Читать книгу Satyn Omnibus 8 - Ettie Bierman - Страница 9
6
ОглавлениеThys ken Nikka goed genoeg om daardie wipstappie te herken waarmee sy die kombuis binnekom. Hy is versigtig neutraal en drink eers rustig sy koffie klaar voor hy ongeërg opmerk: “Jy ruik lekker. Soos laventel …”
“Dis nie parfuum nie,” maak sy dit af. “Sommer ’n stuk roosmaryn uit die tuin wat ek in die badwater gegooi het.”
“Dan behoort hulle roosmarynparfuum te bemark, dit sal ’n blitsverkoper wees.”
Nikka gee hom net ’n kyk. Sy is nie meer ’n tiener van sestien wat gedurig komplimente nodig het om goed te voel nie. Geen wonder haar ma begin dink die man is verlief op haar nie. ’n Misgissing wat sy so gou moontlik in die kiem moet smoor.
Sy haal piesangs uit die yskas en begin slaai maak. Dan wil sy ewe luiters weet: “Wat het geword van daardie rooikop in matriek, die een wat altyd vir jou sjokoladekoek gebring het?”
Thys sug in vervoering en lek sy lippe af. “Sjokoladekoek direk uit die hemel – nogal met haar eie hande gebak!”
Nikka plooi haar neus. “Met haar eie hande gekóóp, waarskynlik by die tuisnywerheid om die hoek.”
“Ek glo nie. Sy’s ’n baasbakster – maak haar eie kaas en jogurt, en ’n appeltert wat behoorlik smelt in ’n ou se mond.”
Nikka gryp nog ’n piesang en kerf hom in stukke. “Sien jy haar nog?”
“Wie?”
“Die rooikop.” Sy smyt die skille in die vullisblik en klap die deksel toe. Wie anders? Dis mos die onderwerp onder bespreking. Wat hou hy hom so dig?
“O … Hannah?” vra Thys vroom. “Ja, ek sien haar gereeld. Sy werk by een van die buitelugtydskrifte; doen resensies oor wildreservate, 4x4-roetes, kampeertoerusting, ensovoorts.”
Nikka onthou Hannah van der Walt goed. Roesbruin hare en sproete, lank en fors gebou. ’n Goeie veldatleet wat uitgeblink het in gewigstoot. Bietjie mannetjiesrig, het hulle almal destyds gedink …
Is dit Thys se smaak, die soort meisie van wie hy hou? Hy praat mos nie oor sy privaat sake nie. Thys het nog nooit weer Hannah van der Walt se naam genoem nie en sy is verstom dat hy nog kontak met haar het – haar gereeld sien en blykbaar vir haar gaan kuier. Hoe anders weet hy van die kaas en jogurt en kastig smeltende appeltert?
“Is sy nie getroud nie?”
“Nog nie.”
“Sy is seker al amper dertig en ’n oujongnooi …” Nikka weet sy is katterig en sy kry haar verdiende loon toe Thys sy wenkbroue lig.
“Oud? Dan is jy seker ook al op pad daarheen. Hannah is jou ouderdom – agt-en-twintig. Trouens, ek dink sy is twee weke jonger as jy. Jy verjaar die tweede September en sy die sestiende.”
“Ek verjaar die éérste,” korrigeer Nikka bitsig. “Lentedag.”
Thys klap homself teen die voorkop. “Ai tog, ek vergeet elke jaar.”
Nicolet is by die wasbak, druk besig om skottelgoed te was. “Nikka bak ook appeltert,” laat sy skuinsweg oor haar skouer hoor.
“Ek weet,” antwoord Thys. “Glad nie sleg nie, maar hare kom nie by Hannah s’n nie.”
“Miskien moet sy vir Hannah haar resep vra.”
“Ja, en uitvind hoe om kaas en jogurt te maak.”
Nikka ruk haar op. “Ek hoef nie te vra nie, enige pampoen kan kaas en jogurt maak, dis makliker as om ’n eier te kook.”
Thys wil lag, maar verander dit haastig in ’n kug toe hy sien Nikka hou hom dop. Hy sit ewe onskuldig en aanskou hoe sy ’n slaaikop vermoor – dissekteer en onthoof. Hoe sy ’n bottel Franse slaaisous beetkry en dit hardhandig probeer nek omdraai. Hy sorg dat hy ver weg bly, buite bereik van die bloedlustige kapmes, voor hy raad gee: “Daardie is ’n oopknip-prop, nie ’n draaiprop nie. Gee hier dat ek help.”
“Jy hoef nie. Ek het nie ronde hande nie, ek sal self regkom,” antwoord sy koel en knoop weer die stryd met die bottel aan.
Thys stry nie, strek net vorentoe oor die tafelblad, neem die bottel by haar en maak die knip los. “Daarso, mooiste, voor jy jouself verongeluk.”
“Dankie,” mompel sy onderlangs.
Hy los nie dadelik toe Nikka die bottel by hom wil neem nie. “Skies, meis, as ek jou bloeddruk opgejaag het. Dit was net ’n bietjie terg,” sus hy haar. “Jy is onweerstaanbaar as jy op die oorlogspad is – as jou oë sulke blou blitse skiet en die donderweer my tref.”
“Noem jy dít terg?” Nikka se bloeddruk het nog lank nie gedaal nie. “Jy het ’n verwronge sin vir humor.”
“Ek weet, erger as ’n koeksister,” stem hy saam. “Agterstevoor en onderstebo. Maar ek kon die versoeking nie weerstaan nie. Ek het gehoop dit sal jou uit jou groef kry. Ek besef jy gaan deur ’n moeilike tyd en ek wou net help, al was dit op my verdraaide, koeksisterige manier.”
Nikka pluk die slaaisousbottel met geweld uit sy hand. “Help?” beskuldig sy hom. “Deur te sê ek is stokoud, ek bak slegte appeltert en is te dom om kaas en jogurt te maak? Deur daardie Hannah van der Walt se verjaarsdag te onthou, maar nie myne nie, en dan vir my te … te lág!” Op die laaste woord breek haar stem.
“Nee. Nee, meis!” Thys is net so ontsteld soos sy. “Dit was glad nie die idee nie.”
“Wát was die idee dan?”
Thys trap klei. Dinge verloop nie volgens strategie nie. Hy kyk hulpsoekend na Nicolet, maar dié lig magteloos haar skouers. Sy weet ook nie hoe nou verder nie.
Thys reik onbeholpe na ’n vadoek wat op die tafel lê. “Hierso, meis … Moenie huil nie.”
Nikka gryp die vadoek en smyt dit in die wasbak, waar dit hoort. Sy snork verontwaardig. “Wat het jou laat dink ek huil?”
“Niks nie. Ek weet mos jy is nie ’n tjankbalie nie.”
“Jy het van die tranedal by die lapa vergeet.”
“Dit was niks, net ’n bietjie hooikoors, en dit was lekker om jou te troos.”
Ook dít is die verkeerde antwoord. “Lékker?” Die blou blitse spat opnuut. “’n Sopnat hemp wat jou kroep op die bors gee? Is dit hoekom jy uitgespel het hoe ’n voorslag Hannah is, so wonderlik slim en handig, die presiese teenoorgestelde van my? Sodat ek weer begin grens en jy Superman kan speel en my troos?”
Haar raaiskoot is na aan die waarheid. Thys weet wat hy onder normale omstandighede sou doen om ’n soortgelyke situasie op te los. Maar hierdie is nie normale omstandighede nie. Nikka van der Hoven is getroud – met sy beste vriend. En hy is nie ’n rugsteker of ’n opportunis nie.
Daarom kan hy nie daardie blink trane op haar wimpers wegstreel, haar troetel en koester, in sy arms neem en vashou, haar soen soos hy al soveel jare begeer om te doen nie: met passie en hartstog wat die bloed deur sy are laat bruis. Soos sy verdien om gesoen te word. En soos haar man lankal nie meer doen nie. Ruan is ’n lojale en opregte vriend vir wie hy groot agting het. Maar dit waarmee hy besig is, is verkeerd. Onvergeeflik en onverskoonbaar. Hy kan nie begryp wat in sy vriend se kop aangaan nie. Dis so onsinnig, nie eens ’n sielkundige sal die warboel kan ontrafel nie.
Nicolet besef ook die strategie is besig om te ontspoor, maar as sy inmeng, stort die trein dalk van die brug af. Thys is ’n slim kind en sy hande staan vir niks verkeerd nie. Hy sal wel ’n plan prakseer. Ter versterking sit sy ’n vars beker koffie by sy elmboog neer, knipoog vir hom en maak haar uit die voete.
Thys gooi melk en drie opgehoopte lepels suiker in, roer dit om en om en proe aan die koffie. Dis te soet. Hy wys met ’n vinger na die slaaibak. “Jy het nou al drie keer sous oor daardie tamaties gegooi. Netnou eet ons slaaisop.”
Nikka sak in ’n stoel neer en masseer haar slape. “My gedagtes is op ’n ander plek. Ek dink nie wat ek doen nie. Ek weet jy bedoel dit goed, Thys. Dis net … dat ek so verskriklik bang is vir die toekoms.”
Alle terg verdwyn uit sy oë. Hy leun vooroor en reik na haar hand. Dis koud en klein, soos ’n babavoëltjie. Hy vou dit warm in syne toe en druk ’n soentjie op haar vingers. Na ’n oomblik van huiwering vra hy simpatiek: “Het jy al weer iets van hom gehoor?”
Nikka knik. “’n E-pos uit Hamilton, op pad Waikato-stadion toe.”
“Teen die Chiefs? Dit was ’n maagseerstryd. Die Bulls het naelskraap gewen. Geweldig fisiek, maar vier drieë en ’n bonuspunt gekry. Nou lê nog net die laaste wedstryd voor, teen die Blues, wat tans nie so sterk soos die Crusaders is nie.”
Nie hý ook nog nie! Nikka het ’n oordosis rugby gehad en haar hoofpyn is terug. “Ruan kom reguit na afloop van die wedstryd huis toe.”
“Ek weet.”
“Hoe weet jy?”
“Hy’t my gesê.”
“Het hy jou gebel?”
“Ja,” antwoord Thys, wetend hier kom weer donderweer. En hy gaan weer kleitrap. Maak nie saak wat hy antwoord nie, dit sal die verkeerde antwoord wees.
“O … Ruan kan jóú bel, maar vir my is hy te besig. My foon is glo beset, hy kan nie deurkom nie, die tydsverskil pas hom nie, sy skedule is te druk, ensovoorts, ensovoorts … ’n Legio verskonings. Maar die waarheid is: hy wíl nie met my praat nie.”
“Omdat hy nie weet wat om vir jou te sê nie, meis. As dit jou enigsins beter sal laat voel: Ruan gaan deur net sulke diep water soos jy. Erger … ’n Uitmergelende sielestryd, want hy voel bitter skuldig. Hy erken dis alles sy fout, nie joune nie. Jy is die onskuldige lydende party.”
“Skerm jy vir hom, Thys? Hoekom? Omdat jy vir Ruan kant kies?”
“Glad nie. Julle is albei my vriende en ek kies nie kant nie. Ek kry julle al twee oneindig jammer.”
“Ek moes geweet het julle mans kliek mos altyd saam.”
“Dis nie so nie. Jy weet hoe geheg ek aan jou is, meis.”
“Maar nie so geheg soos aan Hannah nie. Ek is heel onder op jou lys.”
Nikka het genoeg gehad. Sy maak haar hand los en staan op. “Waar’s my ma? Roep haar dat ons kan eet. Ek wil vanaand vroeg gaan slaap.”
Sy skep die geelrys in ’n bak en dra dit eetkamer toe, saam met die bobotie en sopperige slaai. Thys sug. Eers Hannah en nou Ruan … En hy het sy groot voet vierkantig in albei situasies gesit. Die hele situasie is ’n gemors en hy weet nie hoe om dit reg te maak nie. Hy staan op en bring die skottel pampoenkoekies wat tannie Let spesiaal vir hom gemaak het, wetend dis een van sy voorliefdes.
“Sal jy vir ons bid, asseblief, Thys?” versoek Nicolet toe hulle om die eetkamertafel sit. Sy steek een hand na haar dogter uit en een na Thys, soos hul gewoonte is tydens die tafelgebed.
Hy knik instemmend, neem haar hand en hou sy ander hand na Nikka uit.
Thys skerm vir Ruan en konkel saam met my ma, dink Nikka koppig. Sy het gesien hoe hulle agter haar rug vir mekaar kyk. Hulle is met een of ander set besig en sy wil nie deel daarvan wees nie. Al wat sy begeer, is dat Ruan Sondag uit die vliegtuig moet klim en sê alles is piekfyn. Dit was ’n misverstand en daar is nie sprake van skei nie. Haar ma moet haar nie aan Thys probeer afsmeer nie, asof dit ’n sekerheid is dat Ruan haar gaan uitskop. Dis vernederend. Asof sy soos ’n vloerlap weggegooi is, asof sy desperaat is om weer ’n man te vang.
Sy staar strak na die Madeira-tafeldoek voor haar. ’n Trougeskenk destyds van oom Alwyn en tannie Martie.Was dit nodig om haar beste linnegoed vir Thys uit te haal? Dis oordadig. Haar ma se planne is so deursigtig soos ’n skoongewaste ruit. Netnou dink Thys dis sý wat vir hom aas uitgooi.
“Ek byt nie,” sê hy sag. Hy stoot sy hand nader, palm na bo gedraai, tot reg voor haar.
Nikka sit stokstyf. Sy moes in die bad bly sit het, gesê het sy het migraine. Al waarom hy so gaaf is, is omdat hy haar jammer kry. Of ter wille van arme Ruan wat kwansuis deur sulke diep water en skuldgevoelens worstel …
“En my oogtande groei nie as die maan opkom nie,” las Thys by, met ’n ondeunde vonkeling in sy oë.
Hy kon dit nog altyd regkry op die mees onverwagte tye – haar laat lag wanneer sy liewer wil huil.
Sy vergeet van die trougeskenk-tafeldoek en die migraine. “Ek’s nie bang vir jou nie, ek byt terug!” baklei sy, maar plaas haar hand op Thys s’n, palm teen palm. Sy voel hoe sy vingers dadelik om hare vou, warm en beskermend.
“En toe? Was dit nou so vreeslik moeilik?” spot hy.
Teen haar sin flits ’n glimlag om Nikka se mond. “Sjuut!” raas sy. “Bid, voor die kos koud word.”
Nicolet skep rojaal vir Thys in, in haar element omdat hy ’n groot man met ’n groot eetlus is. Ruan is ook fors gebou, mens sou verwag hy waardeer ook ’n volgelaaide bord. Maar hy proe-proe gewoonlik net, sonder om veel te sê. Skoonseun en skoonma het nooit ’n oormaat vir mekaar te sê nie. Hulle verkies om ’n wye draai om mekaar te loop en ’n veilige afstand te bewaar. Nikka kla altyd sy voel soos die pattie in ’n hamburger, ’n buffer, tussen die twee broodrolle vasgevang.
Tussen Nikka en Thys is ook stremming, maar minder as tussen haar en Ruan, dink Nicolet. “Ek hoop ons het goeie weer vir Vrydagaand se piekniek,” merk sy op. Die weer is altyd ’n veilige onderwerp, wat nie skade of nuwe spanning sal veroorsaak nie.
“Ek het die weerburo gebel,” vertel Nikka. “Hulle voorspel geen reën vir Vrydagaand nie. Windstil en wolkloos.”
“Dit beteken Deon en Lorna gaan ’n onbelemmerde volmaan hê. Nou moet ons nog net ’n jakkals vang en daar naby aan ’n boom vasmaak,” spot Thys. “Of vir Wieldop leer om meer melodieus te tjank.”
“Ek sal Ben Dippenaar vra om hom tjanklesse te gee. Hy is die musiekonnie by my ou skool. Ek het nou die aand met hom gepraat. Ben is bereid om Vrydagaand vir die twee verliefde verloofdes te kom viool speel. Die Maanligsonate, Mantovani, Strausswalse … wat ook al ons wil hê.”
Thys lyk beïndruk. “Heng, dis vriendelik van hom!”
Nikka skud haar kop. “Nee, dit is nie. Ben is stug en bot en nors. Nooit vriendelik nie. Doen nooit iets vir niks nie.”
“Hy wil iets in ruil hê?” raai Thys.
“Korrek,” bevestig Nikka.
“’n Guns?”
“Eintlik twee gunste. Hy sê sy bloed is baie blou.”
Daar gaan vir Thys lig op. “Twee rugbykaartjies? Vir die Blou Bulle se semifinaal op Loftus? Dit behoort nie ’n probleem te wees nie. Vra vir Ruan.”
“Nee.” Nikka is adamant. “Deon Liebenberg is jóú tjom. Jy vra vir Ruan. Hy is nie op die oomblik in ’n luim om vir my gunste te doen nie en sal meer geneë wees om vir jou kaartjies te kry as vir my.” Die somberheid is terug in haar rookgrys oë.
Sy byt op haar onderlip en stry teen die bewing in haar stem. “Thys? Weet jy hoekom hy vroeër huis toe kom? Hoekom hy nie saam met die res van die groep Tonga en Fidji toe gaan nie?”
“Nee.” Hy brei nie uit nie en kyk haar nie direk aan nie.
Nicolet ken haar dogter. Sy probeer hard en hou ’n dapper front voor, maar sy weet Nikka lê snags slapeloos. Hoor haar rusteloos rondrol en sien die strook lig onderdeur haar kamerdeur; die groefies van vermoeienis om haar oë en die manier waarop sy haar hande gespanne inmekaar vleg. Dis daardie verbrande Ruan wat net altyd op die kerjakker uit is! Kan hy nie sien sy vrou is eensaam en iets daaromtrent doen nie? Vir hom ander werk soek nie?
Vir haar eie gesondheid stuur sy die gesprek weg van haar skoonseun af, na ’n aangenamer onderwerp. “Hierdie Ben-man moet soos ’n troebadoer aantrek: swart langbroek, wit aandhemp en ’n strikdas. As hy kan sing, soveel te beter! ‘Liefling’ van Gé Korsten sal enige vrouehart vermurwe. Ek het vir Andries gekeer om nie die rose te snoei nie, veral nie die rooies nie – sodat ons ’n mandjie vol blare kan oes om by die lapa te strooi.”
“Goeie plan!” Thys begin gees vang. “Ons kan hartvormige rooi ballonne ophang, tussen die lanterns. As die aand goed afloop, kan ons dalk later ook die bruilof doen, met die perdekarretjie as troukar en die lapa met wit linte en blomme versier, soos ’n kapel.”
Nicolet se oë blink. “Ek sal die troukoek bak!”
“Hoe gaan ons Lorna Vrydagaand hier kry?” wil Nikka weet. “Die verlowing is veronderstel om ’n verrassing te wees.”
Thys weet raad. “Deon kan met een van haar vriendinne reël om te sê dis ’n kombuistee of ’n ding vir ’n ánder vriendin. Ons moet net sorg dat sy Land Rover weggesteek is in die garage, sodat Lorna nie snuf in die neus kry nie. Deon wil ’n gedoente maak met die ring, dit aan die punt van ’n visstok haak en kamma saam met ’n swartbaars uit die water trek.”
Beide Nikka en haar ma skiet dit af. “Te riskant. Sê nou die ring kom los en raak weg?”
“Of hy kan dit aan ’n boom ophang en dan kom Lorna ‘toevallig’ daarop af.”
Nicolet kom met ’n beter idee. “Onderin ’n sjampanjeglas! En as Lorna die laaste slukkie vat, lê die blink diamant daar en skitter. Deon vis dit uit en steek dit aan haar vinger, en die troebadoer kom van agter ’n boom uit en sing ‘Liefling’. Deon soen haar en Lorna sê ja, terwyl die Maanligsonate op die agtergrond speel. So romanties!”
So idillies … Nikka se keel is rou. Binne-in haar is dit stukkend van pyn en verlange. Dis die soort verrassing wat sy wou reël vir Ruan se tuiskoms. Vir die hernuwing van hul troubelofte …
Wat doen sy as hy haar los? As hy Sondag by die huis kom en steeds volhou dat dit wat van hul huwelik oorgebly het, nie genoeg bied om ’n brug oor die afgrond te bou nie? Ruan is die spil waarom haar lewe draai. Sonder hom het sy geen lewe nie. Wíl sy nie lewe nie.
Vrydag sal sy met die piekniek besig wees en die tyd sal gou omgaan. Saterdag ook, want dan is dit opruim en skoonmaak. Maar Sondag lê soos ’n berg voor haar. Dan begin die lang wag, die naels kou, die naarheid op die krop van haar maag …
Sy vlug sal seker eers teen laatmiddag land. Nikka wou hom op die lughawe ontmoet, soos altyd in die verlede wanneer hy weg was. Maar Ruan het nie sy vlugnommer of tyd van aankoms laat weet nie, en Thys het gemaan sy moet terugsit, nie aandring of eise aan Ruan stel nie. Hy sal vooraf eers met hom gesels, hom pols en haar dan laat weet wat Ruan verkies. Sy moet niks doen nie, net wag.