Читать книгу Satyn Omnibus 8 - Ettie Bierman - Страница 12
9
ОглавлениеIn hoeveel stukkies kan ’n hart breek? vra Nikka haarself af terwyl sy in ’n bondeltjie op die bed lê, met die duvet oor haar koue voete. Wieldop het Ruan soos gewoonlik gevolg toe hy gaan draf het en sy het hom hoor blaf toe hulle teruggekom het. Ook die agterdeur hoor oopgaan, die stortkrane en kasdeure in die spaarkamer gehoor. En ’n ruk later die Toyota hoor ry. Daarna was dit doodstil.
Het hy sy goed kom haal? Hy het gesê hy gaan naweke na daardie vrou toe, maar nadat sy soos ’n viswyf tekere gegaan het en hom verwyt en veroordeel het, het hy seker besluit om permanent by die fisioterapeut in te trek. Skok het veroorsaak dat sy beheer verloor het. Sy moes nie so aangegaan het nie en hom kans gegee het om te verduidelik, by hom gepleit het om te besin. Nou het sy hom weggedryf, in daardie flerrie se arms in …
Nikka staan op en gaan kyk in die spaarkamer. Sy klere is nog in die kas en die tas bo-in weggepak. Sy het geen reg gehad om hom weg te jaag nie, besef sy. Dis sy huis ook, waarvan hy meer as die helfte betaal het. Hy het alle reg om hier te bly; selfs ná die egskeiding saam met sy nuwe vrou hier te bly.
En sy? Waarheen moet sý gaan? By haar ma intrek of in ’n goedkoop eenkamerwoonstelletjie in die stad? Dit beteken sy sal nie met Piekepiekniek kan voortgaan nie.
Sy kry haarself baie jammer en gaan kruip weer onder die duvet in. Vir die eerste keer verstaan sy haar ma se pyn, haar vernedering en bitterheid. Haar ma het ’n soortgelyke situasie as hierdie deurgemaak, boonop met ’n hoop skuld en ’n vyfjarige kind wat sy alleen moes grootmaak.
Haar ma mag nie weet van Ruan nie. Later, ja, maar nie dadelik nie, nie terwyl alles nog so rou is nie. Sy het haar trots en selfrespek, en sy weet wat haar ma se reaksie sal wees: “Ek het jou mos gewaarsku! Mans is almal so, vol luste en drange wat hulle nie kan beheer nie. Soos mannetjieskatte.”
Haar keel voel dik en sy sluk. Is Ruan ook so, soos haar ma altyd voorspel het? Blykbaar … Maar nie alle mans nie. Nie Thys nie, daarvan is sy oortuig. Thys is eerlik en ordentlik, soos Ruan was voor daardie goedkoop slet hom onder hande geneem het. Létterlik onder haar masseringshande gekry het …
In Nikka se gedagtes vorm ’n prentjie van die vroulike fisioterapeute wat sy tydens rugbywedstryde op televisie gesien het, dié wat in geval van ’n besering of spierkramp met ’n mediese sak op die veld draf. Gewoonlik sulke mooi geboude meisies – slank en lenig, met blonde hare in ’n poniestert, in drafskoene en ’n kortbroek wat hulle mooi bene wys. Haar hart krimp inmekaar toe sy die Stefni-meisie in Ruan se bed visualiseer. Sy smoor die toneeltjie in haar gedagtes en dwing haarself om aan ander dinge te dink.
Thys weet van die meisie. En Ruan se ouers? Hulle gaan geskok wees. Soos almal wat Ruan ken, want niemand het so iets van hom verwag nie.
Wat het Stefni wat sý nie het nie? Of is dit die sogenaamde sewe-jaar-jeukerigheid waaraan hy ly ná sewe jaar van getroude lewe wat maak dat hy lus is vir ’n verandering?
Die foon lui ’n paar keer en Nikka verbeel haar daar’s ’n klop aan die deur, maar sy maak haar oë toe en druk haar kop onder die kussing in. Môre sal sy moed hê om die eerste dag van die res van haar lewe aan te pak; vandag is sy nog te lafhartig, te seer en rou.
Sy het dit nog nie verwerk hoe om sonder Ruan voort te gaan nie; hoe om nie oor te gee en vir altyd onder die duvet weg te kruip nie, of sommer ’n klomp pille te sluk nie. Dan is alles verby en sal sy nooit weer hierdie verskriklike pyn voel nie …
“Nikka!” praat ’n stem en daar’s weer ’n klop, dié keer aan haar kamervenster.
Sy maak nie haar oë oop nie. Dis nie Ruan nie. Nie sy stem nie. En hy is na Stefni toe. Al daardie aande wat hy kamma laat gewerk het, die kastige gholfnaweke en wegwedstryde wat hy moes bywoon, was alles leuens. Hy was by háár …
“Nikka! Ek weet jy’s hier. Maak oop!”
Ruan sou nie geklop het nie, want dis sy huis ook en hy het mos ’n sleutel …
Ver weg klink weer ’n stem. Die volgende oomblik stap Thys by die kamerdeur in.
“Nikka? Hoekom maak jy nie oop nie? Ek het my kneukels seer geklop!” sê hy bekommerd. “Ek het gebel en Ruan het gebel, maar jy antwoord nie jou foon nie. Ons dag jy’t iets oorgekom!”
Sy sit verward regop en vee haar hare uit haar oë. “Hoe’t jy ingekom?”
“Die agterdeur was nie gesluit nie. Dis onverantwoordelik van jou. Enige skelm kon ingestap het!” Hy buk vooroor om haar gesig te sien. “Is jy oukei, meis? Hoe lyk jy so deurmekaar? Het jy geslaap?”
Sy knik. Vanoggend se gebeure spoel soos ’n tsunami oor haar en sy druk haar gesig in die kussing.
Thys staan aarselend langs die bed, besluit dan te joos met wat ander mense sal dink. En as Ruan dalk toevallig instap, kan dit hom net goed doen. Hom laat wakker skrik …
Thys skop sy skoene uit en klim langs Nikka in die bed. Hy skuif tot teen haar, steek sy een arm onder haar bene in, die ander arm om haar rug en tel haar met duvet en al op sy skoot. Dis ’n sagte, louwarm bondel wat na vanielje en Lux-seep ruik. ’n Heerlik snoesige, kosbare bondel wat hy met albei arms teen sy bors troetel.
Nikka is te verstom om te protesteer. Dis so hemels om weer twee sterk arms om haar te voel dat sy haar aan die onverwagte luukse oorgee. Sy lê haar kop teen Thys se breë skouer terwyl trane ongehinderd oor haar wange stroom en nat kolletjies op die duvet maak.
“Ruan het … hy het …” probeer sy ’n verduideliking uitsukkel.
“Toemaar, ek weet,” antwoord hy gerusstellend. “Hy het my gesê. Toe nou maar … Alles sal regkom. Jou wiele is op die oomblik pap, maar môre kry jy ’n domkrag en ruil al die pap bande om. Môre skyn die son weer. Môre gaan ons koekies bak …” Terwyl hy sussend praat, wieg hy haar heen en weer en streel oor haar rug.
Is dít hoe dit sou gewees het wanneer sy as dogtertjie haar knie stukkend geval het en ’n pa gehad het om te troos? Nikka se arms kruip vol vertroue om Thys se nek en sy vroetel haar gesig in die warm holte tussen sy kakebeen en skouer in.
“Ruan is nie jou trane werd nie. Die blikskottel! Ek kan sy nek breek! Hy besef nie wat hy aan jou doen nie.”
Sy snuif en huil en blaas haar neus in die snesies wat Thys vir haar aangee uit die boks op die bedkassie. “Haar naam is … is Stefni.”
“Ja.”
“Ken jy haar?”
Teen sy skouer voel Thys hoe sy verstyf in afwagting op sy antwoord. “Nie eintlik nie. ’n Keer of wat met haar gepraat, dis al.”
“Hoe lyk sy?”
Hy het geweet die vraag gaan kom. “Valerig. Baie medium. Niks besonders nie.”
“Jy jok. Om my beter te laat voel.”
“Nee, ek is eerlik as ek sê jy is baie mooier as sy. Regtigwaar, min meisies kan by jou kers vashou. Jy is ’n man se droom wat waar geword het. Ruan moet sy kop laat lees. Trouens, dis wat hy self op ’n kol vir my gesê het.”
“Wat?”
“Dat hy sy kop moet laat lees. ’n Sielkundige gaan sien, of ’n berader.”
Dit laat Nikka regop sit. “Hoekom? Is daar iets verkeerd met hom?”
“Nee, sommer net omdat hy so deurmekaar is. Onderstebo en agterstevoor, noem hy dit. Asof ’n trein hom getrap het. Ek het mos die dag by die lapa vir jou gesê hy wroeg en hy gaan deur diep water.”
“Thys, dink jy hy wil met hierdie vroumens trou?”
Hy sug. “Ek weet nie. Ek het hom dieselfde vraag gevra.”
“En?” Haar kop ruk op. “Wat het hy geantwoord?”
“Dat hy nie weet nie, dat hy waaragtig te verward en te uitgerafel is om te weet. Dis hoekom hy in die spaarkamer ingetrek het: om eenkant, as’t ware op die kantlyn, te staan en objektief te kan funksioneer. Wees geduldig, mooiste. As jy hom wil hê, laat hom gaan. As hy na jou toe terugkom, weet jy hy het jou lief. As dit nie gebeur nie, weet jy dinge sou in elk geval nie veel langer tussen julle twee uitgewerk het nie, en hoe gouer jy dit uitgevind het, hoe gouer kan jy die deur agter jou toemaak en nuut begin. Jy is jonk en mooi en slim, jy sal maklik weer iemand vind. ’n Man wat jou waardeer, vir jou die sterre en die maan sal pluk as jy dit wil hê. ’n Man wat jou liewer het as wat Ruan jou liefgehad het.”
Sy wriemel dieper in die kromming van sy arm in, rek haar nek en gee hom ’n soentjie. “Jy is baie spesiaal, Thys, met ’n hart so groot soos Tafelberg.”
Hy veg teen die impuls om haar stywer vas te hou en terug te soen. Dis Ruan se vrou hierdie, herinner hy homself. Hulle het probleme, maar hulle is nog ’n baie lang pad weg van skei af. Tot dan behoort sy aan Ruan en is dit sý beurt om op die kantlyn te staan.
Druk die rooi knoppie en skakel af, Vorster! maan hy homself. Moenie jou verbeel jou Jeep is ’n Ferrari nie.
Nikka neem ’n laaste snesie en klad haar oë. “Jy is self ’n goeie kopdokter, en goed vir my moreel, dokter Vorster. Die vrou wat jou eendag vang, kan haar visstok raam. Hannah is ’n gelukkige meisie. Ek hoop sy besef dit.”
Voor Thys kan antwoord, lui sy selfoon. Hy verwens die ontydige onderbreking en tel Nikka af om deur sy sakke te vroetel.
Sy sit regop en vryf oor haar wange, wat seker rooi en gepof is. Sy kan dink hoe sy moet lyk. Ook maar goed Ruan is nie hier om haar te sien nie … Sy vee haar hare plat, trek die rekkie stywer om haar poniestert, en klim uit die bed om die snesies op te tel wat oor die vloer gestrooi lê.
Thys het by die venster gaan staan met sy rug na haar. Hoewel hy gedemp praat, hoor sy hier en daar sy kant van die gesprek.
“Oukei, ja … geslaap. Nie te danke aan jóú nie! Wat het jy verwag? Mos geweet … skok wees. Ja, natuurlik … gedink niks voel nie?”
Nikka verstyf. Praat hy met Ruan? Thys het netnou gesê hy en Ruan het ’n paar keer gebel en was bekommerd toe sy nie antwoord nie. ’n Teken dat Ruan tóg besorg is oor haar, tog nog omgee … Of is dit net omdat hy bang is sy het dalk van die dak afgespring en dat dit op sy gewete sal rus?
“Daaraan moes jy vroeër gedink het, ou bees! Dis nou te laat … Ek voel vere vir jou!” roep Thys kwaad uit. Hy skakel die foon af en draai om.
Nikka staan met groot oë. “Was dit Ruan?”
Hy knik grimmig.
“Hy het gesê hy gaan Pretoria toe. Is hy by … háár?”
“Nee, hy het van die kantoor af gebel. Daar was fotomateriaal en kopie van die toer wat dringend verwerk moes word.”
Wat nie elektronies versend kon word nie? Nikka is skepties. Sy huiwer, skaam om so iets vir Thys te vra. Maar hy is nie ’n vreemdeling nie en hulle ken mekaar tog al lank … Dis belangrik en sy wíl weet.
“Thys … Dink jy hulle slaap saam?”
Hy soek ’n broeksak om sy selfoon in te bêre. Dan begin hy die duvet noukeurig opvou.
Nikka kan nie besluit of hy eers nadink en of haar vraag hom in die verleentheid gestel het nie. “Julle mans praat mos reguit oor dié dinge,” voeg sy ligweg by om dit minder ongemaklik te maak. “Soos vrouens praat oor die nuwe supermarkbestuurder wat soos George Clooney lyk, of die held in ’n sepie wat sy stywe jeans netjies volmaak.”
Thys se een wenkbrou lig en hy grinnik. “Is dit die soort goete waaroor vrouens skinder terwyl hulle ewe soet sit en tee drink?”
“Soms. Het jy gedink dis net mans wat oor daardie soort goete praat? En jy en Ruan? Praat julle kaalkop met mekaar?”
“Is jy ook een van daai vrouens wat sepies kyk net ter wille van die held se stywe jeans?” terg hy haar.
“Mits hy ’n mooi sitvlak het wat daarin pas,” speel sy saam, maar haar rookgrys oë bly ernstig en sy kyk sonder skroom na hom. “Dink jy so … Ruan saam met daardie fisioterapeut?”
“Hy is nie die soort ou wat uit die slaapkamer praat of oor sy oorwinnings loop en spog nie. Ruan het te veel respek vir ’n vrou.” Thys mik deur toe. “Ek dink ons het elkeen ’n beker sterk koffie nodig. En wanneer laas het jy iets geëet?”
“Ek kan nie onthou nie.”
Thys gaan haar nie sê nie, besef Nikka. Óf hy weet nie óf hy is te lojaal om iets te herhaal wat Ruan vertroulik teenoor hom genoem het. Miskien is dit genadiger as sy nie die detail weet nie, mymer sy terwyl sy agter hom aan kombuis toe loop.
“’n Mens lees in die koerant van passiemoorde, van ’n vrou wat haar man en sy minnares op heterdaad betrap en trompop doodskiet. Ek het altyd gedink so ’n vrou is neuroties en hoort in ’n inrigting. Maar nou … as ek aan ’n ander vrou in mý man se bed dink, kan ek met daardie soort jaloesie en wraakgierigheid identifiseer.”
Thys soek in die kaste na koffiebekers, teelepels en ’n mes. “Moenie onnodige bobbejane onder ’n klip uitgrawe nie. Jy was lank genoeg met hom getroud en ken Ruan mos teen hierdie tyd.”
Maar Ruan het dit so te sê erkén, onthou sy. Hy en die Stefni-vroumens was vyf weke saam, ver weg van die huis af in hotelkamers. En Nikka weet haar man het beslis nie sneeuvlokkies in sy are nie. Inteendeel, sy vlampunt is laag. Net ’n skalkse kyk, ’n swaai van ’n wulpse heup … en die pot kook oor.
“Deesdae kom ek al meer agter hoe min ek hom ken. Ek het nie hierdie ding voorsien nie, Thys, en ek weet nie hoe om daardeur te werk sonder om van my kop af te raak nie.”
“Tawwe tye hou nie, tawwe mense wel. Jy is sterker as wat jy dink. Jy sal hierdeur kom, mooiste.”
“Hoe?”
“Werk. Deur besig te bly.” Hy sit ’n sny brood met grondboontjiebotter daarop voor haar neer. “En kry kos in jou maag, voor jy omval.”
“Ek hou nie van grondboontjiebotter nie,” mor sy.
“Hoekom het jy dan ’n bottel vol daarvan gekoop?”
“Ruan het dit gekoop.”
“’n Mens kan nie altyd doen net waarvan jy hou nie. Eet daardie stuk brood; dit sal jou nie doodmaak nie.”
Nikka trek ’n gesig, maar neem gehoorsaam ’n hap. “Ja, dokter Vorster. Sekerlik, dokter Vorster.”
Hy skink die koffie en kom oorkant haar by die ontbyttoonbank sit. “Ek het vir jou ’n spookasemmasjien gebring.”
Die grondboontjiebotter sit aan haar verhemelte vas. Sy kou langtand aan nog ’n hap. “Om wat mee te maak?”
“Spookasem. Vir Saterdag se partytjie.”
“Daar gaan nie ’n partytjie wees nie, ek gaan nie voort met Piekepiekniek nie.”
“Natuurlik gaan jy. Jy het die ma en klein Tessa belowe, jy kan hulle nie teleurstel nie. Jy het die geld nodig, die afleiding en die reklame. Het jy al daardie werk met die lapa, die perdekarretjie, die pad en die kapokkies, die webwerf en ek weet nie wat nog nie, puur verniet gedoen? Ek dog jy het murg in jou pype, meis. Maar lyk my dis slap jellie.”
Nikka sluk die laaste stuk brood met ’n sluk koffie af. “Ek hou nie van jou as jy ’n boelie is en jou gewig rondgooi nie.”
Thys is min gepla. “Ek gee nie om nie. Hierdie is nie ’n gewildheidskompetisie nie.”
Sy gluur hom aan. “Hannah is nie so ’n gelukkige meisie as wat ek gedink het nie. Loop jy met jou paar groot voete dwars bo-oor haar gevoelens ook?”
“Nee.”
Dit maak haar kwater. “Hoekom nie? Hoekom op mý pik?”
“Omdat Hannah sag en inskiklik is,” antwoord Thys onverstoord. “Nie so stroomop en hardkoppig soos jy nie. Ek hou ook nie van jóú as jy so nukkerig en moerig is nie.”
Nikka wip haar. “Dis jy wat my so maak!”
Thys lag, leun oor die toonbank en vryf haar kuif deurmekaar sodat dit regop staan. “Daarso, nou pas jy in die rol van ’n kapokhaantjie.”
Nikka se hand skiet uit om dieselfde met sy hare te doen, maar sy reflekse is vinniger. Hy vang haar hand, dop dit om en druk ’n soentjie in haar palm. “’n Wipstert- fraaie kapokhennetjie …”
Sy gluur hom nog ’n paar oomblikke aan. “Jy geniet dit om my kwaad te maak!”
“Ja,” erken hy met ’n lag. “Jy sou in elk geval niks reggekry het met my borselkop nie.”
Sy gee oor en lag saam. “Skies vir die moerigheid, maar daar was sterk provokasie.”
“Ek moes hard praat. Mooi woordjies sal nie die kar deur die drif trek nie.”
“Kar? Ek dag dis ’n wá.”
“Dis Ouperd se blou karretjie. Jy sal moet aangaan, want jy kan hom nie sy belonings ontneem of vir Andries die kans om met sy sweep en kruisbande te spog nie. Ek het mos netnou vir jou gesê môre skyn die son en dan bak ons koekies. Dis jou domkrag. Wat sê jy, wipstert? Gaan ons die pap wiele omruil?”
Nikka se oë is skielik mistig. “Dankie vir die spookasemmasjien. En dankie dat jy hier is, dat jy so geduldig is en my nie maan toe stuur soos ek verdien nie.”
“Dis ’n plesier,” antwoord hy. “Jy weet ek gee vir jou om, kapokkie.”
“Uit plig meer as plesier, ter wille van jou en Ruan se vriendskap. Maar ek wil hê jy moet weet ek waardeer jou hulp en bemoediging. Daarsonder sou ek wielloos onder in die drif bly sit het.”
Thys gee haar ’n langsame kyk. “Wie sê dis slegs ter wille van my en Ruan se vriendskap?”
Nikka is ’n oomblik van stryk terwyl sy blik hare vasvang. Daar is ’n ander soort uitdrukking in sy oë wat sy nie ken nie. Nie kan peil nie.
Sy maak haar mond oop om te antwoord, sonder om te weet wat sy wil sê. Vra wat hy daarmee bedoel? Of voorgee dat sy nie die subtiele nuanse in sy stem herken het nie? Die gelaaide stilte tussen hulle rek uit, terwyl sy en Thys na mekaar staar met ’n nuwe soort bewuswording wat soos ’n elektriese stroombaan tussen hulle strek.
Sy sien ’n flikkering in Thys se oë, sien hoe sy ooglede halfmas sak toe hy na haar mond kyk. Haar vingers kramp om die leë, louwarm koffiebeker. Sy ken daardie dralende, broeiende manier van kyk wat mans kry. Weet wat dit beteken … Haar vroulike instink herken die vonk, die magnetisme, die smeulende elektrisiteit wat onverwags tussen hulle twee ontspring het.
Wat maak sy as hy vooroor leun en haar soen? Want hy gaan, sy weet dit. Weet dit kom … Maar weet nie hoe sy gaan reageer nie. Dis of sy nie ’n wil van haar eie het nie, asof die oeroue Eva-instink haar logiese denke oorheers.
Die uitdrukking in Thys se oë hipnotiseer haar en Nikka kan met die beste wil ter wêreld nie haar blik van syne wegskeur nie. Daardie slap jellie waarmee hy netnou gespot het, lê haar hele lyf vol sodat sy werwelloos en willoos voel …
Dis Kattebol wat tot haar redding kom. Dié kom ingetrippel, stert in die lug soos ’n antenne, spring op die ontbyttoonbank en vly haar met ’n luide miaau teen Nikka aan.
“Sy’s honger.” Nikka is verlig dat haar stem normaal klink, asof haar binneste nie ’n maalkolk is nie, vol bruisende stormwater soos ’n rivier wat afkom. “Ek beter haar kosgee.”
“Ja, gee jou kat kos.” Thys se stem is niksseggend en dit lyk of hortjies oor sy oë gesak het. Hy draai weg, neem die bekers en gaan spoel hulle in die wasbak uit.
Nikka soek in die kas ’n blikkie tuna, dankbaar dat haar bene weer normaal funksioneer. Natuurlik sou sy Thys weggestoot het as hy enigsins probeer het om haar te soen, hom ferm vertel het dis verbode. Daar is nie sprake dat sy sou stilgesit het en hom toegelaat het nie. Natuurlik nie!
Hy is haar ou-ou, jare lange skoolvriend, soos ’n broer vir haar. En mens soen nie jou broer nie. Thys se gevoelens vir haar is ook soos dié vir ’n jonger sussie. Dit was sommer haar verbeelding. Wensdenkery, omdat sy so bitterlik na ’n aanraking van Ruan verlang.
Thys leun teen die opwasbak, hande in sy broeksakke, terwyl hy ’n toonlose deuntjie fluit. Nikka loop verby om die bliksnyer uit die laai te haal, maar hulle praat nie en sy kyk nie na hom nie. Toe sy buk om die kat se bakkie op te tel, merk sy daar is kos in – ’n paar lepels tuna waaraan nie geraak is nie. Sy kyk in die yskas. Die res van die blikkie is netjies toegemaak en gebêre.
En buite by die agterdeur is mielies gestrooi vir Haandrik. Ruan? Sy onthou sy het hom met Andries hoor praat voor hy gery het, seker in verband met die geute of nog vrugtebome wat gesnoei moet word. Is dit wat hy bedoel het met sy huishoudelike pligte wat hy sal nakom? Van Maandae tot Vrydae. Naweke gaan hy na Stefni toe … Om sy manlike pligte dáár na te kom? Seker aangenamer as geute skoonmaak en bome snoei. Sy dwing haar gedagtes weg.
“Die kat het kos,” merk sy op.
“Ek sien so.” Thys se stem is net so niksseggend soos hare. Hy sit die bliksnyer terug in die laai.
“Sy was nie honger nie, sy wou net aandag hê.”
“Blykbaar.”
Soos twee beleefde vreemdelinge … Iets tussen ons het verander, besef Nikka. Sy weet nie wat dit is en hoe om dit te hanteer nie.
“Ek sal jou vir die spookasemmasjien betaal,” bied sy aan.
“Jy hoef nie.”
“Ek kan nie aanhou presente van jou aanvaar nie. Die Volla se onderdele gaan seker heelwat kos.”
“Ruan het my ’n blanko tjek gegee.”
“Dis nie nodig nie, hy’s nie verantwoordelik vir my onkostes nie.”
“Hy’s jou man en wil vir jou sorg. Gun hom dit, mooinooi. Ruan wil dit graag doen, al is dit net om hom minder soos ’n boef en ’n rugsteker te laat voel.”
Nikka hou die kat se warm lyf teen haar vas en streel oor die sagte pels. “Hy is nie meer my man in die ware sin van die woord nie. Ons is van tafel en bed geskei. Binnekort dalk wettig geskei.”
Geskei. Sy is verbaas dat die woord so geredelik gekom het. Twee keer … Sy vorder. Darem nie meer ’n huilende jellievis onder ’n duvet nie.
Thys kyk op sy horlosie. “Ek moet gaan werk. ’n Resensie skryf oor die nuwe Jeep Wrangler. Die beste waarmee ek tot dusver vorendag kon kom, is: ‘Die lug is blou en dié is die Jeep vir jou.’ ”
Gister nog sou Nikka gelag het. Maar haar sin vir humor is weg, saam met Ruan. Haar gedagtes bly om hom maal.
“Ek het vanoggend soos ’n vuurspuwende berg uitgebars,” erken sy. “Dink jy hy sal weet dit was van skok, dat ek nie al die lelike goed bedoel wat ek gesê het nie?”
“As jy ontplof het, het jy goeie rede gehad. Hy verdien om onder ’n aswolk te versmoor.”
“Moenie kant kies nie. Ek wil nie tussenbeide kom in julle vriendskap nie.”
“Jy is reeds.”
Thys gee haar nie kans om vrae te vra nie. Hy tel sy sleutels op. “Gaan jy koekies bak? Jelly Tots en Smarties koop? Tessa se ma bel en die piekniek bevestig?”
Sy knik.
“Mooi so!” Hy buk af en soen haar skrams op die voorkop, soos dit ’n ondersteunende broer betaam. “Sien jou Saterdag.”