Читать книгу Satyn Omnibus 8 - Ettie Bierman - Страница 13
10
ОглавлениеNikka wik en weeg lank, blaai deur haar eie resepte en besluit dan sy sal sonder haar ma met die bakwerk regkom. Sy is darem nie ’n groentjie nie en het op Hennie Viljoen geoefen. Thys gaan spookasem maak. En Andries het ’n squeeza wat gereeld by familiebegrafnisse die kos maak.
“Niemand is dié week dood nie, so Millicent is los en sy wil graag ’n ekstra paar bucks maak vir nuwe skoene,” het hy vertel. “Sy wil graag met die kinders se makietie kom help.”
“Is Millicent jou cherry?” het Nikka nuuskierig gevra.
“Aikôna! Ek sê mos: my squeeza. My broer se vrou. Ruby is mos my cherry.”
Nikka het die aanbod met dank aanvaar, al is dit net om te help met die klits, roer, knie of skil. Haar ma kan die verjaarsdagkoek bak as sy wil, maar sy sien nie kans om haar heeldag in die huis te hê en die stroom vrae te beantwoord nie. Oor die opgemaakte bed in die spaarkamer en Ruan se klere in die spaarkamer se kas en waarheen hy die naweek is nie …
Sý mag hom kritiseer en teen hom uitvaar. En Thys mag. Maar nie haar ma nie, wat van meet af teen Ruan gekant was.
Nikka sit met een van Foksie se week oue babatjies op haar skoot, besig met Saterdag se spyskaart, toe ’n motor in die grondpad aankom.
“Dis die Toyota!” basuin Wieldop se blafstem die nuus uit.
Sy bly gespanne by die rekenaar sit. Ruan kom ook nie dadelik groet soos sy gewoonte altyd was nie. Hy stap verby spaarkamer toe om ’n kortbroek aan te trek en eers met die terugkom sien hy haar by die lessenaar.
“Middag,” groet hy versigtig.
Waar haar hart was, is een groot, kloppende pyn. Die baklei is uit haar uit en al wat agtergebly het, is ’n vakuum, ’n verlatenheid groter as die Namib. Sy wens sy kon eers gou lipstiffie en parfuum aansit; hoekom, weet sy nie. Nee, sy wéét hoekom. Sy is vir hom kwaad en baklei en verwyt hom, maar sy is nog lief vir hom.
“Jy is vroeg.”
“Dis maar die gewone tyd.”
“Ek het jou later verwag, teen elfuur, soos gisteraand.”
“Gisteraand was saktyd. Ons moes redigeer, koppe skryf en koerant opmaak.”
Sy is so van koers af, sy het vergeet Weeknuus verskyn vandag. Dus was hy nie by die vaalvrou nie. Darem een troos, vir wat dit werd is, want hy sal steeds die hele naweek dáár wees.
“Ek het vir jou ’n koerant gebring.” Hy aarsel ongemaklik. “Ek weet nie of jy dit wil lees nie. Slaan my stories maar oor. Daar is darem ander berigte in wat jou mag interesseer.”
“Dankie.”
Hy streel met sy vinger oor die babahondjie se syerige haartjies. “Die kleintjies is oulik. Ek het gister gaan loer en vir Foksie maalvleis ingeskep.”
“Ek het gesien jy het die ander diere ook kosgegee, voor jy weg is.”
“Vanselfsprekend. Ek is nie weg nie, Nikka, ek het net gaan werk, soos altyd. Ek bly steeds deel van die opset.”
Maar nie deel van háár nie … Sy wens hy was minder gaaf, wens hy het baklei, sodat sy kon terugbaklei. Hierdie opgekropte doodsheid in haar is seerder as ’n vuurspuwende berg wat sy binnegoed woedend die lug in spoeg.
Hy kyk op. “Dankie vir gisteraand se pastei in die mikrogolf. Maar jy hoef nie vir my te kook nie, ek sal smiddae sommer in die kafeteria eet.”
“Dis nie nodig nie. Ek sal my huishoudelike pligte nakom. Voorlopig … So lank as wat jy hier is.”
Ruan se gesig is onleesbaar. As hy agterkom sy steek voelers uit om hom te toets, te probeer uitvind hoe lank hy gaan bly, laat hy dit nie blyk nie. “Ek wil jou moeite spaar, siende dat jy baie werk met die piekniek het.”
“Dis nie moeite om saans ’n ekstra bord kos te maak nie.”
Hy glimlag skewerig. Hartbrekend. “Dankie, Nikka. Jou kos is altyd lekker, lekkerder as die kafeteria s’n.”
Darem ’n pluspunt in haar guns. Haar hart slaan bolmakiesie en dis asof die woestyn in haar ’n bui lentereën gekry het. As hy aan haar raak, haar net een maal weer Nieks noem, sal sy hom alles vergewe. Hom van vooraf liefhê.
Voel Ruan nog iets vir haar? Nie liefde nie, net darem … iets? Of behoort sy hele hart aan Stefni, sodat daar niks vir sy vrou oorbly nie? Hy is nie ’n besluitelose soort mens nie. Sy wonder hoekom hy nog hier is as hy hulle huwelik wil beëindig. Sy het verwag hy sou dadelik nadat hulle Maandag gepraat het ’n prokureur gaan spreek. Is dit uit jammerte vir haar? Of omdat hy diep in sy hart nog twyfel?
“Het al drie die hondjies al base gekry?” vra Ruan.
“Ja. Hennie Viljoen, vir wie my eerste piekniek was, neem een, Lorna wat verloof geraak het nog enetjie, en Thys die derde outjie. Die tefie.”
“Thys?” Ruan frons. “Hy is nooit by die huis nie. Wie gaan vir die dingetjie sorg? Sy erf is nie eens behoorlik omhein nie. Sê vir hom hy kan nie die hond kry nie.”
“Ek het klaar belowe. Hy sal ’n plan maak met die heining.”
“Thys is altyd vol goeie voornemens, waarvan daar gewoonlik niks kom nie.”
Nikka is verbaas. Vanwaar dié skielike kritiek? “Dis ’n bietjie onbillik. Ek kan nie onthou van voornemens wat hy nie uitgevoer het nie.”
“Ek ken hom beter as jy. Thys praat maklik, belowe jou die aarde, en die volgende dag het hy ewe gerieflik alles vergeet. Hy kan vir hom ’n ander hond soek. Ek wou in elk geval self die tefie gehou het.”
Dis die eerste woord wat Nikka daarvan hoor. “Ek dag ons het besluit vier honde is genoeg, foksterriërs is te lewendig en netnou jaag hulle die ganse.”
“Foksterriërs is goeie waghonde,” hou hy koppig vol. “Veral die tefies. Hierdie enetjie gaan nie na Thys toe nie.”
“Ons kan een uithou van die volgende werpsel.”
“Wie sê daar gaan weer ’n werpsel wees?”
“Daar sal seker. Hoekom nie? Foksie is skaars twee jaar oud.”
“Dit sê niks. Sy kan wegraak, ’n kar kan haar trap, enigiets kan …”
Nikka kyk ondersoekend na hom. Wat gaan met Ruan aan? Is hy sommer net dwars omdat hy ’n moeilike dag op kantoor gehad het?
“Ons is miskien nie meer hier teen die tyd dat daar eendag weer kleintjies is nie,” las hy by, asof hy haar gedagtes kan lees en dit ’n troefkaart is waarmee hy haar wil vermaak.
Omdat hy teen daardie tyd dalk al die plot verkoop het? Sy het nie gedink Ruan sal so kleinlik wees nie. Maar sy het hom net in die goeie tye geken; mense verander wanneer die liefde by die agterdeur uit verdwyn.
Hy het dalk die hondjie vir sy aanstaande belowe. Daardie goedkoop flerrie is belangriker as sy boesemvriend! Nou goed, dink sy, as hy vermakerig wil wees, sy kan ook. Hy het immers eerste begin.
“O ja, ek het vergeet,” antwoord sy sarkasties. “Jy wil van die plot ontslae raak, want jy het mos nuwe trouplanne. Jy bly net voorlopig hier, net tot jy by jou volgende vrou intrek.”
Hy is ordentlik genoeg om skaam te kry. “Dis nie hoe ek dit bedoel het nie.”
“Hoe het jy dit bedoel, Ruan?” dring sy aan. “Hoe lank is ‘voorlopig’? Hoe lank gaan jy bly?”
Hy lyk moedeloos. “Ek het mos vir jou gesê ek weet nie. Dis al antwoord wat ek het om vir jou te gee: Ek weet nie. My kop voel of hy deur ’n sif gedruk is. Ek besef dis onbillik teenoor jou en ek is jammer daaroor, maar hierdie ding het my onkant betrap en ek weet eerlikwaar nie.”
“Het jy haar gevra om te trou?”
“Dink jy só min van my? Dat ek agter jou rug sal konkel terwyl ons nog getroud is?”
“Ek het gedink ek ken jou, maar jy verstom my keer op keer. Aanvaar Stefni dit so? Dat jy nie beskikbaar is nie?”
“Sy het nie ’n keuse nie. Sy het van die begin af geweet ek is ’n getroude man.”
“’n Mens sal dit nooit raai nie,” kap Nikka sarkasties terug. “Of is sy ook ’n getroude vrou en gewoond daaraan om huweliksbeloftes te verbreek?”
“Nee.”
“Hoekom nie?” Nikka se oë vernou en sy klink agterdogtig. “Het sy vir jóú gewag? Gewag dat jy uiteindelik jou moed bymekaarskraap om jou vrou uit te skop?”
Ruan is verdedigend. “Ek het haar nooit aanleiding gegee nie. Jy was nog altyd die enigste vrou in my lewe.”
“Hoe edel van jou! Totdat jy uiteindelik kleivoete gekry het en voor die versoeking geswig het? Hoe het jy dit reggekry om haar so lank aan ’n lyntjie te hou? Deur verwagtings te skep: beloftes te maak van ’n idilliese lewe vol heuning en stroop saam met haar sodra jy ’n vry man is?”
Hy kyk af, skud sy kop.
Nikka gee ’n kortaf laggie. “Klink of jy maar ’n louwarm vryer is … Het jy darem al sover gekom om haar van jou ewige liefde te verseker? Of hou jy haar ook in die duister soos jy met my doen?”
Ruan loop ’n draai deur die studeerkamer. Steek ’n sigaret aan en trek die rook diep in, asof dit ’n lafenis is. “Ons het ’n … ’n soort verstandhouding, sonder dat dit in woorde uitgespel is.”
“Ek is net ’n dom onnie, nie so slim soos ’n fisioterapeut nie. Watse soort verstandhouding? Kan jy dit vir mý in woorde uitspel?”
Ruan was nog nooit besonder lankmoedig van geaardheid nie. Nikka wonder hoe lank sy lont nog gaan hou, maar hy antwoord geredelik en geduldig.
“Hierdie is ’n groot besluit wat nie net vir my raak nie, dit raak ons al drie se lewens. Ek het belowe om my verpligtinge teenoor haar na te kom. Maar ek het ook begrip gevra vir my situasie, en tyd om deeglik na te dink en oor die pad vorentoe te besin.”
“Soos vir my?”
“Soos vir jou,” beaam hy.
Sy oë lyk gekneus, donkergroen en vasgekeer. ’n Oomblik lank kry Nikka hom jammer, kan sy haar in sy dilemma indink. Maar ’n vrou wat verwerp en versmaai is, loop ’n opdraande pad na vergifnis toe. Sy verhard haar hart.
“En intussen sit ons albei op hete kole, met maagsere en stompgekoude naels, wagtend dat jy moet kies watter een jy wil hê? Is sy net so onseker oor jou planne as ek? Of hou jy haar beter ingelig oor die jongste verwikkelinge ten opsigte van jou huwelik?”
“Sy weet jy en ek het probleme, dis al. Ek bespreek nie ons huwelik met Stefni nie, Nikka.”
Dis wat Thys ook gesê het – dat Ruan nie buitetoe praat nie, nie eens teenoor hom wat al van skooldae af deur dik en dun sy boesemvriend is nie. Maar Nikka vind dit moeilik om te glo. Hoe het die verhouding dan begin as dit nie die klassieke voorbeeld was van die arme veronregte man wat by sy minnares gekla het sy vrou “verstaan” hom nie?
“En is sy bereid om te wag?”
Hy knik kortaf.
“Vir hoe lank?”
“So lank as wat nodig is. Ek weet dis ’n ondraaglike situasie en ek sou jou dit graag wou spaar. Maar ek vra soortgelyke begrip van jou, Nikka. Asseblief?”
Hoewel beleefd gestel, is dit meer as net ’n versoek. Daar is ’n fermheid in Ruan se stem wat Nikka waarsku sy moenie aanhou krap nie. Hy erken hy is skuldig, hy het herhaaldelik verskoning en vergifnis gevra, hy het probeer verduidelik. Maar dis die situasie … Sy wou weer teen Stefni te velde trek, maar sy swyg. Wat baat dit, behalwe om Ruan net verder te vervreem?
Die babafoksterriërtjie is gewoond aan lawaai om haar: honde wat blaf, hoenders en ganse en hadidas wat raas … Die skielike stilte toe die stemme bokant haar kop ophou, laat haar wakker skrik. Die lug is koud en sy kom agter haar boeties en ma se bekende melkreuk is weg. Sy sukkel regop en begin bewe, val om en tjank skril.
Nikka het van die slapende bondeltjie op haar skoot vergeet en dis Ruan wat afbuk en haar versigtig optel. Hy druk die hondjie teen sy nek en skulp sy hande om die bibberende lyfie. Vryf oor haar rug en krap agter die oortjies terwyl hy met haar gesels. Hy het altyd ’n slag met diere gehad – een van die baie redes waarom sy verlief geraak het op hom …
Die kla-stemmetjie verstil onmiddellik. Die hondjie vroetel dieper onder Ruan se ken in, kry die punt van sy pinkie beet en begin entoesiasties daaraan suig. Die donkerte in sy grougroen oë versag. ’n Oomblik is dit asof die spanning van sy skouers afgly.
Hy lag. “Dís ’n paslike naam vir haar! Pinkie.”
“Thys het klaar ’n naam gekies: Fluffy.”
Hy trek sy neus op. “Watse simpel naam is dit? Fluffy pas by ’n poedel of ’n wollerige Persiese kat, nie by ’n foksterriër nie.”
“Dit staan vir Funny Little Ugly Fellow.”
“Dis onvleiend en pas nie by ’n meisiehondjie nie. Dis onsinnig dat Thys haar vat. Hy leef self van wegneemkos. Wat gaan hy haar voer: hot dogs en hamburgers? Sy sal diarree kry en doodgery word in daardie besige straat wat voor sy huis verbyloop.”
“Hy weet van gesonde hondekos en hy sal ’n nuwe heining opsit. Jy is sommer net stroomop. Gun die hond vir Thys, hy sal goed vir haar sorg.”
Ruan kry ’n steeks trek op sy gesig. “Nee, ons hou haar.”
“Ek het Foksie by ’n kind in my klas gekry, sy is mý hond,” herinner Nikka hom. “Ek kan oor haar kleintjies besluit.”
Ruan het haar gewaarsku genoeg is genoeg, sy moenie verder sukkel nie. Die steeks uitdrukking versprei deur sy hele lyf toe hy sy rug styf maak en sy skouers vierkantig stoot. “Kies jy Thys se kant teen my?”
Nikka lig haar ken en haar stem is net so aggressief soos syne. “Jy het Stefni se kant teen my gekies. Dit beteken ons is gelykop. Een ronde elk.”
“Dit gaan nie oor ’n kompetisie nie. Dit gaan oor wie vir die hond die beste huis bied.”
“Dis my hond en my keuse.”
“Jy’t gesê ek is moedswillig, maar jy’s tien keer erger!”
“Dis jý wat eerste begin het, wat ’n derde persoon in ons huwelik ingesleep het. Jy wil natuurlik die hond vir háár gee, ek weet dit! Thys sal beter na haar omsien as daardie goedkoop flerrie. Hy is lief vir diere en ek sien altyd hoe sagmoedig hy teenoor Wieldop is.”
Sy onthou skielik weer Thys se hand op haar voorkop wat haar kuif deurmekaarkrap. ’n Sterk, bruingebrande manshand … ’n Hand gewoond aan tange en moersleutels, maar wat ook sagkens kan aanraak, ’n huilende meisie vertroetel en die trane op haar wange wegstreel.
’n Weekheid kom lê in ’n holte van haar hart. Thys sal ’n wonderlike man vir sy vrou wees. Hannah is ’n gelukkige meisie … Nikka is skielik jaloers, met ’n giftige renons in Hannah van der Walt, al kan sy skaars onthou hoe sy gelyk het. Sal Hannah vir Thys goed wees en hom waardeer? Hom bederf en vir hom lief wees soos hy verdien?
Haar gedagtes loop terug na Maandag en die onverwagte magnetiese stroombaan tussen haar en Thys; daardie plotselinge bewuswording van mekaar wat haar ’n ruk lank skoon van stryk gehad het. ’n Onsinnige gedagte, het sy sedertdien besluit, gebore uit ’n oorvrugbare verbeelding omdat sy so bitterlik na Ruan verlang het. Dis al wat dit was – net ’n plaasvervanger vir Ruan.
Maar nou opeens wonder sy: wás dit so vergesog soos sy haarself wysgemaak het? Hoekom? Thys is ’n viriele, aantreklike man, so macho en alpha male as wat kan kom. Honderde meisies sal hul ooghare gee vir ’n nag saam met hom, alleen iewers op ’n verlate strand. Die branders wat op die agtergrond bruis, flonkerende sterre bokant hulle en die koel, klam sand teen jou rug waar jy in sy sterk arms nestel, onder daardie gespierde lyf, met net die wuiwende palmbome as getuies …
Nikka skrik vir die trant van haar gedagtes. Sy skaam haar morsdood! Dis haar verraderlike lyf wat praat, en haar hormone. Nie sý nie – die preutse, konserwatiewe huishoudkunde-onderwyseres en kuise getroude vrou.
“Stefni bly in ’n meenthuis, in ’n kompleks waar die inwoners nie diere mag aanhou nie,” sê Ruan.
“Dit wys jou: sy hou nie van diere nie, anders sou sy nie in so ’n kliniese kompleks gewoon het nie. Ek kan nie verstaan wat jy in so ’n kil mens sien nie. Is sy goed in die bed, of is dit die masserings?”
Twee rooi kolle vlam op sy wange. “Laat ek liewer loop! Ek gaan die hond bêre. Sy moes in elk geval nie van haar ma weggeneem gewees het nie, sy is nog te klein. Sy is honger en sy kry koud.”
Nikka kyk sy lenige gestalte agterna, sy stewige skouers en regop rug. Hy het hom vererg en sy kan hom seker nie kwalik neem nie. Waaroor het hulle nou eintlik baklei? vra sy haarself af. Oor die hond, oor Stefni of oor Thys? Sy het ’n gevoel dit was merendeels Thys. Dit sal so maklik wees om vir Thys lief te raak …
Ruan ken haar goed. Sê nou haar fantasieë oor Thys was op haar gesig sigbaar? ’n Vreemde dromerigheid in haar oë, ’n trek om haar mond of haar asemhaling wat versnel het … Geen wonder hy was kwaad nie. Geen wonder hy het die agterdeur so hard agter hom toegeblaker nie.
Sy skakel die rekenaar af, skaam oor haar verregaande verbeeldingsvlug. ’n Passievolle nag saam met Thys op ’n verlate strand … Genade! Waar kom sy daaraan? Uit een of ander stroperige fliek wat sy gesien het? Wie is sy om ’n beskuldigende vinger na Ruan te wys? Sy wat amper net so skuldig soos hy was, al was dit net in haar gedagtes.
In ’n mate kan sy haar in Ruan se posisie indink. Sommige mans sou die situasie geniet het, selfs uitgebuit het: twee vroue smoorverlief op hom, wagtend met ope arms dat hy een van hulle kies. Was haar pa een van daardie soort gewetenlose mans?
Ruan het oortree, maar hy is nie gewetenloos nie. Hy wroeg en probeer ’n fatsoenlike uitweg vind, die skaal balanseer en almal tevrede hou. En in die proses word hy self in stukkies gekerf en fyngemaal. Deur ’n sif gedruk, het hy dit genoem. Want dis nie moontlik nie. Met drie komponente daarby betrokke, kan die skaal nie balanseer nie. Daar is altyd een wat uitskot word, wat op die grond val en seerkry.