Читать книгу Donker Web - Fanie Viljoen - Страница 12
<h5>Die man met Google in sy kop</h5>
ОглавлениеMy klasse begin die Maandag ná die O-week. Die meeste van hulle is in die Sportwetenskapgebou aan die voet van die Stellenbosch-berg. Party van die lang gange herinner ’n bietjie aan ’n hospitaal. Buiten lesinglokale, is daar ’n sportfisiologie-laboratorium, biokinetikasentrum, bewegingslaboratorium, anatomie-laboratorium, twee swembaddens en meer in die gebou.
Sport can create hope where once there was only despair, lees ’n aanhaling van Nelson Mandela teen een van die mure by die studentesitkamer – ’n plek wat my herinner aan Huis Da Vinci se Hangout. Hier kan jy koffie drink of iets eet, rekenaars gebruik of fotostate maak.
Sportwetenskap is nou nie juis wat my pa vir my as studierigting sou kies nie. Dok Pienaar seker ook nie. In sy Lawson-openingstoespraak het hy mos elke jaar die kollege-stigter se droom aan ons voorgehou. “Thomas Lawson het ’n droom gehad: om ’n teelaarde te skep waarin die sakeleiers van die toekoms gekweek kan word.”
Maar stuff Thomas Lawson en Dok Pienaar.
My pa sou ook eerder wou hê ek moet die een of ander besigheidsrigting invaar, maar dis nie vir my nie. Hierdie is my besluit.
Daar is verskillende rigtings binne Sportwetenskap waaruit jy kan kies. Ek vat die een met sielkunde. Dit sluit ook verpligte modules in, onder andere fisiologie, inligtingsvaardighede en sosiologie.
Hiervoor het jy ’n toring voorgeskrewe boeke nodig. Hoe ek al daai goed in my kop gaan kry, is nog ’n raaisel, maar voor my het ander studente dit reggekry, so ek sal ook. Hoop ek.
Op die studenteportaal op die internet is my toets- en eksamenrooster ook alreeds gelaai.
In die eerste paar weke van klasdraf tref die kultuurskok van die studentelewe my. Nie alleen is daar massas leerwerk nie, die manier waarop die dosente toetsvrae stel, is uit ’n ander wêreld. Tussen die swottings moet ek ook sorg vir kos, vuil klere by die wassery gaan afgee en optel – dis asof die klere kleintjies kry. Wat doen ek? Trek ek regtig soveel aan? Ek moet boonop kophou en reminders op my selfoon stel om te onthou om simpel goed soos toiletpapier te koop, of te sorg dat daar krag op die voorafbetaalde elektrisiteitsmeter is.
Gelukkig kom maak iemand twee keer per week my woonstel skoon. As ek dít ook nog moes doen, sou ek crack.
Teen die einde van Februarie het Chloe my al seker tien keer genooi om te kom koffie drink of uit te gaan vir ’n jol.
“Nee, jammer, ek leer,” is my verskoning elke keer. Sy glo my nie. Ek weet dit. Maar kyk in my oë, Chloe: lyk dit of ek worry?
Ek kry haar af en toe in die woonstelgang wanneer sy met ’n nat skildery sukkel of die een of ander kunsprojek in Stellenbosch se strate probeer afsleep.
Sy het ook al gevra waar ek die aand met Vensters was. Sy hoef nie te weet nie.
Maar sy weet iets. Daarvan is ek seker. Iemand moes haar al van my pa vertel het. En dis ook oukei.
Sportervaring is die praktiese deel van my kursus. Swem, atletiek en sokker is verpligtend, maar jy kan verder kies uit tennis of krieket, en hokkie of rugby. Rugby bly vir my lekker, al het dinge op skool nie goed geëindig met my rebellie teen die skoolhoof nie.
Klasbywoning vir die prakties is verpligtend, maar dis nie ’n issue nie, want sommige van die klasse word buite aangebied. Dit beteken ek hoef nie tussen vier mure vasgekeer te sit nie. Veral in ’n klein klas soos die anatomielaboratorium met sy groen mure en donker vensters voel ek ’n drukkende benoudheid. Dis wanneer ek my aandag op die modelle van die menslike liggaam fokus: die gedetailleerde torso, voetbeendere, knie, volledige geraamtes en meer. Telkens, onder die glim van kunsmatige lig, kom Conrad Botes se The Temptation to Exist-skildery by my op en wonder ek oor die eksistensie van die mens wat om hierdie skelet verweef lê. Die wese wat moet asemhaal en droom en bestaan. Telkens dink ek aan myself, die pad wat my lewe loop en die goed wat nog voorlê. Sien ek kans daarvoor? Is daar sin in wat ek doen, in wie ek is?
Een middag, terug by my woonstel, trek ek my oefenklere uit. Soos alle uniforms help die verpligte swart kortbroek en maroen-en-grys T-hemp my wegraak tussen die ander studente. Daar is ’n gesellige kameraadskap tussen die ouens, maar ek hou hulle op ’n afstand. Dis net vir Plank wat ek naby aan my toelaat. Ek mis sy geselsies en lawwighede as hy ’n ruk lank stil is.
Soms bel ek my ma. Vertel haar hoe dit gaan. Hoe goed ek aanpas by die studentelewe. Verbeel ek my of is daar deesdae meer lig in haar stem?
Ek stop my natgeswete oefenklere in die wasgoedsak en klim onder die stort in. Draai minute lank onder die warm water en raak ’n oomblik lank stil in my gedagtes. In die verte hoor ek die kerkklok lui. Motors buite die venster.
Iewers brand iemand se roosterbrood, ruik ek toe ek in die kombuis kom en wonder wat ek vir middagete kan eet.
Laatmiddag probeer ek swot, maar Plank kom crash in my woonstel en kyk YouTube-video’s van Jason Silva op my TV. Weer gerook, dis hoekom hy Jason se ramblings oor kreatiwiteit, die wonder van die lewe, kunsmatige intelligensie en wie-weet-wat kopknikkend beaam, asof hy presies weet waarvan die ou praat.
“So, I think that the singularity is a meme that reflects the sort of acceleration of the human design process to the point of achieving a kind of infinite velocity where everything becomes linked with everything else, and matter becomes mind, where we impregnate the universe with intelligence, as Erik Davis has written. You know, today technologists are these ecstatic technicians of the sacred. They are figuring out how awareness works, how the self emerges. Can we create non-biological intelligence? Can we create sentients in a different sub-strength that is not bound by the limits of biology?”
Ek probeer verstaan, maar ek is óf so dom soos modder, óf Jason is self op ’n eksistensiële trip.
Skielik sit Plank die klank sagter. “Ek moet jou iets vertel.”
“Ja?”
Sy oë word geheimsinnig. “Ek het ’n meisie ontmoet.”
“Jy ontmoet baie meisies.”
“Ek weet, maar ek dink hierdie een is die een.”
“Tot volgende week, nè? Dan is ’n ánder een ‘die een’. ”
“Is jy nie eens bly vir my nie?”
“Oukei, Plank, ek is. Wie is sy? Waar het jy haar raakgedrink?” Plank gooi my met ’n kussing. Ek koes. Lag. “Ernstig nou, vertel my.”
“Haar naam is Lisa.” Hy gryp sy selfoon, gaan na die galery en gooi ’n foto op die skerm. ’n Mooi meisie met ’n elfiegesig, swart hare, blou oë. “Sy bly hier op Stellies. Swot BCom. En ek het haar nie raakgedrink nie. Ek het haar raakgevry …”
Ek rol my oë. “Hoekom is ek nie verras nie?”
“Is jy jaloers?”
“Hoe kan ek wees? Ek het haar nog nie ontmoet nie.”
“Jy sal nog.” Hy soen die skerm.
’n Ruk lank bly ek stil. Vleg my vingers inmekaar voordat ek weer na hom kyk. “Ek is bly vir jou, Plank. Ek wens ek kan ook iemand ontmoet.”
“As jy meer uitkom, sal jy. Maar nou sit jy hier soos ’n haas in ’n gat.”
Ek haal my skouers op. Dink terug aan my Vensters-ervaring en kry weer daardie verlate gevoel tussen die mense. “Ek weet dit sal eendag gebeur. Dis … dis net nie nou die regte tyd nie. Ek moet dinge vir myself uitsort. Anyway, as meisies uitvind wie ek is, sal hulle nie eens amper belangstel nie.”
Plank skuif van die bed af, sit sy arm om my skouer asof hy my iets vertrouliks gaan vertel, of ’n vreeslike wysheid gaan kwytraak. “Luister nou mooi vir my, bru. Jy vertel jouself ’n storie wat nie waar is nie. Daardie fairy tale gaan jou realiteit word as jy aanhou om dit vir jouself wys te maak.”
Op ’n manier maak dit sin, asof ek weet dat dit waar is.
Die volgende dag, terwyl ek in die sielkundeklas sit, kom Plank se selfoonboodskap. Ek lees dit vinnig onder die lessenaar. Ek stick jou vir ’n pampoen-smoothie of een van daardie organic toorgoed by Kauai. Vrydagmiddag na klas. Lisa gaan daar wees.
Vrydagmiddag dwaal ek met my laptopsak oor my skouer in die De Wet Square-sentrum in Kerkstraat rond terwyl ek vir Plank-hulle wag. Die plek is ook net só groot en jy kan ook net sóveel daar sien en doen. Maar skielik vang my oog ’n bankie van swart graniet voor die SMAC-kunsgalery. Ek stap nader. Iets aan die bankie is vreemd. Dis nie net ’n sitplek nie, dis ’n kunswerk van Willem Boshoff. Die woord TRUST is netjies daarop gegraveer. Dan eers merk ek die bars deur die U. Broken Trust, die titel van die kunswerk. ’n Onverwagse herinnering aan die ou wat ek eens vertrou het, kom by my op. Nee, dwing ek my aandag van hom af weg. Laat staan dit. Jy het vir Plank gesê jy moet jou kop hier op Stellenbosch kom skoonkry. Elke plukkie aan die spinnekopdraad van herinneringe laat die hele web bewe.
’n Wit Toyota Hilux stop in die straat voor die ander geparkeerde motors en dwing my gedagtes gelukkig terug na die hede. Plank spring saam met ’n meisie uit.
Ek stap nader. Groet hom. En vir haar. Lisa is mooier as op die selfoonfoto. Haar hare is agter haar ore ingedruk. Blekerige vel met ligroos wange, oë wat innemend vonkel. Sy dra ’n vintage Nirvana-T-hemp en jeans.
Die man agter die Hilux se stuur rol ’n venster af. Lisa se pa, lei ek af.
“Middag, jong.”
“Middag, oom.”
“Is jy die Greg-ou van wie Plank gepraat het?” vra die man.
“Dis reg, oom.”
Hy frons. Leun sywaarts om my beter te kan sien. “Ken ek jou?”
Ek blaai deur my geheue. ’n Groot ou. Grys baard, rooi in die gesig soos iemand wat drink.
“Hy’s nie een van Pa se kriminele nie,” sê Lisa en lag.
Kriminele? Is die man in die polisie?
Steeds kyk hy my vas in die oë, asof hy my in sy kop google.
“Jy’s nie oorspronklik van Stellenbosch nie, nè?” Hy spreek dit “Stellimbos” uit.
Ek skud my kop.
“Pa, los die arme dude. Ry net,” sê Lisa weer. “Sorry,” sê sy vinnig vir my. Ek knik.
Maar dan spring haar pa uit die Hilux. Motors agter hom toet, want hy hou die laatmiddagverkeer op. Die man gee blykbaar nie ’n hel om nie. Hy stap tot reg voor my.
“Als oukei, oom?” vra Plank senuweeagtig.
“Nee, Plank, als is nie oukei nie.” ’n Sagte gromgeluid dreun in sy bors. “Lisa, klim terug in die kar.” Hier is groot fout. Hy haal sy oë nie vir ’n oomblik van my af nie. “Ek vergeet nooit ’n gesig nie.” Sy stem is diep. Gevaarlik. “Ek weet nou wie jy is, Greg. Jy bly weg van my meisiekind af. Het ons mekaar?”
Lisa lyk benoud toe sy terug in die bakkie klim. Plank staan verslae langs my. Toe Lisa se pa weer om die bakkie stap, agter die stuur inklim en wegry, draai ek terug na die galery waar die granietbankie staan. Dis asof ek daardie ou uit die verlede vir my hoor lag. Gebroke vertroue. En nou ook ’n gebroke lewe.
Ek kan sien Plank verstaan nie wat so pas gebeur het nie. Maar ek weet.