Читать книгу Anderkant uit - Hanlie Retief - Страница 12
ОглавлениеSinlose geweld
Soos ’n engel in die hel
Jackie van Zyl en haar man, Kobus, is in Mei 2003 in hul huis in Parkhurst in Johannesburg aangeval. Kobus, ’n prokureur, is in die kop geskiet en is nou blind en ’n kwadrupleeg, en Jackie is ’n voorbeeld van hoe mense voortbeur met die lewe ná hul storie van koerantplakkate verdwyn.
Elke oggend as Jackie van Zyl werk toe ry, is dit vir haar asof die koerantplakkate oor misdaad in neonletters teen die lamppale uitspring: vrou verkrag, pa vermoor …
Dis asof Jackie dit ópsoek: wie’s die nuwes wat nou óók in hierdie vagevuur beland het? Want sy weet: die misdaad, die aanval, is maar net die begin. “Die eintlike hel wág nog op die slagoffers. Hel in hoofletters.”
Háár hel is reeds ses en ’n half jaar aan die gang.
Op 1 Mei 2003 is Jackie en haar man, Kobus, in hul huis in Parkhurst, Johannesburg, deur twee gewapende rowers oorrompel. Ná ure se teistering is Kobus in die kop geskiet.
Hy, die eens briljante prokureur, is nou ’n blinde kwadrupleeg met erge breinskade, wat nie verder kan onthou as ’n halfuur gelede nie, wat sy eie vrou dikwels nie eens herken nie.
Jackie, sy mooi donkerkop, wat in desperate liefde by hom staan, hom versorg, haar lewe om hom laat draai.
“Ek het al soveel keer gewens ons was albei dood in daardie aanval. Dit sou ’n verlossing gewees het.
“Laat ek dit maar erken: ons twee wag om dood te gaan … en dis dalk jare van nou af.”
Almal het haar destyds aangeraai om Kobus in ’n inrigting te plaas. Sy’t vasgeskop. Sý sorg vir hom. Dié besluit het haar selfs van haar eie familie vervreem. Sy’t húlle ook daardie nag verloor.
Voor daardie gru-nag het die lewe wyd en oop gelê vir Kobus en Jackie van Zyl. Op 40 het hy pas met ’n nuwe loopbaan in inligtingstegnologie begin. Op 36 het sy jaar ná jaar die pryse by Volkswagen gewen as hul top-verkoper van vlootmotors. Die tyd was reg om met ’n gesin te begin.
Hulle’t altyd geglo hul liefde was onvernietigbaar. “Nou weet ek dit,” sê sy hartseer in die sitkamer van hul meenthuis in Bryanston. Die spore van daardie nag lê oor haar gesig, in haar bruin oë.
Háár naam was die eerste woord wat Kobus gesê het toe hy ná ’n maand uit sy koma wakker geword het.
“Kobus was stil, konserwatief, slim en baie beskermend teenoor my. Ek weer, sy Engelse, vrolike ekstrovert-vrou.”
Sy’t vir hom ’n motorfiets gekoop met sy 40ste verjaardag. Hul eerste naweekrit, drie weke voor die aanval, is nou haar kosbaarste herinnering.
Dis vir haar amper te moeilik om oor hul lewe te praat. Sy kon die nag voor ons onderhoud nie slaap nie. Dit het al die ou wonde weer oopgekrap. Sy moes weer kalmeerpille begin gebruik.
“Sien, I don’t deal with me, ooit. Dis makliker om net te fokus op Kobus. Ek het geen lewe nie. Dis net … werk toe, huis toe, Kobus. Ons twee is vasgevang in 2003. Daar’t ons lewe opgehou.”
Sy kry selfs nog die skerp reuk van haar aanvallers as sy saans weer en wéér uit haar bed opstaan om te gaan seker maak: hét sy die buitedeure gesluit?
Byna sewe jaar later speel alles oor en oor soos ’n gru-fliek in haar kop: die honde se gegrom, Kobus wat rondlig in die tuin, die rowers se voeteval, sy wat verskrik in die swembad spring en … sy bars in trane uit … snik dit uit: “Ek dink dít was die fout, want toe spring Kobus agterna en verloor sy bril en hy’s erg bysiende en dit kon dalk …”
Hoe verwýt Jackie haarself nie. Al daardie sê-nou’s vreet haar op. Die refrein van vier jaar se terapie – dis nie jou fout nie, Jackie – bly net woorde.
Al wérklikheid bly: hoe sy, rewolwer teen die kop, toekyk hoe Kobus vasgebind en aangerand word, hoe hy met hulle stoei sodat sy kan wegkom …
Dan: die finaliteit van die rewolwerskoot, Kobus se gehyg, daardie verskriklike oomblik toe sy later in sy oë kyk en sien: hulle is léég.
Haar skraal skouers ruk.
“Ek het nagmerries van daardie oë. Daar was net … níks.
“Dis die oomblik toe ek Kobus verloor het.”
Maar, herhaal Jackie, die heel ergste is nie die breekspul van daardie nag nie, dis die skerwe wat jy daarna nooit weer kan optel nie.
“Jy hoort nêrens meer nie. Selfs in ons kompleks vermy die mense ons. Die samelewing skram mos weg van gestremdes. Jy word ’n buitestander.”
Sy, wat so uitgesien het na moederskap, was oornag ’n ma vir haar man, sy primêre versorger.
“Dit voel vir my asof almal vergeet het ek is sy vrou.”
Kobus weet dit meestal óók nie.
“As ek by sy kamer instap, sal ek vra: hoe gaan dit met jou, my lief? Dan vra hy: wie’s jy?
“Ek: Wie dink jy is ek?
“Dan sal hy laggend sê: jy’s die vrou wat sê sy’s my vrou.”
Sy langtermyn-geheue, veral sy kinder- en studentejare, is ongeskonde. Vir die res het hy sulke eilandjies van onthou.
“Ek weet: hy’s net ’n dop van die man wat hy was. Maar vir my is hy honderd persent. Ek’s liewer vir hom as ooit. Hy’s sag en dierbaar.”
’n Traanstrepie blink oor haar wang.
Die borrelende, sorgelose Jackie wat almal geken het, is óók daardie aand weg. Sy kon net sowel ook ’n koeël in die kop gekry het.
“Ek sal nooit weer daardie Jackie wees nie.”
Sy’t bykans g’n sosiale lewe nie. As sy ’n rukkie van hom weg is, kry sy onttrekkingsimptome.
Kom haar vriendinne kuier, braai hulle, want Kobus kan met sy regterhand (hy kan dit effens gebruik) ’n tjop vashou.
Alles draai om Kobus. Al wat tel, is Kobus.
“Maar dit was mý besluit, amper sewe jaar gelede. Dís die belofte wat ek voor die kansel gemaak het, amper 13 jaar gelede: in sickness and in health.”
Sy reël sy wêreld, die twee versorgers bedags, die fisioterapie, die oudio-boeke, als, soos ’n militêre kamp, vreesbevange hy kom iets oor.
“Daar’s nie ’n merkie aan sy lyf nie,” sê sy amper trots. “Hy sal mý kan oorleef.”
Kobus se familie is daar vir hom, sy ma bring elke Woensdag by hom deur, maar sy vriende het almal verdwyn. Aanvanklik het hulle nog kom kuier, maar later in trane gebel en gesê hulle kán hom nie so aanskou nie.
Om geldelik te oorleef, bly ’n tuimelrit. Sy, die toppresteerder, moes toekyk hoe haar werkprestasie gly en bevorderingskanse verdwyn.
“Dis net onmoontlik om vir almal honderd persent te gee.”
Ten spyte daarvan het die arme Jackie nog nie ’n enkele dag van die werk af weggebly nie. Hulle ondersteun haar wonderlik, sê sy, maar sy voel skuldig en bang dat sy ’n las vir die maatskappy kan word.
“En wat dan? Kobus het nie polisse nie, hy’s totaal van my afhanklik. Ons toekoms is in God se hande. En … ons is nog altyd voor gesorg.”
Die onkoste om ’n kwadrupleeg te versorg, is astronomies.
Daar’s lánkal nie meer geld vir ligstrepies in haar hare nie. ’n Vriend vertel hoe kreatief sy planne beraam, soos die doeke wat sy kon koop met die R10 000 wat sy in ’n tydskrif-kompetisie gewen het, met haar en Kobus se eie liefdesverhaal.
“Wanhopige tye vra desperate dade,” sê dié vrou wat nog nooit voor iemand bakhand gestaan het nie.
Iewers tussen die doeke, die nagte waarin sy hom twee-uurliks omdraai, die skommeling tussen sy woedebuie en sy liefde, die gestoei met rekeninge – iewers is Jackie van Zyl.
Haar dokter het haar gediagnoseer met “uitbranding”. Dalk help die vier dae wat sy in Desember saam met ’n vriendin Ramsgate toe gaan. Maar of sy dit wel gaan regkry om te gaan, weet sy nie, erken sy senuagtig. In die amper sewe jaar was sy nog net één nag weg van hom.
“My dokter sê as ek myself hier kan wegskeur, breek die naelstring dalk … Kobus het nou ook mý gemaksone geword.”
Ses maande ná die aanval het sy probeer swanger raak, maar die fertiliteitskliniek kon nie help nie: ná Kobus se beserings is sy sperm onbruikbaar.
“My suster het nou ’n baba gekry. Ek was oukei daarmee. Tot sy die baba kom wys het. Joe. Ek was vir dae stukkend. Ek besef nou, die gemis is steeds daar.”
Maar kóm, sê sy en trek my aan die hand. Kóm, ontmoet my man.
Kobus is pas klaar aandete gevoer. Langs sy bed lê John Smit se nuwe boek. Sy lees dit vir hom, want hy onthou die ’95-Wêreldbeker-spelers goed. Hy korrigeer my grammatika in sy diep, sexy stem. Terg: Is jy blond? Jy sien so skrefie van die ou, sterk Kobus.
Sy vryf sy hare, kyk na hom met soveel liefde, dit maak die hele kamer vol.
Die liefde oorwin alles.
Dís die verhaal van hierdie dapper, gebroke vrou ná húl koerantplakkate: haar volgende dag, volgende maand, haar stukkende leeftyd daarna.
Later, terug op die bank, druk Jackie haar gesig in haar hande. Sy’s só moeg, só klaar. Haar vingers is naderhand nat van die trane.
“Gee my ’n alternatief … as dit jy was, wat sou jý gedoen het?” vra sy my, amper pleitend.
“As ek my rug op hom draai, hom in ’n inrigting sit, hoe sal ek óóit met myself kan saamleef … hóé?”
November 2009
Post scriptum
Sewe jaar ná die onderhoud – en dertien jaar ná die aanval – het nie veel in Jackie en Kobus se lewens verander nie. Hy is gemaklik en gelukkig en vir die afgelope dekade reeds is Jackie sy versorger. Alles is stabiel rondom hom en hy kry twee keer ’n week fisioterapie.
Sy sê die eerste tien jaar ná die aanval het sy net van dag tot dag geleef. Die keerpunt was in Desember 2015 toe sy vir die eerste keer in 13 jaar die kans gekry het om weer op haar eie in die see te gaan swem.
“Daar in die branders het ek vir die eerste keer vrede in my gemoed gekry. Dis ons lewe, Kobus is rustig, en ek ook. Ek voel ek leef nou weer.”
As sy weer voor die keuse gelaat word of sy Kobus in ’n inrigting moet sit of hom self versorg is daar vir haar geen twyfel nie: “Ek sal Kobus versorg tot sy dood. Sy ouers het albei baie oud geword. Sy gene is goed. Die feit dat hy bedlêend is, verkort sy lewensverwagting. Maar daar lê nog jare voor saam. Ek en hy is saam vir altyd.
“En weet jy,” sê sy deur die trane, “daar’s tóg steeds ’n bietjie van die ou Kobus.”
Januarie 2016