Читать книгу Donker Web - Fanie Viljoen - Страница 11

<h4>Die loser wat sy pa weggegee het</h4>

Оглавление

So begin die studentelewe. Ek en Plank gaan kry ons voorgeskrewe boeke by Van Schaik Boekhandel in die Neelsie – ’n woelige studentesentrum in die hartjie van die kampus met enigiets van banke tot eetplekke, en die duiwel weet wat alles.

Ek is outomaties lid van ’n groter kluster en ’n kleiner PSO – Privaatstudente-organisasie vir studente wat nie in koshuise bly nie. Saam met hulle woon ek einde Januarie, begin Februarie die O-week vir eerstejaars by. Daar is ’n hele boring oriënteringsprogram. Elke nuwe student het ook ’n mentor om te help met die aanpassing op die kampus en by die studentelewe. Myne is so ’n totale poepsak wat nie eens ’n mention nodig het nie. Ons kry akademiese inligting en toere deur die biblioteek, kampus en dorp. Sit deur die soveelste toespraak tydens die amptelike opening op die Danie Craven-stadion. Ek ontvang my studentekaart. Die foto lyk verskriklik.

Die Donderdag voor die oriëntering eindig, is daar vroegoggend al ’n klop aan my deur.

“Greg Maak-nie-saak-nie, is jy al wakker?”

Ag, vrekkit. Dis Chloe.

“Nee!” roep ek en druk die kussing oor my kop. Dit help nie, ek hoor haar steeds.

“Nice try, nè? Maak oop die deur. Ek gaan nie in die gang staan en skree soos ’n waentjiestoter nie.”

’n Boemelaar, noem ons dit in die res van die land, maar die Kaapse boemelaars is grênder, daarom is hulle “bosslapers” of “waentjiestoters”.

Ek seil uit die bed. Maak oop. “Chloe, wassit met jou?”

Kiana en Lizmari is ook by haar. “Oe, kyk net die man se lyf, meisies,” sug Chloe. Sy waai haarself spottend koud met haar vingers.

Ek vou my arms voor my bors. “Wat soek jy?”

Chloe glimlag. “Jy moet kom, boyfriend. Ons gaan vir Vensters oefen. Het jy nie die boodskap gekry nie?”

“Ek is nie jou boyfriend nie, en ek weet nie hoe oefen mens vir ’n venster nie. Stel ook nie belang nie. Cheers.”

Ek druk die deur toe, maar Chloe stoot dit weer oop. “Jy moet vir jou wil eenkant hou, boyfriend. As jy nie kom nie, whatsapp ek my ander boyfriends om jou te kom haal. Ek het baie van hulle. Party is nogal mean. En ek bedoel nie gym-bunny-mean nie.” Sy druk met haar vinger teen my bors. “Ek bedoel gangster-mean. Ouens met messe en tronktattoos.”

“Sê hom, Chloe.” Kiana lag.

“Ek het nou net!”

Ons kom laat vir die eerste oefening. Die ouer studente van die HK – huiskomitee – wat dit reël, is nie beïndruk nie. Dit het al agtuur begin. Chloe ken omtrent almal. En almal ken haar.

Dis waar, dit lyk of sy oral boyfriends het. En girlfriends. To each his own.

Sy wil-wil ook sommer oorneem by die HK met die Vensters-ding. Straatteater, vind ek daar uit. Koshuise en PSO’s span saam vir die groot okkasie Vrydagaand. Elke groep eerstejaars is verantwoordelik vir ’n kort opvoering van musiek, dans en drama. ’n Mengsel van vermaak en sosiale bewusmaking oor die een of ander kwessie. Dan oefen hulle dit dag en nag. Hou partytjie, leer mekaar ken.

En nou is ek in die dekselse ding.

Plank wil hom slap lag. “Kry vir jou, laas jaar het ek dit gedoen,” sê hy toe ek hom benoud tydens die eetbreuk bel.

Ek byt op my tande.

Jy’s nou hier, Greg, jy kan dit net sowel geniet. Maar hoe ek myself ook al probeer motiveer, dit voel of ek aanbeweeg het van ligsinnighede. Simpel liedjies sing. Strikkie om die nek. Een, twee, drie, hop. Een, twee, drie, draai.

Tog doen ek dit. Twee dae lank oefen ek saam met die groep. Ek verf selfs saam met Chloe en ’n klomp HK-lede aan die reuseagtergrond vir die opvoering. Só vind ek uit dat sy ’n kunsstudent is. Sy swot BA Skone Kunste. Blykbaar nogal goed ook. Chloe dartel tussen almal rond. Deel idees, gee raad.

“Mens spel nie ‘community’ so nie. Hemel, hoe het jy op universiteit beland? Iemand gebribe met ’n boksie vetkryt?” kap sy ’n meisie. “Verf daai toe en try weer. Twee m’ e, een n.”

Ek help om die doek teen die straatverhoog se raamwerk op te hys. Van die HK-ouens doen die beligting, toets die klank.

Wonder bo wonder begin ek dit later geniet. Asof iets binne my weer wil lewe kry. Weg is die onthougoed van my pa en ma en broer. Die donker dae.

Plank en ’n paar van sy Wilgenhof-koshuisbuddies kom maak Vrydagmiddag ’n draai. Dalk meer om die eerstejaarmeisies te beloer.

Hy gryp my hand. Gee weer die Lawson-handdruk wat verander in ’n skouerdruk.

“Ken jy daai vrou?” vra hy toe hy wegstaan, sy pet lig en sy hande deur sy deurmekaar hare trek. Hy beduie met sy kop na iemand wat ’n ent weg staan. Sy het ’n streng gesig. Haar hare is opgebind en onder ’n hoed ingedruk. Oë verskuil agter ’n sonbril. Toe sy sien ek draai na haar, knik sy haar kop. ’n Klein glimlaggie trek om haar skelrooi lippe. “Sy vra vrae oor jou,” sê Plank.

“Watse vrae?”

“Of ek jou ken.”

“Is dit al?”

“Sy wil weet waar jy bly.”

“Ek hoop nie jy het haar gesê nie. Dis seker weer ’n flippen joernalis. Of iemand wat ’n boek wil skryf.”

Ek kyk weer, maar skielik is sy weg. Die gedagte aan haar bly my by toe ek die middag woonstel toe stap om reg te maak vir die aand se opvoering. Iets aan die vrou was bekend. Waar het ek haar vantevore gesien? Dit sal aan my bly knaag totdat ek die antwoord kry.

Vrydagaand bewe Stellenbosch van die energie. Liggies hang aan bome. Daar is driehoekige vlaggies op die sypaadjies gespan. Sommige strate is afgesper, want die organiseerders verwag vyf-en-twintigduisend mense by vanjaar se Vensters.

Ek het nie besef die storie is so groot nie.

In Victoriastraat is ’n straatfees met stalletjies. Elders dans studente langarm op die klein sirkels by padkruisings. ’n Ou met ’n weird broek en ’n trekklavier stap by my verby; sy musiek volg hom vrolik tot waar hy stop om vir mense ’n liedjie te speel.

Ek kry vir Plank by sy koshuis. Ons eet en drink en lag. Hy stel my aan ’n paar van sy pelle voor. Ek kan nie hulle name onthou nie. Dis ook nie regtig belangrik nie. Iewers in die harwar van mense loop ons vir Chloe-hulle raak. Sy is op haar stukke met ’n groot rooi afro-pruik op haar kop. Toe ek weer sien, soen sy een van die meisies. Ek lag en wys vir Plank. Sy mond val oop en ek moet net keer of hy neem ’n foto.

In die loop van die aand verloor ek vir Plank tussen die mense. Ek probeer hom bel, maar hy antwoord nie sy selfoon nie. In ’n onbewaakte oomblik wonder ek wat John van hierdie straatpartytjie sou dink. Die gedagte stuur ’n glimlag na my mondhoeke.

Ek sou mal wees daaroor, hoor ek ’n verbeelde stem sê.

“Ek weet jy sou, bru. Ek weet jy sou.” Ek lig ’n glasie op hom. “Cheers, John. Mis jou, nè?” Meteens kry ek ’n knop in my keel. Verdiep in my gedagtes stap ek verby Metademia se straatverhoog. Ligte tol oor die mense, oor die eerstejaars wat hul beste passies uithaal. Musiek stamp in my bors, maar dis asof elke tree wat ek na ons groep se verhoog gee, my verder wegvat van die feestelikheid.

Uiteindelik staan ek tussen die mense wat wag dat ons optrede moet begin. Van die HK-lede en eerstejaars maal al agter die verhoog rond. Ek moet ook daar wees, maar iets hou my terug. Ná al die geoefen en moeite kan ek myself nie so ver kry om by hulle aan te sluit nie.

Grootoog staan ek daar en wonder wat met my aangaan. Wat is dit, Greg?

Om my gaan dit mal. Die energie vibreer hoër. Mens klap hande. Fluit. Die musiek pols. Ligte gloei oor die verhoog. Ek besef ek moet op die verhoog kom. Maar ek kan nie. Ek kan nie deel van die groep wees nie. Ek kan nie gaan sing en dans en laf wees nie. Dis nie meer wie ek is nie. En as ek myself die afgelope twee dae probeer wysmaak het dat ek my aan sulke kinderagtige goed kan oorgee, het ek vir myself gelieg.

Die gedagte skok deur my.

Ek staan net daar. Bewegingloos in die massa, totdat iemand aan my stamp en sy bier oor my hemp uitstort. “Kyk wat jy doen, ou!” kap ek na hom.

Die eerstejaar het ’n geel helm met vlaggies op sy kop en dra ’n groen tutu oor sy jeans. Dit lyk of hy nie eens registreer nie. Sy oë bly egter vas op my. ’n Frons verskyn op sy voorkop asof ’n benewelde gedagte aanmeld. “Jy … jy is daardie ou. Jy’t jou pa in die tronk gesit.”

“Ag, jy’s gesuip, man,” antwoord ek vinnig en probeer my hemp droogwring.

Hy frons. “Nee, is true,” hou die ou vol. “Ek sal jou enige plek herken. My ex het ’n crush op jou gehad – al daardie foto’s in Huisgenoot en op die internet.”

Ek onderdruk ’n vloek. “Jy’t totally die verkeerde ou beet.”

Hy lag. Skud sy kop. “Watse flippen loser gee sy pa weg?”

Skielik is dit asof ’n woede in my opborrel. Voor ek besef wat ek doen, stamp ek hom van my af weg. Dalk te hard. Hy land op die grond voor ’n meisie se voete, maar hy is skynbaar te dronk om om te gee. Glimlag net tartend. “So, my bru, gaan jy die koekieman ook vang?”

Hy bedoel die Baker, weet ek dadelik, maar ek wys dit nie.

“Wat het jy gerook, koekieman?” vra die meisie. Sy trek die ou op. Hy sukkel lomp op sy voete. Gelukkig skuif sy aandag van my na haar toe.

Van die ander mense staan ook skielik verder van my af weg. Want ek is die Candlestick-maker se seun. Die loser wat sy pa verraai het.

Ek is Greg Owen.

En ek is alleen tussen al hierdie mense.

Ek het verander in daardie outsider wat my destyds die onderwêreld in getrek het.

Donker Web

Подняться наверх