Читать книгу Anderkant uit - Hanlie Retief - Страница 17
ОглавлениеOor kommunikasie
Die woord “kommunikasie” is ongelukkig al so voos gebruik deur beraders en selfhelp-inisiatiewe dat dit grootliks sy krag verloor het. Die gevolg is dat mense nie regtig die belangrikheid en noodsaaklikheid van doeltreffende kommunikasie besef nie.
Basies kom dit daarop neer dat die mens evolusionêr nog nie ver genoeg ontwikkel het om die prentjies, klanke en sintuiglike ervarings in ’n mens se brein presies aan ander oor te dra nie. Deur die klanke wat jou mond en keel vorm en die gebare wat jy maak, probeer jy dapper om jou eintlike bedoelinge te weergee, maar selfs mense van dieselfde taal en kultuur vind dit byna onmoontlik.
Dit beteken ons as mensdom is kollektief in die moeilikheid – grootliks weens onbegrip, maar ook weens die misverstande en foutiewe aannames wat op gebrekkige kommunikasie volg.
Dis insiggewend dat die oplossing vir feitlik alle geskille tussen mense wat ek (Louis) deur die jare as kliënte in my spreekkamer gehad het – of dit nou tussen huweliksmaats of kollegas was – by goeie kommunikasie gelê het. Ongelukkig is daar nie regtig ’n ander uitweg nie. Tensy ’n mens gedagtes kan lees, is kommunikasie al wat jy het om die interaksie tussen jou en ander mense te bedryf.
Die twee onderhoude met die Gaums en met Bertie en Nedine Blom is goeie voorbeelde van die verskil wat kommunikasie in enige verhouding kan maak, of dit nou tussen man en vrou, pa en seun, of selfs gemeenskap en kerk is.
Mense weet nie altyd hoe om reg te kommunikeer nie, maar dis geen skande nie: Hulle vergeet dat dit ’n vaardigheid is wat hulle moet aanleer, soos om ’n motor te bestuur. Die vermoë om effektief met ander te kommunikeer, val nie sommer uit die lug nie. Ons is almal geneig om net te fokus op wat óns voel, wat óns wil hê of wat vir óns belangrik is, terwyl die goue sleutel wat die deur na ware kommunikasie oopsluit, eintlik die aktiewe luister na ander is.
Hoeveel makliker sou verhoudings en misverstande bestuur kon word as mense sommer op skool al kommunikasievaardighede kon aanleer … Om nie te praat van die kostebesparing in wankelende situasies nie, soos ’n huwelik wat op ’n egskeiding afstuur. Uiteindelik raak gebrekkige kommunikasie ’n bose kringloop: Ons dra dieselfde stel oneffektiewe vaardighede oor aan die volgende geslag.
As dit so eenvoudig is, hoekom sukkel mense dan daarmee?
Die rede is omdat daar ’n massiewe verskil is tussen luister en hoor. ’n Mens moet seker maak dat dit wat jy hoor presies dit is wat die ander persoon bedoel. Dit klínk eenvoudig, maar as dit regtig so maklik was, sou daar nie soveel wanbegrip tussen mense en groepe bestaan het nie.
En om te sê jy moet léér om ordentlik te hoor wat ’n ander persoon vir jou sê, is juis die rede hoekom ’n mens daarna as ’n “vaardigheid” verwys – dit is iets wat aangeleer moet word.
Die probleem is dat mense van nature reageer op hul interpretasie van die ander persoon se woorde, in plaas daarvan om te luister vir hul oorspronklike bedoeling. Dit lei tot ’n mors van tyd en tot baie frustrasie. Totdat jy nie presies kan opsom wat iemand anders bedoel het nie, het jy nie aktief genoeg geluister nie.
Deur beter hiermee te word, beteken nie noodwendig dat jy vrede in alle verhoudings kan verseker nie, maar ’n poging om die ander party se bedoeling op te som, impliseer ten minste ’n bereidwilligheid om te verstaan, wat al klaar tot groter vrede kan lei.
Dit blyk duidelik uit die onderhoude met die Bloms sowel as die Gaums. ’n Blote bereidwilligheid om te luister kon alreeds 50% van die vlamme blus. Om te verskil met mekaar, of teleurgesteld in en selfs gewalg te wees deur ’n ander persoon is deel van menswees, maar een van die voertuie wat ons kollektief beslis vorentoe kan neem, is aktiewe kommunikasie.
As die twee partye dit steeds nie regkry nie, is dit tyd om ’n derde persoon in te roep, soos wat Laurie en Frits Gaum gedoen het. Hulle het ’n sielkundige gevra om hulle te help om mekaar beter te verstaan. Of dit tussen individue of tussen groepe is, bemiddeling help gewoonlik om gemoedere kalm te hou en die gelyke mag tussen mense te behou in gesprekke.
In byvoorbeeld huweliksberading is daar talle gevalle van huwelikspare wat letterlik jare lank oor dieselfde ding vasgesit het en toe hul geskille binne minute kon uitstryk – bloot nadat hulle geleer het om te luister wat die ander persoon se bedoeling is.
Min mense is doelbewus daarop uit om ander seer te maak. Bertie Blom se bereidwilligheid om na sy vrou te luister, selfs al is hy te na gekom, is ’n voorbeeld van iemand wat daarna strewe om te verstaan. Sy opregte poging om te begryp het uiteindelik daartoe gelei het dat hy sy eie aandeel aan die gebeure kon raaksien en regstel.
Die vraag is egter wat jy doen as jou man of vrou nie wíl leer kommunikeer nie, of net nie belangstel in praat oor probleme nie. ’n Mens hoor so baie van mense wat kla oor hul lewensmaats wat weier om iets reg te stel.
Dit is nogal ’n probleem, want kommunikasie is natuurlik ’n voorvereiste en dit kan net gebeur as alle partye bereid is om te probeer. Dit beteken om régtig te probeer en vir ten minste die helfte van die gesprek jou eiebelang opsy te skuif. Die geskiedenis is egter deurspek met mense en nasies wat gesê het hulle is bereid om oor oplossings te praat, maar eintlik net ’n manier gesoek het om hul eie agenda te bevorder.
Wat kommunikasie betref, kan ’n mens ongelukkig nie jou brood aan albei kante botter nie. Maar ’n beter broodjie as die met botter deurweekte sny wat jy gehad het, is gewaarborg as jy net probéér verstaan wat die ander party sê.
Louis & Lise