Читать книгу Helena Hugo Eerste Keur - Helena Hugo - Страница 7

3

Оглавление

Die nag martel sy haarself met verwyte en trane. Sy slaap nie. Toe sy eindelik teen die oggendure wil insluimer, kraai die werfhaan haar wakker en lê en wag sy op die eerste lig. Sy voel onrustig en wonder of sy die regte ding doen om haar aan die troue te onttrek. Is dit nie lafhartig nie? Wys sy nie daardeur dat sy jaloers is en Mart nie gelukkig wil sien nie? Maar sy weet: Mart sal nooit gelukkig wees nie. Want Dawie is nie van plan om haar gelukkig te maak nie.

Moet sy nie liewer eerlik met Mart gaan praat en haar waarsku nie? Sy sal nie die eerste bruid wees wat ’n week voor haar troue koue voete kry nie. Aan die ander kant – Mart sal dink sy wil Dawie terugneem en sy sal nie. Al wil sy, sy sal nie! Nog iets … Wat van die kind? Hy of sy het nie gevra om verwek te word nie, arme onskuldige wesentjie.

Voor Marissa haar kom kry, stroom die trane en moet sy haar gesig met haar laken afvee omdat die snesies opgebruik is. Goeiste, sy sal soos Alice in Wonderland verdrink in haar trane as sy nie nou ophou en fokus nie. Sy het oproepe om te maak en tasse om te pak.

Dis skaars lig genoeg toe spring sy op, gryp haar toiletsakkie en gaan badkamer toe. Haar pa is reg. Sy het nie meer ’n broer nie en al wil sy, sy kan hom nie terugwens nie. Sy was nog bitter klein toe hy van die bakkie afgeval het, so klein – al wat sy onthou, is dat hy altyd vooruit gehardloop het en oral kon bykom waar sy nie kon nie. Haar ma het haar later vertel dat sy twee jaar oud was en hy sewe toe hy dood is. Eintlik was sy maar altyd alleen.

Marissa sluk die knop in haar keel en skud die gedagtes van haar af, klim onder die stort in, seep haar van kop tot tone in, was haar hare en staan lank onder die water. Die grond en die voortbestaan van hulle kant van die Du Plessis’s is haar verantwoordelikheid. Maar daar moet ’n man op die plaas wees en sy sal hom nog vir hulle aankeer. Miskien oor ’n jaar of so.

Haar ma en pa is verbaas toe sy betyds is vir ontbyt. Hulle kyk vlugtig na mekaar, maar maak nie ’n opmerking oor haar dik gehuilde oë nie.

“Goed geslaap?”

“Nie juis nie.”

Sy drink vrugtesap en wurg ’n paar lepels muesli en jogurt in. Haar pa eet wors en twee gebakte eiers, haar ma ’n gekookte eier en roosterbrood. “Bly jy nog by jou plan?” vra sy versigtig.

“Ja, ek sal agtuur bel. Kan ek … Sal Pa vir Abram vra om Prinses op te saal? Ek wil bel en dan veld toe, van my frustrasies gaan ontslae raak.”

“Jy haal dit nie op Prinses uit nie.”

“Pappa, ek en Prinses ken mekaar.”

“Albei ewe wild. Dit gaan warm word vandag.”

“Ek sal nie heeldag wegbly nie.”

“Sê vir Abram watter rigting jy inslaan, ingeval ons jou moet kom soek.”

“Ek gaan gronddam toe. Die voëls is seker terug ná die reën?”

“Pienk van die flaminke en nog eende en bleshoenders ook,” sê Irma.

“Vergeet nie die ou hamerkop nie.” Haar pa sug. “Asof ons nie genoeg moeilikheid het nie.”

“Flip, dis bygeloof,” maak Irma hom stil.

“Jammer, Marissa, ek maak maar ’n ou grappie.”

Maar die hamerkop spook al van kleins af by haar. Dis Mieta en Abram wat haar bang gemaak het met ou sprokies oor die voël wat glo onheil oor mense kan bring. “Ek gaan nie naby sy nes nie,” belowe sy en besluit heimlik sy moet dalk, al is dit net om een van haar vrese te besweer.

Flip sit sy koffiebeker neer. “Vat vir jou water saam,” sê hy toe hy opstaan.“Irma, ek ry solank, ek wil voor teetyd terug wees.” Hy soen vir haar en Marissa op die wang, gryp sy hoed van die kapstok af en draf by die agterdeur uit. “Abram!” hoor hulle op die agterstoep. “Saal vir Prinses op, Marissa wil gaan ry.”

“Koffie?”

“Dankie, Mamma, net ’n kleintjie.”

“Jy eet so min. Probeer Mieta se marmelade op roosterbrood.”

“Ek is nie lus vir brood nie.”

“Skep dan ’n teelepel en proe, sy sal dit geniet as jy haar komplimenteer.”

Marissa gehoorsaam net om nie verder oor marmelade te redeneer nie. “Baie lekker.”

“Jou ouma se resep wat sy aangepas het. Sy kan dit nog eendag vir jou ook leer.”

As ek ooit eendag terugkom, dink sy, maar glimlag vir haar ma. Buite skakel haar pa sy bakkie aan en trek taamlik vinnig weg. “Pa is haastig vandag?”

“Hy moet Gannavlei toe. Die man wat jou grond huur, het met sy trek aangekom en hulle ry glo vragte vol maer skape aan soontoe.”

“En Pappa sê my niks.”

“Die huurder het vanoggend douvoordag van Poupanstasie af gebel. Ek dink jou pa wil eers gaan seker maak of hy die kontrak reg gelees het. Hy kan ook nie die veld hier kom oorlaai nie. Netnou is daar struweling en hy wil jou nie daarby insleep nie.”

“Ek meng nie gewoonlik in nie. Hoekom sal ek nou?”

“Ek het voorgestel dat jy saamgaan, gedag dit sal jou aandag aftrek van gister se dinge. Toe sê jou pa ek moet los.”

“Dié keer wen hy. Laaste ding wat ek vandag wil doen is om gaaf te wees met ’n vreemdeling. Waarvandaan nogal?”

“Namibië, glo goeie skaapwêreld, behalwe vir die droogte.”

“Dit moet ernstig wees as hy sy vee verskuif.”

“Hy oorweeg dit om hier te koop.”

“My grond is nie te koop nie.”

“Hier is ander plase wat leeg lê – die Venters se grond.”

“Rooiwal? Ek dag Pa het sy oog daarop.”

“Jou pa word oud, Marissa. Hy praat, maar hy sien nie meer kans nie. Die vorige droogte het hom byna geknak.”

“Droogte is naar. Sal Mamma my verskoon? Ek gaan gou bel, dan ry ek.”

“Jy wil nie hê ek moet saamkom nie?”

“Ry Mamma nog?”

“Af en toe. Jou pa wil nie meer nie en ek wil nie alleen nie.”

“Gee Mamma om as ek vandag alleen ry? Ek moet dink.”

“Nêrens beter as in die oop veld nie.”

Marissa buig oor haar ma, gee haar ’n soentjie. “Dankie Mamma, dat Mamma verstaan.”

“Ons kan later weer praat. Gaan jy nou bel?”

“Ja, eers pastorie toe.”

“Die nommer is in die boekie langs die telefoon.”

Ná al die jare en al die aanbouings hang die telefoon nog in die gang. Marissa glimlag toe sy die boekie oopmaak en dominee Francois Burger en sy vrou Leatitia se nommer by die noodnommers opspoor. Sy haal diep asem en skakel die nommer. Dit lui en gaan oor na ’n antwoordmasjien. Die dominee nooi die inbeller om sy of haar nommer te gee, hy sal terugbel. Sy besluit om liewer later weer te probeer. Haar ma staan in die gang en beduie.

Marissa sit die foon neer. “Nie tuis nie,” sê sy.

“Moet ek netnou namens jou bel?”

“Ek sal as ek terugkom. Ek het gelukkig ’n dag se grasie. Tant Hester het gesê ek moet eers môre weer kom, vir die soom.”

“Nou toe, geniet jou uitstappie, en vat vir jou ’n bottel water in die yskas.”

In die kombuis kry Marissa vir Mieta aan die skottelgoed was. Toe sy die yskasdeur toemaak, raak Mieta se hande stil. Sy skud haar kop asof sy jammer is.

“Jou marmelade is baie lekker, Mieta.”

“Jou ouma het my gewys hoe om te maak. Waar gaan jy nou?”

“Ry. Abram het Prinses opgesaal.”

“Jy en Dawie het altyd gery.”

“Nie meer nie, Mieta.”

“Ai, dis nie reg nie.”

Mieta skud haar kop weer eens, maar bepaal haar dan by die skottelgoed.

Is dit hoe dit sal gaan? wonder Marissa op pad stalle toe. Vir die res van my lewe kry almal my jammer, asof ek nie ’n tree sonder Dawie kan gee nie?

Dieselfde gevoel heers by die stalle. Abram lyk of hy in trane kan uitbars, maar maak tot sy eer nie nog ’n Dawie-aanmerking nie. Prinses se oë blink, haar vel is satynglad, haar ore staan penregop. Sy is in goeie kondisie, maar selfs sy kyk Marissa aan met hartseer oë en druk haar neus vertroostend teen Marissa se nek.

Nee, betig sy haarself, dis my verbeelding, dis ek wat myself bejammer en dit moet end kry! “Dankie, Abram, jy sorg mooi,” sê sy so vrolik soos sy kan en spring terselfdertyd rats in die saal. “Kom, Prinses, ons gaan dam toe.”

Die oggend is nog fris en vars, en Prinses uitgerus en lus vir draf. Hulle kies koers in die regte rigting, maar hou dan verby. Die dam is vol. Tussen die pienk spatsels flaminke blink die water soos kwiksilwer. Alles groei en gedy. Die wilgerbome se takke sleep op die grond. Die hamerkopnes staan sy plek vol aan die oorkant, nie hier waar sy en Dawie mekaar altyd ontmoet het nie. Hy het, soos sy, te veel respek vir die groot voël, en het hom nooit gepla nie. Dawie is lief vir die veld, vir insekte, goggas, diere en voëls. Hy ken hul name en gewoontes, ook watter veldkos jy mag eet en watter nie.

“Kom Prinses, herinneringe hang hier die lug vol soos muskiete. Dis ’n plaag, dis gif, dis dodelik en ek wil lewe. Ons vat die veld, ons vlieg hier weg!”

Prinses het nie veel aanmoediging nodig nie. Sy is fyn ingestel op haar ruiter en sy ervaar ook die emosie, die woede, die drang om weg te breek. Vir Marissa voel dit asof sy nie ver genoeg kan vlug nie. Haar hare het losgegaan, haar hoed het afgesak en flap teen haar rug. Prinses is op spoed. Sy spring oor dongas en grensdrade, galop rakelings verby bosse en bome en ysterklipstapels. Hier en daar spat vonke onder haar hoewe uit.

Marissa lê laag oor haar perd se nek. Sy luister na die gerammel van die hoewe oor ysterklip en gruisgrond, die wind en die asem van die dier wat wilder en wilder weghol. Vir haar maak dit nie saak waarheen die perd haar neem nie, na die einde van die aarde as dit moontlik is.

Noodgedwonge, omdat sy van vlees en bloed is, moet Prinses die pas verslap en haar treë inkort. Sy slaan oor na ’n gemaklike draffie. Haar neusgate rek, want die wind dra die reuk van water. Marissa let op dat hulle so ver soos die Rooivlerk-kamp gevorder het. Die windpomp het ’n rooi vlerk, vandaar die naam. As haar pa moet weet hoe ver sy Prinses gedryf het, hoor sy nooit die einde nie. Maar sy kan nou tot bedaring kom en rus.

Die sinkdam is ook vol. Sterk water stroom by die pomp se pyp uit tot in die dam. Die water klots al oor die rand en die windpomp draai nie eens vinnig nie. Sy lei Prinses na die krip waar die skape drink. Aan hul spore en kuttels is dit duidelik dat hulle vroeg vanoggend hier was.

Die son klim stadigaan in die wolklose lug.

Prinses suip rustig van die skoon water wat pas ingeloop het. Marissa is natgesweet en taai, en druk sommer haar kop onder die pyp se waterstraal. Die water is koel en skoon. Dis brak, maar sy is gewoond daaraan. Sy drink tot sy genoeg het.

Dan staan sy terug, sit haar hand bokant haar oë om die skerp lig af te skerm en tuur om haar rond. Die ritmiese gestamp van die windpomp werk kalmerend op haar gemoed. Die gekwetter van die voëls in die verwaarloosde peerbome, wat haar oupa Philip nog langs die dam geplant het, die ritseling van velddiertjies en goggatjies wat tussen die karoobossies rondskarrel, is musiek in haar ore. Die wagters het die skape seker aangejaag na geiler weiveld, sodat die veld hier kan rus. Sy rek haar uit, voel die loom stilte wat op haar toesak as die wind en die windpomp ’n ruk lank tot stilstand kom, die lug self asem ophou. Dit is die soort lafenis wat sy vandag so nodig het.

Dis warm, sy trek haar baadjie en bloes uit en hang dit oor die jakkalsdraadheining van die kampie. Die wind en die son streel haar rug en skouers, sy lig haar gesig na die son en geniet sy strale op haar vel.

Onverwags skarrel ’n skurwejantjie op die grond voor haar voete verby. Sy skrik net vir die skielike beweging, nie vir hom nie. Hy hardloop ’n ent weg en gaan sit op ’n klip met sy kop waaksaam gelig. Nes sy, vang hy die sonlig. So ’n lelike oerdiertjie wat gevaarlik lyk, maar jou eintlik niks kan aandoen nie. Die natuur is wonderlik, veral hier waar dit van ver af hard en ongenaakbaar lyk en tog vol verrassings is. Sy stap ’n ent weg en verwonder haar opnuut aan die rykdom en verskeidenheid van die Karooplantegroei, soveel verskillende kruiebossies en vetplantjies wat deur ’n geoefende oog raakgesien en uitgeken kan word.

Sy buk om ’n klein veldviooltjie te pluk en kry trane in haar oë toe sy die pers blommetjie van naby bekyk, te fyn en broos vir die ongenaakbare son en tog oorleef dit in die skadu van die skraalste ou takkies en blaartjies. Sy is baie sterker, al is sy nou alleen. Hoekom dan bang wees? Sy sal nie dat misverstande en onwaarhede haar lewe permanent verwoes nie. Sy sal oorleef, al moet sy vir ’n jaar of twee in Pretoria gaan wegkruip. As sy die dag terugkom, hou sy haar kop hoog en neem die boerdery by haar pa oor – met of sonder man.

Sy laat val die viooltjie in die dam en maak haar bra los. Dis warm en wat is beter as om in die sinkdam af te koel. Baie mense dink Karookinders kan nie swem nie, maar sy swem al vandat sy ’n kleuter is. Haar ma het haar in die groot huisdam op die werf geleer, heen en weer het hulle geswem, lang ente vir ’n kleintjie soos sy. Later op die dorp het sy gou haar slag in die skool se swembad gewys en saam met Leandra en Frankie Griekwaland-kleure gekry. Sy gaan haak haar bra saam met haar baadjie en hemp aan die heining en trek haar jeans en broekie uit, hang dit ook netjies op. Heerlik strek sy haar arms, raak haar tone, draf op een plek, strek weer alkante toe, gaan klouter dan op die staalleertjie teen die kant van die sinkdam. Die kopseer waarmee sy vanoggend opgestaan het, klop nog vaagweg teen haar slape, maar sy voel klaar beter.

“Eat your heart out, Dawie Nel. Jy sal my nooit so sien nie!”

Haar stem klink vir haar nog te yl en sy doen dit weer. Sy skree so hard dat Prinses, wat in die omgewing rondwei, opkyk, ’n bekommerde runnik gee en naderdraf.

Met ’n uitgerekte vreugdekreet duik Marissa in die water in, swem met ’n paar hale oorkant toe en lag vir Prinses wat oor die rand vir haar staan en kyk. Sy sien nie die perd en die ruiter wat soos ’n swart marmerbeeld teen die horison afgeteken staan nie.

***

Theo Wessels laat sy verkyker sak, sy hande bewe. Die toneeltjie wat hy pas in sy visier gehad het, kan tog nie waar wees nie! Vir ’n dromer soos hy kan wolke en lugspieëlings vorm aanneem en sy vrugbare verbeelding hom parte speel, maar ’n meisie hier op die vlakte en boonop kaal!

Hy was te lank weg van die huis en wou nie kanse waag met sy voorman se vrou op Steinheim nie. Die ellendige Hilda het hom agtervolg tot in sy slaapkamer, maar hy het haar vriendelik, dog ferm die deur gewys. Helmuth Stassen se humeur was klaar dun geskaaf oor sy oënskynlike onverskilligheid jeens Steinheim, hy wou nie sy huweliksprobleme ook kompliseer nie. Theo wil Steinheim in die mark sit, maar een ding hou hom terug: Waar kry die Stassens weer ’n heenkome soos wat hy hulle die afgelope vyftien jaar al bied? Theo sug. Hy sal moet uitkyk vir iemand wat nie sonder ’n voorman kan boer nie en bereid is om die Stassens saam met Steinheim te koop.

Hy het lankal sy oog op die Groot-Karoo. Hierdie wêreld is sy wêreld, meer as Namibië waar sy Duitse ma hom oortuig het om grond te koop, destyds toe sy kop boerdery toe gestaan het, hy universiteit toe is en ná sy studies met ’n BScAgric kon spog. In Amerika het hy geld geruik, voor Sylvia en die stadsligte geswig, maar in sy hart is hy steeds ’n skaapboer. As hy Steinheim verkoop, koop hy in dié geweste. Flip du Plessis, by wie hy huur, het hom laat verstaan dat hier grond in die distrik beskikbaar is en hy gaan nie gras onder sy voete laat groei nie.

Hy bring die verkyker weer na sy oë en bespied die veld van hoek tot kant. In die leegte sien hy talle springbokke wat rustig saam met ’n skaaptrop wei. Flip het hom gewaarsku dat hulle soms nog las het van jakkalse en rooikatte wat veral verswakte diere teiken, en dat hy genoeg veewagters moet aanstel. Dis dalk ’n veewagter wat hy netnou gesien het en in sy kop na ’n meisie verander het. Hoog tyd dat hy huis toe gaan en Sylvia weer ’n slag beetkry.

Hy grinnik en swaai die verkyker terug na die klompie bome langs die sinkdam. Dis waar hy haar gesien het, hy kan sweer. Daar loop ’n perd wat wragtig nie aan ’n gewone veewagter behoort nie. Hy kyk stip, dis ’n opregte goudbruin Arabier met swart maanhare. Wat fladder aan die heining? Lyk soos wasgoed. Miskien moet hy nadergaan en kennis maak.

Hy rig weer die verkyker op die sinkdam, trek die beeld met die verstelknoppies nader. Aha! Dit was nie sy verbeelding nie. Daar sien hy haar op die staalleertjie se boonste trap. Sy buig vooroor, lang blonde hare stroom oor haar skouers. ’n Jong meisie of dalk ’n dogtertjie? Sy trek haarself regop aan die leertjie se reling, gooi haar kop agteroor. Haar borste punt soos klein piramides. Haar lyf maak ’n sierlike boog, sy skop haar een been in die lug op. Dit is beslis nie ’n kind nie.

Waaghalsig los sy die relings, lig haar arms en roer die lug met soveel grasie, hy kan hom verbeel sy is ’n engel wat haar vlerke toets. Sy rek haar uit, strek haar arms hoog bokant haar kop. So gevaarlik balanseer sy haar op die dun ysterstafie van die leertjie, hy hou asem op en moet sy oë knip toe sy skielik sierlik deur die lug trek en in die water wegduik.

Hy laat sak sy verkyker teen sy bors, sy hart klop wild.

Hier in die Karoo, kilometers van die naaste opstal af, verskyn daar ’n volmaakte meisie in die visier van sy verkyker op die staalleertjie van ’n windpompdam! Sy is kaal en nie bang om in te duik nie, sy het lewenslus! Sy is nie skaam vir haar lyfie nie, maar leef in harmonie met die natuur. Kan nie anders nie, sy moet hier naby woon, anders sou sy nie so tuis in ’n windpompdam wees nie. Sylvia gril haar dood, trouens hy kry Sylvia nie in die swembad nie, wat nog te sê ’n sinkdam met ’n slikbedekte bodem! Sy is so bang vir water soos ’n huiskat, sal haar toon insteek, maar niks verder nie. Hoe mis hy ’n meisie, ’n vrou wat saam met hom in die water sal baljaar en nie omgee dat haar hare nat word nie. Maar hy is verloof aan Sylvia en sy wag vir hom. Beloftes is wedersyds gemaak en kontrakte gesluit. Probleem is, elke keer as hy langer as ’n week van haar verlos word, besef hy dat sy ’n blok aan sy been is – een wat nie deur homself nie, maar deur die familie aan beide kante en verskeie ander belanghebbendes uitgesoek en aan hom vasgeketting is.

Hy gaan ’n kans vat en daai meisie groet. Wie weet?

“Kom Satan, maar nie te haastig nie.”

Hy por die perd sagkens aan, draf die ent oor die vlakte versigtig op die uitkyk om nie die meisie se Arabier op hol te jaag nie. Dié wei nou verder weg en Theo en Satan kan die sinkdam van agter die beskutting van ’n grondwal nader. Die sloot langs die wal is opgevul met klippe wat met ogiesdraad geanker is. Flip du Plessis is ’n ywerige, sorgsame boer wat omgee vir die grond en diere op sy plaas.

Is hierdie meisiekind familie van hom of kom sy van een van die buurplase?

Sy sit nou weer oop en bloot op die boonste trap van die leertjie. Haar arms is om haar gevou. Lyk asof sy goed afgekoel het. Miskien kan hy haar klere vir haar gaan aangee. Hy gly van Satan se rug af, stap dan met die teuels in sy hand na die heining en maak Satan aan die hoekpaal vas. Versigtig haak hy die kledingstukke van die draad af. Oulike blommetjies op haar bra en broekie …

Hy loop so suutjies nader, sy stewels maak skaars ’n geluid op die grond. Maar hy bly op ’n veilige afstand, voordat hy haar aandag probeer trek. “Hallo!”

Sy skrik so groot sy val vooroor in die dam.

Hy hou haar klere in die lug op. “Ekskuus! Jammer, ek wil jou nie in die verleentheid stel nie, maar ek dag ek … Ek is vreemd hier. Ek bedoel, ek huur by Flip du Plessis. Woon jy hier?”

Geen antwoord nie en geen roersel in die water nie. Hy gaan vinnig nader, loer oor die kant en sien met die eerste oogopslag geen teken van haar nie, dan klein golfies op die oppervlak en die glimmering van haar lyfie onder water. Besorgd klap hy op die water. “Haai, kom op! Jy kan nie so lank sonder asem nie.” Hy wag. Geen teken dat sy van plan is om boontoe te kom vir lug nie. “Oukei dan, ek sit jou klere op die klip. Ek loop! Ek sal nie kyk nie. Oukei?”

Hemel, hy hoop sy ís oukei.

Hy gee een tree agteruit en bly onseker staan.

***

Marissa is te bang om ’n rimpeling op die water te veroorsaak. Sy probeer so lank as moontlik onder bly, maar moet natuurlik uiteindelik boontoe kom vir lug. Naderhand bars sy omtrent deur die oppervlak en sluk wind soos sy water uitspoeg en lug intrek. Dis seker die langste nog dat sy onder was. Tot haar spyt was sy so verskrik sy het vergeet om telling te hou. Deksels! Haar keel is aan die brand en sy gaan aan die hoes dat die spoeg so spat en sy haar gesig met water moet afspoel om van die slym ontslae te raak. Haar tone boor in die sagte slik op die bodem en sy voel snaaks duiselig. Sy skud haar kop, haar ore sing.

Dêmmit. Was dit ’n rivier kon sy weggeswem het, maar hy kom keer haar in die dammetjie vas. Vervlaks, sy dag hy sê hy loop, en daar staan hy nog presies waar hy staan.

“Is jy seker jy is oukei?”

Waag hy dit! Benoud sak sy af tot net haar kop uitsteek. Wat maak sy as die man haar aanval? En sy skaduwee val al oor die water soos hy naderbeweeg. Hy sit sy hande op die rant. Dra hy tog nie leerhandskoene nie?

Die hande van ’n moordenaar, flits dit deur haar kop!

“Bly waar jy is of ek gooi jou met modder!”

Maar hy luister nie. Hy buk oor en Marissa kyk vas in twee grysblou oë omsoom met digte swart wimpers. Waar het sy al sulke oë gesien? Hulle is nie blou nie, ook nie grys nie. Hulle is soos die lug anderkant die verste koppe, maar op ’n helder sonskyndag.

“Alles reg?” vra hy.

Nog nooit het twee woorde so sag gesing nie. Maar sy antwoord nie, want as sy eerlik moet wees is niks reg nie en sy verskyning hier deksels vreemd.

Hy haal sy hoed af. Sy donker hare is styf teruggekam en agter sy kop vasgebind, ’n styl wat drie jaar gelede al uit die mode is. Vreemd, dit pas hom baie goed. Hy begin sy een handskoen losknoop en afstroop. “Kan ek help?”

Kan hy help. Waarmee? Jy kan loop, wil sy sê, maar haar lippe voel styf en haar tande klap op mekaar. Sy kry koud van pure angs, want gewoonlik kan sy ure in die water uithou. Wat ’n bedremmelde prentjie is sy seker nie en hy hou aan kyk.

“Wat maak jy in die dam?”

“S-s-swem.”

Sy grysblou oë vernou. “Jy sal doodgaan van die koue as jy nie uitklim nie.”

“Kan nie.”

“Jy is blou van die koue!”

“Is nie!”

Dink hy sowaar sy sal uitklim terwyl hy vir haar staan en wag? Hy moet seker mal wees!

Oorywerig beduie hy na agter. “Ek het jou klere nadergebring. Op die klip.”

“Dankie.”

“Terloops …” Hy hou sy hand na haar toe uit en sy beweeg na die middel van die dam. “Ek is Theo Wessels. Ek huur by Flip du Plessis – weiding en water.”

“Wel, ek is nie deel van die kontrak nie. Laat my nou in vrede.”

“Ken jy hom?”

“Wat?”

“Ken jy vir Flip du Plessis?”

“Ek is sy dogter. En as jy nie dadelik jou ry kry nie, vertel ek hom dat jy my geteister het.”

“Weet hy dat jy kaal swem waar ander mans jou kan sien?”

“Dis veld, jy is nie veronderstel om hier te wees nie! Loop, ek wil uitklim.”

“Is jy seker jy’t nie hulp nodig nie?”

“Ek swem al vandat ek twee jaar oud is in damme soos dié. Ek is nie hulpeloos nie.”

“Ek het altyd gedink meisies bereik ’n stadium dat hulle nie meer in slikdamme swem nie.”

“Die dam het slik, maar dis nie vuil nie en as jy nie nou loop nie, skep ek hande vol en gooi jou daarmee!”

“In daai geval maak ek dat ek wegkom. Tot later dan, Flip du Plessis se dogter!”

Hy sit sy hoed op, lig dit ’n slag en stap vinnig weg.

Marissa spartel en skop om die bloed in haar are weer aan die gang te kry, swem ’n paar draaie en loer oor die kant. Theo Wessels maak sy perd los. Hy bestyg die dier en ry langs die lyndraad van die kamp weg sonder om om te kyk. Sy hys haar teen die leertjie op, skud haar hare los om van die ergste water ontslae te raak en trek haar klere oor haar nat lyf aan. Die son sit al hoog en behoort haar gou droog te kry. Intussen fluit sy vir Prinses, wat dadelik naderdraf.

So, dit is dan die nuwe huurder. Lyk nie juis of hy pas uit Namibië kom en swaar gely het onder ’n droogte nie; te verfynd, te afgerond om ’n boer te wees. Aantreklik, dit moet sy erken. Gelukkig hoef sy hom nie weer te sien nie, want sy is op pad Pretoria toe en hy slaap seker op die dorp.

Helena Hugo Eerste Keur

Подняться наверх