Читать книгу Donker Web - Fanie Viljoen - Страница 6

Оглавление

Hy stap in die donker gang af. Dis soos daardie aand toe hy sy pa in die studeerkamer gekry het. Voor sy oë sien hy steeds sy pa se groot lyf half oor die lessenaar gebuig toe die deur oopgaan. Hy sien die geel koevert. Sien die 9 mm-pistool.

Sy pa vou dit toe in ’n lap en sit dit weg in die laai.

“Jy moet nie vir jou ma vertel nie. Oukei? Dis ons geheim,” sê sy pa. Sy gesig is natgehuil. “Gaan slaap nou.”

Binne hom weerklink sy pa se stem toe hy nog daar staan om sin te probeer maak van wat hy gesien het. Hy het nie eens geweet daar is ’n pistool in die huis nie. Wat maak sy pa met een?

Uiteindelik draai hy om, stap kamer toe met sy pa se woorde wat hom volg. “Nag. Lekker slaap …”

Sy pa sê sy naam, maar hy hoor dit nie. Dis asof die donker dit opraap en in die voue van sy kleed verberg. Nou weet die donker van hom en sal dit hom roep. Hom op sy naam noem asof hy aan die donker behoort.

Sy regte naam, nie net ’n eggo daarvan nie.

“Xander, is dit jy?” vra ’n stem nou in die studeerkamer. Dis ses maande nadat hy sy pa die aand daar met die pistool gekry het. Toe was hy elf. Nou twaalf. Hy het verlede maand verjaar.

“Ja, Pa?”

“Kom binne, jong.”

Xander druk die deurhandvatsel af. Die metaal is steeds koud. Die deur wat hy oopstoot ruik steeds na politoer, nes daardie vorige keer.

“Alles oukei?” vra sy pa. Hy sit in ’n diep leerstoel by die kaggel. Oral om hom lê papiere gestrooi. In sy hande, ’n Montblanc-pen en ’n oopgeslane boek. Xander se oog gly oor die groot boekrak, sien dadelik die plek waar die boek uitgetrek is. Dit laat ’n swart gat tussen die groen boekrûe.

“Daar is iemand by die deur vir Pa,” sê hy toe hy sy kop terugdraai.

“Het jou ma hulle laat inkom?”

Xander haal sy skouers op.

“Weet jy wie dit is?”

“Twee ooms.” Hy weet nie veel meer nie. Sy pa se werk bring soms mense huis toe. Meestal in pakke klere. Kraakwit hemde. Dasse. Hierdie mans was anders aangetrek. Sommer net jeans en swart T-hemde wat om hulle boarms span.

Sy pa sit die pen neer en maak die boek tydsaam toe. Frons. “Ek verwag nie mense nie. Ek is nogal besig, Xander.”

“Die een oom het gesê dit is dringend.”

“Het hy nie sy naam gegee nie?”

Xander dink ’n bietjie. “Nee, maar hy het gesê Tok het hom gestuur. Dis ’n snaakse naam.”

“Dok?”

“Ja!”

Sy pa staan op uit die stoel, skielik haastig, asof hy nou eers besef wat aangaan. Sy hand bewe toe hy aan sy seun raak. “Xander, gaan soek ’n plek waar jy kan wegkruip. Jy kom nie uit totdat ek jou roep nie. Gou! Maak gou!”

Iewers in die huis gil ’n vrou.

Dit ruk binne Xander. Stamp sy asem uit sy bors. “Pa, wat gaan aan? Was dit Ma?”

Sy pa is by hom. Gryp sy skouers vas. “Ek is lief vir jou, Xander. Onthou dit. Altyd. Maak nie saak wat gebeur nie.” Vinnig soen sy pa hom op die voorkop. Daar is ’n skrikwekkende dringendheid aan die soen, aan sy woorde. “Dink slim, oukei, seun? Gaan nou, kruip weg. Dadelik! Gaan net. Gaan!”

Dis meteens asof die donker se kleed om hom vou. Asof dit stywer om hom trek, en hoe meer hy probeer uitwerk wat aangaan, hoe stywer knel die houvas. Steeds kom sy asem in kort, hortende teue en skeur die vrees deur sy lyf.

Dok.

Dit het iets daarmee te doen.

“Regter Gericke …” hoor hy die besoeker sê.

Xander kyk oor sy skouer toe hy met die gang afhardloop. Hy sien die mans se skaduwees oor die muur in die portaal skuif.

Dis soos monsters wat die huis binnegekom het.

Die angs wel steeds hoër in hom op. Pols deur sy brein. Sy mond droog.

“Naand, kan ek julle help?” vra sy pa uit die voorportaal, waar die lig sag gloei. Sy stem is gespanne, dof, asof hy uit ’n bodemlose diepte praat.

Dan hoor Xander die vuishou, sien in die rukkende skaduwee teen die muur hoe sy pa inmekaarsak.

Dis hoe vrees voel: Vuur blits deur jou lyf, elke senuwee ruk wakker, adrenalien gooi jou gedagtes in snelrat, jou oë sper oop, jou asemhaling hou op en jou borsholte pers saam. En jy hoor dit – jou eie hart. Klop. Klop. Klop.

Donker Web

Подняться наверх