Читать книгу Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman - Страница 9
6
ОглавлениеMynie het ’n afskrif van haar eerste brief aan Wewenaar gebêre. So ook van haar tweede en derde briewe aan Conrad Duvenhage. Nou gaan haal sy hulle om vir oulaas seker te maak wat sy alles vir hom geskryf het. Sy wil nie vanaand dalk anders praat en hom die idee gee dat sy ’n deurmekaar of oneerlike persoon is nie.
Mynie lees haar eie drie briewe en ook Conrad se drie vir die soveelste keer deur sedert Maandag – sedert hy gevra het of hy Saterdagaand vir haar mag kom kuier. Ja, besluit sy, al wat sy moet onthou, is dat sy ses-en-vyftig kilogram weeg, in plaas van amper sestig, en dat sy stil, skaam en teruggetrokke is as niemand haar kwaad maak nie. Sy moet vanaand stemmig en ingetoë wees as Conrad kom kuier, nie weer so ontstoke en impulsief soos die laaste kere toe Heinz du Preez hier aangekom het nie. Maar Conrad sal haar seker nie kwaad maak nie. Hy het geskryf dat hy ’n sagmoedige mens en baie skaam vir lede van die teenoorgestelde geslag is.
Conrad het gesê hy sal sewe-uur hier wees. Dis nou nog maar halfses en reeds sit Mynie gestewel en gespoor in haar vleiendste rok en ’n paar splinternuwe geel sandale. Sy was vanoggend by die haarkapper en die bottel duur reukwater wat Heinz haar verlede Kersfees gegee het, staan reg op die eetkamertafel sodat sy vir oulaas weer daarvan agter haar ore kan spuit as daar ’n klop aan haar voordeur is.
Mynie is baie senuweeagtig. ’n Paar keer al het sy bitter berou gehad dat sy ingewillig het dat Conrad mag kom kuier. Sy is so bang hy is teleurgesteld as hy sy penmaat in lewende lywe sien. In haar laaste brief het sy nog weer gewaarsku dat sy nie juis beeldskoon is nie, maar sy onthou wat Conrad in sy eerste brief geskryf het: Ek is seker jy is net so mooi soos jou handskrif. Heinz en Johan Willemse en ’n klomp ander kêrels het Mynie al mooier komplimente gemaak, dog na daardie opmerking van Conrad het Mynie nie die moed gehad om hom ’n foto van haarself te stuur nie. Sy het ook nog nie een van hom ontvang nie. Gaan sy ooit weet dit is hy as sy die voordeur oopmaak? En sê nou maar tant Lettie of tant Sus Maasdorp sien hom in die gang verbystap en snel haar weer te hulp met besems en verestoffers?
Mynie het as kind laas haar naels gekou. Nou val vyftien jaar se volharding en deursetting van haar weg en byt sy gespanne aan haar duimnael, vergetende dat sy vroeër vanmiddag vars lak aangewend het. Gaan die aand nie ’n fiasko wees nie? Gaan Conrad Duvenhage nie dalk net vyf minute lank kuier en dan verskoning maak dat hy ongelukkig haastig is aangesien hy reeds ’n ander afspraak het nie? En dan nooit weer vir haar skryf nie … Hy het seker honderde antwoorde op sy advertensie in Profiel ontvang. En sy ander penvriendinne is seker almal ouliker en interessanter as sy.
Mynie hardloop elke drie minute sitkamervenster toe om te kyk of daar nog nie ’n roomkleurige Mercedes onder in die straat stilgehou het nie. Tussenin maak sy vir haar tee, spuit reukwater aan en knap haar grimering op. Maar toe die Mercedes wel voor die woonstelgebou se ingang stilhou, sien sy nie die motor nie. Sy is besig om gou ’n paar vingermerke van die koffietafeltjie af te vryf en skrik haar yskoud toe daar ’n klop aan die voordeur is. Dis ’n paar minute voor sewe-uur, maar dit moet hy wees … Mynie druk gou Heinz se bottel parfuum in ’n laai, skiet die stoflap onder die riempiesbank in en klouter op die eetkamerstoel wat reeds van twee-uur vanmiddag by die voordeur regstaan.
Hierdie keer kyk sy nie weer af op ’n grys bollatjie, ’n paar smal skouertjies onder ’n gehekelde trui en twee blink toerygskoene nie.
Die fyn, swart leerskoene is ook blink, maar dis waar die ooreenkoms eindig. Die blonde kop met die blinkskoon hare is omtrent ’n halfmeter nader aan die boluik as wat die netjiese bollatjie was. En hierdie is ’n paar voorryskouers, geklee in ’n deftige donker pak klere met ’n ligblou syhemp en bypassende blou das.
Mynie se knieë is so lam dat sy skaars van die stoel kan afklim. Sy laat die stoel met ’n harde slag val toe sy dit onder die eetkamertafel inskuif.
“Wat makeer jou?” raas Mynie met haarself. “Jy is mos nie meer ’n standerdsessie op haar eerste afspraak met ’n kêreltjie nie. Jy het gesê jy het baie lewenservaring en jy is ouer as jou jare. Gedra jou daarvolgens. Dis omdat ek twee jaar vas uitgegaan het met Heinz. Ek weet nie meer hoe om my teenoor ’n vreemde ou te gedra nie. En … en ek het nie gedink Wewenaar sou … só lyk nie. Apollo sou ’n meer gepaste skuilnaam gewees het.”
Mynie vee haar hare plat, haal ’n paar keer diep asem, diep haar mooiste glimlaggie op en maak die voordeur oop.
Conrad Duvenhage stap nie dadelik binne nie. Hy kyk Mynie op en af, dan sê hy saggies: “Ek het nie gedink dis moontlik nie.”
“W-wat is nie moontlik nie?” stamel Mynie.
“Dat jy nóg mooier kan wees as wat ek jou voorgestel het.”
Tot Mynie se verleentheid bloos sy.
“Naand, Mynie,” sê Conrad in sy diep, warm stem. Hy neem Mynie se hand in syne en gee dit ’n ligte drukkie. Sy hand voel groot en sterk en manlik.
“N-naand.”
“Ek het nie bedoel om jou skaam te maak nie, Mynie. Dit was ’n opregte kompliment, diep uit my hart. Jy is mooi en jy moet altyd blou dra. Die kleur pas jou.”
Baie skaam vir lede van die teenoorgestelde geslag? wonder Mynie. Nie hierdie asemrowende ou nie. Sy wens hy het liewer nie na haar tamatierooi wange verwys nie en sy wens sy kan haar gesig gou gaan afspoel.
“Wil … wil jy nie binnekom nie?”
“Ek wil. Dankie, Mynie.”
Conrad Duvenhage is taktvol genoeg om nie dadelik in die sitkamer te gaan sit nie, maar Mynie eers kans te gee om minder skaam te voel. Hy gaan staan voor ’n houtskooltekening wat bokant die kaggel hang.
“Jou werk?” vra hy.
“Ja. Asseblief, moet dit nie krities beoordeel nie.”
“Dis goed, Mynie. Mooi, suiwer lyne en baie dekoratief. Dis duidelik dat jy talent het. Mag ek van jou ander werk sien?”
Conrad bekyk die skilderye en sketse wat Mynie vir hom wys, lewer hier en daar kommentaar en herhaal dat hy van haar styl hou. Toe dit lyk asof sy meer op haar gemak begin raak, gaan sit hy in ’n leunstoel en sê met ’n bemoedigende glimlaggie: “Ek is nie ’n vreemdeling nie, Mynie. Jy hoef nie soos ’n vasgekeerde wildsbokkie te lyk nie. Onthou jy nie ons is geesgenote nie?”
Mynie knik en voel dadelik minder senuweeagtig.
“Reeds in jou eerste brief aan my het dit gevoel asof ek jou al jare ken,” gaan Conrad voort. “Glo jy aan die noodlot, Mynie?”
“Ja. Ek het mos gesê ek is bygelowig.”
“Ek ook. Ek glo dat die geluksgodin op my skouer kom sit het toe ek daardie advertensie aan ’n tydskrif gestuur het. Selfs in my wildste drome het ek nie gedink dat dit my by iemand soos jy sou laat uitkom nie. Ek het gesê ek is skaam vir meisies. Ek is, al lyk dit nie so nie. In die teenwoordigheid van ’n vreemde aster is my tong gewoonlik in tien knope geknoop en my hande natgesweet. Maar nie by jou nie. By jou voel ek op my gemak, asof ons ou vriende is. Ek het geweet dit sal só wees. Reeds by die lees van jou eerste brief het ek ’n drang ervaar om jou persoonlik te ontmoet. Dis hoekom ek so voorbarig was om te vra of ons een aand saam kan uitgaan of na ’n toneelopvoering kan gaan kyk.”
“Dit was nie voorbarig van jou nie.”
“Dit was, en dis lief van jou om te stry.”
Mynie wonder hoe dit moontlik is dat hierdie fantastiese mansmens eensaam en verstote kan voel. Sy sou gedink het die meisies staan tou om hom gevang te kry en kansel toe te sleep. Hoe is dit moontlik dat hy nege jaar lank die vangnette ontsnap het en ’n alleenlopende wewenaar gebly het?
“Het jy lus om iewers te gaan eet, Mynie, of is daar dalk ’n toneelopvoering of ’n fliek wat jy graag wil sien?”
“Wat wil jy graag doen?” vra Mynie inskiklik.
“As ek kan kies, wil ek liewer nie in ’n stampvol gehoorsaal gaan sit waar ek na die verhoog moet kyk en nie met jou kan gesels nie. Sal ons eerder iewers gaan eet?”
“Dit sal heerlik wees, dankie.”
“Waar?”
Terwyl sy aarsel en aan ’n restaurant probeer dink waar sy nie saam met Heinz du Preez was nie, kry Conrad ’n blink gedagte. Hy wil dit voorstel, maar besluit dan dat dit moontlik nie billik teenoor Mynie Cronjé sal wees nie. Sy het so ’n mooi rokkie en nuwe skoene aan en sy was heel duidelik vanoggend by ’n haarkapsalon …
“Wat wou jy voorstel?” vra Mynie toe hy begin praat en dan weer stilbly.
“Nee, dit sal sonde wees om jou nie uit te neem en so af te wys dat die hele Johannesburg kan sien met watter oulike nooientjie ek vanaand ’n afspraak het nie.”
Mynie snap eers nie wat hy bedoel nie, dan lag sy. “Was jy lus dat ons tuisbly, dan maak ek aandete vir ons?”
“Tuisbly, terwyl ék aandete maak,” korrigeer Conrad haar. “Iemand so mooi soos jy kan nie nog boonop handig wees nie. Ek sal kos maak terwyl jy by my in die kombuis kuier en net sit en mooi lyk.”
Mynie dink bekommerd aan haar leë kombuiskaste, maar dis asof Conrad Duvenhage ook oor ’n sesde sintuig beskik.
“Ek weet daar is ’n goeie supermark naby jou woonstelgebou. Ek sal alles daar gaan koop wat ek nodig het vir spaghetti à la Calamaretzioni.”
“Wat is spaghetti à la Cala …?”
“My eie konkoksie. Die agt en twintigste manier waarop ’n mens spaghetti kan opdis – en die nuwe resep wat ek beloof het om jou te leer. Stap jy saam, dan gaan koop ek gou die spaghetti, inkvis, seekat, garnale, tamaties en speserye.”
By die voordeur steek Conrad berouvol vas. “Ek het nooit eens gevra nie … Ek is jammer, Mynie, maar eet jy allerhande soorte seekosse?”
Mynie gril vir garnale en krewe wat met stekelrige voelers en tentakels op jou bord lê en jou met verwytende oë aanstaar as jy jou mes en vurk optel. Sy sê dit egter nie vir Conrad nie. Saam met hom sal sy enigiets eet, selfs droë brood en water geniet.
“Ja … ja, ek het nie fiemies nie.”
“Piekfyn. Dan maak ek ook vir ons ’n kreefvoorgereg. Sal ons gou winkel toe gaan?”
Vanaf die kussing wat Conrad vir haar met groot sorg op die kombuisblikkie neergesit het en terwyl sy besig is om kaas te rasper – iets wat Conrad eers nie wou toelaat nie omdat dit haar mooi hande sal verniel – vra Mynie: “Het jy … baie antwoorde op jou advertensie in Profiel ontvang?”
“Elf.”
“En vir al die meisies teruggeskryf en … en gaan kuier?” Mynie is vies vir haarself oor die gevoel van jaloesie wat skielik in haar opgewel het.
“Nee.” Conrad glimlag baie mooi vir haar. “Uit hoflikheid het ek alle eerste briewe beantwoord, maar bygevoeg dat ek ongelukkig nie in verdere korrespondensie belangstel nie. Dis net vir jou wat ek aanhou skryf het. Jy is ook die enigste een vir wie ek gaan kuier het.”
“O …”
Conrad se laggie is tergend. “Is dit al wat jy kan sê? O … Is jy nie verlig nie?”
Mynie bloos skielik weer en weet nie wat om te sê nie. Met Heinz was dit twee jaar gelede amper dieselfde. Ook hy het haar voete met die eerste ontmoeting onder haar uitgeslaan, haar blosend en hakkelend en stamelend gelaat. Maar nie so erg soos vanaand nie … Weet Conrad Duvenhage watter uitwerking daardie half skaam, half tergende glimlaggie op ’n meisie se hart het?
“Ek is bly jy het geskryf jou vriende noem jou Mynie,” sê Conrad. “Maryna is ’n groot mondvol vir so ’n fyn ou mensie soos jy.”
Hy weet nie dat sy amper sestig kilogram weeg nie, dink Mynie skuldig. Hy dink sy is ’n skamele ses-en-vyftig. Skielik voel sy lus om te bieg. Hulle verhouding moet op die regte grondslag begin. Daar mag nie valshede en onwaarhede tussen hulle wees nie.
“Conrad …” begin sy verleë.
Conrad Duvenhage lyk verras. “Ek het al begin dink jy sal dit nooit regkry om my op my voornaam te noem nie. ’n Paar keer was ek meneer Duvenhage, maar dis die eerste keer dat jy my Conrad noem. As dit dalk vir jou makliker is, kan jy Connie probeer. Baie van my vriende noem my so.”
Dis seker wat sy vrou hom genoem het, dink Mynie. Sy besluit dat Conrad dalk beter sal wees.
“Conrad, ek wil oop kaarte met jou speel …”
Conrad se oë is so groot soos pierings. Sy gesig is dadelik ernstig en hy kom op die wasbak langs Mynie sit terwyl hy haar hand in albei syne neem.
“Jy hou nie van my nie,” waag hy ’n raaiskoot.
Inteendeel! wil Mynie uitroep. Sy het met die eerste oogopslag halsoorkop verlief op hom geraak. Sy volstaan egter met ’n stemmige: “Nee, dis nie dit nie.”
“Wat dan? Jy hou nie daarvan dat ek jou kombuis omkrap nie? Ek sal alles weer opwas en netjies aan die kant maak.”
“Nee, jy is welkom en ek weet jou kos gaan heerlik smaak. Conrad … ek het intussen ’n dieet gevolg en oefeninge gedoen, maar – maar ek weeg nog steeds sewe-en-vyftig en ’n half kilogram. Nie … nie ses-en-vyftig, soos ek vir jou geskryf het nie.”
Conrad se diep, warm lag weergalm deur die kombuis. Hy druk ’n vlugtige soentjie op Mynie se vingers en sê dan verleë: “Ook ék wil bieg …”
Nou gaan hy sê hy het ’n vrou en tien kinders, dink Mynie. Wat dan? Vir hom tot siens sê en hom nooit weer sien nie?
“Mynie …” Conrad kyk na sy skoenpunte, na sy vingernaels en na die drie kastrolle op die stoof. Oral, behalwe na Mynie. Hy sluk ’n slag, glimlag pleitend, en dan kom die woorde oorhaastig uit, asof hy bang is sy moed begewe hom as hy stadig praat. “Ek ry ook nie met ’n Mercedes wat verlede jaar se model is nie. Ek het vir jou gejok. Dis voorverlede jaar se model. Ek was bang jy wil nie met ’n ou uitgaan wat met ’n Noagse ou krok ry nie.”
Mynie se skaterlag is net so geamuseerd soos syne netnou. As dit ál is waaroor hy wou bieg …
“Ja, dis al,” grinnik Conrad in antwoord op Mynie se vraag. “Daar is niks verder waaroor ek wil bieg nie, geen geraamtes in my kas nie. Behalwe natuurlik Liza wat sewe jaar gelede oorlede is, maar van haar het ek vir jou geskryf.”
“Sewe? Ek het gedink dis nege jaar.”
“Nege, natuurlik,” korrigeer Conrad homself haastig. “Ek was ingedagte. Hoe ruik my spaghetti vir jou? Dis amper gereed. Sal ek tafel dek, of verkies jy om op die mat voor die radio te eet terwyl jy vir ons een van Beethoven se klavierkonserte op die draaitafel sit?”
Spaghetti, Beethoven en ’n man soos Conrad Duvenhage, dink sy. Wat meer kan ’n meisie van die lewe vra?
Gedurende die volgende paar weke is Mynie nog steeds in vervoering. Sy het van Heinz vergeet. Conrad Duvenhage vul elke sekonde, elke minuut, elke uur van haar dae. Sy kan nog steeds nie glo dat dit vir so ’n fantastiese man nodig was om noodmaatreëls toe te pas deur in ’n tydskrif se hoekie vir eensames vir penvriendinne te adverteer nie. Conrad eensaam en verstote, sonder vriendinne …? Dis moeilik om te glo. Al het hy gesê hy het nege jaar lank oor sy vrou getreur en aan haar getrou gebly, kan Mynie nie begryp waarom ’n ander meisie hom nog nie ontdek en met ’n simpatieke skouer gereed gestaan het nie. Of was dit werklik die geluksgodin wat hom al die jare juis vir Mynie Cronjé laat wag het, soos hy gesê het?
“En dit was die moeite werd om vir ’n meisie soos jý te wag,” het Conrad bygevoeg. “Daardie nege eensame jare was dit werd, my skat …”
“Nog steeds dolverlief?” Elma steek haar kop om die deur van Mynie se klaskamer en betrap haar dat sy droomverlore by die tafel sit, haar stapels nasienwerk en eksamenvraestelle vergete.
Mynie knik en bloos.
“Dit lyk my jy het nie meer ’n termometer nodig om jou gevoel vir hierdie man mee te meet nie?”
“Beslis nie. Elma, glo jy aan iets soos liefde met die eerste oogopslag?”
“Tot nog toe het ek nie. Nou wel. Wat van arme Heinz?”
“Wie is Heinz?” terg Mynie. “O, daardie donkerkopman met wie ek eens op ’n tyd vriende was? Wat van hom?”
“Hy het jou nog lief en jy maak nie mooi met hom nie. Eers sluit jy die voordeur, toe kry jy ’n klomp ou tannies om hom aan te rand en nou, as hy wil kom kuier, maak jy elke keer verskoning dat jy te besig is. Heinz du Preez is ’n oulike ou. Hy verdien dit nie dat jy hom so sleg behandel nie. Het jy hom darem verlede Vrydagaand binnegenooi toe hy onverwags opgedaag het?”
“Ek het, ja, en ek het ’n volle vyf minute lank met hom gesels voor ek verskoning gemaak het dat ek ongelukkig ’n ander afspraak het en haastig is.”
“Het jy hom gesê dat die afspraak met Conrad Duvenhage is?”
“Nee.” Mynie kan nie verstaan hoekom Elma vir Heinz so jammer voel en so aanhou torring oor hom nie. “Elma, hoekom trek jy skielik vir Heinz party? Is dit omdat jy skuldig voel oor daardie misverstand met hom en Karen?”
“Ja. As ek my verstand gebruik of my mond gehou het, was jy nie kwaad en seergemaak genoeg om vir Conrad te skryf nie.”
“En wat was daarmee verkeerd om vir Conrad te skryf?” Mynie se stem bly kalm, maar sy begin haar vir Elma vervies. Van die begin af was sy nie baie beïndruk met hierdie penmaat van haar vriendin nie. Sy was baie skepties oor al Conrad Duvenhage se deugde en sy het nie alles geglo wat Mynie van hom vertel het nie.
“’n Skatryk wewenaar van veertig wat in ’n hoekie vir eensames vir penvriendinne adverteer … Iets is nie heeltemal reg nie, Mynie.”
“Ek het jou gesê hy het nege jaar lank oor sy vrou getreur. Dit was in elk geval een van die meisies wat vir hom werk wat voorgestel het dat Conrad aan die tydskrif moet skryf. Dit was nie eens hy wat die advertensie opgestel het nie. Dit was daardie jong meisietjie en Conrad het dit meer vir die grap ingestuur as met die hoop dat hy werklik daardeur iemand sal ontmoet van wie hy hou.”
“Hoekom het die jong meisietjie nie liewer ’n ouer suster of ’n vriendin aan hom voorgestel as sy so begaan was oor haar eensame en verstote baas nie?”
“Ek weet nie. Ek het Conrad nie gevra nie,” sê Mynie kortaf.
“Dit lyk my jy het hom niks gevra nie. Jy weet nie waaraan sy vrou destyds oorlede is nie, of daar dalk kinders is nie, waar daardie spoghuis is waar hy en sy vrou tien sulke idilliese jare van getroude lewe deurgebring het nie …”
“Conrad praat nie graag oor Liza nie.”
“Die wond is nog te rou, maar tog praat hy al met jou in die rigting van trou? Liza is nog ’n baie teer punt, maar drie weke ná hy jou ontmoet het, wil hy net verloof raak? Dit klink nie vir my logies nie, Mynie.”
“Hoekom ou koeie uit die sloot grawe? Die verlede met Liza is verby en Conrad weet dit sal my seermaak as hy van haar praat. Dis die toekoms wat saak maak. Net soos ek, het Conrad ook daardie eerste aand aangevoel ons twee is vir mekaar bedoel. Hy het my lief.”
“En jy? Twee jaar lank wik en weeg jy of jou gevoel vir Heinz ware liefde is, maar vyf minute ná jy Conrad ontmoet het, is jy horende doof en siende blind vir sy foute.”
“Hy hét nie foute nie,” hou Mynie hardkoppig vol.
Teen so ’n argument kan Elma niks vermag nie. Sy vervies haar vir Mynie wat nie na raad wil luister nie. Goed, as Mynie dan nie wil hoor nie, moet sy maar haar kop stamp. Hierdie Conrad Duvenhage kan onmoontlik so wonderlik wees as wat Mynie hom beskryf. As die ergste verliefdheid oorgewaai het, sal Mynie se oë dalk oopgaan en sal sy hom sien soos hy miskien werklik is.
“Hoekom glo jy nie dat Conrad die regte man vir my is nie?” vra Mynie.
Elma aarsel. Dis nie dat sy op Mynie se goeie geluk jaloers is nie. Dis net dat Mynie haar vriendin is en dat sy vir haar verantwoordelik voel omdat dit sý was wat haar van daardie ander blondine op die lughawe vertel het. Dit was haar skuld dat Mynie aan Wewenaar geskryf het en sy is bang haar naïewe vriendinnetjie kry seer. Sy weet nie hoe opreg hierdie man dit met Mynie bedoel nie. Sy is bang hy is ’n losbol wat haar hart dalk gaan breek.
“Dis … dis alles net te goed om waar te wees,” antwoord Elma, maar selfs in haar eie ore klink dit na ’n lamlendige verskoning. Sy wens sy het haar groot mond dig toegehou of daaraan gedink dat dit moontlik ’n familielid van Heinz du Preez is wat van oorsee af teruggekom het. Hoekom moes sy onmiddellik die afleiding maak dat Heinz haar vriendin met ’n ander nooi verkul – en hoekom wou sy keer dat Mynie daardeur seergemaak word? Hoekom voel sy altyd so oorbeskermend teenoor die mooi Mynie Cronjé wat soms so oorhaastig en impulsief kan wees? Is dit nou weer die geval? Is dit hoekom sy effens agterdogtig jeens hierdie Duvenhage-man is en nie wil glo dat hy werklik so wonderlik is as wat Mynie vertel nie? Of is dit omdat sy teenoor Heinz du Preez wil vergoed vir wat sy hom as gevolg van ’n misverstand aangedoen het? Hy het Mynie Cronjé lief en dis haar skuld dat die meisie niks meer met hom te doen wil hê nie.
“Mynie, moenie oorhaastig wees nie,” pleit Elma. “Leer hierdie man beter ken en gaan intussen ook met Heinz uit terwyl jy besluit watter een jy liefhet en met watter een van die twee jy eendag wil trou.”
“Aangesien jy so ’n kampvegter vir Heinz is, kan jy hom maar erf,” glimlag Mynie. “Jy sal ongelukkig na ’n rukkie agterkom hy is minder oulik as wat jy gedink het. Heinz was gelukkig dat dit toevallig sy regte suster was wat hy op die lughawe omhels het. Dit kan egter nie die feit wegredeneer dat hy my met daardie Annette Basson verkul het en nie van plan was om my daarvan te vertel nie. Dit was net die omstandighede wat hom daartoe gedwing het. Jy kan Heinz du Preez maar met my komplimente op ’n skinkbord present kry, Elma. Ek sal selfs die skinkbord bygee.”