Читать книгу Anderkant uit - Hanlie Retief - Страница 9
ОглавлениеBeheer
Een Desembernag
Alison Botha, destyds 24, se lewe het in Desember 1994 onherroeplik verander nadat sy buite haar ouerhuis in Port Elizabeth ontvoer is en deur twee mans verkrag, met ’n mes vermink en vir dood op ’n strand agtergelaat is. Sy het op wonderbaarlike wyse oorleef, geweier om ’n slagoffer te bly, en haar lewe herbou. Deesdae is sy ’n motiveringspreker en haar boek I Have Life is in 2015 verfilm.
Frans du Toit se gesig was millimeters weg van hare.
Sy het in sy oë gekyk. Hy het uitdrukkingloos teruggestaar, sy oë koud en wreed terwyl hy haar wurg.
Asseblief, moenie my doodmaak nie, het sy gesmeek.
Jammer. Dis al wat hy gesê het.*
“Daar was geen emosie nie; nie ’n druppel menslikheid in hom nie,” onthou Alison. “Later, in die hof, het hy amper klinies vertel hoe hy my gewurg het totdat hy gedink het ek is dood.”
En toe maak Du Toit en Theuns Kruger dubbel seker: Hulle steek haar 35 keer met ’n mes in haar maag; sny haar keel 16 keer oop.
Hulle’t haar daardie Desembernag vir dood gelaat en met dieselfde mes die volgende oggend doodluiters ontbyt berei – met Alison se bloed steeds daarop, het ’n vermakerige Kruger in die hof getuig.
Toe regter Chris Jansen dié twee, Port Elizabeth se sogenaamde Ripper Rapists, vonnis – Du Toit drie keer lewenslank; Kruger lewenslank plus 25 jaar – het hy daarop aangedring dat die departement van korrektiewe dienste dit duidelik in hul lêers aanteken: Dié twee mag nóóit vir parool in aanmerking kom nie.
Nou, 17 jaar later, het die ink van dié nota blykbaar baie dof geword. Ingevolge nuwe wetgewing mag alle gevangenes wat voor 2004 tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is en reeds 13 jaar en vier maande uitgedien het, om parool aansoek doen.
Ook Frans du Toit en Theuns Kruger.
Hulle is deel van ’n groep van 5 000 geweldsmisdadigers wat nou vrygelaat kan word.
“Albei het reeds voor die paroolraad verskyn, sonder dat ek van Theuns s’n in kennis gestel is,” vertel Alison. “Ek het pas gehoor Theuns het Donderdag sy tweede paroolverhoor en ek’s nou besig om my vertoë teen sy vrylating te finaliseer.
“Theuns spog blykbaar in die tronk dat hy binnekort ’n vry man gaan wees.”
Dit het haar onthuts, sê sy.
Dis of die wonde van 1994 weer oopgebars het, weer aan die bloei geraak het.
“Ek het Theuns en Frans lankal vergewe; nié vir wat hulle aan my gedoen het nie, maar net sodat ek nooit weer oor hulle hoef te dink nie. Want ek wil g’n emosie oor hulle hê nie; nie haat nie, nie woede nie, niks.
“Maar nou,” sê sy met ’n moeë sug, “word ek van voor af gedwing om oor hulle te dink.”
Al die jare het Alison geweier dat dié twee enige invloed op haar lewe het. Hulle sal nié haar lewe verwoes nie, het sy besluit.
Sy onthou nog die oomblik: Terwyl hulle haar verkrag, met haar hande teen die plafon van haar klein geel Renault sodat sy nie aan hulle hoef te raak nie, het sy oor en oor gesê: “Ali, hulle doen dit aan jou liggaam; hulle doen dit nie aan jóú nie.
“Hulle kan nie aan jou ráák nie.
“En nou móét ek aan hulle dink. Hulle is terug in my lewe.
“Lewensgroot. Of die 17 jaar uitgewis is.”
Toe dit bekend word dat albei reeds voor ’n paroolraad verskyn het, is Alison oorval deur die media. Haar saak het opnuut hoofopskrifte gehaal, selfs sonder dat sy ’n woord aan die media gesê het.
Dit het haar onkant betrap.
Sy’t deurmekaar en weerloos gevoel, depressief; haar feitlik in haar huis toegesluit; in die bed beland met brongitis en gewrigpyne “wat seker maar emosionele uitputting was”.
Ali wou net wegkruip. Nou nog, eintlik.
“Ek kan my nie sover kry om eens te dínk dat hulle kan uitkom nie. My kop hou op dink voordat ek daar kom.
“Ek meen, my kinders … ek kan nie dink … Selfs al sit daai twee hul hande op elke Bybel wat hulle kry en hulle waarborg dat hulle my sal uitlos, aangaan met hul lewe, sal ek steeds die vrees hê.”
Sy kyk op, haar oë troebelgroen.
“Ek is nou ’n enkelma vir my twee seuns ná my egskeiding drie jaar gelede. Dit laat ’n mens nogal weerloos, weet jy. Ek’t my seuns altyd gerusgestel hul ma se baddies is agter tralies. Sê nou iemand vertel hulle by die skool die baddies kan nou uitkom?”
Aan emigreer, sê sy, het sy nog nie eens gedink nie. “Maar sal dit uiteindelik my enigste opsie wees?”
Sy sit daar, kaalvoet, een been onder haar ingevou, kastaiingbruin hare los oor haar skouers.
As jou oë onwillekeurig afgly na haar keel sien jy dit amper nie raak nie. Die litteken. ’n Fyn lyntjie. ’n Herinnering.
Ons gesels by haar vriendin en sakevennoot se plek in Vishoek. Sy’t van George ’n paar dae gekom om ’n dokumentêr en fliek oor haar lewe te beplan.
Dis Valentynsdag, teetyd, en die kleur van die rooifluweelkoek word herhaal in die skoenlappermotief op haar bloes.
Maar háár kleur, vandag, is blouerig. Ja, knik sy, “die parool-ding vreet aan my”.
Wat haar veral ontstel, is dat die gevangenes deur die bank in aanmerking kom vir parool, ongeag hul misdaad.
“Korrektiewe dienste het glo nie die mannekrag om deur almal se lêers te gaan om uit te vind wie parool verdien en wie nie. Maar hulle het wel nou die mannekrag om 5 000 paroolvertoë te hanteer. Want watter gevangene gaan nou nié aansoek doen nie?
“En dink jy nou rêrig hulle gaan al hierdie hordes paroolverhore behoorlik doen? Ek’s oortuig daarvan van hierdie 5 000 is reeds vrygelaat. En dis hardcore misdadigers hierdie; baie het veelvuldige, lewenslange vonnisse.”
Dit laat haar skuldig voel dat die media-aandag hoofsaaklik op háár is; dat sy die plakkaatmeisie in die veldtog teen parool geword het in openbare vertoë (net een het 10 800 handtekeninge) teen die vrylating van háár aanvallers.
“Wat van al die ander slagoffers en hul geliefdes?”
’n Hartseertrek glip oor haar gesig. Daardie slagoffers is vermoor, sê sy, die meeste van hulle se stem is stil. Hulle’s die kans ontneem om ’n inspirasie te wees vir ander, om openbare vertoë te lei, om nou te baklei om hul moordenaars in die tronk te hou.
Dis dalk teen haar sin, maar Alison het die stem geword vir al die slagoffers wat stilgemaak is. Dit maak haar dalk ook nou ’n teiken, waarsku ’n vriend haar. “Sê nou dié wat parool geweier word, kry hul maatjies daarbuite om my ’n les te leer …?”
Sy ril. Hectic, nè, kyk ons twee vir mekaar.
Sewentien jaar al inspireer Alison se dapperheid mense oor die wêreld heen. In ons land met sy hoë verkragtingsyfer het sy ’n simbool van hoop vir verkragtingslagoffers geword. Haar boodskap oorskadu die pikdonkerte van daardie nag.
Sy’t al in ’n ski-chalet in Switserland gepraat; ’n kasteel in Skotland; ’n paleis in Griekeland; voor 9/11-slagoffers in New York; in Mexiko voor skatryk sakemanne wie se gesinslede ontvoer is vir ’n losprys … Sy was al in meer as 30 lande en voor meer as 300 000 mense.
Haar boek, I Have Life, is in verskeie tale vertaal.
“Ek het daaroor begin praat om ander slagoffers te help, maar op die ou end het dit mý gesond gemaak.”
Dis nie meer net háár verhaal nie, het sy besef, dis ’n universele een van oorlewing en sy’s die dissipel wat dit so wyd moontlik moet uitdra.
Onder ’n volmaan, een aand op ’n bergplaas in Colorado, het haar gasheer Alison aan sy gaste bekendgestel met die woorde:
“Niks vanaand is toeval nie. Die pad wat julle tot by die tente moes stap, is hoe ver sy deur die bosse gekruip het terwyl sy met haar een hand haar kop moes regop hou sodat dit nie op haar rug val nie.
“Die tyd wat julle drankies gedrink het, was hoe lank sy op die teerpad gelê en wag het vir ’n ambulans.”
Daardie nag, ver weg in Amerika, het Alison opnuut die wonderwerk beleef van háár nag.
Haar agent het aanvanklik vir haar gesê haar gewildheid as spreker het ’n kort leeftyd. ’n Jaar of twee, dan’s die mediastorie koud. Sewentien jaar later kan die wêreld steeds nie genoeg kry van dié dapper vrou nie.
As jy haar ontmoet, weet jy dadelik hoekom. Sy’s eenvoudig magneties.
Tiaan Eilerd, die jong student wat daardie nag op haar afgekom het, vertel van haar ongelooflike warm glimlag toe hy haar in die pad kry, besig om haar ingewande in ’n denimhemp te probeer vashou. Die dokter by die hospitaal vertel hoe haar oë hom vás aangekyk het terwyl hy haar werwelkolom deur haar oopgesnyde keel kon sien.
“Daardie nag het die res van my lewe gedefinieer. As ek kon kies, sou ek dit nié anders wou gehad het nie,” sê Alison.
“Bygesê, mét al die wonderwerke wat gebeur het!”
Sy sit haar vurkie neer langs die laaste koekkrummels.
Iemand vra haar onlangs of haar aanval dalk bygedra het tot die verbrokkeling van haar huwelik. Sy en Tienie was immers onskeibaar.
Dit het haar laat wonder. “Toe ons ontmoet het, was ek verlig om iemand te kry wat óók bagasie het.
“Ons het deur die jare geleidelik uitmekaargegroei. Die lewe is te kosbaar om in ’n ongelukkige verhouding te bly.”
Sy hoop om weer iemand te ontmoet, maar “ek gee nou liewer my tyd vir my twee seunskinders”.
Jy hoor die hoofmeisie in haar stem. Verantwoordelike Ali, altyd daar vir almal. Die meisie wat ná vier jaar in Londen teruggekom het huis toe, vasbeslote om nié voort te ploeter in ’n 9-5-lewe nie, maar om iets betekenisvols te doen.
Sy het net nie geweet wát nie.
Sy draai haar kop skuins, kyk my stip aan met daardie groen, genadige oë.
“Ná daardie nag hét ek.”
Haar ergste nag het ook ’n seëning geword. Vir haar; vir soveel gekneusdes.
Februarie 2012
* Uit: I Have Life, uitgegee deur Penguin.