Читать книгу Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes - Helena Bester - Страница 15
Hoe word ADHD gediagnoseer?
ОглавлениеIn die vorige hoofstuk het ons met behulp van ’n meer informele vraelys of kontrolelys na die diagnose van ADHD gekyk. In hierdie hoofstuk sal ons die formele diagnose daarvan in nader besonderhede ondersoek.
ADHD word gediagnoseer volgens ’n lys kriteria of simptome (sien hieronder) wat in die DSM-5 uiteengesit word. Daar bestaan nog geen bloedtoets of ander kliniese ondersoek soos ’n breinskandering of elektroënkefalogram (EEG) wat diagnosties aangewend kan word nie. Databasisse wat die resultaat is van navorsing deur instansies soos die Brain Resource Centre in Australië toon egter duidelik dat die breingolfaktiwiteit van ADHD-lyers afwyk van die norm, nes in die geval van mense met ander versteurings.
Sommige klinici voer aan dat gevorderde skanderings soos die SPECT (single-photon emission computed tomography) en PIT (photo image tomography) wel verskille uitwys. By die Internasionale Sielkundekongres wat in 2012 in Kaapstad gehou is, was daar sprake daarvan dat die DSM-5 moontlik kriteria wat EEG-data insluit, vir die diagnose van ADHD sal bevat, maar dit het toe nie gerealiseer nie. Die grootste verandering in die DSM-5 is die voorbeelde wat toegevoeg is om die diagnose van volwasse lyers te vergemaklik. Die Amerikaanse NIMH (National Institute of Mental Health), die grootste organisasie vir navorsing oor geestesgesondheid ter wêreld, het in Mei 2013 aangekondig dat hulle hulle navorsing nie langer op die DSM-5-kategorieë van versteurings gaan baseer nie, maar eerder op die kognitiewe, genetiese en neurologiese komponente daarvan. Neuroterapie is een so ’n terapie wat op neurologiese aspekte fokus, wat kan beteken dat daar die volgende paar jaar baie meer navorsing daaroor gedoen sal word. Tans is die kriteria wat hieronder genoem word, egter die enigste vir die diagnose van ADHD.