Читать книгу Donker Web - Fanie Viljoen - Страница 21
<h14>Terug in die onderwêreld</h14>
ОглавлениеEk neem nie die besluit gatoorkop nie, maar gee myself tyd om dit behoorlik te oorweeg terwyl ek ook aan my swottings aandag gee. Moet ek vir Eckardt … Xander kontak?
Die vraag maal nog steeds deur my kop toe ek laat een Vrydagmiddag die pad Clifton toe vat. “Trek tog netjies aan vir die Lawsons se ete,” het my ma gevra. “En om hemelsnaam, Greg, skeer ’n slag.” Dis hoekom ek nou in ’n linnebaadjie en langbroek sit en sweet, my gesig so glad soos ’n rekenaarskerm.
Die spoggerige huis is nogal iets om te beleef. Net die beste meublement; skilderye waar jy kyk. ’n Asemrowende, ononderbroke uitsig oor die Atlantiese Oseaan, die Twaalf Apostels in die verte. Duur drank. Duur kos. Duur sigare. En ’n hele spul mense. Ek het gedink ek gaan die Lawsons se enigste gas wees, maar dis toe meer van ’n partytjie. Dit pas my, want dan kan ek vinniger wegglip.
“Greg Owen, welcome, young man!” roep Thomas Lawson uit toe hy my sien. “It’s been, what? A year, year and a half since I last saw you?” Ek gril weer vir sy styfgetrekte gesig. “I’m so glad you could come. Let me introduce you to some people so you don’t feel like a stranger.” Hy lei my deur die portaal na die onthaalvertrek. Babbel voort, stel my hier en daar aan mense bekend. “Oh, this is my wife, Rebecca. Rebecca, you know Greg Owen? Chris’s son?”
’n Trofee-vrou. Baie jonger as Thomas. “Pleased to meet you, Greg,” sê sy en flash haar porseleintande. Haar koper vel kom nie van die Kaapse son nie, daai bruin kom uit ’n bottel.
“Great to meet you as well, Mrs Lawson. Lovely home.”
“Thank you, you’re so kind. And handsome. Thomas, honey, doesn’t he look like his dad?”
“More like his mom,” antwoord Thomas.
Hulle lag. Skerts. So fake soos freakin’ plastiekpotplante. Maar ek is hier, en ek moet maar maak asof ek belangstel.
Hulle stel my aan tientalle ander gaste bekend. Een van hulle ’n meisie – Gabby. Matriek aan Kampsbaai Hoërskool. Sy vra my selfoonnommer. Kamtig geïnteresseerd, maar ek kan sommer sien sy gaan net deur die motions. Ek sal nooit van haar hoor nie.
Die ander mense by die partytjie se name is soos ’n waas: Joggie Dreyer, ’n politikus met ’n honger oog wat my hand langer vashou as waarmee ek gemaklik is. Sy vrou maak of sy dit nie sien nie. Mildred Fortuin en haar man, industriële tycoons wat glo die wêreld vol reis. Elbert Swartz, CEO van ’n spesialis-finansiëledienstegroep. Daar is ook prokureurs, advokate, ’n polisiekommissaris, nog politici, en hooggeplaastes in die staatsdiens en besigheidswêreld.
Die bejaarde generaal Winters trek my eenkant toe. Hy is nog fors, ten spyte van sy ouderdom. Sterk hande. In ’n onbewaakte oomblik wonder ek of hy al iemand met daardie hande doodgemaak het. Dalk in die destydse Grensoorlog?
“Hoe gaan dit met jou pa?” vra hy. Diep stem soos iemand wat bevele oor ’n paradegrond kan skree.
“Onder omstandighede, seker goed.”
“Dis nou ’n manier om ’n kotskoek te versier.”
“Ekskuus?” Heeltemal onkant gevang.