Читать книгу Donker Web - Fanie Viljoen - Страница 8
<h1>Skree</h1>
ОглавлениеGreg Owen is oorlede. ’n Span duikers het sy liggaam gister uit die Canale Grande in Venesië gehaal.
Dis wat die koerante in die Turret Media-groep oor my berig.
Greg Owen is dood.
Kan dit waar wees, ná alles wat gebeur het? Miskien is daar meer aan die storie.
Ja, ek was in Venesië, waar die hoofkanaal soos ’n reuseslang deur die stad kronkel, en ja, iemand is uit die donker water gehaal. Maar ander mense was saam met my daar. Ons was vyf.
Een van hulle is dood.
Hierdie is ons storie.
Dis hoe dit begin.
Ons huis in Sandhurst het ’n skemeragtige plek geword, meestal sonder klank, buiten vir ’n selfoon wat af en toe lui, die geluid van ’n motor in die straat, ’n sjef wat kosmaak in die kombuis, of wanneer ek doelbewus musiek hard aansit om die stilte te verdryf.
Kom jy die huis binne, stap jy met die gang af of sit jy in die sonkamer, is daar altyd hierdie swaar gevoel wat binne jou lê, soos ’n opgekrulde slang.
So het dit begin voel die aand toe ons by die huis arriveer nadat ek teen die middel van matriek weg is by Lawson Kollege, nou al ’n jaar en ’n half gelede. So iets. Ook tyd het ’n ander betekenis gekry in hierdie somberte. Dae het soms verbygegaan terwyl jy afgestomp daardeur worstel, net om aan die einde van so ’n dag in die hof of waar ook al te wonder hoe jy daardeur gekom het. Dit was byna soos wanneer ’n mens se gedagtes begin dwaal terwyl jy kar bestuur, en jy later wonder hoe op aarde jy by die huis gekom het, want jy kan niks van die rit onthou nie.
Besigheidsvennote en mense wat vroeër goeie vriende met my pa was, het hulself skaars gehou. Altyd besig. Dit was asof hulle bang was dat ’n smet aan hulle sou afsmeer. Een unlikely ou het egter op ’n dag by die huis opgedaag, ’n ruiker blomme in die hand. “Let me know if there is anything you need, Mrs Owen. Anything at all.”
Thomas Lawson. TJ, wat saam met my in matriek was, se oupa.
Asof hy my pa iets skuld.
En noudat alles verby is – skool, Dok en my pa se hofsaak, die media-vreetfees – is die neerdrukkende gevoel in ons huis steeds daar. Dit besef ek toe ek die aand vir die laaste keer in my bed lê. Môre is dit tyd vir ’n nuwe begin, of so vertel ek myself. Die een of ander tyd moet ’n mens voortgaan. Dis die lewe.
Ek laat my asem stadig uit, my oë gerig op die muur oorkant die bed waar ’n Conrad Botes-skildery hang. Dis uit sy The Temptation to Exist-reeks. ’n Selfportret wat ek nie verstaan nie, maar waarna ek ure lank kan kyk. Waaroor ek kan wonder. My ma het dit vir my gekoop omdat sy weet ek hou van sy hardegat kuns. In my kas is daar nog ’n stapel Bitterkomix-strokies met Botes, Anton Kannemeyer en ander kunsrebelle se werk in.
Van die skildery af beweeg my oë na die bokse by die deur. Die tasse en ander random goed wat môre moet saamgaan Stellenbosch toe. Dis waar ek nou gaan bly. Stellies.
Ek probeer my aandag vir ’n oomblik daarvan afkry, want ek weet ek moet slaap. Dis al ná twaalf.
Met my oë toe, lê en luister ek na my eie asemhaling. Weer intens bewus van die verraad in my: die ou wat sy eie pa vir die wolwe gevoer het. Dit steek in my bors. Jy kan skoert van die huis af, Greg, maar so maklik kom geen mens weg van die swakheid binne jou nie. Ook nie van die verlede se skaduwee nie.
Ek rol om. Al probeer ek hoe, die slaap wil nie kom nie.
Uiteindelik gooi ek die beddegoed eenkant toe, klim uit die bed en stap badkamer toe. Die lig gloei helderder toe ek die vertrek binnestap. Ek sluk ’n glas water af. Vang nog ’n stroom water in die holte van my hande, spat dit oor my gesig en kyk hoe die water oor my vel blink, hoe dit in strome oor my ken afloop na my nek, oor my kaal bolyf.
My gesig het verander. Die gedagte tref my onverhoeds. Ek is glad nie meer dieselfde matrieklaaitie wat ek in Lawson Kollege was nie. Daar is iets forsers aan die manier waarop my gesig se hoeke sny. Iets treurigers in my oë. ’n Bitterheid in die manier waarop my lippe trek.
’n Mens leer ook uit die wedstryde wat jy verloor, kom ’n les van ’n rugbyafrigter na my toe terug.
Leer ’n rugbywedstryd jou dat die lewe unfair is? wonder ek wrang. Waar ek nou is, en hoe ek hier gekom het – dis nie hoe my lewe moes wees nie.
Met daardie gedagte wat deur my kop maal, stap ek terug kamer toe. My vingers vee oor die bokse by die deur toe ek my kamerdeur oopmaak. Die gangmat is sag onder my voete.
By my broer, John, se kamer stop ek. Vir ’n oomblik wil ek klop en is daar die vae hoop dat hy sal antwoord. “Kom in as jy ’n broek aanhet.” Dis hoe hy altyd geantwoord het. Ek kry ’n effense laggie, maak die deur oop en stap in. Die lig gaan lê sag oor die kamer toe ek die skakelaar teen die muur druk.
Nog herinneringe stroom deur my, duisel in my kop.
Die bed is opgemaak. Die gordyne wat die donker moet buite hou, is toe. Al John se goed is net soos dit was toe hy nog geleef het. My ma hou dit so. Daaroor is ek nogal bly. Al is dit tragies, amper ’n gedenk-altaar, is dit een van die min dinge wat ons van my broer in die huis het.
Om sy gedagtenis in my lewendig te hou, probeer ek verbete vasklou aan die tye wat ons saam was. Soos die keer toe ons by die Orlando-torings in Soweto gaan bungee jump het. Later was ons by Bloukrans se bungee en toe by die reusetouswaai by die Moses Mabhida-stadion in Durban. John het gelewe vir daardie adrenalienstorm in die bloed.
“Hoekom doen ons dit?” het ek hom gevra toe ons daar op die platform by die stadion staan en afkyk na die sportveld doer onder. John was alreeds vas aan die springtou se harnas. Die seewind daar bo het aan ons hare gepluk en ons T-hemde teen ons lywe vasgedruk.
Dit was asof John na die antwoord binne hom gesoek het.
“Hoekom?” het ek weer gevra.
“Vir die val. Vir die vrees,” het hy ná ’n ruk geantwoord, sy wenkbroue uitdagend gelig, en skewerig geglimlag.
Toe spring hy.
Die rek het hom soos ’n naelstring verbind aan die middel van die massiewe boog wat oor die stadion span. John het sy arms oopgegooi en uitgelate diep uit sy maag geskree.
Vir die val. Vir die vrees.
Hy het my op elke avontuur saamgesleep. Bungee, white-water rafting op die Oranjerivier. Rotsklim in Kaapstad. Dit was asof hy met al hierdie adrenalieninspuitings die grense van die lewe wou toets.
Die grens het hy gekry. Nie in een van die gevaarlike sporte nie. In ’n donnerse bottel pille.
So is my broer weg.
“My Here tog! John!” het my ma geskree toe ons hom kry. Dit sou hom nie terugbring nie, al het my ma hoe geskree en gebid in die kar op pad hospitaal toe. Die stadige oopmaak van die ambulansdeure by noodgevalle het die tyding gebring.
Dit was verby.
Ma het soos ’n verdwaalde uit die kar geklim en na die ambulans toe gestap. Ek en my pa het ’n ruk in die motor bly sit. Eers in ’n verdrinkende stilte. Toe sê Pa iets wat my so geskok het dat ek dit nog nooit aan iemand kon oorvertel nie. Nie eens my ma nie.
Nou is dit jare later en ek staan in John se kamer.
Die beeld van die sterk ou met sy blonde hare, oseaanblou oë en glimlag wat meisies se harte kon sagmaak, het al begin vervaag in plekke waar ek hom wou onthou. Dit het ’n skadu tussen verlang en vergeet geword.
Die Meksikane sê glo elke mens sterf drie dode: die eerste dood is wanneer jy jou oë vir die laaste keer toemaak, die tweede wanneer jy begrawe word en die aarde oor jou toemaak, en die derde die dag wanneer niemand jou meer onthou nie, wanneer jou naam nie meer gesê word nie.
“So, jy het nog een dood oor, my broer,” sê ek sag en gaan sit op die bed waar ons hom daardie dag gekry het, die leë pilbottel op die bedkassie.
“Slaap jy nie?” vra ’n stem by die kamerdeur.
Dit laat my opkyk.
My ma het ’n syjapon aan. Kaalvoet. Geen grimering om die moegheid op haar gesig weg te steek nie.
“Seker my sondes wat my wakker hou,” probeer ek grap.
Sy dink nie dis snaaks nie. ’n Spiertjie by haar mond trek.
Stadig kom Ma die kamer binne, amper asof sy op heilige grond loop. Dwalend beweeg sy deur die kamer. Sy raak hier aan ’n fotoraam, daar aan ’n sportmedalje of die getekende rugbybal wat eens in Lawson Kollege se gedenkmuseum was. “Partykeer is dit asof ek nog vir John in die kamer kan voel,” sê sy, haar stem broos van die herinnering. “Soos ek hom in my lyf gevoel het voor sy geboorte. ’n Ma vergeet nie hoe elkeen van haar kinders binne haar gevoel het nie. John was die onrustige een. Tóé seker al planne gemaak vir daardie gevaarlike sport waaraan hy sou deelneem. Jy was kalmer, Greg. ’n Denker of ’n dromer, het ek destyds gedink. By tye het jou voet hier onder my hart vasgeskop. Asof jy genoeg gehad het van die benoudheid en wou uitbreek. Nee, het ek toe besluit, hierdie een gaan ’n rebel wees.”
My ma laat die woord “rebel” in die lug hang sodat ek daarmee kan maak wat ek wil.
Vir ’n ruk lank praat ons nie. Ek sit op John se bed en my ma staan net daar skuins voor my, kantel haar kop asof sy soekend luister vir John se stem – wat nie kom nie.
Uiteindelik verbreek ek die stilte. “Ek gaan nog ’n rukkie sit, Ma kan maar gaan slaap.”
Sy knik. Maar steeds staan sy versteen in haar gedagtes, draai haar wysvinger deur haar hare. “As ’n mens ’n kind verloor, is dit asof jy in die diepste geheimenisse van die see beland, waar jy op jou eie verdrink. Niemand kan jou daar kom red nie. Vreemd, jy wil ook nie hê iemand moet jou kom red nie. Jy soek net jou kind. Dis al.”
Haar oë boor ’n oomblik lank in myne, dan vou sy haar arms om haar lyf asof sy skielik koud kry.
Ek weet nie wat om vir my ma te sê nie, net soos ek nie weet hoe dit voel om ’n kind te verloor nie, en sy nie weet hoe dit voel om ’n broer te verloor nie. Verdrink ons nie maar almal so in die stilligheid nie?
“Wat gaan Ma doen as ek weg is?” vra ek uiteindelik.
“Ek kan seker kies om te doen wat ek altyd doen. Of ek kan aangaan met my lewe.”
Weer die ongemaklike stilte. Daar is ’n kwesbaarheid aan die manier waarop haar skouers sak, ’n rouheid in haar stem.
“Weet jy wat ek soms ná John se dood gedoen het? Toe jy daar by Lawson Kollege was, jou pa wie-weet-waar op sy sakereise, en ek vasgekeer in hierdie verdomde huis?”
Ek skud my kop.
“Ek het gewag totdat al die werkers laatmiddag weg is. Dan het ek die deure en vensters toegemaak. En ek het geskree. En geskree. En geskree.”
Die bekentenis ruk my.
Haar mondhoek krul senuweeagtig asof sy dit nie moes gesê het nie. Dan kom nog ’n belydenis om die desperaatheid van haar stil bestaan te onderstreep. “Almal vir wie ek lief is, word van my af weggevat.” Sy frommel haar hande inmekaar, bly staan so asof sy beswaarlik regop kan bly teen die emosies.
“Ma?” vra ek versigtig. Bang. Ek staan vinnig op, sit my arms om haar en druk haar styf teen my vas. “Is Ma oukei?”
Geen antwoord nie.
Ek sit my hande weerskante van haar gesig. Kyk dringend na haar, my polsslag rusteloos. “Ma?”
Haar mondhoek pluk. Sy draai haar kop effens, soen my hand. “Nag, Greg, ek gaan nou slaap. Ek is baie moeg. Sit die lig af as jy kamer toe gaan.”
In geskokte stilte kyk ek hoe sy wegstap, sien in my gedagtes my tenger ma in die sitkamer, of die kombuis, of haar slaapkamer. Haar hande in vuiste gebal. Kop agteroor gegooi. Oë toegeknyp. Mond oopgesper.
Binne my hoor ek haar skree. En die rou krete wat deur die leë huis weergalm.