Читать книгу Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes - Helena Bester - Страница 9
Die eerste onderhoud
ОглавлениеVerskeie vakgebiede kan lig werp op die soort vrae wat die terapeut tydens die aanvangsonderhoud kan vra. Deur ervaring en persoonlike voorkeur verander of verfyn die terapeut daardie vrae totdat dit soos akkurate soekligte die relevante hoekies belig.
In hoofstuk 1 gee ek ’n voorbeeld van hoe so ’n aanvangsonderhoud kan verloop. Gaan gerus deur die lys vrae en probeer dit met betrekking tot jou kind of jouself as kind (indien jy die inligting tot jou beskikking het) beantwoord. Onderwysers en terapeute of studente kan die vrae as riglyne gebruik om die relevante agtergrondinligting makliker deur te sif.
Ek sluit hoëfrekwensieresponse, oftewel die antwoorde wat ek die algemeenste van ouers hoor, op die vrae in. By sekere vrae kon ek (nog) nie responspatrone vasstel nie, hoewel daardie vrae met sekere aspekte van ADHD verband hou. ’n Mens hoor en lees byvoorbeeld dikwels dat slaapprobleme algemeen is onder mense met ADHD. Van die duisende kinders met ADHD met wie ek die afgelope drie-en-twintig jaar vir lang tye intensief gewerk het, is daar minder wat slaapprobleme het as dié wat nie het nie. By vrae waar daar volgens my nie ’n duidelike patroon is nie, dui ek dit so aan.
Vrae is vir die terapeut ’n werktuig van onskatbare waarde. Maar selfs belangriker is die vermoë van die terapeut om te kan luister. Ongeag hoe deurtastend die vrae is wat die terapeut vra, is daar altyd ’n moontlikheid dat ’n belangrike komponent misgekyk word. Nog ’n gevaar is dat ’n bepaalde stel vrae die probleem net vanuit een hoek belig. Dit kan jou as terapeut bevooroordeeld maak. Dit is soos wanneer jy op rooi motors op die pad fokus: Dit kan later vir jou voorkom asof daar baie meer rooi motors is as wat daar werklik is. En hoe langer jy, figuurlik gesproke, deur ’n bepaalde lens, of dan stel vrae, na ’n mens kyk, hoe duideliker gaan sekere aspekte van daardie persoon raak en hoe vaer ander, wat ’n uitwerking kan hê op die vorm van intervensie waarop jy besluit. Daarom is my eerste stelling gewoonlik: “Vertel my, ek luister.” Hierdie belangrike oop vraag kan vir jou as terapeut ’n perspektief bied wat jou beperkende lens of vrae nie kan nie.
Vir jou as leser vra ek nou die volgende: Verwoord die kern van die probleem soos jy dit by jou kind (of jouself of ’n kind in jou klaskamer) ervaar. Bewuswording is ’n belangrike stap in genesing of dan in die besluitneming wat tot ’n positiewe verandering kan lei.
Prof. Rudolph E. Tanzi van die departement neurologie aan die Harvard-universiteit se mediese skool sê in Super Brain (2012), ’n boek wat hy saam met die medikus en skrywer Deepak Chopra geskryf het, dat ons in elke taak wat ons uitvoer óf onbewus óf bewus óf self-bewus (bewus van ons eie rol in die situasie eerder as “skaam”) is. Wanneer ons onbewus is, word ons deur ons emosies en laer breinfunksies voortgedryf. Die brein is dan in ’n ongebalanseerde staat van funksionering. Ons besluitnemingsfunksies is verswak en ons gedrag word deur onder meer vrees en woede beheer.
Wanneer ons bewustelik optree of in ’n bewuste staat verkeer, kan ons verwoord hoe ons oor iets voel. Die emosies word dan deur die hoër breinfunksies, wat oordeelsvermoë insluit, in perspektief geplaas. Die brein is dus in ’n meer geïntegreerde staat, met die hoër sowel as die laer breinfunksies wat ’n rol speel. Emosionele sowel as kognitiewe breinfunksies word betrek. Ons voel nie so verswelg deur ons emosies en asof ons geen beheer oor die situasie het nie. Die ADHD-lyer voel dikwels oorweldig deur ’n emosie waarbinne hy vasgevang is, dermate dat sy oordeelsvermoë en besluitnemingsfunksies verdring word.
Wanneer ons bewus is van ons eie betrokkenheid binne ’n situasie – wanneer ons met ander woorde self-bewus is – kan ons oor ’n saak nadink. Sodra ons daardie bewustheid het, kan ons ons eie gedrag beoordeel en die regte keuses uitoefen. Slegs sodoende kan ’n positiewe verandering plaasvind. Emosies is nie die teenoorgestelde van ’n staat van bewustheid nie, maar is juis ’n belangrike soeklig wat kan uitwys watter vrae ons moet vra om insig en groei mee te bring.
Ek glo bewustheid is nie net vir mense met ADHD noodsaaklik vir die bestuur van hulle simptome nie, maar ook vir elkeen van ons op ons groeipad as mens. In die hoofstuk oor neuroterapie gaan ons verder hieroor gesels, aangesien hierdie behandeling mense help om meer bewus van hulle eie gedrag te wees.
Terug by die aanvangsonderhoud: Jy hoef nie by ’n spesifieke punt te begin wanneer jy die probleem soos wat jy dit beleef, aan die terapeut beskryf nie. Party mense se gedagtegang is meer analities en ander s’n minder sistematies. Party ma’s kom met ’n tienpuntlys, waar punt een die swangerskap is. Ander ma’s begin by iets wat die vorige dag gebeur het en ander som die probleem in een sin op.
Dit ontstel my wanneer ek soms hoor dat toetsafnemers net tien minute vir die eerste onderhoud opsy sit. Tyd is wel ’n faktor, maar ek verstaan nie hoe ’n mens ná enkele vrae by die kern van die probleem kan uitkom nie. Ná die besoek staan jy dalk met ’n voorskrif in die hand, maar twyfel, vrae en vrese in die kop en gemoed.
Nadat die ouer op my eerste stelling – “vertel my, ek luister” – gereageer het, vra ek vrae oor aspekte wat relevant kan wees wat die ouer nie reeds aangeroer het nie. Dit is hoofsaaklik in ouers se response op daardie eerste stelling dat ek ooreenkomste en patrone, verskuil agter algemene simptome, begin raaksien het wat ek nie noodwendig andersins sou nie. ’n Groot persentasie van kinders met ADHD het byvoorbeeld op ’n baie jong ouderdom baie hoë koors of koorsstuipe gehad. Die meeste is emosioneel baie sensitief, alhoewel dit soms voorkom asof hulle geensins bewus is van ander mense se behoeftes nie. Hulle is ook dikwels kreatiewe denkers. Veral by volwassenes blyk dit duidelik dat mense met ADHD nie van probleme hou nie. Hulle wil waarskynlik voel dat dinge rondom hulle onder beheer is omdat daar so dikwels chaos in hulle eie gedagtes is.
Hieronder gee ek vrae wat van nut kan wees – nie net by die opstel van ’n intervensieprogram vir ADHD nie, maar ook vir ander praktiese aspekte in die bestuur van die toestand. Dalk laat dit jou as ouer glimlag in die wete dat talle ander ouers dieselfde pad loop. Soos reeds genoem, sluit ek algemene antwoorde of kommentaar in en dui ek aan as daar geen duidelike patroon is nie. Vrae wat meer toepaslik is in ’n aanvangsonderhoud met volwasse ADHD-lyers, word verderaan in hierdie boek bespreek.
Hou asseblief in gedagte dat die antwoorde gebaseer is op my ervaring as terapeut en nie op ’n navorsingsprojek nie.