Читать книгу Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman - Страница 7

4

Оглавление

Ou oom Koos Pretorius draai sy kop skuins en hou sy hand bak agter sy oor. Hy het sy gehoorapparaatjie afgehaal toe hy nou-nou ingedut het.

“Bokkie, hoor jy iets?” vra hy vir sy vrou.

Tant Bokkie is besig om haar geliefkoosde radiovervolgverhaal te luister. Sy skud haar kop en beduie oom Koos moenie so hard praat nie.

“Dit klink na ’n meisiekind wat skree, Bokkie.”

“Dis seker kinders wat lawaai, Koos.”

“Kwaai? Ja, dit was ’n kwaai geskree. Ek dink ek moet gaan kyk of iemand nie dalk besig is om die meisiekind te vermoor nie.”

“Ag, Koos, kry tog jou rus.”

Maar oom Koos het vanmiddag tussen twee- en drie-uur genoeg gerus toe hy ingedut het. Nou is hy bekommerd oor daardie arme meisiekind wat so benoud geskree het dat selfs hý dit kon hoor. Hy draf slaapkamer toe, kry sy gaspistool en maak die voordeur oop.

“Help! ” gil Mynie weer.

Oom Koos huiwer nie. Dit kom uit die woonstel reg oorkant syne en Bokkie s’n, waar daardie mooi onderwyseressie alleen woon.

Heinz het nie lank geduldig gebly nie. Toe Mynie die eerste verspotte gil gegee het, het hy die woonstel se voordeur haastig toegeklap en nou probeer hy haar stil kry. Hy skrik toe die deur skielik agter hom oopgaan en ’n bewerige stem sê: “Hensop!”

As dit in ander omstandighede was, as sy nie so woedend was vir Heinz wat haar met brute krag wou dwing om iets teen haar sin te doen nie, sou Mynie gelag het vir die spektakel van ou oom Koos Pretorius – slaapmus nog op die kop en pistool in die hand terwyl hy die toneel met groot oë gadeslaan.

Heinz is nog veel minder geamuseer as Mynie. Hy kyk vererg na die ou oom en wend geen poging aan om Mynie se arm te los nie.

Die pistool word ’n paar sentimeter gelig sodat die loop na ’n kolletjie in die middel van Heinz se voorkop gemik is.

“Ek het gesê hande in die lug!” beveel die krakerige oumanstemmetjie.

“Dankie vir u bereidwilligheid om mejuffrou Cronjé te hulp te kom, meneer,” sê Heinz kortaf. “U verkeer egter onder ’n misverstand. Ek is haar vriend en …”

“Hy is nie my vriend nie! ”

“… en ek was nie besig om haar aan te rand nie.”

Oom Koos kyk aarselend na die onderwyseressie, maar die pistool word nie laat sak nie.

“Juffroutjie …?”

“Asseblief, dreig oom sal hom skiet as hy nie loop nie,” sê Mynie. “Hy is ’n groot boelie. Hy het teen my sin die woonsteldeur oopgedwing en nou maak hy my arm seer.”

“Ek kan nie hoor nie …?” versoek oom Koos.

“Asseblief, oom, ek weet nie wie u is en waar u woon nie, maar ek verseker u juffrou Cronjé het nie u hulp nodig nie,” sê Heinz ergerlik. “Sit daardie pistool neer. Netnou gaan dit per ongeluk af.”

Heinz het agtergekom die ou oom is effe doof. Hy beduie na die pistool, dog die ou man ruk dit vinnig buite sy bereik.

“O nee, kêrel, so maklik laat ek my nie vang nie. Juffroutjie, ek sal hom dek, dan gaan bel jy die polisie.”

Mynie het op ’n ingewing aan die skree gegaan. Sy het nie gedink iemand sal haar hoor nie en sy wil nie dat die polisie betrek word nie. Maar sy wil ook nie arme oom Pretorius se gevoelens seermaak nie. Sy staan en prakseer hoe om uit die netelige situasie te kom, maar gelukkig word sy ’n antwoord gespaar toe tant Bokkie, mevrou Havemann en nog twee ou tannies by die voordeur instorm, gewapen met besems en verestoffers. Die woonstelopsigster herken Heinz en wil nog keer, maar tant Lettie is net so impulsief soos Mynie. Sy bestorm Heinz en gee hom ’n paar houe oor die kop met die verestoffer.

“Uit! ” roep sy in ’n skril stemmetjie.

“Ja, uit!” eggo oom Koos en sy wysvinger krul wit om die pistool se sneller.

Heinz het Mynie se arm gelos om vir sy kop te keer. Hy staan hulpeloos terwyl die houe oor sy voorarms en skouers reën. Hy probeer ’n woord inkry, maar die drie ou tannies se skril stemme is oordonderend.

“Nogal helder oordag!” roep tant Sus uit. “Slaat hom, Lettie!”

“Hoekom skiet jy nie, Koos? Bel die polisie!”

“Lettie, wag,” probeer mevrou Havemann tevergeefs. “Hy is nie ’n inbreker nie …”

“Ons moet nog hulp kry, Sus! Hang by die venster uit en skree!”

Heinz kyk hulpsoekend na Mynie. Miskien sal hierdie klomp spreeus en hierdie klein viswyf na háár luister … Dog Heinz kan sy oë nie glo toe hy sien dat Mynie sowaar dik van die lag is en sy verleentheid geniet nie. Vir die arme Heinz is dit net mooi die laaste strooi. Sy geduld is opgebruik. Hy gryp die verestoffer uit tant Lettie se hand, breek dit in twee stukke oor sy knie, gee Mynie ’n vernietigende kyk en storm by die voordeur uit.

“Gou, sluit die deur agter hom toe!” beveel tant Sus Maasdorp. “Vuur ’n skoot in die lug agter hom aan, Koos!”

Mynie kan haar nie langer bedwing nie. Sy sak op die naaste stoel neer en gaan onbedaarlik aan die giggel.

“Foei tog, arme kind … Dis die skok,” sê tant Lettie. “Ek gaan gou vir haar iets haal om te help.”

Heinz se gesig toe die ou tante hom met die verestoffer bygedam het … Mynie kan nie ophou lag nie en druk haar hande voor haar mond.

“Hierso, my kind, dit sal jou kalmeer.” Tant Lettie hou ’n glas suikerwater voor Mynie. “Dis goed dat ek nie die draadloos aangehad het nie, anders sou ons jou nie hoor skree het nie.” Sy kyk bewonderend na oom Koos. “Jy was darem baie dapper, Koos. Bokkie sê jy het doodsveragtend die gang afgestorm met net ’n pistool om jou mee te verweer.”

“Die weer?” vra oom Koos vaag. Hy loer deur die venster. “Dit lyk na reën, ja …”

“Verweer, Koos!” herhaal tant Bokkie. Sy kyk verskonend na die ander mense. “Hy het weer vergeet om sy gehoorapparaat aan te sit. Die pienk bosluisie lê nog op sy bedkassie.”

Nadat Mynie die suikerwater gedrink het, het sy haar lagspiere beter onder beheer. Sy durf egter nie aan die verontwaardigde uitdrukking op Heinz se gesig dink terwyl tant Lettie hom toegetakel het nie, anders bars sy weer uit van die lag en sy wil nie hierdie klompie mense se avontuur vir hulle bederf nie. Dit was baie moedig van hulle om haar te kom help. Vir al wat tant Lettie-hulle geweet het, was hier regtig ’n gevaarlike inbreker of misdadiger in die woonstel. Die minste wat sy kan doen om hulle te beloon, is om waarderend te wees en voor te gee hulle het haar gered.

“Hoe voel jy nou, my kind?” vra tant Sus simpatiek.

“Beter dankie, tante,” antwoord Mynie ernstig. “Baie dankie dat u almal my kom help het. Ek waardeer dit.”

“Jy kon morsdood gewees het, my kind.”

“Dis reg, tante. ’n Mens is jou lewe nie meer seker in Johannesburg nie.”

“My volgende storie begin oor vyf minute,” sê tant Bokkie. “Voel jy sterk genoeg, kindjie, of wil jy by my en oom Koos kom bly?”

“Nee, ek voel nou baie beter, tante. Daardie suikerwater het gehelp.”

“Jy moet nogtans jou deure en vensters toe hou, my kind.”

“Ek sal.”

“En het jy self ’n besem of ’n verestoffer?” verneem tant Lettie. “Indien die skurk dalk terugkom?”

“Ja, ek het. Maar ek dink hy het te groot geskrik, tante. Hy sal my nie weer kom lastig val nie. Ek sal vir u ’n nuwe verestoffer koop om hierdie stukkende een te vervang. Dis my skuld dat dit gebreek het.”

“My storie …” Tant Bokkie staan deur se kant toe. “Dit begin oor drie minute.”

Hierdie keer hoor oom Koos wat daar gesê word.

“Vergeet jou ou vrystories, Bok. Vanmiddag se dinge was baie beter as enige ou storie oor die draadloos. Dit was alles net te gou verby …” Hy kyk effens vies na tant Lettie. “Jy moes hom nie so hard geslaan het nie, Lettie. Dit het hom op die vlug laat slaan en ek wou hom graag geskiet het.”

Mynie het eers vir almal koffie gemaak en al die vrae en gissings so ontwykend as wat sy kon beantwoord. Toe hulle uiteindelik weg is en die woonstel weer rustig is, gaan sy met haar ligblou brief in ’n leunstoel sit. Hierdie keer sal daar seker nie weer onderbrekings wees nie …

Die handskrif binne-in is nie so netjies soos op die koevert nie, maar Mynie laat haar nie daardeur afsit nie. Sy skop haar skoene uit, krul haar bene onder haar in en begin lees.

Liewe Geesgenoot

Ja, ek noem jou ook so omdat ek met jou saamstem. Uit jou brief het ek jou goed leer ken. Ek voel ook aan dat ons twee geesgenote is. Baie dankie dat jy aan my geskryf het, Maryna. Dit was die interessantste inkomstebelastingvorm wat ek nog ooit gelees het. Dis jammer jy het nie ’n foto ingesluit nie. Ek is seker jy is net so mooi soos jou handskrif.

Nee, ek reken nie 23 is te jonk vir my nie. Mag ek op my beurt sê dat ek ’n baie jong 40 is? My kop is nog nie kaal nie en my hare ook nie grys nie. Dis blond, en ek het blou oë. My figuur is hopelik nog dieselfde as ’n hele paar jaar gelede. Die seilbroek waarmee ek in die tuin werk, het ek gekry toe ek ’n eerstejaar op universiteit was. Dit pas nog piekfyn. Ek skrik ook nie vir onderwyseresse nie. Miskien omdat ek nie ’n stout klein seuntjie op skool was nie.

Glo dit as jy wil, ons stokperdjies is identies en spaghetti is ook my gunstelinggereg. Ek sien uit na al daardie maniere waarop jy dit kan opdis. Moontlik kan ek jou ’n nuwe resep byleer. My vrou het my nege jaar gelede ontval en ook ek moes noodgedwonge leer om in ’n kombuis te bak en brou. Ek het gaandeweg geleer om van koskook te hou. Dit neem egter baie van my vrye tyd in beslag en laat nie genoeg tyd vir skilderkuns nie. Ek het reeds een uitstalling gehou, maar nie veel doeke verkoop nie. Miskien omdat ek nog ’n jong en onbekende kunstenaar is. Nou is ek besig aan nog ’n tiental skilderye – met die hoop dat my jongste werke meer diepte sal hê. Hoe lyk dit, sal ek en jy nie ’n volgende keer saam uitstal nie?

Jy het gesê ek kom eerlik en opreg voor. Dis wat ek altyd probeer wees. Daarom wil ek reguit sê dat ek welgesteld is. Nie om te spog nie. Net sodat jy nie dink ek stel in jou erfporsie belang of is net agter jou geld aan nie. Ek het ’n klompie geld op vaste belegging. My huis is klaar betaal en ek ry met ’n Mercedes – verlede jaar se model. Ongelukkig nie blou nie, maar roomwit.

Wil jy meer omtrent my weet? Ek verjaar op 22 Januarie. (Sal ’n Kreef en ’n Waterdraer goeie pasmaats wees?) Julie Andrews is my gunsteling-filmster. Sy is fyn en vroulik en dis vir my belangrike eienskappe. Ek word nie gou kwaad nie en ek rook, maar gebruik nie sterk drank nie. Ek is ’n prokureur. Ek lees graag, hoewel nie outobiografieë nie. Sommer skop-skiet-en-hoogspringboeke. Miskien kan jy my letterkundige smaak opvoed.

En nou kom ek seker by die werklike rede vir my brief … Moet asseblief nie dink ek is voorbarig nie, Maryna. Maar stem jy nie saam dat ’n mens slegs met iemand korrespondeer as die persoon ver van jou af woon nie? Ons bly albei in Johannesburg en ek sou jou graag wou ontmoet. Ek is baie eensaam en ek het gehoop ons kan dalk saam na ’n toneelopvoering gaan kyk of saam gaan eet. As jy dink ek is vrypostig, vra ek om verskoning. Dit was nie my bedoeling nie.

Nou ja, wat is daar verder te sê as jy die meisie uitgevra het en dalk ’n bloutjie geloop het? Ek sluit af met die hoop dat ek binnekort weer van jou sal hoor.

Opregte groete

Conrad Duvenhage

N.S. Ek hou van sproete en ek ken ’n heerlike resep vir pampoenkoekies wat jou mond sal laat water.

Dis ’n oulike brief, besluit Mynie. Nie te veel tierlantyntjies nie, hier en daar grappig, plek-plek ernstig en met ’n gesellige en opregte toon. Hy het nie ’n foto gestuur nie, maar Mynie hou van sy naam. Conrad Duvenhage … Daar is ’n mooi klank aan. Nogal romanties. Dit skep die indruk van ’n manlike ou en dis stukke beter as Wewenaar. Al waarvan Mynie nie hou nie, is die feit dat hy ook ’n prokureur is. Dit herinner haar te veel aan Heinz. Maar dis seker nie belangrik nie, want Heinz is besig met sy LLB-graad en sal binnekort advokaat wees.

En dis jammer Conrad hou ook van blou. Toe Mynie die brief geskryf het, was sy nog effens in twyfel oor Heinz. Maar sedertdien het sy ’n hewige antipatie jeens Heinz du Preez se geliefkoosde kleur ontwikkel. As sy kon, sou Mynie in haar skilderye die blou lug en veraf berge pienk of pers of rooi of geel geverf het. Sy wonder oor Conrad Duvenhage se styl. Te oordeel na sy handskrif en benadering van die lewe, lyk dit of hy realisties sal skilder. Daar is egter ook genoeg krulletjies aan sy hoofletters dat hy na impressionisme kan neig.

Mynie is nie seker hoe sy die uitnodiging om saam te gaan eet of na ’n toneelopvoering te gaan kyk, moet vertolk nie. Sy glo nie dit was vrypostig van Conrad nie. Sy advertensie in Profiel het gesê hy is eensaam en verstote. Dit het gesuggereer dat hy ’n penmaat soek – met die oog op ’n ontmoeting. En hulle is immers albei in Johannesburg. Dit sal verspot wees om dalk jare te korrespondeer en mekaar nooit te ontmoet nie. Of miskien by mekaar op ’n sypaadjie verby te loop en nie te weet dis jou penmaat wat jy so goed leer ken het uit sy briewe nie … Nee, besluit Mynie weer, dit is beslis nie voorbarig van hom nie. Liewe land, hulle is mos nie meer kinders nie. Hy is ’n wewenaar en sy ’n meisie wat die letsel van ’n liefdesteleurstelling dra. Dit was eerlik en reguit van Conrad. Hy wil haar graag ontmoet en hy vra of dit moontlik is. Dis nie vrypostig of voor op die wa nie.

Mynie maak ’n lys van die dinge wat in Conrad Duvenhage se guns tel: Hy voel ook aan hulle is geesgenote en hy sê sy het ’n mooi handskrif. Hy het blonde hare, blou oë en die figuur van ’n jong ou. Hy hou ook van spaghetti en skilder ook. Hy drink nie, maar hou van lees, tennis en koskook. Hy het ’n romantiese naam en van en is eerlik, opreg en betroubaar. En hy het ’n sin vir humor.

Dan soek Mynie na items om aan die debietkant van die balansstaat te skryf. Al wat sy kry, is die feit dat hy ’n prokureur is en van blou hou. En dalk te ryk is … Miskien dink hy sy is net agter sý geld aan as sy die brief beantwoord.

Mynie staan op en stap na die hoek van die sitkamer. Terwyl sy haar lessenaar se laai ooptrek om ’n pen, skryfpapier en ’n koevert uit te haal, sê sy vir haarself: “In sy advertensie het nie gestaan dat hy welgesteld is nie, nogtans het ek aan hom geskryf, dus kan hy nie dink ek soek ’n ryk man nie. Ek het mos in elk geval redelik baie geld. Gelukkig het ek dit in my eerste brief gemeld; so, hy kan nie agterdogtig wees nie.”

Conrad het met Liewe Geesgenoot begin. Mynie stem saam dis meer persoonlik as Beste Geesgenoot. Sy skryf haar adres boaan die bladsy en net toe sy die hoofletter L maak, is daar ’n klop aan haar voordeur. Mynie is nie van plan om haar weer so maklik te laat fop nie. Hierdie keer sleep sy eers een van die eetkamerstoele nader om deur die boluik te loer voor sy die deur oopmaak. Sy kyk af op ’n netjiese grys bolla, ’n paar smal skouertjies en twee blink skoenpunte.

“Dis reg, my kind,” knik tant Lettie toe sy die beweging deur die boluik gewaar. “Maak eers seker wie dit is. Moenie jou deur vir elke Jan Rap en sy maat oopmaak nie. Ek kom net hoor of jy nog veilig is.”

“Ek is, tante. Dankie vir die belangstelling.”

“En ek kom net sê ’n houtlepel werk net so goed.”

“Waarvoor, tant Lettie?” terg Mynie. “Om brooddeeg mee aan te maak?”

“Nee, kindjie. Om onwelkome vryers mee oor die kop te slaan. Ek het dit baiekeer in my jongdae gebruik. As jy nie ’n verestoffer of ’n besem gou genoeg kan bykom nie, sal ’n houtlepel ook deug.”

“Dis goed, tante,” lag Mynie. “Ek sal dit onthou.” Sy giggel opnuut toe sy daaraan dink wat Heinz se reaksie sal wees as sy hom met ’n houtlepel bydam. Dan versomber haar gesig opeens. Hy sal nie weer kom kuier nie, maar sy weet wat hy sou doen: die houtlepel by haar afneem, haar oor sy skoot trek en haar ’n pak slae daarmee gee.

“Nou goed, my kind, dan moet ek maar weer gaan …”

“Wou tant Lettie nie ingekom het nie?”

“Dankie, my kind, maar ek het hekelwerk vir die kerkbasaar om klaar te maak. Gaan jy vanaand uit?”

“Nee. Ek het ’n baie belangrike brief om te skryf.”

Tant Lettie se waterige, fletsblou ogies blink en sy vra skalks: “Aan ’n kêreltjie?”

“Op die oomblik nog nie,” antwoord Mynie blosend. “Maar ek hoop hy en ek word dalk goeie vriende in die toekoms.”

“Geniet dan maar die skryf van jou liefdesbrief. Roep as jy dalk vanaand weer hulp nodig het. Ek sal dadelik kom, my kind.”

“Dankie, tante,” sê Mynie. “Al speel ek gereeld tennis en al is ek ’n professionele latswaaier van beroep, slaan tante ’n baie harder verestoffer-hou as ek. Ek sal roep as tant Lettie weer moet kom help.”

Terwyl Mynie vir Conrad skryf dat sy bly is hy gee nie om oor die sproete nie, dat sy ’n heerlike resep vir pampoenkoekies ken en hom verseker hy is nie vrypostig nie, en byvoeg dat sy hóm ook graag sal wil ontmoet, sit sersant As van Staden met sy hande in sy hare agter sy lessenaar by die polisiestasie in die middestad van Johannesburg. Hy was besig om ’n motorongeluk op te volg, toe sy bevelvoerende offisier hom van die saak onttrek het om hierdie nuwe reeks misdade te ondersoek wat in Johannesburg kop uitgesteek het.

Die jongste is ’n geval van ’n sestigjarige oujongnooi wat van twintig rand beroof is. ’n Man het haar in die straat voorgekeer, gesê hy is op pad bank toe, maar dat hy merk sy tyd by die parkeermeter is verstreke. Ongelukkig het hy nie kleingeld nie en hy is bang vir ’n parkeerboete. Kan sy hom asseblief kleingeld leen? Die bank is nie ver nie. Hy sal gou terug wees. As sy ’n paar minute sal wag, sal hy haar geld nou-nou bring. Die jong man het ’n innemende glimlag gehad en die oujongnooi ’n vrygewige geaardheid. Sy het aangebied dat hy die geld met haar komplimente kan kry. Die probleem was egter dat ook sý nie kleingeld gehad het nie. Die enigste was ’n twintigrandnoot. Dit het die man nie afgeskrik nie. Hy het aangebied om dit gou by die kafee om die hoek te gaan kleinmaak. Nodeloos om te sê: die oujongnooi het tevergeefs gewag. Die gawe jong man het nie teruggekom nie. Na ’n lang gewag het sy die saak by die polisie aangemeld.

“Boereverneukery,” brom die sersant. Hy brom nog verder oor onoplettende lede van die publiek wat helder oordag beroof is, dog glad nie kan onthou hoe die dief gelyk het nie.

Ettie Bierman Keur 12

Подняться наверх