Читать книгу Donker Web - Fanie Viljoen - Страница 20

<h13>Gebroke</h13>

Оглавление

Daar staan ’n rooi motor in die skuiwende skadu’s van die bome voor ons huis toe ek later die middag daar aankom. Besoekers trek gewoonlik in, daarom is ek dadelik op my hoede. In my agterkop eggo die donker stem wat alle Suid-Afrikaners ken: Wees versigtig, dis dalk hijackers.

Ek besluit om dinge eers uit te kyk. Terwyl ek verbyry, tuur ek by die rooi kar se vensters in. Dadelik herken ek die insittende, maar my binneste knoop steeds. Uiteindelik hou ek in die oprit voor die veiligheidshek stil. Klim uit.

Nog ’n uitdaging, asof die tronkbesoek nie erg genoeg was nie.

Die rooi motor se deur gaan oop en Nicole klim uit. Haar hare is nie so goed versorg soos altyd nie. Geen grimering nie. ’n Skadu van moegheid onder haar oë. In haar liggaamshouding is daar ook ’n verandering, asof iets binne haar geknak het.

Sy lyk verlig om my te sien. Terwyl ek nader stap, maak sy die agterdeur oop, buk, en haal ’n bondeltjie komberse uit.

Dan is die stories wat ek gehoor het, waar. Nicole het ’n baba gehad.

Met die lyfie in die waai van haar arm, staan sy by die kardeur en sluk teen die trane.

Ek druk my hande in my sakke. “Hei, Nicole.”

“Greg,” groet sy.

“Ek het nie geweet jy kom nie.”

“Surprise!” roep sy gemaak ligsinnig, maar dit lyk eerder of sy wil huil. ’n Hele ruk staan ons so voor mekaar, ten volle bewus van die tasbare emosionele afstand tussen ons.

“Jou baba?” vra ek, al weet ek dis hare.

Nicole kyk af na die bondeltjie mens. “Wil jy haar vashou?” Ek knik onseker. “Haar naam is Colette.”

“Dis ’n mooi naam.”

“Ag, dankie. Ek het altyd geweet ek sal eendag my kind so noem. Ek het net nie gedink dit sou só gou –” Sy voltooi nie haar sin nie.

Versigtig neem ek die klein mensie by haar. Die sagste sag. Die mooiste mooi. Babapoeier en ’n soet roomgeur in die lug. “Jy is seker ’n goeie ma?”

“Ek probeer, maar ek voel so stupid.” Nicole vee ’n haartjie uit die baba se gesiggie weg. “Partykeer huil sy en dan weet ek nie eens hoekom nie. Of sy honger is, en of sy moeg is, of wat …”

“Haar pa help jou seker?”

Nicole laat haar kop sak. Haar hare val oor haar oë. “Sy’t nie ’n pa nie, Greg.” Die woorde is tegelyk dapper en rou.

“Sorry.” Ek wil eintlik nie uitvra nie, maar doen dit tog, want ons staan net daar in die gaping tussen woorde. “Wat het gebeur?”

“ ’n Partytjie. Pienk drankies. En een nag saam met een ou. Ek kan nie eens sy naam onthou nie, dis die simpelste van alles. Ek weet net hy is van die Kaap of iewers.” Sy glimlag moedeloos. Kyk my dan reg in die oë. “Ek het alles opgeneuk, Greg.”

“Dis mos nie waar nie.”

“Ek het ’n kind. Ek kon gaan swot het, soos jy en al my pelle. Nou ruil ek in die middel van die nag nappies om. En tjank.”

Ek wil my arm om haar sit, maar ek kan nie. Kan. Nie. Daar is geen manier om oor die kloof te kom nie.

“Jy sal oukei wees,” sê ek onoortuigend, maar hoop dat dit wel so sal wees. Ek kan my nie in haar situasie indink nie, al wil ek ook. Ons het ander mense geword. Wie ons gedink het ons is en wie ons wou wees, is weg in ’n droom.

“Ek weet nie regtig wat om te doen nie,” sê sy en vou haar arms beskermend om haar lyf.

“Jy doen fine, Nicole. Ek is seker.”

“Dit voel nie so nie.”

“Mens is sterker as wat jy dink. Jou ma-hulle speel seker lekker met die kleinkind.”

“My ma-hulle?” Weer ’n diep asemteug. ’n Siniese snork. “Hulle het vir my ’n woonstel gekoop, en hulle gee elke maand vir my sakgeld. Hulle het Colette nog net ’n paar keer gesien. Verder is ek op my eie. Ek is ’n embarrassment vir hulle.”

“Gee hulle net tyd.”

Nicole draai haar kop weg, vee ’n traan af met die agterkant van haar hand. Haar vingers bewe.

Ek kan vir haar sê dat dit sal verander. Alles sal regkom. Wees sterk. Hou jou kop hoog. Jy is nie die eerste meisie wat ’n kind sonder ’n pa moet grootmaak nie.

Maar ek voel soos ’n bastard, al het ek heeltemal niks met die kind te doen nie. Die feit is: dit gaan nie maklik wees nie. Vandag se ouens sal tien keer dink voordat hulle ’n meisie met ’n kind vat. ’n Kwessie van Not my circus, not my monkeys.

Uiteindelik moet ek iets ophaal wat aan my gewete rem. “Jy moet dit nie verkeerd opneem nie, Nicole, maar hoekom het jy gekom? Ek verstaan nie hoekom jy so uit die bloute hier uitgeval het nie. As dit dalk is omdat jy …” Ek weet nie hoe om dit te stel nie, maar ek kan sien sy verstaan.

“My pa-hulle wil nie hê ek moet jou weer sien nie, maar ek het gehoop ons kan weer … Ag, toemaar.” Dit lyk asof die see haar vat en intrek na sy dieptes.

Maar ek kan haar nie red nie.

Toe Nicole Colette by my neem, raak ons hande vir ’n oomblik aan mekaar. Daar was eens ’n vonk in so ’n aanraking, maar nie meer nie. Daar op die sypaadjie voor ons huis, daardie Vrydagmiddag besef ek finaal: die gevoel wat ek eens vir Nicole gehad het, hoe yl ook al, is iets van die verlede.

Ek vlieg die Sondagaand terug Kaap toe. Dit was ’n naweek wat my verander het. My ma by ’n ander ou. My pa in die tronk. En Nicole met die baba. Emosioneel voel ek gedreineer.

By Kaapstad-lughawe betaal ek die parkering, kry my kar en ry Stellenbosch toe. Ek besef eers toe ek by die Spier-wynlandgoed verbyry dat ek nie weet hoe ek hier gekom het nie. My gedagtes was die heeltyd elders, vasgeval in ’n bodemlose diepte. ’n Donker plek in my kop. Ek was al daar, in my matriekjaar. Dis asof ek nie daaruit kan ontsnap nie. Of dalk kan die donkerte nie uit mý ontsnap nie.

By my woonstel parkeer ek, sien my ma het ’n boodskap gestuur. Moet asseblief nie vir my kwaad wees oor André nie.

Ag, Ma … is al wat ek antwoord.

Nog iets: Thomas Lawson en sy vrou het jou vir ete genooi.

Ek is klaar met hom en daai skool.

Ek weet. Maar Lawson is ’n belangrike man. Invloedryk. Mens weet nooit wanneer jy iemand soos hy nodig kry nie. Onthou jy wat hy destyds vir jou gesê het?

Hy het besigheidsidees waaraan ons dalk kan saamwerk.

En?

Moenie jou brûe brand sodat jy lig in die donker kan maak nie.

Ek sug.

Oukei, Ma, tik ek dan. Stuur die pindrop en tyd.

Ek kry my tas en stap, verlore in my gedagtes, met die trappe op na my plek. Sluit oop en loop binnetoe. Ook hier is dit donker. Ek sit die lig aan.

Dan kom die gevoel.

Iets is nie reg nie.

Meteens vang my oog die laptop. Die skerm is opgeslaan. Ek het dit beslis toegemaak. My lessenaarlaai staan ook effens oop.

Hier was iemand in my plek.

Die gedagte tref my soos ’n vuishou.

Vinnig hardloop ek na die Conrad Botes-skildery waar ek die gebrande boek weggesteek het. Lig dit van die muur af en draai dit om. Die koevert met die boek is nog agter op vasgeplak, sien ek verlig.

Al my klere is nog hier, so ook die TV en die geld in my bedkassie se laai. Dis vreemd. Niks is weg nie. As daar iemand in my plek was, wat het hulle dan hier kom maak?

Vir ’n oomblik oorweeg ek dit om die polisie te kontak, maar hulle sal my nie ernstig opneem as niks weg is nie.

Steeds onrustig, gaan sit ek by die rekenaar terwyl ek dinge probeer uitpluis. Toe ek in die stoel omdraai, merk ek iets op die skuifdeur van die balkon. Is dit woorde? Ja, iemand het in donkerbruin op die binnekant van die glas geskryf: Jy en jou hacker buddy moet my uitlos.

Net dit.

Versigtig staan ek op. Stap nader. Die bruin letters – dis bloed!

Ek steier, maar neem my oë nie vir ’n oomblik daarvan af nie. Vrees klop in my.

Kom dit van die Baker af?

Wie is die “hacker buddy”? Ek en …?

Net asseblief een ding, Greg, hoor ek weer ’n stem uit die verlede eggo. Dit was ’n joernalis s’n, op pad huis toe die aand toe my lewe onherroeplik verander het. Die ou na wie die polisie soek – ek het twee name hier: Eckardt Wilken en Ekk-0. Is dit sy regte naam?

Dit neem ’n oomblik om ten volle te registreer.

Eckardt?

Nee, dis mos nie sy regte naam nie. Dit het ek later uitgevind toe ek meer oor sy pa, die regter, se verdwyning wou uitvind. Die inligting op Google was skraps. Maar ’n gehackde mediese rekord het sy seun se naam genoem.

Xander. Nie Eckardt Wilken nie. Xander Gericke.

Dis wie hy is. Of was. Of wat ook al.

As die Baker vanaand in my woonstel was, dink hy seker ek en Xander werk saam om hom te kry.

Dis belaglik. Of dalk nie …

Ek gaan kry ’n emmer water, ’n skropborsel en ’n lap om die bloed skoon te maak. Dis vieslik. Maar dit sal meer vat om my van my plan te laat afsien, besluit ek. Hardkoppig soos altyd.

Terwyl ek die bloed afskrop en dit in die seepwater van die deur afstroom, neem ’n plan stadig vorm aan. Ek kon nog nie juis hond haaraf maak met my soektog na die Baker nie.

Wat ás ek vir Xander kry om my te help?

Ag nee, dis soos in heeltemal flippen crazy. Hy het ons gesin verwoes. Hoekom sal ek hom vra om my te help? Ek sal hom mos nooit kan vertrou nie. Broken Trust. Die bankie by die galery, onthou, Greg?

Sê nou hy het nog verdere duistere planne?

Nee, ek sal dit nooit doen nie. Ek sal nooit vir Xander vra nie.

Maar ’n mens moet nooit “nooit” sê nie. ’n Week later, na nóg talle oproepe, internetsoektogte, en twee hacking-probeerslae, is ek nog net waar ek daardie Sondagaand was. Presies nêrens nie.

Weer kom die gedagte by my op: Daar is net een mens wat my sal kan help, en dis Xander Gericke. Hy het immers eerste van Project Nursery Rhyme uitgevind. Dalk weet hy meer daarvan.

Dalk weet hy selfs wie die Baker is.

Maar moet ek dit doen? wonder ek. Moet ek hom nou weer kontak, ná alles wat gebeur het?

Moet ek ’n deal met die duiwel maak?

Donker Web

Подняться наверх