Читать книгу Satyn Omnibus 8 - Ettie Bierman - Страница 6
3
ОглавлениеDie bakkie is ’n fees. ’n Ongekende luukse en ’n onontbeerlike noodsaaklikheid. Nikka koop tuintafels en -stoele, ’n gasyskas, breekware en mandjies, en ry dit self aan om afleweringskoste te spaar. Tussen Thys, Andries en die stootskraper-buurman is daar telkens genoeg bultende spiere om te help aflaai.
Toe sy ’n keer tuis is, by die kombuistafel besig om haar debiet- en kredietstate te balanseer, lui die foon. Ruan! is haar eerste gedagte. Die bloed bruis skielik soos sjampanje deur haar are. Vandag was ’n vrugbare en positiewe dag, dalk kom daar nóg goeie nuus. Dalk sê Ruan hy verlang …
Nikka val byna oor Wieldop in haar haas om by die foon te kom. Hy het eergister darem ook gebel om te sê hulle is in Brisbane en die Bulls speel môre teen die Queensland Reds. Die Reds is hierdie seisoen goed op dreef, maar die Bulls behoort te wen … Dit was wonderlik om sy stem te hoor, al het hy heeltyd oor die rugby gepraat en oor die weer, asof hy bang was die gesprek raak meer persoonlik.
Nikka het na elke nuanse in Ruan se stem geluister en haar verbeel sy kan sy asemhaling hoor, selfs dalk sy hartklop. Sy naskeer ruik … Die assosiasie het hom meteens naby laat voel en sy het ’n prentjie van hom gevisualiseer daar waar hy in sy hotelkamer was. Ruan sit nooit terwyl hy met ’n selfoongesprek besig is nie; hy is te rusteloos. Hy loop op en af en hou die foon met sy linkerhand vas, sy kop effens gekantel. Terwyl hy praat, wys die kuiltjie in sy ken en trek sy mond aan die hoeke op, asof hy glimlag.
Daardie lieflike, sensuele, soenbare mond van hom wat sy nooit kan weerstaan nie … Sy is altyd lus om aan hom te vat – ’n vryf, ’n streel of ’n drukkie. Iets moois vir hom te sê, sodat hy haar kan vashou en ook ’n druk kan gee. Haar soen … Selfs net ’n ligte piksoentjie is genoeg om haar temperatuur op te jaag en haar hart te laat tamboer.
By ’n funksie of ’n partytjie, wanneer Ruan by ’n groep mense staan en gesels, sien sy soms hoe takserend ander vroue hom op en af kyk, selfs openlik by hom aanlê. Nikka het nie omgegee nie. Sy was eerder geamuseerd, want dis wat sy self wou doen: vir haar man flikkers gooi en hom verlei.
In die motor op pad huis toe styf teen hom nestel, sy hemp optrek en met haar kaal hande oor sy bors en plat, gespierde maag voel. Te streel en te vryf … Te voel hoe sy lyf reageer: sy asemhaling wat versnel, sy maagwand wat stywer span, hard word en warm teen haar oopgespreide palm stoom. Sy oë vonkelgroen en intens, en sy hand wat elke keer wanneer hy van rat verander talmend teen haar knie en haar bobeen skuur. ’n Heerlik opwindende en uitlokkende voorspel vir wat albei geweet het netnou gaan kom wanneer hulle by die huis is …
Nikka gryp die selfoon, haar hart borrelend van vreugde en optimisme. “Hallo!” antwoord sy uitasem.
“Hallo, is dit Nikka?” vra ’n vreemde vrouestem.
Nikka se hart gaan in ’n bedeesde bondeltjie lê. Sy is so teleurgesteld, sy wil in ’n hoekie kruip en ’n kussing oor haar kop trek. Sy was so positief en vol moed …
“Dis reg, ja,” antwoord sy.
“Nikka van der Hoven van Piekepiekniek?” maak die vrou seker.
Nikka skok penorent. Sy vergeet van die hoekie waar sy wou inkruip en haar hart word lig in haar bors. “Dis korrek. Hoe kan ek help?”
“Doen julle kinderpieknieks?”
Nou skop haar brein ten volle in en vuur op al sy silinders. Tot op hede is daar nog geen “julle” nie en is dit ’n eenman-onderneming wat nog niks “doen” nie. Behalwe servette soom, resepte uitsoek, die padskraper dophou, die kapokkies voer en na haar man verlang …
“Kinderpieknieks?” herhaal sy flink. “Sekerlik!”
“Het julle dalk ’n opening vir volgende Saterdag, die middag?”
“Hou aan, ek blaai gou deur my dagboek …” Amateuragtig, kritiseer sy haarself. Dagboek? Dit klink soos ’n tiener op haar eerste afspraak met ’n kêrel. Sy moes vooraf beplan het hoe om ’n navraag professioneel te beantwoord.
Om te vergoed gesels Nikka vriendelik, met wat sy hoop ’n bekwame stemtoon is. “Saterdag die 20ste? Ja, ons het die middag oop. Hoeveel gaste het u in gedagte gehad, mevrou … e …”
“Viljoen. Janet Viljoen. Seker so tien? Dis my seuntjie se vierde verjaarsdag en ek wil graag al sy maatjies by sy speelgroep nooi. Sal julle so iets kan hanteer?”
“Dis geen probleem nie. Tien is ’n lekker ronde getal, maklik hanteerbaar. Hoe laat die middag?”
“So … drieuur?”
“In die haak. Watse soort verversings het u in gedagte gehad?”
“Joe, ek weet nie … Wat het julle alles?”
Janet Viljoen is net so onseker soos sy, besef Nikka, en haar selfvertroue kry ’n hupstoot. Nie grootkoeke en terte nie, raai sy. Kolwyntjies met helder versiersuiker, handtertjies en lekkergoed soos Smarties en Jelly Tots. Tjips en kaaskrulle. Roomys. En rooi koeldrank, het sy iewers gelees.
Maar daar moet ’n verjaarsdagkoek wees! Vir ’n seuntjie in die vorm van ’n lokomotief of ’n lorrie. En malvalekkers met gesigte en liquorice-sterte sodat hulle soos muise lyk. Sy gaan haar verbeelding vrye teuels gee en heerlik speel!
“Het u ’n e-posadres, mevrou Viljoen?” vra sy. “Sodat ek vir u ’n paar spyskaarte kan stuur om van te kies?”
“Noem my sommer Janet. Dit sal gaaf wees. Ek het nie eintlik ondervinding van kinderpartytjies nie, maar my man het julle webwerf op die internet gesien en gedink dis ’n oulike idee, veral vir stadskinders. ’n Plaasatmosfeer met ’n perdekarretjie en hoenders en ganse …”
“Daar’s nog ’n lang lys diere. Hordes honde, ’n kat en ’n skilpad, ’n mak meerkat en natuurlik Ouperd. ’n ‘Petting zoo’, noem hulle dit.”
“’n Troeteldieretuin? Dit klink ideaal. Hennie gaan hom gate uit geniet!”
Terwyl hulle oor pryse praat, werk Nikka se brein oortyd. Die lapservette sal nie vir sulke outjies werk nie. Daar moet helderkleurige papierservette wees, waarmee hulle kan mors. Plastiekglase en ballonne. ’n Snaakse hoed of mombakkies vir elke outjie, en vir die maatjies geskenkies om huis toe te neem … Die adrenalien pomp en idees flits soos missiele deur haar kop. Piekepiekniek se eerste kliënt! Sy kan dit nie glo nie.
Toe sy die selfoon neersit, hol Nikka kombuis toe en gryp haar resepteboeke, kinderboeke en sprokiesboeke en begin soek na idees. Gelukkig gooi sy nooit ou tydskrifte en mooi prentjies weg nie, al spot Ruan sy’s soos ’n kraai: dra als nes toe aan.
Ruan! Al is hy kwaad en afsydig, wil sy die goeie nuus van haar eerste piekniekpartytjie met hom deel. Nie om te wys hy’s verkeerd en dat haar projek werk nie. Sommer net om sy stem te hoor en haar te verbeel hy is nie aan die ander kant van die aarde nie. Miskien stem haar sukses hom in ’n meer positiewe luim; miskien sê hy hierdie keer iets moois om haar gerus te stel. Dat hy lief is vir haar, dat hy nie bedoel het wat hy gesê het voor hy weg is nie.
Nikka bel halsoorkop, voor haar moed haar begewe. Sy selfoon lui lank. Sy tel die luie en is op die punt om dood te druk toe ’n vrouestem antwoord. Half kortasem, asof dit ontydig is, of sy ver moes hardloop.
“Hallo, Ruan van der Hoven se selfoon. Hy is ongelukkig nie beskikbaar nie. Kan ek ’n boodskap neem?”
Nikka voel soos iemand wie se roomys op die grond geval het. Sy wou so graag met hom praat, haarself verbeel het alles gaan regkom en dat niks tussen hulle skort nie. “Nee,” antwoord sy bot en plak die foon neer.
Wie is die vroumens? En wat maak sy met Ruan se foon? Bedaar, maan sy haarself. Moenie oorhaastige afleidings maak nie. Dis nou vieruur die middag in Brisbane. Nie middernag in sy hotelkamer nie. Hy is waarskynlik in ’n perskamer of, as dit rustyd is, besig met onderhoude in die spelers se kleedkamer. Ruan is besig en hy werk hard. Daarvan getuig die ellelange rugbyberigte in Weeknuus se sportbylaag, wat sy getrou woord vir woord lees en bêre.
Nikka bel vir Thys, maar daar is nie antwoord nie.
Sy wil haar goeie nuus met iemand deel. Oplaas bel Nikka haar ma, wetend sy is bekommerd oor haar en Ruan se finansies. Sy voel skuldig omdat sy haar ma afskeep. Sy was die afgelope tyd gereeld in Pretoria by die winkels en kon gaan kuier het. Moes seker. Haar ma is eensaam en dis nie ’n verskoning om te sê sy was elke keer haastig nie.
Die waarheid is dat sy haar ma vermy omdat sy bang is vir vrae. Haar ma ken haar en sal dadelik weet daar is fout – groter fout as net die gewone botsings en meningsverskille tussen haar en Ruan. Na die langnaweek in die Drakensberg kon sy sien haar ma is onrustig, haar oë bly vol vrae en sy glo nie die storie dat alles nou weer reg is tussen haar dogter en skoonseun nie.
Die feit is: haar ma het selde ’n goeie woord vir Ruan gehad. Hy was té alles, het sy voorgehou. Té aantreklik, té sjarmant, té gewild. Veral onder die Evasgeslag. Jy kan daardie soort man nie vertrou nie, het sy gewaarsku. Hy is openbare besit. Natuurlik gaan die Delilas en Jesebels vir hom ogies maak, dis in hulle aard. En natuurlik sal hy gevlei voel en die aandag geniet, dis ook in sý aard. Mans is mans … Nege en negentig keer sal hy miskien sterk staan en sy beloftes voor die kansel respekteer. Maar die honderdste keer gaan hy kop verloor en met sy lyf dink. Gaan hy vat wat vir hom op ’n skinkbord aangebied word. Gaan hy oor die hek loer en oor die draad klim.
“Soos jou pa,” het sy elke argument met ’n klinkklare bewys afgesluit. “Die versoekings het net te veel geword – die sappe en die luste. Die hek was te wyd oop en die draad te laag.”
Nikka wou liewer nie vra wat “die sappe en die luste” was nie, bang haar ma vertel haar. Die woorde het verskil, maar die storie was elke keer dieselfde, en haar ma het dit geniet om aan die einde triomfantlik by te las: “… oorklim en ’n kooispringer word! Soos jou pa met daardie flerrie-slet van hom.”
Hoe kan sy by haar ma bieg dat die naweek in die Drakensberg ’n klug was? Hulle het oor die uitsig gepraat, die staproetes en die plantegroei, die weer en wat hulle die aand gaan braai. Oor alles ewe versigtig saamgestem, beskaafd en beleefd; sonder om by die kern van hul verbrokkelende verhouding uit te kom. Gehoop vanaand in die bed gaan hulle probleme vanself opgelos word …
Hoe kan sy haar ma vertel Ruan praat van skei? Dat ’n vreemde vrou aan die ander kant van die aarde sy selfoon geantwoord het? Haar ma het nog nie eens met haar eie egskeiding van meer as twintig jaar gelede vrede gemaak nie, sy sal nie haar dogter s’n ook nog kan verwerk nie.
Nikka het nie haar pa geken nie, sy was te klein toe haar ouers uitmekaar is en kort daarna is hy in ’n motorongeluk dood. Sy het ’n vae beeld van hom: groot en bonkig. Dikwels lang tye van die huis af weg, terwyl haar ma met rooigehuilde oë deur die huis gedwaal het. Sy weet dat hy op ’n dag net sy tasse gepak het en vort is …
Op die troufoto agterin haar ma se spieëlkaslaai lyk hy aantreklik. Ligte hare, nogal ’n bietjie soos Ruan. Maar Ruan is nie soos haar pa nie. Haar ma is bevooroordeeld en onvergenoeg omdat sy as enkelma agtergebly het, finansieel gesukkel het en alleen hulle kind moes grootmaak. Omdat sy self seergekry het, wantrou sy alle mans.
Dís waarom Nikka nie die afgelope paar weke by haar ma gaan kuier het nie – omdat sy nie negatief beïnvloed wil word ten opsigte van haar man wat wil oppak en haar los nie. Sy wil vir hom lief bly, wil hom vertrou en haar wankelende huwelik probeer red.
Nikka se gedagtes was ver weg en sy kom met ’n skok terug toe haar ma die telefoon antwoord. Natuurlik, sy was besig om haar ma te bel, om haar van Janet Viljoen se oproep te vertel …
“’n Kinderpartytjie?” sê haar ma. “Dis wonderlike nuus, kind! Ek is saam dankbaar! Jy weet nie hoe ek snags wakker gelê het nie.”
“Ek ook,” erken Nikka. “Naels gekou en gebedjies gebid.”
“Die engeltjies is goed vir jou. Maar die engeltjies gaan nie die werk doen nie. ’n Kinderpiekniek vir tien woelige kleintjies plus ’n groepie ma’s is ’n groot hap wat jy afbyt. Volgende Saterdag gee jou skaars ’n week tyd en dis min vir al die werk wat voorlê. Wil jy hê ek moet kom help?”
Hulle sal so besig wees, dit sal min tyd laat vir netelige vrae, dink Nikka. Wat sy van kosmaak weet, het sy van jongs af aan moedersknie geleer. Maar sy is beter met kookkos en konkoksies, terwyl haar ma bakwerk verkies. Sy is ’n baasbakster, wat al pryse gewen het vir haar skilferkorsdeeg, troukoeke en soetgebak.
“As jy wil, sal ek die verjaarsdagkoek bak,” bied haar ma aan, soos Nikka gehoop het.
“Ek wil, asseblief. Groot asseblief! Kom vir ’n paar dae en help my met die ander goed ook. Ek sal vir Ma ’n groot present koop.”
“My grootste present sal wees as jou pieknieks ’n sukses is, as jy ’n inkomste genereer en finansieel op jou eie voete staan.”
“Ja, Ma.”
“En as vrou minder afhanklik is van jou man se giere en nukke.”
“Ruan het nie baie nukke nie, Ma.”
“Solank hy sy sin kry. Maar gaan hom teë, en die heuning en gouestroop droog baie vinnig op.”
Nikka stuur die gesprek in ’n ander rigting. “Ek ken eintlik net hoërskoolkinders, soos dié vir wie ek skoolgehou het. Waarvan hou vierjarige seuntjies? Lokomotiewe en brandweerwaens?”
“Bietjie afgesaag. Kies iets meer oorspronklik vir ’n eerste poging, om vir jou ’n spysenieringsnaam op te bou. Kies ’n sentrale tema wat reflekteer in die koek, die versierings en die res van die verversings. Wat van ’n dieretema? Wilde diere? ’n Koek wat soos ’n luiperd lyk? Siende dat jy dit op ’n hoewe aanbied, half in die veld tussen die bosse, is so ’n tema gepas.”
“Uitstekend!” stem Nikka entoesiasties saam.
Haar ma was lank betrokke by die Vrouediens en Landbou-unie. Sy is bekwaam en ervare en dit was ’n slim gedagte om haar te betrek. Haar ma sal dit geniet om besig te wees en nuttig te voel. As hulle so saam-saam werk, gaan dit hulle ook nader aan mekaar bring. Solank haar ma net nie soos gewoonlik weer oorneem nie, te veel in haar persoonlike lewe krap en arme Ruan kritiseer nie.
“Ek sal ’n paar stukke klere in ’n tas gooi en vroeg môreoggend oorkom, dan kan ons voortydig begin,” sê haar ma.
“Liewer vroegmiddag. Ek gaan môreoggend eers weer winkels toe om klein tafeltjies en stoeltjies te koop, soos dié by kleuterskole. En ’n erdeskottel en lampetbeker vir hande was. En hondekos en hoenderkos. Die spulletjie eet my bankrot!”
“Ja, daaraan dink mans mos nie. Piekel ’n string troeteldiere aan en bekommer hulle oor niks verder nie, die arme vrou moet maar sien en sorg.”
Nikka tel tot by tien; dit help dat sy haar ma nie ’n skewe antwoord gee nie. Maar dit laat haar skuldig voel. Is sy dan van nature humeurig en opvlieënd? doen sy onwillekeurig selfondersoek. Dan was Ruan waarskynlik reg: dat sy die blaam moet dra vir hulle verhouding wat verswak het. ’n Ontstellende en versoberende gedagte.
Dit was nie alles my skuld nie, peins sy. Maar ek sal aan my gesindheid en menseverhoudings werk. Ek is nie ’n feeks en ’n suurknol nie, dit was omstandighede. Die skool het my reserwes uitgeput en ons albei was moeg en gestres. Ruan is my man en ek het hom lief. Hy is die middelpunt van my bestaan. Ek gaan veg om hom te behou, want ek sien nie kans om sonder hom aan te gaan nie. Dis net ’n laagwaterdriffie waardeur ons ry, ’n pap band op ons pad. En ek gaan daardie band regmaak. Mysélf regmaak …
“Dankie dat Ma kom help,” sê Nikka, en bedoel dit opreg. “Ek waardeer dit. Sonder Ma se hulp sou ek regtig met my hande in die hare gesit het. As’t ware neergestort het nog voor ek opgestyg het.”
“Dis ’n plesier, kind. Jy moes lankal net gevra het.”
“Ek wou nie pla nie.”
“Dis ’n ma se voorreg om deur ’n kind gepla te word. Onthou dit en moenie skuldig voel nie. Jy weet mos ek geniet bakwerk en om besig en betrokke te wees. Ek sal klein soetkoekies bak en tertjies en beskuit. Sorg jy net dat ons al die bestanddele het.”
“Ek sal solank ’n lys maak, ook van ekstra items soos servette, papierborde, ensovoorts. Wat ek vergeet het, kan ons sommer hier by die supermark op Schoemansville kry. Die kuiertjie gaan heerlik wees! Sien Ma so teen drieuur, betyds vir koffie en melktert.”
Onmiddellik nadat Nikka die selfoon doodgedruk het, lui dit weer. Dis Ruan, soos sy gehoop het.
Hy groet skaars. “Wat is verkeerd? Hoekom het jy my gesoek?” wil hy bekommerd weet.
So, hy gee darem om of sy oor die kop geslaan is of ’n blindedermaanval of iets gehad het. Dié wete laat ’n warm gevoel in haar nesskop. Dit laat lig die swaarmoedigheid wat soos ’n nat kombers om haar gehang het sedert hy weg is.
“Niks is verkeerd nie. Ek het gebel sommer net om jou asem en jou hartklop te hoor.”
“Oor ’n foon, duisende kilometer ver? Jy’t ’n ryk verbeelding.”
“En …” Haar stem is sag en pleitend. “Om te sê ek is jammer. Oor alles …”
“Ek is ook jammer, Nieks, meer as wat ek ooit sal kan sê.”
Sy woorde gee haar die moed om verder by hom te pleit. “Niks het verander nie. Ek het jou lief, Ruan, nog net so lief soos altyd. Liéwer! Asseblief, gee my ’n kans om reg te maak waar ek verbrou het. Ek sál, ek belowe.”
“Dis nie jy nie.” Dit klink of hy die mondstuk toedruk of sy kop wegdraai. Daar is ’n stilte en dan kom sy stem koel en saaklik: “Nou is nie ’n goeie tyd nie. Ek kan nie praat nie.”
Asof hulle skielik vreemdelinge is. Wat makeer daar? Hy klink onnatuurlik … Is hy besig of nog steeds afsydig, soos voor hy weg is? Nikka wil nie aan hom torring nie.
“Ek wou net sê ek het jou lief, ek wou jou stem en jou asem hoor. Maar die eintlike rede hoekom ek gebel het, is om vir jou goeie nuus te gee!”
’n Stem praat op die agtergrond, skerp en ontevrede. Dit klink na ’n vrou, maar Nikka kan nie mooi hoor nie.
“Luister … e …” Hy huiwer. “Dis moeilik op die oomblik. Kan ek later weer bel?”
“Natuurlik, enige tyd.”
So dís die probleem: daar’s blykbaar iemand by hom, in ’n dispuut of bespreking gewikkel. Maar hoekom bel hy as dit nie vir hom geleë is nie? Hoekom nie wag tot die persoon weg is nie?
In die ou dae sou Nikka haar vervies het en gevra het wat só belangrik is dat hy nie twee minute het om haar goeie nuus te hoor nie. Maar Ruan het teruggebel en hy was bekommerd oor haar welstand. Vir eers is dit genoeg.
Sy maak koffie en gaan sit by die tafel om haar inkopielysie te maak, terwyl sy wag dat Ruan weer bel. Wat was die “moeilike” omstandighede wat hy eers moes oplos? Sy wil nie daaroor tob nie en konsentreer liewer op versiersuiker, bakpoeier, meel, vanilla en eiers. En al die bérge ander goed.
Sy het omtrent ’n trok nodig en kan haar nie voorstel hoe sy sonder die bakkie sou reggekom het nie. Thys Vorster is die dierbaarste, meelewendste man wat sy ken. ’n Absolute skatlam. Hoekom het een of ander vroumens dit nog nie raakgesien nie? Daarby is hy ’n robuuste, manlike hunk van ’n ou. Elke meisie se ideale trou-man. Hoe is dit dat so ’n vonds nog los rondloop?
Of hét hy dalk ’n nooi? Hy praat nooit oor homself nie. Op ’n dag verras hy hulle dalk en kondig aan dat hy al maande lank met ’n diamantring in ’n fluweelboksie in sy binnesak loop, reg vir die groot vraag …
Nikka kou ingedagte aan haar pen. Dis logies dat enige normale, robuuste man een of ander tyd in sy twintigerjare tot trou sal kom. Thys is Ruan se ouderdom – op pad dertig toe. Hoekom is die gedagte dat hy ’n meisie het, in ’n verhouding wat hy graag permanent wil maak, so ontstellend vir haar?
Sy hou op kou en voeg onderaan haar lys by: Malvalekkers, suiker. Sy is tog nie jaloers nie, is sy? Op ’n onbekende meisie wat dalk nie eens bestaan nie? Wat maak dit saak as Thys trou? Hy is sy eie baas, hy skuld haar niks. Of wil sy Thys vir haarself gehad het? Gehad het hy moet vir háár wag?
Sy gooi die pen neer. Natuurlik nie! Sy is getroud, sy gaan nie skei nie. Selfs al wás sy beskikbaar, is Thys buite die kwessie. ’n Mens trou nie met jou broer nie.
Dis hoegenaamd nie jaloesie of besitlikheid nie, herhaal sy ergerlik teenoor haarself. Sy gun Thys geluk saam met ’n vrou vir wie hy lief is, gun hom kinders en ’n gesinslewe, soos sy en Ruan ook graag wil hê. Dis net dat sy bang is Thys kies verkeerd en trou met ’n vrou wat sy goedhartigheid misbruik. Hy is so ’n besondere ou, hy verdien ’n vrou wat besef hy is ’n ongeslypte diamant, duisend maal meer werd as daardie klip aan haar vinger.
Wieldop kom lê by Nikka se voete. “Oom Thys is groot genoeg en oud genoeg om vir homself te sorg, sonder dat ek my kop oor hom breek,” vertel Nikka vir hom en frommel sy ore. “Julle twee ouens is eenders – albei kosbaar en getrou – en het ’n spesiale plek diep in my hart.”
Dit word laat en sy trek al by haar derde beker sterk swart koffie, sonder dat Ruan weer van hom laat hoor. Sy tik drie voorlopige spyskaarte en e-pos dit aan Janet Viljoen om uit te kies. Dan eet sy ’n toebroodjie vir aandete en gaan tap vir haar badwater in.
Al het Ruan nie oor haar goeie nuus uitgevra of weer gebel nie, was dit steeds ’n vrugbare en positiewe dag. Sy het retrospeksie en introspeksie gedoen, haar man en haar ma en haar hond opnuut waardeer. Vyf goeie inskrywings aan die kredietkant van haar balansstaat.