Читать книгу Anderkant uit - Hanlie Retief - Страница 14

Оглавление

Oor sinlose geweld

Indien ’n mens mooi daaraan dink, is geweld as ’n manier om jou vermeende of werklike gesag te laat geld in ’n groot mate deel van ons land se kort en stormagtige geskiedenis – Boer teen Brit, wit teen swart, onderdrukker teen onderdrukte, dié met niks teen dié met oorvloed. Dit is asof verskeie bestanddele vir potensiële konflik en aggressie van die begin af saamgeroer is in die Suid-Afrikaanse bredie.

Ongegronde, ongemotiveerde geweld is gewoonlik ’n uitdrukking van woede, en ’n mens kan nie kwaad word sonder om eers gefrustreerd te voel nie. Op sy beurt spruit frustrasie voort uit geblokkeerde ideale. ’n Eenvoudige voorbeeld is dié van ’n tiener wat uitsien na ’n partytjie, maar deur haar ouers “gehok” word. Hierdie inperking lei tot frustrasie en die frustrasie tot woede, en woede kom dan uit in die vorm van verbale of fisieke aggressie. Die tiener verskree of klap byvoorbeeld haar broertjie wat in die gang met sy maats speel.

As ’n mens die analogie op die land van toepassing maak, sal Suid-Afrika waarskynlik ’n gefrustreerde, woedende jong mens wees wat nog nie geleer het hoe om doeltreffend met ander saam te lewe nie – ’n selfgesentreerde tiener wat niemand anders ’n plekkie in die son gun nie en gereed is om met geweld te reageer as dinge nie volgens sy wense en behoeftes verloop nie.

Die gereelde voorkoms van geweld is die simptoom van ’n woedende land, en woede dui op grootskaalse frustrasie. As ’n mens nou na die eskalasie van sinnelose geweld in Suid-Afrika kyk, kan vrae oor “ouerskap”, heeltemal tereg, aan die land se leiers gestel word.

Wat ’n mens die meeste skok, is dat die geweld waaraan ons daagliks blootgestel word ’n mens nie meer skok soos dit moet nie. Omdat jy amper daagliks gebombardeer word met berigte oor mense wat met strykysters gebrand, met kookwater gegooi en met doringdraad verwurg word, word nege mans wat vol petrol gegooi, keelaf gesny en geskiet word, asook ’n vrou wat verkrag en deur haar man vermink word, net nog items op die Suid-Afrikaanse geweldsprogram.

Die vraag waarmee ’n mens dikwels worstel as ’n mens van gebeure soos hierdie hoor of daarvan lees, is waarom die rowers so gewelddadig optree terwyl hulle motief eintlik net was om te roof. ’n Mens sien dit keer op keer, hierdie kru geweld. Dit is amper asof geweld algaande die hoofmotief vir misdaad in Suid-Afrika geword het. Dit wat jy buit en roof, is amper minder belangrik as dit wat jy toedien of aanrig. Dié tendens weerspieël skokkende eienskappe van ons samelewing.

Gewelddadige optrede is immers ’n weerspieëling van hoe siek ’n samelewing is. Om weer die analogie van ’n persoon te gebruik: Ons het hier te doen met ’n individu wat al die simptome van ’n ernstige siekte het. Individuele faktore uitgesluit, kan ’n mens met redelike veiligheid sê dat siek dade net in siek omstandighede voorkom. Oormatige aggressie is nie so volop in lande waar die meeste landsburgers tevrede met hul lewensomstandighede is nie.

Tog is uitermatige geweld nie eie aan Suid-Afrika nie. Daar hang ’n aggressiewe wolk oor ’n groot deel van die wêreld. Dit is egter asof Suid-Afrikaners meer apaties teenoor geweld staan, asof die saamleef met daaglikse geweld normaal geraak het.

Hierdie apatie is amper ’n aangeleerde hulpeloosheid. Soos die kreef in die pot, raak ’n mens stadigaan gewoond aan die hitte en dink dan later, wanneer dinge te warm begin raak, jy kan niks aan die saak doen nie. Waarskynlik kan jy nog, maar jy sit al so stewig in jou apatiegroef dat jy jou verbeel jy is magteloos. Ons aanvaar byvoorbeeld maar die misdaad, want “wat anders kan ’n mens doen”. Dit het die norm geraak om dankbaar te wees dat jy nog leef, al is jy beroof, verkrag en vermink.

Die sinnelose geweld teenoor die Van Zyls en Quinton Taylor is so skokkend dat dit in verskeie lande weke lank voorbladnuus in koerante of ontvouende nuus op televisienuuskanale sou wees, terwyl voorvalle soos hierdie byna alledaagse berigte in die Suid-Afrikaanse media is.

Die vraag vir ons as Suid-Afrikaners is hoe ons kollektief van hierdie “aangeleerde” hulpeloosheid ontslae kan raak. Dit is duidelik dat die antwoord êrens by kollektiewe optrede lê, eerder as by kollektiewe passiwiteit of individuele aksie.

Bewustheid, kennis en erkenning van die probleem is gewoonlik ’n goeie begin. As ons land as “individu” kan besef hy het kanker, is dit tog belangrik om presies te verstaan wat sy siekte behels, wat die prognose is en dan ’n plan te bedink om die siekte te beveg.

Wat so ’n “plan” moet behels, is natuurlik die boerpotvraag. Vele mense en belanghebbende partye het al hieroor bespiegel. Die geskiedenis wys dat massaoptrede van gewone mense nodig is voordat ’n maatskaplike patroon kan verander. Iets soos ’n tipping point is noodsaaklik. Die vraag behoort dus veral te wees wat ons as ’n nasie verhinder om daardie punt te bereik en wat ons daadwerklik omtrent ons versuim gaan doen.

Dit is vrae wat ons nie net aan onsself behoort te stel nie, maar ook aan ons leiers – politieke sowel as geestelike leiers.

Louis & Lise

Anderkant uit

Подняться наверх