Читать книгу Satyn Omnibus 8 - Ettie Bierman - Страница 14
11
ОглавлениеNikka kry nie kans om ’n bietjie van die begrip te toon waarvoor Ruan gevra het nie. Dit word donker en Millicent en Andries is lankal huis toe, toe werk hy steeds met ’n lig op die dak, besig om geroeste spykers en dakskroewe te vervang. Sy maak fudge, malvalekkermuise en gestopte hoender vir aandete. Dan gaan sit sy in die sitkamer met die koerant wat Ruan gebring het.
Anders as wat hy verwag het, slaan sy die nuusberigte oor en begin agter, by die sportbladsye. Daar is tennis, sokker en krieket, maar die Super14-rugby oorheers alle ander sportnuus, met Ruan van der Hoven se naamreël prominent boaan elke bladsy. Ruan het lang ure gewerk. Afgesien van sy dekking van afsonderlike wedstryde, het hy ook individuele spelers se prestasies ontleed, insluitend dié op die reserwebank wat die laaste twintig minute op die veld verskyn het. Hy het ’n profiel gedoen oor die skeidsregters wat vir elke wedstryd geblaas het, asook die speler van die wedstryd. Hy waag selfs ’n gemotiveerde voorspelling, drie kolomme lank, oor die uitslag van die twee halfeindstryde.
Die skryfstyl is vlot en behendig, sy taalgebruik suiwer. Geen wonder hy het in matriek onderskeidings in Afrikaans en Engels gehad, dit sy hoofvakke op universiteit gemaak, en albei in sy finale jaar gecum nie. Ruan het ’n natuurlike aanvoeling vir tale, hy en Thys albei, daarom dat hulle die joernalistiek as loopbaan gekies het.
Nikka tel die aantal bladsye wat getuig van dae en dae voor ’n rekenaar. Daar kon nie veel tyd vir ander bedrywighede gewees het nie – vir amoreuse versoekings en verleidings nie. Sy wonder of die vaal flerrie daarmee tevrede was.
Die gedagte beur haar op, al is dit duidelik dat Ruan haar vermy en geroeste dakspykers bo haar verkies. Sy gun hom die alleentyd, die ruimte en afstand wat hy nodig het. Toe dit laat word, sit sy sy bord kos in die mikrogolfoond en gaan slaap.
Die volgende oggend toe sy in die gang verbystap, is die spaarkamer se deur toe. Maar sy hoor die stortkrane en sit solank koffiebekers reg. Toe sny sy die fudge in blokkies en pak die verjaarsdagmuise met snorbaarde en liquorice-sterte op ’n skinkbord oor.
Haar hande verstil toe Ruan by die kombuis inkom. Hy is skoongeskeer en sy hare effe krullerig van die stort. Maar dit lyk of hy heelnag op die dak was en niks geslaap het nie.
“Hallo,” groet hy versigtig.
“Môre.” Nikka groet luiters, asof niks gebeur het nie. “Lekker dag, is dit nie?”
Hy kyk deur die venster. “Sonskyn, ja. Dis goed vir jou piekniek.”
“En die krieket op Wanderers.”
“Ek hoop om die kinders se onthalwe dit reën nie.”
“Ons hou die partytjie by die lapa, wat darem beskut is. As dit reën, sal die kapokkies daar skuiling soek en goeie vermaak vir die kleintjies bied. Die grasdak lek gelukkig nie meer nie, ek het mense gekry wat dit met ’n ekstra deklaag dig gemaak het.”
“Ek het by Thys gehoor, ja. Ook van die kapokkies en die pad wat geskraap is. Dis goed.”
So, hy het darem genoeg belanggestel om Thys na haar doen en late uit te vra? Of dalk het Thys net vertel en hy het geluister.
“Ek het heelwat onkoste gehad, maar nie my banklening oorskry nie.”
Ruan lyk ongemaklik. Hy bekyk die verjaarsdagkoek, tel een van die aapmaskers op om dit van nader te ondersoek, en kug dan effens. “Ek is jammer ek het gesê jy is onverantwoordelik. Jy is nie. Jy weet hoe om met geld te werk.”
Nikka waardeer die verskoning, maar sy vryf dit nie in nie. “Ook maar net soms. Ek laat my maklik deur ’n mooi rok of ’n paar skoene in ’n winkelvenster verlei.”
“Dis ’n vrou se goeie reg. Sy verdien om mooi te lyk.”
Dit kom moeilik en hy sukkel, maar Ruan probeer hard. Nikka wens sy kon hom help. Maar sy is ook nie op haar gemak met hom nie; sy loop ook maar katvoet. Voorheen sou dit soveel makliker gewees het om hom net ’n soentjie te gee, ’n drukkie, iets in sy oor te fluister en hom gangaf te sleep.
En hy sou hom ook nie teëgesit het nie, hom ewe gewillig laat saamsleep het. Haar halfpad in die gang af in sy arms opgetel het … Tussen die lakens kon hulle altyd enige probleem oplos, maklik en vinnig en spontaan. Sy mis dit.
Ruan wys na die luiperdkoek. “Het jy dit gebak?”
“Nee, my ma.”
“Kom sy met die piekniek help?”
“Laas keer het sy. Hierdie keer het ek verkies om alleen reg te kom, met Millicent se hulp.”
“Weet sy … weet jou ma van ons probleme? Dat ons dalk gaan … e …”
“Nee,” help Nikka hom. Omdat sy ook nie daardie gewraakte woord wil hoor nie en steeds daarvan wegskram. “En jou ouers? Het jy hulle al gesê?”
“Nee. Ek wil hulle nie ontstel nie. Kom ons hou dit voorlopig so.”
“Voorlopig,” eggo sy met ’n onderstebo glimlag. Nuttige woord daardie …
Hy draai weg en bekyk die pienk muise in eenderse rye op die skinkbord uitgepak. “Is hulle ook vir vanmiddag se piekniek?”
“Ja. Eet een, as jy wil hê.”
“Gaan jy nie kort raak nie?”
“Nee, daar’s volop. Ek onthou hoe versot jy en …” begin sy, maar keer haarself, gedagtig daaraan dat Thys gisteraand een van die hoofrolspelers in hul argument was. “Hoe versot jy altyd op liquorice was,” voltooi sy die sin.
“Hondebloed,” onthou hy ook.
“Die oumense het dit so genoem.”
“Bobbejaanbloed, het jy dit genoem.”
“Dit het jou nie afgeskrik nie. Jy kon pakke vol daarvan inryg, tot jou mond later pikswart was.”
Hy lag, al bly sy oë somber. “En as ek gedreig het om jou te soen, het jy gegril en weggehardloop.”
“Dit was om jou te terg, sodat jy my kon jaag. Ek het geweet jy sal my inhaal, want jy kon twee keer so vinnig hardloop as ek.”
“Drie keer.”
“Tien keer,” erken sy, want sy wou hê hy moes haar vang.
Hy neem een van die muise, kou smaaklik en glimlag oor die herinnering. Hy lyk vir haar skielik weer soos altyd, soos voor die seerkry begin het. Soos toe sy gedink het dinge sal so bly vir altyd, daar sal nooit ’n skeiding tussen hulle kom nie.
Ruan is fisiek die aantreklikste man wat sy nog teëgekom het. Is dít waar sy ontrouheid begin het – by ander vrouens wat dit ook raakgesien het en vir hom flikkers gegooi het? En hy wat die aandag geniet het? Soos enige normale man sou, nie net een wat tuis afgeskeep was nie …
Dit skrei in haar om te weet ’n vreemde vrou het ook daardie lenige, atletiese lyf van hom gesien. Langs hom gelê, oor hom gebuig, aan hom geraak, gevat en gestreel.
Sy pluk ’n kasdeur oop en haal ’n halwe pakkie uit van die liquorice wat oorgebly het. Sy breek ’n stuk af, gaan voor Ruan staan en kyk hom stip in die oë. “Maak oop jou mond.”
Hy is op sy hoede. “Hoekom?”
“Omdat ek jou vra. Maak oop!”
Sy swaai die reep liquorice heen en weer, wag tot hy sy mond oopmaak, dan voer sy hom. Nie net die een strook nie. Nog een en nog een, speels en tergend. Een reep na die ander, totdat sy tong swart begin lyk.
Dan sit sy die pakkie agter haar op die toonbank neer. Sy kom nog ’n tree nader, rek op haar tone en leun met haar bolyf teen syne, so naby dat sy die molasse-soet geur van die liquorice op sy asem kan ruik. Haar rookblou oë daag hom uit en sy lig haar mond uitnodigend na syne. “Soen my!”
Ruan staan stokstyf, kyk net na haar met sy groen oë.
“Toe!” daag sy hom. “Ek weet jy wil. Ek kan dit op jou gesig lees. Jy is lus. Jy wíl … Doen dit!”
Sy sien ’n flikkering agter in die groen dieptes, soos ’n rimpeling oor die dam se water wanneer ’n dwarswind uit die suidekant waai. Sien hoe hy op sy tande kners, sodat die vel oor sy kakebeen styf span. Haar blik hou syne en haar mond tart hom – effe oop, terwyl die punt van haar tong oor haar vol onderlip lek. “Hierdie keer gaan ek nie weghardloop nie …”
Sy hoor sy asemhaling rukkerig versnel. Sien ’n aar teen sy nek pols en hoe hy om selfbeheersing veg. Dan plaas hy sy hande op haar skouers.
Hy gaan, dink sy. Gáán haar soen. Diep en talmend, met sy warm mond oor hare. Dringend, soos ’n honger man wat lank gewag het. Driftig en driftiger, totdat sy na haar asem snak … Sy sluit haar oë om haar oor te gee aan die heerlike afwagting wat deur haar spoel. Dinge gaan regkom tussen hulle, alles gaan weer wees soos altyd.
Maar hy doen dit nie. Soen haar nie. Net liggies op haar wang.
Nikka se oë gaan oop en kyk vas in syne. Wat sy daarin lees, laat haar hoop steeds opvlam. Hy wíl uitreik en haar soen, soos altyd, soos hy gewoond was om sy vrou te soen – met hartstog en oorgawe. Hy wíl. Maar hoekom hou hy terug?
“Ruan?” pleit sy.
Sy hande op haar skouers stoot haar saggies weg. “Dit sal nie reg wees nie.” Sy stem is skor.
“Nie rég nie? Hoekom nie?”
“Nie billik nie.”
Sy verstaan steeds nie, kyk vraend op na hom. “Teenoor wie?”
Haar keel klamp toe. Bedoel hy Stefni? Is hy te lojaal aan háár om sy eie vrou van sewe jaar te mag soen?
“Teenoor julle albei.” Hy tree agteruit en staan weg van haar, asof hy homself nie vertrou nie. “Ek kan nie verwagtinge skep en dan … dan miskien later dit weer uitsny en vernietig nie. Ek sal myself verag, myself haat.”
Sy hoor die pyn in sy stem, die wroeging. Op ’n vreemde manier verstaan sy. Maar in plaas van troos, vryf dit sout in die seer. Niks het verander nie, behalwe dat ’n emmer koue water op haar hoop omgekeer is.
Sy het haar aantrekkingskrag vir haar man oorskat. Hy is nie meer die smoorverliefde jong outjie van sestien wat glo sy is die son en die maan en die sterre, die spil waarom sy lewe wentel nie. Hy het gewoond geraak aan haar en die blink van verlief wees het dof geword. Sy het haarself vir hom aangebied, en hy het nee gesê. Nie toegelaat dat herinneringe en sentiment sy logika beïnvloed nie; nie kop verloor en toegelaat dat lyflike drange sy denke oorheers nie.
Hy worstel steeds om te kies tussen haar en die ander vrou. By wie om verwagtings te skep, en by wie om dit te vernietig.
“Ek is jammer, Nieks.”
“Moenie my so noem nie!” Sy vryf met haar gewrig oor haar oë, probeer om nie te huil nie.
“So ontsettend jammer …” herhaal hy en sug diep. “Ek weet nie hoe ek met myself sal kan saamleef nie.”
Sy kyk deur ’n tranewaas na hom. “Ruan, voel jy darem nog … iéts vir my? ’n Klein bietjie?”
Hy druk sy palm teen sy voorkop, vryf dit deur sy blonde kuif en agtertoe oor sy hare. “Natuurlik.” Hy trek sy asem diep in, sluk hoorbaar. “Meer as net ’n bietjie. Jy weet dit.”
“Het jy my nog lief?”
“Die tye saam met jou was die gelukkigste tyd van my lewe. Ek sal altyd … vir jou ’n gevoel hê.”
Dis nie ’n antwoord op wat sy gevra het nie.
“Kyk in my oë, Ruan,” dring sy aan. “Kyk my in die oë en sê vir my dis verby tussen ons, en jy het my nie meer lief nie.”
Hy wil nie. “Dit sal nooit verby wees tussen jou en my nie. Ek hoop ons kan vriende bly, kontak hou, al gebeur wat. Wie weet, as ek eendag dalk weer vry is …”
Die sin bly in die lug hang en dit lyk of hy na die regte woorde soek om dit te voltooi, maar dan blaf die honde buite en ’n motordeur klap toe. “Haai daar, mooiste!” roep Thys. “Is jy reg?”
Hy stap by die agterdeur in – en steek vas toe hy Ruan sien. “Môre,” groet hy, sy stem plat en sy gesig sonder uitdrukking.
Ruan groet nie. “Reg waarvoor?” wil hy weet.
“Ek het met Nikka gepraat,” antwoord Thys.
“Wat het jy bedoel? Waarvoor moet sy reg wees?” herhaal Ruan kil.
Die atmosfeer in die kombuis is so dik, Nikka voel sy kan dit met ’n stomp mes sny.
Thys dra ’n kartonboks en stap rustig daarmee verby die stoof en die yskas om dit op die ontbyttoonbank neer te sit. “Ek het ’n masjien gekoop om spookasem te maak. Hierdie is die bestanddele wat benodig word: suiker, geurmiddels, kleurstof, stokkies, ensovoorts. Ek wou weet of sy reg is vir die kleintjies se piekniek, sodat ons die masjien kan toets.”
“Gaan jy ook na die piekniek toe? Is jy nie ’n bietjie te oud daarvoor nie?”
Thys laat hom nie intimideer nie. “Ek help Nikka, sy kan nie alles alleen behartig nie.”
“Hélp noem jy dit?” vra Ruan met wenkbroue wat sarkasties lig.
“Dis reg: hélp. Siende dat jy te veel ánder dinge het wat jou besig hou.”
Ruan ignoreer die skimp. “Het jý nie genoeg werk om jou besig te hou nie? Wanneer skryf jy jou resensies as jy elke dag hier rondflenter?”
“Moet jou nie daaroor bekommer nie, my rubriek is op datum.”
“Dis nie waaroor ek my bekommer nie – nie oor jou rubriék nie.” Ruan brei nie uit nie, maar dis duidelik waarop hy sinspeel.
“Bekommer jy jou maar net oor jou eie sake,” antwoord Thys gelykmatig. “Dié lyk vir my ingewikkeld genoeg.”
“Toemaar, ek sal regkom.”
Thys kyk hom sinies aan. “Ten koste van wat? En wie?”
Ruan byt ’n bitsige antwoord terug. Hul oë meet en toets mekaar ’n paar gelaaide tellings, dan ontspan sy kaak en skouers. Hy draai sy rug en neem sy motorsleutels. “Ek is haastig, ek moet ry.”
Hy is glad geskeer en het ’n formele langmouhemp by sy denim aan, maar Nikka het nie geweet hy is op pad uit nie. Met ’n skok tref dit haar dat dit Saterdag is. Naweek. Hy het gesê gedurende die week bly hy op die plot en kom sy huishoudelike pligte na. En naweke gaan hy na Stefni toe. Na haar in haar kliniese meenthuis. Waar hy ook “pligte” het?
“Ruan!” roep sy agterna toe hy wegstap, op pad garage toe.
Hy bly staan. Sy tas of oornagsak is blykbaar reeds in die motor gelaai. Asof hy nie kan wag om weg te kom nie.
“Wil jy nie eers koffie hê of iets eet nie?”
“Nee,” antwoord hy bot. “Dis laat. En ek kan sien jy’s besig. Jy en Thys. Te besig om met ’n mundane lastigheid soos koffie en ontbyt gepla te wees.”
Hy verdwyn by die garage in. Dan brul die Toyota, af in die grondpad en met ’n spoed uit by die hek.
Na ’n ander vrou toe.
’n Doodsheid sprei deur Nikka se binneste en dit klink of Thys se stem van ver af kom. “Jammer, meis. Was ek ontydig?”
“Dis nie jou skuld nie.”
Sy trek haar asem diep in en blaas die lug stuk-stuk uit, swaai haar poniestert oor haar skouer en trek die rekkie stywer. Werktuiglike aksies wat sy al ’n duisend keer uitgevoer het, maar dit gee haar kans om haar emosies onder beheer te kry.
“Jy was nie ontydig nie. Ruan was in elk geval op pad. Na Stefni toe, vir die naweek.”
Thys het nie ’n benul wat om te sê nie. Hy kan aan niks dink wat nie banaal of onvanpas sal wees nie.
“Die son skyn en dit lyk nie na reën nie – ideale weer vir ’n piekniek. Andries het al ’n klomp goed na die lapa toe aangery en Millicent is besig om die ballonne op te sit,” sê Nikka. “Wys my die masjien, hoe om spookasem te maak.”
Thys kyk bekommerd na haar. Sy is te kalm en beheers, asof dit normaal is dat haar man die naweek by sy minnares deurbring. Hy merk die onnatuurlike blink oë en haar vingers wat aan die hoek van die toonbank vasklou asof dit ’n reddingsboei op die oop see is. Hy steek sy hand na haar uit om te help, te troos. Te keer dat sy omval.
Nikka skud haar kop. “Asseblief, moenie aan my raak nie. Nie nou nie …” Want sy gaan in miljoene klein flentertjies breek en in ’n hopie bly lê waar die dwars suidewind haar gaan wegwaai, tot in die dam, en sy wegsink.
Sy loop na die wasbak en drink ’n glas water. Skink vir Kattebol ’n piering melk en krap die laaste lepel tuna in haar bakkie uit. Dan is sy dapper genoeg om die lewe en vir Thys in die oë te kyk.
“Hy was eintlik lankal op pad. Nog voor die naweek in die Drakensberg al. Lank voor die rugbytoer. Ek was net te blind, te goedvertrouend en te veel van ’n lafaard om dit te besef. Ruan het my nie meer lief nie en ons gaan skei.”
“Meis? Is jy oukei?” frons hy.
“Ja,” antwoord sy ferm. “Ek is piekfyn. Dit sal ’n rukkie duur om oor die skok te kom en aan te pas, maar ek is nie hulpeloos en afhanklik van hom nie. Ek sal sonder Ruan regkom.”