Читать книгу Anderkant uit - Hanlie Retief - Страница 11
ОглавлениеOor beheer
Met die eerste oogopslag is dit nie heeltemal duidelik wat hierdie twee onderhoude met mekaar te doen het nie. Die een is van ’n vrou, Alison, met wie iets onbeskryflik traumaties gebeur het – iets so verskrikliks dat ’n mens nie kan glo dat sy emosioneel staande gebly het nie. Die ander is van ’n vrou vasgevang in omstandighede met ’n tikverslaafde seun wat haar lewe hel maak.
Die aspek wat dit egter uit ’n sielkundige oogpunt so interessant maak, is die wyse waarop die twee mense op hul ongewone omstandighede reageer.
Mense het ’n groot gebrek aan beheer oor die dinge wat rondom hulle gebeur en as ’n mens ’n bietjie dieper in hul persoonlike geskiedenis delf, is dit dikwels ’n belangrike rede waarom hulle terapeutiese hulp soek.
Hierdie “gebrek aan beheer” kan die gevolg van natuurrampe wees, dit kan sosio-ekonomiese situasies wees, maar ook as gevolg van die woorde en veral optrede van die mense rondom hulle. Oor die wêreld heen word mense deur ander se optrede beïnvloed en soms diep gekwets. Dink maar hoe dikwels bly ’n snedige opmerking van ’n ouer, ’n onderwyser of ’n persoon in ’n gesagsposisie jou jare lank by en hoe dikwels so ’n opmerking jou selfvertroue jare lank of selfs die res van jou lewe kan knou. Gevalle soos hierdie is ’n aanduiding dat die emosionele pyn en letsels wat ’n mens oorhou in sulke gevalle soms oorweldigend is.
Die belangrikste gewaarwording uit Alison en Bridget se verhale is dat ’n mens jou nie regtig kan voorberei op die selfsugtige keuses wat ander mense maak of die wrede dinge wat mense aan mekaar doen nie. Dit kan – soos in hul albei se geval – ’n verreikende invloed op jou lewe hê, maar jy het geen beheer daaroor nie.
’n Tipiese reaksie op hierdie gebrek aan beheer is angs. Dink byvoorbeeld aan die angservaring wanneer iets met jou in ’n nagmerrie gebeur en jy magteloos is om iets aan jou situasie te doen. Die teenoorgestelde van beheer is dus angs.
In lewensgevaarlike situasies is dit heeltemal normaal om angs te ervaar. Dis immers jou liggaam se manier om jou voor te berei vir wat kom: Veg of vlug. Die belangrike ding om te onthou is dat ’n mens nie noodwendig beheer oor hierdie angs het nie. Waaroor jy wel beheer het, is die manier waarop jy optree in daardie “veg of vlug”-oomblikke (en selfs daarna).
Die sleutel tot sielkundige welsyn onder sulke omstandighede is om jou energie te bestee aan dit waaraan jy iets kan doen en nie te stres oor dit waaraan jy niks kan doen nie. As jy dít kan regkry, kan die lewensdruk wat so kronies knaag nie regtig vatplek aan jou kry nie en kan jy sonder onnodige sielkundige letsels deur die lewe kom.
Natuurlik is dit makliker gesê as gedaan. En moenie alleen voel nie. Die hoë voorkoms van angsverwante siektes oor die wêreld heen wys dat miljoene mense daagliks vrees dat iets aakligs enige oomblik met hulle kan gebeur. En die feit dat die kanse dat iets aakligs gaan gebeur besonder klein is, maak die angs nie minder akuut of minder skadelik vir jou geestesgesondheid nie. Algemene angs is daarom ook vinnig besig om major depressie (die kliniese term vir “erge depressie”) verby te steek as die algemeenste rede waarom mense sielkundige hulp gaan soek.
Met bogenoemde in gedagte sou niemand vandag vir Alison of Bridget veroordeel het as hulle aan algemene angs gely het nie. ’n Mens moet hulle bewonder vir die manier waarop hulle hul situasies hanteer, want bitter min mense sou dit kon regkry. Albei se gesindheid en optrede is sterk voorbeelde van hoe om beheer te neem oor dit wat jy wel kan beheer.
Alison was een van die eerste vroue wat haar verkragting en aanval oorleef het en openlik daaroor kon praat. Sy het in die proses die plakkaatmeisie geword, die voorbeeld van hoe ’n mens iets so onbeskryflik verskriklik kan hanteer. Tog is dit duidelik dat dit ’n lang en moeilike pad was. Om van so iets op te staan is nooit ’n feëverhaal nie. Sy erken byvoorbeeld dat sy aan depressie gely het.
Die belangrikste boodskap uit Alison en Bridget se verhale is dat ’n mens nie kan kies wat met jou gebeur nie, maar kan kies hoe jy dit hanteer. Alison het beheer lankal teruggeneem. Selfs nou, met die paroolaansoek van haar aanvallers, veg sy terug.
Bridget se optrede is vir my amper ’n perfekte voorbeeld van hoe ’n mens beheer neem oor dié dinge waaroor jy beheer kan uitoefen. Dit laat nie die probleem weggaan nie, maar op amper wonderbaarlike wyse kry sy dit reg dat dit nooit háár probleem raak nie. Sy het alles wat realisties moontlik is, gedoen om haar seun te help – nou is daar niks meer wat sy kan doen nie.
Nou bel sy die polisie wanneer mense haar in haar huis bedreig. Sy maak seker haar huis is beveilig en sy laat eenvoudig nie toe dat die gangs haar huis oorneem nie. Sy het tog geen beheer oor wat haar seun volgende gaan doen nie, en sy kan ook nie beheer wat ander mense gaan doen of hoe enige toekomstige situasie hom gaan uitspeel nie. Deurentyd bepaal sy haar dus by dit wat sy kan doen.
Onthou: Gedagtes in die verlede is gewoonlik rondom spyt en skuld gerangskik. Gedagtes in die toekoms is gerig op angs. Wat ’n mens uit beide Alison en Bridget se ervarings en lewensingesteldheid kan neem, is dat emosionele beheer gerig is op jou huidige optrede, op dit wat jy nóú doen. Nie dink nie, doen. Oor die verlede – of die toekoms – het jy geen beheer nie. Waaroor jy wél beheer het, is wat nóú gebeur.
Louis & Lise