê Mynie nog vir oulaas voordat sy Heinz se nommer skakel.
Op die tiende lui word die telefoon in Heinz se studeerkamer beantwoord. Dis ’n vreemde stem, effens hees en uitasem, maar beslis vroulik. Mynie los die spreekbuis asof dit rooiwarm is.
“Gee vir my,” hoor sy Heinz se stem sê voor die telefoon kletterend langs Mynie se voete val. “Hallo? Hallo …! Mynie, is dit jy? Deksels, ek het gesê ék wil die telefoon beantwoord. Ek het jou gesê die oproep sal vir my …” Verder hoor Mynie nie. Sy het die spreekbuis op die mikkie teruggeplaas en die verbinding verbreek.
Sy sit ’n lang ruk roerloos. Dan pluk sy die telefoonprop uit die muur en gooi dit so hard as wat sy kan na die oorkantste muur. Gelukkig beland dit op die bank in die sitkamer waar dit teen die kussings bly lê om haar aan daardie effens hees en uitasem vrouestem te herinner. Annette Basson s’n?
Daardie Saterdagoggend toe Heinz weg is, het Mynie haar siek gehuil. Nou, egter, hier waar sy by die telefoontafeltjie sit, is daar geen trane nie. Net ’n ysige woede jeens Heinz du Preez en daardie vroumens en haarself, omdat sy swak genoeg was om aan die versoeking toe te gee. Sy het nou vir die heel laaste keer haar les geleer. In die toekoms kan Heinz maar dringende notas en briefies en boodskappe laat. Sy sal nie daarop reageer nie. Sy sal hulle stukkend skeur en nie weer aanmekaarlas nie. Nooit weer nie!
’n Seer gedagte bly in haar binneste maal. Was dit Heinz se manier om dit finaal aan haar tuis te bring dat hy ’n ander nooi het? Het hy dit spesiaal so beplan dat sy skakel en dat Annette die telefoon beantwoord? Ja, besluit Mynie, Heinz du Preez is gemeen genoeg om so iets te doen. Daardie kastige viesheid dat hý die oproep wou neem en dat hy Annette gewaarsku het die oproep sal vir hóm wees, was niks anders as toneelspel nie. Nie tevrede daarmee dat Mynie slegs ’n buitestander se woord daarvoor het nie, wou Heinz dat Mynie self uitvind Annette Basson is alleen by hom in sy woonstel sodat dit haar van die bestaan van ’n ander nooi kan oortuig. Asof sy nog getwyfel het!
Mynie storm die gang af, soek die stuk vetkryt, voeg nóg ’n uitroepteken teen die muur by en onderstreep die woordjie haat met ’n dik swart streep. Toe gaan bad sy, klim in die bed en dwing haarself om aan arme tant Dollie Visagie se nare ondervinding met die vertroueswendelaar te dink. Ook aan die lekker kos wat hulle op die lughawe geëet het en waarvoor oom Pieter moes betaal. En aan môre se toets wat die standerd 9A’s skryf en aan haar nasienwerk wat lê en wag. Sy dwing haar om aan allerhande ander dinge te dink, behalwe aan Heinz du Preez en daardie blondine wat saam met hom in sy woonstel is. Daaraan wil sy nie dink nie. Sy wil nooit weer aan Heinz dink nie. Sy is klaar met hom. Sy haat hom en sy wil hom nooit weer sien nie. As sy in ’n ganse leeftyd nie weer met hom te doen kry nie, sal dit te gou wees.
Mynie gaan gereeld kerk toe en sy weet dis verkeerd om bygelowig te wees. Maar sy kan haarself nie rehabiliteer nie. Sy loop nie onder lere deur nie, vermy dat haar pad met dié van ’n swart kat kruis en glo daar gaan kuiermense opdaag as haar regteroog spring. Ook glo sy dat dinge in drievoud gebeur. Toe sy Heinz se nota gekry het, en die volgende dag ’n skriftelike klagte van ’n ouer dat sy te hardhandig met sy bloedjie gewerk het, weet sy dat sy nóg ’n brief te wagte kan wees.
Toe daar dus die volgende middag ’n ligblou koevert in haar posbus lê, is Mynie nie verbaas nie. Afgesien van die bygeloof, glo sy ook dat sy oor ’n sesde sintuig beskik. Haar voorgevoel sê vir haar dat hierdie brief van Wewenaar kom. Sy bekyk die posstempel, sien dat dit van Johannesburg is, beskou die handskrif en besluit dat sy daarvan hou.
Saam met die brief is daar ’n paar rekeninge. Mynie maak hulle eers oop, trek ’n suur gesig oor die tandarts se bedrag wat hoër is as wat sy verwag het en gaan skink dan vir haar ’n koppie tee in voordat sy met die ligblou brief in die sitkamer gaan sit.
Dit word haar egter nie gegun om in vrede haar brief te lees nie. Net toe sy die koevert oopskeur, is daar ’n klop aan die voordeur.
Seker weer iemand wat iets verkoop, besluit Mynie. Sy stap deur toe om te sê dat sy reeds tien stelle ensiklopedieë besit, asook al die borsels, besems, matskoonmakers en onfeilbare vlekverwyderaars wat sy in haar dag des lewens kan opgebruik.
Maar dis nie ’n verkoopsman nie. Ook nie ’n versekeringsagent nie. Dis Heinz du Preez. ’n Heinz du Preez wat nie baie vriendelik lyk en Mynie nie kans gee om die voordeur toe te druk nie. Hy is vinniger as sy. Hy druk ’n voet tussen die deur en die kosyn in.
“Was dit jy wat gisteraand gebel het?”
Mynie stoot haar skouers agteroor en lig haar ken parmantig.
“Wat as dit was?”
“Ek het gedag dis jy, maar toe ek direk daarna hierheen bel, was daar nie antwoord nie.”
“Ek het die telefoon uitgeprop.”
“Na ’n uur se gesukkel om deur te kom, het ek besluit om te ry en self te kom kyk wat met jou aan die gang is. Het jy gehoor toe ek klop?”
“Nee.”
Heinz is skepties. “Niemand kan so vas slaap dat hy nie hoor as die voordeur amper afgebreek word nie. Ek het seker tien keer geklop. Het jy niks gehoor nie?”
“Nee.” Mynie sê nie dat sy ’n uur lank slapeloos in die bed rondgerol en oplaas ’n slaappil gedrink het nie. Sy gun Heinz nie die bevrediging om te weet dat sy ontsteld was en nie aan die slaap kon raak nie.
Heinz laat hom nie deur die koel ontvangs en kortaf antwoorde van stryk bring nie. Hy wikkel sy voet om die deur, stoot dit wyer oop en stap die woonstel binne.
Mynie het dit onwaardig geag om haar teen die indringing te verset. Heinz is frisgebou en sy skouers is breed. Sy sou die stoeiwedstryd teen hom en die deur verloor het.
“Ek kan nie onthou dat ek jou binnegenooi het nie,” sê sy kil. Sy wonder wat sou gebeur het as sy nie haastig opsy gestaan het nie. Heinz sou seker soos ’n stoomenjin dwarsoor haar gestorm het.
“Dit maak nie saak of ek ’n uitnodiging gehad het of nie. Dis hoog tyd dat ons praat. Ons sal dit nie regkry as jy aanhou deure toesluit en toeklap en telefone uitprop nie. Kom sit in die sitkamer, vroumens, en luister na wat ek te sê het.”
Mynie bly roerloos in die ingangsportaal staan.
“Ek het daardie Saterdagoggend gesê jy moet uit my woonstel padgee. Ek sê dit nou weer. Hou op om jou geselskap aan my op te dwing. Is jy so dikvellig dat dit nog nie tot jou deurgedring het dat ek niks meer met jou te doen wil hê nie?”
“Ek moet doof en blind wees as ek nog nie die boodskap gekry het nie. Ek erken dat ek my daardie Saterdagoggend soos ’n buffel gedra het. Ek vra om verskoning.”
“Goed, as dit jou tevrede sal stel, ek aanvaar jou verskoning. Sal jy nou padgee?”
“Dis nie al rede waarom ek gekom het nie. Ek is skaam om dit te sê, maar die eerste paar dae was ek te woedend omdat jy my nie vertrou het nie, om veel te wonder oor hoe die misverstand kon ingesluip het. Dis hoekom ek nie weer gebel het nie, nie kom kuier het en nie ons afspraak die volgende Saterdagaand nagekom het nie. Omdat ek bitter kwaad vir jou was … dat jy ’n buitestander se woord bo myne geneem het. Toe ek egter afgekoel het, was ek in staat om die saak logies te beredeneer.”
“En jy het tot ’n aardskuddende ontdekking gekom?”
Heinz ignoreer die sarkasme in Mynie se stem.
“Ja, ek het. Ek het mooi oor alles nagedink waarvan jy my beskuldig het, en ek weet nou presies wat gebeur het. Dit was nie Annette Basson wat ek gesoen het nie. Dit was my suster.”
“Dit was nie Annette Basson wat jy gesoen het nie, maar jou suster,” herhaal Mynie sy woorde werktuiglik, dog dit maak geen sin nie.
“Eerlikwaar, dit was my suster,” sê Heinz pleitend.
“Jou suster wat jy in jou arms geneem, omhels en vurig gesoen het?” Nou eers dring dit tot Mynie deur wat Heinz pas gesê het. Daar is ongeloof op haar gesig te lees. “Verwag jy dat ek jou moet glo? Jou eie suster oor wie se hare jy gestreel het en jou arm om haar lyf gesit het?”
“Ja. My suster het …”
“Was dit nie dalk jou niggie nie?” val Mynie hom sarkasties in die rede. “Daardie storie van die niggie of suster is net so afgesaag soos die grap van die matroos wat die filmster genooi het om na sy etse te gaan kyk. Liewe land, Heinz, jy onderskat my intelligensie. Jou suster … Dink jy ek is so naïef om dit te glo? Loop, asseblief, voor ek my humeur verloor en jou sê wat ek van jou leuens dink.”
“Mynie, dit was regtig my suster,” sê Heinz desperaat. “Ek het jou mos al van Karen vertel. Sy is twee jaar jonger as ek en …”
“… en woon in Zürich. Lekker gerieflik ver. Te ver dat sy van die stories te hore sal kom wat jy oor haar loop en vertel. Omhels jou eie suster … Gaan jy met haar trou? Jy kan nie ’n danige prokureur en regsgeleerde wees as jy nie weet daar is ’n wet wat dit verbied nie.”
Heinz is spierwit in die gesig. ’n Spiertjie pluk-pluk aan sy mondhoek. Hierdie is die moedswilligste vroumens wat hy nog in sy hele lewe teëgekom het. Hy is lus en kry Mynie Cronjé aan die skouers beet en skud haar. Heinz weet egter daar het reeds te veel humeure opgevlam. Dis nie nou die tyd om weer kwaad te word nie. Hy moet kalm bly en hierdie nooientjie versigtig hanteer. Hulle moet soos twee volwassenes in die sitkamer gaan sit en die kwessie kalm uitpraat.
Mynie sien hoe Heinz se gebalde vuiste stadig ontspan. Hy haal ’n paar keer diep asem om sy verlore kalmte te herwin, dan glimlag hy skeef terwyl hy ’n pleitende hand op haar arm lê.
“Moenie aan my raak nie! Bêre jou liefkosings vir jou kamstige suster. Wat is haar naam? Annette Basson? Gaan jy my wysmaak daardie witkop is jou halfsuster, of jou stiefsuster of so iets?”
“Mynie, ek …”
“Los my arm!”
Heinz verstewig sy greep om Mynie se gewrig, maar sy trap vas en rem met alle mag agteruit.
“As jy my nie los nie, skree ek! Ek het laas ook so gedreig. Hierdie keer voer ek my dreigement uit.”
Heinz druk vinnig ’n soentjie op Mynie se pols. Hy neem haar ander hand ook in syne en probeer haar saggies nader trek.
Heinz se bedoeling was om Mynie in die sitkamer te kry, in ’n stoel te laat sit en te pleit dat sy hom kans gee om te verduidelik wat daardie aand op die lughawe gebeur het.
Mynie verstaan sy bedoeling egter verkeerd. Sy dink Heinz maak gereed om haar te soen. Sy probeer losruk, maar hy is te sterk vir haar. Nog steeds dwing hy haar nader.
“Heinz, ek waarsku jou …!”
“My skat, hou op om in trurat te rem. Al wat ek wil doen, is …”
Mynie maak haar mond oop en skree so hard en deurdringend as wat sy kan.