Читать книгу Helena Hugo Eerste Keur - Helena Hugo - Страница 10

6

Оглавление

Later kry sy hom weer in die gang. Sy is op pad na haar kamer toe met arms vol klere en loop haar byna in hom vas. “Ja … jammer,” sê sy skoon van stryk af, “ek … ek moet nog hierdie gaan inpak.”

“Hoe laat ry jy?” vra hy kalm.

“As die son opkom.”

“Ek ry voor hanekraai.”

“Vroeg.”

“Ek het ’n negeuur-afspraak met iemand in Bloemfontein.”

“Oukei, ek hoop jy’s betyds.”

Hy steek sy hand in ’n groetgebaar na haar toe uit, besef blykbaar dat dit onmoontlik is om gewoonweg te groet, raak dan met sy vingers aan haar wang. “Dan sê ek maar totsiens en lekker slaap.”

“Jy ook.”

“Ek het nou jou selnommer.”

“My ma het my gesê.”

“Ek sal jou bel.”

“As jy wil.”

“Lekker slaap.”

“Jy het gesê.”

Hy haal sy skouers op asof hy verleë is, hou haar kamerdeur vir haar oop sodat sy kan ingaan, trek dit dan saggies toe. Sy plak die klerebondel op haar bed neer. Hom sien of hoor sy nooit weer nie, en die tasse moet gepak word. Sy doen dit en probeer doelgerig om nie aan hom te dink nie.

Haar ma bring vir haar ’n glas warm melk met gerasperde neutmuskaat, haar ouma se raad teen slaaploosheid. “Moenie jou wekker te vroeg stel nie, ek sal jou kom wakker maak. Nag, Marissa.”

“Nag, Mamma.”

“Drink alles op.”

“Ek sal.”

“Nie meer hoofpynpille nie! Belowe.”

“Ek belowe.”

Sy drink die glas leeg, gaan lê op haar rug en konsentreer daarop om te ontspan. Toe droom sy, en sy droom sy en Dawie en Mart staan saam voor die kansel. Skielik bars die kerkdeure oop en Theo kom op sy swart hings ingery. Hy raap haar met een hand op en jaag met haar oor vlaktes en heuwels tot by Jakkalspoort se gronddam. Hulle loop in die vlak water, die flaminke wei ongestoord, die eende staan op die eiland in die middel van die dam. Die hamerkop styg op en vlieg, hy vlieg voor hulle uit. Hulle loop en loop. Die veld wemel van maer skape. Op die hoogste kop staan ’n klipkasteel. Hulle loop soontoe en kom nooit daar uit nie. Die kasteel skuif al verder weg. Dis warm. Die sonbesies skree. Die familie kom saam in die familiebegraafplaas op Kalkputs. Tant Chrissie bedien melktert, sy kyk Marissa aan en skud haar kop. Almal kry van die tert, sy nie. Mart speel klavier, haar niggies speel viool, die neefs trompette, John slaan die tromme. Dawie is die dirigent, die orkes speel harder en harder en stop. Almal kyk vir haar, sy staan daar poedelkaal.

“Marissa, Marissa …”

Dis haar ma voor haar bed met ’n beker koffie. “Ek het jou wekker stilgemaak. Sesuur. Jy moet opstaan.”

“Het Theo gery?” vra sy sonder om te dink wat sy sê.

Haar ma glimlag. “Twee uur gelede al. Is jy nou spyt julle ry nie saam nie?”

“Hy het ’n afspraak in Bloemfontein. Ek sou in sy pad wees.”

Haar ma skud haar kop. “Drink jou koffie, en eet die beskuit. Ek gaan jou padkos inpak.”

“Dankie, Mamma.”

“Nog iets! Hy het sy selfoonnommer vir ons gegee, toe tik ek dit vir ingeval in jou foon ook.”

“Hoekom sal ek hom bel? Ek sal mos nie.”

“Ingeval!” Irma wag nie vir nog besware nie, sy vat haar skinkbord en maak dat sy wegkom.

Marissa tel haar selfoon op, en los dit. Wou sy sowaar seker maak of sy nommer regtig daar is? Die nagmerrie het haar ontstel en sy weet nie eens wat sy als onthou nie. Sy voel nie lekker nie, sy voel skuldig en skaam. Sy drink die koffie, eet die beskuit, gaan stort, trek aan, grimeer lig en pak die laaste van haar toiletware in. Buite maak sy ’n draai by die stalle. Prinses kyk na haar met vaak oë. Sy vryf haar neus. Die boerboele loop saam kar toe. Seuntjie, die mak springbok, kom aangedraf. Hy is altyd bang hy mis iets.

“Ons hou nie daarvan dat jy alleen ry nie,” sê haar ma.

“Bel ons dadelik as jy probleme kry,” sê haar pa. “Al is jy honderd kilometer van die huis af, ek kom haal jou.”

Sy omhels hulle. “Moenie so bekommerd wees nie. Ek het al baiekeer alleen gery.”

“Nie ná so ’n groot skok nie.”

John se stem eggo deur haar kop: “And the heart must pause to breathe, and love itself have rest.” Hulle weet dit nie, maar hy was haar eerste groot teleurstelling. Nou Dawie. Sy sal gewoond moet raak aan skokke. “Ek is oukei,” sê sy, “ek moet wegkom. Dis al.”

Sy soen haar ouers. Hulle hou haar vas. Sy soen hulle weer, klim in en skakel haar Polo’tjie aan. Die skaduwees begin al lig toe sy by die motorhek uitry. In die truspieëltjie sien sy hulle waai. Daar is ’n knop in haar keel. Is dit regverdig van haar om hulle agter te laat? Watter antwoorde sal hulle moet uitdink op die lastige vrae wat haar lafhartigheid gaan veroorsaak? Amper kry sy lus en draai om, maar sy onderdruk die gevoel en ry so vinnig as wat die grondpad haar toelaat. Sy sal nie dat Dawie se wraak haar lewe verwoes nie. En sy weet dat haar ouers haar lief genoeg het om saam met haar te veg.

Die Karoo-oggend breek oor die bulte. Gryse en pienke verdwyn in diepblou en roosrooi. Die son kom op in al sy glorie. By die uitdraai hoofpad toe hou sy stil en skakel die enjin af. Sy maak die kardeur oop en klim uit. Agter haar het die stof gaan lê. Sy rek haar uit, asem die kruiegeure van die veld in. Vlug sy om weg te kom van die aaklige gebeure op Poupan of hardloop sy Pretoria toe agter Theo Wessels aan?

Sou hulle kon hande vat en die veld invaar as hy langer gekuier het en Dawie en Mart veilig getroud was, as hy eers volgende jaar kom grond huur het, volgende jaar wanneer sy vry was en nuut kon begin? Onmoontlik! Dit gebeur net in drome.

Sy klim terug in die kar, slaan die deur met mening toe, skakel die enjin aan en vat die lang pad na Gauteng toe. Adele met haar hartseer verlangeliedjies hou haar geselskap. Amanda Strydom, Anna Davel, Lize Beekman – almal is saam met haar so ontroosbaar hartseer.

Hopelik help Diana se vrolike geselskap en aande uit saam met Kaapse vriende wat hul drome in die Noorde gaan najaag het en gelukkig is. Sy moet regkom voordat sy vir Kersfees teruggaan plaas toe. Miskien maak Theo Wessels daar ’n draai om vas te stel hoe sy vee vorder, dalk ook teen Kersfees of Nuwejaar? Rondom die feestyd raak die boere van die distrik heel plesierig. Daar is oral braaivleise en boeredanse van plaas tot plaas dwarsdeur die warm somernagte; die laastes van die ou jaar, die eerstes van die nuwe jaar. Dalk was hy al op ’n deurnagboeredans. Hy is immers ook ’n boer en die Duitsers van Namibië kan vrolik raak. Al wat meisie is, sal agter hom aan wees. Hy sal met hulle dans, maar meer met haar – al om die huis op die breë stoep tot hulle moeg is en veld toe stap. Hand aan hand in die grondpad tot die klanke van die dans stil word en dit net hulle en die naggeluide is, bokant hulle die ontelbare sterre van ’n helder Karoohemel.

***

Marissa gee haar oor en droom. Op die langpad tussen Kimberley en Bloemfontein, droom sy van ’n lang donker man met smeulende grys oë en sagte hande. Hy volg haar van plek tot plek, oorlaai haar met geskenke en komplimente, hy dra haar op die hande. Sy droom tot die werklikheid haar tref: Hierdie jaar sal daar nie gedans word op Poupan en Kalkputs en Bitterfontein nie, ook nie op Jakkalspoort en baie ander plase in die distrik nie. Uit respek vir Dawid en Chrissie Nel en Dawie se broers Frans en Chris en Mart en tant Martha en oom Jan en almal wat na die troue genooi is, na die huwelik wat nooit voltrek is nie.

Hoe gaan dit met Mart? wonder sy skuldig, sit die volgende hartseer-CD in die speler en verban elke simpel romantiese gedagte aan Theo Wessels uit haar hart. Op Bloemfontein bel sy haar ma-hulle om te sê hoe sy vorder. “Hulle het Mart deurgehaal, dit gaan goed met haar,” sê haar pa.

“Weet sy al van Dawie?”

“Hulle het haar nog nie vertel nie.”

“Sy moet tog iets vermoed?”

“Ons hoor maar als by tant Chrissie. Sy hou haar sterk.”

Haar ma neem oor by die telefoon. “Moet jou nie oor hulle bekommer nie. Hulle kry hulp van oral.”

“Ek wonder net of Mart oukei is. ”

“Versigtig ry.”

“Ja, Mamma. Die pad is nie so besig nie.”

“Laat weet as jy aangekom het.”

“Ek sal.”

Arme Mart, sy sal moet uitkom met die waarheid oor die baba. Nog ’n skok vir tant Chrissie en oom Dawid-hulle, om nie te praat van tant Martha en oom Jan-hulle nie. Die geskinder gaan hoogty vier, maar miskien bring Dawie se kind die troos wat nodig is. Weet hulle al dat sy nie begrafnis toe kom nie? Eintlik moet sy vir ’n jaar of twee daar wegbly. Sy is net te vas aan die huis: haar ouers se enigste kind en lief vir die plaas, vir Prinses en Seuntjie en die ander diere en voëls, selfs die ou hamerkop.

Voordat sy in trane uitbars sit sy liewer die radio aan en luister heelpad verder na RSG, en die nuus stiptelik om elke uur. Die suiglekkers, wat haar ma ingesit het, hou haar wakker en die reis verloop sonder voorval. Skuins voor vieruur die middag hou sy by die hekke van Diana se meenthuiskompleks stil. Die veiligheidsbeampte neem foto’s van haar kar se nommerplate en haar rybewys. Hy vra wie sy besoek en toe sy “Diana Boshoff” sê, wuif hy haar deur.

Sy parkeer onder die groot jakaranda voor die regte eenheid. Die rit het haar uitgeput en sy kan nie wag om haar op Diana se sitkamerbank tuis te maak en rustig te gesels nie. Sy sal haar alles moet vertel; hoe gouer, hoe beter. Sy sluit die kar, altyd uit gewoonte sodra sy in die stad is. Met haar handsak oor haar skouer loop sy na Diana se voorstoep. Sy is waarskynlik nie tuis is nie, anders sou sy in die oop deur vir haar staan en wag het. Dalk beter so. Haar bene is lam van die lang sit en die spanning wat die laaste deel van die pad in die vreemde omgewing met sy snelweë en klawerbrûe meegebring het. Sy klou aan die stoeptrap se reling en klim stadig.

“Hallo, Ouma!” sou Diana uitroep. “Wil die bene nie vandag nie?”

Daar is ’n oulike naamplaat op die voordeur: Diana’s place, welcome! Aan die ysterhaak langs die kosyn hang ’n verwaaide varing wat seker net water kry as sy die slag vir langer as ’n week tuis is. Marissa druk die klokkie en hoor dadelik voetstappe nader kom. Die slot kraak en die deur swaai op. Sy maak haar arms oop, gereed om haar vriendin te omhels. En haar hart gaan staan amper toe sy die man in die oop deur herken. Theo Wessels!

“Eindelik! Ek het my al mal oor jou bekommer!”

Byna beskuldigend roep hy dit uit. Sy is sprakeloos. Wat gaan aan? Is Diana en Theo familie, dalk in ’n saambly-verhouding of verloof of getroud? Is hy die goddelike man wat Diana aan haar wil voorstel? Onmoontlik! Haar mond gaan oop om iets te sê, maar sy is stomgeslaan. Haar kop voel of ’n swerm bye hul intrek geneem het. Die volgende oomblik word alles dof en toe pikswart.

Theo vang Marissa, handsak en al, net voor sy val. Die emosie wat die vroumensie in hom wakker maak, wissel van plesier tot deernis. Hy kry die prikkelende geur van haar liggaam gemeng met haar reukwater, lig en pienk soos sy. Skuldig druk hy sy neus teen haar nek se kuiltjie, maak sy oë toe en sien haar met haar hare in die wind aanstap oor die persblou Karooveld. Sy lig haar arms en omhels die son voordat sy in die water afduik. Teerheid oorweldig hom. Om haar so in sy arms te hou, is maklik. Sy is klein en fyn en weeg seker nie meer as vyftig kilogram nie. Tog veroorsaak dit ’n fisieke pyniging wat hy nie langer as ’n paar sekondes kan verduur nie. Hy stamp die voordeur toe en dra haar na Diana se gastekamer waar hy haar op die bed neerlê. Sy roer en kreun saggies. Hy wikkel haar handsak los, sit dit op die vloer neer, loop badkamer toe en maak een van die gastehanddoekies nat. Versigtig vee hy oor haar slape, haar nek en halslyn, haar arms.

Skielik vlieg haar oë oop. Sy wip regop en kyk verwilderd om haar rond. “Waar is ek?”

“Veilig in Pretoria.”

“Waar?”

“Diana Boshoff se huis.”

“Maar jy? Wat maak jý hier?”

“Vir jou kom wag.”

“Hoe weet jy ek sou hiernatoe kom?”

“Jy’t my gesê.”

“Ek het nie!”

“Ek wou nog vra of dit dieselfde Diana is wat ek ken, maar dit was so onwaarskynlik ek hou dit toe vir myself tot jou ma my die adres gee, toe besef ek, dis Di.”

“Jy bly doodstil! Jy sê my niks.”

“Jy was al in jou kamer aan die slaap en die volgende oggend was ons op pad. Ek het haar gebel toe ek hier aankom. Daar is ’n lang boodskap op jou foon wat jy duidelik nie gelees het nie. Ek gaan haal vir jou ’n glas water. Of wil jy liewer tee hê? Ek kan maak.”

“Water, asseblief.”

Marissa kyk hom agterna soos hy wegstap. Hy is alte tuis in die huis.

Sy oorweeg dit om haar selfoon uit haar sak te haal en sy “lang boodskap” te lees, maar sy sal simpel voel as hy inkom en haar betrap.

Di! Hy noem haar Di! Hoe goed ken hy en Diana mekaar? En hoekom het Diana nog nie voorheen iets oor hom gesê nie? Hulle deel tog al hul geheimpies oor mans ook. Maar nou ja, sy het nie als oor John vertel nie. Van die intieme besonderhede steek sy weg, selfs vir haar beste vriendin. Hulle ken mekaar al lank. Vandat hulle as groentjies op Stellenbosch ’n koshuiskamer gedeel het tot sy en Diana soms saam modelwerk gedoen het. Diana het onderwys geswot, die een ná die ander modelkompetisie gewen en soveel aanbiedings gekry dat dit op die ou end maklik was om haar skoolklas vir die kameras te verruil. Marissa, aan die ander kant, sal nooit haar navorsing vir die glanswêreld van fotomodelle prysgee nie. En Theo Wessels is duidelik aangetrokke tot voorbladmeisies soos Diana. Wel, sy gun Diana die man. Yslike toeval, maar toemaar. Hier kom hy! Glas water in die hand.

Haar hare en klere is seker vreeslik deurmekaar. Maar dit maak nie saak hoe sy lyk nie. Hy behoort aan Diana en sy sal Diana nooit as te nimmer seermaak nie. Hy kom staan langs die bed, kyk haar op en af. “Hoe voel jy nou? Beter?”

Sy antwoord nie, glimlag net verleë.

Hy gee die water aan en kom sit sowaar langs haar op die bed. Die glas is yskoud en gladgewasem. Sy moet dit vasvat en klein slukkies neem. Amper laat val sy dit toe sy arm om haar gaan en hy haar teen hom vasdruk.

“Jy moes saam met my gery het, jong.”

“Sou nie gewerk het nie,” mompel sy en beur weg.

Hy is so naby sy kan sy parfuum ruik, Hugo Boss, as sy dit nie mis het nie. Haar mond binne-in is koel van die water, die lug rondom haar drukkend warm. Sy kan nie asem kry nie. Sy klou aan die glas, haal vlak asem.

“Diana is uit op ’n shoot,” sê hy. “Sal later vanaand terug wees. Sy’t my gevra om by jou verskoning te maak. Die werk het onverwags op haar afgekom. As sy vroeg klaar is, kan ek julle vir ete uitneem.”

Marissa trek haar vingers deur haar hare. Haar kop is steeds bietjie dronk. Deur die ruite sien sy in die takke van die groot jakaranda voëls wat vrolik rondspring. “Jy en Diana kan, ek gaan slaap liewer vroeg.”

Hy klap op sy bobene en spring regop, tel terselfdertyd haar handsak van die vloer af op en sit dit langs haar neer. “Diana sal jou nooit alleen los op jou eerste aand nie.”

“Ek is so moeg gery, ek sal nie omgee nie.”

Hy staan voor haar, hou sy hand gebiedend uit. “Gee my jou sleutels, dan gaan haal ek jou tasse.”

“Ek kan self.”

“Komaan, moenie hardkoppig wees nie. Ek kan sien jy is moeg.”

“Dankie vir die kompliment,” sê sy, maak haar handsak oop en haal die sleutel uit.

Hy raak liggies aan haar wang. “Moeg of nie moeg nie, jy is altyd mooi,” paai hy.

Sy hou die sleutel na hom toe uit. Haar sleutelhouer is ’n merinoskaap met ’n wenroset teen sy nek. Hy grinnik, vou sy hand om die skapie. “Oulik,” sê hy en stap weg.

Watter man wat van modelle hou sal hom steur aan ’n plaasmeisie met ’n skaap aan haar sleutelhouer, selfs al is dit ’n kampioen? Theo Wessels is buitendien klaar verbind en dit aan Diana, haar beste vriendin! Sy sal nogtans nie dat haar selfrespek daaronder ly nie. Die voordeur klap skaars agter hom toe of sy gryp haar handsak en draf badkamer toe om haar hare en gesig op te knap.

Diana het dit mooi ingerig. Dis geteël met Art Nouveau-teëls, versier met Pears-advertensies en spieëls in houtrame. Lentegroen handdoeke en pienk sepies voltooi die prentjie. Marissa voel soos ’n agie, maar sy maak die badkamerkassie oop en verwag om ’n stel skeergoed en ’n ekstra tandeborsel te kry. Dis gepak met nagrome en haaropknappers. Nou ja, miskien is daar van Diana se goed in Theo se badkamerkassie. Dat hulle heeltemal onskuldig is, kan sy nie glo nie.

Sy los haar handsak in die badkamer en stap in die kort gangetjie af na die oopplan-leefkamer. Antieke kaste, fraai kothuismeubels, ’n versameling porseleinborde en foto’s van Diana en haar kollegas, ook een van hulle twee saam, versier die mure. Sy wil naderstaan om ’n onderskrif te lees, toe die voordeur oopgaan. Theo kom binne, belaai met tasse. “Is jy van plan om vir ’n jaar te kuier?” vra hy goedig, altans sy dink hy probeer om goedig te klink. Hy sit die tasse op die vloer neer, vis die sleutel uit sy broeksak, sit dit op die kombuistoonbank neer en fluit waarderend. “Jy lyk of jy herstel het.”

“Ek is jammer ek gee jou soveel moeite.”

“Niks moeite nie.” Hy beweeg na die voordeur. “Nou ja, ek moet weg wees. Is jy seker jy het niks nodig nie? Diana het vir jou iets in die yskas gelos. Nice van haar. Gewoonlik dink sy nie aan kos nie.”

“My ma het ook padkos ingepak. Ek sal nie honger ly nie.”

“Eet iets en slaap. Onthou om die deur agter my te sluit. Hier is sekuriteit, maar jy kan nie te versigtig wees nie. Lekker slaap.”

Daarmee trek hy die voordeur agter hom toe. Die sleutel, sien sy, steek aan die binnekant. Sy sluit die deur, bly net daar staan en luister na sy voetstappe. Soos ’n verliefde tiener storm sy na die naaste venster, sien hom egter nêrens. Moet sê sy het ook nie sy BMW iewers geparkeer gesien nie. Dalk bly hy in die einste kompleks, hoewel dit waarskynlik te middelmatig is vir ’n welgestelde sakeman soos hy. Sy wil net wegdraai toe sy sy motor stadig in die straat sien verbyry in die rigting van die hekke. Hy woon dus nie hier nie.

Helena Hugo Eerste Keur

Подняться наверх