Читать книгу Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman - Страница 4
1
ОглавлениеMynie staan al ’n halfuur by die sitkamervenster, half verskuil agter die gordyne. Toe sy die rooi motor net na tienuur voor die ingang van die woonstelgebou sien stilhou, hardloop sy voordeur toe om seker te maak dis nog gesluit. Dan gaan sit sy by die eetkamertafel, haar hande krampagtig op haar skoot geklem en haar ore gespits vir daardie oorbekende voetstappe in die gang.
Heinz kan nie verstaan waarom Mynie nie die deur oopmaak nie. Hy klop weer, hierdie keer harder, ingeval sy die eerste maal nie gehoor het nie. Of het sy dalk van hulle afspraak vergeet en is sy nie tuis nie?
Mynie bly roerloos sit. Toe hy na haar roep en ’n derde keer aan die voordeur hamer, is sy baie lus en gryp ’n blompot en gooi dit flenters teen die deur. Miskien sal Heinz du Preez dán die boodskap kry dat sy wel hier is, maar hom nie wil sien nie.
“Mynie!” Die voordeurknop ratel toe Heinz daaraan draai.
Dis amper meer as wat Mynie kan verduur – om sy stem te hoor en Heinz du Preez nie te kan vertel presies wat sy van hom dink nie. Gemene, agterbakse, ontroue, gewetenlose vent met sy vroom praatjies van liefde!
“Mynie?”
Sy is bang die versoeking word te groot. Sy wil wegvlug slaapkamer toe, maar sy het die sleutel uit die slot gehaal sodat dit moet lyk asof sy uit is. Na wat sy gisteraand by haar beste vriendin gehoor het, weet sy Heinz is die soort man wat deur sleutelgate sal loer en sy is bang hy sien haar as sy in die gang af vlug.
Na omtrent tien minute – wat vir Mynie soos tien jaar gevoel het – klink dit asof die breedgeskouerde jong man in die gang tou opgooi. Sy sug verlig toe Heinz omdraai en vinnig wegstap.
Mynie kom agter dat haar hande bewe. Sy wil opspring om deur die venster te gaan kyk of die rooi motor al weg is, maar haar knieë voel lam. Sy weet dit was lafhartig om agter ’n geslote deur weg te kruip. Al wat sy daarmee bereik het, was om ’n konfrontasie met Heinz uit te stel. Miskien moes sy dapper genoeg gewees het om hom in te wag en ’n verduideliking te eis, te vra of dit waar is dat hy in die geheim ’n ander nooi het. Maar sy is nog te geskok deur Heinz se agterbakse gedrag. Die wond is nog te rou en Mynie is te trots dat hy moet agterkom hoe diep hy haar gekwets het. Sy was bang sy begin huil as sy hom sien, en sy wou Heinz nie die bevrediging gee om te sien hoe bitter seer hy haar gemaak het nie. Ook is sy nog te kwaad vir hom en sy het haar gisteraand voorgeneem sy wil Heinz du Preez nooit weer sien nie. Om te dink hy was so vermetel om Donderdagaand nog by haar te kom kuier, haar in sy arms te neem en te sê hy het haar lief, te sê sy is die enigste vrou vir hom en te vra wanneer hulle twee verloof kan raak. En dat sy so naïef was om sy leuens en vroom praatjies te glo …
Hy moet ’n baie bedrywige program hê. Donderdagaand tot amper middernag by die een nooi, Vrydagaand op die lughawe in die arms van die ander een, in ’n vurige omhelsing, so hewig dat hoor en sien vergaan het en hy blykbaar nie eens besef het daar is ander mense om hulle wat die twee dolverliefdes nuuskierig aanstaar nie. Geen wonder hy kla soms dat hy moeg is nie. Dit moet uitputtend wees om twee voltydse nooiens gelukkig te hou. En ook geen wonder hy het soms die verskoning van agterstallige werk op kantoor gebruik nie. Dit was seker sodat hy ’n aand kon vry kry om te rus. Of was dit wanneer sy rooster gebots het, wanneer sy amoureuse bedrywighede oorvleuel het? Of wanneer hy ’n sekere aand skielik meer lus was vir die blondine se geselskap as die donkerkop s’n?
Mynie was netnou lus om ’n blompot te mik na waar Heinz se kop was. Nou is die begeerte weer daar. Al wat sy egter kan beetkry, is ’n kussing op een van die stoele en dié slinger sy met alle mag en geweld teen die voordeur. Dit laat haar egter nie beter voel nie. Elma het gesê die meisie is mooi: lank, slank, eksoties en beeldskoon. Nou wonder Mynie weer: wie is die blondine? ’n Meisie wat saam met Heinz by die prokureursfirma werk? Een van die tiksters? Of dalk sy nuwe sekretaresse?
As Heinz ’n ander meisie liefhet, hoekom is hy nie eerlik genoeg om dit te erken nie? dink Mynie verbitterd. Of geniet hy dit om ’n hele rits nooiens aan ’n lyntjie te hou? Wil hy sy brood aan albei kante gebotter hê? Elma het haar eintlik ’n guns bewys toe sy gisteraand vir Mynie vertel het dat sy haar kêrel in die arms van ’n ander meisie op die lughawe gesien het. Mynie is bly sy het Heinz se skelmstreke betyds uitgevind. Liewer nóú haar kop stamp, as om met ’n Don Juan getroud te wees en reeds op hulle wittebroodsvakansie agter te kom haar man gooi sy flikkers vir al wat rok dra.
Mynie ken Heinz du Preez reeds twee jaar. Sy het hom tot gisteraand nog lief genoeg gehad om met hom te trou en sy moes hom goed genoeg geken het om te weet hy sal nie so geredelik die aftog blaas nie. Ook moes sy besef het hy sal bekommerd raak as dit reeds halfelf is en sy nog steeds nie tuis is vir hulle tienuur-afspraak nie. Mynie moes daarop voorbereid gewees het dat hy die opsigster sou gaan haal het om die voordeur oop te sluit. Maar sy was nie. Sy het gedink Heinz is weg. Sy skrik haar yskoud toe sy meteens stemme en voetstappe in die gang hoor.
Die volgende oomblik knars ’n sleutel in die slot. Dis nie omdat Mynie skielik dapper geword het dat sy doodstil bly sit nie. Dis omdat sy nie kán beweeg nie. Sy wil vlug, maar is nie in staat om te roer nie en toe die voordeur oopswaai, besef sy dis in elk geval nou te laat om onder die tafel of die bed weg te kruip.
Mynie weet nie wie die grootste skok kry nie – sý, toe Heinz en mevrou Havemann haar woonstel binnestorm, of die ander twee, toe hulle Mynie Cronjé reg voor hulle, twee tree weg, by die eetkamertafel sien sit.
Heinz was baie bekommerd. Hy het homself allerhande dinge wysgemaak: dat Mynie moontlik in die bad duiselig kon geraak het, of op die seep gegly en met haar kop teen een van die krane geval het, of dalk siek is, of die strykyster aangeskakel vergeet het, of enigiets kon oorgekom het. Maar hy het nie verwag om haar doodluiters by die tafel aan te tref nie, blykbaar ongedeerd en met ’n blik in die groen oë wat hom viervoet laat vassteek. Wat is aan die gang? Hoekom kyk sy so snaaks na hom en hoekom wou sy nie die deur oopmaak toe hy netnou geklop het nie? Is sy dalk nie wel nie?
Mynie kom eerste tot verhaal. Dalk is daar vinniger adrenalien in haar bloedstroom ingepomp as in die ander twee s’n, of dalk is dit omdat sy woedend is oor hierdie ongemaklike situasie waarin Heinz haar laat beland het. Wat moet arme, verleë mevrou Havemann van haar dink?
“Loop!” beveel sy kil, met ’n vlugtige verskonende blik in die woonstelopsigster se rigting. “Jy het geen reg om my woonstel teen my sin binne te dring nie!”
Die beskuldiging betrap Heinz onkant. Hy weet nie wat aan die gang is en hoekom Mynie so kwaad is nie. Hoekom op aarde sit sy tjoepstil in die woonstel en weier om die deur oop te sluit?
“Mynie …?” aarsel hy fronsend.
Mynie is te ontstoke om te besef wat sy sê. “Gee pad uit my woonstel! As jy nie nou op die daad loop nie, Heinz, ontbied ek die polisie.”
Heinz verkies om die dreigement te ignoreer.
“Voel jy nie gesond nie?”
“Ek is siek, ja.”
Heinz kyk bekommerd na die twee rooi kolle op haar wange en ook Olga Havemann wonder of sy ’n geneesheer moet ontbied. Juffrou Cronjé lyk baie koorsig.
“Siek en sat vir jóú!” voeg Mynie uitdagend by. “Gaan jy uit eie vrye wil padgee, of moet jy met geweld hier uitgeboender word?”
“Mynie, ek aanvaar dat jy om die een of ander duistere rede vir my kwaad …”
“Duistere rede!” Mynie se stem is skril. “Dit behoort glashelder te wees hoekom ek jou nooit weer in my lewe wil sien nie.”
“… vir my kwaad is,” gaan Heinz kalm voort asof daar nie ’n onderbreking was nie. “Ek weet nie wat ek gedoen het nie, maar ek is seker ek kan verduidelik.”
“Ek stel nie in jou kamstige verduidelikings belang nie. Ook nie in verdere leuens nie. Ek wil niks meer met jou te doen hê nie.”
“Sê my net wat ek gedoen …”
“Heinz, as jy nie loop nie, kla ek jou van rusverstoring en oortreding op privaat eiendom aan.”
Heinz du Preez is nie van nature ’n geduldige man nie. Nou word sy verdraagsaamheid tot die uiterste beproef.
“As jy sal ophou om my elke keer in die rede te val, vroumens,” sê hy en ook hý begin nou kwaad word, “sal ek dalk in staat wees om met jou te praat en uit te vind wat oor jou lewer geloop het.”
“Ek stel nie daarin belang om met jou te praat nie. Mevrou Havemann, skakel die polisie en …” Mynie bly stil toe sy sien dat die opsigster dit blykbaar gerade geag het om hulle alleen te laat. “Heinz, as jy nie ophou om jou aan my op te dring nie, sal ek hard skree! Iemand sal hoor en my kom help.”
Heinz weet hy sal hom in ’n netelige posisie bevind as Mynie die daad by die woord voeg. Wie sal hom glo as hy probeer verduidelik dat die meisie sy nooi is en dat hy nie van plan was om haar aan te rand of iets nie?
Toe Mynie haar mond wyd oopmaak om te gil, steek Heinz haastig ’n paaiende hand na haar uit. “My liefste, wag …”
Toe die paar breë voorspelerskouers netnou in die deur verskyn het en Mynie in die pleitende grys oë gekyk het, was dit reeds byna te veel vir haar. Nou weet sy sy durf nie aan Heinz raak nie. Sy is bang haar hart vermurwe en sy begin huil en hou aan hom vas en smeek hy moet sê hy het haar nog lief en daardie ander meisie is nie belangrik nie en … Mynie ruk haar hand weg asof ’n slang haar gepik het.
“Moenie aan my raak nie!”
Heinz laat hom nie deur die hewige reaksie afskrik nie. Hy kom nog ’n tree nader en vir Mynie lyk dit asof hy regmaak om sy arm om haar skouers te sit. Sy vlieg kort om, hardloop kombuis toe, klap die deur hard agter haar toe en sluit dit. Heinz bly in die eetkamer staan, ’n beteuterde uitdrukking op sy gesig en sy arm nog half in die lug. Hy laat dit stadig sak en vee met die agterkant van sy hand oor sy oë.
Nóú sal hy seker besef sy is ernstig, dink Mynie terwyl sy met haar rug teen die deur bly leun en haar hande voor haar mond druk om die hygende snikke te keer. Dit help egter nie. Die trane loop al vinniger oor haar wange, en toe Mynie die seergemaakte uitdrukking op Heinz se gesig onthou, bars sy in trane uit.
“Wie sê Elma het nie straks ’n fout gemaak nie?” vra ’n onseker stemmetjie in haar binneste. “Sê nou daar is iewers ’n misverstand, dat Heinz ’n logiese verklaring het waarom hy …”
Nee, val Mynie die stemmetjie in die rede. Daar kan geen misverstand wees nie. Heinz du Preez het, ten aanskoue van talle toeskouers, die blondine in sy arms geneem en gesoen. En toe, hand om die lyf met haar, in die rigting van die kafeteria verdwyn. Al logiese verklaring vir sy optrede is dat hy die meisie liefhet – liewer as vir haar. Heinz het háár nog nooit so vurig in die openbaar omhels nie. Mynie was ook al ’n paar keer saam met hom op die lughawe en al wat hy tóé gedoen het, was om haar hand liggies vas te hou.
“Wie sê dit was nie dalk ’n ander ou, wat ook forsgebou is en net sulke donkerbruin hare soos Heinz het nie?” bly die stemmetjie torring. “Hoe goed ken Elma jou kêrel? Jy weet sy is net so ’n halsoorkop, impulsiewe, deurmekaar mens soos jy. Hoe kan jy seker wees sy het haar nie misgis nie? Gee Heinz kans om te verduidelik. Hou op om soos ’n bakvissie te kere te gaan en deure te sluit en te dreig om histeries aan die gil te gaan. Gee hom kans om homself te verdedig.”
Hy sal net weer jok en haar met allerhande slimpraatjies om die bos probeer lei. Het sy dan nie geweet hy het ’n identiese tweelingbroer nie? Ou Hans, ja, sy presiese ewebeeld, wat ’n besondere voorliefde vir eksotiese blondines het …
“Mynie!”
Ondanks haar onstuimige en wraakgevulde gedagtes, is Mynie bly dat Heinz nog hier is. Toe dit so lank stil was in die woonstel, was sy bang hy is weg huis toe. Na waar daardie blondine dalk op hom wag …
“Meisiekind, maak oop hierdie deur!”
Die stem klink gedemp deur die toe deur, maar Mynie kan hoor dat die man baie, baie kwaad is. Sy gee verskrik pad, so ver moontlik die kombuis in, tot by die opwasbak.
“Gaan jy oopmaak?”
“Nee!” Met ’n stewige houtdeur tussen hulle, wetende dat Heinz haar nie kan bykom nie, is Mynie baie dapper.
“Ek kan nie met jou praat as jy jou soos ’n moedswillige kind in die kombuis toesluit en ek jou nie kan sien nie.”
“Wie het gesê ek wil met jou praat?”
Mynie hoor Heinz sug, en toe sy weer sy stem hoor, is dit effens kalmer en meer geduldig.
“Mynie, wil jy nie asseblief vir my sê hoekom jy kwaad is nie?”
“Asof jy dit nie goed genoeg weet nie!”
“Ek weet nie. Asseblief, sê vir my wat ek gedoen het.”
“Dis wat jy nié gedoen het nie! Hoekom het jy nie vir my vertel dat jy ’n ander nooi het nie? Hoekom moes ek by ’n buitestander hoor dat jy my met ’n ander meisie verkul?”
Dít het Heinz nie verwag nie. Die beskuldiging betrap hom onverhoeds. Hy het gedink dis dalk Mynie se verjaardag wat hy vergeet het, of die herdenking van die dag wat hulle mekaar ontmoet het, of iets van daardie aard. Nou blyk dit veel erger te wees. Hy verwens hom omdat hy ingewillig het om saam met Annette te gaan koffie drink. Hoekom het hy nie daaraan gedink dat Mynie dit te hore kan kom nie? Iemand het hom en Annette Basson blykbaar bymekaar gesien en baie vinnig na Mynie toe gehardloop om die sappige brokkie skindernuus oor te dra. Deksels! Mynie het nie ’n jaloerse geaardheid nie, maar enige aster sal seergemaak voel as sy by ’n buitestander moet uitvind dat haar kêrel saam met ’n ander nooi gesien is. Pleks dat hy haar lankal van Annette vertel het, dan was hy nie nou in hierdie penarie nie.
Mynie het gehoop Heinz sou die aantyging dadelik ontken of ten minste gou ’n verduideliking gereed hê. Toe daar ’n paar oomblikke doodse stilte aan die ander kant van die deur is, is dit vir Mynie soos ’n skulderkenning.
Ek sal nie weer na jou luister nie! raas sy saggies met die stemmetjie in haar hart wat Heinz du Preez probeer verdedig het.
Heinz het hierdie paar oomblikke gebruik om tot verhaal te kom en om sy verdediging op te stel, soos hy in die hof sou doen wanneer hy weet die aanklaer het ’n sterk saak teen die beskuldigde.
“My skat …” begin hy pleitend.
“Moenie my jou skat noem nie. Bêre die liefdesnaampies vir die ander meisie. Sy sal dit meer waardeer as ek.”
“Mynie, daar bestaan nie ’n ander meisie nie.”
“Wat was daardie beeldskone blondine dan? ’n Spook?”
Ja, dis blykbaar Annette Basson, dink Heinz. Dis jammer Annette is so ’n mooi vroumens. Daardie blonde hare wat los oor haar skouers hang, is genoeg om enigeen se aandag te trek. En soos die ongeluk dit wou hê, moes een van die mense wat hom saam met Annette in die kafee gesien het, nou juis ’n bekende van Mynie wees. En boonop ’n skinderkous …
“Ek is jammer, Mynie. Ek moes jou seker daarvan vertel het. Ek het dit nie opsetlik geheim gehou of jou probeer bedrieg nie. Ek het net gedink dis nie belangrik genoeg om jou daarvan te vertel nie. Dis nie genoeg rede om so ’n bohaai daaroor te maak nie.” Die aanvoorwerk is klaar. Heinz haal ’n keer diep asem voordat hy erken: “Ek het een of twee keer saam met die meisie gaan koffie drink.”
“Koffie drink?” Mynie se stem is sarkasties. “Is dít wat mens dit deesdae noem? Om koffie te drink? Ek het ’n meer gepaste naam daarvoor.”
“Dis al wat ons gedoen het. Een of twee keer saam gaan koffie drink en ’n paar minute gesels,” hou Heinz vol.
Elma het hulle daardie een aand toevallig op die lughawe gesien. Maar nou erken Heinz dit was meer as een keer …
“Een of twee keer … Hoekom is jy so vaag, Heinz? Kan jy nie onthou nie, of was dit dalk meermale?”
Heinz weet dat hy nou op baie gevaarlike terrein is. Al sal dit Mynie dieper seermaak of verder ontstel, is dit nou die tyd om heeltemal eerlik met haar te wees.
“Drie keer,” erken hy teësinnig.
“Nie straks vier of vyf keer nie?”
“Nee.”
“En al wat julle gedoen het, was om … e … koffie te drink en te … e … gesels?”
“Natuurlik. Wat anders sou ons gedoen het?”
“O, ek kan aan baie ander dinge dink wat julle kon gedoen het.” Mynie se stem is liefies, maar Heinz word nie om die bos gelei nie. Hy kan hoor dat die nooientjie nog steeds woedend is en hy weet nie hoe om haar weer goed te kry nie.
“Wel, ons het nie,” sê hy kortaf. “Annette Basson is ’n …”
“O, is dit haar naam? Ek het gedag dis ten minste iets soos Gigi of Fifi of …”
“… ’n ingeskrewe prokureursklerk by ons wat besig is met haar tweede jaar vir ’n BProc-graad. Sy het aangebied om vir my koffie te koop in ruil vir ’n paar eksamenvrae waarmee ek haar kan help. Sy ondervind probleme met Suid-Afrikaanse Erfreg en het gevra ek moet die ope notariële testament aan haar verduidelik.”
“En verwag my warmbloedige kêrel dat ek hom moet glo? Dat hy drie keer saam met die eksotiese blondine gaan koffie drink het, maar die hele tyd net met haar oor boedels en testamente gesels het?”
Heinz beteuel met moeite sy humeur.
“Dis die waarheid, ” sê hy styf.
“En ek sê dis nie die waarheid nie. Ek sê jy jok. Volgens die inligting wat ek het, was julle aktiwiteite van ’n veel meer amoreuse aard.”
“Kan jy daardie stelling beter toelig?”
Waar hy in die gang agter die toe kombuisdeur staan, is daar ’n gevaarlike flikkering in Heinz se grys oë. As Mynie sy gesig kon sien, sou die uitdrukking daarop haar gewaarsku het om liewer nie verder uit te wei nie. Maar Mynie het nog nie veel met Heinz du Preez se haastige humeur te doen gekry nie. Sy besef nie dat sy nou te ver gaan nie.
“As jy dan die ongure besonderhede uitgespel wil hê … goed. Annette het albei haar arms in ’n seekatgreep om jou nek gehad en jy was blykbaar nie ongeneë nie. Jou omhelsing was net so vurig. Ondanks die feit dat dit in die openbaar was, het jy haar twee keer gesoen. Toe het jy oor haar hare gestreel, jou arm om haar lyf gesit en saam met haar weggestap. Julle is nie weer gesien nie, en ek glo nie julle twee liefdesduifies het saam verdwyn om koffie te gaan soek nie …”
Heinz frons onbegrypend. Hy onthou hy het Annette se hand ’n ligte drukkie gegee, maar dit was slegs vertroostend, om haar te bemoedig omdat sy so bang is vir die eksamen. Daar was nie sprake van vurige omhelsings nie, en hy het beslis nie sy arm om haar lyf gesit nie.
“Dis nie waar nie, Mynie. Dis ’n infame leuen. Dis iemand wat opsetlik probeer kwaad stook het. Wie is hierdie skinderbek wat jou sulke leuens ingeprent het?”
“Om jóú aan te haal: ek verkies dat die identiteit van my informant vertroulik bly.”
“Maar jy glo hom of haar eerder as vir my?”
“Die persoon het geen baat daarby gevind om my van jou skelmstreke te vertel nie. Maar jy, aan die ander kant …” Mynie laat die res van haar sin veelseggend in die lug hang.
“Mynie, ek het jou lief …”
“Presies,” sê Mynie triomfantlik, bly Heinz het in die strik getrap. “Dis hoekom jy jou dade met allerhande slimstories sal probeer toesmeer. Dis hoekom ek my informant eerder glo as vir jou.”
“En as ek sê dis ’n spul leuens of dat daar iewers ’n misverstand is?”
“Dan verander dit nog steeds niks aan die saak nie. Jy het self erken dat jy daardie Annette Basson skelm uitgeneem het. Jy weet ek is nie besitlik of jaloers nie, Heinz. As jy my daarvan vertel het, sou ek nie omgegee het nie. Maar om dit by ’n ander persoon te hoor … en te hoor dat jy haar omhels en gesoen het … Nee, dít kan ek jou nie vergewe nie. Ek verneder my nie verder deur die saak te bespreek nie. Gee pad uit my woonstel en moenie weer jou voete hier sit nie.”
“Mynie, asseblief …”
Mynie ignoreer die smeking in sy stem, ook die dringende klop aan die deur.
“Loop!” beveel sy. Haar mond is teen die sleutelgat gedruk sodat sy seker is Heinz hoor haar hard en duidelik. “Tot dusver het ek getwyfel of ek met jou wil trou. Nou weet ek hoekom. Dis omdat ek jou nie liefhet nie. Daar was altyd iets in jou karakter wat my gehinder het. Nou weet ek wat dit is. Dis oneerlikheid, agterbaksheid, gemeenheid en ontrouheid. Ek wil jou nooit weer sien nie, Heinz du Preez.”
“Is dit jou laaste woord?”
“Ek hoop so.”
Heinz se gesig is spierwit. Sy oë skiet vonke en sy mond is in ’n dun lyn saamgepers. Hy doen nie moeite om vir Mynie tot siens te sê nie. Hy draai kort om, stap uit en klap die voordeur baie hard agter hom toe.
Mynie hoor die slag en die voetstappe wat in die gang wegsterf, maar om dubbel seker te maak, wag sy ’n rukkie voordat sy die kombuisdeur versigtig oopmaak. Alles is doodstil. Heinz is weg.
Mynie hardloop na die sitkamervenster toe en is net betyds om Heinz by die ingang te sien uitstap. Hy kyk nie op nie. Hy stap reguit na sy motor toe.
Mynie het verwag hy sou darem vir oulaas terugkyk, dalk effens nostalgies voel en dalk gehoop het om vir ’n laaste keer ’n blik van sy geliefde by die venster te kry. Maar nee, hy stryk met lang hale aan, asof hy ’n trein het om te haal, en hy dink nie eens daaraan dat sy miskien by die sitkamervenster staan nie. Nee, hy is te ongevoelig en hy kan blykbaar nie wag om by daardie Annette Basson te kom nie. Hy gaan háár nou seker nooi om by Hartebeespoortdam te gaan vleis braai, aangesien Mynie nie meer beskikbaar is nie. Dalk is hy selfs verlig dat Mynie Cronjé hom afgesê het sodat hy die blondine met ’n rein gewete kan uitneem en seker binnekort met haar kan trou …
Mynie sien Heinz se trui op die riempiesbank lê, waar hy dit Donderdagaand vergeet het. Sy sou dit graag eers met ’n skêr vol gate wou geknip het, maar daar is nie tyd nie. Sy gryp die trui, pluk die venster oop en gooi dit agter Heinz aan. Dan sien sy Heinz se pyp en tabak wat blykbaar ook vergete gebly het.
“Wag, hier is nog van jou goed!” roep sy, en die pyp en tabak en vuurhoutjies trek ook deur die lug.
Mynie het dit nie so bedoel nie. Sy het nie eens gemik om Heinz raak te gooi nie. Al wat sy wou doen, was om niks in die woonstel te laat agterbly nie, geeneen van sy besittings wat haar gedurig aan Heinz du Preez sou herinner nie. Sy het nie bedoel dat die pyp fyn en flenters moes breek nie. Sy weet hoe geheg Heinz aan daardie kromsteelpyp was … Toe hy buk om die stukkies van die sypaadjie af op te tel, is dit meer as wat Mynie kan verduur. Sy gaan val op die bank neer en begin huil asof haar hart ook in stukke gebreek is.