Читать книгу Anderkant uit - Hanlie Retief - Страница 10
ОглавлениеSterk, maar verbý moeg
Bridget van Ballo het ten tyde van dié onderhoud reeds vir sewe jaar ’n huis gedeel met Leeroshe, haar 19-jarige tik-verslaafde seun. ’n Paar maande ná die onderhoud het Leeroshe sy ma se oog met ’n mes probeer uitsteek. Hy dien tans sy vonnis uit in Pollsmoor.
Dis ’n rowwe oggend in Cinderellastraat, Mitchells Plain. Leeroshe van Ballo se kieste is so half ingesuig. Sy oë lyk glasig; groot in sy kop. Hy gee ’n snuif. Die tik-trip het nog nie lekker uitgewerk nie.
Dis skuins ná ses. Hy’t drie-uur ingekom en nou soek hy kooi, maar “Mommy” sit met ’n spul mense in die voorkamer.
“Gaan slaap,” verjaag sy hom.
“Jy’t niks hier uit te waai nie. Get outta my face.”
Hy roer nie ’n aks nie. Hang so slaplyf teen die muur, rol die wieletjie van ’n sigaretaansteker met sy duim en dreig met die vlammetjie teen ’n kantgordyn voor die veiligheidshek by Mommy se slaapkamer.
Aan die hek hang ’n groot slot.
Hy gluur Mommy aan. Daar’s haat in sy oë.
“I’ll kill you,” mompel hy.
Hy’s 19, sy bene is pypdun, sy brein en emosies gepekel in metamfetamien. Al sewe jaar lank.
Haar “wonderlike” seun het op 12 ’n monster geword.
Die oorlog met haar kind het Bridget van Ballo se lewe kom insluk. Sy bemark haar kralewerk op ’n webtuiste (www. bridgetvanballo.withtank.com), maar sy het twee, drie jaar laas daarna gekyk.
Bedags bestuur sy ’n onderneming in die Old Biscuit Mill in Soutrivier wat rekwisiete vir rolprente en tydskrifte verhuur.
Daar kan sy haar fyn smaak en kunsaanvoeling uitleef. Dis haar lewe, haar behoud. Want saans is sy terug in Mitchells Plain, terug in die tik-hel wat haar lewe in Cinderellastraat geword het.
Bridget is fyn en klein en moeg. Sy het gisteraand niks geslaap nie.
“Dank die Here ek is ’n sterk mens, ek kan dit vat. Maar jy raak moeg. Verby moeg. Dis nou breekpunt vir my.
“Sondag, as hier nie mense gekom het nie, sou ek hom doodgemaak het. Ek sit al van verlede Vrydag af en beplan hoe ek dit gaan doen.
“Ek het gedink om ’n klomp vuurhoutjies in ’n sigaret te druk en as hy hom aansteek, dan ontplof dit. Maak ek hom dood met die mes …”
Sy oorweeg dit. Skud kop.
“Nee. Gif … Aan al daai dinge het ek gedink.”
Nie met ’n stuk tou verwurg soos Ellen Pakkies met háár tik-seun gedoen het nie. Nee. Dan is sy arms nog los om haar te gryp.
Sedert sy verlede Sondag haar moordplanne in ’n dwelmpraatjie in Lentegeur bespreek het, is álmal nou op haar case, sê Bridget. “Hulle’s bang ek word nog ’n Ellen Pakkies.”
Leeroshe haal ’n lepel uit die kombuislaai. Hou hom aan die lepelkant vas, wys die steel terwyl hy ons aangluur.
Bridget ignoreer hom.
“Gist’raant, toe’s ek besig met ’n TV-span wat ’n dokumentêr maak oor tik. Hy nag heeltyd vir geld – nag, nag, nag – vat kanse as hier mense is. Nou kyk, dáái’s die tyd dat ek gaan geld léén net om sy bek toe te hou.”
Gee sy hom niks, slaan hy ruite stukkend. Sluit sy hom uit, klop hy heelnag aan die vensters en deure, reg om die huis, en dan kry sy geen slaap nie.
“Ek moet vér dink wanneer ek laas ’n volle nag se slaap gehad het.”
Hoe hou sy dit uit?
“Ek weet nie, maar ek’s fine by die werk. Ek gaat net aan.”
“You go to work now,” mompel die seun vir haar met ’n dik tong. “Go.”
’n Stuk van sy hare is rooi gekleur, sy denim hang laag oor sy maer boude, rooi kouse steek uit by ’n paar gaar plakkies.
Hy kom sleepvoet nader, hang oor sy ma. “Mommy gimme R5.”
Sy knip haar beursie oop, plak ’n R2 in sy hand.
Sewe keer het sy hom reeds in die tronk laat toesluit. Sewe maal 70 keer die ander wang gedraai. Daar’s nou ’n lasbrief uitgereik vir sy inhegtenisneming.
As hy hoor sy bel die polisie, maak hy hom uit die voete, gaan sit op die bult en lag hulle uit. Sodra die polisie ry, kom maak hy weer moleste.
Leeroshe se pa is al 19 jaar lank uit die prentjie. Dis Bridget wat hom moes groot kry. Sy sussie, Kim, het hom lankal afgeskryf.
Sy kan nie eens meer onthou wáár sy oral al om hulp aangeklop het nie, sê Bridget.
Hy was 12, toe woon hulle al saam ACVV-sessies by.
Hy’s Steinthal toe gestuur, ’n plek van veiligheid in Tulbagh, toe hol hy weg en word met dwelms in Piketberg gevang.
Toe Bonnytoun vir drie maande. ’n Week tuis, “toe’s dit ou stryk en ek’s terug hof toe, want ek wil weet: Wanneer hélp julle my?
“Ons is hof in, hof uit, toe’s hy De Novo-rehab toe. Daarna Posasa, hof, weer Bonnytoun, hof, weer Posasa … Dis nie grappies as ek sê ek gaan hom doodmaak nie.”
Sy’s nie bang hy maak haar eerste dood nie?
“Nee.” Ferm. Sy laat haar nie intimideer nie.
Vier jaar gelede hét hy haar met die broodmes gekap. Dit was net bloed uit die wond bo haar oog.
Haar dogter bel haar gereeld en vra: “Mammie, is jou begrafnispolis opbetaal?”
“Dan sê ek: ‘Moenie worrie nie.’ Sy lag. “Soos dinge nou gaan, sal iemand dit nodig kry!”
Hy steel haar kaal, hy breek haar huis af.
“Dis die vierde agterdeur wat ek moes insit. Ek’t reeds R5 000 op ruite uitgegee. My geiser is uit my huis gesteel, my wasmasjien, tuinmeubels, gasstoof.
“In die plek van daai seuntjie wat ek grootgemaak het, is ’n lelike, onbeskofte monster. Hy, wat so lekker kon breakdance, sing en grappies maak … Ek kan nie onthou wánneer ek hom laas hoor sing het nie.”
Dit breek haar hart?
“Gmf, ek’s lánkal verby daai stadium.”
Sy’t laas Desember opgehou omgee, onthou sy. Ná vier maande in Pollsmoor het sy weer ’n bietjie van die ou Leeroshe teruggekry. “Sy gesig was mooi vol, jy kon sien hy’s nie op dwelms nie.”
Maar twee dae later, toe’s haar ketel en strykyster weg …
Leeroshe strompel nader. Krap in sy neus. “What about a oddjie (kleingeld), Mommy?”
Sy verjaag hom. Vererg stap hy kombuislaai toe, haal ’n mes uit en kom dreigend nader.
Bridget se lippe trek dun. Sy pluk haar selfoon uit, skakel 10111 en sê in een asem: “Julle-beter-kom-my-kind-wil-my-steek.”
Leeroshe raak paniekerig. “Mommy, you phone them really-really? No, Mommy!”
Net toe Bridget die selfoon neersit, gryp hy dit en hol by die voordeur uit, bo-oor die muurtjie.
Die fotograaf hardloop agterna, trek hom plat en vat die selfoon af. “Jis, jy was vinnig,” lag Bridget uitasem terwyl ons kyk hoe Leeroshe na ’n oop stuk veld hardloop, hinkepink sonder een plakkie.
Terug in die voorkamer gaan sit ons, vol adrenalien.
“Vanaand gaan hy my hel gee.
“So, vanaand kom ek maar liewer huis toe mét die cops.”
Die minute tik verby. Daar’s onheil in die lug. Bridget bly kyk deur die kantgordyn of die polisie kom.
“Oor ’n naweek bel ek die cops seker so vier, vyf keer. Hulle ken my adres. Tot die staatsaanklaers ken hom al goed.
“Ek het net eetmesse in die huis. As ek ’n skerp mes wil hê, gaan leen ek by die bure.”
’n Deur klap en ek wip van die skrik. Ons bars uit van die lag.
As hy die dag dood is, sê sy afgemete, dan hou sy ’n paartie. Dan nooi sy die bietjie vriende wat sy nog het. Dan word sy vir die eerste keer in haar lewe smoordronk …
Sy glimlag, opgewonde oor dié blye vooruitsig.
Toe hy in Pollsmoor was, was dit hemels, vertel sy. Sy’t vleis gebraai vir vriendinne, hulle het heelaand daar gesit met die deure wawyd oop. “Rústig.”
En toe kom hy terug.
Verlede Dinsdag het sy gedink halleluja, daar’s ’n lasbrief uit vir hom, die tjoekie is sy voorland. “Toe ek by die huis kom, toe strip ek sy kooi, was sy beddegoed en sê vir die honde: ‘Joegaai, my babies, we are home alone!’ ”
En toe kom hy terug.
Sy begin regmaak vir werk. Die honde word uitgelaat. Viper, stokoud, sukkel om van die bank af te klim.
“Skuus, ou Viper,” troos sy. Angie, genoem na Angelina Jolie, draf agterna. “As Leeroshe met my perform, klim my honne op my skoot, so groot soos hulle is, en beskerm my.”
Skielik verstyf Bridget. Leeroshe staan in die voordeur. Moerig. Hy wink vir sy bendepelle wat in die veldjie oorkant staan en wag. “Apie-julle, kóm.”
Apie-hulle moet nou met die fotograaf kom afreken. “You risk your life, huh,” gee Leeroshe hom ’n vuil kyk.
Dan kom red die buurman die situasie. Hy doen dit nogal gereeld, vertel hy later droogweg.
Leeroshe en Kie. maak hulself uit die voete.
Bridget kyk veldjie toe, haar ken hoog. “Ek is nie bang vir gangsters nie.”
Op ’n keer wou die bendes haar huis afvat om ’n tik-nes daarvan te maak. Hulle het kwansuis wapens daar kom soek, toe laat sy die polisie kom.
“Jis,” skud sy kop, “terwyl die cops die huis deursoek, staan die gangsters hiér op die veldjie, die bure staan dáár en kyk en my familie is besig om al my goed op te pak. Ek sê vir die gangsters ek blý. Ek stick dit uit.”
Ná ’n week by ’n vriendin is sy terug huis toe. Sedertdien, sê sy, het die bendelede respek vir haar.
Sy trek aan haar sigaret, kyk weer deur die kantgordyn.
“Waar blý die polisie? As die hof en die polieste my nie kan beskerm nie, moet ek self plan maak. Moor.”
“Sal jy hom rêrig doodmaak?” vra ek.
Sy bly lank stil. Skud haar kop stadig.
“Nee. Ek gaan nie in die tronk sit vir hóm nie. Ek het nog te veel om voor te lewe.”
Intussen kook sy elke aand vir ’n ou omie in die buurt ’n bord kos. Vir sommer. Oor sy vrou dood is en hy ’n familievriend is. En sy droom van ’n eie winkeltjie eendag waar sy haar handwerk kan verkoop.
Ons ry weg uit Cinderellastraat. Hier is nie koetse of prinse nie, net ’n aspoester by no. 34.
Voor Bridget van Ballo lê ’n lang dag se werk. Vanaand sal sy by die huis kom, vir haar roosterbrood maak, met Viper en Angie gaan stap. En dan sluit sy haar hek en gaan sit rustig op haar bed met haar kralewerk.
En dan kom Leeroshe.
En dan begin die hel weer van voor af.
April 2011